Antwoord op dr. Wim Vergeer se Netwerk24 skrywe “GK Krugersdorp: Kon begaafde vroue nie langer uit hou”
Die skrywe van dr. Vergeer het gister op Netwerk24 verskyn, hier is dit beskikbaar:
“GK Krugersdorp: Kon begaafde vroue nie langer uit hou“
My skrywe in antwoord daarop:
Dr. Wim Vergeer (‘GK Krugersdorp kon vroue nie langer uithou’, Netwerk24, 15 April 2021) is van mening dat Paulus se verbod deur die Gees op vroue leraars en ouderlinge (1 Tim. 2:11,12) tydelike kulturele voorskrifte en gedragsreëls was, wat net vir die eerste eeuse samelewing gegeld het, “ter wille van die verkondiging van die evangelie.”
Hy roep ook op dat ‘daar moet konsekwentheid wees’, dat al die ‘ten minste ses voorskrifte’ van 1 Tim. 2:9-11 gehandhaaf moetword, en as ons dit nie doen nie, moet ons soos hy eerder al die voorskrifte, insluitend van 1 Tim. 2:11, 12 nie vir ons moderne tye handhaaf nie, en voortgaan om o.a. susters te bevestig as ouderlinge en predikante, want ons ‘kultuur’, dus ons tye bepaal dat dit nou reg en goed is om dit te kan doen.
Drie opmerkings daarop: eerstens, die verbod, voorskrif of gedragsreël van 1 Tim. 2:11, 12 is nie gefundeer in die ‘ter wille van die verkondiging van die evangelie’ rede in die destydse eerste eeuse samelewing nie, maar baie duidelik, in God se blywende skeppingsorde, wat vanselfsprekend tydsgerig is, maar nie kultuur- of tydsgebonde nie, “Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.” (1 Tim. 2:13).
Jesus Christus, die evangelie, en Paulus bevestig dit hier in 1 Tim. 2:11-15. Hy kom red en heilig daardie skeppingsorde, gesag en rolle van man en vrou, dit word nie omver gewerp, vernietig of aangepas by ons ‘moderne’ feministiese tydsgees nie. Natuurlik is daar sake en gebruike wat vervul en ge-eindig het met Christus se koms, maar een daarvan is nie die skeppingsorde en rolle van man en vrou in terme van die huwelik en die leer en regeer ampsdienste in die kerk nie.
Dieselfde Paulus wat deur die Gees 1 Tim. 2:11,12 skryf, skryf dan juis ook in 1 Tim. 6:1-5 en 2 Tim. 4:1-4, dat predikers en kerke nie sal afwyk van die ‘gesonde leer’ midde die tye waarin die kerk hul bevind het nie, nie in die eerste eeu of die een-en-twintigste eeu nie. En, dit sluit die Godgegewe kerkregering van 1 Tim. 2 en 3 in, en (by implikasie) vir ons, dat ons sal preek en leer wat die Skrif leer, ongeag wat die feministiese tydsgees verlang in ons tye, nl. dat vroue in stryd met die skeppingsorde van Christus, hul sal opdring in die leer- en regeerdienste van die kerk van Christus.
Tweedens, as dr. Vergeer die pad gaan begin volg van die tydsgees bepaal wat ons nog mag en moet leer en preek en nie moet preek en leer nie, dan kom die vraag op: hoekom stop hy by die ‘ses voorskrifte’ van 1 Tim. 2? Ons 21ste eeuse tydsgees en grondwet bepaal bv. dat dit liefdeloos en onvanpas is om mense wat volhard in bv. homoseksualisme, te vertel hul sondig en moet hul bekeer; ons tydsgees leer dat dit arrogant is om te leer dat net die Christelike geloof die enigste waarheid en reddingsweg is met uitsluiting van alle ander godsdienste; ons tydsgees leer dit is verkeerd om vroue en dokters wat babas in die baarmoeder vermoor, te vertel hul pleeg moord, dit is sondig en hul moet hul bekeer, ens., ens.
So, is Paulus se voorskrifte van die evangelie wat aan alle mense verkondig moet word met ‘n oproep tot geloof en bekering (wat in die eerste eeu ook baie aanstoot veroorsaak het), dan volgens dr. Vergeer se verstaanswyse, nie ook deel van die eerste eeuse wêreldbeeld wat ook nou verbygegaan het nie, en daarom moet hierdie ander ‘voorskrifte’ van Paulus in bv. 1 Tim. 2:1-4; 4;6-16; 6:1-5; 2 Tim.4:1-5 en 1 Kor. 6:9-11 vandag ook nagelaat word, om sodoende die evangelie ‘kultureel aan te pas’ vir ons ‘moderne’ tye, dat ons vir die ‘aborteerder ‘n aborteerder word, vir die homoseksuele ‘n homoseksuele, vir die nuwe wêreldorde aanhanger ‘n nuwe wêreld orde aanhanger, ens.”, dit wil sê, die evangelie, die Woord, moet aanpas by die sondaar, en nie die sondaar by die evangelie nie?
Derdens, dit is hartseer dat dr. Vergeer en ander wat nog onder die naam ‘gereformeerdes’ deel van die GKSA kerkverband wil wees, nie saam ons onvoorwaardelik voor die evangelie en wet van die Koning van ons kerke, ons Here Jesus, wil buig wat die Here se kerkregering betref nie, al gee dit aanstoot en haat die wêreld ons daarvoor (Op. 12:17). Ek hoop en bid dat hy en ander broers en gemeentes in ons kerkverband opnuut hul sal bekeer oor hierdie saak, sal ophou met die wanorde en verskeurdheid wat hul nou veroorsaak, en sal terugkeer na wat ons kerke saam biddend afhanklik van die Gees, glo en besluit het volgens die Heilige Skrif. Die woorde van Totius geld vandag nog presies so (as hy verwys na relevante Skrifgedeeltes soos 1 Kor. 11, 14 en 1 Tim. 2),
“Ons glo nie dat enige Gereformeerde vrou teen die duidelike uitsprake van die Woord van God in verset wil kom nie. Selfs deur die feministiese praktyke van ons dae sal sy haar nie uit haar koers laat dryf nie.” (Versamelde Werke, deel 3, 1977: 197).
Ten einde gaan dit sentraal nie oor wie ‘begaafd’ is en wie nie, alle gelowiges, klein en groot, mans en vrouens is begaafd deur die Here. Nee, dit gaan oor die Koning van die Kerk se wil, wat Hy leer en beveel wie in die besondere dienste mag dien en nie dien nie, en dit is goed vir man en vrou tot eer van God in Christus, tot heil van sy hele gemeente.
Gaan ons in dankbaarheid almal saam buig voor Hom?
Mag die Here u seën, krag gee om te volhard in Sy goeie werke. Mag hy u ly op die pad vorentoe. Alle eer kom Hom toe. Ons dank aan die hemelse Vader vir die brief dat hy Sy kinders gebruik om die waarheid te verkondig. Dankie Ds. Slabbert.
Dat dit geleerdes is wat voor die wêreld buig en die Here verloon of anders gestel weer te kruisig is hartseer.