Die Christelike huisgesin: HOOFSTUK 3 (deel 2): Die huisgesin onder die volke na die sondeval – ewolusionistiese konstruksies

DIE CHRISTELIKE HUISGESIN

HOOFSTUK 3 (deel 2): Die huisgesin onder die volke na die sondeval – ewolusionistiese konstruksies

Herman Bavinck

[Vertaal deur J. Coetzee en verder verwerk deur S. Le Cornu uit die oorspronklike, Het Christelijk Huisgezin (Kampen: J.H. Kok, 1908), beklemtonings bygevoeg.  Meer inligting oor Bavinck (1854-1921) kan hier bekom word: http://hermanbavinck.org/ Van sy werke kan hier, Paideia Press, en hier, Neo-calvinisme, afgelaai word]

Vorige inskrywings:

Inleiding en agtergrond (ook tot vertaalprojek)

Hoofstuk 1: Die oorsprong van die huisgesin

Hoofstuk 2: Die versteuring van die huisgesin

Hoofstuk 3,  deel 1: Die huisgesin onder die volke na die sondeval 

Inleiding tot hoofstuk 3 – S. Le Cornu
In hoofstuk 3 hanteer Bavinck drie sake: die sondige gevolge op die huisgesin; die ewolusionistiese siening oor die ontstaan van huisgesinn (deel 1) e, en dan laastens wys hy die onakkuraatheid uit van die ‘ewolusionistiese konstruksies’ (deel 2 – hier onder).

Op treffende wyse verduidelik hy die ontstaan van verskillende gesinne, families, volke, ens. vanuit Bybelse perspektief. As mens sy beskrywing lees van die ewolusionistiese sienings, ‘n beweging van matriargisme na patriargisme, dan sien mens die sonde se gevolge nog meer, deur alle tye, maar ook ons tye.

Ironies, is evolusionisme se roem dat die mens van die primitiewe ‘dierlikheid’ na hoër edele beskawings ‘evolueer’, maar as mens na die vrugte kyk van die humanisties-ateïstiese wêreld en tye om ons, as mens sien hoe ons tye (veral vanaf die 20ste eeu, waar ‘n James Bond figuur die held is, omdat hy onder andere, ‘romanties’ in elke fliek by die volgende vrou wellustig slaap en nêrens  en met niemand ‘settle’ nie , die Lone Ranger Camel cowboy ideologie en kultuur van jongmanne wat nie wil trou nie (skandalig ook in die kerk kultuur?) maar sogenaamd ‘vry sonder een vrou en kinders’ wil wees  …. moreel eties losbandig al meer vervalle is en raak (2 Tim. 3) dan lyk dit of die mens nog meer en meer ‘devolueer’, dus nog meer agteruitgaan en terugkeer na die (volgens ewolusionistiese sienings) die oer-primitiewe bandelose ‘ontstaanstye’.

Dit is nou hul wat die Bybelse geloof en lewensbeskouing oor die huwelik en gesin, kundig en onkundig verwerp, selfs in die kerke wat bv. saambly verhoudings buite die eg (hoerery) goedpraat,  en dan kan rondbeweeg tussen ‘partners totdat een lekker pas’ … alles onder die seënende verdraagsaamheid van valse kerke en leraars.

______________________________________

Lees opnuut die inleiding tot hierdie vertaalprojek van Bavinck se boek, waarin ek aantoon hoekom hierdie boek so belangrik is vir elke gelowige, veral elke gesin en gemeente, en daarom het ons dit begin vertaal en verwerk (dankie vir elkeen wat al donasies begin gee het vir die Bavinck vertaalprojek, ons waardeer elke bydrae.)

____________________________________

HOOFSTUK 3 deel 2: Die huisgesin onder die volke na die sondeval – ewolusionistiese konstruksies

Dit is in kort die opvatting wat in die kringe van die evolusioniste gevorm is oor evolusie van die huwelik en gesinslewe. ‘n Mens kan nie lof weerhou vir sy vernuftige ontwerp en kunstige konstruksie nie.  Daar ontbreek maar een ding, naamlik die fondament waarop dit rus, die werklikheid waarop dit moet steun. Geleidelik word dit weer deur die owerhede erken. Vir ‘n tyd lank het mense hul aan die idee oorgegee, aan die oortuiging dat dit die ryk geskiedenis van gesinslewe ten volle kan verklaar, maar verdere en dieper navorsing het die onhoudbaarheid daarvan blootgelê.

Nie lank gelede nie het ‘n Nederlandse geleerde gesê dat mense nie meer algemeen glo dat promiskuïteit die begin van menslike seksuele lewe was nie, dat gemeenskap van goedere private eiendom voorafgegaan het, dat feminokrasie die begin van alle beskawing is, dat dood en vrees en voorvader-aanbidding die oorsprong was van alle godsdienste het mense oor die algemeen versigtiger geword met die toepassing van die evolusieteorie, met die eenvormigheid en die lineariteit van alle ontwikkeling. Meer en meer het die oë oopgegaan vir die verskeidenheid van die lewe. Wie volke en toestande eenvoudig in ‘n voorafbepaalde volgorde plaas, soos die geraamtes in ‘n museum, doen tekort aan die werklikheid en die veelsydigheid van die lewe.

In een opsig het die bogenoemde teorie nut geskep en wins gewerf. Beter as wat ons vroeër geweet of kon geweet het, het hul deur die studie van volkekunde en die geskiedenis van die beskawing die verskriklike wyse waarop die huwelik en gesinslewe deur die sonde vernietig is, aan die lig gebring.

Dit is waar dat ons hierdie verwoesting glad nie net op hierdie gebied vind nie, maar oral in die menslike lewe. Ons is self skuldig aan groot eensydigheid deur die sondes teen die sewende gebod as die grootste en mees noemenswaardige te beskou, en diè teen die ander gebooie as minderwaardig.

Selfs in die gebruik van die woord onsedelikheid kom hierdie eensydigheid na vore, want al tien gebooie behoort tot die morele wet en reguleer ons sedes, en tog dink ons met hierdie woord byna  uitsluitlik aan oortredings van die sewende gebod. Tog mag ons nooit vergeet, dat die sonde van afgodery, beeldeaanbidding, ontheiliging van God se Naam en God se dag, ondermyning van gesag, in beginsel, ‘n nog veel ernstiger karakter vertoon  as hoerery en egbreuk.

Geestelike sondes, soos ongeloof, Godverloëning, hoogmoed, gierigheid, liefde vir geld, ambisie, haat teen God en naaste, is in die oog van die Here nie minder strafwaardig, as die sondes van die vlees nie. En dit is ‘n bewys van die verduistering van ons gemoed en die bose gedagtes van ons harte, as ons laasgenoemde veel gewigtiger ag as eersgenoemde, en ons laat lei deur hierdie ongeestelike oorweging in ons oordeel oor mense en toestande.

Maar tog kom die verwoesting van die sonde vir ons sensuele mense veral in die seksuele lewe tot uiting, hier manifesteer dit hom die meeste, in die opelug, dit kan hier as’t ware met die hande aangeraak word. Daar bestaan geen behoefte om in fyner besonderhede, al die growwe en fynere sondes op te noem wat teen die sewende gebod begaan word nie. Al die ryk, heerlike verhoudings wat God oorspronklik in die huwelik, huis en gesinslewe geskep het, is daardeur korrup en vernietig, diè tussen man en vrou, ouers en kinders, broer en susters, vry en slawe.

‘n Leer van ongeregtighede omring die lewe van die gesin: ontrouheid van die man, eiesinnigheid van die vrou, ongehoorsaamheid van die kind; vroue aanbidding en vroue veragting, tirannie en slawerny, manne verleiding en manne haat, kinderaanbidding; hoerery, slavinne handel, byvroue, bigamie, poligamie, polyandrie, owerspel, egbreuk, bloedskande, onnatuurlike sondes, waarby manne met manne, vroue met vroue, manne met seuns, vroue met dogters, mans en vroue en kinders met hulself, mense met diere skandelikhede bedryf, streling van die wellus deur onkuise gedagtes, woorde, beelde, skouspele, literatuur, kuns en klere; verheerliking van die naakte en verheffing selfs van die hartstog van die vlees tot ‘n diens van die Godheid  –  al hierdie en dergelike sondes bedreig die bestaan en ondermyn die welvaart van die huisgesin.

Wanneer die evolusioniste hierdie feite uit die geskiedenis van die mensdom na vore bring, ontbloot hulle slegs die hartseer werklikheid. Maar hulle dwaal as hulle sê dat dit die gevolg en nawerking is van die dieretoestand waarin die mens oorspronklik geleef het. Al sou ons vir ‘n oomblik die getuienis van die Skrif, wat spreek van ‘n heel ander begin van die mensdom, verontagsaam, word hierdie siening sterk en luidkeels deur die geskiedenis weerspreek. Want hierdie verskriklike sondes kom nie alleen of in die ergste mate voor by die rofste volke nie, maar dit vind hul weelderigste grond onder die beskaafde en ontwikkelde volke. En as mens hulle hier wil opsoek en hulle dophou, moet ‘n mens gaan, nie na die afgeleë, stil dorpies nie, maar na die beskawingssentrums, na die sentrums van kultuur, na die groot stede vol lig en glorie.

En daar word hulle gevind, ja ook onder die rou massas, maar ewe en in ‘n verfynde vorm onder die hoogste kringe van die samelewing, by die howe, in die salonne, in die kunslokale. Soms, af en toe, in ‘n verhoor, in ‘n skandaal, in ‘n toneel, breek dit uit, en word dit duidelik watter wêreld van ongeregtigheid verborge is onder die valse laag vernis van die beskawing. Wanneer die evolusioniste al hierdie verskriklike toestande as atavisme (terugval of verval) voorstel, as die nagevolge van ‘n diereverlede, ondermyn hulle die sin van sonde, maak ongeregtigheid ‘n swakheid, verander skuld in ‘n dwaling, verander die tronk in ‘n hospitaal, en …..hulle doen selfs ‘n onreg aan die dierewêreld. Want soos mense dikwels met en onder mekaar lewe, so leef die diere nie. Om so gruwelik en slinks te kan sondig, moet mens ‘n mens wees. Selfs in die aard van die sonde en in die wyse van sondig, volg dit dat die mens ‘n mens is en oorspronklik, nie na die beeld van die aap, maar na die beeld van God geskape is.

Maar nou kom die wonder in hierdie hartseer verhaal, ten spyte van al daardie gruwelike sondes, wat van eeu tot eeu en van geslag tot geslag die huisgesin van alle volke en in alle lande beleër en vernietig het, nieteenstaande al hierdie stroom van ongeregtighede, is die huisgesin oral en ten alle tye in meer of minder suiwer vorm bewaar en in stand gehou. Die voorstanders van die evolusieleer sê wel anders, en hulle beweer wel, dat daar by die aanvang van die mensheid en nog by vele stamme en volke van geen huwelik, van geen gesins- en familielewe sprake was. Maar dit is blote fantasie; noukeurige studie van die werklikheid leer heel anders, en maak ons bekend met die verassende feit dat die basiese reëlings van die huislike lewe nog steeds algemeen voorkom, selfs onder die mees vervalle volke. Dit sou glad nie verbasend wees nie, met die oog op bogenoemde sondes, as dit anders was, en as hier en daar ‘n geïsoleerde stam of volk alle sin vir huwelik en gesinslewe verloor het. Maar dit is nie so nie, en die feit dat dit nie so is nie, is ‘n wonder, en word ‘n wonder, namate ons daar dieper oor nadink. Dit is ‘n wonder van Gods genade, en van die leiding van sy voorsienigheid.

Oraloor vind ons in swakker of sterker mate ‘n huisgesin en ‘n huislike lewe aan. Geskrewe of ongeskrewe wette, sedes, gewoontes en gebruike, wat die huwelikskontrak beheer, die verhouding van man en vrou, die verhouding van ouers en kinders, word in alle nasies aangetref. Die gevoel van skaamte is natuurlik vir alle mense, dit ontbreek nie selfs onder die nasies wie se klere slegs bestaan uit die bedekking van naaktheid nie; en die besef van bloedskande is sterker onder baie nederige volke as onder die beskaafde nasies. Daarbenewens is daar allerlei wanordelike toestande van hoerery en onsedelikheid, maar dit is eweeens onder beskaafde volke te vinde en het absoluut geen bewyskrag teen die bestaan van sulke wette en regulasies. As sommige gedink het dat volmaakte vrye seksuele omgang in sommige stamme beoefen word en die oorspronklike lewenswyse van die mensdom was, berus dit op ‘n foutiewe waarneming en op ‘n voortydige gevolgtrekking. Omdat paring en ‘n sekere mate van saamleef reeds by die hoër diere voorkom, het selfs Darwin betwis dat promiskuïteit die oudste toestand van die mensdom is.

En baie wetenskaplikes wat boonop aan die evolusieleer toegewy is, stem saam met hom dat die naasbestaan van die eerste mens heel moontlik met die huwelik en die gesin begin het. Hoogstens blyk dit te gewees het en is nog steeds in gebruik onder sommige stamme dat die jong mans en vroue vrylik met mekaar gemeenskap mag hê voor die huwelik. Maar hierdie vorm van losbandigheid is ook nie die norm en kom in elk geval net hier en daar voor, en maak in die huwelik plek vir ‘n ordelike saambestaan. Die teorie dat die mensdom met promiskuïteit begin het en toe agtereenvolgens deur die tydperk van poliandrie en poligamie gegaan het om by monogamie uit te kom, is byna universeel laat vaar. Nog die mensdom in sy geheel of enige nasie in die besonder het deur al hierdie fases gegaan nie; die toestande wat daardeur aangedui word, volg nie op mekaar nie, maar bestaan altyd saam in die mensdom.

Verder is die onderskeid tussen man en vrou aan alle volke bekend en word ook in die praktyk deur almal in ag geneem. Die natuur leer hierdie onderskeid, en geen wetenskap of filosofie is nodig om homself daarmee te vergewis nie. Man en vrou verskil in liggaamsbou en krag, in sielsaard en sielskrag, hulle het verskillende regte en word daardeur tot verskillende pligte geroep; daar is nie ‘n enkele volk wat nie daarmee vertroud was nie en die lewe in die praktyk daarvolgens ingerig het nie. Van die begin af was daar ‘n arbeidsverdeling in die huwelik. In hoofsaak kom die verdeling daarop neer, dat die man vir die diere, en die vrou vir die plantaardige voedsel moes sorg ; dat die man die lande bewerk, die vrou die vee versorg; dat die man uitgegaan het om sy werk soms ver van die huis af te doen, en die vrou haar werk in of naby haar huis te doen.

Allerlei omstandighede kan dit natuurlik verander; as mense byvoorbeeld in ‘n vrugbare streek en in ‘n warm klimaat gewoon het en daarom min werk nodig was om in die behoeftes van die lewe te voorsien, het die man hom dikwels aan luiheid oorgegee en al die werk aan sy vrou oorgelaat. Of, weer, toe, soos die geval was met baie volke, werk as ‘n veragtelike ding beskou is, en net jag en oorlog as manswaardig beskou is, toe het die vrou weer in ‘n toestand van onderdrukking gekom en ‘n genotmiddel geword, ‘n slavin en ‘n kommoditeit. Maar gevolglik kon dit ook gebeur dat die vrou in die huis ‘n groot mate van selfstandigheid en vryheid verwerf, rykdom opgebou het en regte verkry het wat haar sterk gemaak het teen die man wat weg was van die huis en wat min vir sy gesin omgegee het.

Vroulike heerskappy het egter nooit in die formele sin en nêrens bestaan nie. Natuurlik het vroue nog nooit mag en invloed oor hul kinders, oor hul mans en oor hul gesinne ontbreek nie; en ook hier en daar is hulle selfs tot hoë poste en waardighede geroep, aangesien koninginne van tyd tot tyd onder verskillende volke geregeer het. Maar dit is die uitsondering en iets gans anders, as ‘n formele vroue heerskappy. Altyd en oral is die man die hoof van die gesin gewees. Maar dit was die gebruik in sommige nasies, om die naam, rang en familie van die kind na die moeder te verwys.

Bloedverwantskap is toe as meer intiem en hoër as huweliksgemeenskap beskou; om uit dieselfde moeder gebore te wees, geld dan as die werklike verwantskap. Bowendien lees ons in Genesis dat die man sy vader en moeder, sy eie huis, sal verlaat en so as’t ware sy vrou sal volg; onder Israel is groot klem gelê op bloedverwantskap deur die moeder, en die spreekwoord is steeds aan ons bekend, dat wie ‘n seun aan die huwelik uitgee, verloor ‘n seun , maar wie ‘n dogter aan die huwelik uitgee, word met ‘n seun verryk. Maar dit alles het niks met vroue heerskappy te doen nie. Selfs waar verwantskap deur bloed bepaal is, d.w.s. deur die moeder, tog was die man die hoof van die familie, beskermer van die vrou, vader van sy kinders, eienaar van die landgoed, deelnemer aan oorlog. En  daarom is daar  ‘n groot aantal skrywers wat teenoor die verdedigers van matriargie, volhou dat die patriargie die oudste vorm van gesinslewe was.

Patriargie is nou verwant aan veelwywery en poligamie. Dit word inderdaad by baie mense in antieke sowel as teenwoordige tye aangetref. Die sendelinge het voortdurend te kampe met diep ingewortelde kwaad. Maar ook hier moet mens oppas vir oordrywing. In antieke tye was monogamie die reël onder die Babiloniërs, die Egiptenare, die Grieke en die Romeine; ook waar wet of gewoonte die man veroorloof om bywywe te neem, bly die eèn vrou tog die eintlike eggenote. By primitiewe volke kom poligamie sowel as monogamie voor; die Indiane en vele ander herken en eer die huwelik van èen man en èen vrou. En ook daar, waar poligamie gewettig is, bly daar gewoonlik tog èèn vrou wat voorrang beklee, en kom die veelwywery alleen by die hoofmanne, die welgesteldes voor, omdat die minder gegoede burgers hulself nie die weelde kan veroorloof nie. Dikwels is daar ook die verskynsel dat die huwelik en gesinslewe hoër geplaas word onder nasies hoe dieper ons teruggaan in hul verlede, terwyl dit later val met die toename van welvaart en weelde en onderdruk word deur allerhande on edele praktyke.

As ons dit alles in aanmerking neem, is ons nie verbaas dat ook uit die familielewe  van die nasies, heerlike poësie tot ons spreek nie. Die vrou was in Egipte, Griekeland  en veral in Rome hoog geag in antieke tye. Van die eerbied vir die ouers kan die Chinese ons tot voorbeeld wees. Uit die verlede kan ons baie verhale vind oor die innige liefde tussen man en vrou, tussen ouers en kinders. Literatuur en kuns voer verskillende tonele op van manlike trou, vroulike toewyding, kinderlike toegeneëntheid.

God het ook ondanks die val van die mens, hom nie verlaat nie; Hy het in die hart van man en vrou, van ouers en kinders, die natuurlike liefde wat Hy in hul harte geplant het, bewaar en daardeur vir die aardse lewe ‘n bron geopen van rein geluk en onmeetbare seën.

2 thoughts on “Die Christelike huisgesin: HOOFSTUK 3 (deel 2): Die huisgesin onder die volke na die sondeval – ewolusionistiese konstruksies

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑