HET DIE VIDA DWALING WORTELS REEDS BEGIN IN DIE VERANDERING VAN DIE GKSA HUWELIKSFORMULIER IN DIE 1970’s?

HET DIE VIDA DWALING WORTELS REEDS BEGIN IN DIE VERANDERING VAN DIE GKSA HUWELIKSFORMULIER IN DIE 1970’s?

Prof. GPL van der Linde skryf as volg oor die ‘jammerlike’ verskraling van die huweliksformulier, by sy verklaring van Kerkorde artikel 70, wat handel oor die huwelik (Die Kerkorde – ‘n Verklaring van die Gereformeerde Kerkorde, 1983:228-227, beklemtonings bygevoeg):

“Dit is veral vandag noodsaaklik dat aan die Skriftuurlike huweliksopvatting soos in die ou formulier vervat, in hierdie tyd van huweliksminagting vasgehou word. Die huidige verkorte formulier is ‘n jammerlike verskraling van die oue. Veral moet betreur word dat die slotvermaning oor die onverbreekbaarheid van die huwelik en dat egskeiding ongeoorloof is, weggelaat is (kyk Acta 1979).”

Sonde en gebrokenheid is en sal daar altyd wees, maar help hierdie ‘jammerlike verskraling’ om te verduidelik waarom daar moontlik so groot toename was in onwettige egskeidings en hertroues wat gevolg het in die dekades daarna, soos die feministiese tydsgees al meer en meer die kerke van Christus binnegedring het en ‘veranderinge’ begin afdwing het onder die valse voorwendsel van ‘reformasie’, saam met ‘n veranderende Skrifgesag en Skrifbeskouing wat oor dekades ‘ge-ewolueer’ het en nou al meer die slegte vrugte daarvan produseer?

Verder, dat die VIDA saak wat veral vanaf die laat 1980’s tot op hede die GKSA so verdeeld gelaat het, daarom net ‘n verdere simptoom is van ‘n verdere dieperliggende en onderliggende groter krisis: naamlik die huwelik en gesin wat in die verlede en nou al meer in sy wese aangetas word? Onthou, die huwelik is die wesentlike afbeelding van Christus se verhouding tot sy kerk (Ef. 5:20-33), en daarom die verbete bose aanslag daarteen deur die doodsvyande, nl. die Satan, die wêreld en die sondige oorblyfsels in ons harte, ja, van altyd af, maar soveel te meer in ons woke agenda tye, waaronder die vida- en lgbtq agendas (2 Tim. 3; 4:1-5; sien HK v/a 127).

En ja, die wesentlike vraag ook vir hierdie onderwerp, soos in die hele lewe en op elke terrein van lewe en denke:

As ons Here Jesus nie die alleen Verlosser en Koning is van die huwelik en gesin nie, deur sy Gees en Woord alleen nie, waarom sal Hy dit dan wees in die gemeente en die kerkregering, en dus ook die ‘besondere dienste of ampte’, ens. ens (sien 1 Timoteus, 2 Timoteus, Titus)?

(Sien my Skrifopening en oordenking by die afgelope ‘In U Lig’ konferensie vanuit Lukas 6:45-49, wat natuurlik netso geld vir die huwelik en huisgesin krisis.)

U kan self oordeel.

Ek verwys u eers na die huidige GKSA huweliksformulier (sien ook agter in enige post-1970’s Psalmboek), en daarna soos dit geformuleer was voor dit in die 1970’s verander is deur  verskeie GKSA sinodes (veral vanaf 1973-1979).

Daar is hier en daar frases en woorde wat verskillend is of anders gerangskik is, maar in die ‘Ou Formulier’ gaan ek ‘n paar wesentlike gedeeltes beklemtoon wat heeltemal weggelaat is (met ‘bold en in hakies geplaas).  Dan sal u sien waarom prof. GPL van der Linde so sterk uitspraak gemaak het in sy verklaring hierbo, en die ‘jammerlike verskraling’ daarvan vir ons gesinne en kerke betreur.

Mag die Here ons genadig wees, my en my gesin, ons en ons gemeentes, ons en ons kerkrade, om op elke terrein te bekeer en aan te hou bekeer (semper reformanda!), my eie hart, ons harte saam en afsonderlik, veral ook op die gesins- en kerklike terrein,  in verootmoediging voor ons Here, die enigste Koning van ons gesinne (Jos. 24:15) en gemeentes (Ef. 1:21-23), soos hierdie aanhalings van twee ‘ou doppers’ dit ook bevestig:

Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei. Anders gaan ons gewis ‘n donker toekoms tegemoet.” – Totius, Ons roeping en toekoms

“Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou.  Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is.” – HG Stoker, Calvinisme as wortel van ons volksbestaan

As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (Ps 127:1)

Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid. (1 Tim 3:15)

Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Heb 13:4)

o God, verlos Israel uit al sy benoudhede” (Ps 25:22)

Hier volg nou die twee weergawes van die Huweliksformulier, u kan die nuwe of huidige formulier hier lees (of agter in u Psalmboek):

(NUWE/HUIDIGE) FORMULIER VIR DIE HUWELIKSBEVESTIGING

U kan dit nou vergelyk met ‘ou formulier’, en soos vermeld, al die beklemtoonde gedeeltes en wat in hakies geplaas is, is weggelaat in die ‘nuwe formulier’:

DIE ‘OU’ HUWELIKSFORMULIER (pre-1979)

N en N u het begeer dat u huwelik in die Naam van God bevestig sal word. Aangesien daarteen geen wettige beswaar ingebring is nie, gaan ons nou daartoe oor.

[U moet egter eers hoor hoe eerbaar die huwelik volgens die Woord van God is, en weet dat dit ‘n instelling van God is waarin Hy behae het. Daarom het Hy ook beloof om die getroudes te seën en hulle by te staan, maar die wat in ontug lewe, oordeel en straf Hy (Heb. 13:4).

1) Eerstens: U moet weet dat God, ons Vader, nadat Hy die hemel en die aarde en alles wat daarin is, geskep het, die mens na sy beeld en gelykenis gemaak het. God het hulle ook geseën en vir hulle gesê: 

Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en en die voels van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het ook gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.]

Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. (Gen. 1:27, 28; 2:18, 21,23).

Hierdie instelling van God noem die apostel Paulus, met die oog op Christus en sy gemeente, ‘n groot verborgenheid.

[Op grond hiervan moet u dan ook nie daaraan twyfel dat die huwelik God die HERE behaag nie, want Hy het vir Adam sy vrou geskep, haar self na hom toe gelei en haar aan hom as vrou gegee. Hy aan dat Hy vandag nog elkeen se vrou as ‘t ware met sy hand na horn toe lei.]

Daarom het die Here Jesus Christus die huwelik ook so hoog geeer met sy teenwoordigheid, gawes en wondertekens op Kana in Galilea, om daarmee te kenne te gee dat dit deur almal as eerbaar beskou moet word (Joh. 2:1-11).

Hoewel daar as gevolg van die sonde gewoonlik ook allerhande teespoed en lyding oor getroudes kom, kan u nogtans in u hart seker wees van God se hulp en in die vertroue lewe dat Hy sy bystand aan u wil verleen, selfs wanneer u dit glad nie verwag nie.

2) Tweedens: Maar om in hierdie staat godvrugtig te kan lewe moet u vervolgens weet met watter doel [God] die huwelik ingestel het.

Ten eerste: Die een moet die ander getrou help en bystaan in alles wat tot die tydelike en ewige lewe behoort.

Ten tweede: Die menslike geslag moet deur die huwelik gebou word, ouers moet die kinders,  wat hulle van die Here ontvang, in die ware kennis en die vrees van God opvoed, tot sy eer en tot hulle saligheid.

(Ten derde): Die huwelik dien ook daartoe dat die mens alle onkuisheid en bose luste vermy en met ‘n goeie en geruste gewete lewe. Want om onkuisheid te vermy moet elke man sy eie vrou he en elke vrou haar eie man (1 Thess. 4:3-5).

[So vermaan die Evangelie ons dan dat ons hierdie heilige staat moet eer as ‘n instelling wat nie gegrond is in die goeddunke van die skepsel nie maar in die welbehae van God, ons Skepper. Tensy deur God anders gewil, is almal wat die leeftyd daartoe bereik het, volgens die bevel van God geroepe om te trou volgens Christelike ordening] en met medewete en toestemming van hulle ouers of voogde.

Hulle moet in hierdie staat ook heilig met mekaar lewe sodat die tempel van God, dit is ons liggaam, nie verontreinig word nie, want as iemand die tempel van God skend, sal God horn skend (1 Kor. 7:9).

3) Derdens: U moet weet hoe die gedrag van die een teenoor die ander volgens die Woord van God moet wees:

En dan moet u, man, weet dat God u as hoof van die vrou gestel het, sodat u haar, na u vermoë,
verstandig sal lei, onderrig, vertroos en beskerm soos die hoof die liggaam regeer, ja, soos  Christus die Hoof, [Wysheid, Troos en Bystand] van sy gemeente is.

U moet ook u vrou liefhe [soos u eie liggaam], soos Christus sy gemeente liefhet. U moet nie teen haar verbitterd word nie maar verstandig met haar saam woon. U moet aan die vrou, [as die swakker geslag, (1 Petr. 3:7)], haar eer, [omdat u mede-erfgename van die genade van die lewe is, sodat u gebede nie verhinder word nie (1 Petr. 3:7). En aangesien dit die bevel van God is dat die man in die sweet van sy aangesig sy brood moet eet], moet u ook getrou en ywerig in u beroep arbei, sodat u u huisgesin met God en met eer kan onderhou en bowendien ook iets kan hê om aan die hulpbehoewendes te gee.

Net so moet u, vrou, [weet hoe u u volgens die Woord van God teenoor u man moet gedra], (Ef. 5:24). U moet u man liefhê en eer en aan hom gehoorsaam wees in alle sake wat reg en billik is, net soos die liggaam aan die hoof en die gemeente aan Christus onderdanig is. [U moet nie oor u man heers nie. Adam is immers eerste gemaak daarna Eva as ‘n hulp vir hom. En na die val het God aan Eva en deur haar aan die hele vroulike geslag gesê: Na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers (Gen. 3:16). Hierdie verordening van God moet u nie teëstaan nie, maar u moet die gebod gehoorsaam en die voorbeeld navolg van die heilige vroue wat op God gehoop het en aan hulle mans onderdanig was net soos Sara ook aan haar man gehoorsaam was.] U moet u man ook behulpsaam wees in alles wat goed en reg is, en aan u gesin en huishouding die regte aandag gee. Verder moet u ingetoë en eerbaar lewe, [sonder wêreldse prag], sodat u vir ander ‘n voorbeeld van deugsaamheid kan wees (1 Petr. 3:1-16).

Die bedienaar vra nou aan die bruidspaar:

N en N nou dat u weet dat God die huwelik ingestel het en wat Hy u beveel, getuig u hier voor die aanwesiges dat dit u opregte voorneme is om in hierdie staat so te lewe en begeer u dat u huwelik bevestig sal word? Antwoord: Ja.

Verklaar u AB, dat sover u weet daar regtens geen beletsel is teen u voorgenome huwelik met CD, hier teenwoordig, en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u CD, tot u wettige vrou neem? Antwoord: Ja.

Verklaar u CD, dat sover u weet daar regtens geen beletsel is teen u voorgenome huwelik met AB hier teenwoordig, en dat u almal hier, teenwoordig roep om getuie te wees dat u AB tot u wettige man neem? Antwoord: Ja

Daarna spreek die bedienaar die bruidspaar soos volg toe:

Mag ons Here God die voorneme wat Hy u gegee het, bevestig, en mag die begin van u huwelik wees in die Naam van die Here, wat hemel en aarde geskep het.

Nou gee hulle mekaar die regterhand, en die bedienaar sê vir die bruidegom:

N, u het hier voor God en almal teenwoordig verklaar dat u N as u wettige vrou neem. Beloof u dat u haar nooit sal verlaat nie, dat u haar sal liefhê en getrou sal onderhou soos ‘n getroue en godvresende man aan sy vrou verskuldig is? Beloof u verder dat u heilig met haar sal lewe en haar in alles getrou sal bly, ooreenkomstig die uitspraak van die heilige Evangelie?

Antwoord: Ja.

Daarna vir die bruid:

N, u het voor God en almal teenwoordig verklaar dat u N as u wettige man neem. Beloof u om hom lief te hê, hom gehoorsaam te wees, hom te dien en te help en hom nooit te verlaat nie? Beloof u verder om heilig met hom te lewe en aan hom in alles getrou te bly, soos ‘n vrome en getroue vrou aan haar man verskuldig is, ooreenkomstig die uitspraak van die heilige  Evangelie?

Antwoord: Ja.

Hierna sê die bedienaar:

Ek verklaar dat AB en CD hier teenwoordig regtens getroud is. Mag die Vader van alle barmhartigheid, wat u deur sy genade tot hierdie huwelik geroep het, u met opregte liefde en trou verbind en u sy seën gee. Amen.

[Luister nou hoe sterk die huweliksband is soos Mattheus dit in die Evangelie beskrywe:

Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit ’n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei? En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ’n skeibrief te gee en van haar te skei? Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.” (Matt. 19:3–9)

Aanvaar hierdie woorde van die Here Christus gelowig en wees daarvan seker dat ons Here God u tot hierdie staat saamgevoeg het. Daarom moet u ook alles wat daarin oor u kom, met geduld en danksegging aanneem omdat niks in ons lewe buite die wil van God om geskied nie. So sal alles tot u beswil en saligheid strek.]

Maar omdat daar in onsself  niks goeds is nie en alle goeie gawes van bo af, van die Vader van die ligte, kom, versoek ek u om neer te kniel voor die aangesig van die Here, sodat ons almal saam met u en vir u kan bid (Jak. 1:17):

Almagtige God, U wat U goedheid en wysheid in al U werke en ordeninge openbaar en van die begin af gese het dat dit nie goed is dat die mens alleen moet wees nie – U het vir hom ‘n hulp geskep wat by hom pas, en verorden dat die wat twee was, een moet wees. Ons bid U dat U aan hierdie egpaar wat U tot die huwelik geroep en saam verbind het, u Heilige Gees gee, sodat hulle in ‘n ware en vaste geloof heilig mag lewe volgens u Goddelike wil en alle boosheid teestaan. Seën hulle dan ook soos U die gelowige vaders, u getroue vriende en dienaars, Abraham, Isak en Jakob, geseën het. En waar hulle mede-erfgename is van die verbond wat U met die vaders opgerig het, bid ons dat u aan hulle die genade sal verleen om hulle kinders, as dit U behaag om hulle die te gee, godvrugtig op te voed, tot eer van u heilige Naam, tot  opbouing van U gemeente en tot verbreiding van U heilige Evangelie. Verhoor ons, Vader van alle barmhartigheid, deur Jesus Christus, u geliefde Seun, ons Here, wat saam met U en die Heilige Gees leef en regeer – die enige, ware, ewige God, wat altyd geprys moet word. Amen.

Ten slotte se die bedienaar:

Mag ons Here God u met sy genade vervul en gee dat u in alle godsaligheid en liefde saamverbonde, lank en heilig mag lewe. Amen.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑