TUISONDERWYS seminaar 2001 lesings (2: Lesings & bykomende artikels)

TUISONDERWYS seminaar 2001 lesings

(2: Lesings & bykomende artikels)

TUISONDERWYS seminaar 2001 lesings (1: Inleiding, redaksiekolom, inhoudsopgawe en Verantwoording

Nota: Indien u ‘n gedrukte kopie soek van die Esra Verslag Tuisonderwys uitgawe (A5 boekie – ringbind), dan kan u dit bestel by progregno@gmail.com  Kostes per boekie: R70-00

Hier kan die volledige Esra Verslag afgelaai word met die lesings asook bykomende artikels soos hier onder gesien kan word in die inhoudsopgawe:

Esra Verslag: Tuisonderwys 

___________________________________________________

ESRA VERSLAG: TUIS ONDERWYS, NR. 46 : REDAKSIEKOLOM

Hierdie uitgawe handel om ‘n spesifieke tema, nl. tuisonderwys. In die Skrif word verbondsouers opgeroep om hul kinders in die vrese van die HERE op te voed vir die hele lewe (Deut.6:4-9;  Ps.78:1-10; Ef.6:1-4; 2 Tim.3:15-17; ens.), soos dit ook in sy grondslag gevra en bely word in die gereformeerde doopsformulier:

“Belowe u en neem u u voor om hierdie kind, van wie u die vader en moeder is, wanneer hy/sy dit kan verstaan, in die genoemde leer na u vermoë te onderrig en te laat onderrig?”

Dit geld nie net vir die opvoeding in die algemeen nie, maar ook vir die spesifieke onderwys wat vandag meestal geskied deur middel van die skoolonderwys, nl. die staatskool model of die privaatskool model. In die verlede en ook in die hede is daar al baie vanuit christelike perspektief aandag geskenk aan die twee laasgenoemde onderwysmodelle, sodat die christenouer en christenonderwyser, volkome toegerus kan word om in teorie en praktyk hul roeping te vervul in hierdie onderwysmodelle.

Die laaste paar dekades is daar egter ook wêreldwyd ‘n groeiende belangstelling en terugkeer na die tuisskoolmodel oftewel tuisonderwys. In hierdie onderwysmodel, is die ouer nie alleen die primêr verantwoordelike persoon van die kind se onderwys nie, maar is die ouer ook die primêre onderwyser van die kind wat die doel, inhoud en gees van die kind se onderwys bepaal.

In die VSA word daar geskat dat daar naby die twee miljoen kinders, en in SA oor die tienduisend kinders, reeds tuisonderwys ondergaan (2001 statistiek – slc). Tuisonderwys word nie net as ‘n opvoedende onderwys oplossing gesien nie, maar ook as een van die primêre instrumente in die herstel van die gesinslewe, wat die basiese bousteen vorm van beide kerk en staat. Daarom, soos in alle onderwysmodelle, as die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daarin bou (Ps. 127:1).

Aangesien daar egter baie onkunde en onsekerheid heers oor tuisonderwys, het die Instituut vir Christus en Kultuurstudies besluit om Verbondseminaar 2001 te wy aan hierdie tema. Ons hoop dat die lesings -en die ander artikels- wat in hierdie tema-uitgawe van die Esra Verslag verskyn, vir u as ouer, grootouer, onderwyser, opvoedkundige, belangstellende, ens., van veel nut sal wees.

Mag ons almal daardeur verryk word om in gehoorsame liefde ons doopbeloftes na te kom, vir die groei van Christus se Kerk en die uitbreiding van Sy Koninkryk op elke terrein van lewe en denke, sodat aan Hom al die lof en die eer sal gaan.

Verbondsgroete

Slabbert Le Cornu

Termgebruik

Ter wille van gesprek, word hierdie skematiese uiteensetting gegee. Dit is dus voorlopig en veranderbaar. Met ‘opvoeding’ word die hele leerproses van die kind, formeel en informeel, vanaf geboorte. Die doel van gereformeerde opvoeding is om God reg te leer ken en te dien volgens sy Woord in die hele lewe. Die taak van opvoeding is opgedra aan die kerk en gesin. Die kerk moet deur die kategese die gelowiges opvoed in die leer van die Skrif (Matt.28:18-20), en deur die kerkrade ‘toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied’ (Dordtse kerkorde, art.21).

Die’ skoolonderrig’, d.w.s. die onderwys is die ouers se primêre verantwoordelikheid en taak, wat op verskillende maniere (onderwysmodelle) uitgevoer moet word.

Met ‘onderwys’ word daarom bedoel die formele doelbewuste, beplande, wetenskaplike bestudering en toepassing van opvoeding. Daar kan nie ‘n klinkklare onderskeid gemaak word tussen opvoeding en onderwys nie, want alle onderwys is ook opvoeding, maar alle opvoeding is nie noodwendig onderwys nie. Vanselfsprekend is dit dan ook dat daar geen teenstelling gemaak behoort te word tussen opvoeding en onderwys nie. Alle ouers is verantwoordelik vir opvoeding (huisonderrig) van hul kinders in die vrese van die Here, maar het ‘n keuse tussen tuisonderwys en skoolonderwys, in die vervulling van die formele onderwys.

‘Skoolonderwys’ is waar die kind onderwys ontvang by ‘n staat-of privaatskool.

‘Tuisonderwys’ is die onderwys van die kind binne gesins- en familieverband, by die huis. Die term ‘onderrig’ dui op die handeling wat plaasvind in enige leerproses.

‘Tuisskool’ dui op die plek van onderrig of onderwys. Soos reeds genoem, is hierdie ‘n eie uiteensetting, gebaseer op hoe die verskillende opvoedkundige en onderwysterme oor die algemeen gebruik word.

In die lesings wat hierna volg, word hierdie uiteensetting nie slaafs nagevolg nie, en moet die lesers elke artikel se gebruik van die terme lees binne die konteks en raamwerk waarin elke spreker dit gebruik.

ESRA VERSLAG: TUIS ONDERWYS, NR. 46 INHOUDSOPGAWE

Inhoudsopgawe

REDAKSIEKOLOM

Termgebruik

‘n Verantwoording van Gereformeerde Tuisonderwys, deur tuisonderwys lidmate van die VGK Pretoria gemeente

LESINGS:

ʼn Verbondsmatige tuisonderwys-opvoedingsfilosofie, Slabbert Le Cornu

Die Gesin as Bousteen vir Tuisonderwys, dr. MC Durand

Die geskiedenis en regsposisie van tuisonderwys in Suid-Afrika, Leendert van Oostrum

Die praktyk van tuisonderwys, Ina Opperman

Bykomende artikels:

Niemand word as ‘n nommer gebore nie: doop en familie, dr. J. van Bruggen

Skoolplig en huisskole: enkele opmerkings, prof. GJJ Louw

Die Jeugkrisis: Siekte of Sonde? – Opvoeding en Jeugbediening, Slabbert Le Cornu

ESRA BOEKE:

TUISONDERWYS BRONNE 102

BOEKBESPREKINGS 102

ANDER OPVOEDKUNDIGE EN ONDERWYSBOEKE OM TE LEES

‘n Verantwoording van Gereformeerde Tuisonderwys

uitgaande van lidmate van die Vrye Gereformeerde Kerke, te Pretoria –

1. Tuisonderwys moet gedoen word uit geloof

“De ouder staan in het gezin als dienstknechten van de Heilige Geest, als instrumenten om de kinderen christelik en godzalig op te voeden. Zij hebben hun ambt ontvangen om de kinderen te leiden tot het Christen zijn in zijn volle omvang tot het godsvrucht in heel hun leven. Hun ambt is dus: De kinderen tot hun ambtsdienst te bekwamen.” (Prof. B. Holwerda, De Betekenis van Verbond en Kerk voor Huwelijk, Gezin en Jeugd, Osterbaan&LeCointre, 1958)

2. Tuisonderwys moet tot eer van God gedoen word

Tuisskool kan tot eer van God gedoen word, mits dit gedoen word uit geloof, vir die doel wat God daarvoor beskik het en volgens die norme van God. Tuisskool kan gedoen word uit geloof, sien punt 1. Tuisskool moet gedoen word tot die doel wat God vir opvoeding beskik het, sien punt 6.

Tuisonderwys moet gedoen word volgens die norme van God

  • Daar is min twyfel oor die skriftuurlike legitimiteit van die huis as plek van onderwysaanbieding. Immers ontvang die ouers hulle kinders tuis. Die mees belangrike jare van onderwys (nl. die ouderdom 1 – 7), vind tuis plaas. Die sg. “tuisskoling” is slegs ‘n voortsetting van die onderwysproses wat reeds vanaf geboorte plaasvind.
  • Die huis, as gesins-konteks, is die God-gegewe struktuur waarin tuisonderwys plaasvind. Vir die gesin het God duidelike organisatoriese en gesagsnorme neergelê. (Vgl. o.a., Ex.20:12, Ef.6:l-4, 1 Tim.3:4) As skeppingsordening is die gesin op haar minste die oord van ek-ontdekking en die ons-ontdekking; van die individualisering en die sosialisering. Die gesin is dus by uitstek die struktuur waarin ‘n gesinslid alle ander samelewingsverbande op mikrovlak ontmoet en leer ken.
  • In die onderwys heers drie verskillende visies, nl. die leerlinggerigte, die samelewingsgerigte en die vakinhoudelikgerigte visie. Binne gereformeerde verband word ‘n geïntegreerde onderwysvisie voor oë gehou, wat bekend staan as “Taakgerigte onderwys”. Hierby speel vier dimensies ‘n belangrike rol nl. 1) Die vertikale dimensie, 2) die persoonlike dimensie, 3) die sosiale dimensie en 4) die kulturele dimensie.
  • As ‘n gesin wil kwalifiseer as gereformeerd, behoort so ‘n gesin te staan onder opsig en tug van die kerk, waarin die vertikale dimensie binne die tuisskool sy regmatige toetssteen verkry.
  • Wat betref die persoonlike dimensie, behoort dit tot die ouer se ampsopdrag om toe te sien dat elke kind op juiste manier omgaan met ontvange moontlikhede en kapasiteite. Die ouer as primer verantwoordelike en eind-verantwoordelike, wat deur die reg daartoe aangespoor word, gaan beslis op baie intieme wyse om, met die eie individualiteit van elk van die kinders.
  • In die wese van die gesinstruktuur lê vanweë die verbondsmatige karakter daarvan, reeds opgesluit dat die sosiale dimensie tot ontplooiing kan kom.
  • Tuisskool voldoen ook aan die kulturele dimensie vanweë die onderwyskundige aspek, wat die “sekondêre” vlak van onderwys inkorporeer by die primêre vlak van onderwys.

3. Tuisonderwys moet nuttig wees

Ons verstaan 1 Kor.6:12a, soos Calvyn dit uitlê, naamlik dat die Korintiërs die Christelike vryheid as ‘n ydele voorwendsel gebruik het om hulle vorige losbandigheid te behou. En nou is Paulus besig om God se grenslose vryheid te besing wat ons oproep tot matigheid. Dade wat uit gehoorsaamheid aan God gedoen word, word deur God geseën. Tuisonderwys het te doen met die kontinuering en verbreding van die reeds begonne opvoedingstaak, en is dus juis deel van God se opdrag tot Godsalige opvoeding. God bring egter self sy heil tot die gesin uit genade – ‘n genade wat mense nie kan bestuur nie.

Hoe groot is, Heer, u seënstrome

vir wie opreg van gees

wil wandel in u vrees!

Hoe groot die vreugde van die vrome,

as almal klaar bemerk het

die heil wat U bewerk het. Ps. 31: 15 (berymd)

4. Ouers moet hulle deur niks laat oorheers nie

Hierdie oorweging verwys nie na heersing oor mense nie, maar heersing oor dinge. (Vgl. Calvyn se kommentaar op 1 Kor.6:12b). Aangesien die ouers die primêre verantwoordelikheid het vir die onderwys van hulle kinders, is dit ook hulle verantwoordelikheid om in gehoorsaamheid aan God se onfeilbare woord die plek, die middele en die inhoud van die onderwys te bepaal. Die gegewens waarvolgens ouers hierdie besluite kan neem, is alleen die heilige woord van God. Dit sluit ‘n sug na prestasie, ongekwalifiseerde hoe” kwaliteit, gemaksug, tradisionalisme, portuurdruk of losbandigheid ens., uit.

5. Tuisskolers moet nie medebroeders laat struikel deur hulle dade nie

Tuisonderwys is nie die gemaklikste keuse nie. Tuisonderwys as sodanig kan nie lei tot sonde nie. Indien daar onrus in die kerke is rondom die onderwerp, behoort die wat verontrus is, ingelig te word. (Calvyn se kommentaar op 1 Kor.8:13). Tuisskool is tot stigting van die naaste en dien die naaste op verskeie maniere, soos bv.:

  1. Tuisonderwys wil ouers meer tyd laat bestee aan die opvoeding van hulle kinders. Ouers word meer intens betrek by die opvoedingstaak en die ontwikkeling van die kind. Dit werk mee aan en stel ‘n voorbeeld van ‘n godsalige gesinslewe, waarin onbaatsugtig diens as Christelike deug by ouers na vore tree.
  2. Tuisonderwys bied pragtige geleentheid om te getuig van die heil in Christus en die kragtige werk van die Heilige Gees. Immers is tuisonderwys uit eie vermoë nie moontlik nie.
  3. In ‘n tyd van gesinsverbrokkeling en fragmentarisering van die lewe, toon tuisonderwys die konkrete moontlikheid en haalbaarheid van die gesinslewe. Man, vrou en kinders leef gesinsgeoriënteerd, i.p.v. werk – en -ontspanningsgeoriënteerd.
  4. Tuisonderwys, werk mee aan ‘n gesonde samelewing, vanweë die bevordering van onderlinge gesinsbetrokkenheid. Die gesin is immers die hoeksteen van ‘n gesonde samelewing.
  5. Tuisonderwys kweek by ouers nugterheid oor hul opvoedingstaak. Onderwyskundige opvoeding is nie kinderspeletjies nie. Dit spoor aan tot dankbaarheid, waar ouers wel kan tuisskool, asook vir die beskikbaarheid van die gereformeerde laerskool, waar ouers nie kan tuisskool nie.

6. Tuisonderwys moet die Godgegewe doel van onderwys nastreef

Die doel van gereformeerde onderwys is om die verbondskind toe te rus “sodat hy God, sy Skepper, reg kan ken, Hom van harte kan liefhê en saam met Hom in ewige saligheid kan lewe om Hom te loof en te prys” (HK, So.3,vr&a 6). Dit word in die tuisskool bereik deur gehoorsaam te wees aan die vele riglyne wat God oor die opvoeding in Sy woord aan ons gee.

7. Ouers is primêr verantwoordelik vir die opvoeding van hulle kinders

Primêre verantwoordelikheid plaas ouers in die vernaamste posisie met betrekking tot die opvoeding van hulle kinders. Hierdie verantwoordelikheid laat ouers let op die individuele behoeftes van elke kind wat betref die plek, die middele en inhoud van die opvoeding. Tuisskolers sal dan ook die mees geskikte middele en inhoud kies vir elke kind se opvoeding. Verder kan die eenheid tussen godsdienstige en formele vorming in die tuisskool besonder goed tot sy reg kom.

8. Kinders moet toegerus word om in vandag se komplekse samelewing te funksioneer

Kinders wat onderrig is volgens die riglyne van Ps.78, is in staat om in moeilike omstandighede te funksioneer, omdat hulle hul vertroue op God stel. Tuisonderwys het in die geskiedenis voorgekom in komplekser sowel as eenvoudiger samelewings. Ook die praktyk in lande soos die VSA het bewys dat kinders wat tuisonderwys ontvang het, baie goed funksioneer op universiteite en in die werksomgewing. Die huisomgewing is juis ‘n goeie omgewing om voor te berei vir die komplekse samelewing, omdat ‘n gesinslid alle ander samelewingsverbande hier op mikro-vlak ontmoet en leer ken. ‘n Tuisskool funksioneer te midde van die werklike komplekse lewe met werklike omstandighede waarmee die kind gekonfronteer en opgevoed word. In die verband is dit ook opmerklik dat daar in Noord Amerika en Europa groot bedrae bestee word aan projekte waarin die sosiale profiel van tuisleerders gesimuleer word.

9. Kinders moet opgroei binne ‘n verbondsgemeenskap

God gee die verantwoordelikheid van onderrig aan die ouers by die doopvont. Die hoof van die gesin en sy hulp maak beide die doopbelofte voor die hele gemeente. Die gemeente het daarom die taak om toe te sien dat die ouers hierdie belofte nakom, en hulle te vermaan indien hulle hierdie taak nie nakom nie. Gesinne binne die verbond moet hulle onderwerp aan hierdie onderlinge toesig. Tuisskoolouers moet daarom bereid wees om hulle te verantwoord teenoor die gemeente oor hoe hulle besig is om hulle doopbelofte na te kom. Die gemeente moet ook ouers met raad en daad bystaan met die opvoeding van hulle kinders. Kinders moet ook in staat wees om sosiaal goed te kan funksioneer binne die verbondsgemeenskap. Empiriese navorsing oor die sosialisering van tuisleerders het getoon dat hierdie kinders ten minste dieselfde vaardighede ontwikkel as kinders in skole. Dit wil voorkom asof tuisleerders beduidend meer sosiaal buigsaam en sosiaal volwasse is as geïnstitusionaliseerde leerders. Ook in die verband voldoen tuisonderwys daarom aan die vereistes vir gereformeerde onderrig.

10. Almal is verplig om hulle gawes tot nut en saligheid van ander aan te wend (HK v&a 55)

Die tuisonderwysmodel wil alle ouers se gawes ontgin tot nut en saligheid van die verbondskinders. Tuisskolers organiseer ondersteuningsgroepe, waar ouers hulle gawes met mekaar deel. Daarom behoort ondersteuningsgroepe binne gemeenteverband te funksioneer. Dit is juis die komplekse samelewing wat tuisskool moontlik maak en dit aanmoedig. (Gelet op die beskikbaarheid van geletterde ouers, inligting, tyd, vervoer, elektriese hulpmiddele ens.)

11. God se gawes moet optimaal gebruik word (rentmeesterskap)

In die verlede is gevind dat skoolonderwys in die meeste gevalle neerkom op die mees optimale aanwending van God se gawes. In vandag se situasie (met baie tegniese hulpmiddels en ouers wat ‘n goeie opvoeding ontvang het) is tuisonderwys dikwels die mees optimale keuse. Ervaring het getoon dat die tuisonderwys teen baie lae kostes baie goeie akademiese resultate lewer. Tuisonderwys is ook ‘n baie leersame ervaring vir die ouers wat dit uitvoer, en dra by tot ‘n baie ryk gesinslewe. Hierdie feite in ag genome, voldoen tuisonderwys aan die norm van goeie rentmeesterskap. Ouers wat tuisonderwys voorstaan is baie dankbaar vir die gereformeerde skool. So ‘n gawe mag nie sonder dringende redes genegeer word nie. Die tuisonderwysmodel vertrek vanuit die beskikbaarheid van die gesin as gawe, met die oog op opvoeding. Hierdie gawe mag ook nie sonder dringende redes genegeer word nie. Dit sal baie jammer wees indien ouers wat die gawe van ‘n gesin ontvang het, dit nie mag gebruik om hulle kinders tuis te onderwys nie. Ouers van skoolonderwys het (in die verlede en hede) die vryheid en die erkenning van hulle gesag om te besluit oor die onderrig van hulle kinders. Netso het ouers van die tuisonderwysmodel die vryheid en die gesag om te besluit oor die onderrig van hulle kinders. Daarom hoef daar geen redes te wees waarom ‘n kind nie aanmeld by die gereformeerde skool nie, maar daar moet ook goeie redes gegee word waarom ‘n kind se onderwys tuis gestaak word.

12. Gemeentelede moet mekaar se laste dra (Gal.6:2)

Hierdie hulp kan verskeie vorms aanneem. Ouers kan mekaar help om beter rentmeesters te wees. Ouers kan mekaar met raad en daad bystaan oor praktiese onderwysaangeleenthede. Verder kan middele en kennis met mekaar gedeel word. Die kind kan by bogenoemde betrek word deur formele onderrig asook deur oefening in die deel van gawes.

13. Die unieke talente van kinders moet ontwikkel word

‘n Oorvloed van empiriese navorsing toon duidelik aan dat tuisskool in hierdie opsig volledig reg laat geskied aan die gestelde eis, omdat ouers die kurrikulums kan kies en aanpas om aan die unieke behoeftes van elke kind te voldoen en die onderrig teen ‘n pas aan te bied in ooreenstemming met die vermoëns van elke individuele kind.

Opgestel deur: ds. Johan Bosman, dr. Michiel Durand, Mnr. Slabbert le Cornu, Mnr. Bouwe van der Eems, Pr. Ing.

__________________________________

Volledige uitgawe: Tuisonderwys

Beginnersgids vir tuisonderwys: SA Tuisonderwys

Regsaspekte van tuisonderwys: Pestalozzi Trust Facebook

Suksesverhale van Tuisonderwys

Praktiese advies, ervaringe en verhale oor tuisonderwys: kom drink lekker koffie by ons hier in Carletonville, welkom!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: