DAT DIE GKSA WAARLIK EEN MAG WEES … IN DIE WAARHEID

DAT ONS IN DIE GKSA WAARLIK EEN MAG WEES IN DIE WAARHEID… WAAROOR ONS REEDS BESLUIT EN GEPRAAT HET IN TERME VAN DIE WESENTLIKE VIDA SAAK

“Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid…. dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. (Joh. 17:17,21)

In die afgelope paar Kerkblad uitgawes (Mei-Julie 2023) het daar ‘n uitnodiging gegaan van ons kerkverband se amptelike blad, in die naam van ‘Die Kerkblad’, vir lidmate en ampsdraers van die GKSA om gesprek te kom voer, by ‘n gespreksbyeenkoms op 22 Julie 2023, onder die titel: “Dat ons waarlik een mag wees!” (mens neem aan dit is dus die nuwe redakteur wat die besluit geneem het tot so ‘n byeenkoms? Verder, Sinode 2023 het volgens my kennis as ek dit reg het, saam as kerke besluit die Kerkblad gaan nie meer in harde kopie verskyn nie, slegs elektronies, maar lyk my dit gaan voort om ook in harde kopie te verskyn … ongeag die sinode se besluit?).

Waaroor wil ‘Die Kerkblad’ opnuut gesprek voer by die gespreksbyeenkoms (beklemtoning bygevoeg):

“… om met mekaar te praat en mekaar te hoor oor hoe ons steeds een kan wees te midde van sekere verskille. Watter verskille tussen ons kan as verskeidenheid binne die eenheid gehandhaaf word? Waar kom die eenheid in gedrang? Die agtergrond van hierdie gesprek is die afgelope Algemene Sinode waar sekere verskille, by uitstek oor die vrou in die amp, gedreig het om die eenheid van ons kerke in ernstige gedrang te bring. Die gevoel by die inisieerders van die byeenkoms is dat ons sonder die druk wat op verskillende wyses met ‘n sinode gepaardgaan openlik met mekaar wil praat oor ons kosbare eenheid en waardeur dit bedreig word.

Nou is die hartseer-ironie van al hierdie gevoele by die inisieerders, dat alles wat hul hier noem, reeds met groot liefde en geduld gedoen is, vir ten minste amptelik 30-40 jaar lank, deur allerlei konferensies, besinnings, boeke, honderde (?) studierapporte, beswaarskrifte, beskrywingspunte, kommissies, appélle, ens ens… en dit sluit nie eers in al die onderskeie nie-amptelike informele gesprekke en besinnings wat al vir baie dekades plaasvind in plaaslike kerke en gelowiges onder mekaar nie.

So, wat het nou verander dat ‘ons’ nou weer ‘openlik met mekaar wil praat’?
Ons kerke het saam, biddend volgens die Skrif en onder leiding van die Heilige Gees, na baie baie jare, besluit dat wat die besondere dienste in kerkregering betref (waaroor meerdere vergaderings wesentlik ook gaan), slegs gelowige broeders as ouderlinge en predikante mag dien (1 Tim. 2 en 3). Verder het ons na ‘n spesiale sinode gehou is net oor die VIDA saak, dus waar ons ‘openlik’ weer gepraat en weer gepraat het om die Skrif en met mekaar, dat VIDA ‘n wesentlike saak is waaroor ons nie mag verskil nie, dat dit ‘n saak is wat die eenheid in leer, diens en kerkregering wesentlik raak en dus aantas.

So, as ons daaroor verskil deur in stryd daarmee op te tree in ons gemeentes, deur susters as ouderlinge of predikante te bevestig, dan verbreek ons die eenheid wesentlik, en bedreig die eenheid nog verder deur so optrede met die daad.

As’t ware is dit verbreking met die kerkverband de facto, en dit is tragies dat meerdere vergaderings (behalwe met ‘n paar uitsonderings soos bv. klassis Wesrand, en Streeksinode Pretoria), dit nie de jure wil erken en daarvolgens in liefde tug toepas en handel met daardie gemeentes wat in stryd met ons besluite op grond van die Skrif optree nie.  Maak ons nog groot erns met ons leer- en kerkregeringbesluite op grond van die Skrif?

Dit is dus tans nie ‘n kwessie ‘of’ die eenheid bedreig gaan word nie, dit word tragies reeds gedoen deur ‘n paar gemeentes al vir dekades, en al meer en meer gemeentes in ons kerkverband wat susters as ouderlinge en/of predikante aanhou bevestig, in stryd met wat die Skrif leer.

Die Kerkblad vra: Watter verskille tussen ons kan as verskeidenheid binne die eenheid gehandhaaf word?

Antwoord: Nie die ‘verskil’ oor VIDA nie, ons het reeds op grond van Skrif, belydenis en KO daaroor besluit (sien sinodes 2009 tot 2018 se besluite), en ons het ook besluit op grond van die Skrif, dit is wesentlik vir ons eenheid in kerkregering, dus in meerdere vergaderinge (kerkverband), spesiale sinode daaroor gehou, waar ons weer baie gepraat het. Ons susters mag nie in die besondere dienste as ouderlinge en predikante dien op grond van die Skrif nie, en ongelukkig is daar sekere gemeentes wat eiewillig in stryd met Skrif, belydenis en KO die eenheid van ons kerke nie respekteer en handhaaf nie, en blootweg net weier om saam ons te buig voor die Koning van die kerk, Jesus Christus, se kerkregering soos veral geopenbaar in die Pastorale Briewe, 1 Tim, 2 Tim en Titus (sien ook ons belydenis en die kerkregering in NGB artikels 27-32 saamgevat volgens die Skrif).

Die Kerkblad vra: Waar kom die eenheid in gedrang?

Die eenheid en liefde in kerkverband kom juis in gedrang waar gemeentes wat vir 30-40 jaar aangehoor is in groot liefde en geduld, aanhou hul eiewilligheid op al die ander kerke probeer afdwing, deur bloot besluite op grond van Skrif, belydenis en KO te ignoreer aangaande kerkregering, en sodoende veroorsaak dat kerke se eenheid uitlewing in meerdere vergaderings al meer in gedrang is. Die afgelope 2023 Sinode se wanordelike gebeure getuig verder daarvan hoe dit al erger word.  Dit is alles in stryd met God wat ‘n God van orde is, en ook ware orde en vrede van sy kerke en ampsdraers verwag (1 Kor. 14:33-40). Ignorering van ons kerkregeringbesluite geneem op grond van die Skrif, eindig in die wanorde wat geheers het op sinode 2023, wat opnuut die eenheid bedreig en aangetas het, en dit gaan net meer en meer word soos kerke eiewillig optree in stryd met die Skrif oor die kerkregering.

Die Kerkblad stel die volgende: Die agtergrond van hierdie gesprek is die afgelope Algemene Sinode waar sekere verskille, by uitstek oor die vrou in die amp, gedreig het om die eenheid van ons kerke in ernstige gedrang te bring.

Antwoord: die tragiese hartseer werklikheid is, dat die volhardende handhawing, verdraagsaamheid en selfs beskerming van gemeentes en ampsdraers deur meerdere vergaderings (behalwe ‘n enkele paar uitsonderings) vir baie jare nou al, wat in stryd met Skrif, belydenis en KO vroue as ouderlinge bevestig het, het reeds daardie eenheid wesentlik in gedrang gebring en is voortdurend besig om dit nog verder te bedreig.  Die wanorde gebeure by sinode 2023, asook die uitstel van VIDA verwante sake wat op die tafel was (na sinode 2026), in plaas van om duidelike besluite daaroor te neem soos wat reeds geneem is in 2009-2018 sinode besluite op grond van die Skrif, getuig ongelukkig van die eenheid wat nie in liefde vir die waarheid en ander gemeentes gesoek en gehandhaaf word nie, contra Ef. 4:1-16, sien veral vers 15.

Konklusie: dit is nié hulle wat al vir dekades in liefde waarsku teen hierdie eiewillige optrede deur sommige gemeentes nie, maar hulle wat in die praktyk VIDA bevorder (of dit wil akkommodeer en verdra as ‘nie-wesentlik’ en dus ook in stryd is met die Skrif en ons sinodebesluite) en besluite daaroor ignoreer in ons kerkverband, wat die eenheid verbreek en aanhou bedreig.  Deur baie jare het mede-gelowiges, ampsdraers, kerkrade, en sinode deputate en afgevaardiges gebid, studeer en besin oor die VIDA saak, baie groot moeites gedoen, saam geluister, saam gestoei om die Woord, weer en weer gepraat, totdat ons in ons sinodes biddende besluite daaroor vanuit die Skrif geneem het.

Die oproep vir weer praat en luister klink goed, maar dit moet in liefde bevraagteken word, is dit werklik ‘n poging om weer te besin, om die VIDA gemeentes terug te bring om te bly by die Skrif …. of is dit bloot ongehoorsaamheid aan die Koning van die Kerk wat klaar gespreek het oor wie in die besondere ampte mag dien, maar daar is baie wat bloot weier om hul te onderwerp aan sy gesag en sy Woord, wat deur die tydsgees meegevoer is om nou die Skrif te wil aanpas en te herinterpreteer oor hierdie saak?

Sodoende is Skrifgesag ook op die spel, sodoende is Christus se gesag op die spel, wat nog ‘n wesentlike saak is waaroor ons een moet wees, en as ons nie hier saam wil buig onder Christus nie, wat gaan verhoed dat ander leer- en kerkregeringsake nie later ook maar afgewater gaan word sodat nog ander leersake in stryd met die Skrif, geakkommodeer gaan word onder die dekmantel van ‘eenheid’ nie, ‘n valse eenheid sonder waarheid?  Dit sien ons bv. duidelik gebeur hoe kerkverbande soos bv. die NG Kerk in SA, en die Vrygemaakte Kerke in Nederland, wat vroue in die besondere ampte toegelaat het, nou albei sit in hul kerkverbande met die gay agenda op hulle kerklike tafels?

Sien hierdie belangrike tydige boekresensie vir ons kerke oor die kerklike stryd en skeurings in die Vrygemaakte kerke in Nederland, as waarskuwing dat ons nie ook daardie pad sal volg nie: Die Woord in Geding (in die Vrygemaakte kerke in Nederland):

“Zeker is dat de Gereformeerde Kerken Vrijgemaakt in een stroomversnelling zijn geraakt. Dat men zijn exclusieve houding opgaf is winst, maar verdrietig is dat het gezag van de Schrift ter discussie wordt gesteld en de binding aan de belijdenis veel minder strak is geworden. Dit jaar hoopt men samen met de Nederlandse Gereformeerde Kerken een nieuw kerkverband te vormen. De kerkorde die voorligt, weerspiegelt de veranderingen. Inmiddels zijn alle ambten voor de vrouw opengesteld en in de praktijk is in meerdere gemeenten al langer ruimte voor homoseksuele relaties. Er klinken ook stemmen om evenals in de PKN het kerkordelijk mogelijk te maken deze relaties een kerkelijke zegen te geven.”

Dr. Brian de Vries (Principal at Mukhanyo Theological College and Minister of the Grace Reformed Church in Pretoria) skryf juis waarskuwend in die nuutste Kerkblad (Julie 2023) oor die bedreiginge van ons kerklike eenheid, dat ons by ons gereformeerde oortuiging van die Skrif sal bly, wat onder andere VIDA as onbybels bevind (beklemtonings bygevoeg):

“How is the GKSA reformed? Our denomination has a rich heritage, firmly rooted in historical theology (#2). Most GKSA churches faithfully uphold this truth confessionally (#1) and doctrinally (#3). More recently, however, our unity has been shaken by progressive interpretations of Scripture allowing for female eldership, theistic evolution and other unbiblical teachings contrary to historical theology as guarded by the reformed confessions. … The GKSA needs to remain reformed. There are some concerning signs, but it is not too late. God has often revived His church; church history gives many examples of genuine spiritual revival.”

Laat ons hierdie broederlike waarskuwings en vermaning ter harte neem!

Broeders en kerkrade, ons vra in liefde dat jul die kerklike eenheid van ons kerkverband sal ophou bedreig, en jul sal bekeer van jul onbybelse besluit om vroue as ouderlinge en/of predikante te bevestig, en jul bekering wys met die daad deur susters uit die besondere ampte te ontslaan en nie daarmee voort te gaan in die toekoms nie, tot eer van God en die heil van ons gemeentes.

Laastens, die Kerkblad vra: om met mekaar te praat en mekaar te hoor

Ja, natuurlik, dit is wat elke gelowige en elke gereformeerde en elke gemeente behoort te wil doen, informeel, persoonlik, maar veral ook saam as gemeentes in kerkverband. Maar dit is ook niks nuuts nie, dit is wat reeds deur die eeue plaasvind en sal aanhou plaasvind, nl. broederlike gesprekke en besluite wat in lyn met Skrif, belydenis en Kerkorde geneem word, waaroor ons ooreengestem het en saamgestem het. Maar dan moet ons groot erns maak met sulke gesprekke en besluite wat veral geneem word as wesentlik op grond van die Heilige Skrif, en in liefde en eenheid handhaaf, in leer en lewe.

Elke predikant en ouderling onderteken die ondertekeningsformulier voor die Here, en het voor God en die gemeente die bevestigingsformuliere mee ingestem wat ons verbind aan Skrif, leer en diens, om volgens daardie kerklike weg op te tree, dus nie eiewillig nie leerbesluite uit te voer nie.  Dit beteken om veral wat die kerkverband betref, kerke wat saam en deur meerdere vergaderings saam leer en regeer, om daardie wesentlike kerkregeringsbesluite wat saam geneem is op grond van die Skrif, te handhaaf en nie te ignoreer asof dit nie bestaan nie, en dan ook nie om – langsaan die broederlike kerklike weg en kerkorde wat daar reeds is en gebruik word en moet word – nou tussen 2023 tot 2026 ander weë en gesprekke uit te dink en mee besig te wees om nogsteeds die VIDA saak in ons kerkverband te bevorder, te akkommodeer en dus de facto af te dwing nie.  Dit is om te werk aan ‘n agenda wat pleit vir ‘n valse eenheid los of in stryd met die waarheid, in stryd met 1 Tim. 2 en 3, in stryd met wat ons op grond van die Skrif besluit het in ons sinodes van 2009 tot 2018, ens.

Dit is nie broederlik nié, en nié liefdevol nie, en nié wat die Skrif vra nie, dit veroorsaak juis nog meer verdeeldheid en onenigheid soos wat ons nou vir dekades beleef, wat tragies en pynigend is vir almal in die kerkverband, en nie tot eer van die Koning van die Kerk, Jesus Christus, is nie.  Hierdie interne VIDA voordurende aanval op die kerke se eenheid, en dat daar nie berus word by ons besluite daaroor nie, is ook nie goed vir ons kerke se sending en evangelisasie taak wat ons almal moet verrig nie, want die verdeeldheid in ons kerke wat veroorsaak word deur VIDA agendas, stuur ‘n getuienis van wanorde en verdeeldheid na die wêreld waarin ons leef, kontra Joh. 17.

So, wat is die pad vorentoe?

Ons VIDA broeders en kerkrade moet hul bekeer van hul onbybelse besluite om a) susters as ouderlinge en/of predikante te bevestig, b) hul dan te hou en berus by ons kerkregering VIDA besluite geneem op grond van Skrif, belydenis en KO (sinodes 2009-2018), en dan, c) die kerklike ordelike weg te volg om sake aan te spreek.

Indien hul meen die kerklike weg is oor 30-40 jaar reeds behoorlik gebruik om die VIDA saak behoorlik en deeglik aan te spreek (wat waar is), en hul kan nie by ons kerkverband se besluite daaroor op grond van die Skrif berus nie en wil voortgaan met VIDA ouderlinge kerkregering, moet hul ten minste die ware bybelse, eerlike, liefdevolle weg volg wat juis die eenheid respekteer van broeders en susters met wie hul dan verskil, en hul by ‘n ander kerkverband voeg waar hul oortuigings gedeel word.

Hiermee ook ‘n pleitdooi vir alle ampsdraers en kerkrade om bloot te bly by wat ons reeds op grond van die Skrif, belydenis en KO besluit het oor ons gereformeerde kerkregering, en dan dit de jure en de facto te handhaaf op elke kerkraads- en meerdere vergadering, tot eer van die Koning van die Kerk, en tot heil van sy gemeentes, wat ware eenheid in waarheid sal bevorder.

Mag die Here ons genadig wees, sodat ware eenheid in die waarheid, ook die waarheid oor kerkregering gehandhaaf sal word in ons GKSA kerke en kerkverband.

Mag ons afsonderlik en saam as kerke bid en werk vir ware liefde in ware eenheid, soos Jesus dit ook vir ons bid:

“Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid…. dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. (Joh. 17:17,21)

_______________________
Sien die volgende paar artikels na GKSA algemene sinode 2023:

Na GKSA Algemene Sinode 2023… luister opnuut na die profetiese woorde van dr. Jac Howell in 2012 … en bekeer en reformeer oor VIDA sake

Preek: Matt. 16:15-18 Bou die GKSA in ons 164-jarige bestaansjaar nog op die volledige Rots: Christus as Verlosser én Koning?

Prediking: Die Godgegewe rol van vroue in die kerk (1 Tim. 2:8-14), en die aanbeweeg na 1 Tim. 2:15 in die VIDA debat

DS. CASSIE AUCAMP, REDAKTEUR VAN DIE KERKBLAD IN GESPREK MET DIE RAPPORT RUBIEKSKRYWER, TIM DU PLESSIS

GKSA: VAN 10-12 FEBRUARIE 1859 TOT 10-12 FEBRUARIE 2023

2 thoughts on “DAT DIE GKSA WAARLIK EEN MAG WEES … IN DIE WAARHEID

Add yours

  1. Puik, ek kan ongelukkig nie daar wees nie, maar sou die dwaalleer met Woord-geweld beveg het. Broederbonders wat wat deur vrymesselaars ge-infiltreer en verlei is., en hulle besef dit meestal nie eers nie.
    Daan Malan

  2. Die beginsel wat elke predikant en kerkraads lidvoor God onderneem het is om hom aan meerdere vergaderings se besluite te onderwerp. Dus as hulle dit nie doen nie verbreek hulle hulle woord teen oor God en maak hulle God se heiligheid en eer voor die wereld belaglik. Wie in sy regte verstand kan dan glo dat hulle erenstig is as hulle enigiets verkondig oor die volmaakte Heillgheid van ons God.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑