TOTIUS: “Ek glo ‘in’ God … én … ‘aan’ die Kerk”

TOTIUS: “Ek glo ‘in’ God … én … ‘aan’ die Kerk”

“Deur die eeue, maar veral ook vandag, is daar die (tragiese) verskynsel van ‘kerklose of gemeentelose Christene’, wat vreemd is aan die Bybel en die gereformeerde geloof.

Die “gee my net 11 van die 12 artikels” van die Apostoliese geloofsbelydenis, nie artikel 9 nie…..

Kyk wat skryf Totius in sy artikel (‘Die kerk: moeder van die gelowiges’, VW, deel 2: 79), wat in 1945 geskryf was, post Tweede Wêreldoorlog, mense is verward en moedeloos, dit is nou ‘verby’ met ‘kerk, geloof en Christendom’, mense verlaat nou die kerke wêreldwyd, dit ‘werk nie meer nie’ en die vraag ontstaan: ‘moet ons nog kerklik wees?’ (my woorde).

Dit is wat gebeur as ek van God, Bybel en kerk afgode maak, en nié in Hom glo SOOS DIE WOORD HOM OPENBAAR en ook wat Hy van sy kerke/gemeentes leer nie (HK v/a 25).

Lees gerus hier verder wat Totius ons leer (en probeer die hele artikel en sy hele reeks oor ‘die kerk’ lees: VW, deel 2: bl. 79ev.).

Totius skryf onder andere:

“Kort kan ons die teenswoordige toestand aldus saamvat: Die skip van die kerk het in ‘n storm geloop. Dit is donker omheen. En voor Iê onbekende see. Moet die skip na ‘n stil hawe probeer uitwyk? Of moet dit koers hou? Moet dit laveer of met die wind afdrywe?

Op al hierdie vrae kan alleen uitsluitsel gegee word deur hierdie punte onder die oë te sien:

Waar is die kerk?
En wat is die kerk?

Dit alleen kan die seilkoers bepaal. Laat my begin met hierdie dieper liggende vraag:

Glo u in God?
In die Almagtige, wat met sy Raad die eeue regeer?

So ja, dan moet u ook glo aan die kerk, aan sy bestaan en voortbestaan, aan sy voleinding ter vervulling van die ewige welbehae van God.

Mag ek hier vooropstel dat die kerk in sy wese en kern ‘n voorwerp van geloof is. Sô is dit in die Twaalf Artikels bedoel, en sô het ons Gereformeerde vaders dit in hulle konfessies vasgelê.

Geheel konform die Woord van God.

Wie sê : Ek glo in God die Vader, in Jesus Christus die Middelaar, in die Heilige Gees, erken meteen dat hy deur sy geloof verborgenhede omhels. Maar dan moet hy nie wegswenk as hy by die artikel aangaande die kerk kom nie. Die heilige, algemene, Christelike kerk moet óók as verborgenheid geken word, sal ons volgens die Skrif die wese van die kerk reg bepaal.

Ten grondslag aan die kerk lê die uitverkiesing in Christus.

En die realisering daarvan is die saambringing van die gelowiges in Christus. Hier is die openbaarmaking van die ewige welbehae van God. Hier is ‘n geskenk uit die hemel. Word in die praktyk wel met hierdie waarheid rekening gehou dat die geloof aan die kerk ten nouste verbonde is aan die geloof in God?

As gevra word : Waar is die kerk? — dan kan nie gewys word op die leraar of die gesamentlike ampsdraers nie, want dit sou die lyn van Rome lê, waar die stelreël geld: Ubi papa, ibi ecclesia (waar die pous [priester?] is, daar is die kerk). Ons sê dit die Belydenis (art. 27, NGB) van harte na: ‘Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk wat ‘n heilige vergadering is van almal wat waarlik in Christus glo.’

Dié vergadering is die strydende kerk, het ‘n onsigbare sowel as sigbare sy. ‘n Onderskeiding wat wil aandui dat die kerk volgens sy geestelike kant onsigbaar is. Die kerk bly ‘n voorwerp van geloof:

‘Die inwendige geloof van die hart, die wedergeboorte, die waaragtige bekering, die verborge gemeenskap met Christus, ens., is geestelike goedere wat met die natuurlike oog nie waargeneem kan word nie en wat tog aan die kerk sy eintlike forma skenk’ (Bavinck: Dogmatiek, IV, bl. 329).

Die betekenis van hierdie eintlike ‘forma’ is fundamenteel.

Hier lê ons uitgangspunt, wat beslissend sal blyk by ons verdere beskouinge.

Al dadelik wil ek sê dat as daar sprake kom van ‘kerkvereniging’, die uitwendig-institutêre te veel in die oog gevat word. Ons moet uitgaan van die woorde van Jesus: ‘Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is’ (Joh. 17:22).

Met ander woorde, die eenheid van die kerk moet EERS IN DIE MIDDELAAR GESOEK WORD en kan dan eers suiwer na buite tree. Laat ons saamlewe uit die Middelaar deur sy bevel in ons openbaar-kerklike bestaan op te volg.

Om nou voorts tot die regte openbaarwording van die mistieke liggaam van Christus te kom moet as eerste vereiste gestel word die opheffing van die vaandel van DIE WAARHEID SOOS DIT IN CHRISTUS JESUS IS. Van dié waarheid doen ons belydenis in die Twaalf Artikels, wat verder in hulle regte betekenis in die Drie Formuliere van Enigheid vasgelê is.

Ek haal hier eers aan wat ek in die brosjure: Die Bybel is die Woord van God op bladsy 27 en 28 geskryf het:

‘Roep u voor die gees ‘n skipbreukeling wat rondswalk op ‘n wrakhout. Hy wanhoop aan sy lewe, maar meteens word die miswolke weggevaag, en hy sien die monumentale rotse van Tafelberg wat opklouter teen die lug. Sal hy nie uitjubel nie: Dààr is redding!

Dit en veel meer was die ervaring van die heiden wat die evangelie van Christus omhels het en kon sê: Ek glo in God die Almagtige.

Maar die skipbreukeling merk ook dat Tafelberg sy magtige rotswortel na die see toe onder hom instoot; hy voel dat hy hom aan ‘n rots kan vasklem. In oneindig hoër mate kon die gelowig geworde heiden uitroep: Ek glo in Jesus Christus, wat sy rotsarms onder my tot my redding inskuiwe.

‘En die Heilige Gees is dit wat hom nou bemoedig in sy berooidheid deur hom in te lei in die land van die lewendes.

‘MAAR DAN VOLG DIE BELYDENIS AANGAANDE DIE KERK. Daarvan sê dr. Wielenga (a.w., bl. 245) dit: ‘Al die artikels is taalkundig sober tot die uiterste toe, maar by hierdie artikel vind ons ‘n opeenstapeling van adjektiewe. Dit was geen berekening nie maar inspirasie. Ons kan ons nie indink met watter geesdrif die oudste Christene aan die kerk gedink het nie.’ “

Dan kan van harte voorts bely word die opgehoopte adjektiewe wat aandui die eenheid, heiligheid, algemeenheid en Christelikheid van die kerk.

Nou sal ek by hierdie frisse kleure wat vir ons die beeltenis van die kerk skilder, nie lank kan verwyl nie. Dit sal my te veel weglei. In die algemeen moet gesê word dat wat waar is in Christus, ook waar moet blyk in die lede van sy liggaam.”

(volgende keer: deel 2 oor die eenheid van die kerk)

___________________________________

* [Bron: Versamelde Werke, deel 5 (Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1977, bl. 330-333), opskrif en beklemtonings bygevoeg]

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: