Teenoor die Evolusieleer, In U Lig (Ps. 36:10)!

Teenoor die Evolusieleer, In U Lig!

(Ps. 36:10)

– Die Evolusieleer verduidelik en weerlê deur dr. HG Stoker

[Bron: In: Koers in die Krisis I, Stellenbosch, Pro Ecclesia: 1935, bll. 353-364. Dr. Stoker se werke is op CD beskikbaar by die VCHO, sien die CD advertensie hier.  Vir enige van sy boeke, doen navraag by Pro Regno Boeke. Opksrif aangepas.]

Inleiding

HG Stoker was in sy tyd ‘n wêreldbekende filosoof onder gereformeerde denkers wêreldwyd, ‘n groot kenner van sy vakgebied, en ‘n godsvresende kind van God. Hy het met groot klem die valse teenstellings tussen ‘geloof en (ware) wetenskap’, ‘godsdiens en wetenskap’, en dus tussen ‘natuur en genade’ ens. van harte verwerp. Kinderlik gelowig gebly en wetenskap beoefen op die hoogste vlak, in U Lig (Ps. 36:10), PU vir CHO.  In die gedagtes van Bavinck: die genade heilig die natuur, dit vernietig dit nie. Sonde is die krisis van die mens se bestaan, nie God se skepping, natuur, ens. nie. Christus kom red sy skepping in sy uitverkorenes, Hy kom vernietig nie sy skeppingsorde nie, Hy kom red dit to verheerliking van sy Vader, en tot heil van die mensdom en die heelal, sien Kol. 1:115-20.

In hierdie artikel oor die evolusieleer, wat reeds in 1935 verskyn het, beskryf hy op ‘n eenvoudige vlak wat evolusie is en weerlê dit kort en kragtig vanuit die Skriftuur en natuur(wetenskappe), NGB artikel 2-7.  Beide die Skrif en die (ware) wetenskap wys op die dwaasheid en absurditeit van die evolusieleer, dit is ‘ongelooflik’ en ‘wetenskapsfiksie’ (let wel: natuurlik glo ons nog altyd aan ‘ontwikkeling’ onder soorte en aanpassings binne soorte, maar dit is totaal radikaal iets anders as die ‘evolusieleer’ soos deur Stoker hier onder verduidelik en weerlê).

Hierdie artikel wat ek van hom plaas, sluit aan by die vorige een wat ek hier geplaas het, wat net so goed is en ook spreek tot ons tye:

Skrifongeloof in ons tyd – Bybel en wetenskap: HG Stoker se getuienis

Sy artikels is so aktueel, dit klink asof dit in vandag se joernale en tydskrifte staan.  Stoker weerlê die basiese geloofsboustene van die evolusieleer wat ongelukkig in ons tyd deur mense buite maar ook tragies binne die kerk aangehang word. In die kerk beteken dit die Bybel, en veral die Genesis geskiedenis, ja natuurlik, unieke eenmalige openbaringsgeskiedenis, wat werklike tyd-ruimte historiese gebeure weergee, moet nou geherinterpreteer word, omdat, in die woorde van Stoker, die kerke nie “ontelbare geleerde manne uit die kerk (wil) verloor (nie maar) … hierdie manne in die kerk wil behou”, dit wil sê, die tydsgees en getalle bepaal die kerk en wetenskap, nie die Woord bepaal en laat sy lig skyn op die kerk en wetenskap nie, maar die wêreld skryf vir die kerk voor met hul ‘valslike sogenaamde wetenskap’ hoe die Bybel nou verstaan moet word of nie.

G’n wonder die sekulêre evolusioniste het met die ‘godsdienstige en teistiese’ evolusioniste oor dekades saamgewerk om die PU vir Christelike Onderwys – waar wetenskap, al was dit hoe gebroke en onvolmaak – tog nederig beoefen is ‘in U Lig’, en is dit verander is na om ‘wetenskap’ met lekker klaar te kry in NWU … van beeld van God herstel in Christus om wetenskap te beoefen tot sy eer en heil van die naaste, na terug na dierlike evolusionistiese (eintlik devolusionistiese) Babel bou vir ons eie plesiere en eer (sien Gen. 1:18-32, die ontkenning van God as Skepper,  van ‘In U Lig’, lei to ontkenning van God as Verlosser en Wetgewer wat lei tot  Ps. 2:1-3 losbandigheid op alle lewensterreine, ook in die wetenskap, sodat reeds op NWU in die Naam van afgode gebid word, die gay agenda verwelkom is, ens.).

Daarom, terug na die Woord, terug na ons belydenis, en terug na ons voorgangers wat die Woord nie net in hul eie lewe en gesinne en kerke nie, maar ook op elke terreine van die lewe, ook die natuurwetenskappe, laat skyn het (Hebr. 13:7), en seker die mees belangrike gelowige filosoof om te lees vir ons tye, is prof. dr. HG Stoker.

Mag ‘n nuwe geslag opstaan, wat die goeie stryd van die geloof sal stry, ja persoonlik, gesin en gemeente, maar ook op elke terrein van lewe en denke, want ons glo uit Hom, deur Hom en tot Hom, is alle dinge.

Dit is alles of niks, Jesus leer jy is vir Hom of teen Hom, met jou ganse lewe, ook as jy student is, professor is, preek, kinders leer, skottelgoed was, die asblik leegmaak, die mikroskoop gebruik, ens.

Ja, met ons hele hart, siel en verstand die Here dien op elke lewensterrein:

In u lig sien ons die lig, Ps. 36:10 (sien ook Matt. 22:37-40)

Ek stel HG Stoker aan die woord, tolle lege:

I. Wat is Evolusie?

Onder die evolusieleer word gewoonlik daardie teorie verstaan wat handhaaf dat die lewende wesens (plante, visse, voëls, insekte, diere en die mens) deur afstamming verwant is — en dat die afstammingslyn in hoofsaak loop van die eenvoudigste en laagste soorte van lewende wesens, die eenselliges, na die mees ingewikkelde en hoogste soort, die mens, toe.  In besonderheid handhaaf hierdie leer dat die mens van die dier afgestam het, en vandag word gemeen dat die mens nie van die aap afgestam het nie, maar dat die aap en die mens ’n gemeenskaplike ouer-ras gehad het.

II. Gestel dat die mens van die dier afgestam het . . . .

Dan is die klaarblyklike verhaal van Genesis 1 en 2 foutief en daarnaas soveel ander Skrifgedeeltes wat stel dat die mens na Gods beeld geskape en wesensverskillend van die dier is en dat hy ’n besondere status in die wêreld het.

Dan kan die sondeval van Genesis 3 nie ’n sondeval gewees het nie; want dan was die mens nie baie goed geskape nie en dan was hy in sy kennis en ander funksies nog onontwikkeld en moes hy deur mislukte pogings leer om reg te handel, vorentoe te kom en te klim.  I.p.v. sonde kry ons dan: mislukte pogings, en i.p.v. ’n val kry ons dan: vooruitgang.  Die sondeval word in die evolusieleer ’n stap vooruit; die vervloeking van die aarde om die mens se ontwil is hiermee onversoenbaar en in hierdie gang van sake ongerymd.

Word Gen. 1-3 aan die eise van die evolusieleer prysgegee en kan daar dan geen sprake wees van ’n sondeval nie, dan verloor vanself die soendood van Christus sy kardinale betekenis.  Die verlossingslyde van ons Saligmaker is onnodig en ongerymd as daar geen sondeval van die mens was nie.  Is Christus nie ons Verlosser nie, dan hoef Hy nie Gods Seun, die tweede persoon in die Heilige Drie-eenheid te wees nie, en dan word Hy ’n gewone historiese persoon, ’n mens soos ons almal mense is — al was Hy dan ook ’n ideale mens.

Met die konsekwensies van die evolusieleer is verder ook nie verenigbaar nie: die tweede koms van Christus, die oordeel van God, die ewige verdoemenis van die nie-uitverkorenes en die herskepping van hemel en aarde.

As u die evolusieleer aanneem, dan moet u in logiese konsekwensie die Bybel as die onfeilbare Woord van God prysgee en die sentrale leer van die Bybel, die leer van sonde en verlossing, van skepping, verwording en herskepping laat vaar.

III. Evolusie en Christendom.

Is dit dan ’n wonder dat so baie Skrifgelowiges die evolusieleer verwerp en dat die Gereformeerde, die Calvinis, hierdie leer moet verwerp op grond van sy Skrifgeloof?  Is dit dan ’n wonder dat die evolusieleer so ontelbaar veel Christene in hul Bybelgeloof aantas, aan die Bybel laat twyfel en die Bybel laat prysgee?  Is dit ’n wonder dat die evolusieleer die Christendom ondermyn en die heidendom bevorder — die Evolusieleer, wat kom in die naam van die eksperimentele wetenskap?

Maar wel baar dit verwondering dat soveel kerkleiers, soveel Christelike teoloë, die evolusieleer aanvaar en op allerlei kunsmatige maniere met die Bybelleer probeer versoen.  Hierdie feit moet egter verstaan word in die lig van die volgende oorwegings: (a) Die Bybelkritiek is in die ondermyning van die Bybelgeloof ’n bondgenoot van die evolusieleer; (b) Hierdie teoloë glo dat die wetenskap en sy evolusieleer nie betwyfel mag word nie, omdat die wetenskap en sy evolusieleer op feite en op onbevooroordeelde eksperimentele feite-ondersoek alleen rus. (c) Hulle weet dat as hulle die evolusieleer beslis verwerp, hulle dan ontelbare geleerde manne uit die kerk sal verloor, terwyl hulle hierdie manne in die kerk wil behou.

Dat die Bybelkritiek op verkeerde veronderstellings rus en tot verkeerde resultate gekom het en oorwen word, dat die wetenskappe, ook die eksperimentele wetenskappe, betreklik is, kan dwaal en telkens leringe, eenmaal verkondig, weer herroep, dat hierdie wetenskappe nie net op feite rus nie, maar ook op allerlei beginsels en veronderstellings wat intuïtief aanvaar word, dat die evolusieleer nog nooit bewys is nie, dat ons die Bybel nie mag prysgee aan die grille van wetenskaplike teorieë nie, dat ons vandag ly aan ’n ongesonde verafgoding van die wetenskap — dit alles word nie ingesien nie, en ook nie dat die waarheid van die Skrif nie weggedoesel mag word om mense in die kerk te behou nie, en dat die waarheid van die Heilige Skrif verkondig moet word, ook al verlaat ’n aantal mense die kerk daardeur.

IV. Wat leer die Bybel ons aangaande die Evolusie-Vraagstuk?

(1)    God het op verskillende dae en met verskillende skeppingsdade in ses dae in aansyn geroep: hemel en aarde, waarby grasspruitjies, plante en bome; visse en voëls; vee, kruipende diere en wilde diere; die mens.

(2)    T.o.v. elke skeppingsdaad insake die lewende wesens staan daar (en wel tot tien maal herhaal) dat hulle volgens hul soorte geskape is.

(3)    Die mens is op ’n besondere wyse geskape: na Gods beeld.  Aan hom is ’n besondere roeping toegeken: hy sal heers oor die voëls, oor die vee, oor die kruipende diere, oor die hele aarde.

(4)    Die lewende wesens sal vrugbaar wees, vermeerder en die aarde vul.

(5)    Na elke skeppingsdag staan: Toe sien God dat dit goed was.  Na die hele skepping staan: “Toe sien God al wat Hy gemaak het en — dit was baie goed.”

(6)    God het op die sewende dag gerus.  Sy skeppingswerk is voltooi en vind nou nie meer plaas nie.

(7)    Die sondeval het die mens van God vervreem.  Om die mens se ontwil is die aarde vervloek; maar God gee aan die mens die heilsbelofte van die Messias.

Hieruit blyk:

(a)     Dat die lewende wesens geskape is en nie vanself uit die anorganiese (lewelose) stof ontstaan het nie (1);

(b)    Dat die lewende wesens moet ontwikkel (4); daar is dus ontwikkeling;

(c)     Dat hierdie ontwikkeling sal geskied binne perke, volgens die soorte (1 en 2);

(d)    Dat hierdie ontwikkeling organies is, nie meganies nie (a; 1 en 2);

(e)     Dat die mens nie uit die dier ontwikkel het nie, maar dat hy op ’n besondere wyse en met ’n besondere roeping geskape is (3);

(f)     Dat die aarde, soos ons hom nou ken — met sy pyn en sy smart, met sy siekte en sy dood, met sy verwildering en verwording — nie is soos dit geskape was nie — goed en baie goed; maar dat dit nou abnormaal is en dat dit eenmaal — in die herskepping — weer goed en normaal sal wees (5 en 7);

(g)    Dat God die aarde in ses dae geskape het en dat dit nie honderde duisende jare geneem het om uit die laagste lewende wesens die mens te ontwikkel, soos die evolusieleer dit eis nie (1).  Dat die dag met sy aand en sy môre geen periode is nie, maar wesenlik ’n dag, staan vir die Gereformeerde eksegese vas.  Daaraan twyfel die Calvinis nie.

Die “dag” sou opgevat kan word as (i) ’n dag van ons aarde (24 uur) en God is magtig genoeg om die skepping in ses sulke dae te voltooi.  Die “dag” sou ook opgevat kan word (ii) as ’n dag van God, ’n besondere soort skeppingsdag met ’n eie­soortige skeppingstyd, kwalitatief verskillend van die soort tyd, wat ons ken.  Dit moontlik dat die tyd waarin God besig is met die skepping van die aarde en daarmee met die skepping van ons aardse tyd, andersoortig is as die aardse tyd, nes die tyd van die herskepping, die ewigheid, ook ’n ander soort tyd is as die tyd waarin die aarde sig ontplooi, die tyd waarin ons nou leef.  As die tweede opvatting van “dag” korrek sou wees, dan is alle tydsberekeninge van die natuurwetenskappe wat op die verre verlede gerig is, nie letterlik nie, maar figuurlik of analogies te verstaan: hierdie tydsberekeninge is hipoteties en het dan nooit absolute waarde nie, omdat hulle dan rus op die foutiewe veronderstelling dat die skeppingstyd aan ons tyd gelyksoortig was;

(h)    Dat God die sewende dag klaar was met Sy skeppingsarbeid en gerus het (6).  Hy skep nou nie meer soos die kreatiewe evolusieleer, die versoeningsleer van Skrif en wetenskap beweer nie.

V. Wat leer die Bioloë ons aangaande die Evolusie-Vraagstuk?

(a)     Die bioloë gaan uit van die vooroordeel dat die aarde nou normaal is en altyd normaal was.  Hierdie vooroordeel beïnvloed hulle teorieë.

(b)    Party bioloë neem aan dat die lewende wesens uit die anorganiese stof ontstaan het, ander weer (nl. die vitaliste, soos Driesch, Von Uexküll, Woltareck, e.a.) verwerp hierdie beskouing.

(c)     Die strenge evolusioniste neem aan dat die evolusie geen perke het nie, in die sin dat alle soorte lewende wesens uit een of ’n paar oersoorte ontwikkel het (die monofiletiese teorie).  Ander bioloë neem aan dat die bestaande soorte uit ’n ontelbare menigte van oersoorte ontwikkel het (die polifiletiese teorie).  Weer ander bioloë — meesal die oorerwingsvorsers en plantkundiges — verwerp die evolusieleer heeltemal, omdat die oorerwingseksperimente en oorerwingswette bewys dat evolusie van een soort uit ’n ander soort onmoontlik is.

(d)    Die meeste evolusioniste neem ’n meganiese en nie ’n organiese evolusieleer aan nie.

(e)     Gewoonlik word aangeneem dat evolusie vooruitgang bereken.  Abel se ontdekking asook die van ander bioloë, toon dat daar ook agteruitgang, devolusie, degenerasie bestaan.  Dit bring verwarring in die kamp van die evolusioniste.

(f)     Die evolusioniste handhaaf dat die mens die hoogsontwikkelde dier is, dank sy die ontwikkeling van sy harsings, en dat hy die naaste aan die ape-geslag verwant is.

(g)    Al verskil die evolusioniste t.o.v. die tydsduur van die evolusieproses, neem tog almal aan dat die evolusie reeds vir honderde duisende jare aan die gang is.

(h)    ’n Heel moderne teorie wil God skeppenderwys — of beter: organiserenderwyse — die hoër soorte uit die laer soorte laat ontwikkel.  Hierdie teorie tel nog maar enkele aanhangers.  Uit die bostaande blyk dat onder die bioloë onderling op omtrent alle punte ’n groot meningsverskil heers, selfs oor die vraag of evolusie kon plaasgevind het.

VI. Op watter Bewyse rus die Evolusieleer?

(1)    Die veranderlikheidsbewys.  Veranderende omstandighede, omgewing, klimaat, voeding, ens., laat die lewende wesens verander: uitwendige veranderings (modifikasies, fluktuasies of para­variasies genoem).  Verbastering verander lewende wesens: verbasteringe (miksovariaries, hibridisasies of kombinasies genoem).  Daar is ook sprongveranderinge, wat van die voorgaande twee verskil (mutasies, ideovariasies of sprongveranderinge genoem).  Bewys die feit van hierdie soorte van veranderings die evolusieleer?  Die eksperimentele ondersoek, veral van die oorerwings­vorsers, het op hierdie gebied aangetoon: (a) dat alle veranderinge binne die soort is en nooit die soortgrense oorskry nie; (b) dat die veranderinge uitwendig (fenotipies) en nie inwendig of konsti­tusioneel (genotipies) is nie; (c) dat aan alle veranderlikheid ’n onveranderlike beginsel ten grondslag lê, op grond waarvan evolusie van een soort uit ’n ander onmoontlik is: dat ’n soort-konstante beginsel die veranderinge beheers.  Op hierdie gebied, omtrent die enigste waar die evolusie kousaal-eksperimenteel ondersoek kan word, word die evolusie deur die resultate weerlê.[*]

(2)    Die morfologiese en anatomiese bewys gaan van ooreenstemminge in liggaamsbou van die verskillende soorte van lewende wesens uit.  Bv. die hand van die mens, die voorpoot van die aap, die vlerk van die voël en die vin van die vis vertoon in verskillende opsigte ooreenstemminge in struktuur (analogieë) en daarom het hulle ’n gemeenskaplike afstamming.  Hierdie bewys in die morfologie en anatomie is geen bewys vir evolusie nie, om die volgende redes:

(a)     Ooreenstemming bewys nie afstamming nie (’n analogie-bewys is geen identiteitsbewys nie, sê die logicus).  Hier moet juis nog bewys word dat die ooreenstemminge deur evolusie verklaar moet word.  As bv. ’n skeikundige ooreenstemming in die struktuur van die verskillende soorte atome ontdek, sê hy nie dat hy bewys het dat die een soort atoom tot die ander soort teruggevoer kan word nie — inteendeel, hy probeer eers die een tot die ander reduseer, en as hy dit regkry, dan sê hy:  Nou het ek dit bewys.  Die ooreenstemminge van die lewende wesens in bou en struktuur sou i.p.v. op evolusie kan rus op gelyksoortige wetmatighede wat die lewensprosesse beheers, op identieke konstitusie-faktore eie aan die lewende wesens as sulks.

(b)    Hierdie bewys lees eers in die ooreenstemminge die evolusionistiese interpretasie in, en haal dit daarna weer daaruit.  Ons noem dit ’n sirkelredenering.

(c)     Hierdie bewys rus op ’n meganiese deelbeskouing, nie op ’n organiese geheelsbeskouing van die lewende wesens nie; die laaste soort beskouing maak die evolusionistiese interpretasie van die ooreenstemminge onmoontlik.

(d)    Hierdie bewys onderskei nie uitwendige (fenotipiese) en inwendige of konstitusionele (genotipiese) ooreenstemminge nie.

(e)     Hierdie bewys verwaarloos ten onregte die kardinale betekenisse van die verskille tussen die lewende wesens.

(3)    Die bewyse in die sistematiek begaan dieselfde foute.

(4)    Die bewyse in die serologie (chemiese bloedverwantskapsleer) maak dieselfde foute en het vir die evolusieleer uiters teenstrydige resultate.

(5)    Die embriologiese bewyse ly ook aan dieselfde foute.  Dis van belang om op hierdie bewys kortliks in te gaan.  Hierdie bewys sê dat daar ooreenstemminge is tussen die stadia wat bv. die menslike embrio deurloop (op ’n bepaalde stadium kan bv. iets aangewys word wat met vis-kieue ooreenstemming het) en die stadia wat die mensheid deurloop het vanaf sy eensellige voorouersgeslag tot vandag toe.  ’n Mens moet die ooreenstemminge eers evolusionisties sien, bv. die vis-kieue en die ooreenstemmende in die embrio, voordat die bewys verstaan word, maar dan is dit ’n sirkelredenering.  Dieselfde geld van al die ander ooreenstemminge.  Die eksperimentele fisiologie toon al meer en meer aan dat van ooreenstemminge geen sprake is nie, en dat die embrionale eienskappe eiesoortige (ontogenetiese ) funksies het.

(6)    Die rudimentêre organe (bv. die appendiks, wat in die mens net ’n evolusie-res sou wees en geen funksie sou hê nie, terwyl dit in sy dierlike voorvaders wel ’n funksie gehad het) bied ook geen bewys nie, omdat ’n mens hulle nie rudimentêre organe kan noem nie, as jy nie eers in die evolusie glo nie (waardeur ’n sirkelredenering ontstaan), en omdat die eksperimentele fisiologie al voortgaande bewys dat die sogenaamde rudimentêre organe tog ’n eiesoortige (ontogenetiese) funksie het en dus geen rudimentêre organe is nie.  Verder vereis omtrent elke rudimentêre orgaan ’n ander geslagsboom, wat vir die evolusieleer verwarrend is.  Hierdie bewys gaan ook mank aan al die genoemde gebreke van die morfologiese en anatomiese bewyse.

(7)    Die paleontologies bewyse, veral gebaseer op fossiele ontdek in verskillende aardlae op verskillende plekke in die wêreld, gaan mank aan die volgende tekortkominge: die vondste is te power om die evolusieleer te dra; daar is veels te veel gapings om die bewys waarskynlik te maak; die volgorde van die aardlae waarin die fossiele gevind word, is vir die evolusieleer veels te deurmekaar; die bepaling van die ouderdom van die aardlae en van die fossiele hang van mekaar af, wat weer ’n sirkelredenering gee; hierdie bewys maak sig skuldig aan die meganiese deelbeskouing; ’n bewese skakel tussen mens en dier is nog nie gevind nie, en wat gevind is, is òf mens òf dier, terwyl die bioloë die vondste onderling verskillend waardeer, ens.

Kleiner evolusie-bewyse (bv. in die dieregeografie en in die vergelykende biologie, ens.) slaan ons oor.  Elke bewys afsonderlik geneem en ook alle bewyse saam geneem bewys die evolusie nie,[†] terwyl die resultate van die eksperimentele oorerwingsleer en van die eksperimentele fisiologie die onmoontlikheid van die evolusie aantoon.  Op geeneen van die punte in § IV genoem het die wetenskap die Skrif weerlê nie.  Die evolusieleer word (veral op die kontinent van Europa) al meer verwerp en op die rak van verouderde teorieë geplaas.  Die evolusieleer is niks meer as ’n hipotese, om dit nie saam met Prof. Hepp ’n mite te noem nie — en hierdie hipotese moet vandag as ’n mislukte hipotese beskou word.

VII. Gesteld dat die Evolusieleer bewese en waar was, hoe sou ’n mens die Evolusie moet verklaar?

Hierop antwoord die Darwinisme: Kleine en toevallige veranderinge begunstig of rem die lewende wesens in hul stryd om die bestaan, waardeur die meer geskiktes bly voortbestaan en die ongeskiktes ondergaan (natuurlike seleksie of teeltkeuse).  Die Neo-Darwiniste verplaas die stryd en die teeltkeuse van die uitwendige lewe na die terrein van die kiemplasma.

Die Lamarckisme (waarvan die Neo-Lamarckisme ’n verfyning en ’n verdieping is) verklaar die evolusie uit ’n innerlike behoefte om aan veranderde omstandighede aan te pas.  (Bekend is die nek van die kameelperd, wat so lank geword het uit ’n behoefte om die hoogste blare by te kom).

Teen beide teorieë bestaan vernietigende argumente, waarvoor ek wil verwys na Dr. Broom se artikel (“Our Changing Worldview” — Die Universiteit van die W.W.R.) en na my artikel (in “Die Skrif en die Natuurwetenskappe” — Van Schaik).

Die verklaring van die evolusie deur die mutasieleer verval ook, terwyl blyk dat die mutasies die soortgrense nie oorskry nie en dat hulle meestal ’n verlies aan eienskappe beteken.

Geeneen van hierdie teorieë word algemeen aangeneem nie; elkeen van hulle ondervind heftige teenstand.  Geen ander teorie word in die plek van hierdie aangebied nie, behalwe dat in die laaste paar jaar enkele bioloë aan die leer van ’n kreatiewe evolusie die aandag begin gee.

Die Darwinistiese en Lamarckistiese teorieë veronderstel die oorerfbaarheid van verkreë eien­skappe, waarsonder evolusie onmoontlik is.  T.o.v. die vraag van die oorerfbaarheid van verkreë eienskappe heers ’n groot meningsverskil onder die bioloë, en kan nie gesê word dat hierdie hipotese bewys is nie.

VIII. Die Kreatiewe Evolusie.

Die leer van die kreatiewe evolusie het sy oorsprong in die filosofie.  Teoloë het al vir ’n geruime tyd na hierdie teorie gegryp om daarmee die evolusieleer en die skeppingsleer van die Bybel te versoen.  Genl. Smuts het op die grensgebied van biologie en filosofie hierdie teorie bevorder met sy “Holism and Evolution.”  Enkele bioloë begin vandag ook in hierdie teorie te glo.  Hierdie teorie gaan van die veronderstelling uit dat die evolusie waar en bewys is; hierdeur rus dit op ’n uiters swak fondament.  Die teorie word nog verder verswak deurdat dit op bedekte wyse die wonder as ’n verklaringsbeginsel in die wetenskap invoer.  Die teorie neem aan dat elke hoër soort nie net uit die laer soort ontstaan het nie, maar dat die hoër soort teenoor die laeres werklik nuut is, terwyl hierdie nuwigheid of oorspronklikheid van die hoër soort nie uit die laere afgelei of verstaan kan word nie — dit was nie in die laeres in kiem aanwesig nie, maar is ’n mutasie-agtige plotseling ontstaande nuwigheid.  Dit beteken dat “iets meer uit iets minder” ontwikkel, wat logies gelyk staan aan “iets uit niks,” wat waarlik ’n wonder is.  Hierdie skeppende wonderverrigter is by Dr. Broom ’n “organiser” wat hy te hulp roep omdat die ontwikkeling van die soorte nie toevalligerwyse kon plaasgevind het nie, en die evolusie volgens ’n plan skyn te werk, nl. om die mens voort te bring; hierdie “organiser” identifieer Broom met God.  Vir Genl. Smuts is die wonderverrigter ’n gehele-skeppende beginsel, die holistiese faktor.  Die versoenings-teoloë versprei die ses dae van die skepping oor die honderdduisende jare van die evolusioniste en laat God in en deur die evolusie-proses nuwe soorte skeppenderwyser te voorskyn bring.

Die tekortkominge van hierdie leer is:

(a)     Dit bots met die Bybel, en teoloë wat dit aanvaar, gee die Bybel aan onbewese wetenskaplike teorieë prys (Vgl. § IV en § VI).

(b)    Dit bring ’n goddelike beginsel, ’n wonder-beginsel as verklaringsbeginsel in die wetenskap, waardeur dit wetenskaplik nie houbaar is nie, en op verfynde wyse die wetenskap aan animisme prysgee.

(c)     Die leer behels ’n contradictio in terminis.  Skepping en evolusie, wonderwerking en natuurproses kan logies nie in een begrip saamgevat word nie.

Verwant aan die kreatiewe evolusie is dié van “emergent” evolusie (Morgan), ’n leer wat weer nader aan die meganiese evolusieleer staan en die teïstiese evolusie (Leighton), ’n leer wat nader aan die skeppingsleer staan.  Die verskil tussen die drie teorieë is: (a) dat die deur hulle erkende nuwighede van die telkens hoër soorte nie in gelyke sin werklik nuwighede is nie; (b) dat hulle t.o.v. die beginsel van rigting-gewing aan die evolusieproses (t.o.v. die teleologie dus) verskillend staan, en (c) dat hulle die bewerkende oorsaak van die nuwighede verskillend sien.

Die teïstiese evolusie van Leighton laat God aan die evolusie deel hê, laat hom met die evolusie­proses proewe neem (“trial and error method”) en laat Hom op verskillende tye in die evolusie­proses ingryp en nuwighede te voorskyn roep.  Hierdie “god” van Leighton is die grond en geestelike orde van die wêreld wat saam met die wêreld ontwikkel.  Leighton se teïsme is in werklikheid ’n personalistiese panteïsme, waarin alle kardinale leringe van die Heilige Skrif (die sondeval, die verlossingsleer, die drie-eenheid van God, die nie-God-syn maar kreatuurlikheid van die mens, ens.) heidens vervals word.  Die teorie is geen versoeningsteorie van Skrif en wetenskap nie, maar ’n prysgawe van die Skrifwaarhede aan die ongeloof.  Die kritiek op hierdie leer is dieselfde as dié op die kreatiewe evolusie; en daarby kom nog: hierdie teorie is pure spekulasie, wat die Bybelleer na willekeur verdraai en die evolusieleer metafisies verklaar.  Besonder jammer is dit dat hierdie leer vir sy heidense denkbeelde Christelike terminologie gebruik en sodoende begripsverwarring in die hand werk en die liggelowige leser deur sy Christelike terme wen vir heidense denkbeelde.

IX. Waarom Versoening?

Die evolusie is nie bewys nie, eerder is bewys dat evolusie van laer na hoër soorte onmoontlik is.[‡]  Die teorieë wat die evolusie wil verklaar, het almal misluk.  In die kamp van die bioloë heers t.o.v. die evolusie-vraagstuk ’n chaos van menings.  Moet ons nou die Skrifwaarhede verdraai en vervals ter wille van die evolusie?  Ook al was alle bioloë dit t.o.v. die evolusie eensgesind, dan nog mag die Skrifgelowige die Bybel in sy Goddelike karakter nie aanrand nie, en moet die Christen-bioloog die natuur bly ondersoek, totdat hy die evolusie weerlê het en ’n teorie wat aan Gods Woord reg laat geskied en meteen die feite na waarheid verklaar, opgestel het.

Die evolusieleer is onskriftuurlik en met Gods Woord onversoenbaar.  Daarom mag die Christen geen versoening van Gods Woord met die evolusieleer soek nie.  Doen hy dit tog, dan gee hy Gods Woord aan die ongeloof prys en verswak die Christendom in sy stryd teen die heidendom.  Alleen ’n Christendom wat suiwer staan en vir Gods Woord gelowig sy hoof buig, staan sterk teenoor die heidendom.

Gods Woord kan nie met die natuur bots nie, want dieselfde waaragtige God het die natuur geskape en Sy Woord ons gegee.  Ware natuurwetenskaplike teorieë moet met die Bybel ooreenstem.  Waarom sal ons dan die Bybel probeer versoen met teorieë wat nie met die Bybel ooreenstem nie?

Moet ek nog wys op die onskriftuurlike konsekwensies van die evolusieleer t.o.v. vraagstukke van reg en geregtigheid, van sedelikheid, van waarheid, van vryheid, van verantwaardelikheid, van religie, ens.?  Waarom moet ons die Bybelleer probeer versoen met ’n leer wat ’n biologiese, ’n verdierlikte, opvatting van alle lewens- en kulturele vraagstukke ontwikkel?  Die toenemende onsedelikheid en ligsinnigheid van die mensdom moet nie in die minste mate toegeskryf word aan die invloed van die evolusieleer op die gees van ons tyd nie.

X. Wat dan?

Die Christenbioloog moet in samewerking met die Calvinistiese filosoof en die Gereformeerde teoloog op sy gebied, die gebied van die lewensverskynsels, ’n teorie probeer ontwikkel wat rus op die feite en op eksperimentele feite-ondersoek, wat put uit die beginselsisteem van ’n Calvinistiese filosofie en wat nie in botsing is met die Heilige Skrif nie, ’n teorie wat ons die natuur laat sien “In U lig,” d.w.s. soos die natuur ook objektief gesien moet word, ’n teorie wat rekening hou met die ontwikkelingsbevel van God, maar ook met Sy ordinansies wat die ontwikkeling soortlik beperk — waarhede en wette wat hy in die natuur objektief moet ontdek en aantoon — nie om die Bybel te bewys nie, maar om die waarheid te ontdek, die natuurwetenskap te bevorder — ’n teorie wat rekening hou daarmee, dat alles goed geskape was, maar deur die sondeval bederf en verwilder is, ’n teorie wat die verwilderings- en verwordingsproses in die natuur wetenskaplik naspeur en ook raaksien die faktore wat ’n algehele verwording en vernietiging stuit.

Nodig is ’n Christelike Wetenskap, ’n Skrifgelowige wetenskap, waarvan ’n onderdeel is ’n Christelike biologie, ’n Skrifgelowige biologie, waarvan weer een van die leerstukke is ’n Christelike ontwikkelingsleer, ’n Skrifgelowige ontwikkelingsleer.

Van die begin af moet wetenskaplike ondersoek en Christelike Bybelgeloof hand in hand saamwerk.  Dan kom die eenheid van wetenskap en Bybel vanself, dan is geen valse versoening nodig nie.  Gaan wetenskap en Bybelgeloof nie van die begin af hand in hand nie, dan gaan elk sy eie koers, dan ontstaan vanself botsing tussen Bybel en wetenskap, en dan word valse versoeninge noodsaaklik.

Wie die lig van Gods Woord nie op elke stap eerbiedig nie, bring verwarring.  Die verwarring wat teenswoordig heers op elke terrein van die wetenskap, ook op die terrein van die genetiese biologie, kan alleen deur die geloof oorwen word.

[*] Die evolusioniste weerlê die resultate van die oorerwingswetenskappe weer met die argument dat die navorsers op hierdie gebied alleen te doen het met ontwikkelingsprosesse wat oor ’n beperkte en klein aantal jare gaan, en dat die evolusie duisende en honderd-duisende jare geneem het; ons kan volgens hulle geen veranderinge in enkele jare sien intree nie, omdat hulle gewoonlik ’n baie groot aantal jare nodig het.  Hierdie weerlegging sien nie raak nie (a) dat die feite die oorerwingsvorser dwing om konstantheid in prinsipiële sin te aanvaar, en (b) dat hulle kritiek na twee kante toe sny: as om genoemde rede die evolusie nie weerlê kan word nie, dan kan dit om dieselfde rede ook nie bewys word nie, want niemand leef dan lank genoeg om ’n onbetwisbare soortoorskrydende verandering as feit waar te neem nie.  Die moeilikhede wat die oorerwingsvorsers die evolusioniste in die pad lê dwing hulle vandag al meer tot ’n nuwe en wonderlike standpunt: hulle sê dat evolusie vandag op ’n end is en dat geen soort verder kan ontwikkel nie behalwe die mens in geestelike rigting, maar hulle handhaaf dat evolusie in die verlede tog plaasgevind het om al die verskeidenheid van soorte, wat vandag bestaan, te bewerkstellig.  Dit is m.i. streng logies geneem ’n kontradiksie en ’n bedekte terugtog van die evolusionistiese vestings — vir breëre bespreking van die bewys sien my artikel in “Die Skrif en die Natuurwetenskappe — die Christelike Unie” (Van Schaik).

[†] Die bekende natuurwetenskaplike Dr. W.J.A. Schouten skryf: “Het is wel van belang op te merken, dat de laatste 10 á 15 jaren in natuurwetenschappelijke kringen vrij algemeen wordt toegegeven, dat voor de evalutietheorie geen bewijzen aangevoerd kunnen worden” (Horizon, Oct. ’34, p. 21).

[‡] Op die kontinent van Europa word die evolusieleer as ’n verouderde en mislukte hipotese beskou.  Dis interessant om die volgende deur my vertaalde woorde van die bioloog Prof. Henri Devaux (Bordeaux) te lees: “Gustave le Bon het toe ek hom besoek het, uitgeroep: “Die evolusie vraagstuk is nie meer aan die orde van die dag nie!  Dis vreemd, maar dis seker dat hierdie geweldige leer wat so ’n groot opgang gemaak het, vandag op sy gelê word en nie meer interessant gevind word nie”….  Die grootste teëslag is die evolusieleer toegedien deur die studies op die gebied van die oorer­wings­­wetenskappe en dié van die embriogenie…. Hierdie studies toon met bewyse aan dat die mees treffende in die veranderlikheid van die soorte hul onveranderlikheid is ….’n onveran­derlikheid selfs van die sub-soorte (species)…. Een van die wesenlike oorsake vir die onguns waarin die grote evolusieleer verval het, is dat dit ’n hipotese is ten opsigte waarvan alle waarnemingsfeite en ervaringfeite los staan…. Die evolusieleer is in werklikheid ’n tentatiewe verklaring waarvoor voldoende gronde ontbreek…. Dit is ’n ontsaglike ekstrapolasie (=ongeregverdigde, die perke oorskrydende generalisasie), wat, soos elke ekstrapolasie ons in die gevaar van dwalinge laat beland…. Vir die vraag aangaande die oorsprong van die soorte is m.i. die tyd vandag nie ryp nie —vanuit natuurwetenskaplike gesigspunt beskou; ons moet die vraag op sy laat, nes ons doen met die vraag aangaande die oorsprong van die lewe self.” (Evangelical Quarterly, Julie 1934).

__________________

Bronne

Ander artikels van HG Stoker op Pro Regno

Van sy belangrikste artikels saamgebind in 2 dele: Oorsprong en Rigting, beskikbaar by Pro Regno Boeke vir R150 ‘n stel.

Skepping en evolusie artikels.

Koers tydskrif oor HG Stoker

One thought on “Teenoor die Evolusieleer, In U Lig (Ps. 36:10)!

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑