Die saligprekinge (5): Salig is die barmhartiges, deur Totius

DIE SALIGSPREKINGE (5): SALIG IS DIE BARMHARTIGES

(Inleiding op bergpredikasie hier beskikbaar, ander saligsprekinge-oordenkings hier beskikbaar.)

Lees: Jak. 2.

Sing: Ps. 138:1; 103:4; 37:11; 146:5.

Teks: Matth. 5:7: Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Ons het nou by die vyfde saligspreking gekom, die punt waar die geloofswerksaamheid so duidelik geopenbaar word. Dit is voorafgegaan deur die werksaamheid van die Heilige Gees, wat die mens bekwaam gemaak het om die wil van God te doen. Eers moet ‘n gevoel van armoede gewek word, daarna ‘n gewaarwording van droefheid. Eers dan sou die gawe van sagmoedigheid meegedeel word, waaruit die honger en dors na die wet van God ontstaan het.

Die mens van God moes eers inwendig toegerus word, om daarna die dade van die geloof na buite te openbaar. Nou gaan die geloof deur die liefde werk. Die arme van gees, aan wie barmhartigheid bewys is, gaan nou self barmhartigheid bewys.

1. Die oorgang na die vyfde saligspreking

Let in die eerste plek op die oorgang na en die plek van hierdie vyfde saligspreking, m.a.w. let weer op die samestelling van die saligsprekinge in die geheel.

Dit is tog vir ons die vernaamste, want ons wil die gang van die werk van God naspeur; ons wil naspeur die ontwikkeling van ‘n grondwet wat ‘n koninkryk dra wat onverganklik is. Die koninkryke van Alexander, Caesar en Napoleon het verbygegaan, omdat hulle grondwette nie goed was nie. Maar die koninkryk van Christus duur tot in alle ewigheid, omdat dit op die onverganklike, ewig-ware grond­wet rus wat Christus self vir ons ontwerp het.

Die wet is die eis en die reël vir ons lewe. Daarom moet ons noukeurig daarop ag gee. Hier is die toets om vas te stel of dit met ons goed gaan.

Daar mag geen ander orde aangewend word, geen stap oorgeslaan word nie. Dit moet met ons van stap tot stap, van tree tot tree gaan, soos dit hier deur Christus self blootgelê is.

Allereers moet hier ‘n woord van waarskuwing vir die traes en lydelikes wees, vir diegene wat gedurig kla oor hulle sondaarstoestand sonder dat hulle tot geloofsvrug kom.

Gewis en seker moet daar toebereiding wees. Dit het ons uit die eerste vier saligsprekinge geleer. Maar daarop moet ook gewis en seker volg ‘n lewe na die wet van God, ‘n openbaring van die dankbaarheid van hart.

Ons Kategismus handel uitvoerig oor die geloof en die verlossing maar dit eindig nie voordat die stuk oor die dankbaarheid vir ons net so uitvoerig voor oë gestel is.

Die geloof sonder die werke is dood.

Iemand wat sê dat aan hom barmhartigheid bewys is en self nie barmhartigheid bewys nie, moet homself ondersoek of hy werklik in  die geloof is en of daar werklik barmhartigheid aan hom betoon is.

Maar hier moet ook ‘n woord van waarskuwing wees vir hulle wat te vurige yweraars is, vir hulle wat die nuut bekeerde in staat ag tot alle goeie werke en hom dadelik aan die werk sit.

Daar is Christene wat eensydig nadruk op die praktyk lê. Hulle vra in die eerste plek: “Wat doen jy vir Christus of wat het jy vir Hom gedoen?” Hulle toets is die daad, die register van goeie werke.

Sulke mense vergeet dat die werk voorafgegaan moet word met ‘n deeglike voorbereiding. So het Christus dit in sy saligsprekinge geördineer. En só het Hy dit self vir ons voorgedoen. Dertig jaar lank het die tyd van sy voorbereiding geduur, en die tyd van openbare werksaamheid slegs drie jaar.

Watter waarskuwing is dit vir hulle wat maar net werkers wil wees, wat net in bedrywigheid en aksie die waarmerk van hulle geloof soek!

Nee, eers moet daar wees die bepeinsing van die Woord van God en dan die betragting van sy werk.

In verband hiermee moet nog op iets anders gewys word. Lieflik  het Christus in   die eerste  saligsprekinge gelok deur toesegginge van onuitspreeklike waarde.

Aan die armes van gees is die belofte van die koninkryk van die hemele gegee;

aan die treurendes is die vertroosting, die teruggawe van die verlore goed toegesê;

en aan die sagmoediges is in die vooruitsig gestel ‘n aardryk waarop geregtigheid woon.

Nou egter, in die vyfde saligspreking, word die vrug van die geloof duidelik openbaar. Aan die barmhartiges word beloof dat aan hulle barmhartigheid bewys sal word; aan die reines van hart dat hulle God sal sien; aan die vredemakers dat hulle kinders van God genoem.

Maar kyk, die openbaring van die geloofsvrug is in die grond van die saak niks anders nie as die ontplooiing van die genadegawe, maar ‘n ontplooiing wat volgens die grondwet van die koninkryk van Christus nie mag uitbly nie.

Wie kan barmhartigheid bewys as aan hom nie eers die daad van barmhartigheid bewys is nie (eerste saligspreking) ? Maar wie mag nou by die gawe van die ontvange genade bly staan en sê: “Ek het niks meer te doen nie? … “ 

2. Wat bedoel Jesus met hierdie saligspreking nie bedoel nie

Salig is die barmhartiges”, sê Christus. Dit moet, in die tweede plek, nie onduidelik wees WAT JESUS HIERMEE BEDOEL NIE. Hy spreek van die liefde tot die naaste, wat so kragtig geopenbaar word in die beoefening van die barmhartigheid.

In die vierde saligspreking word die hele wet genoem. Dit was ‘n honger en dors na DIE geregtigheid. Nou kom Jesus (in die vyfde saligspreking) by ‘n deel van die wet.

Hoe opmerklik is dit dat Hy éérs melding maak van die tweede tafel, nl. die liefde tot die naaste! Hoe menskundig tree Jesus hier op! Hy wil liefde vir die wet van God kweek. Daarom begin Hy met wat die naaste aan die mens is: Hy vra barmhartigheid vir die medemens, vir die ellendiges en nooddruftiges. Salig is hy wat hom ontferm, soos God Hom oor hóm ontferm het.

Laat dit dan vir ons hieraan duidelik wees of ons dissipels van Jesus  is  — as  ons  ons  neerbuig na die broeders en susters wat ellendig is. Ja, dit is ‘n waarmerk van  dissipelskap, want hierdie heilige plant groei nie op die grond van ons natuurlike hart nie.

Dr. Uhlhorn, die skrywer van ‘n drieledige werk oor die Christelike liefdadigheid, noem die wêreld buite Christus “’n wêreld sonder liefde”. Hy sê: “Onse Here noem die gebod van die liefde wat Hy aan sy dissipels gegee het, ‘n nuwe gebod” (Joh. 13:34). So is dit, want die wêreld voor Christus was ‘n wêreld sonder liefde. Nadat die Christendom sy oorwinning behaal het, verklaar Lactantius: “Die barmhartigheid en menslikheid is deugde wat eie is aan die vereerders van die ware God. Daarvan leer die (heidense) wysbegeerte niks nie”.

Wel het die heidendom sy medelye geopenbaar in enkele, alleen-staande dade van hulpbetoon, maar die hoofsaak het tog gebly dat elke vorm van georganiseerde liefdadigheid ontbreek het.

Wel het die heiden ook ‘n sekere vorm van vrygewigheid of milddadigheid geken; groot somme geld is dikwels vir nuttige doeleindes bestem, maar die heidense vrygewigheid was in die grond van die: saak selfsugtig – so merk Uhlhorn op – terwyl die Christelike liefde selfverloënend van aard was.

Hierdie liefde met ‘n neerbuigende, selfverloënende karakter is vanuit die staanspoor deur die kerk in die midde van die wêreld in skitterende dade van barmhartigheid gepredik. Die liefdemaaltyd is aangerig. Nie een van die broeders of susters het in enige mate gebrek gely nie. Die kerk kon sonder die liefdadigheid eenvoudig nie leef nie. Dit is die kerk aangebore.

Hoe kan dit anders. Christus, die kerk se Voorganger en Hoof, het nie alleen die gebod van die liefde geproklameer nie maar het Homself gegee om te dien, om ‘n rantsoen vir baie te wees. Hy self was die voorbeeld van wat liefdelewe is. Die liefde is uit Christus, en alles wat buite Hom is, is selfsug.

Hieraan is dit dan kenbaar of ons uit Hom is: as ons die broeders liefhet. Om “Here! Here!” te roep help ons nie, maar om barmhartig te wees soos ons Vader in die hemel barmhartig is.

As iemand dan honger het, gee hom iets om te eet. Moenie met woorde oor sy toestand jammer nie maar gee hom die nodige voedsel. Eers dan sal u vry uitgaan. En as iemand naak is, gee hom klere om aan te trek. Moet hom nie met ‘n jammer hart aansien om dan maar verby te gaan nie. Dit is nie barmhartigheid nie.

As iemand geval het, help hom weer op. En moet hom nie laat voel dat u vanuit die hoogte na hom moet neerbuk nie. Want wat is u sonder die barmhartigheid van God?

As u hoor van die ellende van die heidendom wat in blindheid bly, moet dan nie maar net bid: “Laat u koninkryk kom!” nie, maar stuur u manne en u middele daarheen.

Deur dit (en nog baie meer) te doen sal u aan u eie hart ervaar wat saligheid is.

Selfsug is ‘n roofdier wat ons inwendig vasklou en die ware lewe in sy kloue versmoor. Maar barmhartigheid is ‘n verkwikking van die ingewande, nie alleen van ander nie maar ook van onsself. Ja, dit is saliger om te gee as om te ontvang.

Onderdruk dan die drang van barmhartigheid nie. Dit wil in die goud van u beurs en in die silwer van u trane blink. Laat dit tog toe om vryelik geopenbaar te word in die seënende daad, en dit sal u eie siel vetmaak. As u dit nie doen nie, dan sal die selfsug u gebeente verteer. 

4. Die belofte van die saligspreking

Ten slotte, moet ons nog ag gee op die belofte wat hier opgeteken is: Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Telkens wys Jesus ons op die einde. Hy het die koninkryk van die hemele beloof, wat eenmaal op die aarde gevind sal word; daarna het Hy van vertroosting gespreek as die teruggawe van alles wat verlore is; Hy het vervolgens gelok deur die toesegging van ‘n aardryk wat heeltemal vernuut is en van ‘n ryk maaltyd waaraan volle versadiging ons deel sal wees.

Nou weer, by die vyfde saligspreking, rig Hy ons oog op die dag van die voleinding: aan u sal barmhartigheid bewys word, naamlik in die dag van die groot oordeel. Dan sal, volgens die woorde van Jakobus, die barmhartigheid teen die oordeel roem. Maar ‘n onbarmhartige oordeel sal gaan oor hulle wat nie barmhartigheid bewys het nie (Jak. 2:13).   .

Dink tog daaraan, leser, dat u nooit onder die barmhartigheid uitkom nie. U beskik nie oor uself nie. Dit is God, en dit is Hy alleen, wat oor u lot beskik, van nou af tot op die jongste dag. Van Hom en van sy barmhartigheid bly u heeltemal afhanklik. Die saligheid is uit genade. Waar sal ons dit geredeliker erken as voor die groot Regterstoel, wanneer ons ons krone sal neerwerp voor God en die Lam, wat met sy bloed ons gekoop het. Gode sy dank, dit is die barmhartigheid wat teen die oordeel roem.

In die lig van hierdie saligspreking is ons, helaas, dikwels vervul van ‘n heeltemal ander gesindheid. Ons staan buitekant ‘n geregshof as mense wat netnou een vir een een binnegeroep sal word om ons vonnis te hoor. En wat beluister ons daarbuite? Die een oordeel harder as die ander. Dit is asof ons nie onder beskuldigdes nie maar onder regters verkeer! Selfsug, haat, verwaandheid vier daar hoogty!

Eindelik nog net dit: Moenie nalaat om u Bybel oop te slaan en te lees wat Jesus in Matth. 25:34-46 sê nie. Daar vind u die onoortroffe verklaring, wat ‘n mens nooit vergeet nie, van hierdie woorde: “Aan u sal barmhartigheid bewys word”. Luister dan goed na wat u daar lees! 

AMEN.

___________________________________

* Beklemtonings en subopskrifte bygevoeg.

Bron: ‘Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius)’, deel 2: bl. 57-103 (Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe). 

Sien ander saligsprekinge-oordenkings asook ander Totius artikels hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: