GELOFTEDAG 2023 OORDENKING: TOTIUS – KEER TERUG HERE, OOK IN ONS TYE! (JES. 63:17)

GELOFTEDAG 2023 OORDENKING:

KEER TERUG HERE, OOK IN ONS TYE

deur Totius

Inleiding – S. Le Cornu

Môre gedenk ons as gelowige Afrikaners weer die gebeure van Bloedrivier, die Here se groot dade ook in ons geskiedenis.  Deel van die Gelofte wat afgelê is in 1838, is hierdie woorde:

“… en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. ..”

Ek plaas hierdonderd ‘n oordenking van Totius vanuit Jesaja 63, waar hy – sonder om spesifiek na Geloftedag te verwys – kort maar op so kragtige wyse vanuit die Skrif op die wese van waaroor Geloftedagvieringe behoort te gaan. Dit is ‘n dag van dank aan die Here se oorwinning in ons verlede, sy sorg deur die eeue, ook vir ons as sy kinders vandag, maar dan ook ‘n dag van verootmoediging in gebed, dat ons ons ook vandag en elke dag sal bekeer oor ons menigte sondes as volk, waaroor die Here ons tugtig, en dat die Here genadiglik sal terugkeer na ons land en volk in sy seëninge, dat ons ons sal bekeer in Christus alleen deur die krag van die Gees in ons ganse lewe, met een doel voor oë in diens van die Here en ons naaste in ons roeping hier in Afrika:

“Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”

Lees dit afsonderlik en saam as gesinne, as gelowiges wat ook in volksverband (1 Kor.10:31) die Here wil dien en erken dat sonder Hom kan ons niks doen nie, want as Hy nie ons gesinshuise, ons gemeentehuise, ons volkshuise bou nie, is alles tevergeefs (sien ook my Ps. 127 en 128 – preek; Joh. 15:5).

‘n BIDDAGPREDIKASIE

deur Totius

Lees: Jes. 63:7-19.

Sing: Ps. 74:1, 2, 20; 103:4.

Teks: Jes. 63:17: HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel.

Die droogte het ons land geteister. Op verskillende plekke het die Here aanvanklik reeds uitkoms gegee, maar oor die algemeen bly die toestande sorgwekkend. Selfs al sou daar nou milde reëns val, is die skade wat reeds gely is, nogtans onberekenbaar groot. Die gesaaides is verdroog op die land. Die vee dwaal vermaer deur die veld. Lammertjies en kalwertjies moet keel-afgesny word omdat die moeders nie melk het nie.

So gaan dit van jaar tot jaar. Stadig maar seker word die druk swaarder, die bande knellender, die uitputting groter, die armoede benouender. Voorwaar, die Here het ‘n twis met die volk van hierdie land. Laat ons dan die Woord van God open, sodat ons ons toestand reg kan besef.

Die profeet Jesaja sien van ver af die verlossing van sy volk uit die Babiloniese ballingskap. Jubelend spreek hy in die voorafgaande hoofstukke daarvan. Maar in ons tekshoofstuk en die daaropvolgende verander die profeet skielik van toon. Hy kla en is diep bedroefd.

Waarvandaan kom hierdie skielike verandering?

Dit moet hieruit verklaar word dat Jesaja nie slegs die skitterende verlossing vooruitsien nie maar ook die diep sondige toestand waarin sy volk dan nog sal verkeer: “Ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons ongeregtighede soos ‘n besoedelde kleed; …  daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie” (vgl. hfst. 64:5-7).

Die verlossing sal wel berei word deur die magsdaad van die God van Israel; maar sa! die volk ook gereed wees om die verlossing aan te gryp?

Onder hierdie omstandighede is dit dat die profeet dit uitklaag: “HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel”.

In hierdie woorde vind ons ‘n raaisel en sy oplossing. Ons spreek eers oor die raaisel; daarna oor die oplossing.

1 DIE RAAISEL

Die raaisel is vervat in hierdie twee vrae, wat elke keer met “waarom” begin: “Waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart?

So is dit ook by ons. As land en volk deur onheil getref word, dan vermenigvuldig ons waaroms; dan kom die vrae en die raaisels. Maar hoe dikwels bly ons maar net by die sigbare staan of dring nie verder as die oppervlak nie. “Waar kom hierdie droogte tog vandaan ? Waarvandaan die ontydige koue ? Wat kan die oorsaak van hierdie of daardie onheil wees?”

So vra ons en bly dan gewoonIik vassteek by die sg. natuurlike oorsake. Maar by die profeet is dit anders.

Hy vra nie: “Waarom is Jerusalem tog verwoes?” nie; hy speur nie die honderd-en-een natuurlike oorsake na nie. Nee, hy dring dadelik deur tot die wortel; hy daal dadelik in die diepte af; hy vra: “HERE, waarom doen ons die sondes sodat ten gevolge daarvan hierdie verwoesting oor ons moes kom ?”

Die sonde van die volk is vir hom die oorsaak van die kwaad. Daarom is Jerusalem ‘n puinhoop en is die stede van Juda ‘n verlatenheid.

Maar watter sonde bedoel hy nou eintlik?

1) Eers praat hy van dadelike sonde: “Waarom laat U ons u ons wegdwaal van u weë?

Die hele sonderegister van Israel kom hom voor die gees as hy in ons hoofstuk sê: “HulIe was wederstrewig” (vs. 10); sondes wat bedryf is van die Egiptiese verlossing af tot by die Babiloniese wegvoering. Wat ‘n swart lys!

So moet ons ook eers aan ons dadelike sondes dink as ons die oorsaak van God se oordele wil opspoor.

Dink ‘n bietjie ‘n oomblik na oor die sonde van ons Afrikaanse huisgesinne, van ons Afrikaanse skole, van ons Afrikaanse maatskappy, van ons Afrikaanse volksrade, van ons Afrikaanse volk, ‘n volk wat deur God so wonderbaar gelei en geseën is.

2) Tweedens vermeld die profeet die sondige toestand: “Waarom verhard U ons hart?” Dit was vir hom die swaarste.

O, verstokking of verharding is iets vreesliks. Die mens kan uit homself niks daarteen doen nie. Dit gaan daarmee soos met die droogte. ‘n Mens is radeloos en weet nie hoe om dit te bestry nie. Daar bly meestal niks anders oor as om saam met Jesaja wanhopig te sug en dit uit te kerm nie: Hoe is dit tog moontlik dat die mens hom te midde van die verskriklike oordele van God nog teen die Allerhoogste kan verset? Is daar dan glad nie meer ontsag vir ‘n straf, ‘n besoeking, ‘n oordeel nie?

Hoe het God ons al gesIaan met oorlog, droogte, honger, pes – te veel dinge om op te noem, en tag is daar in die openbare lewe geen verandering te bespeur nie. Hoe ontsettend slaan God Europa nou. En tog is ook daar niks anders as verharding van die strydende volke as geheel geneem nie.

Maar let nou ook op die wyse waarop die profeet hierdie versugting voor God bring.

Hy reken homself by daardie volk; hy voel hom één met die volk en sê: Waarom laat U ons wegdwaal van U weë? Waarom verhard U ons hart?

Is dit nie ‘n mooi optrede nie? Hierdie selfde profeet het bitter onder sy volk gely. By sy roeping het die Here al gesê: Jy moet gaan; maar dit is ‘n verharde volk, hy sal nie luister nie (Jes. 6:9, 10).

Hy sal sy ore toestop en sy hart vir jou toesluit. Maar gaan in elk geval. Nou dat hy skynbaar baie jare tevergeefs gearbei het, nou sê hy nie: “Here, verdelg hierdie volk; dit is soos U gesê het: Hy wil nie luister nie!l”

Inteendeel, hy soek lotsgemeenskap en spreek van ons. So maak die man wat sy volk werklik liefhet. As ons vir ons volk bid, dan moet ons onsself nie uitsluit nie. Inteendeel, by onsself, by ons huis, by ons familie moet begin word (vgl. die voorbeeld van Nehemia, Neh. 1:6). Die land Suid-Afrika word gestraf omdat die Afrikaanse volk teen sy God weerspannig is, en elke leser is ‘n lid van daardie volk. God het hierdie land vir ons en ons nageslag gegee. Die lot van die Afrikaanse volk is onlosmaaklik aan die Afrikaanse bodem verbonde. As ons land ons dus nie meer wil dra nie, dan is dit ‘n bewys dat God met ons almal, met ons as volk twis.

U moet dus nie somaar dadelik die skuld op die buitelandse “arbeider” of “kapitalis” werp nie. U moet met u Afrikaanse volk en met uself begin. As u die Here dien, sal Hy vir u brood sorg. Dan kan geen mens u kwaad aandoen nie.

Daar is dus kwaad in die wêreld. Hierdie kwaad, wat ons gedurig laat vra en kerm, is ‘n gevolg van die sonde. Vandaar dan ook die raaisel: Waarom het God, die Almagtige, die sonde toegelaat? Ja, nog erger, hoekom laat Hy ons van sy weë afdwaal, en waarom verstok

Hy ons hart?

Want kyk, die Skrif laat ons dit hier en op ander plekke duidelik verstaan dat die sonde nie buite God se wil en raad om in die wêreld gekom het nie. God is ver verwyderd van goddeloosheid en die Almagtige van onreg. God is drie maal heilig, sê ons profeet (Jes. 6), wat so onder die indruk van God se heiligheid gekom het, dat hy telkens met bewing spreek van “die Heilige van Israel”.

Maar aan die ander kant erken Jesaja hier in gelyke mate die alles oortreffende mag van die Raad van God. Op ‘n ander plek (45:7) sê hy van God: “Ek is die HERE … wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep“.

2 DIE OPLOSSING

In die eerste gedeelte van ons beskouing het ons op n raaisel, ‘n vraagstuk, gestuit. Dit naamlik: God is smetteloos, verblindendheilig, sodat Hy nie die outeur van die sonde kan wees nie. En tog staan die sonde so onder sy ma dat God kan sê: “Ek skep die kwaad“.

Hoe moet ons hierdie vraagstuk nou oplos?

Die verklaring van hierdie probleem is vir die menslike verstand ‘n onmoontlikheid. Die grootste denkers het hulle rnoeg gedink oor die oorsprong van die kwaad en het niks verder gekom nie.

Dit moet vir ons, gelowiges, genoeg wees dat Gods Woord die kwaad in ons sonde soek en verder verklaar dat die toorn van God daarteen ontbrand.

Want as die volk, by monde van die profeet, in ons teks so bid, dan is dit nie om hulle eie skuld te ontken nie, maar te erken dat God hulle vanwee hulle oortredinge in ‘n verkeerde sin oorgegee het vgl. Jes. 6:9,10; Ps. 119:10; Rom. 1:28). Verder soek die gelowige die vrede vir sy hart, soos die profeet, eerstens in die gebed.

Die woorde wat hierbo afgedruk is, kom voor in ‘n gebed, naamlik die voorbidding van Jesaja, wat met Jes. 63: 7 begin en met hfst. 64:12 eindig. Hierdie gebed word genoem die “Onse Vader” van die Ou Testament, omdat God daarin twee maal as sodanig aangespreek word. Is dit nie, leser, asof ons in ons teks die bede beluister nie: “Lei ons nie in versoeking nie maar verlos ons van die Bose“?

As ons staan teenoor die swyende raaiseI van die sonde en die ontsaglike gevolge daarvan, dan is daar maar net een middel om die vraende hart stil te laat word, naamlik die gebed.

Ons volk ken dan ook hierdie middel. As rampe ons tref, gaan ons nie na die wysgere om ons te help nie. Dáár is nie hulp nie. Nee, ons vra ‘n biddag.

Dit is reg, maar dan moet die biddag nie verkeerd verstaan word nie, dit is nie ‘n kragmiddel om God te dwing nie. Ons het eenkeer van ‘n kansel af hoor sê dat die mens deur die gebed beskikking oor die mag van God verkry. Dis nie reg nie. Ook wanneer ons bid, bIy ons skepsels, nietig en afhanklik. God hoor ons dan ook nie as gevolg van ons gebed, d.w.s. as gevolg van die waardigheid van ons gebed nie, maar die verhoring kom deur die gebed as middel. Ook ons gebede moet agter God aangaan!

As ons biddae dan maar nie uitgeroep word om God soos met ‘n kragsvertoon te probeer dwing nie. Dit het die Baälpriesters op KarmeI gedoen, maar by ons pas dit nie. As ons biddae maar nie verorden word as daar nie behoefte aan waaragtige verootmoediging bestaan nie. As ons maar net nie op ons biddae gaan dink: Nou is ons in die nood, en nou is die Here verplig om ons te help nie. Dit begin baie daarna lyk! Hierdie maklikheid en die veelvuldigheid waarop daar biddae uitgeskryf word!

Jesaja, ja, hy kan bid. Kyk maar ‘n bietjie na die gees van diepe ootmoed en verslaenheid waarmee hy tot God spreek.

Maar u moet ook ag gee op die inhoud van sy bede: “Keer terug, Here!” Dis buitengewoon, nie waar nie? Gewoonlik hoor ons op biddae net die uitroep: “Keer terug, O mens!” – terug, naamlik, tot God.

Die profeet sê egter dat die Here moet terugkeer.

Watter diepte van gebedswysheid!

Weliswaar verlaat God sy volk nooit, maar dit neem nie weg dat Hy so baie van sy seënende werkinge terughou nie. God het Israel as sy eiendom liefgehad. Maar deur watter donkerhede moes daardie volk vanweë sy oortredinge gaan! Ja, die Here handhaaf sy verbond, maar Hy laat niks van sy heiligheid vaar nie. Dit sou die volk ervaar as Hy hulle verlaat. Hierdie waarheid het Jesaja se binneste beklem. Daarom het hy so gebid. En hierdie waarheid moet ook ons op die biddag aangryp.

Wat moet daar van ons as kerk word as die Here vanweë ons sondes sy seëninge terughou ? Laat ons daarom pleit op die trou van die Verbond van God en kragtig uitroep: “Keer terug, Here!” Eers daarna kan daar sprake wees van terugkeer van die mens. Alle terugkeer buite die terugkeer van God óm is mensewerk en daarom niks werd nie.

Ten slotte moet nog gewys word op die twee pleitgronde wat deur die voorbidder aangewys word:

1) Die eerste is: Keer terug ter wille van u knegte. Ter wille van Abraham, Moses, Hiskia en so baie ander dienaars van God moes die Here die volk tog nie laat vaar nie. Dit is dus ‘n pleit op die genadeverbond. Want hierdie manne was in hulleself niks, maar hulle het God gedien uit krag van die verbond wat Hy met hulle opgerig het.

So bid ons ook. Dink aan die wonderbare weë van God met ons vaders, wat hierheen gekom het uit Holland, Frankryk en Duitsland. Hoe getrou is hulle deur God in hierdie onherbergsame land versorg, en hoe baie van hulle het God in ootmoedige vrees gedien. Moet dit alles dan tevergeefs wees? Moet die stroom van hulle godsvrug eindelik in ‘n goddelose nageslag versand?

2) Die tweede pleitgrond is: Ter wille van die stamme van u erfdeel. Hier gaan dit dus om die uitverkiesing. God het Israel nie op grond van sy waardigheid as volk vir Hom as eiendomsvolk afgesonder nie. Hy het dit uit vrymagtige welbehae gedoen.

Toe die volk in sy diensbaarheid by die steengroewe in Egipte gesit het, het God hulle uit vrye liefde geken en hulle gekerm gehoor. Op daardie welbehae beroep die profeet hom nou weer: “U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand” (Jes. 64:8). Maak ons dus weer kruike van u eer – dit is wat die profeet vra. U kan dit tog doen as Almagtige God, en U wil dit doen as Genadige Vader.

Mag God ook aan ons hierdie gesindheid gee en hierdie smeekbede op die lippe lê.

AMEN.

Bron: Versamelde Werke, 1977, deel 4: bl. 242-247. Opskrif en beklemtonings bygevoeg.

Meer Totius artikels, ook oor die ‘Voortrekkervolk’, hier beskikbaar.

Verdere artikels oor Geloftedag hier

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑