Die verval van die Vrygemaakte Gereformeerde Kerke in Nederland (GKv) en wat ons daaruit moet leer

DIE VERVAL VAN DIE GK(V) EN WAT ONS DAARUIT MOET LEER

Inleiding

Ek plaas hier onder met die nodige toestemming en erkenning aan Kompas kerklike tydskrif van die VGKSA, ds. FJ Bijzet se artikel aangaande sy ‘bestekopname’ van die GK(v) in Nederland (Kompas, Junie 2022).

Mag ons as gelowiges, gemeentes en kerkverbande in SA ook nederig die volgende daaruit leer:

  • sola Scriptura moet ons hele lewe bepaal, ook en veral ons kerklike lewe, nie sola practica nie, naamlik, die Skrif moet alles bepaal, nie die praktyk nie.
  • Verkondig die Woord, skepping-sonde-Verlossing-dankbaarheid-verheerliking, en doen dit tydig en ontydig (2 Tim. 4:1-5), want dit is ware liefde vir God en die naaste, dit is wat goed is vir mense en vir die kerk van Christus, en nie wat mense se ‘behoeftes en begeertes’ is nie (2 Tim. 3:14-4:5).
  • Erediens beteken ‘eer aan God’, nie mense se eer en agendas nie. En as ons God eer soos Hy Homself geopenbaar het, sal dit lei tot ware liefde en diens van die naaste, sien 1 Joh. 4.
  • God is beide heilig én genadig in Christus, die beklemtoon van die een of ander eienskap lei tot baie dwalinge, hou vas aan wat die Skrif openbaar aangaande God (Sondag 8, HK), nie die gode wat mense wil skep van die enigste ware God om hul ‘behoeftes’ te dien nie. Ons moet by God aanpas, Hy nie by ons nie.
  • Wees besorg oor waar toekomstige predikante hul teologiese opleiding ontvang, want dit is hulle wat die Woord tydig en ontydig, in ons huise, gemeentes én gemeenskappe moet verkondig (Hand. 17:15-34; 20:17-38).
  • Susters in die besondere ampte is ‘n teken van ‘n verkeerde Skrifbeskouing, verkeerde kerkregering en verkeerde siening van die roeping van man en vrouwees tot eer van God en die diens aan die naaste … die slagspreuk ‘geslag maak nie saak in die kerk nie’ (VIDA), lei tot ‘geslag maak nie saak in die gesin en gemeenskap nie’ (HIDA) = die LGBTQ agenda wat volg … en die res van al die alfabetiese dwalinge wat gaan volg…
  • die belangrikheid van NGB artikel 29, veral die 3rde kenmerk van ware lewendige kerkwees, nl. die toepassing van die tug op hul wat afdwaal in leer en/of lewe.
  • Sommige ‘verdere studie’ aanstellings is bloot ‘n strategiese manipulasie om ‘n dwaling op die tafel te hou onder die dekmantel van ‘ons moet verder biddend studeer’. In die woorde van Kierkegaard: “The matter is quite simple. The Bible is very easy to understand. But we Christians are a bunch of scheming swindlers. We pretend to be unable to understand it because we know very well that the minute we understand, we are obliged to act accordingly”.
  • Mag die Here ons kerkverband bewaar daarvan om dieselfde pad te bewandel, en dat die liefdevolle tug toegepas sal word op daardie gemeentes wat al meer ‘sola practica’ begin volg soos dit tot uiting kom in die VIDA saak, mag die komende GKSA sinode 2023 vashou aan die ware gereformeerde leer tot eer van God en heil van ons naaste.
  • Mag ons kerkverband ook alleen eenheidsbande soek met gemeentes en kerkverbandE met wie ons waarlik een is in leer, diens en tug, en bande breek met hulle wat nie wil terug reformeer na die Skrif nie (1 Tim. 6:3-6).

____________________________________________

DIE GKV – WAT GAAN AAN?

Ds. F.J. Bijzet, emeritus-predikant van die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad.  Verwerking van die artikel “Wat is er in de GKv aan de hand?” gepubliseer op eeninwaarheid.info.

Indien jy ‘n bestekopname maak van wat in die Gereformeerde Kerken (vrijgemaakt) (GKv) in Nederland aan die gang is, sal jy jouself onwillekeurig afvra: hoe en wanneer het dit begin?  Meer as een bekommerde skrywer het dit sien kom toe daar in die GKv, asook in die Teologiese Universiteit in Kampen (TUK), geluide begin opklink het dat die hoorder ‘n groter rol in die preek-proses moet speel.  Tot dan het die predikant te sterk op die teks van die preek gekonsentreer en hy sou hom meer moes verdiep in hoe die teks nog relevant kan wees vir die moderne hoorder.

Kernoorsaak

Prof. dr. J. Douma het in sy biografie geskryf dat hy dit reeds rondom 2001 raakgeloop het.  Prof. dr. J. van Bruggen het die saak tydens sy afskeidsrede aan die orde gestel: moet ons inderdaad in hierdie rigting beweeg, dat die hoorder en leser van God se Woord bepaal wat die betekenis is van wat daar staan, vir sy eie tyd- en leefwêreld?  Nee!

Minder as 10 jaar later, in 2010, het dr. H.J.C.C.J. Wilschut tot dieselfde slotsom gekom en dit selfs sterker uitgedruk: dat God in baie opsigte nie meer in die middelpunt staan nie, maar die mens.  In hoeveel gesprekke is die belangrikste vraag nie meer: “hoe die Here dit wil hê soos Hy in sy Woord sê” nie, maar: “wat is die behoefte van die mens en wat dink hy daaroor?”

Die fokus het verskuif van die God-oorgelewerde-teks van die Bybel na wat dit aan ‘n mens doen … en vervolgens al hoe meer na wat die mens met die Bybel doen.

Prediking

Ook al is dit maar een (maar wel ‘n belangrike!) van die wortels van veranderings, moet ons wel raaksien wat hieruit voortgekom het.  Hoe die kerkdienste beleef word, is beïnvloed.  ‘n Nuwe generasie predikante het gepoog om preke aanloklik te maak, ten koste van deeglike eksegese en diepgang.  Net so moes die liturgie opwindend wees.

‘n Eensydige beklemtoning van die verlossing het tot gevolg gehad dat die sonde al hoe minder aangespreek is.  Predikante wat dit nog wel bly doen het, is dikwels vewyt: “Preek vir ons die genade, dominee!” Asof ‘n mens dit los van sondeskuld kan doen.  Die gevolg is dat prediking nie meer konfronterend en appèllerend is nie, maar dis eerder goed-voel-prediking.  Hierdie preke bring nie meer ‘n verslaentheid van hart nie.

Net soos met die prediking, is daar tydens Bybelstudies meer aktuele temas behandel in plaas van Bybelgedeeltes.  En die konsekwente kategismusprediking het begin afwater.  Natuurlik, want die eerste hoofstuk van die Heidelbergse Kategismus begin met die mens se ellende en God se toorn op ons rebellie – en wie sal nog vir so ‘n boodskap kerk toe wil kom, laat staan in ‘n middagdiens!

Aanpassing van eredienste

En ja, wanneer die hoorder ‘n prominente rol in die erediens speel, moet jy natuurlik oog hê vir mense van buite af ook.  Dus: gereelde laedrempeldienste.  In die kategese vind hierdie verskuiwing ook neerslag deurdat dikwels ongeskoolde vrywilligers die onderrig op hulle neem en daar nuwe kategesemetodes ingevoer is, wat dinge soos video’s, popliedjies, kunsprojekte en onderhoudsvoering insluit.

Veral ook by huweliksbevestigings kan daar baie buitestanders verwag word.  Was dit dan nie tyd om die huweliksformulier aan te pas nie?  Die oproep aan ‘n vrou om aan haar man onderdanig te wees, is regtig nie meer vandag gepas nie, word gesê.

Ook doopdienste lok dikwels baie gaste.  Maar is die eerste sinne in die doopsformulier tydens so ‘n feestelike diens nie ‘n uiters onwyse, onvanpaste wegspringplek nie?  Net soos die eerste doopvraag aan die ouers?  Ek het die huidige voorganger in die GKv Emmen al dikwels aan ouers hoor vra of hulle glo dat hul kind “in ‘n wêreld vol sonde en skuld gebore is …”  Let wel: die sonde en skuld is dus in die wêreld en nie in die kind self nie.  Die ou-ou dwaling van Pelagius.

Met hierdie veranderende denke is ‘n groeiende kapitulasie vir die ewolusieteorie nie verbasend nie.  ‘n Mens kan nie vandag die letterlike verstaan van Genesis 1 verkoop nie, kan jy?

Hierdie mensgesentreerdheid het ook ‘n “ek”-gesentreerdheid in die kerk voortgebring, ten koste van die gemeenskap van die heiliges.  Dit word gesien in onder meer die versuiming van die middagdiens (“ek” het daar geen behoefte aan; volgens “my” is dit nie nodig nie) en om ander kerke se dienste by te woon (“church (s)hopping”).  ‘n Baie skokkende ervaring vir my was toe jongmense openbare geloofsbelydenis in hul eie tuin afgelê het, met slegs vriende en familie van hul keuse teenwoordig, omdat hulle nie regtig met die ander gemeentelede verbonde voel nie.  Let wel: die gemeente met wie hulle van nou af saam die nagmaal wou vier!

Seksualiteit

In hierdie nuwe ‘lig’ weet die mens nie meer mooi wat om te doen met waarskuwings, vermanings en tug nie.  Dit gebeur nog maar net sporadies en sake soos ongetroud saambly, egskeiding sonder egbreuk en hertrou daarna het aanvaarbaar geword.  Ook by homoseksualiteit en geslagsverandering is die norm nie meer God se skepping nie, maar hoe iemand voel.  Daar is GKv’s wat homoseksuele paartjies kerklik laat trou omdat hulle hierdie vorm van saamleef ook as ‘n deur-God-aanvaarde huwelik beskou.

Onafhanklikheid

Hoewel dit nie lyk asof dit ‘n direkte verband het nie, het die sentraliteit van die mens ook gelei tot onafhanklike optrede van predikante en kerkrade.  Indien ‘n predikant voel dat iets moontlik moet wees, doen hy dit ‘net’.  Wanneer kerkrade nie met kerklike afsprake saamstem nie, soos wat die kerkorde of sinode-uitsprake stipuleer, skuif hulle dit eenvoudig opsy en gaan hul eie gang.

En hierdie opgeëiste ruimte veroorsaak op sy beurt ‘n verskuiwing van kerklike grense.  Die GKv wou ook aan ‘n oorkoepelende, landelike sinode van ‘n hele paar kerkgenootskappe saamwerk om ‘n nuwe belydenis daar te stel waaraan alle deelnemende ‘kerke’ hulle kan verbind.  Minder as 12 artikels het in hierdie belydenis oorgebly!

Uiteraard moet artikels soos HK Sondag 30 vr. & antw. 80 in die slag bly: die Roomse mis kan mos nie meer ‘n ‘vervloekte afgodery’ genoem word nie?

Theologiese Universiteit Kampen

Dr. S. Paas is by die TUK aangestel.  In sy proefskrif het hy die “kleed van Skrifkritikus” aangetrek om met gespreksgenote ver in teologiese debatte te kan gaan.  Sedertdien het hy nooit weer daardie kleed uitgetrek nie.

En volgens die proefskrif van dr. Koert van Bekkum, dosent aan die TUK, moet ons nie die wonder van die stilstaande son en maan letterlik opneem nie, want die son en maan was vir die Kanaäniete van destyds net simbole van hul gode.

Vrou in die amp

Die druk om alle ampte vir vroue oop te stel, groei al jare.

Ook in hierdie saak blyk die kernvraag te wees: wat sal aan die mense van hierdie tyd nog ‘verkoop’ kan word?

Die saak het in 2005 tydens die algemene sinode in Amersfoort huiwerig ‘n aanvang geneem en is nie onmiddellik verwerp nie.  Studie-deputate is aangestel.

Die volgende algemene sinodes kon ook nie uitsluitsel bereik nie en het telkens die saak aan nuwe deputate deurgegee.  Uiteindelik het daar in 2014, tydens die sinode te Ede, ‘n verslag op tafel gelê wat ruimte gegee het om die Bybel op so ‘n manier te lees dat vroue in alle ampte kan dien.

Die hoordergesentreerde manier van omgaan met die Bybel het hier baie duidelik na vore gekom.  Hoewel die deputate van mening was dat die Bybel duidelik daaroor is dat vroue alles in die kerk mag doen behalwe om die (leer)amp te vervul, het hierdie boodskap ‘n ongemaklikheid, verleentheid en ongeloofwaardigheid veroorsaak.  Volgens die deputate is hierdie reëele probleem ‘n pastorale probleem.  Dus nie ‘n teologiese, eksegetiese of hermeneutiese probleem nie, maar ‘n pastorale en toepassingsprobleem.

Hierdie sinode was nietemin huiwerig en het die hulp van 7 ‘swaargewigte’, professore van Kampen en Apeldoorn, ingeroep.  Al sewe het die verslag se argumente verwerp.  Prof. dr. Van Bruggen het selfs na die ‘gestrande skeepswrakke’ van die PKN en Christian Reformed Churches in Amerika en Kanada verwys: dit moet as waarskuwingsbakens dien.  Die sinode het toe nie die deputate se verslag aanvaar nie, maar verdere studie gelas.

Maar wat by die voordeur weggewys is, is by die agterdeur ingelaat.  Want daar is met betrekking tot die NGK gekonstateer dat die struikelblok (naamlik die NGK se besluit om ampte vir susters oop te stel) uit die weg geruim is: “ten spyte van die verskillende praktiese uitwerkings met betrekking tot vroue in die amp, blyk dit dat ons mekaar as ware kerke kan erken op grond van die aanvaarding van die gesag van die heilige Skrif.”  Die gesprekke met die NGK met die oog op kerklike eenheid is toe voortgesit.

Koersverandering

Tydens die volgende sinode, Meppel 2017, het hierdie saak momentum gekry.  Hoewel die soveelste deputateverslag nie deurslaggewende argumente kon aanvoer nie, is die volgende ontsnaproete gevind: dat beide sienings vanuit God se Woord verdedig kan word en dat ons mekaar nie aan een van beide mag bind, soos wat tot dusver gedoen is nie.

Dit was dus nie ‘n oortuigende Bybelse voorskrif wat uiteindelik die oë daarvoor oopgemaak het dat God se Woord tot nou toe verkeerd verstaan is nie.  Nee: dit is moontlik om met God se Woord twee opponerende sienings te verdedig.  Dus: wég met 2 Korinthiërs 1:19.

Daarna het dit in ‘n stroomversnelling beland.  Hulle het al gou met die NGK hande gevat en ‘n gemeenskaplike nagmaalsviering gereël. (Watter kerkraad het toesig gehou oor wie die nagmaal gebruik?  Het iemand nog geprotesteer?)  Ook is Almatine Leene, uit ‘n kerkverband waarmee die GKv nog nooit ‘n susterkerkverhouding gehad het nie, beroep en as “‘n wonder van die Gees” die kerkverband ingebring.  Ten spyte daarvan dat sy kort tevore in Stellenbosch die huwelik van ‘n gemeentelid met ‘n ateïs bevestig het en op hul uitdruklike versoek God se Naam nie daarby genoem het nie.  En verlede jaar was hierdie vroulike predikant die gasspreker by die TUK se jaarlikse opening …

Susterkerke

Hierdie ontwikkelings het nie ongesiens by die buitelandse susterkerke verby gegaan nie.  Tydens die 2011 algemene sinode te Harderwijk is daar al ernstige besware van verteenwoordigers ter tafel gelê.  Maar geen van dit is ter harte geneem nie en die koers waarin die GKv beweeg, is nie gekorrigeer nie.  Dit het gelei tot die verbreking van die susterkerkverhouding met Australië en later ook Kanada, terwyl Suid-Afrika die verhouding drasties afgeskaal het.  ‘n Ingrypende gebeurtenis was die skorsing van die GKv as lid van die ICRC.

Ommekeer?

Die groot vraag vir baie geskokte kerklidmate was: wat gaan die volgende sinode doen?  Gaan die sinode van Goes 2020, geskok deur hierdie reaksies, tot sy sinne kom?

Nee, inteendeel!  Dieselfde voorsitter as in Meppel is gekies.  En die stroomversnelling het ‘n waterval geword.  Die uitspraak dat beide interpretasies langs mekaar kan bestaan, is gehandhaaf.  Maar veral die siening dat vroue wél in alle ampte kan dien, is verdedig.  Die sinode-uitspraak van Meppel 2017 is gelegitimeer, dat sommige (hoeveel?) van die voorskrifte in die apostoliese briewe nie meer in ons tyd en kultuur van toepassing is nie en dat ons in hierdie gevalle presies die teenoorgestelde mag (moet!) doen as wat Paulus voorgeskryf het.

Eenwording met NGK

Die sinode van Goes het die proses van eenwording met die NGK in die hoogste rat geplaas.  Die struikelblokke wat daar nog was is gou uit die weg geruim – deurdat hoofsaaklik die GKv skuld bely het rondom die kerkstryd in 1967.

‘n Nuwe ondertekeningsformulier vir ampsdraers is ingevoer waaraan binding aan die drie formuliere van eenheid nie vereis word nie.  Want hoekom wel?  Daar word nou immers gewerk aan ‘n nuwe belydenis.  Dus sal daar in die toekoms waarskynlik nie meer die drie formuliere van eenheid wees nie, maar ‘n formulier wat baie ruimte aan die verdeeldheid bied!

Om by die Nederlandse Raad van Kerke aan te sluit was ook ‘n voor die hand liggende keuse.  Meer nog: waarom ook nie solank voorbrand maak om by die Wêreldraad van Kerke aan te sluit nie?  Want wanneer jou gereformeerde susterkerke in die ICRC jou skors, is dit seker vanselfsprekend om nuwe kerkvriende te soek wat by jou pas.

Gebed

Dit is die stand van sake in die GKv.  En dit is opvallend dat daar so min prinsipiële proteste gehoor word.  Min kerklidmate doen die moeite om te verstaan wat aangaan.  Elkeen doen wat goed is in sy eie oë.

Mensgesentreerdheid.

Laat ons aanhou bid vir ons broeders en susters.  Dat hulle kan insien hoe die GKv die  gereformeerde spoor byster gesraak het en dat hulle geloof, moed en krag sal ontvang om daarmee te breek.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: