Preek: Nie net die NT (Matt. 1:18-23) nie, maar Jesaja 7:14 inherent self leer dat die Christus uit die MAAGD Maria gebore sou word … en hoe wesentlik belangrik dit is vir ons enigste Troos in lewe en sterwe, en in gees en liggaam!
Lees: Jesaja 7 en Matteus 1Tekste: “Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem.” (Jes. 7:14), en, “Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.” (Matt. 1:23)
HK Sondag 14: Vraag 35: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria? Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly, die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het. So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid, in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde.
Geliefdes in Christus,
Elkeen van die vier evangelies gaan oor die koms, werke en betekenis van ons Here Jesus Christus.
Elkeen het egter sy eie beklemtoning.
Vir Matteus is die sentrale tema, wat regdeur sy evangelie loop, die koms van die Koninkryk van God, in die persoon en werke van Jesus Christus.
Die frase “koninkryk van die hemele’ of ‘koninkryk van God’ loop regdeur die Matteus – evangelie.
Dink maar aan Johannes die Doper se oproep in Matt. 3:2,3:
“IN daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
En dan eindig die evangelie met die Koning van hierdie Koninkryk wat sê alle mag behoort aan Hom, sy dissipels moet nou alle volke dissipel in die Naam en leer om alles te onderhou – Matt.28:16-20.
In Matt.1 het ons gelees van die afkoms, van hierdie Koning van die konings,
Die Here van die here, wat ons bely as ‘Here volgens Sondag 13 … (lees)
Matteus wil aan die Jode wys WIE hierdie Koning is wat opgedaag het.
En Hy doen dit meesterlik in twee groot dele:
– in verse 1-17 val die klem op sy menslike afkoms, en
– in verse 18-25 val dit op sy goddelike afkoms.
In Sondag 5 en 6 het ons dit reeds bely volgens die Heilige Skrif:
Vraag 15: Hoe ’n middelaar en verlosser moet ons dan soek? Antwoord: So een wat ’n ware en regverdige mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is.
Ware regverdige mens én tegelykertyd ware God.
Dit is die Koning van die Koninkryk van God waarvan ons hoor hier in Matt.1.
In ons huidige Kategismus, Sondag 14, gaan dit dan spesifiek oor Christus se goddelike afkoms en daarom kyk ons na veral verse 18-25 in Matteus 1.
Ons bely in antwoord 35 ‘dat die ewige Seun van God, ware en ewige God is en bly, die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het.’
Die belydenis is begrond in die woorde wat die engel tot Josef gespreek het,
toe hy gewonder het wat om nou met die swanger Maria te doen, v.20-23:
Vers 22 sê, dit het alles gebeur SODAT die woord vervul sal word wat die Here deur die profeet gespreek het, en dan volg die aanhaling uit Jes.7:14 as skrifbegronding.
In Jesaja 7 weier koning Agas van Juda om ‘n teken te eis van die Here, omdat hy – volgens 2 Kon. 16:7- reeds hulp gaan soek het by Assirië, by mense, by politieke magte.
Deur die eeue, tot vandag toe was daar al groot verskil in verklaring van hierdie gedeelte waarin ons Jes.7:14 vind, en ons moet ons daarom so bietjie hierby stilstaan, juis in ons tye waar daar soveel aanslae is teen die Godheid van Christus, onder andere teen sy maagdelike geboorte (opmerking oor ‘beteken’ [v.35] en ‘nut verkry’ [36]):
- wie is die maagd: was dit Agas of Jesaja se vrou … of die latere maagd Maria?
- wat is ‘n maagd: bloot ‘n jongmeisie, ongetroud of getroud voor sy kinders kry; of ‘n jongmeisie wat nog geen seksuele verhoudinge gehad het nie?
- wie is die Immanuel: ‘n tydgenoot van Jesaja … of Christus self?
Daar is oor die algemeen drie verklarings:
- dit wys bloot net na persone in die 8ste eeu vC, en die Nuwe Testament herinterpreteer dit vir die eerste eeu, ‘maak dit’ van toepassing op Christus in nuwe tye en omstandighede (sien die Bybel en Praktyk verklarings by daardie verse asook Matteus 1).
- Tipologiese verklaring: deur die persone van die 8ste eeu is dit duidelike heenwysings na Christus
- Messiaanse verklaring: dit verwys eksplisiet na Christus, en is daarom van toepassing vir die 8ste eeu … en alle eeue en tye, vandag nog.
Vir ons gereformeerdes is laasgenoemde twee standpunte die gesonde debat waarbinne om te beweeg.
Graag wys ek egter aan u dat volgens die konteks van die hele Skrif self,
a) dus van Jesaja self,
b) asook die res van die Skrif, veral Matteus 1,
dat ons hier te doen het met ‘n eksplisiete uitdruklike Messiaanse profesie, wat gegee is in die vorm van ‘n wonderteken (ns. ja, die hele Skrif, van begin tot einde gaan oor God Drie-enig, ook dus oor Christus, maar daar is sekere gedeeltes wat nog meer direk eksplisiet in die OT op Christus dui).
Die redes daarvoor is as volg:
1) Die aangesprokene gehoor in die 8ste gaan die onmiddelike historiese konteks ver na bowe in Jesaja se tyd, as net Agas se spesifieke tyd, die Woord van God is ‘tydsgerig, maar nie tydsgebonde‘ nie (sien Matt. 5:18; Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11; 1 Petr. 1:10-12):
13 Toe sê hy: Luister tog, o huis van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei, dat julle my God ook vermoei nie?
2) Die teken wys op ‘n besondere unieke gebeurtenis, nie ‘n blote nog ‘n normale swangerskap van ‘n jongmeisie nie:
Eis vir jou ’n teken van die HERE jou God: sak diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe. – v.11
3) Die woord vir maagd in Hebreeus is alma, wat woordverklaarders oor verskil. Die woord dui egter ook op ‘n jongmeisie wat ongetroud is en geen seksuele gemeenskap het nie. Die Griekse vertaling van die OT, die Septuagint vertaal die woord as parthenos, wat maagd beteken en in die Heilige Gees verkose Grieks spesifiek en duidelik wys na ‘n meisie wat geen geslagsgemeenskap ondergaan het nie.
Verder kan daar ook ‘n saak gemaak word daarvoor dat die maagd swanger is terwyl sy in die toestand van maagdelikheid is.
4) Die onmiddelike konteks van Jesaja 7 gee nie enige duidelike aanduiding dat die seun Hiskia, die seun van Agas is, of dat dit die seun van Jesaja is nie.
5) Inteendeel, in die lig van Jes. 9:5,6; 11:1 en hfst. 53 is dit baie duidelik dat hier van die Kneg van die Here, die volkome God en volkome mens, Jesus Christus wat oppad is, self gepraat word.
6) En dan, die Nuwe Testament, Matteus 1, verklaar die Heilige Gees vir ons duidelik wat nog enigsins vir ons onduidelik was in die OT (sien die beginsel van duidelik na nog meer duidelik soos genoem in NGB artikel 9 aangaande die leer van die Drie-eenheid volgens die Skrif, wat ook vir die leer oor die maagdelike geboorte geld, sien artikel 10, 18, 19):
22 En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: 23 Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.
Daar staan dit duidelik in vers 22: En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het …
En die godsvresende Josef wat sekerlik sy (OT) Bybel geken het, wat Jesaja 7:14 herken het, lees ons in vers 25 “en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie”
Dit bevestig die feit dat Jes. 7:14, dat alma, in daardie bepaalde konteks, moes gedui het op ‘n letterlike maagd, ‘n jongmeisie wat nog nie seksueel verkeer het nie, en in haar toestand van geen seksuele verkeer op ‘n wonderbaarlike wyse swanger gaan word, en ‘n Seun baar. (“In die Griekse woord, Matt. 1:23, lê die nadruk op die feit dat sy ‘n maagd was.”, Bybel met Verklarende Aantekeninge, volume 2)
En JUIS daardie Messiaanse profetiese woorde in die 8ste eeu voor Christus, het betrekking gehad op ware gelowiges daar in die 8ste eeu, dit was die ware kerk van groot ewige Troos, want hul Verlosser is oppad die Kneg van die HERE,! (sien Jes. 9, 40-42 en 53!). Net soos die messiaanse belofte van die wederkoms al vir plus 2000 jaar ‘n troos is vir die ware gelowiges, so is dit ook vir ons vandag ‘n troos, al weet ons nie wanneer die wederkoms gaan plaasvind in die toekoms nie, of dit môre of oor 2000 jaar is nie! So was die Messiaanse belofte en profesie 800 jaar vC al reeds ‘n troos vir gelowiges in daardie tyd deur verskillende profesieë tipes, beelde, ens., ja wesentlik belangrik, wanneer dit ook sou plaasvind vanuit daardie geslag gesien wat die toekomsverwagting gehad het.
En die doel van die maagdelike geboorte wat geprofeteer word, was juis dat Hy, in die woorde van antwoord 35, “tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid, in alles aan sy broer gelyk, behalwe die sonde” sou wees.
Nou die goddelike afkoms van hierdie seun van Dawid, die seun van Abraham, 1:1, word bevestig deur die gedeelte wat ook oor sy menslikheid gaan, v.1-17
Die sentrale woord of frase van hierdie hele gedeelte, is die woord ‘geslagsregister’ in vers 1:
Dit is die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Dawid.
Die griekse woord is: geneseoo
Dink maar aan gene, geneologie.
En hier kom die werkwoordvorm van hierdie woord, in elke vers voor tot in vers 16, altesaam 40 keer!
Nou die OAV en die NAV parafraseer hierdie woord omdat dit so baie herhaal word, so die OAV is ook biejtie vry hier, as dit hierdie woord vertaal as op die volgende manier:
“Abraham was die vader van Isak”
Meer letterlik sou daar staan: “Abraham het vir Isak verwek”
En hierdie ‘verwek’ moet dan in elke vers en frase aangedui word, maar die OAV het bloot te veel herhaling weggelaat of vervang met die woorde ‘was die vader’
Die Engelse NKJV vertaal dit korrek letterlik met: “Abraham begot Isaac …” ens.
Hierdie frase ‘verwek’ of ‘vader was’ is almal, van verse 2-15 in die (indikatief, aoristos, aktief), d.w.s. die mense, vaders wat almal genoem word, het handelend opgetree, aktief om die vaders te word, kinders te verwek.
Nou, belangrik, in vers 16 is daar die skielike verandering en uitsondering.
Daar lees ons:
“…en Jakob die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.” – Matt. 1:16
Hierdie woorde ‘uit wie gebore is’, in die Grieks is dieselfde griekse woord as al die ander in verse 1-15, d.w.s. verwek, of uit wie gebore is, MAAR met die wesentlike groot verskil
Dit is ‘n indikatief, aoristos PASSIEF!
D.w.s. daar word iets gedoen aan Maria, nie die man wat handel in die seksuele daad nie, maar Maria, wat passief ontvang, mee gehandel word!
Daarom ook die duidelike verskil tussen Maria se geval, en by Ragab in v.5
Rut by v.5 lees ons by Uria se vrou in v.6,
By al die gevalle is die vaders die handelende persone, nie met Josef nie.
Daar is Maria die blote ontvanger!
En dit word verduidelik, juis deur v. 20 “want wat in haar verwek is (weereens ‘n passief), is van die Heilige Gees.
So sien ons pragtig, in die taal van die Bybel, hoe Jesus se goddelikheid bevestig word,
dat Hy uit ‘n maagd gebore is, soos ons bely in Sondag 14. volgens die Skrif van Jesaja 7 en Matt. 1
Maar, as ons nou verstaan wat dit beteken [v/a 35], is die volgende vraag [36]:
Watter nut kry ons nou uit hierdie “heilige ontvangenis en geboorte van Christus” ?
Die antwoord vind ons in die woorde van vers 21:
“… en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. – Mat 1:21
Die betekenis van Jesus se naam, sien weer v/a 29, is dat Hy ons van die sondes SAL verlos.
Dit word in die toekoms gestel as ‘n vaste sekerheid, wanneer dit ookal toegepas word vir elke uitverkorene deur wedergeboorte, geloof en bekering.
Nie dalk nie, maar SAL.
En dit sien ons alreeds ook in die geslagslyn van ons Here Jesus Christus:
– die vermelding van sondaars oor die algemeen, se name,
– maar in die besonder, lees ons in vers 3, 5, en 6:
Onthou dit is die koninklike lyn, die adelafstand, en tog lees ons:
en Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar (bloedskande!), en Peres was die vader van Hesron, en Hesron die vader van Ram, – Mat 1:3
5 en Salmon die vader van Boas by Ragab (die hoer), en Boas die vader van Obed by Rut (die Moabiet), en Obed die vader van Isai,
6 en Isai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría (Dawid, die egbreker),
En so kan ons deur die hele geslagsregister gaan:
– Abraham met sy leuens, en mistappe met Hagar
– Jakob, die misleier en leuenaar
– Salomo die veelwywer by uitstek, ens!
Almal SONDAARS, maar wat moes vashou aan die belofte dat Een sou kom, in die woorde van antwoord 36, wat “ONS MIDDELAAR is en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.”
En AS Jesus nie uit die MAAGD Maria gebore was nie, was ons almal nou nog verlore, tot in ewigheid!
Ja, geliefde, ek en u word in SONDE ontvang en gebore,
Ons ontvang die erfsmet en dra erfskuld met ons, soos gesing in Ps. 51.
Hoor die woorde van ons belydenis in NGB art.15 …. (lees) “… verdoem.”
Ons het een nodig wat wel gebore is as volkome mens om ons straf te dra,
MAAR self nie in sonde ontvang en gebore nie!
NGB art.18 vat dit as volg saam:
“Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van ‘n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie, maar ook ‘n egte menslike siel om so ‘n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om altwee te red, aangesien albei verlore was.”
En daarom, o al die lof en dank aan God vir Hom wat gekom het,
IMMANUEL … God met ons! (1:23), DEUR die maagdelike ontvangenis en geboorte.
En omdat God met ons is … kan ons ook nou saam met Hom wees, vir altyd!
WANT SY VOLKOME HEILIGHEID BEDEK MY SONDE!
Ja, ‘n vorige keer het ons dit gehoor, daar uit Openbaring 14,
WIE staan saam met die Lam van God op die berg Sion?
Die 144 000, elke kind van God, wie se naam opgeteken is in die Boek van die lewe, gewas in sy bloed, BEDEK DEUR SY BLOED, rein in Christus se volmaakte werke!
Ons is NOU deel van die ‘geslagregister van genade’,
ja, nie spesifiek as Jesus se fisiese voorsate (of nasate) nie (Mat.1), nie ‘natuurlik’ nie,
maar as genade vrug van sy volkome werke:
Matt.1:21, … want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos …”
En daarom is ons nou die geestelike nageslag van God, die geestelike saad van die vrou
Soos ons bely daar in So.13, ‘uit genade tot kinders van God aangeneem is’.
Geliefdes, die sonde het ons totale menswees geinfiltreer
Ons bloed, alle mense se bloed, ongeag van watter ras, geslag, taal, kleur of geur se bloed is vuil besmet met ‘n dodelike virus: sonde!
Daar is net een wat suiwer volkome bloed het, en gehad het
en daardie bloed het Hy vir sy volk, sy uitverkorenes gegee.
Roem daarom NIE in u fisiese besmette bloed nie, nie u eie of ‘n ander se bloed nie, maar alleen in die bloed van die Lam, gebore uit die maagd Maria!
Hou met u hele wese vas aan hierdie kosbare belydenis van ons ongetwyfelde Christelike geloof, dit is ‘n saak van lewe en dood, hemel en hel, en verwerp van harte enige valse profete wat hierdie wonderwerk leerstuk van die heilige ontvangenis en maagdelike geboorte aantas of wil verdraai. Onthou die waarskuwing en oproep van 2 Tim. 4:1-5!
Hoor daarom weer die woorde van die evangelie volgens Johannes, in hfst.1:
12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; 13 wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is. 14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.
Mag ons elkeen afsonderlik, én saam as gemeente aanhou glo en bely volgens die Skrif, volgens Jesaja 7 en Matteus 1 (en die res van die Heilige Skrif),
“Ek/Ons glo … in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria …”
Amen.
Leave a Reply