GKSA TEOLOë TEN GUNSTE VAN DIE OORSPRONKLIKE REGTE VERSTAAN EN HANDHAWING VAN NGB ARTIKEL 36, DUS GEEN ‘NEUTRALE’ MENSEREGTE OWERHEID NIE

GKSA TEOLOë TEN GUNSTE VAN DIE OORSPRONKLIKE REGTE VERSTAAN EN HANDHAWING VAN NGB ARTIKEL 36, DUS GEEN ‘NEUTRALE’ MENSEREGTE OWERHEID NIE

[GKSA studierapport van 1949 insake art. 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, in die lig van die  21 woorde uitlating wat deur die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN, onder leiding van A. Kuyper en H. Bavinck) in 1905 en die Christelike Gereformeerde Kerke in die VSA (CRCNA) plaasgevind het]. 

deur proff. drs. WJ Snyman, JD Du Toit (Totius), A. Duvenhage, LJ Du Plessis, S. Du Toit

[Bron: Handelinge van de GKSA algemene sinode van 1949, Potchefstroom, bl. 213 tot 229]

“… Aangesien alles afhang van die suiwere eksegese van (NGB art. 36) en die praktiese betekenis vir ons tyd daarin geleë is dat ons sal weet hoe die beginsels onder die bestaande regsorde toegepas sal word, beveel die sinode by die ev. ekumeniese sinode aan dat die artikel onveranderd bly staan en dat die Gereformeerde Kerke ‘n baie duidelike uiteensetting sal gee van die betekenis van die artikel vir ons moderne tyd.” – Deputate NGB art. 36 (Acta 1949)

Inleiding

Is daar ‘n artikel van ons gereformeerde Christelike geloof wat in die 20/21ste eeu meer onder aanslag is, as NGB art. 36?  Ek glo nie.  Nie net ongelowiges, humaniste en vyande nie, maar ongelukkig ook baie opregte goeie (gereformeerde) gelowiges het uiteindelik gebuig onder die tydsgees teen die sogenaamde ‘gevaarlike konstantynse teokratiese christendom’ wat die verhouding ‘kerk en staat’ – volgens die kritici – heeltemal verkeerd gehad het vir 400 jaar, want volgens die NGB art. 36 kritici moet dit lei tot ‘n ‘ketterjagtery’ of ‘staatvervolging van mohammedaan, anabaptis of pouslikes’, dat daar geen ‘vryheid van gewete’ sal wees nie, dat “die staat jou dwing om ‘n gelowige te wees”, ens.

Ja, Calvyn, Knox, Beza en die outentieke reformatore wat gevolg het, was reg met die reformasie van die individu – verlossing uit genade alleen, geloof alleen, Christus alleen. Ja, hul was reg met ‘n oproep van die Skrif alleen, aan God alleen die eer, die reformasie van die kerk … maar, volgens die kritici van ‘Christendom, NGB art. 36″, ens., was hul ‘slagoffers van hul tye’, was hul maar nog ‘middeleeus in hul denke’ wat die ‘verhouding kerk en staat’ betref, en kan ‘ons’ hul nie meer navolg in hul ‘teokratiese en/of teonomiese denke’ van die 16de eeu en daarna nie. En sommige protestante (ons baptiste vriende), sal natuurlik byvoeg dat ons reformatoriese vaders het nie ver genoeg ‘gereformeer en geprotesteer’ wat die doop betref asook ‘kerkbeskouing’ nie, en dat die ‘NGB art. 36 staatsbeskouing’ die gevolg van die reformatore se ‘doopsbeskouing’ was, hulle het nie ‘genoeg’ gebreek met die OT nie… .

Ja, daar is al baie boeke, artikels en debatte gevoer oor NGB art. 36, en daar sal seker nog baie wees in die toekoms.  Ek plaas hierdie studiestuk van proffs. Snyman, Totius, S. Du Toit, LJ Du Plessis en A. Duvenhage, gewaardeerde gereformeerde teoloë en regsmanne (Du Plessis), as bydrae tot hierdie onderwerp.

As mens hierdie goeie deeglike studie van die onderwerp bestudeer, dan hoor mens ‘n ander (reformatories-konfessionele) gees as die een wat vandag gehoor word, ongelukkig uit baie kerke en baie teoloë van die tyd, nl. in plaas van die verkondiging van Christus se heerskappy op elke lewensterrein (insluitende die burgerlike maatskappy en burgerlike owerheid), bepleit baie ‘n ‘godsdienstige mensregte selfs neutrale’ burgerlike owerheid vir vandag.  Die slegte vrugte van ‘n kerk en samelewing wat Christus se heerskappy wil beperk tot die individu, gesin en kerk, en sy heerskappy verwerp oor die burgerlike terrein, sien en beleef ons om ons.  As ons nie meer die Here as ons Koning wil hê op elke lewensterrein nie, maar ‘soos al die nasies’ (om ons…), 1 Sam. 8, dan sal ons die gevolge dra.

Wat die NGB art. 36 studierapport so treffend en aktueel maak, is dat hul juis al die verkeerde verstaan en verklarings van NGB art. 36 aanspreek, en sake helder en duidelik stel waaroor NGB art. 36 onderliggend juis gaan in navolging van die Heilige Skrif. Ja, enige belydenis, soos enige preek, soos enige woord kan misbruik en verdraai word deur ‘n kwaadwillige aanhoorder wat vyandig is oor die regte onderliggende inhoud en boodskap van daardie preek, belydenis en/of spreker.   As aanhoorders dit met Christus gedoen het, hoeveel te meer met al ons feilbare uitsprake, belydenisstukke, preke, ens.

Ons gereformeerde vaders behandel die “NGB artikel 36 kontroversie” onder die volgende vier afdelings en vrae:

1) Wat het die opsteller (Guido de Bres) van die Konfessie presies bedoel?

2) Hoe harmonieer die gedagtes daarvan met wat die Gereformeerde vaders in die 16de en 17de eeu geleer het?

3) Is die opstellers van die Konfessie en die Gereformeerde vaders in die algemeen in stryd met hulself? 

4) Is die gedagtes van die Konfessie (en van die Gereformeerde vaders) in stryd met die Skrif?

As mens die studierapport bestudeer, sien mens hoe wydgelese en ingelig die deputate was in hul studiewerk.  Hul was deeglik bewus van die “beswaardes” se argumente en sit dit uiteen (basies dieselfde argumente wat vandag … nog meer … gehoor word op verskillende wyses … sien veral vandag die (radical) Two Kingdom Theology beweging onder sommige VSA gereformeerdes: RS Clark, Calvin and Theonomy).  Die deputate let versigtig op die ‘presiese bewoording’ van die oorspronklike teks, veral van die ‘gewraakte 21 woorde’ wat deur sommige kerkverbande verwyder is, in die lig van die verskillende Franse, Nederlandse en Latynse tekste. Hul kyk hoe gereformeerdes vanaf 16de tot 19de eeu NGB art. 36 se onderliggende beginsels verstaan het, o.a. de Bres self, Calvyn, Beza, Synopsis-teoloë, Voetius, verskillende gereformeerde konfessies van die 16/17de eeu, (sien ook hierdie artikels oor die saak, ook ten opsigte van SA: Die teokrasie en teonomie van NGB artikel 36 en Teokrasie en Teonomie in die ZAR, by Totius, by Calvyn en die outentieke Reformatoriese belydenisskrifte van die 16/17de eeu), ens.

Nog ‘n baie belangrike onderwerp wat aangeraak word, is die hele ‘verhouding OT – NT’ (bl. 12ev), ‘n baie belangrike saak nie net in die debat oor die (kinder)doop, verbond en kerkbeskouing tussen gereformeerdes en baptiste nie, maar ook verhouding ‘kerk en staat’ oftewel ‘kerk en burgerlike owerheid.  Die deputate noem 4 sake wat hul saam met beswaardes stem oor hierdie verhouding, maar ook waar die beswaardes sake mis wat noodsaaklik is vir ons ‘kerk en staat’ beskouing:

“U deputate stem volmondig saam dat onderskei moet word tussen O.T. en N.T. maar meen tog dat beswaardes nie genoeg rekening hou met die eenheid van die Woord van God nie.” (bl. 13, sien die aanhalings hier onder).

Sien ook die bybels-profetiese getuienis waarvoor die deputate gepleit het, in hul tye aan die einde van hul studiestuk (veral nr. 2 & 3), ‘n sterk oproep van vermaning en bekering aan die burgerlike owerheid, wat baie gemis word in ons tye (beklemtonings bygevoeg):

“Hierdie uiteensetting sal sover moontlik wêreldkundig gemaak word en sal ook ‘n woord bevat wat spesiaal aan die owerhede gerig word. Hierin sal:

  1. Die owerhede wat positief Christelik is, bemoedig word in hul strewe.
  2. Die owerhede wat “neutraal” staan teenoor die Christus en sy kerk, daarop gewys word dat hulle nie neutraal mag wees teenoor die geopenbaarde Woord van God nie.
  3. Die beslis heidense owerhede met alle klem daarop gewys word dat hulle hul moet bekeer van hul afkerige weë, dat hulle die kerk van Christus in sy selfstandigheid sal handhaaf, hulle geen ius in sacra (reg ten opsigte van die inwendige sake) sal toeëien nie en die hals sal buig onder die juk van Christus.
  4. Aan alle owerhede verduidelik word wat die Skriftuurlike leer van die vryheid van die gewete en die roeping van die owerheid in hierdie verband is.
  5. Bostaande rapport (geamendeer al dan nie), asook die besluite van die sinode in hierdie verband, sal deurgestuur word na die ev. ekumeniese sinode van Geref. Kerke.

Hier is ‘n paar aanhalings (beklemtonings bygevoeg):

“In die 19de eeu het die aanvalle op kerk en Christendom meestal gekom van die kant van die wetenskap. In die twintigste eeu van die politieke kant. In die 19de eeu kon reeds gesien word tot watter mate van tirannie die liberaal-demokratiese staat kan oorgaan, maar veral die opkoms van die totalitêre state in die twintigste eeu maak die gevaar geensins denkbeeldig nie dat goddelose owerhede hulle (verkeerdelik) op art. 36 kan beroep vir hul tirannie oor kerk en godsdiens, veral op die sin wat lui: “maar ook om die hand te hou aan die heilige kerkdiens.” Dit is dus noodsaaklik dat daar weer besinning sal kom oor die implikasies van art. 36. Solank as daar geen gravamen ingedien is nie, kan ons immers aanneem dat ons Kerk bely wat in art. 36 staan en dit beskou as in volle ooreenstemming met die Woord van God. In 1913 is dan ook besluit dat die Geref. Kerk in Suid-Afrika die artikel onveranderd laat staan (vgl. Hand. 1913, art. 112, 117). Tot sover nog altyd die oorweginge wat gegeld het by die indiening van die beskrywingspunt.”

Wat die NGB art. 36 teks self leer:

“Die Franse woordjie “ains” is in die tyd van Calvyn gebruik en het die betekenis gehad van “maar.”  Dus “maar ook” het die owerheid ‘n taak ten opsigte van die geestelike lewe van die volk. Uit die teks self volg derhalwe nie dat vir die uitvoering van die tweede deel van die taak dieselfde magsmiddele per se gebruik moet word as vir die eerste deel nie… Beza maak net soos Calvyn onderskeid tussen ketters en ketters, tussen diegene wat dwaal te goeder trou en die wat hulle hardnekkig teen die waarheid versit… Vir die laastes meen hy dat geen straf te streng is nie. ”

” ‘n Saamvattende beskouing met betrekking tot die werklike betekenis, van die woorde van die belydenis gee ons nadat die uitsprake van Gereformeerde vaders gehoor is. Voorlopig wil ons egter hier opmerk dat dit vir geen teëspraak vatbaar is nie dat die Konfessie aan die owerheid ook ‘n taak toeken ten opsigte van Kerk en godsdiens.”

Calvyn se uitsprake teen ketters wat openbare orde wil omver werp:

“U deputate wil hier die aandag daarop vestig dat Calvyn spreek van “die publieke terrein van die lewe” en van “nie straffeloos duld nie.” Hierdie woorde is van betekenis. Van belang is ook om daarop te let wat Calvyn op hierdie woorde laat volg. Waarom moet die owerheid waak dat geen religieuse ergernisse onder die volk gesaai word nie? Dat daar “publica religionis facies” sal wees, wat (volgens Visscher) beteken dat die owerheid moet sorg dat nie allerhande wind van leer onder die mense uitgesaai word nie, omdat daaruit onrus en revolusie kan opkom (vgl. Visscher, a.e., bl. 157 — ons kursiveer).

Die beginsels van die Mosaïese wetgewing geld nog vir vandag:

“Belangrik is in hierdie verband ook die volgende konklusie waartoe prof. L. J. du Plessis kom: “Nou is dit byna nie nodig nie om daarop te wys dat hoewel Calvyn baie van die bepalinge (nl. van die dekaloog-Dep.) aanvaar as algemeen-geldig, hy tog nie van mening is dat hulle as sodanig toepaslik is in alle state nie. Inteendeel, as God Self sy strenge gebodseis matig om dit uitvoerbaar te maak met staatkundige middele, dan wys Hy self die weg vir positivering van die blywende aequitas-kern van sy gebod, nl. dat rekening gehou sal word met wat bepaalde maatskaplike omstandighede vereis.

Wel gee die Mosaïese wetgewing ‘n model ter navolging. Maar die aangewese weg is om die gebod aan te pas aan plaaslike omstandighede en om die betrokke maatskappy op te voed tot ‘n hoërstaande regsoortuiging, waar hy nog nie die strengheid van die gebod kan dra nie. Veral die aard en graad van straf (vir bepaalde misdade sal afhang van omstandighede, mits wat God verbied, slegs ook van staatsweë teë-gegaan word na verhouding van die erns en veelvuldigheid van die misdaad.” (Die staatsteorie van Jean Calvin, bl. 60.) (Vgl. ook uit dieselfde werk, bl. 58: “Nie kettery moet dus gestraf word nie, maar revolusionêre skending van die reg ten opsigte van die religie.”)”

“Hier kan nog vermeld word dat die eerste en tweede Helvetiese Konfessies, die Engelse Konfessie van 1553, die Skotse Konfessie van 1560 en die Westminsterse Konfessie van 1647 in hierdie materie met die Ned. Geloofsbelydenis ooreenstem. Later, hoofsaaklik in die negentiende eeu, is deur Geref. Kerke in Angelsaksiese lande wysiginge aangebring, min of meer in die gees van die rapport wat in 1905 in Nederland gedien het.”

Gewensvryheid:

“Onder gewetensvryheid het hulle egter nie verstaan ‘n vryheid om in die openbaar al wat ‘n mens wil uit te spreek en te propageer nie. Dit word algemeen erken dat vryheid perke moet hê, anders ontaard dit in losbandigheid. Op die terrein van die gewete mag die staat nie kom nie, maar dit is ‘n ander vraag hoeveel die owerheid op publieke terrein mag toelaat… Die belangrike punt is vir ons hier dat die Geref. teoloë van die 17de eeu sulke uitsprake kon doen sonder dat daar sprake is van ʼn besef dat hulle in stryd met art. 36 sou handel.”

“Dit is onmoontlik en ook onnodig om in hierdie rapport op die breë vraagstuk van die verhouding van kerk en staat in te gaan. Laat dit hier genoeg wees om te verklaar dat Calvyn seker die  selfstandigheid van beide Kerk en Staat geleer het en dat die Geref. vaders saam met hom gestry het vir die ius in sacra (reg in die heilige dinge) van die kerk. Dink bv. aan die toepassing van die kerklike tug. Liewer as om toe te gee, het hy in ballingskap gegaan. Tog het Calvyn en ander geen meganiese skeiding beoog nie. Die Hervormer van Genève gebruik bv. die beeld van siel (kerk) en liggaam (staat). Daar is groot en belangrike dekkingsterreine waarop albei beweeg. Slegs die Liberalisme kan ‘n absolute skeiding en die leer van die “neutrale” staat handhaaf.

Hoewel dus kerk en staat selfstandig is en geen heerskappy van die een oor die ander geduld mag word nie, het die een tog ‘n roeping teenoor die ander ooreenkomstig die Woord van God. In art. 36 word die roeping van die staat teenoor godsdiens en kerk beskrywe. Dit is duidelik dat die staat ook met die kerk rekening moet hou.”

Verhouding OT – NT in Skrifgebruik oor ‘kerk en staat’, 

“Wat die Nuwe-Testamentiese tekste betref wat deur beswaardes aangehaal word, kan ons volmondig met hul konklusie saamstem: “Alle poging om zijn rijk door uitwendig geweld uit te breiden of te verdedigen heeft Christus derhalve tegengestaan en afgekeurd omdat dit met den aard van zijn koninkrijk in strijd was.” Ons meen egter dat ons duidelik aangetoon het dat art. 36 hiermee nie in stryd is nie, aangesien dit hier nie gaan oor die innerlike aard van die koninkryk van die hemele nie, maar oor die roeping van die owerheid, veral ten opsigte van die eerste tafel van die wet en wel op sy eie terrein.”

“Sowel in die Ou as in die Nuwe Testament geld dus dat die koninkryk van die hemele homself nie met magsmiddels mag uitbrei nie. Die N.T.-tekste wat beswaardes aanhaal behou dan ook hulle volle krag. Maar dit sê niks ten opsigte van die taal van die owerheid nie, veral wat die publieke terrein betref.”

God se Woord, nie mense(natuur)regte nie, is gelowiges se norm vir hele lewe, ook vir die burgerlike owerheid:

“As gevra word: hoe weet die owerheid wat waar en wat vals is, kan in die eerste plek na Rom. 1:19 en verder verwys word. As God nie reg gedien word nie, is dit onderdrukking van die waarheid en skuldige nalatigheid. Onkunde ontslaan nie van plig en verantwoordelikheid nie. As dit reeds geld van die heidene sonder enige kennis van die besondere openbaring, hoeveel te meer dan van diegene wat kennis dra van die Woord van God, die Heilige Skrif. Die Skrif maak dan ook nie onderskeid tussen belydende en nie-belydende owerhede nie. Daar is vandag seker geen owerheid wat kan verklaar dat hy niks van die Bybel weet nie. En tot almal sonder onderskeid kom die magtige eis dat hulle in die ware, sin van die woord dienaars van God sal wees. Wel is dit waar dat die owerhede in die geskiedenis dikwels die ware kerk vervolg het en dit in die toekoms in verskerpte mate sal doen, maar hulle plig bly daar dieselfde om en hulle sal aan die hoogste Regter verantwoording doen.”

Die burgerlike owerheid het ‘n taak ten opsigte van beide tafels van die wet, vir hulle spesifieke ‘burgerlike publieke’ terrein, volgens God se Woord:

Konklusie. — U Deputate meen dat hulle in bostaande uiteensetting die vraagstukke wat in verband met art. 36 staan, genoegsaam toegelig en die geopperde besware onder die oë gesien het. Hulle wil nou aanbeveel dat die eerw. Sinode soos volg besluit:

  1. Op die grondslag van die Heilige Skrif kan daar geen verskil bestaan oor die vraag of die burgerlike owerheid ‘n taak het ten opsigte van beide tafels van die wet en dus ten opsigte van die ware godsdiens en die kerk van Christus nie, ongeag die persoonlike belydenis van die lede van die owerheid.
  2. Verskil kan alleen ontstaan ten opsigte van die wyse waarop hierdie taak uitgevoer moet word. Dit hang saam met die feit dat gedurende die eeue die regsbehoeftes en die regsoortuiginge van die volksgemeenskappe verander.
  3. Art. 36 van die Ned. Geloofsbelydenis beliggaam die ewige en onveranderlike beginsels van Gods Woord ten opsigte van die verhouding van die burgerlike owerheid tot die ware godsdiens in die kerk van Christus.
  4. Die besware wat teen sekere uitdrukkinge ingebring word, bv. teen die woorde “alle” (afgodery) en “uitroei” verloor hul betekenis wanneer hulle gelees word in die lig van die verklaring en toepassing wat die Geref. vaders van die sestiende en sewentiende eeu van die beginsels gegee het. In elk geval behou enige owerheid altyd sy diskresionêre bevoegdheid.
  5. Aangesien alles afhang van die suiwere eksegese van die artikel en die praktiese betekenis vir ons tyd daarin geleë is dat ons sal weet hoe die beginsels onder die bestaande regsorde toegepas sal word, beveel die sinode by die ev. ekumeniese sinode aan dat die artikel onveranderd bly staan en dat die Geref. Kerke ‘n baie duidelike uiteensetting sal gee van die betekenis van die artikel vir ons moderne tyd.

Tot hier die verskillende aanhalings uit die deputate se studie oor NGB artikel 36.

Die volledige NGB studie rapport kan hier gelees word:

NGB artikel 36 GKSA studiestuk 1949

________________________________________

Opmerkings:

1 Ongeag die weglating of wysiging van die ’21 woorde’ in NGB artikel wat sentraal in die debat is, moet ook gesê word dat ongeag self hierdie veranderinge, die artikel nog steeds dan pleit vir die ‘Christelike staatsidee’, m.a.w. dat burgerlike owerhede sal buig voor Christus en volgens sy Woord op hul terrein volgens sy Woord sal regeer. Sien hierdie artikel wat dit verduidelik:

Revised Belgic Confession Article 36: The Magistrate Is Subject To God’s Law

“Belgic Confession Article 36 “Of the Magistracy and Government” has direct application in the ongoing debate over the so-called “two kingdoms” movement. The Magistrate Is Subject To Both Tables Of The Law, The Authority Of God’s Word, And Serves To Advance Christ’s Kingdom … In examining both the text of the revised Belgic 36 and the accompanying historical record surrounding the revision, we should clearly conclude that: 1. the Magistrate is subject to both tables of God’s law; 2. the Magistrate is subject to the authority of God’s Word; 3. the Magistrate is ordained to advance the kingdom of Christ.  It is incumbent upon URC office bearers who personally might have trouble with the confessions to refrain from publicly contradicting the confessions either directly or indirectly.”

2 Sien ook Dirk Postma se ‘teokraties-teonomiese’ lyne hier in die boekie wat hy verwerk het, spesifiek by “5. die gebruik van die burgerlike wette vandag

3. Ook op staatkundige terrein bely ek die ewigdurende beginsels van God se Woord – pres. Paul Kruger.

4. Sien ook hierdie artikel reeks (veral part 3): Informed response about Theonomy

3 thoughts on “GKSA TEOLOë TEN GUNSTE VAN DIE OORSPRONKLIKE REGTE VERSTAAN EN HANDHAWING VAN NGB ARTIKEL 36, DUS GEEN ‘NEUTRALE’ MENSEREGTE OWERHEID NIE

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: