Ds GBS Pasch preekbundel: “EN UIT SY VOLHEID…”

Ds GBS Pasch preekbundel: “EN UIT SY VOLHEID…”

Lêer:Ds GBS Pasch by die hoeksteen van die Gereformeerde kerk Potgietersrus, deur hom gelê op 17 Mei 1952.jpg
Bron: Wikipedia

Hier is ds Pasch (1916-1960) se preekbundel:

“En uit sy Volheid…”

Met groot dank aan die familie wat daartoe toestemming verleen het om die preekbundel te kan versprei, asook Willem Swanepoel se kosbare dienswerk wat hierdie bundel (en baie ander werke) elektronies verwerk vir die nageslag.

Oor ds. Pasch, sien hierdie bronne as agtergrond:

Gerrit (Rabbo) Pasch (Wikipedia artikel)

Roeping en stryd in die kerklike bediening van H.Ph.J. Pasch en G.B.S. Pach (ThM studie deur ds. Petrus J Venter)

Daar is ook komende Vrydag, DV, ‘n lesing van ds. Venter oor ds. Pasch, as deel van die TS Konferensie, sien die inligting hier:

KONTAK VIR TEOLOGIESE STUDENT ALISTAIR VAN HEERDEN DIREK AS U WIL INSKAKEL OP HIERDIE LESINGS, OP SY SELFOON: 066 553 2740 

____________________________

Prof. dr. S. Du Toit se ‘Introduksie’ op ds. Pasch se preekbundel: 

TER INTRODUKSIE
ʼn Aantal jare gelede het ondergetekende die voorreg gehad om die eerste deel van die nagelate Esegiëlpreke van wyle ds. P.G.W. Snyman persklaar te maak en ʼn woord ter inleiding te skrywe.

Weer beskou ons dit as ʼn voorreg om op versoek van die weduwee van ons ontslape broeder ʼn woord van aanbeveling te skrywe by die kostelike preke van ʼn hoog begaafde dienskneg van die Here wat so vroeg van ons weggeneem is.

Net soos in die geval van ds. P.G.W. Snyman het ons hier te doen met modelpreke, preke uit die Skrif, en op die man af, preke vol digterlike prosa, preke met ʼn adres — egte Gereformeerde preke. En die vraag kom maar weer op: waarom? Maar op ons waaroms kry ons hier geen antwoord nie, behalwe wat die Skrif ons openbaar: ons tye is in die hand van God. Ds. Pasch het in die kort tyd wat hy aan ons geskenk was volgens die Raad van God gedien en ons weet dat daar groot seën op sy werk gerus het.

Hoe dankbaar is ons dat hy soveel preke volledig uitgeskrywe het! Nou spreek hy nog tot ons — ook nadat hy heengegaan het. Wat ʼn voorreg vir sy dierbares, vir die gemeentelede, vir almal wat hierdie boek sal lees!

Mag hierdie preke wyd versprei word en mag sy lewe vir ons steeds ʼn inspirasie bly.

“Hy het met God gewandel en hy was nie meer nie want God het hom weggeneem”.

S. du Toit.
Teologiese Skool, Potchefstroom.
November 1960.

Ds. Pasch se Reformasie preek:

Aangesien dit Oktober is, die mooiste ‘Reformasie maand’, hier is ‘n enkele paar aanhalings uit ds. Pach se preek, ‘n Hervormingsdaad wat pas by elke Hervorming (bl. 100ev):

“Vandag en gister bou en verfraai ons ook saam met die ganse Protestantse wêreld die grafte van die profete en die monumente van die regverdiges. Die Hervorming, wat begin het op 31 Oktober 1517, is vir ons nie ʼn afgedane saak nie. Van ons word gevra, behalwe die  grafteversiering van die Hervorming, of ons bereid is om dieselfde spoor te volg, of verloën ons dié erfenis met woord én daad?”

“As die herders van die kudde dit doen, wat doen die arme skape nie. Die geestelike onkunde was ontsettend! In ʼn hele Switserse klooster is daar net een gevind wat die Nuwe Testament deurgelees het. Calvyn self sê: Die waarheid van God lê onder ontelbare leuens begrawe, sodat al God se instellings deur die allerskandelikste besoedel was. Die mag van Christus het totaal verword en teuellose tirannie van goddelose mense en priesters geword, en in plek van die ware Christendom het ingetree ʼn afskuwelike ontwyding van al wat heilig was. Geen wonder dat die Hervormers dié tyd vergelyk het met die tyd van die Rigters nie. In die rigtertyd en in die tyd voor die hervorming was daar maar één uitredding, één hoop: algehele, grondige reformasie. En dat hierdie reformasie in Gideon se dae gebeur het, was net te danke aan die ingrype van God self.”

“Nee, dit is nie dit wat Calvyn en Luther tot hervorming dryf nie, maar dit: die lig van die Goddelike waarheid was uitgeblus, die Woord van God begrawe en die krag van Christus deur diepe vergetelheid en uiterlikhede bedek. En om daarmee vrede te hê was vir hulle niks anders as die verloëning van die waarheid nie. Hier kon nie meer met lydelikheid en geduld gewerk word nie. Maar wanneer die leuen ingedring het tot in die fort van die godsdiens, dan is die breuk met sulke geestelike leraars en voorgangers nie deserteer, geen vlug of weglopery nie maar die navolging van die banier van Jesus Christus en dit alleen.”

Afbreek én bou — die kenmerk van alle ware reformasie. Nie uit begeerte tot revolusie nie maar uit gehoorsaamheid aan die Here word dit volbring.

Wat moes die Hervormers nie alles afbreek nie? Beeldediens, verering van heiliges,  aflaathandel, die oorbieg, die misoffer. Maar terselfdertyd bou hulle op. ʼn Eenvoudige erediens waar daar in die midde staan die verkondiging van die volle evangelie van genade — geen tierlantyntjies, geen hulpmiddels nie. Hulle herstel die tug oor leer en lewe. Hulle roep op tot selfverloëning om die sonde te ontvlug, die geregtigheid na te jaag en hulle vlees met hulle werke te kruisig.

En ons? Pas op dat ons nie grafte versier en monumente bou vir die Hervormers en tegelykertyd met ons lewe hulle werke verloën nie. Ook in ons persoonlike lewe word ons opgeroep tot afbreking en opbou, getrou aan die bevel van die Here. Afbreek — dit staan eerste. Nie wild en breed nie maar beskeie en opreg in die nood wat die Woord van God aan ons oplê. Afbreek — ook dié altare waar ons rook laat opgaan vir die gode van ons tyd. Astarte is nog daar, al het sy nou ʼn rok aan en twee prinsesse wat haar bystaan. Baäl is nog daar as mense wat nooit kerk toe kom nie, met biddae om reën die kerkgeboue volstroom. Die altaar van die Here kan ook vandag op ons hoogtes nie gebou word as Baäl se altaar onafgebroke bly staan nie. God en Baäl, Christus en Astarte, waarheid en leuen gaan nooit saam nie.”

“Ons moet God bid dat ons elkeen afsonderlik en almal saam sy Goddelike roepstem tot reformasie hoor in sy Woord — ʼn reformasie wat inwerk en inywer teen alle dubbelhartigheid, weifeling, valse gerustheid. Laat ons soos Gideon op Gods bevel, God se opdrag in sy goddelike getuienis, die altare van Baäl en die pale van Astarte breek en omkap in ons lewe, in ons gesin, in ons gemeente, in alle kringe waar God ons tot reformasie en tot getuienis roep.

En laat ons terselfdertyd God se altaar bou op ʼn duidelike plek, sodat baie vir Christus gewen kan word en sodat elke Baälskneg en Astartediensmaagd weet: Hierdie is ʼn gelowige wat voor die afgode van hierdie eeu nie kniel nie!

En dan ondervind my vader, man, vrou, huis, kerk, staat seën en genade van verandering, bekering en reformasie.”

Inhoud van ds Pasch se preekbundel:
TER INTRODUKSIE ……………………………………………………. 6
WIE IS SOOS JOAS? ………………………………………………….. 7
EIE KRAG WORD GEEN KRAG……………………………………….14
EEN SONDIG VIR BAIE!………………………………………………24
JONA SE ONMOONTLIKE VLUG ……………………………………..33
VERKEERDE KEUSE……………………………………………………44
DINA, DIE MEISEKIND ……………………………………………….54
DIE ANDER MARIA…………………………………………………….61
RUS VIR RUT BY HAAR LOSSER…………………………………….67
EEN DING IS NODIG………………………………………………….74
DREUNENDE BEENDERE!…………………………………………….83
SKYNBEKERING ……………………………………………………….90
‘N HERVORMINGSDAAD WAT PAS BY ELKE HERVORMING…..100
“DIE VERLORE SEUN” ………………………………………………108
‘N BRIEF WAT HARD SLAAN……………………………………….118
ONVRUGBAARHEID — ‘N ERNSTIGE SONDE!…………………..126
GEE MY JOU HART!………………………………………………….133
DIE EENSAME EN MOEDELOSE GELOWIGE! ……………………143
NOG NIE TEN BLOEDE TOE NIE!………………………………….151
TEVERGEEFS GELUISTER! …………………………………………159
HOORDERS EN DADERS ……………………………………………165
GOD SE SKOONHEIDSKONINGIN. ……………………………….171
EIENAARDIGE VREUGDE. ………………………………………….178
BESLUITLOOS………………………………………………………..185
‘N BRIEF VAN CHRISTUS. ………………………………………….192
DIE SOUT VAN DIE AARDE. ……………………………………….199
HEILIGE MEDEDINGING. …………………………………………..206
DIE WOORD VAN GOD IN ONS LEWE. …………………………..213
DIE WA VAN DIE HERE STAAN VOOR DIE DEUR. ……………..222
GENADE OP GENADE! ………………………………………………229
DIE GEDAANTEVERWISSELING VAN DIE KERK. ……………….237
EK SKAAM MY NIE VIR DIE EVANGELIE VAN CHRISTUS NIE..248
TEMPELMATERIAAL………………………………………………….255
JESUS CHRISTUS TEENOOR TWEE SOORTE MENSE. …………263
CHRISTUS GAAN JERUSALEM UIT………………………………..272
DIE KERK IS SY LAASTE ARBEID. ………………………………..279
DIE DOOD VAN DIE TWEE GETUIES……………………………..287
___________________________________

Laai hier af: Uit sy Volheid

Verdere twee preke van ds. Pasch hier beskikbaar.

One thought on “Ds GBS Pasch preekbundel: “EN UIT SY VOLHEID…”

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑