AANBIDDING IN GEES EN WAARHEID (Johannes 4:24)

AANBIDDING IN GEES EN WAARHEID (JOH. 4:24)

God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

deur S Le Cornu*

Inhoud

  1. Mengelmoes aanbidding… 3
  2. Gereformeerde aanbidding… 9
  3. Johannes 4: Aanbidding in gees en waarheid… 15

3.1 Ons Godsbeskouing bepaal ons aanbidding (v.24a) … 16

3.2 Aanbidding is noodsaaklik, en dus nie ‘n middelmatige saak nie (v.24b) … 17

3.3 Vereistes vir ware aanbidding: in gees en waarheid (v.23b en 24b) … 19

3.4 Ons moet valse aanbidding uitken en verwerp (v.22) … 21

3.5 God die Vader soek ware aanbidders, ook vandag (v.23c) … 24

OU TESTAMENT OPENBARING AANGAANDE AANBIDDING

  1. Aanbidding as skeppingsordening (Genesis 2) … 25
  2. ‘n Onaanvaarbare offer (Genesis 4) … 27
  3. Die Tweede Gebod (Exodus 20) … 28
  4. Vreemde vuur (Levitikus 10) … 30
  5. Verwerping van valse aanbidding (Deuteronomium 12) … 31
  6. Die ark (2 Samuel 6) … 32
  7. Eiewillige pragmatiese godsdiens (1 Samuel 13) … 33
  8. Eie feesdae (1 Konings 12) … 36
  9. Afvalligheid van ‘n koning (2 Kronieke 26) … 37
  10. Mensgesentreerde aanbidding (Jeremia 7 en 19) … 38

NUWE TESTAMENT OPENBARING AANGAANDE AANBIDDING

3.6 Christus bevestig en handhaaf ware aanbidding (Joh. 4: 21 en 23) … 40

  1. Jesus en aanbidding (Mattheus 15) … 42
  2. Die Groot Opdrag en aanbidding (Mattheus 28) … 42
  3. Eiewillige godsdiens (Kolossense 2) … 44
  4. Die leer, (ere)diens en regering van die kerk (die Pastorale Briewe) … 45
  5. ‘n Kort uiteensetting van die NT erediens … 46
  6. f) Skema wat die elemente van ‘n NT erediens uiteensit … 48

3.7 Ons word verlos om te aanbid (v.25 en 26) … 51

Slotwoorde… 55

Hierdie is my studie oor die Gereformeerde beginsel van Aanbidding/Erediens, ook genoem deur die kerkgeskiedenis: die ‘regulerende beginsel van aanbidding/erediens’ of ‘tweede gebod aanbidding’ of ‘Skrifbeginsel van die erediens/aanbidding’ of die ‘Gereformeerde beginsel van aanbidding/erediens’. Dit het oorspronklike artikel het in die Esra Verslag tydskrif verskyn:  Ons gedrag in die huis van God, Jaargang 12, nr. 55, 2004, bl. 39-90 [Beskikbaar in A5 ringbind boekie vir R50-00 by Pro Regno Boeke].

Ek plaas hoofstuk 1, 2 en 4 hier onder, maar die kern van die studie (Joh. 4:19-26 en hoe dit ons aanbidding raak) kan hier gelees word:

Aanbidding in Gees en Waarheid: Johannes 4:24

_______________________________

Hoofstuk 1. Mengelmoes aanbidding

“Solank ons nog almal glo in Jesus se Godheid, moet ons ons nie te veel bekommer oor aanbiddingsverskille nie,” is baie kerkmense se versugting vandag. In ‘n onlangse dagkoerant word dit soos volg uitgedruk:  “Die gemeente waarin ek leef, is ‘n mengelmoes. Daar is mense van Nederlands-Hervormde oorsprong en daar is Gereformeerdes. Daar is Anabaptiste en Rooms-Katolieke, selfs een wat van geboorte Joods is. Almal aanbid en sing saam.”[1]

 Die mengelmoesteologie agter so uitspraak is gewoonlik: die verlossingsvraagstuk – hoe ek gered word? – is noodsaaklik en daaroor mag geen onenigheid wees nie, maar wat die erediens en aanbidding betref – hoe moet ek die Here aanbid? – daaroor kan ons maar wyd verskil, en moet ons verdraagsaam wees.

Daar is – so word beweer – belangriker sake wat nou ons aandag nodig het.

Konkreet kom dit daarop neer, om maar ‘n paar hedendaagse voorbeelde te noem: die een gemeente kan maar die kelkies gebruik, en die ander die beker; die een kan net psalms sing, die ander gesange ook;  die een kan die feesdae vier, die ander hoef dit nie te doen nie; die een kan die vrou in die amp hê, die ander een hoef nie, ens. ens.  … solank –en dit is die enigste voorwaarde- ons almal maar net saam ‘glo’ …

Behalwe bogenoemde stelling en gesindheid, word daar ook verder gesê (wat al beter klink en dalk nader aan ons as gereformeerdes is): ja, aanbidding is opsigself belangrik, niemand mag dit ontken nie.  Maar dit is die ‘dat’ ons aanbid wat belangrik is, nie die ‘hoe’, ‘wyse’ of ‘manier’ van aanbidding wat belangrik is nie … laasgenoemde hang af van die mens se behoeftes, kultuur en tradisies, waar ‘ek’ tuisvoel. Sommiges sal sê elkeen se ‘aanbiddingsbehoeftes’ bepaal daarom hul ‘hoe’ van aanbidding.  So bv. sal dit goed wees as ‘westerse kerke’ die Psalms sing, maar vir die ‘afrika kerke’ is gesange goed en kan hul dit mos ‘lekker’ sing.  So aanbid elkeen die Here op sy eie manier, solank ons net almal die regte Here aanbid … word geredeneer.

Kortom: beteken al die voorafgaande sienings dat die eerste gebod is ‘n beginselsaak, die tweede gebod ‘n middelmatige saak.

Die gevolg hiervan is dat ons soveel verskillende “teologieë van aanbidding” kry as wat daar kerke is.  Sodoende lei, myns insiens, nie net die waarheid nie, maar ook die eenheid van die ‘heilige, algemene Christelike kerk” daaronder, wêreldwyd.

Prof. Barry Gritters verdeel moderne afvallige aanbiddings-benaderings in drie groepe:[2]

– charismatiese aanbidding, wat emosioneel en ‘signs and wonders’ gedrewe is;

– ‘seeker-service’ aanbidding, waarin die ‘behoeftes’ van die verskillende groepe mense sentraal staan (dit lei gewoonlik tot ‘kinder’ en ‘jeug’ kerke), wat gewoonlik in ‘evangeliese kerke’ te vinde is; en

– ‘High Church’ aanbidding, waar daar groot klem geplaas word op allerlei seremoniële en simboliese aspekte in die erediens.  Dit is die lyn van die Rooms Katolieke en Anglikaanse Kerk, wat ook baie vinnig veld wen onder kerke van gereformeerde agtergrond.

Ter agtergrond hiervan moet verstaan word dat veral in die 20ste eeu, miljoene mense se siening en ervaring van aanbidding radikaal begin verander het, deur die geskiedenis en invloed van die sogenaamde Liturgiese Beweging (LB).  Die LB word beskryf as “part of the reawakening of the Church” in die twintigste eeu, aangesien die kerk en Christelike waardes ‘n groot terugslag gekry het deur verskillende moderne filosofieë vanaf die 17de eeu, die gevolg van twee wêreldoorloë en allerlei verskillende konflikte wêreldwyd.[3]

Die LB het ander tekste, style, konsepte en selfs geboue na vore gebring, as alternatief vir tradisionele vorme van aanbidding.  Sodoende is ook die manier waaroor gedink is oor aanbidding verander. Die LB is veral ook bevorder en gedra deur die Ekumeniese beweging en die Charismatiese beweging, wat daarin geslaag het om kerkgrense af te breek, of vloeibaar te maak.  Dit is daarom die afgelope twee dekades in SA nie meer ‘n vreemde verskynsel om te sien hoe mense van verskillende geloofstradisies oor en weer nie ‘n probleem het met mekaar se maniere van aanbidding nie.  “Church hopping and swopping” is ‘n algemene stokperdjie en tydverdryf, ook onder Afrikaners vandag.

In die Christian Renewal tydskrif van Kanada (vol.22 #9) van 26 Januarie 2004 berig JD Tangelder onder die opskrif “The Changing face of worship in changing times”, van hoe die gesig van aanbidding radikaal verander het in die 20ste eeu. Hy verwys na twee ‘mega’ kerke in die VSA, nl.

“‘Willow Creek Community Church’ en die ‘independent, postmodern, evangelical Mars Hill Bible Church’ wat se dienste bestaan uit “services as programmed with cutting-edge music, drama … 50 vocalists, a 75-peace choir, seven rhythms bands, a 65-piece orchestra, 41 actors, a video production department, and an arts center with 200 students that serves as a farm club for future talent …”. Verder word die prediking beskryf as ‘funny, imaginative, informative’ waar lede sê “they like being able to walk into church with a cup of coffee, spiked hair and jeans.”

In die VSA is daar ook ‘n “In-Car Worship Center” oopgemaak, waar jy sommer in jou kar kan bly sit en ‘aanbid’ (Christian Renewal, April 26, 2004).

Hierdie vorme van aanbidding, volgens Tangelder, het nie net ‘n invloed op charismatiese en evangeliese kerke nie, maar ook die Christian Reformed Church in die VSA, en ander gereformeerde kerke.

Kerke van ‘n protestants gereformeerde agtergrond gaan gelukkig (nog nie?) sover as die charismatiese kerke wêreldwyd nie, maar daar is ‘n duidelike wegbeweeg van ‘n die Woord-alleen gesentreerde eenvoudige gereformeerde erediens, na ‘n progressiewe vorm van ‘n Woord-plus ‘n mensgesentreerde vorm van erediens.

‘n Makrogemeente in Lynnwoodrif, Pretoria het bv. onlangs ‘n nuwe ouditorium ingewy waar ‘beelde op die groot skerm’ agter die “leier-predikant” gewys word (die leraar se klere bevat ook sekere liturgiese simboliek). Bo die ‘liturgiese ruimte’ word die ‘geloofsgeskiedenis’ uitgebeeld deur ‘reuse’ groot visuele prente en simbole.  Die motief van die ouditorium is “gerig op die bediening van gesinne in ‘n wêreld van televisie, selfone en veranderende kommunikasiemetodes”.

Volgens een van die leraars wil hul die “gereformeerde teologie onbeskaamd terugbring in ‘n moderne idioom,” waarin die “Woord sentraal in die bediening staan” (Beeld, 14 Julie 2004, p.6).  As ‘n mens die foto bekyk wat saam met die artikel gaan, lyk dit bepaald nie asof die ‘Woord’ sentraal staan nie, maar die ‘Beeld’!

Nader aan die Dopperhuis, is die CRCNA,[4] waarmee die GKSA in korrespondensie staan, besig om ernstig te besin om die woorde van Heidelbergse Kategismus, v&a 80 te verander, wat die Roomse Mis as ‘n ‘vervloekte afgodery’ beskryf.[5]  Hierdie kerkverband is tans in gesprek met die Katolieke kerk in die VSA oor moontlike samewerking op verskillende terreine.  Een van die professors skryf in hul tydskrif ‘Focus’ die volgende oor die CRCNA se gesprekke met Rome:

“Where might this next round of discussion lead? To certificates of baptism that officially recognize a common baptism in both traditions? To some movement toward participation in each other’s celebration of the Eucharist? Whatever happens, the CRC will have considerably broadened its ecumenical consciousness and taken a significant step forward in her efforts to contribute to the visible unity of Christ’s church.”

Ja, nie net is Lutherane, Anglikane en baie ‘Evangelicals’ oor die wêreld besig om nader te skuif aan die verlossingsleer van Rome nie,[6] maar ook wat aanbidding betref, is hierdie groepe – saam met sommige gereformeerde kringe – besig om nader aanmekaar te skuif.  En ek wil die stelling maak, dat dit juis die liturgie / die inrigting van die erediens en hoe ons aanbid, die  brug is of gaan word waarmee die protestante teruggeneem word na ‘moeder Rome’.

‘n Film soos ‘The Passion of the Christ’, probeer ook op ‘n subtiele wyse die Roomse Mis oordra deur die roomse vertolking van die lyding en sterwe van Christus.[7]  So ‘n film is ook niks anders as ‘n vorm van aanbidding wat vir ons voorgehou word as legitiem nie (“ons dien God deur beelde …”), en selfs gereformeerdes is besig om dit goed te probeer praat, en nie as ‘n oortreding van die 2de gebod te sien nie (sien HK, Sondag 35).  Verder kan daar ook gewys word op die pleitdooie in sekere gereformeerde kringe in Nederland, om onder die dekmantel van “al wat waardig en welluidend is”, kore in die eredienste terug te bring (De Reformatie, nr.29, 1 Mei 2004).

Al hierdie ontwikkelinge en deformasie in die erediens en aanbidding, is slegs ‘n klein blik op die ‘mengelmoes’ chaos en  veranderinge wat plaasvind in die kerke wêreldwyd, veral op die terrein van erediens en aanbidding. In 1 Tim 3:15 lees ons dat Paulus vir Timoteus sê dat hy – op grond van God se Openbaring, gelei deur die Gees van God – “weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” is. Dus daar waar God spesifiek en veral aanbid moet word moet ons ook vandag ‘weet’ hoe ons God moet aanbid.

Ons sal dus opnuut moet vra wat is en hoe lyk die gereformeerde erediens?

Hoe en wat bepaal ons aanbidding?

Ons is natuurlik (en gelukkig nie!) die eerstes wat hierdie vrae gevra het nie, want vir die Kerk deur die eeue, veral die vroeë kerk en die 16de eeuse Reformasie, het die saak van aanbidding sentraal gestaan.[8]

[1] Die Beeld, Godsdiens-aktueel artikel van 21 Junie 2004.

[2] D.J. Engelsma, B. Gritters & C. Terpstra, Reformed Worship (Grandville, MI: RFPA, 2004), p.28

[3] J. Fenwick & B. Spinks, Worship in Transition. The Liturgical Movement in the Twentieth Century ( 1995), vii.

[4] Christian Reformed Church of North America.

[5] Die komitee wat daarmee opgesaal is, gaan by hul 2004 sinode ‘n voorlegging doen, hoe om die bewoording te verander.  Inligting verkry van: ‘Forum‘ (magazine of Calvin Theological Seminary), the Winter 2004 edition.

[6] Sien die artikel elders ‘Verbondsuniversalisme’. Ook vandag is die leer van die regverdiging deur die geloof alleen weer in die spervuur.  Aan die einde van die 20ste eeu, het daar ‘n beweging ontstaan ‘Evangelicals and Catholics Together’, wat tot die konklusie gekom het dat, volgens hulle, die verskille nie so groot is nie, en daar eintlik veel meer ooreenstemming is waar die kinders van Rome en die Reformasie kan saamwerk.  Dr. RL Reymond, wys egter in sy werk “The Reformation’s Conflict with Rome: Why it must Continue” (Ross-hire: Mentor, 2001), dat Rome geeneen van sy sentrale leerstukke, insluitend die leer oor die regverdiging verander het nie, en daarom moet ons nogsteeds apologeties en evangelies teenoor hul staan.  Soos Luther en Calvyn wil ons nie ontken dat daar gelowiges in die Roomse kerk kan wees nie, maar ons moet die Pousdom en al die menslike tradisies wat daarmee saamgaan verwerp.  Om dit suksesvol, tot eer van God en heil van Sy Kerk te doen, sal ons opnuut ons historiese en konfessionele reformatoriese wortels moet herontdek, leer ken en toepas in ons tye, alles deur en volgens Sy Woord en Gees.

[7] ‘n Uittreksel uit ‘n onderhoud met die hoofakteur van die film: “Caviezel recalled telling Gibson, “I think it’s very important that we have mass every day – at least I need that to play this guy.” “I felt if I was going to play him I needed [the sacrament] in me. So [Gibson] provided that.”

[8] C. Eire, War against the Idols: The Reformation of Worship from Erasmus to Calvin (Cambridge: Cambridge University Press, 1986).

________________________________

Hoofstuk 2: Gereformeerde aanbidding

Die sestiende eeuse reformasie, was nie net ‘n herontdekking van die ‘verlossing uit genade, deur die geloof alleen’ (Rom.1:16,17; Ef.2:8-10) sola gratia / sola fide / sola Christi waarheid nie,[1] maar ook ‘n herontdekking en terugkeer na ‘n ‘sola Scriptura’ vorm van aanbidding en erediens.[2]  Johannes Calvyn skryf op ‘n plek:

“As dan gevra sou word wat die belangrikste dinge is waardeur die Christelike geloof onder ons vasstaan, en sy waarheid behou, sal gevind word dat die volgende twee dele nie alleen die belangrikste plek beklee nie, maar daaronder ook al die ander dele insluit, en daarom die hele inhoud van die Christelike godsdiens is, naamlik, eerstens, ‘n kennis van die manier waarop God reg aanbid moet word, en, tweedens, die bron waarvandaan verlossing verkry word.  As ons hierdie twee dinge nie reg insien nie, hoewel ons mag roem in die naam Christene, is ons aanspraak leeg en waardeloos.”[3]

Die doel van al die sola’s, was dat God alleen in alles sentraal sal staan en al die eer ontvang (Rom.11:33-36; sola Deo gloria[4]), d.w.s. in die mens se verlossing én die mens se aanbidding van God.  Calvyn se woorde is ook die belydenis van elke gereformeerde gelowige en gemeente, soos verwoord in die volgende woorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 7:

“Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo (die tweede punt van Calvyn – SLC), daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word (die eerste punt van Calvyn), daarin uitvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie—ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal.1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut.12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemaal volmaak en in alle opsigte volkome is. …”

William Cunningham skryf in sy standaardwerk oor die teologie van die Reformatore,[5] dat daar in antwoord op Rome se valse erediens, twee beginsels aangaande die erediens ontstaan het, onder die Protestantse Reformasie van die 16de eeu.  Die een is die Luthers-Anglikaanse beginsel, wat leer “dat die kerk in die regering en erediens nuwighede mag inbring, wat nuttig en bruikbaar is, met die nodige volmag, solank dit net aangewys kan word dat daar nie enigiets in die Skrif is wat dit eksplisiet verbied of ontmoedig nie”.  Die ander siening was die Calvinistiese siening, wat oortuig was dat “daar in die Skrif genoegsame duidelike aanduidings is, dat dit Christus se sin en wil was, dat niks in die kerk se regering en erediens ingevoer mag word, behalwe as ‘n positiewe volmag daarvoor in die Skrif gevind kan word nie.”

Deur die geskiedenis is eersgenoemde beginsel dan kortliks soos volg geformuleer “Solank dit nie verbied word nie, is dit toelaatbaar”, teenoor die reformatiese stelling: “As dit nie beveel word nie, is dit verbode”. Laasgenoemde het dan ook bekend geword as die ‘regulerende beginsel’ van die erediens/aanbidding (RBE).

Prof. John Murray verklaar dit as volg:

“Die aanvaarbare wyse van die aanbidding van God is deur Homself ingestel, en word so deur sy geopenbaarde wil beperk, dat Hy in geen ander manier aanbid mag word as wat in die Heilige Skrif beveel is nie; dit wat nie beveel is nie, is verbode.”[6]

Hervormers soos Martin Luther (en Thomas Cranmer, van die Anglikaanse Kerk) het die ‘Luthers-Anglikaanse beginsel van aanbidding’ gevolg, nl. “solank dit nie verbied word nie, is dit toelaatbaar”, en so naby aan Rome gebly aangesien Luther “… van die Roomse erediens alles behou (het) wat hy as nie in stryd met die Skrif beskou het nie, soos beelde, kerse, altare, priestergewade, ens.”[7]

Teenoor hierdie siening, het die Calvinistiese reformasie van Zwingli, Calvyn en Knox (en die gereformeerde kerke wat hul sou volg) gestaan:

“… verder het (Zwingli) die predestinasieleer bely en in die erediens van dieselfde standpunt as Calvyn uitgegaan, naamlik dat alles verwyder moes word wat nie uitdruklik in die Heilige Skrif voorgeskrywe word nie.”[8]

Calvyn skryf daarom aangaande die erediens:

“Ek weet hoe moeilik dit is om die wêreld te oortuig dat God alle maniere om Hom te vereer wat nie uitdruklik in sy Woord goedgekeur word nie, afkeur. Die teenoorgestelde oortuiging kleef hulle aan –asof dit in hulle murg en bene vassit – dat wat hulle ookal doen vanself aanvaarbaar is, solank dit maar ‘n soort ywer vir die eer van God vertoon. Maar aangesien God dit wat ons doen uit ywer om Hom te vereer, maar wat verskil van sy bevel, nie net as waardeloos beskou nie, maar dit eenvoudig verafsku … waarom dit dan doen?  Die woorde van God is duidelik en seker: ‘om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer’, en ‘tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is (1 Sam.15:22; Matt.15:9). Elke byvoeging tot Sy Woord, is ‘n leuen. Blote ‘eiesinnige godsdiens’ (ethelothreskeia) is nietigheid.’” [9]

Die RBE word dan ook eksplisiet en implisiet in ons gereformeerde belydenis gevind, o.a. NGB artikel 7; artikel 32; 34, 35 en vraag en antwoord 91 en 96 van die HK.[10]  Tydens ‘n lesing gehou by die 2001-International Conference of Reformed Churches (ICRC), stel ds. GI Williamson dit dat die RBE:

“… nog nooit êrens helderder uitgedruk is as in die Heidelbergse Kategismus nie: ‘Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie, en Hom op geen manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.’ … Ursinus … het dit as volg verduidelik: ‘Die doel en die rede vir hierdie gebod is dat die ware God … vereer moet word op die manier … wat Hom behaag, en nie deur ‘n erediens volgens die verbeelding en gedagtes van die mens nie … (en) dat die erediens van God soos dit voorgeskryf is, suiwer en onvermeng bewaar moet bly.’ Of sommer kortweg: ‘Om God waarlik te vereer, beteken om Hom te dien op die manier wat Hy self voorgeskryf het …’” [11]

Gijsbert Voetius, ‘n afgevaardigde na die Sinode van Dordt (1618/19), beantwoord in sy kommentaar op die Heidelbergse Kategismus aangaande die tweede gebod (Sondag 35), met verwysing na Deut.4:2; 12:32; Matt.15:9; Kol.2:21-23, die vraag hoe die tweede gebod verbreek word, as volg:

“Wanneer men hem door beelden wil eeren ende dienen, ofte wanneer men hem wil dienen op soodanige wijse, die daer directelick tegen Godts woort strijt, ofte die buyten Gods woort is, gefondeert op instellingen van menschen, of op ons eygen goetduncken; gelijck geschiet onder die van’t Pausdom door hare ceremonien ende menschlicke traditien.” [12]

Dit is daarom vreemd as sommiges nogsteeds dit probeer voorstel dat die regulerende beginsel slegs ‘n presbiteriaanse beginsel is,[13] en dus nie ook ‘n beginsel is wat uit die kontinentale gereformeerde wêreld gegroei het nie, d.w.s. uit die kerke van die Drie Formuliere van Eenheid nie.[14] Hierdie ongeldige bewering is egter niks nuuts nie.  Die bekende Anglikaanse teoloog en skrywer, J.I. Packer, skryf:

“The idea that direct biblical warrant, in the form of precept or precedent, is required to sanction every item included in the public worship of God was in fact a Puritan innovation, which crystallised out in the course of the prolonged debates that followed the Elizabethan settlement.”[15]

Derek Thomas antwoord die aanklag as volg:

“Om soos Packer te suggereer dat die regulerende beginsel ‘n  “Puriteinse nuwigheid” van die ‘Elizabethan settlement’ is, is heeltemal vals. Calvyn het in ‘n aanhangsel tot sy Formulier vir die bediening van die Doop vir gebruik in die kerk van Geneva, soos volg geskryf:

Ons weet dat op ander plekke daar baie seremonies is wat baie oud  is, maar omdat hul uit eie plesier uitgedink is … is dit onbelangrik, omdat dit uitgedink is sonder die gesag van God se Woord; en omdat, aan die anderkant, soveel bygelowe daaruit ontstaan het, dat ons geensins daarin getwyfel het om dit af te skaf nie, sodat daar niks is wat die mense keer om direk na Christus te gaan nie. Eerstens, wat nie beveel is nie is ons nie vry om te kies nie.  Tweedens, niks wat nie dien tot opbou nie moet in die Kerk ontvang word nie.” [16]

Prof. David J. Engelsma, nadat hy die regulerende beginsel verantwoord het in die lyn van die kontinentale gereformeerde tradisie, skryf as volg:

“In hul verdediging van die regulerende beginsel het beide Ursinus en  Voetius (nie puriteine of presbiteriane nie – SLC) hulself as getroue dissipels van Johannes Calvyn bewys, wat die derde verteenwoordiger is van die Gereformeerde tradisie. Ek verbaas my oor die vermetelheid, of onkunde van Gereformeerde teoloë en predikante vandag wat die regulerende beginsel laat vaar en Gereformeerde aanbidding oopmaak vir eiewillige, willekeurige en grillerige seremonies wat progressiewe aanbidding karakteriseer. Of hulle weet nie, of hul gee nie om dat Calvyn die regulerende beginsel geleer het nie. Of hul weet dit nie, of hul gee nie om dat Calvyn daarop aangedring het dat die regulerende beginsel ‘n noodsaaklikheid vir die ware Gereformeerde godsdiens is nie, want hy het die verwerping van die regulerende beginsel gesien as ‘n groot deel van die oorsaak vir die Rooms Katolieke bygeloof en afgodery.” [17]

Dit sou myns insiens eerliker en beter wees om dit te stel dat daar nie saamgestem word met sekere toepassings van die RBE nie, as om te wil probeer beweer dat die RBE is opsigself nie bybels en gereformeerd histories verantwoordbaar nie. Dit sal verdere  gesprekke en besinnings bevorder.

In ons eie land, met die herstigting van die GKSA, het die regulerende beginsel, soos verwoord in NGB artikel 7 en HK, Sondag 35, ook ‘n sentrale rol gespeel, bewustelik of onbewustelik. Dr. GCP van der Vyver wys daarop dat die Doppers hul o.a. beroep het op skrifgedeeltes soos Deut.4:2; Matt.15:9 en Op.22:19, om te bevestig:

“… dat die in­voer van die Gesange gelykstelling was van ‘n menslike geskrif met die geïnspireerde Woord van God. Met ‘n beroep op art.7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis het hulle die Woord van God as volmaak en genoegsaam beskou, waaraan niks toegevoeg mog word nie. Die Ge­sange naas die Psalms in die erediens het hulle beskou as sodanige toe­voeging.” [18]

Dit is my mening dat ons die aanslag van hulle wat krities staan teenoor die Skrif, en die gesag van die Skrif verwerp of verdraai aangaande die erediens, alleen kan weerstaan met die RBE van die Skrif, soos gehandhaaf en bely deur die Calvinistiese Reformatore en die gereformeerde belydenisskrifte, en nie met die Luthers-Anglikaanse sienings van Luther en Cranmer nie, wat vandag groot veld wen onder gereformeerde kerke.

Maar dit alles gesê, moet ons vra wat leer die Skrif? Bevestig of verwerp dit die regulerende beginsel?

Ek hoop om nou na aanleiding van die Skrifgedeelte wat ons mee begin het, naamlik Johannes 4:1-26, veral verse 19 tot 26, te kyk hoe die regulerende beginsel van die erediens / aanbidding, uit die Skrifte organies vloei, soos ons dit dan ook bely in ons gereformeerde belydenisskrifte.  In artikels en gesprekke wat die afgelope paar jaar in die Esra Verslag en ander blaaie en forums plaasgevind het, is daar gefokus op spesifieke sake soos die feesdae en gesange.  In die res van hierdie bydrae wil ek probeer fokus op ‘n paar basiese beginsels aangaande aanbidding, met die hoop dat dit ons die nodige agtergrond kan gee om verder te besin oor hierdie belangrike onderwerp.

[1] Genade alleen / Geloof alleen / Christus alleen.

[2] B.M. Schwertley, Sola Scriptura and the Regulative Principle of Worship (Southfield: Reformed Witness), p.1.

[3] Tracts relating to the Reformation by John Calvin, translated by Henry Beveridge, vol.I (Edinburgh: T&T Clark), p.116.

[4] Aan God alleen die eer.

[5] The Reformers and the Theology of the Reformation (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1989 [1862]), p.31 ev.

[6] Collected Writings of John Murray, volume 1: The Claims of Truth (Edinburgh: Banner of Truth, 1976), p.168.

[7] S. du Toit, Algemene Kerkgeskiedenis (Potchefstroom: Pro Rege, 1963), p.76.

[8] Ibid., p.79.

[9] Beveridge, ibid., p.118.  Sien ook sy kommentaar op Lev.10:1; 22:32; Num.15:39; Deut.4:1; 12:32; 2 Sam.6:6-12; Is.29:14; Jer.7:21-24; 7:31; 19:4,5; 26:2; Matt.15:1,9; Kol.2:22,23. Sien syInstitusies: I.XII.I; I.XII.3; II.VII.5; II.VIII.17; IV.X.1,8-11,16-18,23,24,26.

[10] Sien ook die Skotse Konfessie (1560); Franse Konfessie (1561) en die Westminster Konfessie (1643-48).

[11] Vir die volledige lesing, sien Die Esra Verslag, Jaargang 9, nr.49, p.112 ev.

[12] Voetius’ Catechisatie over den Heidelbergschen Catechismus (Rotterdam: Gebroeders Huge, [1662] 1891), p.783.

[13] Sien die blad: Waarheid en Dwaling, Maart 2004, p.9,10.

[14] Sien die volgende Esra Verslae, wat artikels bevat wat die teendeel bewys: nrs.41 (Die Psalms); nr.42 (Anno Domini); nr.45 (Feesdae); nr.49 (Reformatio Ecclesiae); nr.54 (1859?).

[15] Aangehaal deur Derek W.H. Thomas, The Regulative Principle: Responding to Recent Criticism, in: P.H. Ryken (red.), Give Praise to God: A Vision for Reforming Worship (Phillipsburg, NJ: P&R Publishing), p.82.

[16] “First, whatever is not com­manded we are not free to choose. Secondly,nothing which does not tend to edification ought to be received into the Church,” ibid., p.82. Beklemtoning bygevoeg.

[17] Ibid., p.10.

[18] PROFESSOR DIRK POSTMA 1818 – 1890 (Potchefstroom: Pro Rege, 1958), p.204, 205. Totius skryf: “Eers die vierde konsilie van Toledo, in 633 nC gehou, het die sing van ander gesange, met name dié van Hilarius en Ambrosius, goedgekeur. … Die oudste Christelike kerk het dus gesing die Psalms van Dawid”, H. Venter (red.), Versamelde Werke, deel III (Kaapstad; Tafelberg, 1977), p.360-362.

________________________________________________________

Hoofstuk 4: Slotwoorde

Om saam te vat, stel ek die volgende sewe stellings van Aanbidding aan u, wat ek glo uit die Skrif vloei, vir verdere bespreking en besinning:

  1. Ons Godsbeskouing moet ons aanbidding bepaal (v.24a).
  2. Aanbidding is noodsaaklik, en dus nie ‘n middelmatige saak nie (v.24b).
  3. Ware aanbidding moet in gees en waarheid geskied (v.23b en 24b).
  4. Ons moet valse aanbidding uitken en verwerp (v.22).
  5. God die Vader soek ware aanbidders, in gees en waarheid, ook vandag (v.23c).
  6. Christus bevestig en handhaaf ware aanbidding, in gees en waarheid (v.21 en 23).
  7. Ons word verlos om te aanbid (v.25 en 26).

En hierdie ware aanbidding, aanbidding in gees en waarheid wat God Drie-enig behaag, word myns insiens die beste en mees getrou aan die Skrif, geleer in wat bekendstaan in die gereformeerde en presbiteriaanse kerke as die ‘regulerende beginsel van die erediens/aanbidding’.

Ons leef in tye waar die fondamente opnuut omgegooi word (Ps.11:3), wat beide ons verlossing deur God en aanbidding van God wesentlik aantas.  Daarom moet ons opnuut, in afhanklikheid van God, deur Gees en Woord, die Skrifte, belydenisskrifte en ons kerkgeskiedenis ondersoek, sodat ons die HERE ook vandag sal dien en eer soos Hy behaag, want daarvoor is ons geskape (Gen.2:15) en daarvoor is ons bestem:

“Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! … 9 Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, 10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. 11 Toe sien ek, en ek hoor ’n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende; 12 en met ’n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. 13 En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Op.4:8b; 5:9ev).

Daarom die ewige opdrag aan ons, deur die verlossing van Christus, vir vandag maar ook in die ewige toekoms:

“Aanbid God! … Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester. … Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal!” – Op.22:9, 16-21.

___________________________________

* Predikant van die Gereformeerde Kerk Carletonville, vir meer inligting, preke, artikels, ens., sien: https://proregno.com/about/

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: