Kuisheid voor die Huwelik: ons roeping en oproep vandag

Kuisheid voor die Huwelik: ons roeping en oproep vandag

Inleiding

Hierdie werk van prof. Paul de Bruyn is nog net so aktueel as die dag wat dit gepubliseer is (1974), en dalk vir ons tye nog meer, soos ons geslag ook al meer die tye van Rom. 1:26-32 en 2 Tim. 3 in ons tye beleef, met die verval van die sigbare kerk wat allerlei losbandighede nie net al meer akkommodeer en verdra nie, maar selfs al meer begin goedkeur en bevorder onder ‘n valse vryheid weg van die evangelie en wet van Christus, sien o.a. Matt. 5:19; Rom. 1:32; 2 Tim. 4:3,4.

Ek plaas die slothoofstuk en oproep van die boekie hier onder, maar lees gerus die boekie in sy geheel (beklemtonings bygevoeg).

Soos altyd, lees dit alles in die lig van Hand. 17:11, aangesien daar altyd sake kan wees waarmee mens kan verskil, veral sekere praktiese toepassings van kuisheid vir nie net voor die huwelik nie, maar in alle tye, getroud of ongetroud (sien HK Sondag 41 se volle omvang).

Vanselfsprekend is en sal daar moontlik vraagstukke wees wat in die boekie se tyd geleef het wat nie meer vandag se vraagstukke is nie, of in ander vorme verskyn, en natuurlik andersom ook die geval, dit gaan egter wel oor die onderliggende Skrifbeginsels wat wel geld vir alle tye, mense en plekke, vir jonk en oud, vir getroudes en ongetroudes, ens. (Ps. 119: 9, 18, 105; Pred. 12:13,14; Matt. 4:4; Joh. 15:5; 17:17; 2 Tim. 3:14-4:8)

Die boek is elektronies hier beskikbaar, nog enkeles in gedrukte kopie kan ook by Pro Regno Boeke aangekoop word (R50-00).

ONS ROEPING VANDAG

” Ek het aan u gesê wat die kwale van die moderne mens is — die reddeloosheid en die eensaamheid van die moderne mens. Ek het aan u gesê wat die afdwalinge van die moderne mens is. En nou die geneesmiddel, die enigste: Terug na God!

Met hierdie woorde sluit die Franse skrywer, Raoul Stéphan, die vierde hoofstuk van sy beroemde boek af waarin hy aandui dat die Westerse wêreld in ons tyd op ‘n dwaalweg gekom het. Met hierdie woorde dui hy egter ook die enigste weg aan wat gevolg moet word om die hedendaagse seksuele verwildering te oorwin:

Terug na God!
Terug na die Woord en Wet van God!
Terug na die evangelie van Jesus Christus!

Nou mag daar miskien sommige wees wat dit sterk betwyfel of ons deur die uitdra van die evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus die voortgaande seksuele verwildering sal kan teëgaan en stuit ten gunste van ‘n kuise en Christelike lewe.

In antwoord op die twyfelvraag wys C. G. Scorer tereg daarop dat ons nie moet vergeet nie dat die apostels en lede van die eerste Christelike kerk die verlossingsevangelie uitgedra het in ‘n wêreld waarin daar so ‘n ontsettende sedelike verval en seksuele verwildering was dat dit nie net vergelyk kan word met die sedeloosheid en seksuele losbandigheid waarmee ons vandag te doen het nie, maar dit in sekere opsigte selfs oortref.

Die situasie van destyds word deur dr. Huntemann soos volg geskets:

Die seksuele lewe in Rome, die hoofstad van die Romeinse imperium, was — oor die geheel beskou — ten tye van die geboorte van Christus losbandiger as in ons tyd. Huweliksbande is baie gou verbreek. Die voorhuwelikse geslagsverkeer met verskeie persone was die reël. Vrugafdrywing is nouliks veroordeel en die gebruik van voorbehoedmiddels was ‘n saak waaroor daar hoegenaamd geen verskil was nie — dit is as vanselfsprekend beskou. Omgang met prostitute en bywywe is as heeltemal normaal beskou. Die geboortesyfer het skerp gedaal. Augustus was genoodsaak om drastiese maatreëls te tref om die verval van die Romeinse bevolking teen te gaan. Soos uit ‘n sekere dekreet afgelei kan word, is mans onder sestig en vrouens onder vyftig verplig om te trou. Manlike en vroulike vrygeselle is verbied om die openbare spele by te woon. Die ruïnes van Pompeï wat oopgegrawe is, toon tekeninge op mure wat getuig van grenslose seksuele banaliteite.

So het die wêreld gelyk waarin die evangelie van Christus die eerste keer ingedra is. Wat deur die apostels en eerste Christene verkondig is, is deur hulle tydgenote beskou as ondenkbaar en onmoontlik vir ‘n normale lewenswyse. Tog het die Woord van God en die evangelie van Christus uiteindelik getriomfeer en wel in so ‘n mate dat die hele lewenswyse van die Westerse wêreld daarmee deursuur is en op die Christelike grondbeginsels gebou is.

Dit is wel waar dat die magte wat die Christelike moraal vandag bedreig en seksuele losbandigheid bevorder van ‘n ander aard is as die in die destydse Grieks-Romeinse wêreld. Ten diepste is dit egter tog maar dieselfde omdat die duiwel self in beide gevalle die bron van inspirasie agter hierdie bose aanslae op die Christelike leer en lewe is. Daarom is daar vir ons geen rede om daaraan te twyfel nie dat die waarheid en geregtigheid van die evangelie, ook in ons welvarende, wetenskaplike en materialistiese tyd, die oorhand kan kry oor die bose magte soos dit gebeur het in die eerste tydperk van die Christelike kerk.

Tog sal ons dit dan baie goed moet besef dat, sover dit van ons as gelowige mense afhang, ons die Woord van God en die evangelie van Christus deur woord en daad met dieselfde krag, durf en heilige besieling verder sal moet uitdra as wat geskied het in die eerste jare van die Christelike kerk.

Die afname van die Christelike invloed in ons tyd kan seker met reg daaraan toegeskryf word enersyds dat die evangelie van verlossing in Christus nie met die nodige durf en besieling verkondig is nie en andersyds dat die Christelike woorde nie altyd bevestig is met Christelike dade nie. Goedkoop Christelike pratery sonder dat dit gedra word deur die nodige besieling en sonder die bevestiging daarvan deur die Christelike daad, het weinig hoop om veral in ons tyd enige belangstelling te wek. Die roeping wat ons as gelowiges in hierdie verband het, is ‘n roeping na binne en na buite: ‘n roeping teenoor onsself en ons medemens.

Na binne — teenoor onsself:
Ons roeping teenoor onsself kom in hoofsaak daarop neer dat ons alles in ons vermoë moet doen om onsself te versterk in die geloof in God. As ons Hebr. 11 lees, blyk dit duidelik dat die gelowiges van die ou tyd, waarvan sommige daar by name genoem word, groot dinge kon doen en veral die mag van die sonde kon weerstaan deur die krag van die geloof in God. Afgesien van die persone en hulle geloofsdade wat daar genoem word, praat die skrywer ook van ander: “wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het” (Hebr. 11:33, 34).

Een van die persone wat daar genoem word, is Josef.

Deur die krag van die geloof het hy onder andere die poging van Satan om hom ook op seksuele gebied te laat sondig, met beslistheid afgeweer. Toe Potifar se vrou hom tot ontug wou verlei, het hy haar so kinderlik maar tog ook so beslis geantwoord: “Hoe kan ek dan hierdie kwaad doen en sondig teen God?” (Gen. 39:9).

Dit is dus duidelik dat Josef ook die verleiding tot sonde op seksuele gebied kon afweer deur die krag van sy geloof in God en deur sy kinderlike en opregte gehoorsaamheid aan Hom.

Dit is dan ook die rede waarom ons onsself moet versterk in die geloof. Deur die geloof verkry ons die geestelike weerbaarheid wat ons so dringend nodig het in ons stryd teen die sonde en die duiwel.

In die verband het ons ter wille van die eer van die Here en ons eie ewige saligheid ook ‘n groot en belangrike roeping teenoor onsself — ‘n roeping wat die Here self op ons lê as hy by monde van Judas aan ons sê: “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in julle allerheiligste geloof” (Judas 20).

Ons moet doelbewus daarop uit wees en daadwerklik ons kragte inspan om onsself op te bou en te versterk in ons geloof.

Dit kan ons doen deur ywerig gebruik te maak van die middele wat God ons vir die doel gegee het. Daarom moet ons die Woord van God gereeld en doelgerig lees, bestudeer, oordink, ons eie lewens daaraan toets en ons oefen om ons lewens daarvolgens in te rig; ons moet die eredienste gereeld bywoon en die gemeenskap van die gelowiges ‘n vaste plek in ons lewens laat kry; ons moet volhard in die gebed, ens.

So moet ons onsself oefen in die godsaligheid. Ons moet worstel om naby God te lewe. In ons roeping teenoor onsself ter wille van die saak van die Here moet ons in hierdie tyd waarin ons lewe, veral met die oog op die seksuele verwildering en ons beskerming daarteen, aandag en uitvoering gee aan die volgende treffende woorde van die apostel Paulus aan die Efesiërs:

“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God — terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees…” (Ef. 6:10—18).

Die groot saak wat hier veral beklemtoon moet word, is dat ons as gelowiges tot die besef moet kom dat ons worstelstryd ook op sedelike en seksuele terrein nie maar net ‘n stryd teen vlees en bloed, ‘n stryd van mens teen mens is nie. Nee, ons kom in hierdie stryd te staan teen demoniese of duiwelse magte wat gewoonlik nie met die eerste oogopslag raakgesien of as sodanig herken word nie. Paulus praat dan ook onder andere van die liste van die duiwel en die bose geeste in die lug.

Om dáárteen doeltreffend weerstand te kan bied, is dit absoluut noodsaaklik dat ons onsself moet toerus met die “volle wapenrusting van God” en ons ook oefen in die gebruik daarvan. Hoe ernstig die saak is, blyk daaruit dat Paulus die uitdrukking “volle wapenrusting van God” tweemaal noem (verse 11 en 13) en so ook beklemtoon dat dit die volle wapenrusting moet wees en nie slegs ‘n deel daarvan nie.

As ons dit doen, sal ons nie alleen die vurige pyle van die bose, ook die pyle van verleiding tot sonde op seksuele gebied, kan afweer nie, maar ons sal self tot die aanval kan oorgaan, onder andere deur die hantering van die swaard van die Gees, die Woord van God. Dit is dan ook ons roeping na buite.

Na buite — teenoor ons medemens
Na buite moet ons die Woord van God, die evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus verkondig. Ons moet die mense leer dat ware vryheid nie bestaan in bandeloosheid en ongebondenheid nie. Dan is ons soos die trein wat nie aan sy spore gebonde wil bly nie maar daarvan wil vry wees. Dog hierdie “vryheid” is geen vryheid nie, want dan kan so ‘n trein nêrens meer heen beweeg nie. Hy bereik nie sy doel nie. Daar vind ‘n ongeluk plaas met chaos en verwoesting tot gevolg.

Ons is alleen werklik vry as ons ons gewillig stel onder die genadeheerskappy van Christus. Die binding aan sy gebooie is die weg waarop ons uiteindelik die vreugdevolle eindbestemming van ons lewe bereik om altyd by die Here te wees.

Waar ons wel gesondig het, vind ons in die versoening van ons sondes deur Christus aan die kruis die troos en die krag om desondanks tog weer verder te gaan. 

Hierdie heerlike verlossingsevangelie met alles wat dit inhou en beteken, moet ons positief en met besieling deur woord en daad uitdra sodat die woorde van Paulus ook in ons lewens werklikheid kan word as hy sê: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Rom. 1:16).

Ons antwoord op die seksuele verwildering en rewolusie van ons tyd moet wees:

Teenoor die rewolusie die evangelie!

OPROEP

ONS wil hierdie boekie afsluit met ‘n oproep tot kuisheid en reinheid in die woorde van prof. S. C. W. Duvenhage. Hy stel dit duidelik dat die jeug vandag in ‘n onbeskutte, sedelik ongunstige en onsedelik gunstige wêreld leef en daarom ‘n geweldige stryd te stry het en verklaar dan verder.

“Maar tot elke jongmens kom die oproep: “Omdat ons liggaam en siel tempels is van die Heilige Gees, daarom wil God dat ons altwee suiwer en heilig moet bewaar”. Tot elke jongmens kom die huiweringwekkende taal: “Alle onkuisheid is deur God vervloek”. En daarom, al is die stryd van julle, jongmense, wat mekaar liefhet hoe swaar om die verhouding rein en onbesmet te hou — julle mag nie die vervloeking van God op julle laai nie. Julle mag nie die kostelike gawe van die liefde verontreinig deur vooruit te gryp op voorregte wat slegs in die huwelik op Gods tyd kan voer tot die hoogste geluk nie. Julle mag nie die beste van jul lewe verkoop en vergooi, julle mag nie blad na blad van die mooi blom van die jeugjare aftrek en weggooi sodat daar wanneer die huwelik aanbreek alleen maar ‘n kaal stingel oorbly nie. Wie voor die huwelik soos getroudes lewe, het in die huwelik niks meer vir mekaar te sê nie. Moenie dat die duiwel julle in oomblikke van onbewaaktheid allerhande dinge wysmaak nie. Dit is vals pêrels wat hy julle voorhou. Een uur van onbedagsaamheid kan ‘n hele lewe ruïneer. Hoeveel word daar tog in later jare geween as gevolg van blomme wat in die knop gebreek is? Hoe moeilik, ja bykans onmoontlik is dit om ‘n heilige huwelik te bou op ‘n onheilige jeug?”

Dink goed na oor hierdie woorde.

Laat jou lewe staan in die lig van die vraag, die antwoord, die voorneme en die gebed van die vierde vers uit die berymde Ps. 119.

Die vraag:

Hoe sal in sy jeug die jong’ling,
gou deur ydelheid bekoor,
rein kan wandel in sy weë … ?

Die antwoord: As hy wandel in u spoor!

Die voorneme: U soek ek van ganser harte.

Die gebed:
Heer, hou U my hande vas,
dat ek van die spoor nie dwaal nie
en die kwaad my nie verras.

______________________

Aflaai: Kuisheid voor die Huwelik

Sien ook die skrywer se boekie oor Die Christen en kleredrag.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑