PREEK: PSALM 22

PSALM 22 PREKE

PREEK 1

Lees: Psalm 22

Fokusverse: verse 1-22

Preekopname (GK Carletonville, 19 Februarie 2023):

Aflaai: Psalm 22:1-22 preek

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Ps. 22, saam met Jes. 53, is seker van die mees eksplisiete, duidelikste en omvattendste OT gedeeltes wat profeteer, heenwys na ons Here Jesus Christus, se sware lyding én roemryke oorwinning, alles ter wille van ons, tot die eer van sy Vader (x2).

Ja, Ps. 22 is ‘n baie duidelike Messiaanse Psalm.

Dit verkondig aan ons die lyding van Christus sy lewe lank,

en dan in die besonder aan die kruis,

maar dan ook die oorwinnende gevolg van Christus se offer,

deur sy opstanding, en dat sy reddingsplan met sy kinders,

volbring is, en tot die eindes van die aarde sal strek en vervul sal word.

En ons mag vanoggend opnuut aan die Here se tafel herinner word hieraan, in en deur ons geloof in die vervulling van Ps. 22, waarlik versterk mag word, om in hierdie oorwinning van Christus, ons enigste Troos, te kan lewe en sterwe, vir Hom, om in die woorde van vers 23, vandag en elke dag, die Here se Naam te vertel, te verkondig in ons gemeente, in die vergadering en ons hele lewens Hom te prys!

Ps. 22, is ‘n Psalms van Dawid, koning Dawid, die man na God se hart.

Dawid, het in sy lewe ook lyding geken, na gees en liggaam,

daar ongeveer 1000 jaar voor Christus.

Dawid was ‘n profeet van God, en ‘n voorbeeld of tipe van die Christus,

sien Matt. 22:41-46; Hand. 2:30,31 en 1 Pe. 1:10-12.

Hy profeteer hier en elders van die Messias wat sou kom en ook ly,

verskriklik sou ly, sy lewe lank, maar in die besonder aan die kruis.

En die Gees van God gebruik Dawid se lewe, sy lyding om heen te wys

na die Christus, want, ons lees in Op. 22:16,

Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.

Die rede vir Dawid se bestaan, waarvoor hy verorden is, is die Christus.

Sy lewe, sy amp as Koning maar ook dat hy geprofeteer het,

die wortel daarvan is die Here, die Heilige Gees wat deur sy lewe,

en deur sy woorde profeteer en wys na die Christus.

En in die Psalm lees ons van verskeie maniere, beskrywings van Dawid,

ja, wat weens sy eie sonde, maar ook die sondegevalle wêreld,

weens die goddelose en die Here se vyande waarlik ly, swaarkry,

dit baie erg het …. soos ons ook, en elke kind van God ons lewe lank,

op verskillende maniere beleef, na liggaam en/of na gees:

Maar ek is ’n wurm en geen man nie, ’n smaad van die mense en verag deur die volk. Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê: Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom… Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring. Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ’n leeu wat verskeur en brul (Ps 22:7–9,13)

Dit is wat Dawid baie beleef het, hy is verag deur sy vyande,

hy is gespot, sy geloof is bespot … hy het ‘n smaad geword,

ja die heidense volke toe hy gevlug het van Saul,

maar later ook, toe sy eie seun, Absolom, hom uit Jerusalem verdryf het.

Dawid beskryf sy gemoed:

Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande. My krag is verdroog soos ’n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood. Want honde het my omsingel; ’n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.” (Ps 22:13–19)

Hierdie lyding na gees en liggaam, was vir Dawid partymaal so erg, dat hy angstig uitgeroep het, die woorde van v. 2 en 3,

My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul? My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie.” (Ps 22:2–3)

Ja, dit was waar Dawid baiemaal in sy lewe was … en dit is waar die kerk van die Here, deur die eeue, dit is waar ons as kerk, waar u ook baiemaal is.

Beproewing, lyding, kastyding wat oor ons lewenspad kom, van binne, van buite, die aanslae van die Satan, die wereld, oorblyfsels van die sonde, en dan, soos Dawid roep ons hierdie woorde ook uit, ons VOEL ons van Godsverlate!

Ons voel ons bid teen die dakke vas, ons voel die Here sien en hoor my nie.

En is die gevaar dan baiemaal as ons in daardie fisiese en/of geestelik toestand is van wat ons meen Godsverlatenheid, dat ons verkeerdelik sal dink God weet nie, God verstaan nie…

Ja geliefdes, ons kan in ons lewensstryd tereg sê: my naaste verstaan nie, die kerk of ds verstaan nie, maar, ons mag nooit sê … die Here, Christus weet en verstaan nie.

WANT, dit is juis die goeie nuus, die troosnuus van hierdie Psalm, dat al voel ons baiemaal verlore, Godsverlate as sy kinders oor lyding,

die GROOT TROOS is, ja …, twee dinge, en dit moet ons lewenslank vashou, en dit is wat ons bemoedig word deur die geskrewe Woord, Ps. 22, maar dan ook die prent Woord, die nagmaal vanoggend, en dit is:

– ons lyding is tydelik, dit gaan verby, dit sal volkome verbygaan… en,

– ons Here hoor altyd sy kinders, Dawid en elke gelowige se angsroepe

van Godsverlatenheid, en red ons na gees en liggaam, op sy tyd

HOEKOM?

Want, hierdie Psalm wys dat die Here ons angsroepe hoor:

Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.” (Ps 22:25)

En omdat Hy as liefdevolle God vir Dawid, en elkeen van sy kinders se ellende roepe hoor, antwoord Hy met sy Seun, die Messias, die Christus wat sou kom,

om hierdie woorde te vervul, om die volkome plaasvervangende lyding te ondergaan, om WAARLIK van Godsverlate te wees, daar aan die kruis, sodat,

soos ons netnou gaan hoor met die nagmaalsformulier, sodat ons nooit maar nooit deur God verlaat sal word nie.

Kyk hoe het Jesus die Psalm vervul:

Maar ek is ’n wurm en geen man nie, ’n smaad van die mense en verag deur die volk. Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê:” (Ps 22:7–8)

Christus is deur sy volk verag en gekruisig en gespot

My krag is verdroog soos ’n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood. Want honde het my omsingel; ’n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!” (Ps 22:16–18)

Dink aan Christus se woorde aan die kruis, Ek het dors…

Sy hande is deurgrawe, die spykers deur sy hande ….

En dan, in die hoogte en diepste lyding, roep ons Here, ter wille van ons, die angswoorde uit, Matt. 27:46, “My God, my God, waarom het U my verlaat  …”

Hierdie woorde geliefdes, is nie woorde van opstand of bevraagteken van sy Vader se raadsplan nie, want Hy het sy lewe in liefde gewilliglik afgelê, dit is woorde wat die hoogte, die diepte, die allesomvattende lyding, van die onbeskryflike fisiese en geestelike angs van werklike Godsverlatenheid beskryf… vir ons… sodat ons nooit weer deur God verlaat sou wees nie.

Maar, dan geliefdes, dit eindig nie daar met hierdie sware lyding van v. 1-22 nie, daar is ook die vrug van die werk van die Messias wat geprofeteer word in veral verse 27-32, wat duidelik die Messianiteit van die Psalm wys, dat dit oor baie meer as net Dawid gaan, dit wys op die vrug van Christus se lyding, dus ook sy opstandingsoorwinning en hemelvaart, wat beteken die evangelie gaan nou verder as net Israel, na al die lande en volke, die heidene, …. ook na ons, prys sy Naam.

Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die Here bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.” (Ps 22:28)

En volgende week, sal ons daarvan leer, Ps. 22:23-32, die wonderlike gevolg en vrug van God se reddingswerk in Christus alleen …

Toepassings:

– die Here hoor ons angsroepe … in Christus, en elke dag ook, ons lewe lank, wees getroos daardeur.

– ons lyding is tydelik, hou goeie moed, volhard tot die einde toe

– wees daarom dankbaar, en volhard om Hom te dien midde die stryd tot die laaste dag.

– kom na sy tafel, ons lees in verse 27 en 30, van die wat glo ‘eet’ saam, ons mag dit vandag doen, dankbaar, ons opnuut verbind aan v. 26

Van U kom my lof in ’n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees.” (Ps 22:26)

AMEN!

______________________________________________________

PREEK 2

Lees: Psalm 22

Fokusverse: verse 23-32

Preekopname (GK Carletonville, 26 Februarie 2023):

Aflaai: Psalm 22:32-32 preek

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Ons kon genadiglik, vorige Sondag, in die woorde van v. 27 en 30,

aan die Here se tafel ‘eet’, geestelik eet, gevoed en versterk word,

in ons geloof aan die Here se reddingswerk in Christus vir ons.

In die besonder, soos ons geleer het in die eerste deel van die Psalm,

My God, my God waarom het U my verlaat,

wat heengewys het na die volkome lyding van Christus,

die Godsverlatenheid aan die kruis van ons Here Jesus,

sodat ons nooit maar nooit ooit deur God verlaat sou wees nie.

Vanoggend wil ons nou verder leer, want die Psalm het nie gestop,

met die lyding van Christus nie, Christus as’t ware, soos die res van die Skrif natuurlik ook leer, hang nie meer aan die kruis nie, Hy ly nie nog steeds nie, Hy het gesterwe, Hy het opgestaan en Hy sit aan die regterhand van God, waar Hy besig is om deur sy Gees en Woord sy uitverkorenes te versamel, en sy vyande die voetbank van sy voete te maak, Ps. 110,

TOTDAT Hy sal terugkom om die lewendes en dooies te oordeel,

en sy koninkryk finaal en volkome te bring,

dit wat ons vanoggend weer van harte bely het (Nicea) =

… aan sy Koningskap sal daar geen einde wees nie.

 

En nou wil ons juis daarvan leer in die tweede deel van Ps. 22,

veral vanaf verse 27 en verder, en dit is ons tema:

Die onweerstanbare vrug en gevolg van Christus se lydingswerk,

soos gesien in sy oorwinningswerk deur die ganse geskiedenis,

maar ook my lewe … ons lewens, ons gemeentes, hier en nou (x2)

Deur dit te leer, geliefdes, leer ons daarom ook opnuut dat ons moet

glo in die kruisiging en opstanding van Christus,

die kruis en die kroon,

die Lam en die Leeu,

nie net een of die ander nie,

wat Christus ondergaan het vir ons regverdiging en heiligmaking.

 

So, wat is die vrug van Christus se lydingswerk, ja, vir die ewigheid, wat hier en nou in die geskiedenis deur die krag van die Gees plaasgevind het, en aanhou sal plaasvind tot die laaste dag?

Ons hoor dit vanaf verse 27,

Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die Here prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe! Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die Here bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid. Want die koninkryk behoort aan die Here, en Hy heers oor die nasies. Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie. ’n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die Here aan die volgende geslag. Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen” (Ps 22:27–32)

 ‘Al die eindes van die aarde…’, ‘Hy heers oor die nasies’ ‘Al die grotes van die aarde’ ‘’n Nageslag sal Hom dien’ ‘dit sal vertel word aan die volgende geslag’

Ja, dus nie net hulle wat gered word onder en in Israel nie, nie net Dawid hier nie, maar ook verder en onder al die volke, stamme en nasies, die vervulling van God se belofte aan die aartsvaders, sy belofte van redding vir altyd, Gen. 12:3, 17:7

En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” … “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.

Die volkome lydings- en oorwinningswerk deur Gees en Woord is onstuitbaar besig, deur die eeue, soos ons dit ook daar bely in v/a 54 van die HK. die Here is besig om vir Hom ‘n volk te vergader, en niks en niemand kan dit keer nie.

Het u elke keer gehoor, die Godsekerheid van sy reddingsplan, die ‘sal’ belofte van God, nie dalk nie, nie as dit van die mens afhang nie, maar dit ‘sal’, hoor weer:

  1. v. 27, x2 keer: “Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die Here prys …
  2. v. 28, x 2 keer Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die Here bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.
  3. v. 30, x2 keer Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie.
  4. v. 31, x2 ’n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die Here aan die volgende geslag. Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word…” (Ps 22:27–32)

Hoekom ‘sal’ dit gebeur, deur al die eeue, vir van na die sondeval, tot die laaste dag…?

Is dit omdat ons mense so goed is, dat ons ons deel gaan bydra om gered te word, dat die mensdom reg sal kies….?

Nee!, die laaste woorde van Ps. 22, sê dit alles: … want Hy het dit gedoen … !!! (v.32c)

Geliefdes, die kerk van Christus, dat elke uitverkorene gered is en sal word, dat die Here sy kerk volkome red, bewaar, is alles die werk van God Drie-enig alleen: Die Vader wat verkies, die Seun wat volkome offer, die onweerstaanbare toepassing van die Gees, niks maar niks kan dit keer nie, prys sy wonderlike Naam.

Dit is volbring…”, Joh. 19:30, sy lydingswerk is volbring, sy oorwinningswerk is besig en sal volbring word tot die laaste dag.

Kyk hoe profeteer ander dele van die Skrif dit ook:

““Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.” (Is 9:5–7)

“… so sal Hy baie nasies laat opspring, konings sal hulle mond oor Hom toehou; want wat aan hulle nie vertel is nie, sien hulle; en wat hulle nie gehoor het nie, word hulle gewaar” (Is 52:15)

Maar dit het die Here behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom ’n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.” (Is 53:10–12)

Ps. 130 wat ons gesing het: “Wag op die Here, o Israel! want by die Here is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing; en Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede” (Ps 130:8)

In die NT:  “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” (Re 5:9–10)

EN die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” (Re 11:15)

Deur die evangelie verkondiging, sal die uitverkorenes inkom, in elkeen se uitverkorenes, word al die volke gered, die ongelowiges word afgesny, en daarom die woorde van Openbaring. Nie die ongelowiges nie, maar die ware gelowiges bepaal wie die ware volke is deur die geskiedenis, sien Paulus se redenasie in Rom. 11….

So, die lydingswerk, die offer van Christus eens en vir altyd is nie imponent nie, dit sal ‘n vrug dra, deur die geskiedenis, vir alle volke, vir uitverkorenes, deur die eeue.

En dit is wat ons moet verkondig, v. 31, vir ons persoonlik, gemeentes, gemeenskap, vir die ganse wêreld, vir alle volke en mense ook in ons land.

Wat moes ons verkondig, vir onsself en ander? Dit bring ons by ons tweede saak vir vanoggend:

Kyk vers 32: “Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen” (Ps 22:32)

Ja, die evangelie van Christus, se lyding en opstanding, kruis en kroon. Die koinkryk is geprofeteer, hier in Ps. 22 en res van die OT, dit het vervullend gekom in Christus, dit groei deur Gees en Woord, deur al die eeue, en sal dan in sy volkomenheid kom met die wederkoms.

Die ‘reeds maar nog nie volkome nie’ van die koninkryk van God in Christus, deur die krag van die Gees.

Maar as ons verwonderd is deur Christus se volkome lydings- en oorwinningswerk, wat niemand kan stuit nie, dan roep dit ons op tot dapper krygsmansdade, tot geloof, tot vertroue om dan as Koningskinders te lewe, te stry, te volhard tot die einde toe.

Ons sien dit ook in Dawid se lewe, midde die stryd, midde die tye van aanslae, midde die uitroepe van v. 1,2 … my God my God … hoor en sien ons die volharding van geloof:

v. 2-4, My God ek roep u bedags … en snags … hy verlaat nie die Here in die stryd nie, roep uit, hy volhard in gebed… hy soek sy hulp by die Here

v.5, Hy vertrou op die God van Abraham, Isak en Jakob … “Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered.” (Ps 22:5)

v. 10, 11 Hy vertrou op die God van die genadeverbond, van geslag tot geslag, van sy kinderjare: “Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.” (Ps 22:10–11)

Alles, midde die aanslae van die doodsvyande, Dawid en ons harte wat soms twyfel en worstel; midde die wêreld, valse kerk, goddeloses wat ons na gees en liggaam vervolg, midde die Satan se aanslae…

En daarom, geliefdes, in Christus se volkome lydings en oorwinningswerk, het ons, ek en u as kinders van God, alles ontvang om te volhard tot die einde toe, al ‘voel’ (maar is nie) van Godsverlate nie!

Daarom, afsonderlik en saam, hou ons aan in dankbaarheid … aanbid:

Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys. Julle wat die Here vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel! … Van U kom my lof in ’n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees.” (Ps 22:23,24,26)

Ons hou aan die evangelie en sy wet te verkondig aan ons nageslag, maar ook aan die eindes van die aarde, allle mense, ook die grotes, vorste van die wêreld met oproep van geloof en bekering, die tweesnydende swaard van die evangelie:

’n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die Here aan die volgende geslag. Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen” (Ps 22:31–32)

En hoekom wil ons dit doen, en kan ons dit alles doen tot die einde toe:

Ja, die laaste woorde van Ps. 22:32, …. WANT Hy het dit gedoen, sy lydings- en oorwinningswerk het ons alles geskenk wat nodig is om te volhard tot die einde toe, en in dankbaarheid Hom en ons naaste te dien, deur Gees en Woord.

Presies dit wat Petrus, verkondig met Pinksterdag, vir die kerk van Christus, in die tyd van die vervulling, vir ons gemeente, vir jou en my:

Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. Omdat hy dan ’n profeet was en geweet het dat God vir hom met ’n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete. Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” (Ac 2:29–36)

 AMEN!

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑