SKRIFOORDENKING: PSALM 2
Ons ‘maak’ nie Jesus Koning nie, Hy ‘is’ Koning, en daarom preek ons aan alle konings en regters: Kus die Seun, en sing Psalms, die HEER sal optaan tot die stryd… midde die stryd van ons eie tye!*
deur Totius
“Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil” (Psalm 2:7–12)

“… So is dit heel begryplik dat die Bose, al word hy in die Ou Testament baie selde genoem, tog gedurig onder die heidene aan die werk en woel was. Hy wou die troon van die HERE weg hê van die aarde af. Hierdie aanslae van die vorste teen Sion word daarom in Ps. 2 gekarakteriseer as opspoelinge, aanbruisinge uit die rustelose wêreldsee teen die rots van die troon en die wet van God.
Al hierdie oorloë staan in die teken van die groot oorlog tussen God en sy Christus aan die een kant teenoor die Aartsoorweldiger en sy volgelinge aan die ander kant.
Dit is daarom nodig dat ons vir ons van hierdie regiment (regering) van Christus onder die Ou Testament ‘n min of meer juiste denkbeeld vorm.
En dan moet die verkeerde denkbeeld dadelik bestry word asof Christus eers later in die geskiedenis Koning geword het, bv. toe aan Hom ‘n naam gegee is wat bo elke naam is (Filipp. 2 :9). Of wat erger is, asof Hy nou eers deur ons Koning gemaak moet word. Gedurig verneem ons vandag mos die prediking, die eis: “Maak Jesus koning!’
Niks is verder van die leer van die Skrif verwyder nie, en niks is skadeliker vir die eer van God nie. Stel u voor, om Christus nog te wil koning maak, terwyl Hy al so lank Koning is! Dit is die Christus en die Christen onwaardig.
Reeds van ewigheid af is Christus in die raad van God as Middelaar gestel, as profeet, priester en koning. En soos Hy reeds profeet was van die paradys af, so is sy Koningskap net so oud as die wêreld self.
Adam is geskape om oor alle dinge te heers. Toe hy egter onder die mag van dorings en distels gekom het, van wilde diere, van die sonde; toe dit geblyk het dat hy Satan nie buite die paradys kon hou nie – toe moes iemand anders dadelik optree in sy plek om nou in naam van die mens en tot eer van God die regeermag van die Allerhoogste in die wêreld te handhaaf.
Alle gesag nou van ouers, regters, owerhede, wat van die begin af oor mense uitgeoefen is, het nie buite Christus om gegaan nie maar is deur ouers en owerhede as werktuie van Christus uitgeoefen.
Daarom word Hy genoem ‘n Here van die here en ‘n Koning van die konings (Openb. 17:14).
Die Bose het dit toe net so gestuur dat die konings hulle gesag nie meer uitgeoefen het in onderworpenheid aan die Gesalfde van God nie maar daardie gesag teen God en sy Christus gaan keer het.
Dit het duidelik geblyk toe Christus op Sion gaan regeer het in die persone van sy plaasvervangers Dawid en Salomo. Simbolles het God in hulle sy koning oor Sion gesalf. Maar wat ‘n vyandskap het toe openbaar geword! Wat ‘n monstering van teen God vyandige magte! Die psalmis sien hulle op eens rondom Jerusalem aan die woel. Ja, dit is die duiwel self, wat die Christus aanval in sy voorganger, sy skaduwee, sy voorafbeeldinge: Dawid en Salomo.
Maar kyk, nie die indringer, nie die Satan sal seëvier en alles behou nie. Aan die Messias word die heidene toegesê as ‘n erfdeel en die eindes van die aarde as ‘n besitting (vs. 8).
Dit het in beginsel werklikheid geword toe Jesus uit die graf verrys het, die duiweI verslaan het en gevolglik kon sê: “Aan My is gegee alle mag in hemel en op aarde” (Matth. 28:18). Dit sal eenmaal ten volle werklikheid wees wanneer Hy sy vyande sal verpletter en hulle sal stukkend slaan (vs. 9).
Opmerklik is dit dat die taal van hierdie Psalm so baie in Openbaring aangehaal word, die boek van die botsing tussen die ryke van duisternis en lig. Daar voer Christus oorlog op ‘n wit perd en “regeer Hy sy vyande met ‘n ysterstaf (19:15; 12:5) . Hy dra dieselfde mag oor op sy knegte (hfst. 2:26,27). Die uitdrukking konings van die aarde kom 9 maal in die boek voor (1:5, ens.).
In die tussentyd is onse Here egter Koning oor sy Sion, sy kerk van die Nuwe Verbond, en eis Hy gehoorsaamheid van ons, totdat sy koninkryk eenmaal in volle werklikheid sal kom.
Intussen gaan selfs tot die goddelose konings die prediking uit: “Wees dan nou verstandig, 0 konings; laat julle waarsku, 0 regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing” (vs. 10, 11). Die dag van wraak het nog nie gekom nie. “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word nie” – so eindig die psalm.
Daar is nog tyd!
En die Seun bied nog vrede aan!
Ons belewe tye met kort-kort beroeringe. Veral in ons tyd kan die grotes van die aarde gerus die vermaning van hierdie psalm ter harte neem. Oorloë en maatskaplike omkeringe volg mekaar vinnig op. Ook na ons land het die onstuimighede deurgedring.
So pas was daar nie alleen werkstaking onder die mynwerkers nie maar ook rewolusie op die Rand. Nou weer leef alles in die grootste spanning uit vrees vir ‘n algemene staking op ons spoorweë. Ons hoor duidelik by die werksman die geroep: “Laat ons hulle bande stukkend skeur en hulle toue van ons afwerp”. Wie dan ook dieper kyk, sien in al die stakersbedrywighede die opwoeling van Satan se duistere mag.
Maar laat ons vra of die werksrnan alleen skuld het.
Sekerlik nie.
Het ons owerhede hulle dan nie daarin voorgegaan nie?
Het ons leidsmanne, die bewerkers van die Unie, die Naam van God nie uit ons Grondwet geskrap nie?
En wat is dit en die hele gedragslyn van ons wetgewers anders as: “Laat ons God se toue van ons afwerp”?
Die mense steur hulle eenvoudig nie meer aan die wet van God nie. Hulle bind die gewete nie meer in die openbare lewe nie. Geen wonder dat die goddeloosheid vir hom skoon pad onder die volk maak nie. En dit sal met ons sodoende seker van kwaad na erger gaan.
Ook baie gelowiges doen nog aan hierdie dinge mee.
Die mens word skouerhoog gedra, ook al het hy hom by sy wetgewerstaak nie volgens die Woord van God gedra nie. Die staat word verheerlik as die mense maar net brood het om te eet.
Maar die dae van skeiding kom al nader.
Al meer sal blyk dat dit uitloop op ‘n botsing tussen die magte van die aarde en die mag van Christus. Al meer sal dan in sulke bose dae die gelowiges van die Ou Testament begin verstaan en weer hulle psalms begin sing. Dan sal hulle, sonder nadere aanwysing of verklaring, uit eie aandrif, met die manne van die Hervorming saamsing:
Die HEER sal opstaan tot die stryd;
Hy sal sy haters, ver en wyd,
laat wegvlug voor sy oë.
(Psalm 68, berymd)
___________________________________
* [Bron: Het Kerkblad, no. 291, 1 Augustus 1913, opskrif en beklemtonings bygevoeg]
Leave a Reply