GKSA: VAN 10-12 FEBRUARIE 1859 TOT 10-12 FEBRUARIE 2023

Inleidend
Ook in die jaar 2023 van ons Here Jesus Christus, die Koning van die Kerk, weet ons opnuut dat daar in die kerk wêreldwyd stryd sal wees om beide die eenheid en die heiligheid van die kerk te bewaar, in navolging van ons Here se gebed in Joh. 17 (sien Totius se artikel daaroor hier).  In SA se kerklike samelewing, sal dit ook nie anders wees nie.  In die GKSA is daar (groot) stryd op meerdere vergaderings, ook die pas afgelope algemene sinode (2023), meer daaroor later.

Midde dit alles, is ons opnuut nederig dankbaar as gelowiges in die Dopperkerke hierdie tyd van die jaar (10-12 Februarie), dat ons genadiglik deel kan wees van hierdie enigste Troos,

“… Dat die Seun van God uit die ganse menslike geslag, vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof, van die begin van die wêreld af tot aan die einde toe vergader, beskerm en onderhou;  en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly.” (HK Sondag 21)

In 2004, nog as ‘n teologiese student by TSP, het ek vir ‘n oorsese gereformeerde tydskrif ‘n artikel geskryf oor die kerkgeskiedenis van die GKSA, baie oorsigtelik, en LET WEL: net tot en met 2004.  Ek hoop om dalk iewers in die toekoms verder te skryf tot vandag toe ….

Die titel: ‘n Gereformeerde perspektief op die geskiedenis en huidige ontwikkelinge in die Gereformeerde Kerke van Suid Afrika (tot en met 2004)

[Hierdie artikel het oorspronklik in Engels in die Standard Bearer verskyn (kerklike tydskrif van die Protestant Reformed Churches of America), vol. 80, nrs. 13, 14, 16 (April-Mei 2004, beskikbaar by www.prca.org).  Die destydse SB redakteur het my gevra om ‘n artikel te skryf oor die kerklike verwikkelinge in die GKSA. Dit was begin 2004 en ek was nog ‘n student aan die Teologiese Skool in Potchefstroom.]

Ek plaas hier, slegs die deel van die ontstaan en herstigting van die GKSA, en die regverdiging daarvan, aangesien ons hierdie naweek ons herstigting gedenk:

DIE GEREFORMEERDE KERKE (1859)

Dirk Postma

Dirk Postma is gebore in 1818 in Dokkum, Nederland.  In 1840 word hy die predikant van die Christelike Gereformeerde Kerk van Minnertsga en ‘n leiersfiguur in die kerk. Met sy aankoms in die Transvaal, het hy en Ds. van der Hoff van die Ned Herv Kerk aan die begin ‘n goeie verhouding gehad.  By die Algemene Kerkvergadering van 10 Januarie 1859, is Postma se leer ondersoek en was die Vergadering tevrede. Hierdie vergadering het ook besluit dat evangeliese gesange behou moes word in die NHK.

Net soos die geval van die Ring van Graaf Reinet (1841) en die Kaapse Sinode (1847), was dit ‘n gewetensbinding, omdat hulle die beswaarde lidmate wou dwing om gesange te sing (contra NGB art. 7 en 32).  Die betrokke lidmate het geen keuse gehad nie, maar moes buig voor God of voor die mens (Hand. 5:29).  Daarom is 15 mans en hul gesinne, wat manne ingesluit het soos PJW Schutte, PH Snyman, SJ Kruger en Paul Kruger (wat later die bekende Staatspresident sou word van die Zuid Afrikaanse Republiek) as gevolg van die besluit, gedwing om die NHK te verlaat om die ‘Vrye Gereformeerde Kerk’ te vorm, volgens die leer, diens en dissipline van die Dordtse Sinode, 1618/19.

Deur hierdie optrede, is die Gereformeerde Kerk herstig op 11 Februarie 1859, op die basis van die belydenisskrifte en kerkorde van Dordt, 1618/19, met Ds. Dirk Postma as eerste leraar.  Dit was die vrug van dekadelange stryd teen die valse leer, diens en tug wat in die kerke opgeneem is deur die humanistiese gees van die verligtingseeu, en die mistiese metodisme wat die reaksie daarop was.

Volgens Postma, kon die gereformeerdes, na die hervestiging, “… God weer te ‘kunnen dienen naar zijn Woord’, Gods Woord as die finale gesagsbron, kenbron en toetssteen vir die kerk in al sy geledinge, leer, kerkregering, liturgie en lewe, mog nie ‘te loor gaat’ nie; inteendeel ‘Gods Woord boven alles volgens art. 7 onzer belijdenis (NGB)’  moet die heersende beginsel in die Kerk van die Here wees en nie ‘eigen goeddunken’ nie (sien ook v/a 91 en 96-98, HK – slc).  Aan die tug van daardie Woord moet die kerk van Christus hom in leer en lewe onderwerp.”

Een van die eerste lidmate, HJJ Kruger, het dit as volg gestel:

‘Na ‘n lange stryd, waarvan die spore soos aangetoon is, duidelik sigbaar is tot in die dertiger jare, na jare van verset teen valse leer gekoester binne die mure van die kerk, na jare van versugting ‘omdat de kerk de gewetens dwingen wil tot aanneming van menschlijke instellingen en leeringen strijdig met God’s Woord’, het die uitkoms eindelik gekom.’

Die verwerping van die Woord van God, die belydenisskrifte en die kerkorde van Dordt, die deformasie in leer, liturgie en kerklike tug, veral met betrekking tot die gesange, kon nie anders as om die kerk tot skeuring te lei nie, wat eintlik ‘n kerk reformasie was, deur die soewereine en genadige beskikking van God. Dit is hoe dit gekom het dat van die Gereformeerde Kerk in die Kaap, drie kerkverbande vir die Afrikaners onstaan het, waarvan die GKSA die voorsetting is van die oorspronklike Gereformeerde Kerk van die Kaap, gevestig in 1662. Selfs vandag nog bestaan hierdie drie verskillende kerkverbande naas mekaar (GKSA, NGK, NHK).

Oom Paul, Totius, Stoker

Die GKSA het vinnig gegroei oor die volgende 100 jaar of meer, geseën deur God op vele maniere, selfs deur die slegste tye in die geskiedenis van Suid Afrika.  In 1869 is die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk gestig, en vanuit hierdie teologiese skool het die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) ontstaan, min of meer op dieselfde model as die destydse Vrye Universiteit van Amsterdam, wat deur Abraham Kuyper en andere begin is. Een van die mees invloedryke persone in die geskiedenis, nie net van die GKSA, maar van die Afrikanervolk en die gereformeerde kerke in Suid Afrika, was Prof. Dr JD Du Toit (1877-1953), beter bekend as Totius.

Totius, wat baie beïnvloed en gevorm was deur Kuyper, was die eerste Afrikaner wat sy doktorsgraad ontvang het by die Vrye Universiteit oor die onderwerp, Het Methodisme. Hy het die verpersoonliking geword van die Dopper gereformeerde geloof en kultuur in SA in die 20ste eeu, saam met die Calvinistiese president, Paul Kruger (1825-1904), wat die beste politieke leier was wat die Afrikaners ooit gehad het. Totius sou ook die leidende teoloog en digter van hierdie tyd word wat die Bybel help vertaal het in Afrikaans (1933), en ook die beryming van die Psalmboek in Afrikaans (1936). Nog ‘n Dopper gereformeerde leiersfiguur, wat groot invloed gehad het op die GKSA, veral op die gebied van opvoeding en filosofie, was Prof. dr. HG Stoker.

Om die gereformeerde lewens en wêreldbeskouing van die Afrikaner van die 19e en 20ste eeue te verstaan, moet ‘n mens hierdie drie manne van God beter verstaan: teoloog, staatsman en filosoof tot eer van God, hier in Afrika.  Hierdie manne, Totius en Stoker, saam met ander calvinistiese leiers in Suid Afrika soos JD Kestell, FJM Potgieter, EE van Rooyen, BB Keet, LJ Du Plessis, JD Vorster, ens., was ook deel van ‘n groter calvinistiese beweging wêrelwyd gedurende die middel twintigste eeu.  Drie volumes is gepubliseer onder die titel “Koers in die Krisis”, wat artikels bevat deur calviniste van oor die hele wêreld, wat allerlei teologiese, historiese, kerk en kultuur onderwerpe hanteer vanuit ‘n gereformeerde perspektief.   Calvinisme het dus ‘n groot invloed en impak gehad op die Suid Afrikaanse samelewing vanaf omtrent die 1930’s tot die 1970’s.”

Was dit geregverdig?

Voordat ons die huidige krisis soos genoem in die inleiding, probeer verstaan, moet ons een baie belangrike vraag beantwoord: was die skeuring van 1859 geregverdig op bybelse,  belydenis en kerkorde beginsels? Sonder enige twyfel is die antwoord: Ja. Om hierdie aanspraak te ondersteun, wil ek begin met ‘n aanhaling van Calvyn:

As dan gevra sou word wat die belangrikste dinge is waardeur die geloof onder ons vasstaan, en sy waarheid behou, sal gevind word dat die volgende twee nie alleen die belangrikste plek het nie, maar daaronder ook al die ander dele insluit, en daarom die hele inhoud van die Christelike godsdiens saamvat, naamlik ‘n kennis, eerstens van die manier waarop God reg vereer moet word; en, tweedens, van die bron waarvandaan verlossing gekry moet word. As ons hierdie twee dinge nie reg insien nie, hoewel ons mag roem in die naam Christene, is ons aanspraak leeg en waardeloos …[1]

Vir Calvyn staan, volgens die Skrif, die manier waarop ons God dien in die erediens en die leer oor hoe ons saligheid verkry, sentraal tot die Christelike geloof. Nie net een nie maar albei sake. Dit leer ons ook in ons gereformeerde belydenisskrifte:

“Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word (die tweede punt by Calvyn – SLC). Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word (die eerste punt by Calvyn – SLC), daarin uitvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie—ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal.1:8,9). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut.12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemaal volmaak en in alle opsigte volkome is. …”[2]

Daarom sal die ware gereformeerde kerk wêreldwyd, die absolute soewereiniteit van God in ons redding én erediens (aanbidding) aan Hom bely, gehoorsaam aan God se Woord (Eks.20:1-6). Net soos God soewerein is in verkiesing en regverdigmaking, so moet Hy wees in ons liturgie en erediens.  Sy Woord deur sy Gees, en nie die versinels of goeddunke van mense nie, moet ons diens aan Hom regeer (Joh.4:23,24).  Dit bely ons ook in artikel 32 van die Belgiese Belydenis:

Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar ’n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wou invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

en in die Heidelbergse Kategismus:

Vraag 96: Wat eis God in die tweede gebod? Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (Deut.4:15-19; Jes.40:18,25; Rom.1:22-24; Ha.17:29), en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (I Sam.15:23; Deut.4:23-24; 12:30-32; Matt.15:9; Joh.4:24).

Die rede vir hierdie klem op die erediens, is omdat die meeste gereformeerde kerke vandag vergeet het van hierdie belangrike aspek van die gereformeerde geloof.  Dikwels word net die redding  deur genade alleen voorgehou as wesenlik belangrik, maar Calvyn in lyn met die Skrif, sê dat beide wesenlik belangrik is.[3] As die kerke beweer dat God nie soewerein is in sy Genadeverbond nie, dan sal hul dit ook beweer dat Hy nie soewerein is in sy wet vir die erediens nie. Daarteenoor het Jesus Christus gekom om ons te red van die sonde van afgodery en valse godsdiens, om Hom te dien in Gees en in Waarheid (Joh. 4:24), in ooreenstemming met “alles wat Ek julle beveel het” (Mat.28:19).

Die was presies hierdie twee sake, die leer van verlossing en die suiwer erediens, wat bewustelik of onbewustelik op die spel was vir die Dopper gereformeerdes in 1859.  In die afvallige kerke van die Kaap, en later in die Vrystaat en die Transvaal, was die leer van die soewereine beskikking van God, sy soewereine genade en uitverkiesing, sy suiwer Evangelie; én God se soewereine reg om aanbid te word soos wat Hy beveel (en nie volgens die emosionalisme van die metodisme nie), in gedrang.  Beide leringe, redding en die erediens, was die meeste aangeval deur die ingebruikneming van die sogenaamde evangeliese Gesange.

Die tweede professor van die GKSA se teologiese skool, Prof. Jan-Lion Cachet, verduidelik die belangrikheid van die kerklike sang as volg, soos verduidelik deur van der Vyver:

“Die kerksang in ‘n erediens is beslis nie maar ‘n kleinigheid of ‘n middelmatige saak nie. ‘Het is gansch geene bijzaak. Juist het tegenover­gestelde.’Die gemeenskaplike sang dien by uitnemendheid   tot ver­heerliking van God. Dit is ‘n gemeenskaplike bede en danksegging tot God. Dit is die stem van die gemeente waarin hy uitdrukking gee aan sy diepste gevoel. ‘Zooals men zingt zoo gelooft men. Doordat wij ze van onze jeugd af aan hooren, worden die uitdrukkingen ons eigen, en als dus verkeerde leer in het kerkgezang gevonden wordt, dan kan het niet anders of de leer zal de gemeente als doordringen.”[4]

Dit is hierdie laaste punt wat baie belangrik is vir die verstaan van die huidige krisis in die GKSA.  Ons sal later hiernatoe terugkom.  …

Sien die volledige artikel hier.

[1] Tracts relating to the Reformation by John Calvin, vertaal deur Henry Beveridge, vol.I (Edinburgh: T&T Clark), p.116.

[2] NGB artikel 7.

[3] Sien sy kommentaar op Lev.10:1; 22:32; Num.15:39; Deut.4:1; 12:32; 2 Sam.6:6-12; Is.29:14; Jer.7:21-24; 7:31; 19:4,5; 26:2; Mat.15:1,9; Kol.2:22,23. Sien sy Institutie: I.XII.I; I.XII.3; II.VII.5; II.VIII.17; IV.X.1,8-11,16-18,23,24,26.

[4] G.C.P. van der Vyver, ibid., p.203.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: