Gelofte verootmoedigingspreek 2022: As die HERE die huis nie bou nie, is alles tevergeefs (Ps. 127 & 128)

GELOFTE VEROOTMOEDIGINGSPREEK 2022

As die HERE die huis nie bou nie, is alles tevergeefs (Ps. 127 & 128)

’N BEDEVAARTSLIED. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet—net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap! Kyk, seuns is ’n erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! Hulle sal nie beskaamd staan as hulle met die vyande in die poort spreek nie” (Ps 127)

’N BEDEVAARTSLIED. Welgeluksalig is elkeen wat die Here vrees, wat in sy weë wandel! Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed! Jou vrou is soos ’n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die Here vrees. Mag die Here jou seën uit Sion, dat jy die voorspoed van Jerusalem mag aanskou al die dae van jou lewe! En dat jy jou kindskinders mag aanskou! Vrede oor Israel” (Ps 128)

Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ’n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot. En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer;” (Matt. 7:21–28)

      

(Die foto’s wys simbolies dat sonder die HERE (die Evangelie, Gees en Woord, ens.) is elke huwelik, gesin, gemeente, volk, ens. se lewens tevergeefs…, soos Ps. 127 en Joh. 15:5 leer)

Opname: Ventersburg (Vrystaat) Gelofte vieringe, 16 Des. 2022



Aflaai: Geloftepreek 2022: Ps. 127 en 128

Let wel: die audio-opname is die volledige preek, hier onder is slegs aantekeninge:

Geliefde volksgenote in Christus,

Wat sou u doen in die volgende geval:

– vir jare, dekades spaar u om eie huis te bou

– jaar lank bou u u spoghuis, en as u klaar is na jare die harde werk

– dan hoor u: die huis se fondamente is nie reg gebou nie, of dit is op dryfsand gebou,

dit is nie op rots of stewige grond gebou nie …

– u kan nie daarin woon en lewe nou en in die toekoms nie…

– alles gaan enige oomblik inmekaar val

Ja, dit is die prentjie wat ons kry in Ps.127:1,

DIT is die prentjie wat Jesus skets aan die einde van sy bergrede, Matt. 7:21-29

As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.

En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ’n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.” (Mt 7:26–27)

Die sleutelwoord in Psalm 127, is die woord ‘tevergeefs’

In die eerste 3 verse word hierdie woord 3 maal gebruik.

Hierdie Hebreeuse woord, shaw, beteken eenvoudig: niksheid, nietigheid, nutteloosheid, daar is geen uitkoms nie, geen toekoms nie.

Dit is dieselfde woord wat gebruik word in die 2de gebod, naamlik:

Jy mag vir jou geen gesnede beeld maak nie, d.w.s. nie ‘n beeld wat nietig, waardeloos is nie,

gode wat nie kan red nie, regeer nie, lewe gee nie.

En nou kom Salomo en wys daarop dat in die hele lewe,

maar in die besonder op drie terreine van die lewe,

alles tevergeefs is as die HERE nie sentraal staan nie.

Eerstens, moet Hy ons huise bou, ons gesinshuise maar hier veral ons kerkhuise.

Dink aan Salomo se tempel bou

Tweedens, wys hy daarop dat as die HERE nie die stad bewaar nie, tevergeefs dat ons dit probeer bewaar.

Derdens, wys hy op ons arbeid.

Ons kan ons doodwerk van aand tot more, as die Here se seën nie daaroor is nie, is dit tevergeefs, dan kom dit tot niks.

Dus, gesin/huis, die tempel/gemeente maar ook gemeenskap en dus ons volkslewe ,

ons arbeid kan sonder die seën van die Here bestaan nie.

In vers 2 word die duidelike kontras gestel tussen hulle wat hul afsloof agter besittings/wêreld en die gelowige wat in sy slaap alles kry wat nodig is.

Want die HERE gee dit in sy slaap, aan sy bemindes,

let wel, sy bemindes, en sy bemindes is almal wat in Jesus glo,  Gal. 3:16, 28

dus nie bloot elke mens, of elke volksgenoot nie,

maar ELKE volksgenoot wat in Jesus Christus is.

Vandag is daar baie, met goeie motiewe maar onkundig,

maar ook kwaadwilliges, wat in die naam van die volk of Afrikaner wees,

enige dwaling, kettery, valse godsdienste, oosterse mediasies ons volk mee wil voer,

of dit aan die eenkant die linkse humanistiese liberalisme is, of

die sogenaamde regse Israelvisie of enige nazi sienings aan die anderkant.

Nee, dit is duidelik, vanaf ons volksplanting, Jan v Riebeeck gebed en gelofte in 1652 en 54,

Die invloed van Franse Hugenote, Nederlandse Geuse, selfs Britse setlaars, Duitse sending, ens. ons is protestants, gereformeerde protestantse geloof en BEHOORT dit te wees,

ons gereformeerde voorvaders wat die Gelofte gemaak het, Bloedrivier beleef het,

was gewortel in die Heilige Skrif soos saamgevat in die gereformeerde belydenisskrifte.

EN sonder die Skrif, sonder geloof in Christus is alles tevergeefs,

geen volk sonder Christus het ‘n toekoms nie.

Ons moet bid vir elke volksgenoot afsonderlik, in sy geheel,

om PSALM 130 sy eie te maak:

– ‘n sondebesef: v. 3

– soeke na verlossing en vergifnis in Jesus alleen, v. 4a

– sodat my hele lewe aan Hom in dankbaarheid toegewy kan word, v. 4b

Dit is dan die eerste en laaste ding om te besef,

ook in ons opvoeding van ons kinders, die kinders van ons Afrikaanse protestantse geloftevolk

Die HERE moet ons huise bou, menende ons hele lewe, al ons planne, al ons bedrywighede

Maar hoe dit Hy dit ?

Vers 3 tot 5 gee die antwoord in die konteks van hierdie Psalm:

Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. – Ps 127:3

U sien, die konneksie tussen v.1,2 waar dit spesifiek gaan oor die HERE wat in alles moet wees, en v.3-5 wat oor kinders gaan,

Sien ons in die woord van ben-im, seuns is ‘n erfdeel vd Here.

Nou, as u dadelik wonder oor hoekom nie ‘dogters’ nie, en te gou deur die feminisme van ons tyd beinvloed word, hoor wat is die konneksie

Benim as woord is nou verwant aan die woord ‘bou’, in vers 1.

Die hebr woord vir ‘bou’ in v.1 is ‘bana’ 

Dus bana – banim

Die HERE ‘bou’ die huis, die stad (volk), die toekoms, arbeid deur ‘n nageslag daar te stel.

Die woord banim word meestal in die Skrif gebruik vir seuns, maar word ook gebruik vir kinders of kleinkinders. 

In Ps.128 word dit in vers 3 vertaal as kinders, v.6 as kindskinders.

Hoe nou? Die konteks moet bepaal hoe dit elke keer vertaal word as seuns of kinders!

In Ps.127 gaan dit juis daaroor dat deur die seuns, die eergeborene die familienaam en toekoms voort sal gaan,

Verder volgens v.4,5 is die seuns juis die toekomstige leiers, die soldate wat ekonomies en militer ‘n veilige beskutting moet gee vir die gesin, vir die huis, vir die stad!

So terloops, v.4b sê dat die ‘vrug van die moederskoot is ‘n beloning’, d.w.s. ook dogters is deel van die vrug, en daarom ‘n beloning van die Here, sien die wonderlike Spr. 31 vrou se roeping.

En nou, wat sal ons sê vandag vir mekaar, op Geloftedag 2022?

Hoe wil die Here sy kerkhuis vandag ook bou?

Hoe wil die Here ons volkshuis bou?

Nie net deur goeie kerk wees, sending en evangelisasie nie, ja, die Groot Opdrag

moet uitgaan aan alle volke, ook ons eie volk wat al meer verheidens, sien Matt. 28:18-20

… maar ook juis deur die vrug van die moederskoot!

 

Hier is een van die grootste krisisse van ons volk:

Ons wil hê die Here moet vir ons ‘n volk ‘n toekoms gee in ons land,

maar ons verwerp een van die maniere waardeur Hy bou,

die kry van ‘n verbondsnageslag, ‘n gelofte nageslag.

In my kerkverband was daar in die eerste helfte tot middel van die vorige eeu,

gemiddeld 2/3 kinders vir elke belydendede lidmaat,

vandag het dit omgedraai….

Ons sit vandag met ou mens kerke, ja hul moet ook versorg word, maar waar is die nageslag?

Onthou, deel van die Gelofte wat ons netnou weer gaan aanhoor en aan verbind, is dat:

“… ons ‘n Huis tot U eer sal stig waar dit U behaag; en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.”

Maar, sal daar nog kinders wees om ons huise, gesinshuise, gemeentehuise,

ons volkshuis te bou deur die geloof in Christus,

as mens sien hoe ons volk al minder en minder kinders kry?

SIEN DIE VIDEO WAT HELPENDE HAND UITBRING OOR MOEDERSKAP VANDAG

Ons gesinne, ons volk moet juis bevry word van die leuen van feminisme, van slawe wees van hulself en die humanistiese beroepswêreld, sodat hul weer die roeping van moederskap kan volg.

Want, as die Here die huis nie bou nie … tevergeefs bou ons !

En natuurlik, ook om kinders te kry, is nie te doen met ons vaardigheid nie, dit is ‘n waarlik ‘n geskenk van God

Ons moet dit nie probeer manipuleer deur mediese en onnatuurlik ingrype nie

As God ons elke jaar wil ‘beloon’ met miljoene rande, gaan ons nee sê

As die Here ons elke jaar wil seën met vrugbaarheid, kinders, toekoms, sal ons dit waag om te keer?

Die doel van die nageslag is nie ons agenda ook nie, maar God se eer:

Mal. 2:15, Hy het ‘n nageslag gesoek, om Hom te eer en te dien.

HOE smag ons volk, en tereg, na politiese en ekonomiese vryheid…

maar smag ons bo alles, na geestelike vryheid van ons gesinne en gemeentes,

as fondament waaruit politiese en ekonomiese vryheid volg?

“Die Kerk is ook moeder van die gelowiges daarin, dat in haar skoot kindertjies gebore word vir die ewige lewe. As die geboortesyfer daal, dan is dit die begin van die einde. Daardeur het die koninkryke verdwyn.” – Prof. WJ Snyman

Daarom, geliefdes LAAT die HERE u huis bou

Vir jongmense, besin opnuut oor hierdie roeping.

DAN IS DAAR ‘N TOEKOMS VIR ONS KERK en VOLK!

Die man wat sy koker GEVUL het (dus nie net 1 of 2 of 3 pyle nie, maar soveel as wat die Here gee

Is reg vir die dag van stryd:

– reg vir oorlog

– sy kinders skep sy toekoms

– in die poorte/stad opstaan tot die stryd.

Maar, nou geliefdes

Dit bring ons by die probleem, die opkoms van die feminisme, anti-tuisteskeppers kultuur

Anti-gesin  Anti-kinders

Is ONS MANS se skuld ook?  

Dit is nog altyd Adam… dink aan die tuin…

Ja, die sondeval het begin by Adam

En ook die verval van gesin, kerk en staat, VAN ONS VOLK, is primer aan ons te danke

U sien, dit is juis omdat ons mans nie deur die HERE en sy Woord bou nie, daarom is ons so vervalle.

Dit is juis as ons jongseuns nie as Christensoldate opgevoed word nie 

Dat hul eendag die stryd aan hul vrouens oorlaat

Hulle kinders vervreem

En toelaat dat sy gesin deur die wêreld oorval word.

EN DAAROM IS MY BOODSKAP VIR ONS MANS,

ONS MANNE WAT DIE GELOFTE OOK AFLê, JONGMANS WAT EENDAG GAAN TROU EN HUWELIKSGELOFTES,  DOOPBELOFTES, AMPSBELOFTES GAAN AFLê

Wat vra die HERE dan vir die opvoeding van ons kinders, veral ons seuns ?

Dit sien ons in Psalm 128, vers 1:

Welgeluksalig is elkeen wat die HERE vrees, wat in sy weë wandel! – Ps 128:1

Dit is die krisis van ons tye geliefdes,

Ook vir ons gesinne en gemeentes in hierdie land wat die basiese bousteen is van ons volk, ons Geloftevolk se lewe en toekoms.

.Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei. Anders gaan ons gewis ‘n donker toekoms tegemoet.” – Totius

Dit is die krisis van ons tye geliefdes,

Ook vir ons gesinne en gemeentes in hierdie land

Alleen kan ons die HERE vrees: ontsag, respek, eerbied

En hoe kom dit tot uiting: in sy weë wandel.

‘n Godsvresende man wandel in God se wet, sy woord, sien Psalm 1

In sy weë wandel beteken, v/a 91 van die HK: deur die geloof,  volgens sy Wet, tot sy eer, en nie volgens die tydsgees of wêreld nie.

En dan gaan die Psalmskrywer verder en gee vier aanduidings wat ‘n getuienis is van ‘n godvresende gesin, wat dus ook eise is vir hom om na te volg, WAT ONS MANS SE VERANTWOORDELIKHEID IS OM TE HELP SKEP, SAAM MET DIE VERBONDSVROU WAT DIE HERE VIR JOU GEE:

  1. Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed! V.2

Ja, die man wat God vrees, WERK HARD, IS NIE LUI NIE, IS NIE BESIG OM SY LEWE OM TE MORS MET NIETIGHEDE NIE, WAT BEPLAN VIR DIE TOEKOMS

  1. Jou vrou is soos ’n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die HERE vrees.

En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie. – Ps 107:38

Nog ‘n seëning is dat sy vrou vrugbaar is, d.w.s. die koker vul.  Die beeld van ‘n winkerdstok wys op vrugbaarheid.

En nou belangrik, omdat die godsvresende man weet sy vrou moet sekuriteit hê, ‘n omgewing en lewenswyse, wat haar help om vrou wees, om die kinders en die huis te versorg.

EN JONGMANNE, dit is waarvoor jy geroep is, om te beplan.

Hier word gepraat van kinders as olyfboompies om die tafel. Hulle is besig om gevoed te word na liggaam en gees.

Doen u dit vandag as vader?  HUISGODSDIENS?

As die huisaltaar herstel word, word beide kerk en staat herstel, een gesin op ‘n slag!

As u nie deur o.a. huisgodsdiens besig is om u kinders die vrese van die Here te leer nie, dan is u nie besig om in sy weë te wandel nie.

HOE KAN ONS DAN AS GELOFTEVOLK IN GEHEEL SY SeëN VERWAG,

AS ONS NIE IN ONS HUISE OP DIE HERE BOU NIE?

Dit is nie ‘n taak wat u aan die moeder, grootouers, skool of katkisasie kan oorlaat of oorgee nie.

Inteendeel, dit is alles net hulp en ondersteuningsmiddels.

Kom ouers, kom pa’s sit bietjie die TV af, MOENIE DAT die koerant EN DIE SPORT SENTRAAL STAAN NIE, en versamel saam met u wingerdstok en u olyfboompies om die tafel waarop die Woord en Psalmboek lê.

En as uself a.g.v. mediese redes, ouderdom of wat ookal nie kinders kan kry nie,

Het u nogsteeds ‘n taak om dit aan familie en vriende oor te dra.

Om vir wees en weduwee te help in u gesinne, kinders aan te neem, ander te help.

  1. Mag die HERE jou seën uit Sion, dat jy die voorspoed van Jerusalem mag aanskou al die dae van jou lewe! En dat jy jou kindskinders mag aanskou! Vrede oor Israel! – Ps 128:2-6

vers 5 en 6 wat eintlik seënbedes is

Die belangrikheid dat die godsvresende man ‘n kerkmens is.

Die seën uit Sion, daar waar God teenwoordig is, daar is Jerusalem, plek van aanbidding.

Hier kom ook die antwoord op die vraag: dominee, hoekom wil julle graag baie kinders hê ?

Ter wille van sy Koninkryk  … Ter wille van sy Kerk … .. die toekoms

VANDAG is daar sogenaamd baie Afrikaners wat meen hul het die kerk van Christus nie nodig nie,

dit was eers ‘no creed but Christ’, nou is dit sommer ook ‘geen kerk nie, net Christus’

Totaal valse teenstelling, as ek Christus het … dan is ek deel van die heilige algemene kerk,

en OOK ‘n plaaslike kerk, onder opsig en tug van ouderlinge…

wat sê die laaste deel van die Gelofte … “… ons ‘n Huis tot U eer sal stig waar dit U behaag”

Dus, die ware Afrikaner, die ware Geloftevolk, is en behoort ‘n KERKvolk te wees!

Sien NGB art. 27-35 oor ware kerk wees en soek… prediking, toesig, sakramente

SO, ‘n ware gelowige Afrikaner, ‘n ware Geloftevolksgenoot,

– dien en vrees die Here, ken Jesus Christus in al sy weë (persoonlik)

– is ‘n gesinsman

– is ‘n kerkman

– werk hard om te sorg na gees en liggaam vir sy gesin.

ANDERS IS DIE AFRIKANER EN VOLK SE TOEKOMS TEVERGEEFS

Slot oproepe en toepassings

NOU HET ONS DIE HERE SE WIL EN WOORD GEHOOR, MAAR WAT NOU?

Ja, mag die Here ons genadig wees dat ons en ons kinders en kleinkinders oor Sion en Jerusalem

mag ons bevry word van alle valse goddienste, tydgeeste soos die liberalisme of die feminisme om weer ons gesinne herstel

Mag ons godsvresende mans en vrou van ons volk wees

Alles is tevergeefs as die HERE die huis, ons stad, families, kerke, werke, volkslewe, ens nie BOU nie. Alleen sy seën, volgens sy Woord, skep en gee vir ons ‘n toekoms !

In Joh.15:5 word dit ook vir ons bevestig, as Jesus vir ons sê, vir ELKE GELOWIGE VOLKSGENOOT VANDAG, vir ons almal as ouers, ons as mans,

Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie Joh 15:5

Sonder Jesus in ons gesinne, ons lewens IS ALLES TEVERGEEFS! 

Ek wil eindig met praktiese toepassings, deur vir ons almal as volksgenote, maar dan veral ons kinders, jongmense 5 vrae te gee om te ondersoek en te verootmoedig.

EK GLO DIT IS JUIS OMDAT ONS IN DIE VERLEDE EN HEDE AS GELOFTE VOLK

NIE GROOT ERNS HIERMEE GEMAAK HET NIE, DAT DIE HERE ONS VRYHEID WEGGEVAT HET,

WANT DIE DOEL VAN VRYHEID IS NIE SELFVEHEFFING NIE,

MAAR OM GOD EN ONS NAASTE TE DIEN.

SO DIE HERONTDEKKING VAN HIERDIE 5 VRAE EN HUL ANTWOORDE IS OOK DIE SLEUTEL NA WARE VRYHEID VIR ONS TOEKOMS, DEUR SY GENADE ALLEEN NATUURLIK

ONTHOU, Gelofdedag se fokus is verootmoediging en danksegging, dat die Here ons in die verlede bewaar het, om ook as volk die Here in alles te dien tot sy eer.

En ons moet heeltyd hierdie vyf vrae vir ons lewens, gesinne, gemeentes, volkslewe vra, in die lig van Ps. 127 se woorde: IS EK  BESIG OM MY LEWE TE BOU OP DIE HERE EN SY WOORD?

VRAAG 1: Waar staan ek met Christus?

EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? (Matt. 16:13–15)

As Jesus nie jou lewe bou nie, is alles tevergeefs

Soek en ondersoek Ps. 130 vir jou lewe…

VRAAG 2: As die Here my roep tot die huwelik, met wie gaan ek trou, wat is die doel van die huwelik: my eie begeertes en behoeftes, of die eer van God?

terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God. VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,” (Ef. 5:20–26)

As Jesus nie jul huwelik bou nie, is alles tevergeefs.

VRAAG 3: As die Here ons huwelik seën met kinders, voed ek hul op in die vrese van die HERE?

Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ’n teken bind op jou hand, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.” (Dt 6:4–9)

As Jesus nie ons gesinne en opvoeding bou nie, is alles tevergeefs … 

Die doopbelofte: nie net huis nie, maar skoolopvoeding moet oor God en sy Woord gaan, tuisskole en privaat ouerskole … en as u sê dit is te duur of kan nie … dan terug na vraag 1… dan moet u opnuut eers besef wat jou grootste rykdom is en behoort te wees?

VRAAG 4: Ek en my huisgesin moet die Here dien in sy gemeente, waar aanbid ons, watter prediking hoor ek, word ons getug en vermaan in liefde?

Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Heb 10:23–25)

As Jesus nie my kerkhuis bou nie, is alles tevergeefs, x3 kenmerke van die ware kerkwees nastreef en opsoek, sien NGB art. 29

VRAAG 5: Sien ek geld en besittings as middele om God en naaste dien, of afgode, toets aan God se gebod, hard werk, maar altyd Matt. 6:33

Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” (1 Co 10:31) “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” (Kol 3:17)

Ja, al ons arbeid, my beroep, roeping, moet alles in Christus wees, anders is dit tevergeefs.

Jong geloftedogters: soek ‘n man wat hierdie 5 vrae mee besig is en najaag

Jong gelofteseuns: soek ‘n vrou wat hierdie 5 vrae mee besig is en najaag.

ANDERS gaan jul tevergeefs trou en verkeerd bou

HOE eindig die Gelofte self?

Dit eindig met die doel geliefdes, waarvoor ons geskape word, waarvoor ons gered word,

waarvoor ek bestaan, my huwelik, gesin, gemeente, gemeenskap, volkslewe.

Waarom ons aan die suidpunt van Afrika geplaas is, waarom ons volk is en behoort e wees:

EN as ons afsonderlik en SAAM as volk hierdie doel mis, dan is … alles tevergeefs:

“Want die eer van U Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan U te gee.”

Dit geliefdes, is waartoe die hele Woord, ook Ps. 127 en 128 en Matt. 5-7 ons wil oproep in Christus deur die krag van die Heilige Gees, waarsonder alles tevergeefs is:

Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom. 11:36)

AMEN.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: