LEER PREDIKING: NGB artikel 22&23 – Ons regverdiging deur die geloof, ons geregtigheid voor God

LEERPREDIKING: NGB artikel 22&23

Ons regverdiging deur die geloof, ons geregtigheid voor God

Lees: Filippense 3:1-11 & Hebr. 11:1-7

Teksverse: “… en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof…

Tema: Gered uit genade alleen, deur die geloof in Christus se Geregtigheid alleen.

(Preekopname: GK Carletonville, 2021-08-22, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek).

NGB art. 22-23 preek (Filp. 3:9)

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Verlossing verorden, bewerkstellig, toegepas, dit is die fokus waarmee ons nou besig is vanaf NGB artikels 16 tot 26.

Deur die ewige verkiesing bepaal en besluit God ons verlossing, art. 16

In art. 17 word ons Verlosser beloof, nl. Christus deur die OT.

Art. 18-21 sit uiteen hoe Christus se koms, sy persoon, God se regverdigheid en barmhartigheid handhaaf,

en dat sy versoeningswerk, sy hele lewe lank en in die besonder aan die kruis, opstanding en hemelvaart, ons verlossing volbring het.

Maar nou dat God in Christus sy verlossing in die geskiedenis volbring het, moet sy reddingsplan toegepas word vir hulle wat Hy uitverkies het,

hulle moet deel kry aan Christus en al sy weldade,

in die besonder aan wat ons bely in art. 22 en 23, naamlik:

die regverdigheid van Christus, sy geregtigheid,

dat Jesus,

a) nie net die volkome regverdige straf vir ons oortredinge in ons plek gedra het nie, maar

b) ook met sy hele lewe alles volbring het, alle geregtigheid nagekom het, sodat dit ons deel word,

en ons voor God kan staan en bly lewe … nou en tot in ewigheid!

SO, hoe kry ons deel aan Christus, wat alleen ons GEREGTIGHEID is voor die Vader,

wanneer ookal die Here dit bepaal het moet plaasvind vir elke uitverkore kind van Hom,

klein en groot, man en vrou, onder alle volke?

Die antwoord bely ons in art. 22, ‘ons regverdiging deur die geloof…’

Ja, deur die geloof, en die eerste sin in art. 22, vat dit daar vir ons pragtig uit die Skrif saam:

Ons glo dat die Heilige Gees ‘n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry.   Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. 

Die groot geheimenis = die versoeningswerk van Christus,

die geregtigheid wat ons nodig het om weer saam met ons Vader te lewe, het Christus voorsien.

Hierdie geregtigheid wat ons nou het voor God, bely ons soos volg in artikel 23,

Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Dit leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken

Maar hierdie geregtigheid van Christus, moet ons ontvang deur die geloof.

Wat is geloof geliefdes?

Die naaste ‘definisie’ wat ons kry, is in Heb.11:1,

Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

Geloof is ‘n waarborg en sekerheid van dit wat ons nie sien nie,

Dit is ‘n waarborg en bevestiging van ons geestelike rykdom in Christus en al sy weldade,

waarin die geregtigheid voor God sentraal staan.

Beteken geloof ‘n blindelingse hoop, ‘n dalk, ‘n moontlikheid … weet nie seker nie?

Nee, die HK, by v/a 21 gee vir ons ‘n meer volledige verduideliking:

Vr. Wat is ‘n ware geloof?

Antw.  ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n gewisse kennis waardeur ek alles vir waaragtig hou wat God aan ons in sy Woord geopenbaar het nie (a), maar ook ‘n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d) dat nie alleen aan ander nie, maar ook aan my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (e) deur God geskenk is uit loutere genade alleen ter wille van die verdienste van Christus (f).

Dus, ware geloof is ‘vaste/gewisse kennis’ – alles wat die Woord openbaar, daar staan geskrywe, ongeag of mense daarin glo of nie.

Vaste vertroue – Christus en al sy weldade is ook vir my, persoonlik.

Ons hoor dit ook in Paulus se woorde daar in Filp. 3, 8-11

Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here

Kennis = waarheid

my Here = vertroue, intiem, ook vir my, Hy is nie net ander nie, maar ook MY Here…

‘n Mens kan geloof dan ook omskryf as daardie geestelike onverbreekbare band waarmee die mens Christus en al weldade ontvang.

Die geloof is beide ‘n opdrag/eis van God: glo en jy sal gered word, wat mens regdeur die Skrif hoor,

maar dit is tegelykertyd ‘n onverdiende geskenk van God, nie ‘n werk van ‘n mens, of iets wat die mens moet of kan bydra om sy saligheid te verdien nie.

Geloof is gefokus nie op die mens wat moet glo nie,

maar op die inhoud, die Subjek van geloof, Christus Self.

Hebr. 11:6  want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

Geloof is nie gefokus op die self, en my eie vermoë en handelinge nie,

daarom dat die belydenis ook sê:

Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes.  Dit maak Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie.

Geloof is dus ‘n gawe, geskenk van God, Ef.2:8-10,

8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.  10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

‘n Ware geloof kom van God, en rus alleen op Christus en al sy verdienste.

Dit is nie Christus plus my eie bydrae nie.

Of Christus plus nog ‘n ander verlosser nie, dus ‘n ‘samewerking’ nie.

Net Christus alleen, daarom dat die belydenis dit stel:

Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, òf dit is alles wél in Hom, en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid.  Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom. 3:28: Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.). 

Geloof roep uit: Christus is GENOEG!

Sola fide!

Ek hoef nie nog iets by te dra nie.

Ek kan nie my verlossing koop nie.

Nie enige van my werke of gehoorsaamheid kan enigiets bydra tot my verlossing nie !

Kyk hoe duidelik stel Paulus dit onomwonde daar in Filp. 3:8,9

Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;” (Php 3:8–9)

Hy sê, en ons het dit gelees daar in verse 1-7, niks wat hy gedoen het nie,

ook selfs nie sy ‘goeie’ dinge nie, wat nog met sonde bevlek was, kon hom red nie,

of kan enigsins deel wees van sy regverdiging of geregtigheid voor God nie,

maar alleen die geregtigheid wat uit God is, nl. Christus en al sy werke,

is die ENIGSTE grondslag van sy verlossing en saligheid.

En daardie geregtigheid, Christus, kan alleen deur die geloof ontvang word, ‘deur’ die geloof.

Nou het daar binne die kerke deur die eeue dwalinge ontstaan, baie subtiel, wat geloof opsigself

ook ‘n werk wil maak, ‘n bydrae wat ‘jy’ lewer.

Dan beteken dit my redding is: Christus plus EK wat glo, my geloof.

Maar dit is nie wat ware geloof is nie, ons belydenis verduidelik:

Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al die heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.

Geloof is die middel, instrument, ja natuurlik, noodsaaklik, maar wel nie die rede/bron/oorsprong waarom ek gered word nie.

Dit is die Inhoud van my geloof wat my red: Christus.

Dit is ‘n geskenk van God, waarsonder ons nie gered kan word nie.

Voorbeeld: as ek ‘n fontein van water, ‘n wonderlike bron water op my plaas of grond ontdek, het ek middele nodig om daardie water na my grond, huis, tuine, diere te bring, dit is noodsaaklik, kan nie daarsonder nie … maar al die boorgat pype wat ek gebruik is die middele, die instrumente wat noodsaaklik is, maar nie die allernoodsaaklikeis nie, nl. die water self nie.

So ook die geloof, dit is ‘n noodsaaklike deel van dit wat Christus volbring vir sy kinders aan die kruis, dit is ‘n saligmakende gawe, ons bely dit daar in DL 1.9 EN 2.8,

“Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. …  Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het.”

Nou as die geloof iets was wat die mens eers moet of kan bydra, sy deel doen, dan beteken dit ten einde … die mens is die finale bepalende faktor, dan is dit nie genade, God se geregtigheid, Christus alleen wat red nie.

Dan is Paulus se woorde nie waar in Filp 3 waar nie,

want dan word geloof ‘n werk wat die mens bydra.

En dan, as geloof my bydrae tot redding is, en nie die noodsaaklike middel tot redding nie,

dan het ek rede om te roem, ja, die Here het sy deel gedoen, maar ek moet ook my deel doen,

dan red ‘ons’ saam en deel ‘ons’ saam in die roem en eer vir die redding!

Maar dit is nié wat die hele Skrif leer nie, Paulus wys duidelik, verse 8-11

… om Christus as wins te verkry … geloof in Christus … geregtigheid wat uit God is … sodat ek Hom kan ken

en in Hom gevind mag word

In die oorspronklike taal, ‘n passief, met ander woorde, nie ek wat handel is die bron, oorsaak, rede van my redding en verlossing nie … maar iets wat met my gebeur, wat op my toegepas word, ek word ‘in Hom’ gevind, dus ek is deur sy genadige uitverkiesing en liefde in Christus ‘inge-ent’, in Hom geplaas,

genade op genade, sien Ef. 1:4-6!

Al die roem en die eer aan Hom alleen!

DAAROM ons belydenis, soos verwoord in art.23,

Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen.

Ja, al die eer aan God,

en dit maak ons so nederig dankbaar!

Ons roem in Christus, nie ons eie werke nie, nie eers in die instrument/middel van die redding, die geloof opsigself nie!

Daarom die woorde van Paulus in 1 Kor.1:30,31

Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

En dan geliefdes,

Om waarlik te glo, is om dan ook om die troos te ontvang, vir hierdie lewe,

as ek worstel en stry teen die sonde, wêreld en die Satan,

dan hou ons vas dat die geloof in Christus genoegsaam is, om:

al ons ongeregtighede te bedek, en

die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry, en

om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan,

terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie.

Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons – helaas! – verteer moes word

Daar is dus geen meer vrees nie, prys die Here, Rom. 8:1.

Ja, ons raak bedroef oor die aardse stryd en oorblywende sondes,

ons bely ons sondes, maar staan weer op deur die geloof.

Geliefdes, as ons dan nou hoor en opnuut bely, ons word gered:

uit die genade van ons hemelse Vader wat ons uitverkies het,

deur die geloof in Christus, ons Geregtigheid alleen, sonder enige werke of bydrae van ons kant,

BETEKEN dit werke, dat ons moet wandel en doen in sy Koninkryk, is onbelangrik?

In die woorde van Paulus self, “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.” (Rom. 3:31)

En daarom, kyk wat volg in NGB artikel 24 en 25…. ons heiligmaking en goeie werke, asook die belydenis oor die seremoniële wet wat vervul is maar ander aspekte van die wet, bv. die morele wet wat bly, waarvolgens ons deur die krag van die Gees,

nou in dankbaarheid vir ons genadige verlossing wil en moet moet lewe.

Ons leer volgende keer uit die Skrif daaroor.

Twee toepassings

1 Ons word gered ‘deur’ die geloof, en nie ‘omdat’ ons glo nie.

Sien my twee lesings by die gemeentekamp oor die kwessies van vertalings.

Op verskeie plekke vertaal die NAV asook die BDV ‘omdat’ ons glo, word ons gered,

terwyl die meerderheid vertalings nog altyd het, ‘deur of uit’ die geloof,

omdat hul daardeur die inhoud van NGB art. 22,23 wil beklemtoon, tot eer van God en ons heil en troos.

2 Geliefdes, in hierdie tye waar soveel massa histerie is oor covid regulasies, en maskers en inentings, onthou:

Ons lewe deur die geloof, nie deur vreesagtigheid nie,

nie deur mense magte of kragte nie,

maar deur die geloof,

‘n innige verbondsband wat God onfeilbaar genadiglik skenk aan elkeen van sy kinders,

wat geen mens, geen siekte, geen wetgewing, van ons kan wegvat nie.

Dit is ‘n verskriklike belangrike noodsaaklike belydenis vir ons hele lewe, nou en altyd,

in tye van gesondheid en siekte,

voorspoed en teenspoed.

Gaan lees vanmiddag Hebr. 11, die hoofstuk oor die ‘deur die geloof’ wandel en lewe.

Mediese behandeling, is ‘n saak van vryheid, wat nie gewetens mag bind waar die Skrif nie bind nie,

veral nie in die kerk nie, waar ons hier moet aanhou lewe deur die geloof, volgens God se bevele.

Laat ons daarom ons hele lewe lank, maar ook soos voor, na of in covid tye, enige tye!

vashou aan die geloof, en daarin wandel daagliks, en van rusdag tot rusdag.

Laat daar altyd by ons ‘n geloofsverlange wees na die Here se koms,

om my en alles nuut te maak.

Paulus se woorde daar in Filp, 3:10,11,

sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik.” (Php 3:10–11)

Daardie wonderlike versugting dat die Here alles nuut sal maak,

ons sien dit nie nou nie, ons glo dit op grond van God se beloftes,

wat almal ja en amen is in Jesus Christus, ons Geregtigheid (2 Kor. 1:19,20).

Laat ons daarom volhard ‘deur die geloof’, wat ookal vir ons in ons tye, hetsy deur vervolgings of virusse en die hantering daarvan vir ons wag, en daarom sluit ons af met die woorde van bemoediging deur die geloof in Christus se Geregtigheid, te volhard tot die einde toe;

TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ’n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Heb. 10:19–25)

Geliefdes, wandel deur die geloof in Jesus Christus!

Amen.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑