GODS WET EN DIE “ANDER” (SONDIGE) WET – ETIEK GAAN UIT VAN DIE KONING!

GODS WET EN DIE “ANDER” (SONDIGE) WET

ETIEK GAAN UIT VAN DIE KONING!

Wet en evangelie: ons mag nooit die wet van die Wetgewer skei nie

Inleiding

In aansluiting by die vorige skrywes oor wet en evangelie, sien die volgende artikel oor die onderwerp, deur prof. dr. SP van der Walt hier onder.  Dr. van der Walt skryf oor die Gereformeerde Etiek, en wil die vraag beantwoord oor wat die beginsel en norme is van ons lewensoptredes, dus wat beide ons ‘leer en lewe’ (credenda et agenda) bepaal. Hy kyk kortliks na die geskiedenis van veral gereformeerde denkers soos Calvyn, Bavinck en Geesink, asook Stoker van SA, en gee dan sy eie bydrae vanuit die Skrif, wat hy glo is die ‘beginsel van die Christelike lewe’:

Die hele Skrif spreek van die Christelike lewe. Die hele Skrif is vol van Gods Wet en gee aan ons Gods wil as openbaring van Gods genade teenoor sy mens, wat in Christus sy volkomendheid gevind het en vandag nog deur die inwoning van die Heilige Gees in ons harte betuig word.

Ons moet konkludeer dat die Heilige Skrif die beginsel is van die Christelike lewe, die bron waaruit geput word, die onfeilbare Woord wat God midde in die lewe gelê het en wat aan die einde van die eeue die grondslag van sy oordeel sal vorm. So heerlik kom hierdie Woord tot ons, dat Christus in die gelykenis van die rykman en die arm Lasarus laat sê: “As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Luk. 16:31)

LET WEL: daar is twee hoofgedeeltes in die artikel, nl, die historiese deel (Afdeling A: enkele historiese denkers van die etiek), en dan volg die skrywer se eie uiteensetting van die begronding van die Etiek (Afdeling B: Die Skriftuurlike beginsel van die etiek). Sommige lesers sal dalk verkies om eers afdeling B te lees, en dan afdeling A, maar ek moedig elke leser aan om beide afdelings te lees, alhoewel die belangrikste deel, wel afdeling B is:

GODS WET EN DIE ‘ANDER’ (SONDIGE) WET

deur prof. dr. SP van der Walt

[Bron: In die Skriflig, vol. 13, no. 50, 1979. Aanlyn hier beskikbaar. Die artikel is verwerk deur S. Le Cornu. Die hoofopskrif is aangepas, beklemtonings, eindnotas en subopskrifte in klein letters is bygevoeg]

Inleiding

DAAR het in die jongste tyd duidelik ’n verandering gekom in die besinning oor die Gereformeerde Etiek, veral ten opsigte van die norme wat die handelinge beheers, bepaal of norm eer. As Hepp sê dat die Etiek te doen het met die geopenbaarde wil van God vir die menslike verhoudinge, vestig hy die aandag op een deel van die ondersoek, miskien die vernaamste, maar tog nie die enigste nie. Gods Woord is meer as net norm vir die lewe en handelinge, wat ons voorskryf hoe gehandel behoort te word. Dit tog is ’n norm. Dit is nie maar deskriptief nie, maar veel meer imperatief, wat nie maar net die goeie beskryf nie, maar ook beveel. Tog bly die vraag klemmend, of die Woord van God, wat erken word as die hoogste outoriteit, met die hoogste gesag, norme aan ons gee?

Maar Hepp is tog nog heelwat ruimer in sy insig as bv. Kuyper en Geesink.

Die verhouding tussen dogmatiek (leer, credenda) en etiek (lewe, agenda)

Dit is nie verniet dat Kuyper in sy Ensiklopedie die Etiek saam met die Dogmatiek huisves in die Dogmatologiese groep se tetiese vakke nie. Eintlik is daar geen verskil tussen hierdie wetenskappe nie. Dit is slegs aksentveranderings wat aangewys word. Dogmatiek en Etiek kan as dieselfde wetenskap aangedui word onder die naam Dogmatiek en dan kan die Dogmatiek verdeel word in Alêthetiek (eintlik Dogmatiek) en Etiek.

En so het die Dogmatiek te doen met die ewige waarhede van Gods Woord met ’n duidelike aanwysbare objek van studie, maar die Etiek word slegs aanvaar, sonder duideliker aanduiding van terrein. Dogmatiek is dan eintlik waarheidsleer (Atlêthetiek) en Etiek sou seker wel ook ’n plekkie in hierdie waarheidskader kry.

Geesink se Gereformeerde Etiek gee, afgesien van die formele gedeelte, ’n dekaloog[1] verhandeling. Die Gereformeerde Etiek word dus ingeperk tot die allernoodsaaklikste en in die dekaloog vind Geesink die norm, die reël, die gebod. Hy gryp dus terug na die diepste grondslae en beweeg op die allerveiligste weg en ’n mens is dankbaar vir hierdie man wat die Gereformeerde Etiek op baie hegte grondslag geplaas het. Inderdaad kan die Gereformeerde Etiek nie die Wet verontagsaam nie, maar ook hier geld die beswaar dat die Etiek nie Gods Wet as behorens-eis kan aanvaar nie, omdat hier veel meer as sodanige eis gestel word. Gods Wet is veelmeer as dit, juis al omdat dit nie aan ons wil of nie-wil oorgelaat word nie.

Aan die ander kant is dit ook waar dat die hele Woord van God vir die Etiek net so belangrik is as die dekaloog. Hierop het Brillenburg-Wurth gewys. Met welke reg sou ons die Etiek kan beperk tot die dekaloog, as die hele Woord van God oorvol van etiese handelinge is en God op velerlei wyse ons op ons roeping wys? Maar temeer, as Gods Wet die norm is van die Christelike Etiek, volg dit tog logies dat ons geen Etiek in hierdie sin in die Nuwe Testament kan hê nie. Die Heidelbergse Kategismus behandel ook nie die dekaloog onder sy eerste deel nl. waar dit gaan oor die kennis van die ellende nie, maar juis in die derde, waar dit gaan oor die reël van dankbaarheid. Op so ’n wyse word die Wet wesensmatig deel van die Christelike lewe, met sy dubbele liefdeseis: liefde tot God en liefde tot die naaste, waarin die eerste die groot gebod is en die tweede daaraan gelyk.

Honig maak dit met sy baie onderskeidinge nie makliker nie. Hy probeer afbaken welke terrein tot die Dogmatiek en welke tot die Etiek behoort en spreek dan van die dogmata veritatis wat in die Dogmatiek vrug was van die worsteling in die stryd vir die waarheid teen die dwaling in die loop van eeue. Hierteenoor was daar ’n vredige en geleidelike rypwording van sedelike denkbeelde wat beskou moet word as neerslag van ’n gangbare praktyk binne ’n bepaalde belydenisgroep. Dit word dan genoem dogmata morum. Hy spreek in dieselfde trant van dogmata fidei en dogmata ethica. Sulke onderskeidinge is natuurlik nie skeidinge nie, anders sou dit die dogmata morum en ethica gespeen het van veritatis en fidei en dit geprofaneer het, maar telkens is dit opvallend dat hierdie onderskeidinge ons feitlik niks verder bring nie.

In Gereformeerde kringe word dit ook gestel dat die Dogmatiek die norma credendorum bestudeer en die Etiek die norma agendorum. Dit is eintlik in wese dieselfde as wat Herman Bavinck stel, dat die Dogmatiek ook genoem kan word teoretiese sedekunde en die Etiek praktiese sedeleer. Hierdie normata staan geensins naas mekaar nie, maar deurmekaar. Maar is credendum nie ook agendum nie en is agendum nie ook credendum nie?

Doel dan die artikel

Wat ons moet doen, doen ons in die geloof dat God dit eis en dit wat ons glo kan nie maar teoreties geglo word nie, maar moet in die handelinge uitgeleef word. Wat ons hier wou weergee, is dat daar behoefte is aan nadere besinning oor die gronde vir die Etiek en oor sy eintlike taak en terrein. Dit moet duidelik wees dat die dekaloog, die Wet van God, ’n belangrike plek inneem en eintlik die diepste grondslae van die Gereformeerde Etiek is. Skriftuurlike gebondenheid mag vir hierdie belydeniswetenskap nie iets vreemds wees nie, maar juis eie aan hom. Ons wil hier aansluit by die geskiedenis van die Etiek en dan verdere lyne deurtrek wat hopelik verrykend vir ons wetenskap kan wees.

AFDELING A: ‘n Oorsig oor gelowige denkers aangaande dogmatiek en etiek

HISTORIESE REVUE

Die nadruk val op die wetskarakter van die Etiek as Herman Bavinck die geskiedenis van hierdie wetenskap onder drie hoofde opsom op sy kensketsende manier. Hy beweer dat die geskiedenis hoofsaaklik gesien kan word vanuit die oogpunt van die wetgewer. Dit was ’n besondere greep van Bavinck en een wat ons wil probeer vrugbaar maak ook op ander terrein. Hy hoor hoe idealiste en rasionaliste die outonomie bepleit, hoe die empiriste en naturaliste die heteronomie vooropstel en tenslotte hoe die Skrif en skrifgelowiges die teonomie benadruk.[2]

Inderdaad moet die antwoord gegee word: Wie gee die wet?

Kant kan as uitnemende voorbeeld dien van die wat sê: die sedewet is in die mens. Die mens as sedelike persoonlikheid is sy eie wetgewer, verplig homself en is net op die wyse vry. Sou die sedewet van elders kom en van buite opgelê word, word die mens gebind, verkry ons nie sedelikheid nie maar legaliteit en legaliteit sluit dwang in, onderworpenheid. Die mens is tegelyk wetgewer en wetsonderdaan.

’n Tipiese verteenwoordiger van die heteronomie moet ons soek in die kring van die ewolusionisme, waar die moraal produk is van omstandighede en die omstandighede die inhoud van die sedelik goeie daad bepaal. Dit gaan hier om die nuttigheid meer as om die sedelikheid, om die gevolge van ’n handeling, liewer as om die norme daarvan.

Bavinck

Bavinck is by magte om die saak van die teonomie[3] te stel, maar die wyse waarop hy dit doen is enigsins verrassend. Wat sou die teonomie gemeenskaplik hê met of outonomie of heteronomie? Tog wil Bavinck auto- en heteronomie harmoniseer, oorbrug, verbind, in die teonomie. Die wyse waarop hy dit doen geskied egter met loslating van sy uitgangspunt. Hy het uitgegaan van die standpunt dat hy vanuit die wetgewer alles wil weergee. Maar nou laat hy die wetgewer, wat hom anders in uiterste problematiek sou laat verval, net daar en gaan oor na die wetsonderdaan.

God het die mens na sy beeld gemaak, het by die ongeskonde mens sy wet ingeskep, sodat die wet wesensmatig die mens se skeppingsdeel was. Hierom kan Bavinck nou spreek van outonomie, want die ingeskape wetskennis, is nie vreemd aan die mens nie. Selfs die sondeval kon die beeld van God nie totaal vernietig nie. Die sedelike is dus wesens-een met die mens wat deur God so begenadig is. Dit gaan dus nie om die wetgewer nie, maar om die mens as wetsonderdaan, toeberei by sy skepping om die gebod te kan aanvaar.

Maar ook die heteronomie verkry in hierdie harmonie ’n plek. Die wet is tog van God afkomstig. Bavinck is hier weer terug by die wetgewer. Die outoriteit waarmee die sedewet tot ons kom, kan alleen wortel in ’n imperans, in goddelike gesag. Die wet kom dus inderdaad van buite, maar die heteronome aard is nie verslawend nie, juis omdat die besef van die goeie ingeskape is; geen sprake van legaliteit of dwang nie, omdat die wetsonderdaan toeberei is om in die sedelike daad mee te werk.

Ons merk dat Bavinck besondere nadruk lê op die wetskarakter van die Gereformeerde Etiek. As ons sy eulogie lees oor die majesteit van die sedewet, kan dit ons nie misgaan nie, dat sy bedoeling duidelik is dat dit nie slegs uit die Skrif geput en daarom outopistos is nie, maar dat dit genoem moet word die wet van tien gebooie. Luister na sy lofsang op die sedewet:

“Zij is als de zon die alleen gezien word bij haar eigen stralen; zij hangt van geen bewijs en redeneering af; zij is machtig doordat zij er is, zichzelve poneert en handhaaft; haar mach bestaat in haar gezag, in de Goddelijke majesteit, waarm ede zij haar; gij zult, in onze consciëntie hooren doet. De zedewet zou zichzelve verzwakken, als zij met ons ging redeneeren en zich onderwierp aan ons oordeel. Zij treedt categorisch op, en wil van geen exceptieën weten. Op de vraag waarom onderw erpt gij u aan de zedewet? is er maar één antwoord mogenlijk: om dat zij mij Gods wil openbaart. Maar als dan verder gevraagd word: waarom gelooft gij dat die zedewet Gods wil is? is er geen afdoende antwoord meer te geven. Wie dan toch antwoorden wil, slaat een zijweg in en beroept zich op allerlei notae en criteria, waarin de Goddelijkheid der zedewet zich aan hem kenbaar maakt. Maar afdoende bewijzen zijn dit niet.”

Calvyn

En so, op hierdie weg van erkenning van die dekaloog as die sedewet, die norm vir die Etiek, vind ons eintlik alle Calviniste, Calvyn inkluis. ’n Paar woorde dui dit aan, insover dit Calvyn self betref. Ons weet wel dat Calvyn geen sisteem van Etiek gegee het nie, maar het in sy derde Boek van die Institusie enige fragmente gegee. Wat hieruit duidelik word, is dat ons eintlik hier te doen het met ’n etiese apriori[4] wat in die religie gevind word, ‘n Tweede kenmerk is dat dit hoofsaaklik negatief van opset is. ’n Paar grepe maak dit duidelik.

Calvyn was die eerste wat die tipies etiese greep gedoen het en die Etiek sien vanuit ’n kosmiese dimensie, nl. van die Christelike lewe. Dr. Jean Cadier sê tereg dat “calling and holiness: these two words summarize the meaning of the Christian life.” En so word die werk van die Heilige Gees benadruk in sy volle omvang in die Christelike lewe, en kom ons by die Heidelbergse Kategismus se eerste vraag en antwoord tereg: ons behoort nie aan onsself nie, maar met liggaam en siel aan ons Borg en Saligmaker, Jesus Christus.

Vir Calvyn bestaan die Christelike lewe verder in die navolging van Christus en hier kom dan veral die negatiewe elemente van sy etiek na vore. Die Christelike lewe bestaan veral uit ’n lewe van selfverloëning, volgens Rom. 12 : 1, waar geëis word dat ons ons liggame stel tot ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer. Doding van die vlees is hier ’n vername element. In alle lewenshandelinge moet ons ag gee op ons roeping. Daar is geen taak so gering dat dit nie as roeping gesien kan word nie. Hier het ons te doen met die eis van gehoorsaamheid en daarom neem die wet so ’n sentrale plek in. Gods Wet is die sedewet, wat ons rig op die pad van geregtigheid. Hierdie pad deurloop ’n proses waarop elke mens daeliks ’n klein stukkie aflê. Die Christelike lewe het sowel sy positiewe as negatiewe norm in die dekaloog.

BEGINSELS EN NORME

Ons wil hier nou die pertinente vraag stel of die wet van God gestel kan word as sedewet, as norm vir ons sedelike gedrag, wat van ons gehoorsaamheid verg? Gods wet het, soos enige wet, ’n bepaalde Wetgewer. Dit is in die eerste plek nie alleen ’n wet van die mens nie en nie vir die mens onderling nie. Dit is Gods Wet en dit bepaal die verbondsverhouding tot God, bepaal ons godsdiens. Dit gaan dus hier om iets veel dieper as die Christelike lewe, oor menslike en medemenslike bestaan en verhoudinge.

Maak die wet los van die Wetgewer en laat dit geld as sedewet, dan word dit in sy wese aangetas en versondig ons ons daaraan deur degradasie. In die wet lê God beslag op alle mense, betrek sy verbondsvolk in ’n bepaalde relasie, ’n godsdienstige relasie. En ja, inderdaad word hierdie godsdienstige relasie bepalend vir die Gereformeerde Etiek, maar die grond vir die Etiek is sy hoeksteen, maar nie die hele gebou nie.

Op die fondament moet nou die gebou verder opgetrek word.

En dit is juis die leemte in alle genoemde etiese rigtinge, dat slegs die fondament blootgelê is, die religieuse apriori. Op hierdie weg word wet en norm vereenselwig. Uit billikheid moet gekonstateer word dat Herman Bavinck voelers na die toekoms uitgesteek het, toe hy gespreek het van grondnorme en afgeleide norme. Elkeen voel aan dat ’n grondnorm gegee is in die wet van God, maar wat sou dan afgeleide norme genoem kan word? Die beswaar bly tog geldend dat ons nie maar met beskrywende adjectivae ’n verskil moet handhaaf tussen wet en norm nie, maar dat dit liewer heeltemal ander selfstandige naamwoorde moet wees, ook al omdat ons in ons verhouding tot wet en norm in volkome andersheid staan, soos ons later hoop om aan te dui.

Om die belangrikheid van Gods Wet vir die Etiek as fondamentstuk, as onmisbare apriori aan te dui, maar ook tegelyk die noodsaak om nie by die fondament te bly staan, asof die gebou al voltooi is nie, wil ons ’n ander en nuwe benadering aan die hand doen, soos dit wel ook al blyk uit die werke van jongere etici.

HG Stoker

As Stoker praat van ’n Absolute grond van die sedelike en daarvan onderskei die kosmiese wesensgrond van die sedelike, het hy tog ’n ander geluid laat hoor. Daar is ’n noodsaaklike apriori, ’n fondament, geleë in die Absolute. Dan is daar ’n volgende, aangedui met ’n beskrywing “kosmies”, maar dit is tog nog ’n wesensgrond. Wesen-analises is altyd moeilik om in begrippe om te sit. Val wesensgronde nie in die transedente en is dit nie wesenlik een met die Absolute nie? Die wesensmatige in die dinge het al telkens gelei tot die spekulatiewe, bv. in die wysbegeerte, toe die wesensmatige gevoer het tot die metafiese wêreld. Dit wat agter die fisiese is, is die wese van alles en ons kan dit alleen in God vind.

Op die vlak van die tydelike, die ondermaanse, die kosmiese, het ons geen wesenlike dinge nie, maar wel handelinge, verhoudinge. Die mens staan in ’n sekere verhouding, ’n verbondshouding, teenoor God. Hy staan in ’n bepaalde verhouding tot die natuur of kosmos, nl. in ’n heersershouding. Daar is ook intermenslike verhoudinge. Hierdie verhoudinge hoef nie almal sedelik te wees nie, maar is dit soms wel.

Stoker noem die kosmiese wesensgrond van die sedelike die persoonsliefde; selfliefde en naasteliefde, wat anderssoortig is as liefde tot jou land, volk, taal ens. En so kom hy dan tot die konklusie dat die laaste ses gebooie elkeen deel vorm van die sedewet, toepassing van die algemene persoonsliefde op verskillende verhoudinge waarin mens tot mens staan.

Die vraag is egter of ons hier moet spreek van ’n wesensgrond en of dit nie beter kan wees om te spreek van ’n beginsel nie. Dit wat kwalifiseer of iets sedelik is of nie, hoef nie die wesensgrond te wees nie, maar moet eerder die beginselgrond wees. Die hele dekaloog is sekerlik die beginselgrond van die sedelike, maar toegestem moet word dat dit nie ’n etiese nie, maar ’n religieuse beginselgrond is. Hierdie religieuse grond is egter onmisbaar vir die etiek, juis omdat dit sy bodem, sy sine qua non[5] is. Dit wat iets eties maak, is sy norme, maar nie sy wesensgrond nie.

Brillenburg-Wurth

0ns mag hier ook ’n oomblik verwyl by gedagtes van wyle prof. Brillenburg-Wurth, wat sekerlik een van die eerste etici is wat begin spreek het van ’n beginsel en norm vir die etiek en duidelike gedagtes hieroor uitgespreek het.

Uitgaande van die grondgedagte van Calvyn dat die Etiek te doen het met die Christelike lewe, moet gevra word uit watter wortel kom die Christelike lewe op, watter motiewe beheers dit en wat is die dinamiese wat dit voortstu. Hierdie vrae word gevra, juis omdat daar diep in die mens se hart ’n inwendige sielestemming is, ’n geestelike behoefte, wat so ’n vraag laat ontstaan. Dit toon al juis die religieuse wortel waaruit sodanige vrae opkom, want ook in die heidendom is daar ’n etiek, wat geensins losgesien kan word van ’n heidense religieuse inslag nie. By die Christelike lewe het ons ’n besonder noue verband tussen etiek en religie, om die waarheid te sê, dit is bepalend vir die etiek.

Brillenburg-Wurth gaan nou hierdie beginsel ondersoek en sê dat die allereerste beginsel van die Christelike lewe Christus is, die eintlike wortel wat hierdie lewe dra. Christus kan geen norm wees vir die Christelike handeling nie, maar die norm mag ook nie los gesien word van Christus nie. As die apostel Paulus in Fil. 1:26 sê dat die lewe vir hom Christus is, en verder dat iemand wat in Christus Jesus is ’n nuwe skepsel is (2 Kor. 5:17), gee hy hierdie diepste beginsel, wat ook die waarborg is van ’n eiesoortige lewe, anders as die gewone lewe.

Nie net Christus is die lewe nie, m aar ons moet in Christus wees deur die geloof, één met Hom, soos die rank uit die wynstok. Christus is die eersteling en ons lewe kan alleen uit sy lewe verklaar word. In Christus (en Christoi) (Rom. 6 :1 1 ) het ons gesterf, in Christus opgestaan, in Christus leef ons en verwag Hom weer in die dag van sy toekoms.

So is Christus se lewe ’n opstandingslewe wat in ons lewe geopenbaar word. Kol. 3:3 sê dat ons lewe in Christus verborge is, verseker is, onontneembaar is. Hierdie verborge lewe word in die openbaar uitgeleef. Kol. 3:1-3 sê dat die lewe openbaar word in hemelgesindheid, wat direk teenoorgesteld is met aardsgesindheid. Dit kom uit die bevele: soek die dinge wat daarbo is, bedink die dinge wat daarbo is (vs. 2), maak dood julle lede wat op die aarde is (vs. 5).

Daar moet dus geleef word uit ’n ander beginsel as dit wat aardsgebonde leef en vreemd is aan die hemelse burgerskap (Fil. 3 : 20). Ons het dus eintlik hier twee beginsels, nie langsmekaar nie, maar vreemd teenoor mekaar. Die Christelike lewe het sy karakteristiek uit Christus.

Tweedens poneer Brillenburg-Wurth dat die Heilige Gees die beginsel is van die Christelike lewe. Hier geskied nou die toeëiening van alles wat ons deel is in Christus. Die Heilige Gees is nie ’n ander beginsel nie, aangesien Hy nie anders verkondig as wat Christus doen nie. Hy gaan uit Christus uit en maak woning in ons harte en lewens. Die lewe uit Christus word ’n lewe van selfverloëning, van sondeberou en selfmishaging. Die Christelike lewe is dus Geesteslewe, ontspringend uit daardie Bron wat die wêreld nie ken nie, omdat hulle Hom nie sien nie (Joh. 14:17).

Te min word dit beklemtoon, miskien as gevolg van geesdrywery uit vreemde kring.

Nee, die Gees speen ons nie van alle inspanning, alle stryd, alle eise en norme nie en begiftig ons nie met ’n supervermoë of -krag nie. Inteendeel open die Gees juis ons oë vir die sonde en sy werkinge en laat ons verlang na Christus en vuur ons aan tot die stryd. Geesdrywery ontstaan alleen as die Heilige Gees losgemaak word van Christus en word Geestesgawes ekstraordinêr en word gespreek van inwendige lig of vervolmaking.

Brillenburg-Wurth gee die vruggevolg van die werkinge van die Heilige Gees as beginsels vir die Etiek in die volgende weer: Die Christelike lewe is ’n lewe van wedergeboorte, dus van kernvernuwing deur wonderdadige werking. Ook Nikodemus moet dit verstaan, as hy leermeester van Israel wil wees. (Joh. 3). Hier word beklemtoon dat daar twee lewens is uit twee wortels of beginsels. “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” (Joh. 3:6).

Voorts is die Christelike lewe ’n lewe van geloof, wat deur die Heilige Gees gewerk word. Dit mag genoem word die allerbelangrikste en volkome onmisbare gawe. Ps. 27:13 sê tog: „As ek nie geglo het nie…”, en dan volg daar slegs ’n wanhoopsug.

Ons het hier te doen met ’n wonderwerking wat slegs deur goddelike werking kan ontstaan. Van nature kan ons nie glo nie en sal ook nie wil glo nie. Die geloof is die band aan Christus en deur die geloof eien ons ons die weldade van Christus toe. So ’n belangrike plek neem die geloof in dat die Skrif sê dat al wat nie uit die geloof is nie, is sonde (Rom. 14:23 ). Ons word deur die geloof geregverdig (Rom. 9:30) en dan wel nie deur die kwaliteite van ons geloof nie, maar vanweë Christus en sy verdienste.

Die lewe van bekering

Die Christelike lewe is ook ’n lewe van bekering. Hier het ons die vruggevolg van die wedergeboorte en geloof en waarskynlik die duidelikste uiting teenoor ons medemense van ons band aan Christus. Bekering kan gesien word, is vrugte aan die boom. Vandaar dat by die bekering ter sprake kom die verhouding tot God en die daaruit volgende verhouding tot ons medemens.

Brillenburg-Wurth sien ook die Christelike lewe as een van heiligmaking. Waar wedergeboorte die begin is, is heiligmaking die voortsetting. Heiligmaking word nie deur eie krag bewerkstellig nie. Deur die geloof in Christus wat Homself vir ons geoffer het en deur sy offer ons geheilig het, word ook ons opgeroep tot ’n afgesonderde eiesoortige lewe. Hierdie lewe soek nie homself nie, maar bely: Ek behoort nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus (Heidelbergse Kategismus, Sondag I). Tot heiligmaking kom ons pas na hierdie lewe, omdat selfs die allerheiligste in hierdie lewe slegs die beginsel van gehoorsaamheid het.[6]

Hierdie sieninge van Brillenburg-W urth is enig en toon ons ’n weg wat nog nie vroeër bewandel is nie. Ons het wel dikwels gehoor van die sedewet en van norme van verskillende aard, grondnorme en afgeleide norme, soos by Bavinck, of ook nog primêre en sekondêre norme. Die vraag is juis of hier nie dieselfde onderskeid bedoel word, as wat Wurth noem beginsel en norm nie?

PGW Du Plessis

In ’n onlangse proefskrif van dr. P. G. W. du Plessis met die titel “Opskorting van etiese?”, ’n nog ongepubliseerde werk wat handel oor die Etiek by eksistensiefilosowe, tref hy ook ’n onderskeid tussen beginsel en norm. Hy sê: as ons die etiese wil onderskei van die a-etiese, het ons ’n beginsel nodig. As ons die eties goeie van die eties-kwade wil onderskei, het ons norme nodig. Dus: die beginsel bepaal waar die etiese begin of eindig. Dit kwalifiseer die etiese na sy oorspronklike aard, wese of sinkern. Maar Du Plessis gee geen antwoord op die vraag: wat is hierdie beginsel nie?

Die antwoord van Brillenburg-Wurth moet nader besien word. Kan Christus genoem word ’n beginsel vir die etiek, vir die Christelike lewe? Dieselfde vraag geld ook die Heilige Gees. Het ons nie hier te doen met allerdiepste gronde, religieus van aard, wat Stoker noem die Absolute grond van die sedelike nie? Goddelike Persone kan tog nie in een asem genoem word met beginsels nie.

Miskien is H. Bavinck op ’n versigtiger weg as hy spreek van ’n “hoëre sedewet” wat wortel in die wil van God. In sy werkie “Hedendaagsche Moraal” sê hy dat Israel se profete, Jesus se apostels en later Luther en Calvyn en baie ander was kragtige getuies teen hulle eeu: “In naam van eene andere, hoogere zedewet hebben zij de bestaande zeden veroordeeld en vernieuwd.”

Bavinck sê ook dat hierdie persone tot God en die Skrifte teruggeroep het en verwys na wat in die Heidelbergse Kategismus gesê word op die vraag (91): Wat is goeie werke? Die antwoord getuig van die beginsel, die reël en die doel aan te dui nl. die werke uit ’n ware geloof, volgens Gods Wet en tot Gods eer, gedoen word. Die nadruk val dus op die wil van God en hy verklaar onomwonde: geen moraal sonder religie (p. 71).

AFDELING A: Wat is die beginsel van die Christelike lewe?

Ons wil graag in hierdie verhandeling die onderskeiding beginsel en norm aanvaar en veral probeer om die antwoord te gee op die vraag: wat moet as beginsel aanvaar word vir die Christelike lewe? Ons wil dit benader deur kortliks te bepaal wat die eise is, volgens die Skrif van ’n Christelike lewe.

  1. ‘n Coram Deo lewe: voor die aangesig van God[7]

In die eerste plek kan ons dit noem dat dit ’n lewe is voor Gods aangesig, in die teenwoordigheid van God. Dit word besonder beklemtoon in die Ou Testament. Hier hoor Israel Gods stem, want God spreek ook self en nie net deur die profete nie. Israel staan voor Gods aangesig by Sinai, mag daar getuies wees en hulle beef voor Gods aangesig. God woon tussen sy volk tussen die Gerubs in die allerheiligste van die tempel en die ark is die teken van sy teenwoordigheid.

In die Nuwe Testament kan ’n paar aanhalinge uit ’n oorvol skat voldoen.

Die apostel stel die gelowige voor die aangesig van Christus. In 2 Kor. 2:10 lees ons “Want wie ek ook vergeef het, dit was om julle ontwil voor die aangesig van Christus” en hy herhaal woordeliks weer dieselde gedagte: “Dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Kor. 4:6). In 1 Thess. 2:19 troos die apostel die gemeente: “Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?”

0ns sou kon voortgaan: die Christen word geplaas voor God en dit kom ook wel voor in die volstrek teenoorgestelde betekenis, want die verderf is daar waar God nie is nie en Gods oordeel word juis so beskryf in 2 Thess. 1:9 bv. “Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here.”

Die Christelike lewe is só naby en die onchristelike lewe is so ver van God af. Alles stuur af op daardie toekomsdag, waar God alles sal wees en in almal.

  1. ‘n Lewe volgens God se Wet

In die tweede plek is die Christelike lewe ’n lewe volgens Gods Woord, volgens Gods Wet.

2.1 Die Ou Testament en die wet

Die plek van Gods Wet is in die Ou Testament onbetwisbaar. Die Wet, eers geskryf in die hart van Gods ongeskonde mens en daarna op kliptafels geskryf deur Gods eie vinger[8], is nie alleen rigsnoer van die lewe nie, maar veroordeel en beproef ook die gedagtes. Doen dit en jy sal lewe (Deut. 4:1), maar ewe-eens geld die teenoorgestelde: doen dit nie, en jy sterwe. Die wet word gegee op Sinai as verbondswet, met ’n dreiging daarby.

Vir Israel is dit ’n bron van seën, maar vir die wat dit nie hou nie, is dit ook ’n vloek. Ebal en Gerisim sal in die geskiedenis altyd voor hulle staan. En dit het geskied in die verloop van Israel se geskiedenis: as Israel Gods Wet hou, is daar voorspoed en welvaart. Word Gods Wet verlaat, kom die profete met oordeelsaankondiging en gerig en moet Israel sug onder sy vyande en selfs in ballingskap gaan.

2.1 Die Nuwe Testament en die wet

In die Nuwe Testament ontwyk Christus nie die vraag: wat is die grootste gebod in die Wet nie, maar gee juis die kern van die wet weer in die liefdesgebod. Hy het ook nie gekom om die wet te ontbind nie, maar om dit te vervul.[9]

Ewe-eens lê die apostel Paulus besondere nadruk op die onderhouding van Gods Wet in sy briewe aan die Romeine, Galasiërs en Efesiërs. Die volbragte werk van Jesus Christus gee die wet nou aan ons as reël van dankbaarheid. Die wet word nie weggeneem nie, maar is juis die tugmeester na Christus. Dit is die wet met sy eis van geregtigheid wat Christus aan die kruis bring. Die Christelike lewe is ’n dankbaarheidslewe en hiertoe is die Wet van God die Godgegewe reël.

Dit sou te eng gesien wees, as ons hier onder wet alleen die oog sou rig op die dekaloog. Daar is sekerlik geen denkbare beswaar dat die hele Heilige Skrif as die inhoud gesien word van die wil van God, waarin God sy wil aan ons kenbaar maak.[10] Die Christelike lewe is dus ’n Skriftuurlike lewe en so ’n lewe is nie maar net een van afstand doen van die verkeerde nie, maar ook die aandoen, toe-eien van dit wat God welbehaaglik is.[11]

James Stalker sien dit reg as hy sê dat selfs die terminologie by die Christelike lewe anders is as die gewone:

– In plaas van die term “die hoogste goed”, spreek ons hier van die seëninge van die koninkryk.

– In plaas van “deug”, gaan ons hier na die kenmerke van die burgers van die koninkryk.

– In plaas van “plig” spreek ons hier van die wette van die koninkryk.

(Hy sê): “The Ethics of Jesus can be classified neither as “the Ethics of duty” nor as “the Ethics of Ends”, for it is a combination of the two, “Duty” being represented by the Will of God, and “the End” as the realisation of the Kingdom of God.”

2.3 ‘n Lewe midde ‘n sondige bedeling
0ns moet ook onthou dat die Christelike lewe ’n lewe is tussen die sonde. Dit sou die Christelike Etiek nie baat om ’n ideale lewe te beskryf en norme vas te lê vir ’n sondelose lewe, wat nie bestaan nie. Wie “lewe” sê, spreek tog sekerlik van die volle lewe waarin ons daeliks staan. Wurth sê dan ook dat dit van groot betekenis is dat die Etiek moet weet dat dit hier om die lewe gaan. Vir die Etiek is die gevaar van nomisme[12] groter as wat maklik aanvaar word en dan gaan die lewe agter die wet skuil. Die Gereformeerde Etiek moet die lewe dien.

Sonde is ’n magtige waarheid wat so maklik oor die hoof gesien kan word by wetenskaplike benadering en vasstelling van beginsels en norme. Sonde, ongehoorsaamheid, ontrou, is net sulke etiese verskynsels as die teenoorgestelde lewenshoudings: trou, gehoorsaamheid, vryheid. Vir die Etiek is dit selfs van groter waarde, juis omdat die Etiek nie ’n deskriptiewe wetenskap is nie. Dit is nie ’n beskrywing soos wat die lewe is nie, m aar soos wat hy behoort te wees.

2.4 Die lewe van wedergeboorte: ingeent in Christus

Immers, tesame met die lewe tussen die sonde, het ons ook ’n ander lewe, die wedergebore lewe, die bekeringslewe. Juis daarom moet ons ook spreek van die Christelike lewe. Hierdie lewe is lewe in die enige betekenis, met splinternuwe konnotasie, is ’n lewe waarin die verhouding tot God reg is. Van hierdie lewe spreek bv. Deut. 8:3 “0m aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan”. Ook die profete spreek hiervan bv. Hab. 2:4 “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe”.

In die Nuwe Testament lees ons iets verder omtrent die lewe en het ons ’n duidelike oorgang na die geestelike. Dikwels word dit verbind met die adjektief “ewige” en het dit ’n eskatologiese betekenis. Inderdaad is daar tog verband tussen die lewe “hier” en die lewe “daar”. Tydelike en ewige is nooit geskei nie.

Die tydelike lewe word wel beëindig deur die dood, maar dieselfde lewe gaan oor na die ewige en bepaal ook die posisie voor God in die ewige lewe. Die inenting in Christus, die verkiesing in Christus, die rank uit die wingerdstok, die boom geplant by waterstrome, toon dat die lewe nie maar aan wispelturigheid van eie insigte en doelbestrewing verbonde is nie.

Joh. 1:14 gee saam met talle Skrifgedeeltes aan ons die verband. “In Hom was lewe en die lewe was die lig van die mense” en Christus sê self “Ek is die weg en die w aarheid en die lewe” (Joh. 14:6). In verband met die Heilige Gees sê Christus in Joh. 6:63: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek is gees en is lewe.” Die dissipels bely dat hulle verstaan as hulle op die vraag: “Wil julle nie ook weggaan nie?” antwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (6:68).

2.5 ‘n Lewe deur die Gees van God

Ook die apostel Paulus benadruk dit. Vanaf sy bekering het hy vaarwel toegeroep aan alle Farisese verordeninge waardeur die mens vanweë enige eie waardigheid aanspraak kan maak op die lewe. Lewe is vir Paulus sinoniem met redding deur Jesus Christus. In 1 Kor. 15 spreek hy van Christus se verskyning aan horn, die ontydig geborene en se dan: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is.” Ek is genadekind. Dit is my wese en nie maar net ’n versiering nie. Dit is nie iets bykomend nie, maar iets wat in my wese gewrog is. lets het in my opgestaan, omdat Christus in my gestalte verkry het. En nou leef Paulus nie meer nie, maar Christus leef in hom.

Hieraan moet ons toevoeg dat hierdie lewe ook Geesteslewe is en “dat die Gees van God in julle woon”. Lewe is aksie, daad, vol krag en energie. Lewe is dra van vrugte, is vol van dankbaarheid. Vandaar dat ons hier die dubbele kenmerk het, dat dit vertikaal ontspruit uit die Lewegewer en horisontaal voortgaan deur die Lewensinstandhouer en dan weer deur die Lewenemer vertikaal opstyg tot eer van Hom uit wie, deur wie en tot wie alle dinge is.

Deur hierdie ekskursie wou ons aantoon dat die beginsel van die Christelike lewe sekerlik breër aangedui kan word as wat Brillenburg-Wurth dit doen, toe hy slegs enkele beginsels genoem het: Christus, Die Heilige Gees en die werkinge van die Heilige Gees.

Ons sou dit seker ook breër moet neem as wat vroeëre denkers dit gegee het in die dekaloog, die Wet van God.

Die hele Skrif spreek van die Christelike lewe. Die hele Skrif is vol van Gods Wet en gee aan ons Gods wil as openbaring van Gods genade teenoor sy mens, wat in Christus sy volkomendheid gevind het en vandag nog deur die inwoning van die Heilige Gees in ons harte betuig word.

Ons moet konkludeer dat die Heilige Skrif die beginsel is van die Christelike lewe, die bron waaruit geput word, die onfeilbare Woord wat God midde in die lewe gelê het en wat aan die einde van die eeue die grondslag van sy oordeel sal vorm. So heerlik kom hierdie Woord tot ons, dat Christus in die gelykenis van die rykman en die arm Lasarus laat sê: “As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Luk. 16:31)

TWEëRLEI BEGINSEL  

Hierdie beginsel laat verrassende lig val op die Gereformeerde Etiek en sy eis vir ’n Christelike lewe. Dit is juis dié beginsel wat die Christelike lewe onderskei van enige ander soort lewe. Dit is nie die norm wat hier bepalend is nie, want die norm gryp terug in die beginsel en is ’n afleiding uit die beginsel. Die norm is nie ewig nie, maar die beginsel is ewig en vas. Norme kan verander, selfs by verskillende volke verskillend toegepas word, en nogtans kan die beginsel waaruit hulle afgelei word nog dieselfde bly.

Omstandighede kan ook verander bv. daar mag oorlog kom, en dan mag die norme gewysig word volgens die eise van oorlog, maar die beginsel is blywend en voer altyd, in welke omstandighede ook al, tot skuld voor God. Selfs in oorlog mag nie so maklik gespreek word van ’n oorlogsetiek om die handelinge te vergoeilik, bedrog good te praat, diefstal te omhul en moord te verheerlik nie. Dit is juis die beginsel wat telkens soos ’n monument uittroon en veroordelend die dader tot verantwoording roep. Voor die mens se regbank mag ’n mens misdadiger wees, maar voor God is hy telkens sondaar, omdat hy Gods Wet oortree het.

Anders word dit, as die norme afgelei word uit ’n ander beginsel as wat God daarstel. Norme afkomstig uit ’n ander bron as Gods ewige Woord en Wet, is nie maar net ander norme nie, maar anderssoortige norme. Hulle is wesensverskillend en kan dit nie bymekaar verdra nie. Vandaar dat die Christelike lewe ’n anderssoortige lewe is as die van die heiden, van die nie-Christen, van die Mohammedaan ens. Dit kan ook nie anders nie, want die beginsel is anderssoortig.

Daarom moet ons, wat die Gereformeerde Etiek betref, duidelik onderskei, omdat dit sy lewens-aar is. Immers, die Christendom het nog telkens midde in die wêreld te staan gekom en het telkens geweier om aanpassinge te maak. Verskillende rigtinge word nie maar opgeneem in hul verskillendheid nie, maar eise word gestel.

Het die Christendom die eis gestel van beskawing? Was dit kultuur of aanpasbaarheid? Het die Christendom van die Mohammedaan kom eis om anders te lewe, ander norme te aanvaar? Het dit by die heidendom gekom om sy lewe te verbeter, ’n meer humane, menswaardige lewe self te voer en ander toe te laat om dit te voer?

Nee, die Christendom het gekom met ’n enkele woord: bekering.

Daar moet prysgegee word, gebreek word — en dan moet ’n totaal ander beginsel aanvaar word. Wedergeboorte is die ontstaan van ’n nuwe lewe, gebore uit ’n ander wortel. Dit is ’n geboorte en alleen deur geboorte kom daar ’n nuwe lewe tot stand.

Die Mohammedaan moet sy Koran prysgee, sy ou beginsel waarop sy lewenswyse gebou was, verlaat en hy moet ’n ander beginsel aanvaar en op grond van die beginsel nuwe norme en ’n nuwe lewenswyse.

Die heiden het ook ’n eie beginsel, ’n eiewillige beginsel. Hy dien homself en soek sy eie belang. Hy moet die beginsel verlaat en ’n ander lewe voer.

Gods Woord ken ook die groot tweedeling: Gees teen vlees (sonde).

In Rom. 8:6 is daar sprake van tweërlei lewe en ons lees “Want wat die vlees bedink, is die dood maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die Wet van God nie, want dit kan ook nie.”

Die tweërlei lewe word hier genoem pneumatikos (gees) en sarkinos (vlees). Dit is dus ’n beginselverdeling, nie slegs ’n faktiese tweeheid nie, maar ’n onversoenbare tweestryd.

Eintlik woon daar twee mense in dieselfde mens en is daar duidelik tweërlei aanhanklikheid, soos wat dit blyk uit Gal. 5:17: “Want die vlees begeer teen die Gees en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar”. Die apostel Paulus noem dit ook die ou mens en die nuwe mens (Ef. 4:22-24). Die gelowiges word opgeroep om die ou mens af te lê en tot opstanding van die nuwe mens. Daarin bestaan volgens Sondag 33 van die Heidelbergse Kategismus die ware bekering. Nadruklik word hier verklaar dat die bekering is ’n hartlike berou en ’n hartlike vreugde.

Veral in Rom. 7 gee die apostel Paulus aan ons ’n magtige belydenis van die stryd wat in sy eie lewe voortduur. Daar is tweërlei beginsel. In Rom. 7 gaan dit nie om ’n tweërlei gehoorsaamheid nie. Dit gaan duidelik om tweërlei wet. In vs. 23 hoor ons daarvan en ons haal ook vs. 22 aan: “Want ek verlustig my in die Wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.”

GODS WET … en ’n ander wet: die tweërlei karakter of gebruike van die wet

Die gedeelte van die Romeinebrief, beginnende by Rom. 3, kan alleen verklaar word as die wet sy juiste plek as beginsel en nie as norm nie, gegee word. Dit was veral Luther wat hier gespreek het van die usus elenchticus en usus normativus of didacticus, om die tweërlei karakter van die wet aan te dui.[13] Die eerste het ons waar die wet kennis van die sonde gee (Rom. 3:20) en die tweede waar die wet as reël van dankbaarheid ons voorgehou word.[14] Maar die sonde was daar al vóór die wet (Rom. 5:13), maar toe die wet kom was daar ’n aktivering van die sonde (Rom. 5:20). Toe die wet kom was daar ’n groei, ’n nuwe aanslag van die sonde, wat meebring ’n vermeerdering van die skuld.

Nou kan die vraag gevra word of ons nou maar hier te doen het met ’n usus elechticus of normativus? Hier gaan tog dinamiek van uit wat nie onder hierdie begrippe tuisgebring kan word nie. Die wet is nie maar net norm of leermeester nie; dit staan op totaal ander vlak as norme. Dit is nie maar ’n spieël wat aan ons optrede niks kan verander nie en ook kan dit nie deur ons gebreidel word nie. Die wet heers en kom ons op onkeerbare wyse tegemoet. Hy is ’n agtervolger en verpletter. Sy onverbiddelikheid word hier beklemtoon en die wet staan onaangeroerd in majesteit bo alle menslike handelinge en optrede as ’n beoordelaar.

In Rom. 7 sien die apostel Paulus die wet as openbaarder van die regte of die slegte wortel. Net soos wat God in die eerste gebod eis dat daar geen ander gode voor Gods aangesig mag wees nie, word ook tegelyk gestel dat daar dus geen ander wet voor Gods aangesig mag wees nie. Want die ander wet waar die apostel van spreek in vs. 23 vereis tog seker ook ’n ander wetgewer. Daar is dus nie net tweërlei wet nie, maar twee wetgewers. Daar is ’n absolute skeiding en geen sprake van toenadering nie.

“Toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe” (vs. 9).

Toe word die sonde in sy ware wese duidelik sigbaar. Die wet dwing die sonde om sy anderssoortige beginsel te openbaar. Berkouwer spreek van die sonde wat lewendig en kragtig opleef en uitbreek om sy vlamme van vernietiging uit te skiet en op dié wyse geïntensiveer, bring dit sy rewolusionêre aard des te kragtiger na vore.

Dan kan ’n mens Christus se “wee julle”, geslinger teenoor Fariseërs en hulle gelykes, verstaan, omdat hulle die wet nie ken nie. Hulle wil juis die wet neem om hulleself te regverdig, terwyl die werking van die wet juis die teenoorgestelde is.

As Berkouwer oor Rom. 7 spreek, vra hy homself die vraag: wat beteken die rewolusionêre aktiwiteit van die sonde uitgaande van die wet. Hy sê dat die sonde die wet as springplank gebruik of as operasiebasis. Op tipies antichristelike wyse, wat altyd ten nouste aansluit by Christus, neem die sonde die wet, misdui dit, relativeer dit, vermom die feit dat hier ’n ander wetgewer is, en tree dan aktief uit om ander te mislei. So is die krag van sonde die wet, verblind dit die oog vir die tipies-eie aard van die sonde as opstandig teenoor die enige Wetgewer en word aangegryp om die verkeerde koers aan te dui wat wesenlik met die koers van die wet in stryd is. As die sonde in hierdie rewolusionêre opset sou slaag, sou hy waarlik die Christendom tot aan sy fondamente skud.

Dit gaan hierom: die wet is geen norm vir ons gedraginge wat los van Christus gevolg kan word nie. Die eties-korrekte lewe van die ongelowige of onverskillige het niks gemeen met die lewe van die Christen wat uit die beginsel van die wet leef nie. Die wet is nie ’n wet vir die mens of van die mens nie. Dit is die kern bedrog van die sonde dat die mens sy eie roem op die voorgrond wil stel, sy eie prestasies wil besing. Maak die wet los van die Wetgewer en ook Christus verdwyn uit die gesig as die enigste weg tot saligheid.

Wat die apostel Paulus gee in Rom. 7:23, sprekende oor die ander wet wat stryd voer teen die wet van sy gemoed, dryf hom uit tot die enigste weg nl. diepe skuldbelydenis en na Christus. Dit sou hy nie kon doen as hy van hierdie stryd ’n abstrakte of akademiese saak gemaak het nie. Hieroor kan daar nie geredeneer word om tot verdere klaarheid te kom nie.

Hy moet duidelik, deur die lig van Gods Woord, onderskei tussen tweërlei wetgewers, God en Satan. Daarna sien hy duidelik die anderssoortigheid van elke wet, juis vanweë die twee wetgewers. Die ewigheid, majesteit en soewereiniteit van God het aan ons sy Wet gegee en die hoofsaak van dit alles is: Vrees God, en hou sy gebooie (Pred. 1 2 :1 3 ).

TWEëRLEI WET  

Teenoor die tweërlei wet staan ons telkens in dieselfde hoedanigheid wat betref ons verpligting daarteenoor. Daar is so ’n groot verskil wat betref die aanspraak wat Gods Wet het en wat norme het.

Ons het uitgegaan van die standpunt dat ons by Gods Wet en Woord te doen het met beginsels wat goddelik, ewig, bestendig is. Beginsels verplig. Nou pas hierby nie maar gehoorsaamheid nie, maar veel meer as dit. Gehoorsaamheid en sy begeleidende ongehoorsaamheid is nog so onvolkome en eintlik sekundêr teenoor die eerste verpligting wat ons het teenoor die wet. U het seker ook wel gemerk dat die Heidelbergse Kategismus ook wel spreek van “die val en ongehoorsaamheid” van Adam en Eva. Albei is nodig, maar veral word “val” hier gebruik om die eintlike aan te dui.[15]

Teenoor Gods Wet is ons onderworpenheid verskuldig en sy teëstelling is opstandigheid, rewolusie.

Hoe Romeine 7:3 reg verstaan moet word

Beginsels verplig tot onderworpenheid en nie maar net tot gehoorsaamheid nie. En so lê die wet beslag op al wat ons het. Dadelik begryp ons Rom. 7:3 beter. Paulus vind tweërlei wet, tweërlei wetgewer, tweërlei onderworpenheid, wat meebring sonde teen God omdat hy teen God opstandig is, juis al omdat hy ’n ander wetgewer naas God erken, sondaar word teen die eerste gebod. Dit is die griewende van die sonde, as dit in al sy naaktheid voor ons staan. Nee, dit gaan nie maar om die wet nie, maar om die Wetgewer. Dit gaan nie maar om ’n terloopse openbaring van my binneste op ’n gegewe oomblik nie. Dit gaan om dit wat die sonde in my lewe bewerk het: opstand teen God.

In Gods Woord vind ons oral duidelikheid hieroor. God noem Israel se oortreding van Gods Verbondswet nie anders as hoerery nie, omdat daar ’n ander verbintenis aangegaan word, God verlaat word, daar nie onderworpenheid is aan God nie. Satan se oortreding teen God is nie maar ’n saak van ongehoorsaamheid nie, maar van opstand en daarom word hy uitgewerp. Daar kom finale skeiding. En aan die einde word hierdie skeiding voltrek, nie maar om dat sommige ongehoorsaam was aan God nie, maar omdat daar ’n tierende opstand gebly het.

Die liefdesgebod in beide OT en NT bly die ewigdurende beginsel

In ons Belydenisskrifte vind ons dieselfde gedagte van beginselskeiding met sy appél op die mens.

Die Heidelbergse Kategismus spreek in die tweede Sondagsafdeling van die kennis van die sonde wat geskied “Uit die wet van God” en die Wet van God word weergegee soos wat Christus dit gee in Matt. 22:37-40: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hierm ee gelykstaan: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”

Byna gelykluidend vind ons dit in Deut. 6:5 en Lev. 19:18, Ons benadruk dat hierdie aanwysing van die eintlike in die wet, die hele Skrif (Wet en profete) saam getuig. Net so min as wat die wet norm kan wees vir die etiek, kan die liefdesgebod dit wees. Hierdie liefdesgebod is en bly beginsel, saam met die wet en die profete.

En nou: God eis liefde, omdat Hyself liefde is. H. Bavinck sê dit mooi: God hét nie maar net lief nie, maar Hy is liefde. Liefde is ’n synswyse van God (1 Joh. 4:8). God se intertrinitariese bestaan is ’n volmaakte liefdesbestaan. Gods liefde is gemeenskap van die Vader met die Seun en met die Heilige Gees. Brillenburg-Wurth beweer dan dat Gods liefde in die eerste plek op Homself gerig is. Maar dan vloei hieruit voort as wesenstrek van die liefde dat dit altyd gee, offer, meedeel. God se liefde is “een leven van Zichzelf geven, van onderlinge uitwisseling van goddelijke levensbezit en goddelijke levensrijkdom ”. God het sy liefde volkome bekend gemaak in Christus Jesus (Joh. 3:16). God is hier die hoogste Gewer en gee daarom sy Hoogste, sy Enigste, sy Eniggeborene.

Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het”, 1 Joh. 4:19. Die liefde van God is die beheersende. Ons liefde het in God sy oorsprong.

Die sonde het in die mens verwoestend ingewerk. Daarom word juis die liefdesgebod gegee om die sonde uit te ken en nie die Tien Gebooie nie, wat hier andersins tog heeltemal op sy plek sou gewees het. En as ons die sonde in sy wese wil ken, is daar geen beter woord as die antwoord op die vraag: “Kan jy dit alles ten voile onderhou? Nee; want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.”[16]

Dit is nie maar ’n verflouing van die liefde nie, nie maar liefdeloosheid nie, nie maar gebrek aan liefde nie. Dit sou ons volkome binne die Remonstrantse kader beland. Hier word die sondewerking aangedui in sy volstrek en dinamies teenoorgestelde: haat. Net soos wat liefde uit God is, is haat uit die Bose. Net soos wat liefde ’n positiewe en voortdurende stimulans is, bereid om te offer, so is die haat ’n negatiewe dryfkrag om te vernietig.

Die liefdegebod spreek dieselfde taal as die wet: onderwerping of opstand, rewolusie. Die twee dryfkragte liefde en haat het elkeen sy eie wet en elkeen sy eie doelbestrewing. Haat is ook ’n vuur wat uit die hel aangestek word. (Jak. 3:6). Sonde is haataangedrewe. Die sondedoener is vyand van God. Haat is ’n ander wetsgebonde synswyse.

En wat is die oplossing?

Dat God in sy genade sonde wil versoen. God verbreek die haatbeginsel. Wedergeboorte is ’n genadewonder. Dit is ’n nuwe lewe, ’n ander lewe. Hier is geen sprake om reste van liefde wat soos ’n flou vlammetjie brand w eer aan te blaas nie. Die herskeppende wonder is juis verbreking of vermorseling van die satanskop.

NORME

Ons het dit hier te doen gehad met die beginsel van die Christelike lewe of van die Etiek. Ons kan hier slegs afsluitend sê dat by die beginsel ook nog norme pas. Dit is nie ons taak om hier in die breë daaroor te handel nie, maar wil tog slegs enkele aanduidinge gee.

By norme het ons nie met onderworpenheid en opstandigheid in die eerste plek te doen nie, maar met gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid. Dit is moeilik om norme te formuleer, want hulle is wydvertak. Daar is norme vir die gesin, vir die bedryf, vir die beroep. Onlangs het daar etiese werke verskyn wat juis midde in die volle lewe kom staan, midde in die lewe tussen die sonde, waar die norm verrykend inkom met sy behorens-eis. Ons verwys na werke waarvan ons alleen die titel aanhaal: Ethiek van de geldbesteding, Ethiek van het verkeer, De Ethiek van het Immoralisme, Ethiek van het straffen, Politiek ethos, De Ethiek in de verkondiging.

Wolfgang Schrage waarsku teen die relativerende tendens om etiek te laat opgaan in situasie-etiek of kasuistiek, om alles wat vroeër vasgestaan het op los skroewe te plaas en van die Etiek te verwag dat hy rekening moet hou met die veranderde omstandighede. Maar, so stel hy dit, ons moet ook vir twee uiterstes op ons hoede wees:

Ons kan ou gebruike verabsoluteer en daaraan krampagtig vashou — en dan beland ons in die situasie dat ons op ’n spoor loop wat volkome langs die lewe loop, altyd ontevrede as stuurman op die wal staan, altyd vol kritiek slegs negatief die lewe veroordeel. Die ander uiterste is natuurlik dat ons midde in die lewe saam kom wandel, sonder dat die lewe verryk word. In die eerste geval kry ons ’n verouderde sede en ’n antikwariese lewenspatroon. So ’n toestand bring konflikte binne die kerk en huisgesinne. Eintlik het ons dan geen etiese boodskap meer nie, maar is positief arm. In die tweede geval het ons glad geen eie Christelike sede of sedeleer meer nie en kan slegs spreek van ’n Christelik-getinte sede.

By norme verkry ons nie maar ’n menigvuldigheid nie, want dan het ons disintegrasie. Ons het ’n eenheid, omdat norme deur die beginsel bepaal word en beheers word. Ons het dus te doen met differensiasie. Die vaste eenheidsbeginsel, Gods heilige Woord, is die waarborg dat ons in die groot verskeidenheid van norme ’n groot differensiasie kry: algemeengeldige norme en dan ook weer besondere norme. Norm oortreding of -aanvaarding moet altyd teruggevoer word tot Skrifonderwerping of Skrifverwerping.

Vertikale onderworpenheid aan God as Wetgewer is die eerste eis vir horisontale gehoorsaamheid aan etiese norme wat gegrond is op Gods Wet. Die Skrif kom met die eis om totale verantwoordelikheid en stel die mens voor die grondeis dat hy alles aan God verskuldig is. Hierdie sentrale grond word verbesonder in die verskillende norme. Die Christelike Etiek wil die vertikale band aan God vashou en op grond daarvan die norme vir die Christelike lewe positiveer.

Die Etiek gaan uit van die Koning, die Koning met sy koninkryk en die burgers van daardie ryk. Dit gaan dus hier inderdaad nie maar net om ’n lewe nie, maar ’n lewe binne die koninkryk, hierdie koninkryk met sy eie wet en wat eis dat daar geleef word volgens vaste norme.

BIBLIOGRAFIE

Bavinck, H.: Gereformeerde Dogmatiek. Hedendaagsche Moraal.

Berkouwer, G. C.: Dogmatische Studiën; De Zonde De mens het beeld Gods.

Brillenburg-Wurth, G.: Het Christelijke Leven. Liefde In haar verschijningsvormen.

Cadier, Jean: Calvin’s view of the Christian life in: International Reformed Bulletin July 1964. Calvyn, J.: Institutie.

Du Plessis, P. G. W.: Opskorting van die etiese?

Geesink, W.: Gereformeerde Ethiek. Van’s Heeren Ordinantieën.

Honig, A, G.: Dogmatiek en Ethiek.

Kuyper, A.: Encyclopaedie der Heilige Godgeleerdheid.

Schrage .Wolfgang: Die konkreten Einzelgebote in der paulinishen Paranase.

Stoker, H. G.: Die grond van die sedelike.

_______________________________
* Sub-opskrif bygevoeg.

EINDNOTAS:

[1] Die tien gebooie (Ex. 20; Deut. 5).

[2] Prof. Paul de Bruyn beskryf hierdie 3 terme as volg: “Outonome is norme wat ‘n mens uit homself daarstel. Dit beteken dat die mens self bepaal wat goed en sleg is. Heteronome norme is norme wat deur ‘n instansie buite die mens daar gestel word, byvoorbeeld die kerk, die staat, die universiteit, ensovoorts. Aan die hand van hierdie norme moet bepaal word of ‘n optrede goed of sleg is. Teonome norme is norme wat God in sy Woord gegee het. In die lig van God se Woord moet die goed of sleg van ‘n persoon se optrede bepaal word. Die Tien Gebooie vervul in hierdie verband ‘n baie belangrike funksie.” (Die Tien Gebooie, Potchefstroom: PT Publikasies,  bl. 2)

[3] Alle gereformeerde gelowiges deur die eeue, is kragtens die gereformeerde belydenisskrifte van die 16de en 17de eeu volgens die Skrif,teonomiste (met ‘n klein ‘t’), sien bv. NGB artikel 24,25,36; HK Sondag 2, 33-44; DL 1.13; 5.2.5.  Daar is egter ook ‘n spesifieke beweging, genaamd Teonomie (met ‘n hoofletter ‘T’) wat onder die Noord Amerikaanse gereformeerdes ontstaan het wat sekere unieke beklemtonings en bydraes het tot die onderwerp van God se wet vir die hele lewe, onder leiding van persone soos RJ Rushdoony, Greg L. Bahnsen, Kenneth L. Gentry en andere. Sien hier my artikel oor RJ Ruhdoony en hier verdere artikels oor teonomie oor die algemeen.

[4] ‘Van die vorige of voorafgaande, eerste’ = (1) a self-evident truth that does not need to be proved. (2) knowledge that is independent of sensory impression. (3) proceeding by deduction from cause to effect. (4) a presupposition.

[5] “Waarsonder nie”, ‘n voorwaarde waarsonder iets nie kan wees nie.

[6] Sien HK, v/a 60, 114, 127.

[7] In die teenwoordigheid of voor die aangesig van God.  Dit is waarmee die Nederlandse Geloofsbelydenis ook begin, sien NGB artikel 1, nl. “God is…” en dan volg die norm/inhoud/openbaring, NGB artikel 2-7, en dan volg die inhoud van wat ons glo saamgevat, NGB artikels 8-37.

[8] Ook genoem die ‘natuurwet’, sien Romeine 2:14. Sien ook Romeine 1:18-32, veral verse 19 en 32.

[9] Jesus se woorde in Matt. 5:17,  “MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Daar was deur al die eeue groot debatte en verskille oor presies wat die woord ‘vervul’ beteken. Die Statenvertaling se verklarende kanttekeninge by hierdie vers: “Dat is, de leer der Wet of der Profeten te veranderen of teniet te doen. … Dat is, te verklaren, te onderhouden, en wat tevoren afgebeeld en voorzegd is, te volbrengen.” Wilhemus à Brakel skryf as volg oor hierdie versgedeelte: “It is evident that the reference here is not to the ceremonial law, since Christ, being its embodiment, has abrogated it and the apostles have preached it as having been abrogated. Neither is he who maintains this abrogation the least, nor is he superior who now teaches and practices it. Christ here speaks of the moral law of the ten commandments, which is evident from both what is said and from what follows. For Christ quotes several of these commandments, gives the correct exposition, and purifies them from the false exposition of “them of old.” Christ has fulfilled this law. This does not imply that He, having fulfilled it by His active obedience, has abrogated this law, or that He has improved that which was imperfect in the law, having given a more perfect law instead; rather, to fulfil means to do. “Whosoever shall do them…” (Matt 5:19); “He that loveth another hath fulfilled the law” (Rom 13:8); “… and so fulfil the law of Christ” (Gal 6:2). In this manner Paul “fully preached the gospel of Christ” (Rom 15:19), and fulfilled the Word of God (Col 1:25). Of this law Christ says that He will not destroy it, that not one jot or tittle shall pass from this law until heaven and earth shall pass away, and that he who will break and reject the least commandment (in contrast to the greatest commandment in Matt 22:38) will be the least in the kingdom of heaven. This means that he will not be in it, which is also the meaning of being the least (cf. Matt 20:16; Luke 13:30). It thus proves to be irrefutably true that the law of the ten commandments is a rule of eternal duration. (The Christian’s Reasonable Service, volume 3, p. 56)

[10] Jesus se eie woorde in Matteus 4:4, “Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” Paulus se woorde in 2 Tim. 3:16-17,  “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Ti 3:16–17)

[11]En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12:1–2) “WANT die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Tit. 2:11–12; sien ook Kol. 3 lewenswyse van die afsterwe van die ou mens en die opneem van die nuwe mens, asook hoe ons dit bely en leer in HK, Sondag 33.

[12] Nomisme is om die wet onwettiglik te gebruik, contra 1 Tim. 1:8, dus om God se wet te gebruik in stryd met wat God daarmee bedoel het deur die Skrifopenbaring.  Dit kom veral tot uiting in die sondige menslike poging om gered te word, of geregverdig te word deur die wet, dus deur wetsonderhouding, sien Rom. 3:28; 10:3,4; Gal. 5:4; Filp. 3:9. Sien ook meer oor die beskrywing van die twee ‘misbruike’ van die wet, nl. nomisme (legalisme/wettisisme) en antinomisme, hier: Wat is Antinomianisme?

[13] Die pedagogiese en normatiewe/didaktiese gebruik van die wet. Daar is wat genoem word die ‘drie-delige’ indeling, karakter of gebruike van die wet. Die siviele gebruik (usus politicus sive civilis), die pedagogiese gebruik (usus elenchticus sive paedagogicus) en die normatiewe gebruik (usus didacticus sive normativus). Sien hierdie artikel wat dit verder verduidelik: God se wet vir vandag: ‘n paar opmerkings.

[14] Bavinck skryf oor die twee gebruike of tweërlei karakter van die wet: “De Gereformeerden dachten er echter heel anders over (as die Lutherane – slc). De usus politicus en de usus paedagogicus van de wet zijn slechts toevallig nodig geworden door de zonde; ook als deze wegvallen, blijft de voornaamste usus, de usus didacticus, normativus over. De wet is toch uitdrukking van Gods wezen; Christus was als mens vanzelf voor zichzelf aan de wet onderworpen; Adam had vóór de val de wet in zijn hart geschreven; bij de gelovige wordt zij weer op de tafelen van zijn harten gegrift door de Heilige Geest; en in de hemel zullen allen wandelen naar de wet van de Heere.”

[15] Sondag 3.

[16] HK Sondag 2, v/a 5.

__________________________________

Artikels oor wet en evangelie

Artikels oor die wet

One thought on “GODS WET EN DIE “ANDER” (SONDIGE) WET – ETIEK GAAN UIT VAN DIE KONING!

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑