Prof. Amie van Wyk oor tien sake van Calvyn se etiek oor die christelike lewe

‘n Paar aanhalings uit prof. AH (Amie) van Wyk se boekie, ‘Calvyn oor die Christelike lewe’

Prof. Amie van Wyk se boekie (1983), gee ‘n oorsig van sy verklaring van Calvyn se teologiese denke oor veral die etiek en die christelike lewe.

Onder ‘n paar temas of opskrifte wat ek byvoeg, wys ek op ‘n paar aspekte van Calvyn se denke oor die etiek, met die direkte aanhalings wat uit prof. Amie se boekie kom (beklemtonings en kursief is bygevoeg):

1 Calvyn is deur die eeue op verskeie maniere deur voor- en teenstanders ge-etiketteer as (onder andere), biblisis, fundamentalis, wettisis, ens., so huidige calviniste (waar deesdae ‘etikette’ soos ‘teonomis’ as negatiewe etiket byvoeg word), vind hul in goeie geselskap:

“Dit is waar dat daar met verloop van tyd sekere kritiekpunte, soms ten regte en soms ten onregte, teen die teologie en etiek van Calvyn ingebring is. So is hy byvoorbeeld van die volgende beskuldig: biblisisme/fundamentalisme (ivm die Skrifleer), skolastisisme (ivm die triniteitsleer en twee-nature-leer van Christus), determinisme (ivm die uitverkiesingsleer), paradoksisme (ivm die leer oor die Raad van God en die sonde, en oor die Goddelike uitverkiesing en die menslike verantwoordelikheid), dualisme/platonisme (ivm die mensbeskouing), kwiétisme (ivm die leer oor die mens en die sonde), legalisme/wettisisme/rigorisme (ivm sy beskouing van die wet en die etiek), asketisme/negativisme (ivm sy beskouing van die waarde van die aarde en sy etiese gesigspunte), institusionalisme (ivm sy kerkleer) en idealisme (ivm sy leer oor die koninkryk van God).

Wie egter op grond hiervan meen dat ons Calvyn as teoloog en etikus maar kan afskryf, begaan ’n baie groot fout. Ons kan, ook op etiese gebied, ontsaglik veel leer van hierdie uitnemende dienskneg van die Here. Onnodig om te sê dat ons sy insigte nooit mag kanoniseer of normatiseer nie. Dit sou totaal oncalvyns wees!

Dit is feitlik oorbodig om daarop te wys dat Calvyn se etiek slegs reg verstaan kan word teen die agtergrond van die sestiende-eeuse situasie (veral) te Genéve én dat daarmee rekening gehou moet word dat Calvyn voortdurend op ten minste twee fronte moes veg, naamlik teen die Roomse legalisme en die anabaptistiese libertinisme.”

2 Calvyn is teonomis* in die sin dat hy glo die sedewet/morele wet oftewel die Tien Gebooie bindend is op alle mense, insluitende die burgerlike owerheid (en daarom moet hul ook beide tafels van die wet handhaaf op hul onderskeie terrein – soos ons bely volgens die Skrif in NGB artikel 36):

“Vanselfsprekend moet ‘n owerheid wette maak (IV 20:14). Calvyn oordeel dat die sedewet die ewige reël van geregtigheid is en voorgeskryf is aan die mense van alle volke en alle tye (IV 20:15). Alle wette moet volgens die ewige beginsel van die liefde ingerig word (IV 20:15). Daarmee het hy die liefdesbeginsel as onmisbaar in die staatshuishouding erken. Hierby kom ook billikheid as die doel, die reël en die grens van alle wette (IV 20:16). Die regbank het bestaansreg, maar soms sal dit vir Christene nodig wees om eerder selfverloëning toe te pas en onreg te ly as om van die regbank gebruik te maak (IV 20:18-21). Die regverdigste saak word goddeloos as die liefde daaruit verdwyn (IV 20:18).”

3 Die Woord alleen, teonomie, en nie natuurreg nie, bepaal reg en verkeerd

“Calvyn wou niks anders doen as om hom te hou aan die sola Scriptura nie. Daarvan getuig die ganse Institusie, sy vele Skrifkommentare, sy preke en sy briewe. Nie sonder rede word hy genoem die “grootste eksegeet” van die Reformatoriese periode nie!

In die Christelike lewe gaan dit — vanweë die sonde—om niks anders as om gehoorsaamheid aan die wil van God soos geopenbaar in die Woord van God nie (I 4:3). Daarmee het Calvyn gekies teen naturalisme en humanisme (met sy vorme van subjektivisme, outonomisme, rasionalisme, emotivisme en intuitionisme) en vir ’n teonome etiek.* Nie die natuur en nie die mens of die menslike verstand of ervaring of gevoel kan in etiese kwessies die deurslag gee nie, maar die Woord van God alleen. 

Nie die ervaring van die mens nie, maar die openbaring van God is bepalend. Alle wysheid, regverdigheid en waarheid kom slegs van God (I 2:1) en ons ken God slegs deur openbaring (I 5:13-14), die openbaring van sy Heilige Skrif (I 6:1).

Sonder die Heilige Skrif kan ons nie die geringste maak kry van die gesonde en regte leer nie (I 6:2). Alles wat ons nodig het om godvrugtig te kan lewe is in die wet geopenbaar (IV 13:1). Van die bevel van God mag ons selfs nie ’n “duimbreed” afwyk nie (III 19:13). …”

4) Die Woord van God, die Heilige Skrif, die Bybel moet suiwer gepreek word, en dit geld vir alle terreine, nie net die individu, gesin en gemeente nie

“Belangrik is ook dat Calvyn beklemtoon dat die Woord suiwer gepreek én aangehoor (IV 1:9) of noukeurig in ag geneem moet word (IV 2:3), aangesien hy daarmee ’n brug slaan tussen regverdiging en heiliging, tussen erediens en daaglikse lewe. Die heelhartige en suiwere uitlewing van die Woord van God deur die gelowiges in die daaglikse lewe is vir Calvyn déél van die eerste kenmerk van die ware kerk. Hiermee het hy aan alle formalisme ’n dolksteek toegedien waar van ’n ortodoksie sprake is sonder ’n ortopraksie, ’n regsinnige belydenis sonder ’n verantwoorde en goeie lewenswandel.

Calvyn se etiek kan dus sonder meer as Skriftuurlike etiek getipeer word. In die etiek is die Woord deurslaggewend en die Woord geld vir alle lewensterreine.”

5) Die natuuurreg of natuurwet moet getoets en gelees word in die lig van die geskrewe wet of Woord, en nie andersom nie

“Daar is natuurlik kenners wat meen dat ons by Calvyn ook met ’n natuurlike etiek te doen het en dat die ordo naturae en die lex morali geen teenstelling vorm nie, aangesien die natuurwet in die mens deur God ingeskape is. Alle voorskrifte wat in die geopenbaarde wet te vind is, is in die natuurwet gegrond.

Ander probeer die “twee wette”’ te versoen deur daarop te wys dat ons volgens Calvyn die natuuropenbaring in die lig van Woordopenbaring moet benader. Die meeste teoloë oordeel egter dat Calvyn aan die natuurwet minder gewig toeskryf: ons kan nie die wil van God sommerso uit die natuurwet aflees nie.”**

6 Calvyn se aktuele toepaslike prediking vir alle tye, o.a. sy goeie ‘biblisisme en fundamentalisme’ om vandag se woke agenda te verwerp?

“Soms is Calvyn van biblisisme en fundamentalisme in verband met sy hantering van die Skrif beskuldig, hoewel hierdie kritiek deur ander weerspreek is. Inderdaad vertekening van Calvyn om hom ongenuanseerd van biblisisme te beskuldig, waarmee natuurlik nie ontken is dat daar hier en daar daar tog biblisistiese trekke voorgekom het nie, bv. dat hy op grond van Dt 22:5 en die sewende gebod afgekeur het dat ’n manlike toneelspeler ’n vroulike kleed mag dra.

Andersyds kon Calvyn weer sekere Ou-Testamentiese gedeeltes (bv. die wat rente verbied het) in die lig van die totale Bybelse boodskap en die kultuursituasie van destyds verklaar en as vervul beskou. Besonder interessant is ook sy Skrifhantering ten opsigte van die (regverdiging van die) eed (II 8:23-27). Dit bly egter ’n logiese denkfout (van generalisasie) om uit ’n paar voorbeelde van biblisisme Calvyn van algehele biblisisme te beskuldig.

Baie belangrik is ook, en veral Biéler het hierop gewys, dat Calvyn altyd die Woord op die werklikheid betrek het en op sy eie wyse, so het ons gesien, begin het met ’n juiste situasie-etiek. Die Woord sweef immers nie soos ’n dooie satelliet rondom die werklikheid heen nie, maar land daarop soos ’n valskermspringer, verower en verander dit.”

7) Die hele Woord, nie net die Tien Gebooie nie, is die norm en standaard van die ganse lewe, wet en evangelie is nie in stryd met mekaar nie

“Dit is waar dat Calvyn besondere aandag aan die wet gee vir die Christelike lewe, maar tog is sy etiek hoegenaamd nie wetties in die sin dat hy alleen op die Tien Gebooie konsentreer en dan die res van die Skrif vergeet nie. Inteendeel, die ganse Heilige Skrif, NT sowel as OT, is vir hom die Woord van God en norm van die Christelike lewe. Die ganse Skrif vorm vir hom ’n eenheid en is geinspireerd en gesaghebbend.

8 Verhouding Ou en Nuwe Testament

“Die twee testamente is gelyk, hoewel tog onderskeie — nie wat die wese nie, maar wat die bediening betref (II 11). Uiteraard oordeel hy dat die Ou-Testamentiese seremoniële wette na die koms van Christus afgeskaf is, hoewel hulle nog “heilig” bly (11 7:16; 1V 14:25) en die wesentlike inhoud en leer daarvan steeds van krag bly. Die wese en waarheid daarvan moet steeds vasgehou word. In ’n sekere sin trek die ganse Heilige Skrif egter in die Tien Gebooie saam. Die ganse Skrif is niks anders as ‘n eenvoudige verklaring van die wet nie: tota scriptura nihil aliud quam legis expositio. …”

9 Wet en evangelie 

“Calvyn is soms van legalisme beskuldig, maar hierdie kritiek sou alleen volledig opgaan indien die groot raamwerk waarbinne die wet vir hom funksioneer, uit die oog verloor word. Hierdie raamwerk sluit in; die verbond, Christus, die Heilige Gees, liefde (tot God en die naaste).

Calvyn onderskei duidelik tussen wet en evangelie (II 11:7-8). Hy onderstreep ook dat die wet nooit kan verlos nie (II 7) en dat Christus ons enigste Verlosser is. In Christus het ons tewens met God se finale openbaring te doen (IV 8:7). Daar is egter geen teenstrydigheid tussen wet en evangelie nie omdat beide van God kom. Die wet kan egter nooit sonder Christus, wat die wet vervul het, reg verstaan word nie. Die doel van die wet was dan juis dat die Qu-Testamentiese gelowiges Christus moes verwag het (II 9:1).

Waar Luther meer nadruk gelê het op die veroordelende karakter van die wet en die bevryding deur Christus, het Calvyn dit ook erken, maar bygevoeg dat die wet deur Christus vervul is en aan die gelowiges as ‘n reël van dankbaarheid gegee is. Nie die wet nie, maar die wet-as-heilsweg moet afgewys word. Wanneer die wet van Christus losgemaak word, is die gevaar van legalisme inderdaad lewensgroot.”

8 Calvyn se koninkrykbeskouing

“Die eskatologie leer dat die mens in ’n op-weg-situasie verkeer wat op voltooiing in die opstanding aangelê is en uitloop op oorwinning oor die sonde, die dood en demone; én dit bevry die mens reeds nou van elke aardse tirannie.

Anders as die kerkisme van Rome, die dualisme van Luther en die spiritualisme van die anabaptisme handhaaf Calvyn dat die koms van Christus ’n herstel van God se soewereiniteit en koninkryk op aarde beteken en dat hierdie koninkryk op weg is na sy voleinding. Sy inkleding van hierdie gesigspunte is weliswaar soms sterk dualisties (hemelverlange teenoor aardse roeping), maar ons kritiek sou onbillik wees indien ons sou meen dat Calvyn hier heeltemal ontspoor het.

Die Christelike lewe is gerig op en loop uit op die groot beloofde toekoms. Weinig dinge is vir Calvyn belangriker as hierdie heerlike verwagting en die geluksalige “‘onsterflikheid”’ — ’n telkens terugkerende gedagte (II 1:3; II 10:1, 3, 19, 22; II 15:3; IT 7:3; 111 9:1, 4, 5; I 10:4; IL 17:15; II 18:1; IV 16:3; IV 17:1, 2, 4, 8, 17, 32).

Die hemelse koninkryk is die finale en uiteindelike erfenis (III 2:1; 11.13:5; 11 17:1; Il 25:10; IV 17:2). Die Christelike lewe het “n grootse bestemming!”

Bron: J.H. van Wyk, Calvyn oor die Christelike Lewe (Pretoria: NGK Boekhandel, 1984).

______________________________
* Die term teonomie beteken heel eenvoudig ‘God (Theos) se Wet (nomos), en moet verstaan word in sy bepaalde konteks en hoe elke skrywer dit gebruik, in die verlede al vir baie eeue, en ook in terme van die spesifiek moderne VSA ‘teonomiese debat en konteks’.

Hier is my beskrywing: alle gereformeerde gelowiges deur die eeue, is kragtens die gereformeerde belydenisskrifte van die 16de en 17de eeu volgens die Skrif, teonomiste (met ‘n klein ‘t’) oor die algemeen, sien bv. NGB artikel 24,25,36; HK Sondag 2, 33-44; DL 1.13; 5.2.5, dit is ‘n belydenis en erkentenis van die wet van God soos die Skrif dit leer en bely soos saamgevat in die belydenisskrifte in sy verskillende take en funksies, én, dat die wet van God, reg verstaan, in wese in die morele wet/tien gebooie saamgevat word, bindend is op alle tye, volke en mense, dus ook alle burgerlike owerhede (NGB artikel 36).

Daar is egter ook ‘n spesifieke beweging, genaamd Teonomie (met ‘n hoofletter ‘T’) wat onder die Noord Amerikaanse gereformeerdes ontstaan het in die 2de helfte van die 20ste eeue, wat sekere unieke beklemtonings en bydraes het tot die onderwerp van God se wet vir die hele lewe, onder leiding van persone soos RJ Rushdoony, Greg L. Bahnsen, Kenneth L. Gentry en andere (sommige meen hul uniekheid is bloot ‘n herontdekking wat daar nog altyd was in ons gereformeerde wetsbeskouing deur teoloë wat ons voorafgegaan het).

Hierdie gereformeerde of calvinistiese teonomiste onderskryf die algemene siening van God se wet soos saamgevat in die Dordtse Standaarde asook die Westminister Standaarde, maar hul ‘uniekheid’ word deur sommige gesien dat hul pleit daarvoor dat die juridiese oftwel burgerlike wette (en veral die strawwe wat daarmee saamgaan), ook nog in sy wese of beginsel van geregtigheid en/of billikheid (nie noodwendig in sy OT Israelitiese vorm nie), bindend is op alle tye, volke, burgerlike owerhede, samelewings, ens., sien bv. NGB art. 25 en WCF 19.4.

Die huidige debat gaan nou vandag in hoe ‘n mate die hedendaagse teonomiste in lyn is met ons gereformeerde belydenisskrifte, is hul daarmee in stryd, gaan hul verder as die belydenis oor die wet, en of is hul juis in lyn daarmee en dat dit die moderne sienings van wet is deur sommige, wat afvallig geraak het van die ‘outentieke teonomie’ van ons gereformeerde vaders in die 16-17de eeu en daarna? Is die moderne teonomiste besig semper reformanda, besig om verder te reformeer in terme van bybelse gereformeerde sosiale etiek, of is dit deformasie?

Vir my eie en ander skrywes oor hierdie onderwerp hier by Pro Regno, sien die volgende:

A: An Informed Theonomic Response – four articles:

PART 1: Introduction & The unscholarly uninformed method of CETE and the two crucial main questions in this debate that are also of big importance for the reformed community in SA

PART 2: What does Theonomic Postmillennialism teach themselves in answer to CETE article’s accusations, according to the sources CETE uses but seemingly did not study?

PART 3: Reformed theonomic roots through church history, also in South Africa

An Informed Reformed Theonomic Response on the extremely uniformed article “A Critical evaluation of Theonomist eschatology” (PART 4: my own evaluation of the theonomic position)

B. Wet en Evangelie artikels

C. Sien hier my artikel oor RJ Ruhdoony en hier verdere artikels oor teonomie oor die algemeen.

D. Meer Pro Regno artikels van en oor Calvyn hier, wat ook verwys na sy siening van ‘wet en evangelie’: Calvyn.

** Sien HG Stoker se artikel, Calvin and Ethics, waarin hy Calvyn se siening van natuurreg as volg beskryf:
“Calvyn sluit die ondersoek van die sedelike in die ‘natuuropenbaring’ van God, gesien in die lig van Gods Woord, nie uit nie, en verwys herhaaldelik hierdie taak na filosowe, nieteenstaande hy dit wat filosowe bied gewoonlik ongenadiglik kritiseer.  Tereg waarsku Calvyn dat die kennis van God en Sy gebod, van die ware religie en van die ware sedelik-religieuse norme nie uit die ‘natuur’ geken kan word nie; dat die ‘natuurlike’ moraal nooit tot maatstaf van die ware moraal gestel mag word nie (nie net omdat die natuuropenbaring van God onvoldoende is nie, maar veral ook omdat die historiese gang as sodanig nooit norm van Gods wil kan wees nie en dus die norm van die dinge nie in die ‘natuur’ lê nie waar in Gods wil); en dat wie die norm ontleen aan die natuur, dit ontleen aan die sedelik verdorwe ‘natuur’ van die mens en van die van God afgevalle wêreld.”

My nota wat ek daarby gevoeg het: sien Dordtse Leerreëls ¾.4,5 wat ‘natuurlike openbaring’ of ‘natuurreg’ van die ‘natuurlike mens’ nie net verwerp as middel om a) salig te word nie, maar ook b) as onfeilbare norm/standaard van etiek te dien:

“Na die sondeval het daar in die mens tog nog ‘n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy ‘n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in ‘n sekere mate ‘n strewe na deug en uiterlike tug. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer bederf hy dit heeltemal op verskillende maniere en hul hy dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar vir hom geen verontskuldiging voor God nie. Net soos met die lig van die natuur is dit ook gesteld met die Tien Gebooie, wat God deur Moses in besonder aan die Jode gegee het. Die Wet vlek wel die grootheid van die sonde oop en kla die mens hoe langer hoe meer van sy skuld aan, maar dit dui geen geneesmiddel aan en deel geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie. Omdat die Wet dus deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, laat dit die oortreder onder die vloek bly. Daarom kan die mens nie deur die Wet die saligmakende genade verkry nie.” 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑