ONS POLITICI EN OWERHEDE MOET DIE KNIE BUIG VOOR CHRISTUS

ONS POLITICI EN OWERHEDE MOET DIE KNIE BUIG VOOR CHRISTUS

– oor staatsabsolutisme, covid-staatisme en grondwette –

Inleiding

Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil” (Psalm 2:10–12)

“IN die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,” (1 Timoteus 2:1–5)

Die oproep tot gebed vir konings en dus burgerlike regerings, is nie net dat die Here hul vashou sodat ons ‘n stil en rustige lewe kan lei om ons roepinge en take te vervul nie, dit is ook ‘n gebed vir hul redding en bekering, en dan vanselfsprekend in hul eie persoonlike lewens, maar ook dat hul in hul regeringswyse en wetgewing volgens die beginsels van God se Woord sal regeer in wysheid en geregtigheid, aangaande sake wat beide tafels van die wet raak (sien Calvyn se verklaring van 1 Tim. 2, NGB art. 36).

Elke koning, ook pres. Ramaphosa, Biden en Putin en alle regerings owerhede op alle vlakke, van munisipaliteite tot burgermeesters, almal wat oor ander gestel is, moet gewaarsku word dat ons Here Jesus Christus hul verantwoordelik hou (Ps. 2:10-12; 2 Kor. 5:10; Op. 19), en dat ons almal, maar hulle ook die Here met vrees en eerbied moet dien, waarlik ‘dienaars van God’ sal wees (Rom. 13), anders gaan hul vergaan onder die Here se regverdige oordeel (Ps. 110).

Terwyl ‘die verkiesing’ nou voorlê en die mense weer gaan hoop dat die ‘prinse’ (Ps. 146:2,3) ons gaan red van al ons sonde en ellende, is dit goed om na die woorde hier onder van prof. JD van der Vyver te luister, geskryf in 1972 (was deel van die skrywer se inougurele rede as professor in Regsfilosofie aan die PU vir CHO), toe hy nog ‘n ‘calvinistiese PUK’ was, ek vermoed hy glo en dink nou dalk heeltemal anders….. en gaan ook met my wesentlik verskil en sy woorde hier onder?

Hy waarsku destyds teen ‘staatsabsolutisme’, hy roep op tot ‘n ware christelike staat, en dan veral: “… maar die verwerkliking van ‘n daadwerklike christelike staat kan alleen gegrondves word in die herbore hart in Christus Jesus van ons regeerders.” Ja, hartsgesindhede wat deur die Evangelie van Christus verander moet word. Ons kan en mag nie wet en orde losmaak van die hemelse Wetgewer nie (sien dr. SP van der Walt se artikel, Gods wet en die ‘ander wet’), ons mag nie ‘wet en evangelie’ ooit losmaak van mekaar nie, Jesus moet as Verlosser (evangelie) en Koning (wet) geken en orals verkondig word (Matt. 28:16-20), ons soek nie ‘n neutrale humanistiese ‘moralisme’ nie, ons soek Christus-regering vir alle volke en mense oor die wêreld (Op. 12:17).

Daar is ook ‘n oproep dat gelowiges erns moet maak (destyds) met die land se Grondwet wat God Drie-enig bely het. Hy waarsku teen die afgode … ja, ons het nie geluister nie, en die verval van die land getuig daarvan, die Here laat nie met Hom spot nie (Ps. 2).

Hierdie woorde spreek tot ons tye met ons gelykheid van alle gode wat ons sal red (of dit mense of valse godsdienste of onsself is), die verwerping van God se Naam en gesag,  ook ‘ons mense’ wat gehelp het om die nuwe humanistiese onchristelike SA utopia daar te stel en ‘deur te stem’ probeer instand hou, ‘n dooie perd aan die lewe probeer hou. … politiek het nooit, kan nooit, en sal ons nooit red nie, die wet en politiek moet uiterlik ordend te werk gaan, maar net die evangelie red en gee hoop en ‘n toekoms, Joh. 14:6; Hand. 4:12.

Tye het vinnig agteruit gegaan, van PU vir CHO na NWU, waar selfs deur ‘n teologiese professor ‘in die gees van ons nuwe grondwet’, die enigste ware God saam met ander gode aangeroep is by en deur ‘n inter-godsdiens gebedsgeleentheid (NWU kampus, Potchefstroom, Junie 2017), kyk hoe spreek prof. van der Vyver se woorde ook daarteen … maar ja, destyds:

So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” (Jer. 6:16)

Ek stel prof. van der Vyver aan die woord:

STAATSABSOLUTISME

“Want staatsabsolutisme openbaar homself nie soseer ten opsigte van daardie aangeleenthede waarin die staat geen interesse het nie, maar kom juis tot uiting in die staat se hantering van daardie aangeleenthede waarby sowel staat as nie-staat (byvoorbeeld die kerk) belang het.

Ten opsigte van sodanige aangeleenthede laat die staat sy wil geld ter wille van die sogenaamde „openbare belang”. En onder die vaandel van die salus publica (publieke veiligheid-slc) is daar in die geskiedenis van staatlike regsreëlings ongetwyfeld al baie onreg gepleeg. Daarom vermaan Dooyeweerd dat die idee van openbare belang georiënteer moet word aan die struktuurprinsipe van die staat, “else it will become the instrument of an unbridled State-absolutism, or the embodiment of an arbitrary conception of the external content of the State’s task”.

Aldus gekwalifiseer word die publieke belang “een beginsel van juridische belangen harmonisering met eerbiediging van de oorspronkelijke, niet van de staat afgeleide competentiesferen der niet-staatse levenskringen”.

Maar die implementering van hierdie kwalifikasie en die oordeel oor wat alles in die openbare belang sou wees en wat nie, is betreklik subjektief. Die een persoon mag oordeel dat die staatllke verbod op die bywoning van kerkdienste deur sekere persone in bepaalde gebede die openbare belang eerder skaad as bevorder; ‘n ander persoon mag in die “kerkklousule” die noodsaak bespeur om diegene, wat die landsbeleid onder die dekmantel van kerklike aansprake probeer ondergrawe, aan bande te Iê.

Die oordeel oor die openbare belang is dus subjektiewe mensewerk. Dit vestig by my die oortuiging dat ‘n mens staatsabsolutisme per slot van sake nie met ‘n teoretiese formule kan uitwis nie. Die beginsel van soewereiniteit in eie kring kan wel ons verset teen staatsabsolutisme teoreties verantwoord, maar die verwerkliking van ‘n daadwerklike christelike staat kan alleen gegrondves word in die herbore hart in Christus Jesus van ons regeerders.

SA SE VORIGE GRONDWET TEEN DIE AFGODE

“Indien hierdie beginsel — ‘n Christelike staat sonder kerkisme konsekwent toegepas word, kom ‘n mens daarmee so na as wat moontlik is aan die ideële behore wat die Calvinisme vir die staat-kerkverhouding voorhou. Of en in hoeverre Suid-Afrika daadwerklik uitvoering gee aan die bedoelde beginsel waarop hy hom stel, moet hierin bevraagteken word.

Suid-Afrika bely inderdaad die naam van God in sy konstitusie, soos wat Kuyper van ‘n Christelike staat verg. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1961 is naamlik, luidens sy aanhef, saamgestel: “In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van nasies en die geskiedenis van volkere; Wat ons voorgeslagte uit baie lande byeengebring en hulle hier in hul eie gevestig het; Wat hul weë deur geslagte bepaal het; Wat hulle so wonderbaarlik deur gevare gelei het; . . .”

Die samestellers van die Grondwet bely verder in die aanhef dat hulle “(b)ewus is van ons verantwoordelikheid voor God en die mensdom”; en artikel 2 vanself bepaal: “die volk van dic Republiek van Suid-Afrika die wet erken die oppergesag en leiding van die Almagtlge God.”

Daar kan ook wel gevra word of hierdie God, wat aldus bely word, die God van die Skrif is. Want dit is sekerlik taktvol en gerieflik om, in ‘n land wat vele godsdienste huisves, in vae termec bloot ‘n opperwese bely wat deur elke godsdiens die gestalte van sy eie speslfieke god gegee kan word. Op dié manier stel ‘n mens èn Moor èn Mohammedaan tevrede en laat jy die konstitusionele godsbelydenis in die smaak van Griek, heiden en barbaar val: elk met behoud van sy eie subjektiewe godsidee.

Maar die Calvinisme laat hom nie op dié manier kompromitteer nie.

Want ‘n Christen mag geen ander gode voor dic aangesig van die Drie-enige God hê nie. Hoe taktvol en gerieflik dit in mense-oë ook al vir die staat mag wees om ‘n konglomeraat-god aan sy bevolking voor te hou, is dit nie die weg wat God se Woord aanwys nie. En die vraag of die meerderheid van die bevolking aan die God van die Bybel glo en Sy leiding soek, is vir die skrifgelowige totaal irrelevant as dit op die belydenis van God aankom: wie in Christus glo moét God se naam bely en mag geen ander god as die God van die Skrif erken en aanroep nie.

Die God wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet bely word, is die Almagtige God wat oor die lotgevalle van nasies beskik en ons voorouers na Suid-Afrika gebring en deur gevare gelei het. Nou kan diegene wat aan ander gode as die God van die Skrif glo miskien hierdie selfde beskrywing, vanuit hulle verskillende gesigspunte, op die deur hulle (subjektief) gekonstrueerde gode van toepassing maak en daarom met die Grondwet vrede vind.

As die bedoeling van die Grondwet is om aldus ‘n verskeidenheid godsidees te akkomodeer, bely dit daarmee nie dié God nie, maar ‘n afgod. Dan moet die Grondwet vanuit Calvinistiese gesigspunt volstrek afgewys en die godsbelydenis daarin onomwonde gerepudieer word.

Na my mening is dit egter nie die geval nie. Die stigters van die Republiek van Suid-Afrika het klaarblyklik bedoel om die God van ons vaders te bely; en dit is God Drie-enig van die Bybel.

Laat daar hieroor by niemand enige twyfel bestaan nie!”

Bron: Die juridiese funksie van kerk en staat – ‘n kritiese analise van die beginsel van soewereiniteit in eie kring, Durban: Butterworths, 1972, p. 98, 99, 148, 149.   

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑