WIE HET DIE SABBAT TOT DIE SONDAG VERANDER?

Keiser Konstantyn of die Pous?

Lees die antwoord in hierdie artikel: Wie het die Sabbat tot Sondag verander: Keiser Konstantyn of die Roomse Pous?, deur DM Canright (in Afrikaans vertaal deur ds. HCJ Flemming)

Ek haal ‘n gedeelte aan, met hier en daar ‘n nota en beklemtonings bygevoeg):

Die SONDAGWET van KONSTANTYN en die DOEL Daarvan

In 321 n.C. het Konstantyn, die eerste Christenkeiser van Rome, die volgende edik uitgevaardig:

“Laat al die regters en dorpsbewoners en die werksaamhede van alle ambagte op die eerbiedwaardige dag van die son rus, maar laat diegene wat op die platteland woonagtig is, ten volle vry wees om hulle aan landboubedrywighede te wy – want dit is dikwels die geval dat geen ander dag so geskik is om koring te saai en wingerde te plant nie – sodat hulle nie, deurdat hulle die kritieke tydstip laat verbygly, die gawes wat deur die hemel geskenk word, verbeur nie.”

Die eenvoudige feite in verband met hierdie wet is die volgende:

Christene, vanaf die dae van die apostels, het die eerste dag van die week gehou, maar daar was geen burgerlike wet wat hulle hierin kon beskerm of bystaan nie. Teen hierdie tyd (4de eeu nC – slc) was hul getalsterkte groot en het hul invloed in die Ryk geweldig toegeneem. Die ou heidense geloof het voor hulle in duie gestort.

Konstantyn, om die minste te sê, was die Christendom goedgesind. Sy ouers was Christene. Hy was skerpsinnig genoeg om te sien dat dit tot sy voordeel was om hierdie nuwe en opkomende geloof te bevoorreg. Daarom het hy, sodra hy openlik die Christendom bely het, verskeie edikte uitgevaardig wat dit op verskillende maniere begunstig het en o.a. hierdie een in verband met die Sondag. Die Ensiklopedie van Schaff-Hertzog stel dit tereg as volg:

“Hy was ongetwyfeld oortuig van die sterker aanspraak van die Christendom as die opkomende geloof, maar sy bekering was eerder ‘n verandering van beleid as ‘n verandering van morele gedrag (moral character) …. Hy het die Christendom goed geken, maar alleen as ‘n mag in die Romeinse Ryk en as ‘n wyse en vérsiende staatsman het hy dit beskerm….Sy eerste edik betreffende die Christene (Rome, 312) het verlore gegaan. Deur die tweede (Milaan, 313) het hy aan hulle gegee nie alleen vryheid van godsdiens en erkenning deur die staat nie, maar ook vergoeding vir vroeëre verliese deur hulle gely….’n Reeks van edikte van 315, 316, 319, 321 en 323 het die ommekeer voltooi. Christene is tot die staatsdiens toegelaat….’n Edik van 321 het die viering van die Sondag, deur die staking van alle werk in die openbaar, beveel.”

Dit is duidelik dat hierdie wet alleen een van sewe was wat die Christene bevoorreg het.

(1) Dit is nie gemaak om die heidene te begunstig of te behaag nie, want, soos dit hierbo blyk, hulle het nie die Sondag gehou nie.

(2) Soos ons reeds bewys het, het die Christene almal Sondag gehou; daarom sou hierdie wet hulle begunstig en hulle goedkeuring wegdra.

(3) Die edik was nie tot die Christene gerig nie, want hulle het nie so ’n wet nodig gehad nie, omdat hulle reeds die Sondag vrywilliglik gehou het.

(4) Dit was nie in Christelike terme, die “dag van die Here,”’ bewoord nie, omdat dit tot die heidene gerig was.

(5) Dit was gestel in heidense terme, “dag van die son,” sodat hulle dit kon verstaan en dit vir hulle minder aanstoot kon gee.

Hierdie wet het dan geen verandering in die hou van die Sondag deur die Christene gemaak nie, maar dit het vir daardie dag beter erkenning verkry deurdat vereis is dat elkeen, heidene en almal, op daardie dag hul werk moet staak.

Maar dit word gesê dat hierdie wet van Konstantyn, 321 n.C., die eerste wet is wat arbeid op Sondag verbied.

Heeltemal waar, maar waarom?

Omdat niemand anders as die Christene geglo het dat dit verkeerd is om op daardie dag te werk nie en tot op daardie datum het die Christene geen mag gehad om wette te maak nie en daarom kon hulle nie “n wet gemaak het om die Sondag te vier nie, al het hulle dit ook begeer.

Dit is opmerklik dat die eerste keiser wat die Christendom begunstig het onder ‘n reeks van wette wat die Christene begunstig het, ‘n siviele wet gepasseer het wat arbeid op Sondae verbied het.

Dat hierdie wet gemaak is op versoek van die Christene, word nou deur Sabbatariërs erken. So sê ouderling AT Jones:

“Dit is bewys dat die eerste Sondagwet wat ooit gepasseer is, gemaak is op versoek van die kerk; dit was ten behoewe van die kerk en dit was uitdruklik om die kerk te help.”

Presies so, en dit bewys dat die kerk die dag gehou het voordat die wet gemaak is.

Dit is ‘n dwaasheid om te sê dat die heidene altyd die Sondag gehou het en tog nooit enige wet dienooreenkomstig gemaak het nie. Soos die Sabbatariërs almal toegee, is die eerste Sondagwet gemaak om die Christene te begunstig.

Dit bewys dat die Sondagviering toe beskou is as ‘n essensiële deel van die Christendom (dus: vanaf die eerste eeu reeds, is die ‘Sondag’ oftewel ‘eerste dag van die week’ onderhou deur die kerk van Christus – as geprofeteerde vervulde OT sabbat/rusdag wat op die laaste dag van die week onderhou is, die ‘Saterdag’  [Gen. 2:1-4; Ex. 20:11; Deut. 5: 12-15; Ps. 122; Jes. 58:13,14; Ps. 118:24] – in en deur Jesus Christus se vervulling en handhawing van sy wet [Matt. 5:17-20], wat die volkome finale rus gebring het waarna die OT sabbat gewys en heengegryp het [Mark. 2:23-28; Hebr. 4:9-16] en daarom onderhou is in die NT kerk en dus NT bedeling, Mark. 16:2,9; Joh. 20:19; Hand. 20:7; 1 Kor. 16:2; Op. 1:10; sien HK Sondag 38 -slc).

Van hierdie wet sê Mosheim:

“Die eerste dag van die week wat die gewone en vasgestelde tyd vir die hou van openbare byeenkomste deur die Christene was, is ten gevolge van die eienaardige wet van Konstantyn, met groter plegtigheid as tevore gehou.”

Hierdie wet, gerig tot heidene wat altyd op Sondag gewerk het, het die staking van besigheid op daardie dag vereis en het so vir die Christene ‘n beter geleentheid as vroeër gegee om die Sondag te hou. Waar die kerklike geskiedkundige Sozomen oor Konstantyn skrywe, sê hy:

“Hy het ook die waarneming van die dag, bekend as die Dag van die Here, opgelê…. Hy het die Dag van die Here geëerbiedig omdat dit die dag was waarop Christus uit die dood opgestaan het.”

Dit was dus ter wille van die Sondag as ‘n Christelike dag, en nie as ’n heidense feesdag nie, dat hierdie wet gemaak is.
________________________________
Sien volledige artikel hier: Wie het die Sabbat tot Sondag verander: Keiser Konstantyn of die Roomse Pous?, deur DM Canright (in Afrikaans vertaal deur ds. HCJ Flemming)

“De sabbat, die niet door God Zelf ingesteld is, maar die God door middel van Zijn gemeente heeft ingesteld onder het Nieuwe Testament, is de eerste dag der week, of de dag des Heeren, veelal „Zondag” genoemd; welke dag de Christelijke gemeente trouwens van de tijd der Apostelen af onderhoudt, in plaats van de zevende dag, vanwege de opstanding van de Heere, Openb. 1:10: „En ik was in den Geest op den dag des Heeren”, enz.” – Ursinus (opsteller en verklaarder van die Heidelbergse Kategismus)

Bronne om verder te studeer:  Sabbat na Sondag

DIE NUWE TESTAMENT SABBAT – SATERDAG OF SONDAG ?

Waarom vier die Kerk van die Nuwe Testament die Sabbat op die eerste dag van die week ?

“DAT EK MET DIE GEMEENTE VAN GOD YWERIG MOET OPKOM … DIE EWIGE SABBAT IN HIERDIE LEWE BEGIN” — HK, vraag 103.

Die Doppers en hul Sabbat, ds. Gustav Opperman

https://proregno.com/wp-content/uploads/2010/11/doppers-en-hul-sabbat.pdf

Why Do Christians Worship on Sunday and Not Saturday?

Lord’s Day Observance:  Man’s Proper Response to the Fourth Commandment

The Christian Sabbath Explained, Proved, Applied, rev. Brian Schwertley

The Covenantal Sabbath, dr FN Lee

http://www.the-highway.com/Covsab_TOC.html

Sien by hierdie lesing en skakel meer inligting en bronne oor ‘Konstantyn en konstantianisme – vir en teen’:

TSV LESING: GEREFORMEERDES, ANABAPTISTE EN HUL STIEFKINDERS – WIE IS DIE NASATE VAN DIE REFORMASIE?

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑