LEERPREDIKING: NGB artikel 19 – Die twee nature van Christus (Joh. 20:27,28)

LEERPREDIKING: NGB artikel 19

Die twee nature van Christus (Joh. 20:27,28)

Lees: Romeine 9:1-5 & Johannes 20:19-31

Teksverse: “Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” (Joh. 20:27–28)

Tema: NGB artikel 19 – die twee nature van Christus

Preekopname (GK Carletonville, 2021-07-04, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek):

Aflaai: NGB artikel 20 – Die twee nature van Christus

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Daar is so baie dinge wat ons in verwondering laat…

Dink maar in die voortgaan in die tegnologie, mediese deurbrake,

dit wat die mens kan bou van piramides 1000e jare terug tot vandag se wolkekrabbers

dan is daar die wonder van die skepping, asemrowend elke dag,

die aarde self, die son en maan die ganse heelal, die teleskoop wat ons wonderlike dinge baie ver kan laat sien.

Die wonder van die mens, dink maar aan die liggaam, dink aan ons gees,

dink aan die wonder van die oog en die menslike brein … asemrowend… ongelooflik

MAAR, as ons kom by vandag se tema van die prediking,

die twee nature van Christus, naamlik dat Hy een Persoon is met twee nature,

die Goddelike natuur, God self, en tegelykertyd sy menslike natuur,

volkome God, volkome mens  soos ons hier bely in NGB art. 19,

“die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is … twee nature in een Persoon verenig..”

DAN staan ons in verwondering op die hoogste vlak, dan kan ons maar net stil raak, peins .. wonder,..

en dan in dankbaarheid AANBID ….

Die skepping … pragtig, ja gevalle nie volmaak nie … maar asemrowend (sien die ‘God of Wonders’ video op YT…)

Die mens, Ps. 8, kroon van die skepping … gevalle, maar ‘n wonder van God …

Maar God self, wat ons reeds daar in NGB art. 1 as ‘’onbegryplik’ beskryf het,

waarvan ons reeds geleer het in NGB art. 8-11 van die wonder van die Drie-eenheid,

maar nou staan ons stil vandag by die absolute aangryplike wonder van die Seun van God,

die totaal unieke DAAR IS GEEN ANDER SOOS HY nie … ons Here Jesus Christus…

WARE GOD EN TEGELYKERTYD WARE MENS …

Onthou nou waar is ons in die behandeling van ons ongetwyfelde Christelike geloof,

naamlik die reddingsplan van die Vader, van verlore sondaarmense, in Jesus Christus.

Art. 14-15 het ons geleer die mens is totaal verlore, kan nie homself red nie,

Art. 16 God kom in sy loutere goedheid en guns, en het vir Hom ‘n volk onder almal,

IN CHRISTUS uitverkies voor die grondlegging van die wereld,

en NOU is ons hier besig, om in artikels 17-21 te leer hoe God hierdie reddingsplan uitvoer in en deur sy Seun:

In artikel 17 het ons gehoor van die Redder wat oppad is deur die beloftes van die OT,

En dan het ons geleer in art. 18, van die vervulling van daardie beloftes in die NT,

soos NGB art. 19 begin, deur hierdie ontvangenis, naamlik Jesus wat gebore is na die vlees, uit die maagd Maria, ‘n eenmalige wonderwerk van God, sodat soos NGB art. 18 eindig, ons weet dat Jesus Christus, is

“waarlik ons Emmanuel, dit wil sê: God met ons” soos Matt. 1:23 openbaar.

EN DIT IS WAAROP NGB art. 19 nou fokus, op die Persoon van Christus,

ons gaan in art. 20 en 21 en verder leer van die werk en gevolg van Christus se werk,

maar nou moet ons eers weet wie hierdie ‘God met ons’ is.

Ons wil 2 sake leer vanoggend:

1 Wat beteken dit dat ons bely dat Christus een Persoon is in twee nature, veral na sy menswording en maagdelike geboorte

2 Kortliks net weereens, hoekom dit so belangrik is en wat beteken dit vir ons vandag?

In die eerste sin en paragraaf word in navolging van die Skrif saamgevat,

wat die kerk deur die eeue bely aangaande Christus se Persoon:

Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is1; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (Heb 7:3) en die hemel en aarde vervul2, só het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel ‘n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by ‘n ware liggaam behoort.

Ons het reeds in NGB artikel 10 geleer van die Godheid van Christus,

so ons gaan nie dit alles weer herhaal nie, gaan lees dit weer asook die preek daaroor.

Net om dit weer saam te vat, uit ons Skrifgedeeltes:

Rom. 9:5, leer ons van beide Christus se Godheid en sy mensheid, v. 5,

aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees (sy menslike natuur) —Hy wat oor alles is, God (sy goddelike natuur), lofwaardig tot in ewigheid! Amen.” (Rom. 9:5)

Sien ook Joh. 1:14, Hy (God) het vlees geword (die menslike natuur aangeneem).

In Joh. 20, sien ons sy mensheid, sy dissipels het Hom gesien na liggaam, v. 20, 25

Hy nooi vir Thomas om aan Hom te vat, sy hande, die merke waar die spykers ingaan, v. 25, 27

Hy het midde hulle gestaan… as volkome mens, vlees en bloed.

Maar sy Godheid word ook erken, deur dat Hy met toe deure skielik in hul midde verskyn, v. 19, 26

Hy blaas die Gees van God op hulle, v. 22,

En Thomas, en die dissipels, en die kerk, en ons vandag bely die woorde van v. 28,

“My Here en My God”

Maar dit gaan veral hier oor die verhouding van hierdie twee, die belydenis gebruik belangrike woorde,

om hierdie misterie te verduidelik: “Persoon” “nature” en dan veral die belangrike woorde,

om dwalinge deur die eeue te verwerp, nl. “daar (is) dus nie twee Seuns van God of twee persone … nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou.”

Ons glo nie in ‘n God-mens of ‘n mens-God nie…

Ons glo Christus is volkome God en mens, elkeen volkome verenig vir altyd vanaf die maagdelike geboorte, maar tog onderskeie…

Daarom die belangrike woorde om te onderskei, ‘Persoon’ en ‘nature’, dit is nie woorde wat netso in die Skrif is nie, maar  die saak/inhoud is wel daar in die hele Skrif.

Met ‘n ‘persoon’ word bedoel ‘ek’ ‘n wese, ‘n individu wat dink, bewussyn het van God en mens, wat ‘n wil het, reg en verkeerd van bewus is…

Met ‘natuur’ word bedoel al daardie kwaliteite of eienskappe wat maak dat jy ‘ek’ is, en nie ‘n dier of ding of iets anders is nie, sien bv. 1 Kor. 15:39-41 waar Paulus duidelik wys dat die ‘vlees van mens’ die menslike natuur anders is as die van diere en dinge en skepsele.

En wat Christus betref, leer die Skrif, Hy is een Persoon, NGB art. 10, Hy is die tweede Persoon van die Drie-eenheid, die ewige Seun van God, die “EK IS” van die OT, Joh. 8:58, voor Abraham is EK…

van altyd tot altyd, het Hy die Goddelike natuur,

soos ons bely daar met verwysing na Hebr. 7:3 in NGB art. 19, wat “altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (Heb 7:3) en die hemel en aarde vervul.”

Daarom, ook toe Jesus na sy mensheid gesterf het, het sy Goddelikheid nie ophou bestaan nie,

maar was nog steeds orals, dus orals in die hemel en op aarde,

daarom dat ons bely in navolging van die Skrif:

“Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het. Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy ‘n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe ‘n klein tydjie nie geopenbaar nie.”

Die wonder wat gebeur daar in Joh 20 sê vir ons hierdie wonderlike misterie:

Die dissipels, sien Hom, vat aan Hom, vlees en bloed, volkome menslike natuur …

maar dan tegelykertyd dat Hy skielik verskyn, agter geslote deure, en weer skielik verdwyn,

wys op sy Godheid en alomteenwoordigheid (sien NGB artikel 1).

Nou, deur die eeue, veral in die eerste eeue, het baie dwalinge ontstaan, wat hierdie saak betref,

sommige het gemeen dat Jesus twee Persone is, bv. Nestorius,

Ander het gemeen God word nou ‘n mens, dus sy Godheid hou op en gaan op in ‘n mens, Hy is nou Mens, nie meer God nie.

Ander meen Hy is ‘n mens met goddelike eienskappe, ‘n Mens-God geword.

Daarom die baie versigtige belydenis: een Persoon (vir altyd ewige eun van God), in twee nature wat ja nooit geskei kan word vanaf die ontvangenis nie, maar ook nooit vermeng moet word nie… albei.

Jesus het ouer geword van na sy geboorte, gehuil, gely, honger geword, die wederkoms in sy mensheid geweet nie, gesterf in sy mensheid.

Maar tegelykertyd, soos ons daar bely, altyd God gewees, “Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy ‘n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe ‘n klein tydjie nie geopenbaar nie.”

Die natuur en storms luister na Hom, in 1 Joh. 5:20 hoor ons Hy is die waaragtige God…

Teen die dwalinge en kettery oor die Persoon en nature van Christus, het ons die belydenisskrifte, veral die eerste 3: AGB, Nicea, Atanasius die waarheid van Christus se Persoon gehandhaaf, maar daar was ook ander, bv. die Konsilie van Chalcedon, in 451 NC, waar daar bely word:

“In navolging van die heilige vaders leer ons eenstemmig aan mense om een en dieselfde Seun, ons Here Jesus Christus, te bely, volmaak in sy Godheid en ook volmaak in sy mensheid; waarlik ten volle God en waarlik ten volle mens te wees, met ‘n rasionele siel en liggaam; een in essensie met die Vader volgens die Godheid en een met ons na die menslikheid; in alles soos ons, maar sonder sonde; gebore voor alle eeue uit die Vader volgens die Godheid en in hierdie laaste dae, vir ons en tot ons redding, gebore uit die maagd Maria, die moeder van God, volgens die menslikheid; een en dieselfde Christus, Seun, Here, eniggebore, om as van twee nature erken te word, sonder verwarring, sonder verandering, sonder verdeeldheid, sonder skeiding. 

Die onderskeid tussen die nature word geensins deur die eenheid weggeneem nie, maar eerder die unieke aard van elkeen word bewaar, wat saamval in een persoon en een bestaan, nie geskei of in twee persone verdeel word nie, maar een en dieselfde Seun, en eniggebore, God die Woord, die Here Jesus Christus; soos die profete van die begin af aangaande Hom getuig het, en die Here Jesus Christus self ons geleer het, asook die lering van die heilige vaders wat aan ons oorgelewer is.”

Nie Godmens nie, nie mensGod nie, maar God én mens

Geliefdes, twee vrae, hoekom glo ons hierdie misterie, en tweedens, hoekom so belangrik?

Wel, ek hoop u ken die antwoord oor hoekom glo en bely Christus as een Persoon, twee nature?

Hier is dit weer, vir dieselfde rede waarom ons glo God is en het deur sy Woord en Gees gespreek, waarom God Drie-enig is, waarom God alles geskape het in 6 dae, waarom Jesus uit ‘n maagd gebore is, ens dus die inhoud van NGB artikel 1-18 …. nl. soos ons bely daar in HK So. 8, v/a 25,

OMDAT God dit so in sy Woord geopenbaar het…

Hoekom so belangrik?

In NGB art. 19 kry ons die antwoord in die volgende twee sinne:

“Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is. …

Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.”

Nou gaan ons in meer detail na hierdie troosvolle waarheid kyk by NGB art. 20,

want dit is waaroor daardie artikel gaan, God wat as God sy regverdigheid (wat God alleen volkome in is),

en sy barmhartigheid (Christus se mensheid) handhaaf vir sy eer en terwille van ons.

Maar, vir vanoggend, sien die troos en hoop wat God se Godheid en mensheid vir ons bring, ook vir ons tye.

Joh. 20 se konteks: die dissipels was verwar, Christus het gesterf, gerigte van sy opstanding gehoor, vyandskap van die Joodse leiers, die Romeinse owerheid met sy bedreiginge,

en dan beleef hul konkreet die troos van Christus se mensheid:

vat aan My, hier is Ek … Hy is ‘n mens soos ons gewees, ja sonder sonde,

maar waarlik mens … maar dan ook sy Godheid … Ek is met julle, God met ons.

Die dissipels was by om Hom te sien

Hy bring vrede … nie wêreldse vrede wat die valse staat en valse kerk hier beloof nie, maar ware vrede, vers 19.

Vir die ewigheid, maar ook nou, sien Joh. 16:33!

Hy het sy Gees vir ons gegee, v. 22 waardeur Hy altyd met ons sal wees,

ook vandag, more, in goeie dae, in gesonde dae, in covid dae … alle daie en tye.

By ons werk en kerk … hier op die plaas waar ons nou aanbid, dalk later in vervolging, die tronk of in ballingskap … altyd met ons.

Ja, ons kan nog nie aan ons kosbare wonderbaarlike Jesus letterlik VAT nie … ook nie aan hulle wat reeds gesterwe het nie, maar ons kan en moet soos Thomas en die ware kerk bely deur die geloof… ons troos, wat eendag volkome gaan wees in die liggaam ook:

“MY HERE EN MY GOD”

En dan, het ons die belofte en troos van Christus, in sy volkomenheid, as volkome God en volkome mens:

Jesus sê vir hom (vir jou en my vandag, vir al die beangstes en swakkes en twyfelagtiges): Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het. Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Joh. 20:29–31)

Glo dit, bely dit, hou daaraan vas tot die einde toe, deur sy Gees en Woord, tot wanneer ons Jesus Christus, een Persoon in twee nature, volkome gaan aanskou!

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: