Totius oor die ‘mees Godsverheerlikende opvatting van die Christendom’

In aansluiting by dr. S. Greijdanus, se Wezen van het Calvinisme, plaas ek ook hierdie opmerking van Totius:

“Met dr. B. Wielenga (in sy boek, Het wezen van het Christendom) sou ek enkele hoofpunte insake die lewensbeskouing van die Calvinisme aldus wil weergee:

(1) Die Heilige Skrif is die onfeilbare uitdrukking van die besondere openbaring (letterlike en tog organiese inspirasie deur die Gees van God) en het daardeur absolute gesag.

(2) God is die vrywillige oorsaak, die soewereine regeerder en die hoogste doel van alle dinge. Die wese van die godsdiens is dus om God te ken en te verheerlik.

(3) Deur die sonde is die band tussen Skepper en mens radikaal verbreek, die mens onmagtig ten goede, sodat alleen van die kant van God herstel moontlik is (soewereine genade, uitverkiesing).

(4) God beskik self die Middelaar, Jesus Christus, wat absoluut alles volbring wat nodig is om mens en wereld te verlos.

(5) Hierdie verlossing geskied in verband met ‘n deur God self ingestelde orde: Die verbond van die genade.

(6) Die gelowiges word deur God ook tot onderlinge eenheid verbonde: die Christelike kerk.

(7) Die verlossing in Christus is herstel van Gods skepping. Die gelowiges het dus tot taak om die geloof te openbaar in hul eie lewe en beslag te lê op alle lewenskringe, maatskappy, wetenskap, kuns, politiek, om dit uit die greep van die sonde te verlos en te laat funksioneer uit die lewe van Christus.*

Op hierdie sewende punt kom dit in besonder aan — dit besef die leser wel — as daar sprake is van die Calvinistiese wêreldbeskouing en lewenshouding. Op hierdie grondslag — natuurlik in verband met die ander punte — moet die huis opgetrek word waarin ons Calvinistiese volk vry en ruim en veilig kan woon.

Dit is die geestelike erfgoed wat die Trekker uit die hand van Calvyn ontvang het en waaruit hy intuïtief maar met volle oortuiging geleef het. Intuïtief, want die stelselmatige uitbou van hierdie beginsels sou eers in ‘n latere periode moontlik word.

… In verwarring kan die mens nie bestendig voortlewe nie.

Oor die hele wêreld, waar ook chaos heers, word dan ook ‘n „Nuwe Orde” geproklameer of bestudeer. Selfs in Engeland is daarvan sprake.

Wat sal ons volk doen?

Die tydstip is allergevaarliks. Ons staan op die tweesprong, en ons moet kies. Of liewer, is ons keuse nie al tevore bepaal nie?

Wat kan, wat mag ons anders kies as die Calvinisme, ‘n wêreld, ‘n altyd weer nuwe lewensorde, die mees konsekwente, die mees harmoniese, die mees internasionale en tegelyk nasionale, die mees Godsverheerlikende opvatting van die Christendom?

Wat kan ons anders kies as die Calvinisme wat in die Wes-Europese lande en in ons land die oorsprong en waarborg was van egte volksvryhede en wat dié lande tot wêreldgrootheid opgevoer het?

Wat kan ons anders kies as die Calvinisme, ons wettige en duur-verworwe erfgoed? Waarom sal ons dit met gevaarlike eksperimente gaan waag?

Om die windsels van ‘n nasie los te maak, is geen taak waarvan ons in ons kortstondigheid en willekeur die uitgangspunt en grense kan bepaal nie.

‘n „Nuwe Orde” verouder weer. Dit is die les wat die historie ons nadruklik leer. Daarom kies ons vir die Calvinisme, wat op ewige, deur God gewilde beginsels, gegrondves is.

Ons moet trek, kinders van die Trekker, maar dan met die vaandel van die Calvinisme voorop. Dit is die ideaal wat ons moet broei en regmatig die allerskoonste verwagtinge kan wek.

En dan dink ek aan die woord van ‘n Portugese skrywer: ,,’n Ideaal ken ‘n begin, maar daar is geen einde nie. Elke uitspanplek is dadelik weer die aanvangspunt vir ‘n nuwe trek”.

___________________________________
* My opmerking: daar kan natuurlik baie meer detail of wesentlike hoofpunte bygevoeg word, maar die een wat ek sou wou byvoeg by Wielenga en Totius se 7 hoofpunte, is hoofpunt 8) die troosvolle en hoopvolle verwagting van die wederkoms van Christus, waarmee die finale allesoortreffende volkomenheid sal kom, die voleinding, die opstanding, die finale oordeel, die nuwe hemel en aarde, ens. (sien NGB art. 37; HK Sondag 19 en 22).   

___________________________________

Bron: Die Brandwag, 27 November 1940, in: Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius),  Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe. Opskrif en beklemtonings bygevoeg.  

Sien ander Totius artikels hier

Geloof- en lewensbeskouing artikels hier

Die kerk se roeping en taak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: