LEERPREDIKING: NGB artikel 20
God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus (Ps. 85:11,12)
Lees: Psalm 85
Teksverse: “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar. Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer.” (Ps. 85:11–12)
Tema: God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus
(Preekopname: GK Carletonville, 2021-07-18, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek).
Aflaai: NGB art. 20 preek (Ps. 85:11,12)
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
As ons die afgelope week se beelde sien van onluste, diefstal en anargie sien (KZN),
dan roep ons inderdaad uit: waar is die gereg, waar is geregtigheid, wet en orde?
En heeltemal reg so, ons wil tog sien dat daar wet en orde, geregtigheid geskied.
En vir die gelowige geld dit vir al die gebooie van God wat deur die mens vertrap word,
nie net die 2de tafel van die wet nie… (sien Ps. 119:17, beryming)
Maar, as ek nou self ’n oortreder van die wet word, ongeregtigheid doen,
of dit nou in woorde of dade of wet is, veral voor die Here maar ook teen my naaste,
wat dan, veral as ek dan besef dit was verkeerd, dit is ongeregtigheid, verkeerd,
ek moes dit nie gesê, gedoen of gedink het nie ..
dan wil ons ook barmhartigheid ontvang, vergifnis, genade, veral voor God,
wat ons ewigheid en saligheid betref.
En, alhoewel die sondige verlore mens dit verdraai, is dit twee van ons grootste,
en seker belangrikste soeke in die lewe:
– ons soek geregtigheid, waarheid, reg en orde, onreg kan nie maar net toegelaat word nie… maar,
– ons soek ook vergifnis, barmhartigheid, begrip, genade en hoop … albei!
NOU geliefdes, wat doen ons nou, om beide geregtigheid te laat geskied,
maar ook genade, want, soos ons al baie geleer het,
en soos ons ook hier leer in NGB art. 20 (ook art. 16),
God handhaaf beide geregtigheid en genade, waarheid en barmhartigheid.
Die valse profete sê eenvoudig: ons moet God verander, ons moet die Bybel verander, sodat God se geregtigheid by ons ongeregtigheid (sonde en oortredinge) aanpas… heel prakties beteken dit, om te verwys na die woorde in Rom. 6:1,2
Mense … julle kan aanhou in julle sonde en ongeregtigheid lewe, julle hoef nie daarvan te bekeer nie .. inteendeel, dit is nie sonde nie, en die Here sal jul nog steeds barmhartig wees, julle red, julle lief hê, julle vrede nou en tot in ewigheid gee…’n valse vrede wat in die hel eindig.
In die Jeremia preke het ons al en gaan nog baie daarvan hoor, ‘n verkondig ’n valse geregtigheid en valse barmhartigheid, wat nie in harmonie met mekaar is nie, jy verander bloot vir God, die Bybel, die geloof om by jou ongeregtigheid aan te pas … en aan te sondig alles sal wel wees…
MAAR, is dit die waarheid, is dit die werklikheid, is dit die ware God en wat die Bybel leer?
O nee, geliefdes, en soveel gaan ontnugter word in die oordeelsdag, oor die valse god en valse geregtigheid en die valse genade/evangelie wat vandag orals gehoor word!
Die hele Skrif leer anders, ons bely dit anders in NGB art. 16 reeds, en nou hier spesifiek in art. 20,
God is beide in sy wese en eienskappe volkome regverdig, geregtigheid, waarheid asook genade, barmhartig en vol ontferming, Hy handhaaf beide in sy Woord, en in die besonder deur sy Seun, Jesus Christus, in en deur die evangelie
Ons leer dit vanoggend uit Psalm 85, saamgevat in verse 11,12
“Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar. Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer.” (Ps. 85:11–12)
Die Psalm skrywer sê dat God se geregtigheid, trou en waarheid aan die eenkant, en sy goedertierenheid en vrede, dus sy verbondsliefde en genade is:
- nie in stryd met mekaar nie = dit soen mekaar, dit pas by mekaar aan, dit is in harmonie, en
- sê God self is beide regverdig en genadig, en
- elkeen wat die Here as sy Here het, die ware God, kan, sal en moet dan ook beide handhaaf in ons lewens, persoonlik, gesin, gemeente, gemeenskap, land en volk…
EN EK WIL DIT HIER VIR U BAIE DUIDELIK STEL:
Hier is die enigste Hoop vir die ewigheid, vir elke mens, volk, land…
maar ook vir hier en nou, die oplossing van lewenskrisse, onreg, misdaad, boosheid, alles, die hoop lê in wat Ps. 85 leer, en soos ons dit ook bely hier in art. 20, dat God, die Skepper van hemel en aarde, die wetgewer van die ganse kosmos, die enigste Verlosser, sy regverdigheid EN barmhartigheid openbaar en handhaaf in Jesus Christus, dus in die evangelie, die goeie nuus van Jesus wat gekom het, soos ons nou al geleer en bely het in NGB art. 17-19.
Kom ons kyk daarna in Ps. 85:
Hierdie Psalm is geskryf, volgens meeste verklaarders, na die volk van ballingskap teruggekeer het, na hul verlos is, maar as hul terug is in die beloofde land, is daar nog steeds sonde en ongeregtigheid wat hy erken, waarin die volk heeltyd val.
Ja, die sondeval en die sonde van die mensdom, soos ons lees daar in v. 3, 4 is ongeregtigheid, en die Here se oordeel is daaroor, sy grimmigheid.
Nie net die verlore mens se ongeregtigheid en sonde nie, maar selfs die kinders van die Here se beste werke is nog met sonde bevlek.
Ons geregtigheid, dat ons moet reg glo, lewe, doen is nog so onvolkome… afgelope week, dalk nog gisteraand, ons verhoudings, ons kerke, dink aan ons tye hoeveel vrees vir mense, angs en benoudheid!
Ons sonde word ook ‘dwaasheid’ genoem daar in vers 9, ons verdien die Here se strawwe en toorn, soos die Psalmskrywer dit hier noem.
Die rede waarom dit met die volk voor die ballingskap in die land sleg gegaan het, en ook nou daarna neig is … weens ons ongeregtighede en sonde.
En nou, soos ons gesing het daar in Ps. 130 …
WIE SOU EEN OOMBLIK VOOR DIE HERE KON BESTAAN?
EN juis daarom beroep die Psalm skrywer hom nie op die volk of op sy eie geregtigheid, dus sy eie werke nie, hoe kan hy dit durf waag?
WAT doen hy?
Hy beroep Hom alleen op die HERE wat volkome geregtigheid en goedertierenheid kan handhaaf!
Hy erken God se haat vir sonde en oordeel en toorn daaroor sal nooit verander nie, dit moet gehandhaaf word vir altyd?
Maar, daarom juis het die mens, sy volk, ons sy barmhartigheid nodig, ons hoor dit:
Vers 2 Here, u het ’n welbehae in u land en volk…
Vers 8, Laat ons u goedertierenheid (dit is verbondsliefde) sien
Vers 9 sy gunsgenote … dit is begenadigdes…
Vers 11 Goedertierenheid en vrede …
En in verse 2 tot 7 is herhaling op herhaling, om te beklemtoon, selfs deur die oorspronklike taal … U U … U …
U geregtigheid en barmhartigheid is nodig Here, om u eer te handhaaf, en sondaars te red!
Die valse gode, valse profete, wil of die een of die ander handhaaf, of teen mekaar afspeel … nee God is net liefde .. nee God is net heilig … sing valse profete en valse kerke…
Dit is altyd albei geliefdes, omdat God Hom so geopenbaar het,
“Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar. Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer.” (Ps 85:11–12)
En nou weet ons geliefdes, die Psalm openbaar dit so duidelik Messiaans, as ons hoor van God se goedertierenheid hier, sy welbehae vir sy volk, hier in OT of later NT, as ons hoor van sondes bedek, v. 3, die gloed van u toorn is afgewend, v. 4
maak ons lewend, v. 7, u heil is naby, v. 9,
dan wys dit mos alles na God se regverdigheid en barmhartigheid in Jesus Christus,
wat vervul sou word, vir sy gunsgenote in beid die OT en NT bedeling.
Christus moes, soos ons belydenis dit stel:
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur die allerbitterste lyding en sterwe dra.
Dit was die Psalmskrywer se uitroep daar in verse 3 en 4,
“U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela. U het al u grimmigheid teruggetrek, U het U van die gloed van u toorn afgewend.” (Ps 85:3–4)
En dan bely ons verder:
So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het en só sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.
Dit is wat die Psalmskrywer daar bid en voor hoop, verse 7-10,
“Sal Ú ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie? Laat ons u goedertierenheid sien, o Here, en gee ons u heil! Ek wil hoor wat God die Here spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie! Gewis, sy heil is naby die wat Hom vrees, sodat heerlikheid in ons land kan woon.” (Ps 85:7–10)
En geliefdes, ons leef in die tyd van die vervulling, ons gaan in NGB artikel 21-23 nou leer van die versoeningswerk van Christus spesifiek en hoe ons daarin deel kry deur die geloof.
HIER is dit nou belangrik om raak te sien, hoe die Here sy geregtigheid handhaaf en sy barmhartigheid in Christus.
Dat geregtigheid en genade mekaar nie weerspreek nie, want God het sy Seun gestraf in ons plek om sy geregtigheid te handhaaf, sodat ons vergewe kan word, maar dan ook nou in geregtigheid kan wandel.
Daarom die woorde daar in verse 9, dat ons nie tot dwaasheid sal terugkeer nie…
ONTHOU in die begin van die preek … heel prakties, die valse profete sê, bly in jou sonde…
Die ware evangelie sê dat weens God se barmhartigheid en geregtigheid in Christus, hoef nie, mag nie, kan jy nie meer in die sonde bly nie, en daarom is daar nie net vir die ewigheid hoop nie, maar ook hier en nou.
In Christus, vers 12 het die geregtigheid uit die hemel neergedaal – Christus en sy weldade – en deur wat Hy gedoen het, weer trou gebring op aarde, menende dat ek, my huwelik, gesin, gemeente, gemeenskap, volke
OP EN DEUR DIE WEG VAN BEKERING, WEER VREDE, VERGIFNIS EN HOOP KAN VIND
Ware hoop en vrede tussen God en mens, en tussen mens en mens!
DIT geliefdes, nie nog voedselprogramme, ekonomies opligting, politieke oplossings nie,
maar die EVANGELIE VAN GOD SE REGVERDIGHEID EN BARMHARTIGHEID IN CHRISTUS,
IS DIE HOOP VAN DIE WERELD, JA BO ALLES VIR DIE EWIGHEID MAAR OOK HIER EN NOU.
Ons weet natuurlik die volkomendheid kom eers met die wederkoms,
maar dit begin hier en nou … in my eie hart dat ek NOOIT God se reg verander nie,
dit aanhou verkondig en najaag … maar dat ek ook na vergewe genadig wees ….
Die HERE straf en tugtig deur die eeue … maar vers 13, Hy gee ook baie keer hoop, vers 14
EN DIT IS WAT ONS MOET VERKONDIG terwyl ons mense met hulle tydelike nood en angste help.
Soek jy geregtigheid … soek dit by die Here!
Soek jy genade .. soek dit by die Here!
En alleen, vers 10, hulle wat Hom vrees (geregtigheid)…. sal sy heil (barmhartigheid) vind
Aan hulle dus, wat beide God se geregtigheid (wet, waarheid) soek, en sy genade (evangelie),
reg verstaan en gehandhaaf soos die Skrif dit leer,
wat dus die ware God soek, is daar hoop en troos en ‘n toekoms,
WANT… “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar. Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer.” (Ps 85:11–12)
Ons mag nooit in ons eie lewens van dankbaarheid, in ons verkondiging, dit wat God bymekaar gevoeg het skei of valslik teen mekaar stel nie…. nl;.
God se regverdigheid en barmhartigheid in Jesus Christus!
Die ware gelowige en ware kerk handhaaf die wet (geregtiheid) en evangelie (genade), sien Op. 12:11,17!
Mag die Here ons help om beide in ons belydenis en lewe te handhaaf tot sy eer en die heil van ons naaste.
Amen.
Leave a Reply