Posted by: proregno | July 12, 2021

ONS VERLOSSING: DIE HEILSORDE

ONS VERLOSSING: DIE  HEILSORDE

Ek plaas hier ‘n werk van prof. FJM Potgieter, oor die Heilsorde of Heilsweg, d.w.s. die weg waarlangs die Vader ons redding verorden en bepaal het, wat deur die Seun verwerf is (verlossing verwerf/volbring), en deur die Heilige Gees in die genadeverbond ons deel word (verlossing toegepas), sien Efesiërs 1:1-14.

Ons moet onderskei tussen die verwerwing en die toepassing van die heil. Christus het deur sy plekbekledende voldoening die geregtigheid en heiligheid en ewige lewe verwerf, maar wat sou dit ons baat as dit nie ons deel word nie, sien Rom. 8:28-30?

Die ‘goue ketting‘ van verlossing moet baie styf vasgehou word!

Dit is ‘n baie belangrike onderwerp, omdat dit gaan oor die eer wat aan God alleen gaan in die mens se verlossing (1 Kor. 1:30,31; Ef. 2:8-10), asook die verwerping van beide wettisisme/legalisme (redding deur eie werke/wet, Gal. 5:4) en die antinomianisme (Rom. 3:31; 6:1,2), daarom is dit belangrik om dit ook reg te verstaan en te bely, tot God se eer en die troos van sy kinders in alle tye.

Ek plaas hier onder die inleiding en samevatting, mag die boekie u ook help in u verstaan van die heilsorde tot eer van ons Here.
________________________________

VERLOSSING

deur prof. dr. FJM Potgieter

Inleiding

Namate die mens daartoe kom om hoe langer hoe meer te leef uit die Woord van God, leer hy insien hoeseer die skepping, veral die pronkstuk van die skepping, die mens, aangetas is deur die verwoestende werking van die sonde. Dit word vir hom al duideliker hoe grootliks die innerlike lewe van die mens verwring en verstoor is, en dit is vir hom oorsaak tot diepe smart om daagliks waar te neem dat die natuurlike mens nie in staat is om eers die koninkryk van God te soek nie.

En helaas, die verbasende onkunde aangaande die heilswaarhede lewer bewys daarvan dat ook die gemiddelde lidmaat van die kerk sy tyd nie ten beste bestee nie. Onteenseglik geld die volgende woorde van die profeet ook van die geestelike Israel van vandag: “ʼn Os ken sy besitter en ʼn esel die krip van sy eienaar maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie” (Jes. 1:3).

Weliswaar, onder die geledere van ons volk is daar seker bykans niemand wat tot sy verstand gekom het, wat nie weet daarvan dat daar vir hom deur die geloof in Jesus Christus redding is nie. Maar as ʼn mens enigsins in besonderhede sou afdaal en die vraag stel: “Sê vir my: wat verstaan u nou eintlik onder die wedergeboorte of onder die bekering?”, dan sal die oorgrote meerderheid ʼn antwoord skuldig bly of ʼn antwoord gee wat die toets van die Skrif nie kan deurstaan nie.

Bevreemdend is dit nie, omdat ook ons “traag geword het om te hoor” (Hebr. 5:11), soos die skrywer van die brief aan die Hebreërs omtrent sy lesers gesê het. En onmiddellik daarna sit hy sy bestraffing krag by deur woorde wat ook goedskiks op baie van ons toegepas word: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ʼn mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte gekry aan melk en nie aan vaste spyse nie” (Hebr. 5:12).

Maar hiermee word nie beweer dat die lidmaat al die skuld dra nie. Inteendeel, dit ly geen twyfel dat daar aan hierdie sake, oor die algemeen genome, nie genoeg aandag gewy word in die katkisasie en die prediking nie. En bowendien word daar dikwels ook nie voldoende rekening gehou met die bevatlikheid van die volk in sy breë lae nie. “As ek sien daardie man het ʼn stuk geskryf”, het iemand onlangs gesê, “dan blaai ek sommer om, want dan weet ek al dis heeltemal ‘te hoog’ vir my.” Hierin was hy ongetwyfeld die vertolker van die gevoelens van ʼn groot deel van ons volk.

Ook op ʼn ander sy van die saak moet gelet word: selfs waar die behoefte bestaan om dieper in die heiligdom van die geopenbaarde waarheid ingewy te word, word die verkeerde weg ingeslaan. Maar alte dikwels neem mense allerlei sektariese geskrifte op wat wel uiterlik aantreklik mag voorkom, maar geen ware sielevoedsel bied nie. Op dié wyse word die rype vrugte wat die gelowige besinning in die boesem van die kerk gedurende die loop van die eeue afgewerp het, verbygegaan. Die waarheid wat ons voorouers met hul lewensbloed verdedig het, word vir die minderwaardigste werkies ingeruil.

Wat ons volk opnuut moet leer verstaan, is die onskatbare betekenis van die leiding van die Heilige Gees wat Christus aan sy kerk op aarde toegesê het. Duidelik is daardie leiding aanwysbaar in die leer (soos dit deur die vroeë kerk en kerke van die Hervorming in hul belydenisskrifte vasgelê is) en in die skriftelike nalatenskap van “uitverkore werktuie” van God soos Augustinus en Calvyn.

Eeue was hiervoor nodig en nog gaan dié leiding voort, en wie meen dat hy met verontagsaming van die ganse kerklike verlede eiehandig die Skrif kan opneem en op die juiste wyse uitlê, is die prooi van eiewaan. Die waarheid is te oorweldigend om deur een mens gevat te word. Juis deur middel van die verskeidenheid van manne wat na Gods beeld geskape is en wat Hy daartoe afgesonder het, kom die waarheid tot ryker openbaring.

Met opset wys ons daarop dat God sekere mense hiervoor deur sy Gees bekwaam en roep. Dit is voorwaar nie aan elkeen gegee om die Skrif reg uit te lê nie. Daarom skryf die apostel Petrus ook van die “dinge” wat “swaar is om te verstaan” en waarsku hy dat “die ongeleerde en onvaste mense (hulle) verdraai, net soos die ander Skrifte tot hulle eie verderf” (2 Pet. 3:16).

Sodanige mense meen dat hulle na byna tweeduisend jaar die waarheid vir die eerste maal ontdek het. Nee, nooit lei die Gees langs “rewolusionêre” weg nie: in die verlengde van die waarheid waarin Hy in die verlede gevoer het, moet, met inagneming van dié leiding, voortgearbei word. Laat ons ook as volk gebruik maak van die rype besinning oor die Skrifopenbaring van gelowiges wat God daartoe begaaf het, insonderheid van die besinning wat gelewer is toe die kerk sy geestelike hoogtepunte bereik het, soos tydens die Hervorming.

Wat die betekenis, veral van die hervormer Calvyn so groot maak, is dat hy, met eerbiediging van die leer van die kerk en die uitsprake van die vaders, in ootmoed onvoorwaardelik vir die Skrif gebuig het. Êrens sê hy: “Wanneer die Here sy heilige mond sluit, laat ons ook die weg afsluit om verder te gaan in ons verstand.” En op ʼn ander plek skryf hy: “Want ons wysheid moet niks anders wees nie, as om met ootmoedige leersaamheid te omhels, en wel sonder uitsondering, al wat in die Skrifte oorgelewer is.” Kom, laat ons dan ook ten opsigte van die heilsorde na Calvyn en sy geesverwante, wat deur die Gees van God met soveel waarheidsin begiftig is, gaan om onderrig te ontvang.

Belangwekkend is dit om te merk wat Calvyn sê in die voorwoord van ʼn Franse uitgawe van sy beroemde werk, Die Institusie, wat hy ten behoewe van sy volksgenote besorg het. Hy skryf dat, alhoewel die Heilige Skrif ʼn volkome leer bevat, dit tog moeilik is om die groot lyne wat in die openbaring getrek word, na te spoor. En hy beskou dit as die plig van diegene wat meer lig van God ontvang het om die eenvoudiges in dié opsig te hulp te kom: hulle as ‘t ware by die hand te vat en hulle te help om die hoofsom van wat God in sy Woord geopenbaar het, te sien. Op hartroerende wyse spreek hy in die voorwoord van die eerste uitgawe van genoemde werk oor sy volk, van wie hy so baie gesien het wat honger en dors na Christus, maar so min wat selfs ʼn geringe kennis van Hom besit.

Terwyl alle ander openbaringsmiddels ten gevolge van die deurwerking van die sonde ʼn onsuiwere klank laat hoor, het dit God behaag om aan die mens in sy onpeilbare liefde die Skrifopenbaring as bril te skenk (soos Calvyn dit stel) om opnuut die heilswaarheid te onderskei. Met betrekking daartoe openbaar die Skrif ʼn plan waarop die mens deur eie nadenke nooit sou gekom het nie, nie alleen omdat hy so beperk van uit- en insig is nie, maar ook omdat hy so diep verdorwe is. Die mens wil homself red. Hy kan sy eie onmag nie insien nie. Dit is waar van die barbaar in sy laaggesonke toestand, sowel as van die mees verligte ongelowige.

Eersgenoemde wil sy eie heil uitwerk deur sy afgodiese praktyke en seremonies; laasgenoemde, in en deur Christus deelagtig word, wil onderneem, moet begin met wat in die ewigheid plaasgevind het, en dan na wat in die tyd geskied het, moet oorgaan.

Terwyl ons, terwille van die gewone lidmaat so eenvoudig en duidelik as moontlik wil wees, gee ons nou ʼn oorsigtelike voorstelling van wat ons vervolgens gaan behandel.

Eers gaan ons bespreek:

I. Wat in die ewig­heid geskied het.

Hierdie groot hoof deel ons as volg in:

A. Die raad van God;

(a) Die verbond van die verlossing,

(b) Predestinasie.

B. Regver­digmaking. Dan volg die tweede groot hoof:

II. Wat in die tyd geskied het en geskied.

Dit deel ons weer as volg in:

A. Die vervulling van die voorwaarde vir die regverdigmaking.

B. Die toepassing van die heilsweldade.

En hierdie toepassing behan­del ons in die volgende orde:

(a) Wedergeboorte,

(b) Roeping,

(c) Bekering,

(d) Geloof,

(e) Reg­verdigmaking,

(f) Heiligmaking.

Samevatting

In ʼn paar vol sinne vat ons tans saam wat ons uit die Skrif, die belydenis en die gelowige besinning aangaande die heilsorde geleer het.

Met groot eerbied dink ons terug aan wat in die Woord van God geopenbaar is omtrent wat in die ewigheid plaasgevind het. Ook die geweldige heilsplan is as herskeppingswerk van God in sy ewige raad behels. Daarin moet in dié verband onderskei word tussen die verbond van die verlossing, waarin elkeen van die drie Persone van die Goddelike Wese sy onderskeie taak op Hom geneem het, en die predestinasie, wat die verkiesing sowel as die verwerping insluit, maar ook die middele wat daartoe lei.

Voorts staan die regverdigmaking van die uitverkorenes van alle ewigheid af vas. Daaronder verstaan ons die regterlike daad waardeur God, kragtens die ontwyfelbare soendood van Christus in die tyd, die uitver­korenes van alle vloek, skuld en straf vryspreek. Dit vorm die grond van die toepassing van alle heilsweldade deur die Heilige Gees in die tyd.

Hiermee stap ons oor uit die ewigheid in die tyd. Daar is die voorwaarde vir regverdigmaking deur die Borg en Middelaar, Jesus Christus, met sy lydelike en dadelike gehoorsaamheid vervul. En daar word die heilsweldade wat in Christus beslote lê, ten aansien van elke lid van sy liggaam, wanneer hy in die alwyse bestel van God die lewe vergun word, deur die Heilige Gees volgens vaste, logiese orde toegepas.

In die reël is hulle ook chronologies (d.i. in tydsorde) geskeie, maar dit is bv. nie die geval by vroegsterwende kindertjies nie.

Die eerste van hierdie weldade wat so geskenk word, is die wedergeboorte, daardie herskeppende wonderdaad wat deur die Gees van God op onmiddellike, ondeurgrondelike en onweerstaanbare wyse, afgesien van leeftyd, gewerk word.

Die tweede is die inwendige, kragdadige roeping van die wedergebore mens deur die Woord van God, in medewerking met die Heilige Gees.

Dit word gevolg deur die derde genadedaad, die prinsipiële bekering, wanneer die potensiële lewe, wat met die wedergeboorte in die uitverkorene gelê is, in die bewuste leeftyd tot uiting kom in selfwerksaamheid aan die kant van die mens, wat hom in selfverbryseling in- en uitwendig afkeer van die sonde en hom toekeer tot God.

Vierde is die geloof, wat eintlik gelyktydig met die bekering ontkiem en bestaan in ʼn afhanklikheidstelling van die hele wedergebore persoonlikheid van onse God en Vader in Christus Jesus.

As vyfde het ons behandel die regverdigmaking deur die geloof in die Middelaar;

en as sesde die heiligmaking, wat seer seker genadegawe is, maar waartoe ons ook geroep word, en wat bestaan in ʼn afsterwe van die oue mens en ʼn oplewing van die nuwe mens; en hierin van die regverdigmaking verskil is dat dit ʼn etiese proses is, wat geleidelike reiniging van die smet van die sonde en geestelike groei inhou.

Hierin volhard die wedergeborene deur die genade van God tot op die sterwensoomblik, wanneer hy die volkome heiligheid deelagtig word.

Dan vang die verheerliking aan, waar daar in volkome roepingsbewussyn vir die ewige taak volmaakte harmonie sal heers, nie alleen in elke lid van die liggaam van Christus nie, maar ook tussen die lede onderling, en waar dié liggaam na die jongste dag in volgroeide gestalte die Hoof sal dien, en Hom tot in alle ewigheid sal loof en prys vir sy groot heilswerk, wat dan eers reg sal geken en gewaardeer word.

________________________________

Die volledige boekie kan hier afgelaai word: VERLOSSING.

Sien ook hier meer oor die heilsorde.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Categories

%d bloggers like this: