
TWEE BEKERINGSPREKE
VAN DS GBS PASCH
Ek wil graag twee van ds. GBS Pach se preke by u as leser aanbeveel, met erkenning aan die bron. Dit het my opnuut aangespreek, en dit is ook opnuut aktueel vir ons tyd.
Die een preek, “Die besondere erns van gewone dinge” (Luk. 13:6-9) wys op die noodsaakik om die ‘gewone dinge’ wat die Here geskenk en beveel het ernstig op te neem, veral die prediking van die Woord wat deur dekades en baie jare na ons kom.
Ons leef in ‘n tyd waarin baie mense, ongelukkig ook kerkgangers opsoek is na sogenaamd iets ‘nuuts’, of iets ‘anders’, dalk gaan die charismatiese en/of pinksterbewegings my help daarmee om iets ‘nuuts te ontdek’ ? Die ‘gewone kerkwees’ is net meer genoeg nie…
Maar dalk is alles wat ek nodig het, deur sy Gees en Woord reeds al die jare daar maar ek het dit nog nie deur die geloof in Christus omhels en in woord, daad en gedagtes erns daarmee gemaak nie (HK v/a 20,21)?
Die ander preek is vir my ‘n pragtige voorbeeld om die sogenaamde karkikatuur aan te spreek dat ‘doppers preek nie bekering nie’, of die sogenaamde cliche ‘doppers is ge-arriveerd’ aan te spreek. Ek wonder baie keer oor hierdie algemene stellings (‘sweeping statements’?) wat gemaak word oor die prediking, is so iemand elke Sondag in al 300 kerke om te hoor wat daar gepreek word, is dit werklik so ? Daarmee sê ek nie daar is baiemaal dooie prediking of prediking wat nie die Woord suiwer en met krag uitlê, toepas en oproep tot bekering en geloof nie. Daar is seker, maar ek is maar versigtig met die veralgemenings.
Ds. Pasch se tweede preek, “Die kerk van Christus in die krisis van slapende of wakende” (Op. 3:1-6), wys egter die ‘ou doppers’ het van harte geglo in bekering en dit gepreek. Dit het my goed aangespreek. Elke prediker, elke gelowige kan dit maar aanhou hoor, dit is goed vir elke mens om opgeroep te word tot die eerste bekering, maar ook vir gelowiges om opnuut opgeroep te word tot verdere of deurgaande bekering, ons lewe lank (HK Sondag 32,33, 52): terug na ons eerste liefde, terug na Christus, terug na sy hele Woord deur die krag van die Heilige Gees.
Ek hoop hierdie twee preke is voedsel vir u honger siele, soos dit vir my was.
Oor ds. Pasch, sien hierdie bronne as agtergrond:
Gerrit (Rabbo) Pasch (Wikipedia artikel)
Roeping en stryd in die kerklike bediening van H.Ph.J. Pasch en G.B.S. Pach (ThM studie deur ds. Petrus J Venter)
____________________________
Preek 1: “Die kerk van Christus in die krisis van slapende of wakende” (Op. 3:1-6), deur ds. GBS Pasch
Lees: Matteus 24 : 36 – 47
Teks: Openbaring 3 : 1 tot 6
Sing: Ps. 36 : 2; Ps. 128 : 4; Ps. 134 : 1 of 3; Ps. 22 : 11
Gewoonlik, as daar oor een van die briewe van Christus aan die gemeentes van klein-Asië gepreek word, word daar eers iets gesê oor die stad waarin die gemeente lewe.
Uit die geskiedenis weet ons nie iets besonders van Sardis nie. Ja . . . . . ‘n ou stad . . . . ‘n veelbewoë geskiedenis, geleë aan die kant van ‘n vrugbare vlakte, met wol en skaapboerdery as die vernaamste bedrywe. Tog was daar enkele dinge wat lig laat val het op die mentaliteit van die bevolking.
Sardis . . . . ‘n stad van vervalle grootheid, met baie, baie dapper voorsate, maar nou nie meer dapper nie. Tweemaal oorval as gevolg van hulle onwaaksaamheid. Hulle teer op die mooi verlede, maar presteer self nie meer iets nie. En toe in 17 n.C. ‘n aardbewing die stad uitmekaar ruk, het keiser Tiberius help bou, maar die inwoners self herstel hulle stad nooit weer ten volle nie. Al staan daar dan nou ‘n klompie nuwe geboue, bly dit ‘n stad van vergane grootheid. Geen nuwe geesdrif . . . . geen besielende aksie nie. Hulle lewe maar so van dag tot dag voort sonder hoë momente van ywer en daadkrag.
En dit wat die stad van Sardis geld, geld ook in ‘n hoë mate van die kerk aldaar. Nogtans is dit moeilik om die probleme en die sonde van hierdie gemeente in ‘n preek raak te vat, want daar is so min wat konkreet, tasbaar verkeerd is. Dit bly so vaag en algemeen. Efese byvoorbeeld het daadwerklik te doen met die Nikolaïete. Pergamus is die tuiste van Satan met sy baie afgode. Die vinger word by hierdie kerke op die sweer en die ontsteking gedruk. Maar by Sardis word daar in die algemeen net gesê dat die gemeente dood is, dat hulle slaap, maar hoe hulle dood is en waarom hulle slaap word kwalik gesê.
Wat is ‘n dooie gemeente?
Ons dink dan gewoonlik aan ‘n gemeente van gewoonte en verstarring. As die dominee preek omdat dit nou maar eenmaal Sondag is en ‘n preek by Sondag en ‘n predikant hoort. As die ouderling gereeld huisbesoek doen en maar oor koeitjies en kalfies gesels of op hulle beste so ‘n outomatiese vraagmasjien geword het wat op ‘n ry ‘n klomp vrae aframmel en tevrede is met elke dooie antwoord. As die diakens kerkportrette is stewig in ‘n ry op die voorste banke, maar verder prakties niks meer nie. As die lidmate Sondae tweemaal stewig in die kerk sit, maar in die week rustig saam spoel in die donker stroom hel toe.
As nooit iets opvallends gebeur nie. As daar nooit ‘n preek soos ‘n sweepslag weerklink wat wakker maak nie. As die dominee maar ou afgesaagde sinne gebruik wat gesellig soos koel water op ‘n warm dag oor ‘n lui baaier val . . . . maar niemand tot sy fondamente ruk of raak nie. Geen bekering, geen heiligmaking, van Sondag tot Sondag beweeg soos ‘n ou karperd wat van huis tot huis loop en staan, loop en staan. Nooit ‘n tuggeval nie . . . . almal vriende met die ouderling en predikant . . . . nooit iemand vir hulle kwaad nie.
Maar laat ek maar dadelik sê: So ‘n gemeente of kerk was Sardis nie.
Hier het die kerk ‘n uitstekende naam gehad . . . . ver buite sy grense. Een van die lewendigste en beste kerke in die klassis. Christus Self sê: Julle het die naam dat julle leef. ‘n Uitstekende reputasie. Alles so pragtig in orde. Die dominee van Sardis het vol kerke . . . . hy staan bekend as ‘n vurige en talentvolle spreker. Hulle ingenomenheid met hulleself maak dat hulle nie tevrede is met ‘n man sonder talente nie.
Die kerkraad was ook hoog in aansien. Die ouderlinge voer met huisbesoek ‘n geestelike gesprek. Ouderlinge van ander plekke jaloers op hierdie ywerige swartspan. Die ander het gesukkel met ketters en afwykers in hulle wyke . . . . Nikolaïete, Bileamsmense, Isabeliete. Elke huisbesoek ‘n geveg, ‘n worsteling. Maar kom kyk bietjie na Sardis. Geen vervolging van buite, geen dwaalleer van binne. En met kerkvisitasie kry hulle ‘n pragtige, salige rapport: pragtige dominee, voortreflike kerkraad, werkende diakonie.
Maar Christus sê: Julle is dood op ‘n paar na. Verskriklik so ‘n uitspraak na ‘n kostelike visitasierapport. Julle is dood.
Wat skort dan?
Hier is net ‘n paar wat hulle klere nie besoedel het nie. Mens kan die paar op jou vingers tel. Net ‘n paar wat hulle klere nie besoedel het nie. En wat die res betref moet mens nie dink aan uitspattighede nie. Maar die blinkende wit van die kleed was tog by die meeste dof en vuil geword en goed gekreukel. Nou kan ‘n mens miskien sê: Dit kan tog nie anders nie. Wie is volmaak? Mens kan tog nie onmoontlike eise stel nie. Was die klere in Pergamus of Thiatire miskien smetteloos wit? Waarom dan die skerpe oordeel van Christus: Julle is dood? Waarom soveel lof vir Pergamus en Thiatire vir hulle trou en hulle werke?
Al antwoord: Sardis is doodtevrede met die peil wat eenmaal bereik is. Die gemeente het dieselfde mentaliteit as die stad – Selfvoldaan. Teer op die glorie van die verlede en hulle jaag nie die noodsaaklike wedloop na die volmaaktheid nie. Hier was geen reaksie omdat daar geen aksie was nie. As ‘n kerk ‘n sterk en prinsipiële aksie van stapel stuur . . . . . moet daar ook reaksie wees. – by die lidmate, by die rondom die gemeente.
Maar hier geen aksie en daarom geen reaksie nie. In die ander kerke van Klein Asië was daar aksie en die aksie werk reaksie en nou moes die kerk sterk en groeiend stelling inneem teen die reaksie – hom staal teen aanvalle van buite wat gewek is deur hulle aksie. Almal wat hand-om-die-nek met die wêreld wandel is gedwing na ‘n kant toe . . . . hulle moes hulle teen die sterk aksie en prediking verdedig . . . . . hulle standpunt stel. Maar in Sardis was dit nie nodig nie. Die slap broeders bly slap omdat die kerk hulle nie aanval nie.
Die predikant preek vurig en warm, maar al om die punt . . . . . die vinger nooit op die abses nie. Die hoere en die dansers en baster-gelowiges in die kerk hoor die predikant van Sardis graag. Hy maak nooit iemand seer nie. En die ouderlinge met hulle vroom praatjies het so oor Christus gepraat dat die duiwel nooit geprikkel is tot ‘n aanval of geveg nie. Dit was Sardis se dood. Niemand praat absoluut nie.
Altyd om die punt . . . . . niemand word tot teenspraak geprikkel nie. Gisteraand op ‘n dans in die stadsaal van Sardis en vanmôre salig in die kerk met geen woord uit die predikant se mond wat enigsins die gewete kwel nie. Sardis daarom is jy dood. En behalwe die wandel wat buite orde was . . . . . ook die leer was verkeerd. Die ganse massa van gelowiges moet ons aflei was ontrou in hulle taak om Christus te belei. Hier swaai die gevangenisdeure nooit oop ter wille van die Evangelie nie. Hier word geen fakkel in die brandstapel gesteek ter wille van Christus nie. Geen martelare soos Antipas in Smirna nie.
Die andersdenkendes van die stad kom luister graag na die dominee omdat hy so niemand seermaak nie. Geen wrewel, geen aksie teen hom nie. Maar met Paulus was dit tog heeltemaal anders. Nêrens kon Paulus praat of hy word opgesluit, geslaan en die hele stad jaag hom die poorte uit – juis omdat Paulus ‘n absolute Evangelie bring. Hy bring iedereen voor die keuse van dood of lewe . . . . van die mes insteek onder die sweer en gered word, of sterwe. Nooit kon die mense onder sy prediking dieselfde bly nie . . . dit breek uit na ‘n kant toe . . . . bekering of haat. Redding of opstand en moord en dreiging.
Maar in Sardis het die kerk die simpatie van die wêreld met hulle binnkamergodsdiens wat nooit meer agressief na buite optree nie. En so ‘n kerk het die naam, hy is populêr, hy lewe skynbaar skitterend, maar is inteendeel dood, dood, dood.
Maar nog is dit nie al rede dat Sardis dood is nie. Ons moet nog dieper delf. En dan kan daar geen ander antwoord wees nie: In Sardis het die spanning van die koms van Christus op die wolke, verlore gegaan. Hulle het die uitsig oor die jongste dag verloor. Want ons moet daarop let met watter naam Christus Holmself hier noem.
Dit sê Hy wat die Sewe Geeste van God en die sewe sterre het. Met ander woorde Ek spreek hier wat dit Pinkster laat word het, wat toe die volheid van die Heilige Gees uitgestort het. Maar met hierdie uitstorting van die Heilige Gees begin die einde, want Petrus sê: dit is wat gespreek is deur die profeet Joël: Dit is die laaste dae. Pinkster beteken dat alles nou gedryf en gepers word na die einde – na die voltooing van die eeue. En omdat Christus op Pinkster jaag na die einde en daarvoor Sy Sewe Geeste Stuur, daarom hou hy ook die sewe sterre.
Dit wil sê Hy roep in sy kerk die ampte in aansyn . . . . . apostels, profete, herders, leraars sodat die heiliges volmaak kan word. Met die Gees en met die ampsdraers is daar uitgestort die kragte van die einde . . . . . die kragte wat moet voortstu en voortdrywe na die einde toe. En so het Christus ook gaan werk in Sardis. In die gemeente het Hy ontketen die kragte van die jongste dag. En hulle is geroep om te werk en te bely in al die spanning, die hoogspanning van die einde en om hulle uit te strek na die volmaaktheid van die gelowiges.
Maar Sardis weet van die jongste dag niks meer nie. Hulle weet nie meer dat hulle die Heilige Gees nie ontvang het vir ‘n stigtelike lewe en om dit te geniet en rustig en veilig te hê nie, maar om in die brandpunt te staan en om hierdie wêreld aan die brand te steek sodat die vlamme soos van vuur oral uitslaan. Hulle het ‘n kerkraad en ‘n predikant maar hulle weet self nie meer dat hulle die gemeente moet voortjaag na die volmaaktheid en heiliging toe nie.
Pragtig en prettig vind hulle dit dat hulle geen moeilikhede het nie. Maar dat dit die laaste dae is weet en besef hulle nie. Besef nie dat hulle met hulle belydenis moet indring in die wêreld om die wêreld te dring na die einde toe nie. Om die halwes in die kerk om te smelt tot bekeriing of tot verharding. En omdat die spanning gemis word preek die dominee so swak.
Sondae steek hy ‘n gesellige vuurtjie aan die brand waarby elke Jan Rap hom warm maak, maar nie die vuur van die Heilige Gees waardeur die slappes of gered of uitgedryf word nie. So gaan die Sondae en die jare in Sardis verby. Daar is aksie, maar in die aksie word die spanning van die einde gemis. Hulle vorder niks nie . . . . . word nie heiliger nie, word nie meer volmaak nie en dit spel een woord: Jy is dood . . . . . Sardis.
In Matteus 24 skets Christus die dienskneg of die predikant wat preek en werk onder die spanning van die jongste dag. Dit is die man wat voedsel gee op die regte tyd . . . . . die man wat op die horlosie kyk en die wysers sien voortbeweeg 12 uur toe, en dienooreenkomstig die regte spyse bied.
Maar Sardis se dominiee preek die een jaar soos die ander jaar. Hy sien nie God se horlosie nie. Hy die ouderlinge besef nie hulle moet die gemeente met elke diens en elke huisbesoek opvoer en aanvuur na die einde toe nie. Om aktueel en waaragtig te preek beteken om te besef dat met elke preek die preektyd korter word, elke preek bring die einde nader. Preek beteken die slappes wakker ruk en die volharde slappes hulle dood verkondig, en hulle die kerk uitdrywe en die wêreld in reaksie bring teen die kerk.
Hoe skiet ons tog nie hieraan te kort nie.
En broeder en suster dat die sonde van Sardis in alle waarheid gelê het in die feit dat hulle die lewe losmaak uit die spanning van die jongste lê ook daarin dat Christus aan die kerkraad en gemeente beveel: Wees wakker, wees wakende. En om wakende te wees beteken in die Bybel nooit dat mense moet oppas vir een of ander sienlike gevaar nie, maar dit is altyd die verwagting van die koms van Christus. Elke dag lewe in die verwagting van die einde en daarom ook elke dag werk in die spanning van die einde.
Word wakker: Dit beteken vir die predikant hou die mense nie langer gesellig besig nie, maar preek onder die hoogspanning van die einde. Hy mag hulle nie trakteer op nagereg nie, maar op die vaste spyse dat hulle volwasse word in die geloof, liefde, heiligmaking. Word wakker: Dit beteken vir die ouderling nie ‘n gesprekkie oor ditjies en datjies nie maar ondersoek ernstig wat daar nog aan lidmate ontbreek aan die volmaaktheid in hoeverre hulle nog nie gereed is om Christus te ontmoet nie.
Word wakker: Dit beteken vir die hele gemeente, moenie langer ‘n binnekamergodsdiens daarop nahou nie, want Christus kom en dan moet die wêreld gereed wees. En hulle moet gereed word deur elkeen se tong. . . . . ook u tong en lewe. Vertel ‘n slag vir die mense langs u van Christus . . . . . praat van Hom in die publieke lewe. Dan kry ‘n mens moeilikheid. Dit storm op jou af . . . . . . jy word gehaat. Maar jy dring die wêreld na die einde toe.
En as jy wakende is, let jy gespanne op en mens sien die tekens van Christus se koms . . . . . . jy is altyd bereid. En die dag kan jou nie oorrompel soos ‘n dief in die nag nie. En ten slotte . . . . . . hier is niks wat mens kan prys in die gemeente as geheel nie en tog is daar ‘n belofte vir hulle wat getrou bly. Wit klere sal hulle dra . . . . . . hulle wat wakker was onder die geklank van God se Woord. Wat geleef het vir een saak. Die koms van Christus op die wolke. Hulle wat bekommerd was oor die stadige groei na die volmaaktheid toe. Hulle name staan geskrywe in die Boek van die lewe.
Broeder en suster, dit was ‘n eienaardige preek . . . . . ‘n preek sonder ‘n toepassing. Maar die preek is bedoel vir u en my van die gemeente. God wil ook vanmiddag ‘n spieël voor ons ophang. Sy Gees dra hierdie brief deur die eeue en eeue heen tot by ons en lewer dit vanmiddag af aan ons adres af. Hoor wat sê die Gees van God tot hierdie kerk: ‘n mooi gemeente, ‘n goeie kerkraad, ‘n redelike predikant. Daar word gewerk.
Maar ons durf nie roem nie. Het ons nie dalk die naam dat ons lewe, terwyl ons dood is nie? Is dit nie ‘n vraag om baie, baie ernstig oor te besin nie. Waar is die spanning van die einde, wat ons dwing, opjaag, verteer? As ons maar nie slaap nie . . . . . . en wat my betref as ek u maar net nie doodpreek nie. God bewaar ons daarvan. Maar ons moet in die spieël kyk. Ernstig kyk . . . . . . voor dit te laat is. Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die Gemeentes sê.
Amen.
_____________________________
Preek 2: Die besondere erns van die doodgewone dinge (Lukas 13:6-9), deur ds. GBS Pasch
Lees: Luk. 13: 1 — 9
Teks: Luk. 13: 6 — 9
Sing: 1) Ps. 92: 1 en 5 (Ps. 9: 1, 5 en 7)
2)Ps. 119: 31
3)Ps. 65: 2
4)Ps. 32: 5
5)Ps. 100; 104; 116
Ons teksverse praat van gewone en alledaagse dinge. Want die eienaar kom al vir die derde jaar kyk. En as iets drie jaar lank geduur het, dan is dit beslis nie meer iets buitengewoon nie. Tog kry hierdie woorde besondere betekenis as ons let op die moment waarop Jesus Christus hierdie gelykenis uitspreek.
Daar het ‘n skokkende ding gebeur. Ek wou nie praat hoe ons koerante dit sou uitgebuit het nie. Jesus Christus het so pas met die skare gepraat oor die tekens van die tye en hulle vermaan om daarop ag te gee. En toe storm sornmige op hom af wat Hom ‘n berig bring van ‘n ontsettende ramp in Jerusalem. Pilatus het ‘n klompie Galileërs wat gekom het om hulle offers in die tempel te bring, tydens hierdie heilige handeling laat doodslaan. Met ontsetting het ooggetuies gekonstateer dat hulle gesien het hoedat die Galileërs se bloed meng met die bloed van hulle offerdiere. En dit was die tweede ramp in ‘n kort tydjie.
Daar is agtien dooies betreur by ‘n ongeluk in Siloam. Hierdie twee gebeurtenisse het die mense baie laat skrik. En tog – die skrik het ook maar nie baie lank geduur nie. Hulle het in daardie tyd hulle eie teologie gehad, wat ook baie van ons teologie is, waarmee hulle hierdie tragiese gebeurtenisse verklaar het — so naamlik: die Here het hierdeur laat blyk sy groot en ernstige toorn en daaruit kon mens aflei dat die slagoffers op een of ander manier baie ernstig teen Hom gesondig het. Daarmee het hulle dan God se optrede geregverdig:
Ek dank U Here dat ek nie is soos die agtien by Siloam en die ongelukkige Galileërs nie. ‘n Dankgebed wat ook aan ons nie vreemd is as ‘n ramp ander mense tref nie. Maar die ware roepstem en bedoeling van God in hierdie gebeure feite het die skare nie meer verstaan nie. Daarom moet Christus met alle klem tot hulle spreek van die erns van hierdie besondere dinge sodat hulle hulle kan bekeer: indien julle nie bekeer nie, wag daar vir julle dieselfde lot.
Teen die agtergrond van hierdie gebeurtenisse kry die gelykenis van die onvrugbare vyeboom uit ons teksverse ‘n baie duidelike omlyning. Die Here het nou drie jaar lank besondere sorg en moeite bestee aan sy wingerd, aan die Vyeboom of Israel. Johannes die Doper het gepreek en gedoop. Na hom het Christus gekom om die Evangelie aan die sondaars te verkondig en Hy het die prediking bewys en bekragtig met baie wonders. Nou mag die Here tog vrugte verwag. In die hele periode tussen Maleagi en Johannes het God sy vyeboom bykans onbewerk laat lê.
Maar as Johannes kom dan spaar hy nie krag of moeite om die wingerd vrugte te laat dra nie. En as Johannes wegval is Christus besig met nog ‘n intensiewer arbeid en bewerking. God soek tevergeefs na vrugte en daarom wil Hy die vyeboom uitroei. Want dit is die ontsaglike erns van die gewone dinge. Die optrede van Johannes en van Jesus Christus het aanvanklik ewe veel belangstelling getrek, maar na ‘n rukkie het die belangstelling en entoesiasme gedaal. Na ‘n rukkie vind hulle dit al weer baie gewoon dat Johannes doop.
By Christus duur dit ietwat langer. Tog vind dit op duur nie ingang nie. En netnou keer baie van sy dissipels die rug op Hom. Dit het nou drie jaar geduur. Wat! Daar word gepreek, baie gewoonweg gepreek. Maar daarom des te ernstiger. Want dit staan vas. Gewone dinge is baie, baie ernstiger as besondere dinge. Gewone preke, gewone nagmaal, gewone huisbesoek — is eintlik God se manier.
Ja, die bloedbad in die tempel het ‘n paniek veroorsaak, en die ongeluk by Siloam het hulle diep geskok agtien dooies. Maar wat Christus preek. Ag, nou ja – gister het Hy op ‘n ander plek presies dieselfde gedoen en more is Hy êrens anders. Hulle raak daaraan gewoond. Hy het so pas ‘n duiwel uit iemand gedrywe —haai die hoeveelste is dit nou al?
Die besondere dinge laat ons tenminste nog bietjie skrik, maar die gewone dinge aanvaar hulle sonder skrik, of sonder bewussyn. Ons maak ook so. ‘n Vliegramp, ‘n orkaan, ‘n sikloon — verskriklik. Maar God se Woord wat praat van Ewige, Ewige heil en ewige hel en hitte — en verknersing — geen indruk — gewone dinge. Om nie eers te praat van die nagmaal waarin niks minder as die DOOD VAN GOD SE SEUN gedenk word nie. Gewone dinge wat nie meer tot ons raak of spreek nie.
Die Jode sê: 18 dooies by Siloam en die bloed van die mense tussen die bloed van die offerdiere — verskriklik. Maar God sê: Drie jaar lank is die Evangelie verkondig. Ek het julle nie drie jaar lank, daeliks laat skrik deur besondere rampe nie — maar drie jaar het Ek daeliks gesoek en getrag om julle te beweeg tot geloof en tot bekering en tot gehoorsaamheid van die verbond.
Ons sê: Verskriklike ongeluk, tragiese moord — hoe vol is ons koerante. God sê: Twintig, vyftig, tagtig jaar het julle nagmaal gebruik, die Evangelie is aan julle verkondig – Ek het julle nie daeliks laat skrik deur besondere daelikse rampe nie, maar gesoek gesmeek om julle te beweeg tot ware bekering en tot ware skuldbelydenis onder die nagmaal.
Waarom gaan Israel verlore? Omdat hulle die besondere dinge nie na waarde skat nie? 0 nee. Maar omdat hulle die besondere dinge nodig gehad het, nodig gekry het juis omdat hulle aan die gewone dinge geen geloof en gehoor en bekering gee nie.
Israel gaan verlore, nie omdat hulle die skrik van die Here, die toorn van die Here maar flou opmerk in die drama van die tempel nie, maar omdat hulle die skrik van die Here, die toorn van die Here, glad nie gehoor het in die gewone prediking oor drie jaar nie.
Ons leef in ‘n dramatiese tyd. Ons wag op besondere dinge — selfs op besondere, donderende preke, maar vergeet dat hulle dikwels nie red nie, maar kom as ‘n bewys dat ons nie geluister het na die gewone jarelange prediking en nagmaalsvierings met sy lieflike Evangelieverkondiging nie. Wag u vir ‘n besondere saak of weg om u weer ‘n slag goed te laat luister, u weer in die suiwer sin van die woord nagmaal te laat gebruik. Moet tog nie.
Die besondere dinge kan dalk dit wees wat vir u die weg van bekering en opregte meelewing totaal afsny. U lê dalk onder die toring van Siloam. U bloed meng dalk met die bloed van die offerdiere.
Die bloedbad en die ongeluk met die toring, hulle sou onder ander omstandighede gewone ongelukke gewees het. As dit tien jaar vroeër gebeur het — hulle sou net so tragies wees vir familielede van die slagoffers maar Christus sou dit nooit gebruik het as stof vir ‘n preek nie. Maar nou kom hulle as Johannes en Jesus Christus drie jaar tevergeefs gepreek het. Nou word die ongevalle opeens alarmseine van God, vol van helse dreiging.
Die besondere dinge ontvang hulle erns van die ernstige gewone dinge. Ons is ontroerd oor baie dinge — ons sal nog oor baie dinge ontroerd raak soos wat dit meer raak. Ons skrik almal en sal skrik vir die besondere gebeurtenis as God se toorn oor ons heen dreun. Ons het op die gewone dinge geen ag gegee nie — nou volg God dit op met besondere dinge.
Maar hoeveel van ons besef dat hierdie dinge hulle werklike en eintlike diepste erns ontleen aan baie gewone nagmaalsvierings en nog meer Evangelieverkondigings oor baie jare.
Ja — ons belewe altyd ernstiger wordende tye — hoekom al meer besondere dinge, omdat die erns van die gewone dinge gewoon geword het en nie meer tot ons spreek nie — ons nie meer gryp in ons sondige hart en lewe tot waaragtige bekering en heiliging nie.
O ja — ons wil graag sê: dit is hier nie net gerig en oordeel nie. Ek lees hier ook van die gebed van Christus: Here laat hom nog hierdie jaar staan. Maar dit beteken nie dat die erns minder word nie.
As die gewone bewerking van die boom nie meer help nie — prediking, nagmaalsviering – dan kom die besondere dinge – die kaphoue, vreeslike kaphoue aan die boomwortels.
Ons eredienste gaan voort – ons nagmaalsvierings ook — maar juis daarom word dit gevaarliker – as dit nie die nodige uitwerking het nie, moet ons iets anders verwag – besondere dinge — God se byl se kaphoue.
Daar is nog hoop al het die byl al twee, drie wortels verbrysel -Hy wat pleit vir verdere uitstel is nog daar: Jesus Christus pleitende, pleitende om lankmoedigheid by God, ter wille van ons.
Maar moet tog nie dat hierdie gewone nagmaal en Woordverkondiging u so min raak dat dit God se lankmoedigheid verander in toorn en dat dit roep om die besondere ding van God se oordeel en gerig nie.
Ag — Broeder en suster — as die finale bylhoue moet val, dan sal dit niks help om te sê: Ag het ek die gewone dinge, ook hierdie nagmaal aangegryp nie. Dan is dit te laat. Dan is ook die besondere dinge die vreeslike oordeel van God.
Amen.
Dankie!
Beide preke is vandag nog net so van toepassing soos toe dit gelewer is – wat n voorreg het ek nie gehad om ongeveer 70 jaar gelede by die predikant ware evangeliese preke te ontvang nie. Dankie vir die plasing hiervan.