TEEN DIE NUWE SA REWOLUSIE,
DIE PREDIKING VAN DIE WONDER VAN DIE WEDERGEBOORTE
AS ENIGSTE HOOP VIR ALLE MENSE, VOLKE EN LANDE*
deur Prof. SCW Duvenhage**
Lees: JOHANNES 3
Sing: Psalm 122:1; 51:5; 7:1; 95:1; 72:10
TEKS: JOHANNES 3:3, “Jesus antwoord en sé vir hom: Voorwaar, voorwaar. Ek sê vir jou; As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die Koninkryk van God nie sien nie.”
Tema: HK Sondag 3, vraag 8: “Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is? Antwoord: Ja, tensy ons deur die Gees van God weergebore word.”
Daar was ’n drukte in Jerusalem, Paasfees word gevier. By hul duisende het die volk toegestroom. Ons lees aan die einde van die vorige hoofstuk: “En toe Jesus in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.”
En dan volg daarop die eienaardige woord: “Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie.”
Dit hou in dat Jesus aan die geloof van die “baie” nie waarde geheg het nie. Dit was te oppervlakkig. Dit was alleen maar gegrond op die sigbare tekens wat Jesus gedoen het.
In teëstelling egter met die baie, so wil Johannes aan ons verhaal, was daar nou een man wie se geloof darem dieper gesetel het. Hy het ook die tekens van Jesus gesien maar hy aanskou daarin die hand van God.
In ons tekshoofstuk begin hy sy nagtelike gesprek met Jesus met die erkenning: “Rabbi, ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.”
So ernstig was hy in sy geloof, dat hy Jesus in die nag gaan opsoek. Hy wil heeltemal alleen wees met die groot leraar wat deur God gestuur is. Hy wil desnoods die hele nag deur met Hom die geestelike sake bespreek. Dit is vir hom ’n saak van lewenserns en lewensbelang. Hy weet Jesus sal sy vrae beantwoord. By Hom sal hy rus en tevredenheid vind.
Maar wie was die man?
Ja Nikodemus was sy naam. Maar wat was hy verder? Ons lees hy was ’n man uit die fariseërs.
Moet nou egter nie dadelik veroordeel nie. ’n Mens het in die dae ook goeie Fariseërs gekry, mense wat dit ernstig bedoel het, en so was Nikodemus. Hy was openhartig en opreg; hy was streng godsdienstig maar geensins geveinsd nie, hy was konserwatief voor die Fariseërs, maar sy oë was tog oop vir die werke van God. Hy was dus ‘n soeker na lig en waarheid.
Ons lees verder dat hy ’n owerste van die Jode was. Waarskynlik beteken dit, en meeste skrifverklaarders neem dit so aan, dat hy ’n lid van die Joodse Raad was. Die Sanhedrin was die hoogste gesaghebbende vergadering in die Jood se godsdienstige aangeleenthede. Daarvan was hy lid. In vers 10 noem Jesus hom ook ’n leraar van Israël. Hy was dus ’n soort dosent. U voel dit was ’n belangrike figuur wat na Jesus gekom het, ’n man met baie titels en grade voor en agter sy naam.
Hoe wonderlik en hoe aangrypend is dit nou dat hierdie waardigheidsbekleder, hierdie teologiese outoriteit in Israël, sy toevlug neem tot Jesus, die eenvoudige rabbi uit Nasaret, die timmermanseun van Galilea.
Aangrypend ook die gesprek wat op hierdie ontmoeting volg.
Jesus sê vir hom: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die Koninkryk van God nie sien nie.”
Ons moet aanneem dat Jesus hier dadelik afdaal tot die verlange van Nikodemus se hart. Om die Koninkryk van God te sien was ongetwyfeld die begeerte van sy hart.
Maar Nikodemus stel hom dan die Koninkryk en die koms daarvan verkeerd voor. Soos alle Jode in daardie tyd, verwag hy die herstel en weeroprigting van die aardse Israël. Daar sal weer kom die aardse wortel van die huis en die troon van Dawid. En dit sal kom deur die bevryding van die Joodse volk van die Romeinse dwinglandy. Dan sal God sy Koninkryk weer oprig.
En die eerste wat Jesus aan Nikodemus wil sê is eintlik dit, dat sy voorstelling radikaal foutief is. As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die Koninkryk van God nie sien nie.
Julle Jode, so wil Jesus tot hom sê begryp niks, nog van die aard van my Koninkryk, nog van die voorwaardes waarop ’n mens dit sal binnegaan.
In die eerste plek is my Koninkryk nie van hierdie wêreld nie; dit bestaan in niks anders nie as in die oprigting van my troon in die harte van die mense. En verder, die voorwaarde om daaraan deel te hé is dus nie bevryding van die Romeinse mag en lidmaatskap aan die Joodse nasie nie, maar die voorwaarde om deel te hê aan my Koninkryk is ’n rewolusie in die hart, dit is ’n innerlike omsetting van die wil, dit is ’n geestelike wedergeboorte.
Nikodemus, net soos sy stamverwante het gemeen dat daar ’n nuwe orde van dinge sal kom, ’n betere wéreld dus. Die slawerny en verdrukking, die ongeregtigheid en tirannie sal ophou en volkome vryheid en geluk sal heers.
En daarin was hulle volkome reg.
Jesus het gekom om dit te bring, maar langs ’n ander weg as wat Nikodemus verwag het.
Nikodemus het gemeen dit sal teweeggebring word deur die sigbare herstel, die nasionale herstel van Israël as volk.
Jesus sê die enigste weg om daar te kom is die verandering van die harte van die mense. Die nuwe staat, die nuwe orde, sal die gevolg wees van die nuwe mens.
Alles moet by die begin begin, by die middelpunt, by die mensehart. Daar vind u die uitgang van die lewe. Van daaruit moet die grote ommekeer plaasvind.
En waarom moet dan ’n ommekeer plaasvind?
Omdat daar diep in die mens se hart, ja omdat die hele mens, sy hele natuur en wese, verdorwe is.
Op die vraag van die Kategismus (vraag 8): “Is ons so verdorwe dat ons heeltemal onbekwaam is tot enige goed en geneigtot alle kwaad?” antwoord Jesus hier aan Nikodemus: “O, ja, beslis. Niemand kan die koninkryk van God ingaan nie”.
Het jy dan nog nooit gehoor van die natuur van die mens nie, Nikodemus. Hoe dink jy oor daardie natuur van die mens, oor daardie bodem waaruit ons hele lewe spruit? Is die natuur goed of kwaad? Is dit bedorwe of heilig? Wat troon daar diep in die mensehart, ’n engel of ’n duiwel, Nikodemus?
Voorwaar Ek sê vir jou: die duiwel.
Die mens se natuur is so verdorwe, dat hy nie die Koninkryk van God vanself kan ingaan nie. En die hele wêreld, buite jou en My om, is alleen so sleg, omdat die mens in sy diepste wese, ja in sy hart so sleg is.
As jy daardie hart kan vernuut, as my Gees die hart van die mens wederbaar, as daar wedergeboorte plaasvind, dan eers kan die mens die Koninkryk van God ingaan.
En soos Jesus geantwoord het so antwoord ook die Kategismus:
Luister maar weer na die vraag: Maar is ons so verdorwe, dat ons heeltemal onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad?
En luister nou na die antwoord: “Ja, tensy ons deur die Gees van God wedergebore word.”
Die Kategismus is steeds nog besig met die leerstuk van die ellende. Nog steeds wil die onderwyser ons aan die verstand bring: “Jy is ellendig, jy is sondig, jy is geneig tot alle kwaad.”
Die Kategismus gebruik die woord verdorwe, dit beteken eintlik korrup. Die grondwoord dui op stukkend breek sodat dit onbruikbaar geword het.
So is die mens inderdaad van nature! Verdorwe. Maar ’n verdorwenheid dui ook op aktiwiteit.
O, die krag van die sonde! Wie sal dit kan peil?
Carlyle het gesê: In ’n verrotte blaar is krag anders kan dit nie verrot nie. So is dit by die verdorwe mens.
As daar geen wonder gebeur sal hy, soos Petrus in sy tweede brief dit stel in sy verdorwenheid ten gronde gaan en die loon van die ongeregtigheid ontvang. Die verderf is dus vol prosesmatige aksie — daar is voortsetting, daar is ontwikkeling, sonder einde. As die ewolusie-gedagte alleen maar teorie is en die bewyse nog gesoek word — dan is die dewolusie, die prosesmatige verdorwenheid, reeds lankal ’n voldonge feit, ’n werklikheid waaroor dit nie nodig is om teoreties te spekuleer nie.
In die vraag van die Kategismus word dan ook gespreek in volstrekte terme. Dis ’n opeenstapeling van verbysterende waarhede: so verdorwe, heetemal onbekwaam tot enige goed, geneig tot alle kwaad.
Hier sterf die sogenaamde goeie wil.
Hier word met ’n dodelike vonnis elke mond toegestop.
Ook die van Pelagius.
En dit geld van elkeen persoonlik. Hier is geen mens uitgesluit nie. Ons, u almal, en ek is verdorwe sê die Kategismus en ook Nikodemus, Dr. Nikodemus.
Dit was seker ’n harde woord vir daardie man. Onthou: hy was ’n Jood. As seun van Abraham het hy gemeen dat hy oor allerlei voortreflikhede beskik. Hy het gemeen dat hy op grond van sy afstamming, die Koninkryk fluit-fluit sal binnestap. En bowendien, hy was geen verlore seun nie. Hy het nie sy lewe weggegooi in die slyk van vuile sonde nie. Hy het in die teologie gaan studeer En hy het ’n ortodokse fynbesnede, regdenkende leraar geword. Hy het opgeklim tot lid van die hoogste raad, van die Jode, die Sanhedrin.
En nou moet die man uit die mond van Jesus hoor dat geeneen van sy voortreflikhede en weleerwaardighede, nie een van sy titels en grade hom enige voorrang verleen nie.
Nee, hy kan die Koninkryk ook maar nie binnegaan nie tensy hy weer gebore word nie, hy is heeltemal onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad tensy hy weer gebore word.
Sy ortodoksie, dit is aan flarde geskeur. Dit baat hom niks, Sy eregrade en dekorasies, sy medaljes en strepe — ag daar lê dit alles in die vuur, dit smeul al tot as.
Ag, hoe duidelik is God se Woord, broeders en susters.
Hier werp Jesus nie die sondares of die tollenaar in die stof nie, hier ontmasker hy nie die wrede moordenaar of die gemene egbreker nie, of die bandiet nie, maar die woord kom tot die fatsoenlike, die hoogaangeskrewe predikant in Israël.
En netso geld die woord vir ons almal wie ons ook mag wees, predikant of ouderling of diaken of staatsamptenaar of dosent of student of huisvrou of kind.
Die leerstelling van die Franse rewolusie was dat die menslike natuur goed is, dat die kwaad in die wêreld alleen die gevolg is van verkeerde opvoeding en verkeerde instellinge. En in sekere sin lê die gedagte ten grondslag aan alle strominge in die wêreld wat op die oog het om die wéreld vanuit die mens te verbeter. Laat die uiterlike omstandighede verander, laat beter kondisies in die lewe geskep word dan sal die son oor die mensheid opgaan en verlossing aanbreek uit alle ellende.
Maar Jesus behandel nou die vraagstuk van ’n beter wêreld vanuit ’n veel dieper gesigspunt en stel dit op ’n veel hoër plan. Die einddoel van sy werk is ook ’n nuwe wêreld waarop geregtigheid en vreugde sal woon. Maar die weg daar heen loop in sy oog anders, as in die oog van Nikodemus en alle voorstanders van klassieke en moderne wêreldverbeterings en strominge.
Jesus sien nl. dat die bron van alle kwaad in die mens lê. Dieper as alle dokters sien Hy dat die bittere wortel van alle ellende, die sonde is. Sy diagnose van ons krankhede is onvergelyklik. Die oorsaak van die nood van die mens en die wêreld sê Hy is die sonde in die hart.
Daarom moet in die innerlike lewe, waar die sonde sy setel het, die verandering begin. In die hart moet die groot ommekeer plaasvind. Nie morele herbewapening nie maar geestelike wedergeboorte is die redding van die wêreld!
As die natuur van die mens eers verander, dan sal alle ander dinge saam daarmee verander. O, die wysheid van ons Verlosser. O, die skoonheid van die onderwys wat in daardie gedenkwaardige nag aan die wêreld gegee is. Aan die wêreld en aan die eeue ja.
Ons was wel nie teenwoordig toe die les oor sonde en wedergeboorte gegee is in daardie nag nie. Nikodemus en Jesus was alleen. Maar die wind van die nag het die woorde meegeneem en dit het ons ore bereik. Die waarheid staan vandag nog netso duidelik asof dit laaste nog gespreek is.
“Ek sê vir jou as iemand nie weer gebore word nie kan hy die Koninkryk van God nie sien nie.”
Ons moet nog net op een aspek let.
Ons moet daarop let dat Nikodemus weinig van die antwoord van Jesus begryp het. Toe hy vir die eerste maal die woord wedergeboorte hoor toe het hy dadelik gevoel, dit is ’n wonder. Dit is feitlik iets onmoontliks. Hoe kan dit gebeur? Hy vra dan ook: “Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?”
Vir hom staan die wedergeboorte dus op een lyn met die onmoontlike.
En dit is ook wat die Kategismus ons diep wil laat voel.
Om ’n beeld te gebruik: ’n Dokter staan by die bed van ’n pasiënt met ’n ongeneeslike kwaal. Hy weet dat sy pasiënt vol verwagting is vir gesondheid en lewe. Maar hy moet sy hoof skud en verklaar: “hier is geen hoop meer nie”. En tegelyk, bewus van die beperktheid van die menslike wetenskap, sal hy miskien daaraan toevoeg: “tensy daar ’n wonder gebeur.”
En kyk broeders en susters, netso erg is dit met ons gesteld. Nou dat Jesus se diagnose so suiwer is en duidelik, nou moet die gevolgtrekking ook maar uit: Ons ellende, u verdorwenheid en myne is so groot, dat daar geen hoop meer bestaan nie.
Tensy daar ’n wonder gebeur!
Tensy ons deur die Gees van God wedergebore word!
Waar dit ’n wonder is kan alleen God dit doen.
Die Gees van God doen hierdie wonder.
Jesus sê dit ook in vers 6: “Wat uit die Gees gebore is, is gees”.
Jesus bedoel met die woorde dat terwyl die natuurlike lewe altyd aan die vlees verbonde is en die mens verkneg in bande van sonde, die lewe wat deur die Gees in ons verwek word, ons vernuut en herskep tot ’n bestaan wat ons uit onsself nooit sou kan bereik nie.
Die geboorte uit die Gees is in beginsel nuwe skepping, dit is netso oorspronklik en netso wonderlik as die liggaamlike geboorte. Die nuwe geboorte is selfs groter wonder — want dit begin nie met niks nie, maar by die kwaad.
In Christus word die kwaad eers oorwin en uitgeskakel en in Christus word dan die nuwe skepsel gebore. Die kanttekenare van die Statebybel is reg: “Hierdie wedergeboorte beteken om deur die Gees van die aangebore verdorwenheid verlos en tot ’n nuwe geestelike lewe vernuut te word.”
So ’n mens het dan in ’n nuwe verhouding tot God en sy medemens gekom.
Nuwe gevoelens vervul sy hart; nuwe gewaarwordinge word in sy gees gebore; nuwe doeleindes gee besieling aan sy dade; nuwe beginsels gee leiding aan sy wil.
Sy kragte bly dieselfde, maar dit is vernuut — dit word aan die diens van God gewy.
’n Verandering het oor hom gekom soos die verandering wat die natuur in die lente ondergaan.
Die enigste beskrywing wat so ’n mens eintlik na waarheid teken is, dat daar ’n nuwe mens gebore is, die wedergeboorte het plaasgevind.
Sy omgewing bly nog dieselfde maar hy het totaal verander. Hy sien ook die dinge anders. Dink maar aan ’n gevangene in die sel. Hulle kyk deur die vensters na buite. Die een sien net die rooi vuil modder daarbuite, die ander sien die son daaroor heen skyn.
Dit is die verskil. Buite die gevangenis is modder. Maar buite die gevangenis straal ook die son. Maar wat jy sien, hang af van die vraag watter soort mens jy is. En hoe jou oë die dinge raaksien.
En Jesus Christus, die leraar wat Nikodemus daardie nag onderrig het, Hy het tot die verdorwe wêreld gekom om wonders te verrig, om die mens te verander, om die mens deur die wonderwerking van sy Gees, totaal te verander, radikaal te verander, sodat hy wat slaaf van satan was, kind word van sy hemelse Vader.
Dit is die aloue les van dieselfde hoofstuk:
“Elkeen wat in die Seun glo, sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê.”
______________________________
* Opskrif en beklemtonings bygevoeg
** Bron: Jesus Alleen: Verkondig die Woord – Kategismusprediking, Sondag 1-7, bl. 29-36 (Potchefstroom: Vanderspoel-Drukkery, 1959)
Leave a Reply