ALWEER DIE EINDTYE: ‘N BRON OM EERSTE TE LEES IN EINDTYD VRESE

ALWEER DIE EINDTYE: ‘N BRON OM EERSTE TE LEES IN EINDTYD VRESE

‘n Paar skote klap in die Midde-Ooste, en al wat ‘n ‘Eindtyd blokkiesraaisel en bible code profeet’ is weer wakker geskud om ons te vertel die tyd is nou!  Wel, die tyd is van altyd af nou vir ons, Christus regeer nou reeds, en ons moet ons nou en elke dag bekeer, en uitsien na sy wederkoms, terwyl ons hard werk, bid en die evangelie aan alle volke bring: Christus, sy kerk, die evangelie aan alle volke is die fokus … nie wat uit ‘my profetiese glasbal’ uitgevryf kan word en ‘verkoop’ kan word nie.

Ek het reeds in die verlede geskryf en/of bronne vermeld oor eskatologie, eindtye, chiliasme, dispensationalisme, Israel se toekoms, die boek Openbaring, ens., en gaan nie weer alles herhaarl nie.  Ek wil egter wel uit al die ou bronne, die volgende belangrike bron as baie goeie oorsig en vertrekpunt aanbeveel by elke gelowige, mag die Here jou deur die bestudering van hierdie bronne, wat jou na die Skrif alleen vat, jou opnuut bemoedig om die goeie stryd van die geloof te stry tot die laaste dag … wat enige dag vir jou en my kan wees …. (2 Tim. 3:14-4:5; Judas 3).

PROF. WILLIE J. SNYMAN SE SKRYWES OOR DIE BOEK OPENBARING, DIE DUISENDJARIGE VREDERYK EN CHILIASME

“Met Efese, is die groot teenstelling. “Efese, jy het jou eerste liefde verlaat” — dis die begin van alle deformasie. Uiterlik is alles nog reg, maar as jy van bo diep inkyk, soos Christus die Bruidegom kyk, ‘sien jy dat die eerste liefde weg is. Dit is die begin van die assimilasie, die integrasie van die kerk in die wêreld.”

Dit is oud-prof Willie J. Snyman (in lewe, NT professor by die Teologiese Skool, Potchefstroom) se treffende woorde oor waar alle deformasie persoonlik, gesin en gemeente begin…. iets om oor te besin vir ons ‘eindtye’.

Prof. Willie sien die duisend jaar van Op. 20 as simbolies van aard in die konteks van die hele boek se literatuuraard, nl. dit wys op die tydperk tussen die eerste en tweede koms van Christus, maar hy ontken nie die ‘moeilikhede’ wat daar nog is oor die saak nie:

“Eksegeties meen ons uit te maak dat hierdie duisend jaar val saam tussen die eerste en tweede koms van Christus. Daarmee wil ons nie beweer dat alle moeilikhede opgelos is nie. In alle geval moet ons daarvan geen dogma maak nie. Daar is probleme, die geskiedenis sal dit vir ons oplos. Dit mag wees dat ons hier te doen het met simboliek of ‘n toekomstige stuk geskiedenis. Die getal 1000 sal simbolies wees.”

Sien sy artikels in sy saamgestelde werk (deur sy studente?), Nuwe en Ou Dinge, wat aanlyn beskikbaar is, asook hierdie ‘In die Skriflig’ artikels (ek is nie seker of dit opgeneem is in NOD nie?):

A. Die Openbaring van Johannes teenoor die afvallige leringe vandag: drie lesings

“Die versoek is om voordragte te gee oor die boek Openbaring. Dit is ‘n heel groot bestelling en groot saak om af te handel in enkele lesings. Daarom bring ek dit in die vorm van konsentriese sirkels; en omdat dit dan drie lesings moet wees, doen ek dit in drie konsentriese lesings:

1) Die plek van die boek Openbaring in die geskiedenis van die openbaring.

2) Die boek Openbaring self — die struktuur daarvan.

3) Die boek Openbaring besien vanuit die sentrum.”

Hier het ek prof. Willie se lesings op my blog geplaas en bietjie bespreek en toegepas, onder die volgende temas, om daarmee te wil wys wat moet ons juis uit die boek Openbaring leer vir ons tye … dit is nie ‘n ‘toekomstige blokkiesraaisel of bible code’ speletjie nie:

1. Die ‘social gospel’ en bevrydingsteologie (SARK/WRK)

2. Teen die Bultmannianisme (die Nuwe Hervorming antropologie wat die liggaamlike opstanding en ander Bybelse waarhede soos saamgevat in die Apostoliese Geloofsbelydenis verwerp)

3. Die deformasie en verval van die kerk

4. Natuur en genade dilemma

5. Die gebed van gelowiges en die prediking

6. Chiliasme (Op. 20)

7. Evolusionisme

Sien my opmerkings en aanhalings hier:

Die Openbaring van Johannes teenoor die afvallige leringe vandag

B. Sien die volgende artikels van prof. Willie wat eers in die Kerkblad verskyn het en toe in sy saamgestelde werke uitgegee is (Nuwe en Ou Dinge):

1. Oor die Komende Dinge

“Die heersende opvatting in ons Gereformeerde Kerk is ongetwyfeld die sg. “geestelike”, dat die Duisendjarige Ryk sien op die tydperk tussen die verhoging van Christus tot met sy wederkoms. Dit is egter nie die enigste toegelate opvatting nie. Dit het duidelik geblyk by die toetreding van die gemeentes onder die Kruis, wat oorwegend die “letterlike” opvatting toegedaan was, dat dit naamlik sien op ‘n periode van duisend jaar, wat ons nog moet verwag in die toekoms.”

2. Die Komende Dinge: ‘die duisendjarige ryk’ in die algemene trekke

“Ons het hiermee so ‘n saaklike moontlike oorsig gegee van voorstellings in verband met ‘n toekomstig-letterlike “Duisendjarige Ryk”. Op enkele besonderhede hoop ons terug te kom, ook in verband met vrae wat ons intussen ontvang het. Uit wat gegee is, behoort die volgende duidelik te wees: Dat ons moet oppas om nie met ons menslike eensydighede teenstellings te skep wat die Skrif nie ken nie, bv. tussen letterlike en geestelike verklaring, Kerk en Israel, vervulde en onvervulde profesieë. Profesieë kan verskillende dieptes hê. Dieselfde profesie kan vervul en ook nog onvervul wees. Die letterlike sin kan ook nog ‘n geestelike diepte hê, sonder dat daar die minste aan die letter afbreuk gedoen word. Profesieë wat betrekking het op Israel kan oorgebring word, en word inderdaad deur die Skrif oorgebring op die Kerk.”

3. Die eindevangelie (preek: Op. 14:7b)

“Ons tyd is seker nie gekenmerk deur afwesigheid van vrees nie. Inteendeel. Vrees is die kenmerk van ons tyd. Ons kan ons eeu beskryf as die eeu van angs. Maar juis nie van vrees vir God nie maar van mensevrees: vrees van die een mens vir die ander; van die een volk of ras vir die ander. Wat is oorsaak en wat gevolg? Het mensevrees die plek kom inneem van vrees vir God of die vrees vir God heeltemal verdring? Dit is die een sowel as die ander. Omdat die mense God nie vrees nie, daarom is hulle uitgelewer aan mekaar. Nou gaan die vrees vir God ook heeltemal skui.1 agter die vrees van die mense vir mekaar. Hulle is meer bevrees vir mekaar as vir God.”

slc opmerking: vandag is dit nog steeds ‘vrees vir mense’ en die …. ‘covid vrees’ wat mense so angstig maak, omdat daar geen vrees en vertroue op die God van Romeine 8:28-39 is nie? 

4. Die simboliek van die getalle in Openbaring

“Dit word dikwels gesê dat die boek Openbaring verwarrend is. In sekere sin is dit waar. Dit bevat wêreldgeskiedenis, en die wêreldgeskiedenis is dikwels baie verwarrend, soos nóü weer. Dit is nie altyd maklik om die deurlopende lyne in te sien nie. Tog is dit daar. Dit is die volvoering van God se raadsplan waar alles vas en seker is. So ook Openbaring. By nadere beskouing blyk dat ons hier te doen het met ‘n goddelike kunswerk, waarby elke onderdeel pas in die geheel en alles bereken is tot in die kleinste besonderheid. Dit blyk veral uit die getalle. Ons het hier ‘n heilige getalleleer. Die regte insig kan ons alleen kry deur die Heilige Gees (Openbaring 13:18). In Openbaring kom slegs sekere getalle voor. Dit is die volgende: 3; 3½ ; 4; 7; 10; 12; 24; 42; 144; 666; 1 000; 1 260; 1 600; 144 000. Dit is nie maar willekeurige getalle nie. Ons kan al hierdie getalle herlei tot drie, nl. 3, 4, 10. Hieruit is al die ander op een of ander wyse saamgestel. Ons let dus eers op hierdie drie getalle.”

Sien al die artikels in prof. Willie se boek: Nuwe en Ou Dinge

Eie opmerkings en Openbaringpreke

Prof. Willie fokus in al sy lesings en artikels op die ‘groot openbaringshistoriese lyne’ van die boek Openbaring, wat soveel belangriker is as sekere detail waaroor die kerk deur die eeue nog altyd kop gekrap het, ek sal prof. Willie se artikels sterk aanbeveel vir enige een wat ‘n studie begin oor Openbaring, om ‘n goeie oorsig te kry in terme van die verstaan daarvan in die lig van Hand. 17:11 oproep.

Ekself hoop om DV iewers in Junie klaar te maak met my eie preek reeks uit die boek Openbaring, wat ek terug in Julie 2018 begin het (maar nie elke Sondag oor gepreek het nie), ek volg ook die groot openbarings-historiese lyne, probeer nie om in detail te verval nie, wat na my mening meer vir Bybelstudie bedoel is. Die preke was en is nog so bemoedigend vir my persoonlik en ek glo en vertrou ons hele gemeente, om die groot troosryke waarheid oor en oor te leer, waaroor die boek Openbaring sentraal gaan:

“Die Verlossers-Koningheerskappy en oorwinning van God die Vader, in ons Here Jesus Christus, deur die krag van die Heilige Gees, tot lof van sy Naam en heil van sy uitverkore volk, die Kerk van Christus deur alle eeue tot die laaste dag”

Die boek is en was nooit bedoel as ‘blokkies raaisel’ of ‘Bible code’ speletjie nie, mag die Kerk van Christus opnuut getroos word, as ons aanhou uitroep midde die goeie stryd van die geloof tot die laaste dag:

Kom Here Jesus, ja, kom gou!

Amen.

______________________

BRONNE IN AFRIKAANS

In Afrikaans, behalwe bogenoemde bronne, beveel ek die volgende skrywers en boeke aan om te bestudeer oor die boek Openbaring en die eindtye, nie omdat ek met elke detail noodwendig saamstem nie, maar omdat dit goeie bronne is wat in die Bybels-gereformeerde Skrifbeskouing lyn is en openbaringshistories met die Skrif en die boek Openbaring omgaan:

Ds. MJ Booyens, Kom Here Jesus: Openbaring oordenkings

Prof. Willem Hendriksen, Meer as Oorwinnaars

Dr. Thinus Du Plessis, Bybelstudie – Openbaring

Prof. VE d’Assonville, Die Boek Openbaring

Dr. EP Groenewald, Die Boek Openbaring

Ds. Hanan Viljoen, Die Einddinge

Enige boeke van dr. Jan Durand oor die onderwerp:

  • A-Z van Openbaring
  • Die Einde
  • Openbaring bybelstudie boek van Bybelkor

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: