EIEWILLIGE AMPSBESKOUING LEI TOT EIEWILLIGE KERKLIKE (WAN)ORDE: 1 KOR. 14:34-40

EIEWILLIGE AMPSBESKOUING LEI TOT EIEWILLIGE KERKLIKE (WAN)ORDE:

‘n Kerkordelike antwoord vanuit die Skrif (1 Kor.12-14) oor die vrou-in-die-amp kerklike wanorde saak*

Inleidend

Die Woord wys nie net duidelik uit dat dit God se wil is dat slegs bekwame manne in die besondere ampte mag dien nie, maar wys ook die duidelike ‘pastoraal-kerkordelike’ weg om hierdie kontensieuse saak ‘prakties’ te kan hanteer.

Wanneer Paulus in 1 Kor.14:34-35 (in ooreenstemming met 1 Tim.2:11,12) die vrou beveel om nie – in die woorde van die huidige debat – in die besondere ampte te dien nie (hier raak dit in die besondere die regeerdiens van die ouderlinge, maar die kerkordelike implikasie geld vir alle besondere ampte) – dan is dit baie belangrik om die ‘kerkordelik-kerkregtelike’ konteks raak te sien waarbinne hierdie opdrag gegee word (beklemtonings bygevoeg):

32 En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe;  33 want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges34 Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.  35 Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.  36 Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?  37 As iemand meen dat hy ‘n profeet of ‘n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is38 Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly.  39 Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie40 Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”  

Skrifuitleg

Eerstens, In 1 Kor.12-14 gaan dit oor die verskeidenheid van geestelike gawes, waarvoor Paulus, onder inspirasie van die Gees, ‘bevele van die Here’ gee (v.37), wat die uitoefening van hierdie gawes reël sodat dit ‘welvoeglik en ordelik’ geskied (v.40).

Tweedens, Paulus wys daarop dat die ‘bevele van die Here’ wat hy nou vir hul gee, vir ‘al die gemeentes’ (v.33) geld. Dit geld vir almal wat een of ander “psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging’ doen (v.26),” in ‘al die gemeentes’.  As al die gemeentes nie saam ‘die bevel van die Here’ volg in hul eredienste nie, dan lei dit tot ‘wanorde’ en ‘(on)vrede’ (v.33), en sal buitestaanders dink die gemeente is ‘kranksinnig’(v..23).

Derdens, deel van Paulus se ‘bevele van die Here’, is sy opdrag dat die vrou in die gemeente sal swyg (ongeag haar besondere gawes), en dat sy onderdanig sal wees, “soos die wet ook sê” (hier verwys Paulus terug na die skeppingsordening van Gen.1 en 2; soos hy doen in 1 Tim.2:13 en in Ef.5:31).  As die vrou hierdie bevele nie nakom nie, dan gaan dit wanorde, onvrede, onwelvoeglikheid en onordelikheid veroorsaak in die gemeente (v.33, 40) … soos wat tans ook gesien word, ook in die GKSA kerkverband waar al meer gemeentes, en nou meerdere vergaderings eiewillig begin optree oor ‘n leer- en kerkreg saak wat ons saam in kerkverband, volgens die Skrif en Gees besluit het, ‘wesentlik’ is, dus waarvan ‘ons’ saam in kerkverband nie mag afwyk nie, anders word die boodskap uitgestuur na die wêreld: God is ‘n ‘God van wanorde’ (v.33).

Vierdens,hierdie wanorde en onordelikheid – wanneer die vrou iets doen of toegelaat word om te doen wat teen die wet (Woord) is (v.34c) – raak dan nie net die plaaslike gemeente (wat dit toelaat) nie, maar “al die gemeentes van die heiliges” (v.33; sien die meervoud ‘gemeentes’, v.34). As die ‘onkundiges en ongelowiges’ (v.23,24) dan (om ‘n denkbeeldige maar heel moontlike voorbeeld te gebruik), in die eerste eeuse ‘kerke’ sou inloop, en bv. by die gemeentes Thessalonika en Efese word die vrou nie toegelaat om ouderling te wees nie, maar in Korinte en Thiatire gemeentes wel, dan sal hul dink dat alles in hierdie eerste eeuse ‘kerkverband’ onordelik en onwelvoeglik geskied. En, daarom juis al die onvrede in die kerke, en hul konklusie sal wees: hierdie God van hierdie gemeentes is ‘n ‘God van wanorde’ (d.w.s. sy Ja is nie Ja nie, en sy Nee is nie Nee nie, contra 2 Kor.1:18).

Vyfdens, Paulus wys dit daarom af dat die gemeentes maar ‘self kan besluit’ wat die ‘bevele van die Here’ is (volgens hul plaaslike ‘behoeftes’ of die ‘tydsgees’ of ‘mense se unieke gawes’, ens.) en oor hoe sy bevele stigtelik moet geskied aangaande ‘die spreek in tale’. So ook oor of die vrou mag regeer en leer (en oor die algemeen in enige besondere ampte), sien vers 35: “Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?”

Al die gemeentes van die ‘kerkverband’ (soos dit die geval was met Hand.15 se besluite), moet ook hierdie ‘bevele van die Here’ oor die vrou “om onderdanig te wees” onderhou (v.34), anders eindig dit in onvrede, onwelvoeglikheid en onordelikheid onder die kerke.  Ook uit ‘n missionêre-evangelie verkondigende perspektief (v.23,24), lei die evangelie van Christus dan skade, indien elke gemeente maar self besluit ‘of die vrouens in die ampte gaan dien of nie”.

Lidmate word verwar oor wat nou die ware erediens is of nie, en wat die Here beveel het vir sy kerke, of nie.  Dat ‘kerkregering’ en dus vroue in die besondere dienste of nie, ‘n wesentlike leersaak is, is die Skrif self duidelik oor (en soos bevestig en gehandhaaf deur die GKSA se algemene sinode), want die uitspraak ‘dit is ‘n betroubare woord’, wat beteken dit is belangrik en wesentlik, word bv. nie net by ‘reddingsake’ uitgespreek soos by 1 Tim. 1:15 nie, maar ook by die ‘besondere ampte’ en kerkregering sake van 1 Tim. 2:11-3:13, sien spesifiek 1 Tim. 3:1.

Toepassing

Die GKSA se sinodes het nie net duidelik besluit susters mag nie as ouderlinge bevestig word nie, maar ook dat dit ‘n wesentlike saak is wat ons almal saam moet onderhou as kerke saam in kerkverband, dus wat hierdie saak betref, eenheid in ‘leer, diens en tug’.

Nou is daar ongelukkig plaaslike kerke en selfs meerdere vergaderings (?) wat na jarelange se geduld en studies en gebed en saam besin, nogsteeds voortgaan om eiewillig op te tree om vroue as ouderlinge te bevestig en kerke te ondersteun in daardie saak.

Dit is, op grond van 1 Kor.14, in stryd met:

a) die ‘bevele van die Here’ (v.37) en sy wet (v.34c; sien ook 1 Tim.2:11,12); asóók,

b) die pastoraal-kerkordelik-missiologiese weg wat die Here deur sy Gees deur Paulus hier aandui volgens verse 33,36 en 40, wat moet geld vir ‘al die gemeentes van die heiliges’ (v.33).

Kerke en kerklike vergaderings wat aanhou om in stryd met wat saam besluit is volgens die Skrif oor vroue as ouderlinge, op te tree, sê met hul ongehoorsame daad, op Paulus se (Geesvervulde sarkastiese) vraag in vers 36 (“Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?”):

‘JA’ … in stryd met wat saam besluit is volgens God se bevele, sal ons ons eie(willige) weg volg, nie veel anders as wat Jerobeam se eiewillige diens was, van toepassing op die kerkreg en dienste kwessie, nl. deur mense aan te stel in ‘n besondere amp wat Hy nie beveel het nie:

Hy het ook tempels van die hoogtes gebou en priesters aangestel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie.” – 1 Kon.12:31 

Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die HERE spreek! ” – Jer.23:31

Met so ‘n daad, verwerp kerke en kerklike vergaderings dan nie net die ‘bevele van die Here’ nie, maar word met so ‘n daad bely teenoor die wêreld: God is ‘n God van wanorde … Hy weerspreek Homself.  Vir een gemeente sê Hy dit is sonde om vroue in die besondere ampte te bevestig … en vir ‘n ander dit is sonde om nie vrouens in die amp te bevestig nie!

En wanorde is om ‘n ander weg in te slaan as die weg van die Here, dit is rebellie, openlike opstand, oortreding en uitdaging van die enigste Koning van die Kerk, Jesus Christus se gesag (die Griekse woorde vir ‘wanorde’, akatastasia, volgens die woordeboeke, beteken rebellie, om in openlike opstand te wees teen gesag, met die doel om die gesag om ver te werp en af te skud).

En die gevolge was al reeds vir dekades en gaan wees, in ons kerkverband en vir ons nageslag: nog meer onvrede, onwelvoeglikheid en onordelikheid.

Konklusie

Alleen in die weg van “die bevele van die Here” deur sy Gees, kan daar weer vrede, welvoeglikheid en orde in ons kerke en kerkverband kom.  Dit is die skriftuurlike én kerkordelike weg wat ons moet bewandel, met ‘n oproep van bekering aan mede-gelowiges, kerke en kerklike vergaderings wat van die Here se bevele eiewillig al meer afdwaal.

Daar kan geen ware kerkreg, kerkorde, kerkregering wees sonder die Koning van die Kerk se bevele, deur sy Woord deur sy Gees, nie.

“Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou. … o HERE, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging.” – Psalm 119:4,174

“Vrede is daar, enkel vrede,

en dit daal in die gemoed

van wie U bevele liefhet,

vrede sonder teëspoed

(Ps.119:59b, berymd)

________________________________
*Het hierdie artikel baie jare gelede geskryf na aanleiding van die VIDA saak by een van die GKSA sinodes. Die beginsels geld nou nog en soveel te meer soos daar al meer plaaslike gemeentes (en meerdere vergaderings?) is wat eiewillig hul eie pad bewandel en dit op die kerkverband wil afdwing.

Meer artikels oor die VIDA saak.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: