DS. CASSIE AUCAMP VAN DIE KERKBLAD IN GESPREK
MET DIE RAPPORT RUBIEKKRYWER, TIM DU PLESSIS
In die Kerkblad van Maart 2023, het ds. Cassie Aucamp (as nuwe redakteur) geskryf (beklemtonings orals bygevoeg in die artikel),
“Wanneer gaan dit weer gebeur wanneer afgevaardigdes van die GKSA na ’n sinode uit Potchefstroom by al hulle gemeentes terugkom? Alleen maar wanneer ons almal by die basiese dinge bly, nie onnodige laste op mekaar lê nie, die “noodsaaklike dinge” wat die Here verbied, vermy, ons eie voorkeure laat buig voor God se wil. En ons met vrymoedigheid dan kan sê: Die Heilige Gees en ons het besluit.” (bl. 4)
My vraag daarop is: volgens die redakteur nou,
– is vroue in die besondere ampte van predikant en ouderlinge deel van die dinge wat nie ‘basies’ is nie?, en,
– is 2009 se algemene sinode besluit – wat geneem is op grond van die Skrif in die rapport daaroor, dat VIDA nie mag nie, asook dat VIDA wesentlik is (2015 sinode besluit) – vir ds. Cassie ‘n ‘onnodige las’ en nie ‘noodsaaklik’ nie, dus, volgens ds. Cassie: mag susters as ouderlinge en predikante dien?
Ds. Cassie antwoord my vrae in sy nuutste artikel in die media, in sy reaksie op Tim du Plessis se skrywer oor die GKSA, nl. dit blyk dat ds. Cassie nie glo dat VIDA ‘n wesentlike saak is op grond van die Skrif, soos ons algemene sinode in 2015 besluit het nie.
Dit is jammer dat die nuutste redakteur, soos baie professore van die TSP, nie dit wat die Skrif leer, wat ons kerke saam op grond van die Skrif besluit het in 2009, 2015, 2016 en 2018, wil handhaaf en verdedig in die openbaar nie.
Die Skrif leer ook, ‘n huis wat teen homself verdeel is, gaan val, of … het dalk al geval? (Markus 3:25), want as ds. Cassie en Tim, en soos ons almal, besorg is oor die ‘sterwende GSKA’, is hierdie aangehoue verdeeldheid, verontagsaming van die Woord oor die kerkregering, dalk een van die wesentlike redes daarvoor?
Hier is Tim Du Plessis se skrywe, waar hy dan ook na o.a. VIDA verwys om sy afkeur uit te spreek teen die GKSA wat hy nie meer ‘trots’ is op nie:
“Tim du Plessis: Klein kerk waarop ek eens trots was”
Ds. Cassie Aucamp se reaksie:
“Ds. Cassie kolf vir die Doppers teen Tim se goëlballe”
Ds. Cassie skryf onder meer dat hy kan verstaan waarmee Du Plessis ‘n probleem het:
“Dan voel jy miskien die Gereformeerde Kerk het bly vassteek in dinge wat nie regtig saakmaak nie ‘Wine, women and song’ noem ek dit dikwels (Verskille oor die nagmaalbeker, die vrou in die amp, en die liedere wat in die kerke gesing word… Ek deel jou frustrasie, want ek glo eerlik dat dinge wat op die omtrek lê dikwels die tyd en die energie opneem wat ons moes bestee aan “die dinge waarop dit werklik aankom’ …”
So, vir ds. Cassie is die bybels-gereformeerde kerkregering dat o.a. vroue nie in die besondere amp van predikant en ouderling mag dien nie, ‘n ‘omtrek saak’, dus nie ‘n ‘wesentelike saak’ nie?
Die vraag dan wat opkom: wat is dan nou die groot teologiese verskil tussen hierdie twee skrywes en skrywers in die Kerkblad en op Netwerk24? … dalk net dat die een nog in en die ander een buite die GKSA werksaam is, want in wese lyk my albei begeer VIDA as ‘n ‘nie-wesentlike saak’?
Daarteenoor het die GKSA sinode, die kerke self op grond van die Skrif (soos vervat in die rapport van 2009) duidelik besluit vroue as ouderlinge en predikante is ‘n ‘wesentlike saak’ (sinode 2015) waaroor al ons kerke een moet wees in ‘leer, diens en tug’ (alle beswaarskrifte ten gunste van VIDA en teen 2015 se wesentlike besluit, is eenparig met meerderheid afgekeur by sinodes 2016 en 2018, die saak self het nie eers meer op 2023 gedien nie), omrede dit juis wesentlik gaan oor Skrifbeskouing en Skrifgesag en die skeppingsordelike rolle en take van man en vrou.
Ja, ons hele bybels- gereformeerde oortuiging van die huwelik is op die spel (sien dr. Jac Howell se skrywes en lesing hier wat hierdie sake ook help uitwys oor Skrifgesag en VIDA).
Skrifbeskouing en Skrifgesag is ‘wesentlike’ sake, wat saam VIDA wesentlike sake is vir ware gereformeerdes, vir ware doppers deur die eeue, want ten einde, ds. Cassie én Tim: as ‘geslag nie saakmaak’ (skeppingsorde) oor of VIDA ‘n wesentlike saak is of nie, gaan dit (reeds of later…) ook nie saakmaak of die huwelik nog ‘wesentlik’ gaan wees tussen ‘n man en ‘n vrou nie, of hoe?
As ek reg verstaan, is Tim reeds oorgegee aan die gay agenda (ten minste dat dit nie ‘n ‘wesentlike saak’ is vir kerke nie?), gaan ds. Cassie volg, want VIDA lei tot HIDA, of hoe?
Gen. 1:26-31 se man en vrou het hy hulle geskape, én, 1 Tim. 2:11-3:2 se die vrou mag nie leer en regeer as ouderlinge en predikante nie, is wesentlik, so leer die Skrif, so leer behoort elke meerdere vergadering en ware algemene sinodes te leer = ‘die Heilige Gees en ons het besluit’. En, dit is wat die GKSA sinode in 2015 opnuut besluit het: die ware leer en ware kerkregering maak saak, so leer elke ware gereformeerde, en kom ons bid, so sal elke ware dopper en doppergemeente aanhou glo en leer, tot eer van God, tot heil van ons kerke en ons naaste aan wie ons die evangelie bedien.
__________________________________________
Sien ook hierdie preke oor laasgenoemde versugting:
Nota: oor die besorgdheid van die GKSA se invloed wat afneem, sien vir moontlike verdere dieperliggende oorsake, die artikel van ‘n emeritus GKSA professor:
__________________________
1. Sien en leer van die tragiese verval van die Gereformeerde Kerke in Nederland, Vrijgemaakt, soos dit hier verwoord word, dat onderliggend aan hul VIDA besluite, is ‘n ander nie-gereformeerde Skrifbeskouing: De Kerngroep bezinning GKv
2. Sien ook hierdie belangrike skrywe van prof. Jorrie Jordaan oor die VIDA verwante sake:
“MANLIK EN VROULIK IN DIE KERK” – NABETRAGTING OOR ‘N BOEK EN KONFERENSIE
Twee aanhalings:
“Kortom: Die boek Manlik en vroulik sê nie dat al die verstaansmoontlikhede wat voorgestel word waar of ewe waar is nie. Die boek sê ook nie dat kerke nou maar as gevolg van verskillende verstaansmoontlikhede in hierdie verband maar kan doen wat hulle wil nie. As kerke nogtans hierdie reaksie op die boek sou hê, sou die water inderdaad dieper wees as wat ons vermoed.
Daarom moet onderstreep word wat in 17.3.1 (p.202) van die Manlik en Vroulik geskryf is: “In hierdie studie word aanvaar dat God se Woord sy openbaring van die vasstaande, onveranderlike waarheid oor Homself, sy wil en ons verlossingsweg bevat. God weerspreek Homself nie in sy Woord nie, en gee daarom ook nie twee teenoorstaande ‘waarhede’ oor ’n saak nie.” Dit geld ook vir die waarheid wat God in sy Woord bekendmaak oor sy wil oor die rol van manlike en vroulike lidmate van sy kerk. Indien hierdie aanvaarde standpunt in Manlik en Vroulik nie duidelik genoeg na die lesers oorkom nie, roep ook hierdie saak om hersiening.”
“Uit bogenoemde getuienis blyk dit dus dat dit nie korrek is om die regulerende beginsel bloot as ’n vorm van Biblisisme af te maak, soos wat in 3.2.3.1.1 van Manlik en vroulik in die Kerk gedoen word nie. Ten minste moet daar meer genuanseerd oor hierdie beginsel gepraat word as wat in 3.2.3.1.1, 15.6 en 16.1.11 van die boek gebeur. Trouens, groter kundigheid oor die aangeleentheid sal die besef laat posvat dat dit wat met die beginsel bedoel word, in werklikheid nie vreemd aan die gereformeerde teologie en godsdiens is nie.
Hoewel die uitdrukking “regulerende beginsel” om redes wat hierbo genoem is waarskynlik moeilik in Gereformeerde kringe ingang sal vind, is die saak waaroor dit gaan tog nie by Gereformeerdes vreemd nie. Daarom stel Henry Sikkema (1999) voor dat eerder gepraat word van die “Bybelse beginsel” of “gereformeerde beginsel” van kerklike diens (“Scriptural principle of worship”; “reformed principle of worship”). Sikkema dui dan aan dat hierdie beginsel in sy wese niks anders wil sê nie as die Sacra Scriptura-uitgangspunt van die reformasie. Hy meen verder dat die beginsel in werklikheid net die Skrif en die gereformeerde belydenisskrifte nasê (Sikkema, 1999:8).
… [Nadat prof. Jorrie gewys het op die RB in NGB art.7, 32; HK v/a 96, skryf hy verder]:
Uit laasgenoemde artikel van die Nederlandse Geloofsbelydenis [art.32] is dit duidelik dat hierdie onderneming in die belydenis om God op geen ander manier te dien as wat Hy in sy Woord beveel nie, nie net vir die inrigting van die erediens nie maar ook vir die kerkregering en –orde geld (d.w.s. ook vir wie in die ampte dien – slc). Uiteraard het Calvyn met die Sola Scriptura-benadering en so ook die gereformeerde belydenisskrifte afwysend gestaan teenoor die bykomstige sakramente en ander praktyke wat Rome in die kerk ingevoer het.”
Leave a Reply