‘n Antwoord op die skrywe “Sinode 2026 en ons een-wees in Christus”
(Die Kerkblad, Des./Jan. 2025)

Op die vooraand van die GKSA se algemene sinode van 2026 (dit begin 5 Januarie, DV), het die Redakteur van Die Kerkblad die volgende artikel geskryf, wat ek hier plaas met erkenning:


Hier is my paar opmerkings daarop:
Die redakteur skryf:
“Wat het daar gebeur? Eie voorkeure het gebuig voor God se wil. Die verskillende “kampe” waaruit die afgevaardigdes na Jerusalem opgetrek het, het mekaar gevind. En die gevolg? Blydskap, bemoediging, versterking (vs 31 en 32). Kan dit nie ook in Januarie 2026 in Potchefstroom gebeur nie? Of gaan ons maar net weer in dieselfde linies huis toe as waarmee ons vergadering toe gekom het? Luister ons nog werklik na mekaar? Om dan biddend te besluit. Gaan ons so optree dat ons werklik met groot dankbaarheid sal kan sê: Die Heilige Gees en ons het besluit?” (beklemtoning bygevoeg)
OPMERKING 1: Word daar geluister na mekaar… maar bo alles saam na die Here se Woord?
“Luister ons nog na mekaar?” vra die Redakteur.
Ja, dit is goed, maar miskien moet daar eerder gevra word, luister ons kerkverband, veral kerke wat VIDA handhaaf, nog na die Here se Woord, en net na die Here se Woord, of luister ons met een oor na die Gees en die ander oor na die tydsgees?
Laat daar opnuut ondersoek word of ons saam na mekaar luister omdat ons almal saam onvoorwaardelik, ongeag die tydsgees, wil buig voor die Koningswoord en Koningsregering van ons Here Jesus Christus (sien die band tussen 1 Tim. 1:15 na 1:17 na 1 Tim. 3:1 na 1 Tim. 6:3-5 en dan veral 6:15).
Mag ons almal waarlik, al die sinodegangers, maar alle kerke, alle kerkrade, alle predikers, alle gemeentes, die hele kerkverband die gesindheid van Hand. 17:11 openbaar, nie net tydens die sinode week nie, maar ons ganse lewe, of ons eet of drink, of sinodes hou….., 1 Kor. 10:31.
Maar terug na die oproep van “luister ons nog na mekaar”?
Tragies maar werklik: het die ‘kampe’ ooit werklik na mekaar geluister, ongeag elke keer se sogenaamde oproepe van ‘eenheid en luister vir mekaar’ in die Waarheid? … want as ek die redakteur se artikel lees (en vir dekades nou al VIDA ondersteuners aanhoor, tot nog onlangs toe voor sinode 2026…. baie luister op verskillende vergaderings, gesprekke, ens), dan is dit asof – met respek – die redakteur die afgelope paar dekades en sinodes as’t ware niks gehoor het nie (of wou gehoor het nie?), en maar net dieselfde argumente en sake oor en oor noem en gebruik (van sinode tot sinode, van artikel tot artikel… van jaar tot jaar…), ongeag hoeveel keer dit al beantwoord is, verduidelik is op meerdere vergaderings, onderlinge gesprekke, lesings, artikels ens ens oor die onderwerp?
Hoe kan mens aanhou wil hoor as een van die kampe ‘lyk my aanhou nie wil hoor vir dekades nie?’ en met Skrifgebruik en eksegese kom wat duidelik ‘n ander of teenoorgestelde nie-gereformeerde nuwere hermeneutiek behels wat by VIDA uitkom of dit – soos sommige meen – wil aanhou akkommodeer al is dit onskriftuurlik, onkonfessioneel en onordelik (sien latere opmerkings vir meer hieroor)?
OPMERKING 2: Ernstige saak maar nie ‘n wesentlike saak nie?
Die redakteur se slot paragraaf:
“En Sinode 2026? Kom ons luister opreg na mekaar. Kom ons staan onverbiddellik waar die evangelie en die vryheid in Christus op die spel is. Maar kom ons wees geduldig en lankmoedig waar ons Belydenis nie op die spel is nie. Kom ons hou mekaar vas en praat en bly praat sonder oorhaastige rooi lyne en strepe in die sand. En die kerke wat wel vroue in die amp van ouderlinge bevestig het, dink maar weer in die lig van Romeine 14 daaroor. Dis immers wat ons met mekaar afgespreek het Laat ons almal so die onvermydelike implikasies en gevolge van skeuring soos hierbo uitgespel, ver hoed. Laat almal optree en bespreek en besluit, ter wille van die evangelie, so “dat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”
Die redakteur praat in sy artikel wel van die VIDA kwessie as nou ‘n ‘ernstige’ saak, maar nie ‘n ‘wesentlike saak’ soos die algemene sinode van 2015/6 duidelik besluit het nie. Hoekom laat hy hierdie ‘wesentlike’ saak inligting uit, terwyl hy op ‘n ander plek tereg skryf dat ons onwrikbaar die ‘geopenbaarde waarheid’ (waarvan 1 Kor. 14 en 1 Tim 2, 3, ens deel is?) moet vashou as ‘wesentlik en ononderhandelbaar’?
Die fokus van die Redakteur se besorgheid lyk my is ongelukkig nie of sommige van ons kerke ongehoorsaam is aan die gesag en Koningskap van Christus se kerkregering wat Hy beveel nie (1 Tim. 2; 1 Kor. 14, ens.), dat God se bevele verontagsaam word oor hoe sy gemeentes ingerig moet word nie, en ja, al sy gemeentes (sien 1 Kor. 14:33, 36), maar, hoe dit onderlinge verhoudinge gaan raak as ons die waarheid handhaaf, en wat gaan die wêreld sê, omdat die Here se kinders na baie jare se geduld en lankmoedigheid in waarheid én liefde nou die Woord se strepe in die sand wil en moet trek, en dit ‘aanstoot’ kan veroorsaak?
Die teenvraag moet juis ook gevra word om oor te bid en besin: besef die VIDA gemeentes (én veral hulle wat hul wil aanhou akkommodeer) hoe kerkskeuring weens ongehoorsaamheid aan Koning Jesus se bevele juis God onteer, en ons gemeentes en lidmate en emeriti gaan raak, en daarom in liefde: bekeer julle terug na die Here se wil oor hierdie saak, wat goed is vir alle kerke, lidmate, predikante en professore, ens. Bly by wat julle geleer is!
Die redakteur vermaan nie in liefde nie, maar vra net vir gemeentes wat VIDA handhaaf om so bietje net te ‘dink’ aan Romeine 14 (wat totaal verdraai en misbruik word vir die VIDA agenda; sien hier en hier as antwoord daarop), terwyl daar lyk my nie gedink word aan wat die Skrif klaar duidelik nog altyd leer en beveel vir ons kerkregering nie, wie in die leer en regeer ampte mag dien of nie dien nie? So Rom. 14 en ander Skrifgedeeltes word ingespan om duidelike Skrifgedeeltes soos 1 Tim. 2 en 2; 1 Kor. 14 oor die kerkregering ‘onduidelik en vaag’ te maak?
“En wat noem julle My: Here, Here en doen nie wat Ek sê nie?” Luk. 6:46-49, moet dalk baie meer aandag en gebed kry onder ons?
OPMERKING 3A: Wat in gedrang is oor die algemeen met sinode 2026?
Die redakteur skryf in die begin van sy artikel en weer einde van die artikel:
“Wat my tot groot rustigheid en dankbaarheid gestem het, was punt 10.16 van die gesamentlike rapport: Die verskil tussen die twee standpunte lê nie in verskil in Skrifbeskouing nie, maar op die vlak van eksegetiese sintese; die saak van VIDA is nie op sigself ’n belydenissaak nie; besluitneming hieroor behoort nie die eenheid van die kerke in gedrang te bring nie…. Maar kom ons wees geduldig en lankmoedig waar ons Belydenis nie op die spel is nie.”
Ja, weereens ja, tragies ja, dit is soos die redakteur sê “Luister ons nog werklik na mekaar” en voeg ek weereens by: na die Here, en sy Woord, sy hele Woord?
Want, daar was ‘n hele buitengewone spesiale sinode om op grond van die Skrif te besluit VIDA is ‘n wesentlike saak wat baie sake in ons kerke in groot gedrang gaan bring… soos reeds al vir dekades gesien word, omdat daar aangehou word om te akkommodeer en kompromeer, en nie wil berus word wat besluit is volgens die Skrif nie.
Mense weier om 2015/6 te aanvaar (en sommige proffies en predikante leer dit is goed so?), en hou aan op die spits dryf deur nou in ‘n woordestryd te val of ‘belydenissake’ alleen wesentlik belangrik is maar nie as ons dit ‘wesentlike sake’ noem nie, asof die woordgebruik nou weersprekend of uitsluitend van mekaar is, asoof een belangrik is maar die ander nie. Daar word nou gekibbel oor woorde om die gehoorsaamheid aan Christus, die gesag van Christus te ontken oor sy wil vir die kerkregering, dit klink baie soos Tit. 2:9-11 ‘stryery’ tipe probleme.
Almal weet vanuit die Skrif en kerkgeskiedenis, ook ons kerkverband vir 30/40 jaar, VIDA/kerkregering is ‘n Skriftelike saak, leer saak, kerkregeringsaak, wesentlike saak, waarheidsaak, ernstige saak, en al die woordspeletjies en ontkennings en slim woorde kan dit nie wegredeneer dat kerke kan nie in ware liefde, waarheid en eenheid funksioneer as hul oor hierdie saak verdeeld is nie.
Die wese van kerkregering is ook van so aard, dat daaroor saamgestem moet word vir een kerkverband om tot eer van die Here en heil van AL die gemeentes kerk te wees, vir hul WARE VREDE EN ORDE, aan wie een Here een Woord stuur, sien weer 1 Kor. 14:33, 36, en die verhouding daarmee in die woorde van v. 40.
Ek en baie ander het deur dekades baie artikels geskryf (sien die ‘VIDA’ afdeling by http://www.proregno.com) om te wys hoe wesentlik belangrik die saak van die rol van man en vrou is, huwelik en kerk, gesin, vir die ganse kerk deur die eeue, ook vir ons tye, en teen VIDA agendas wat o.a. lei tot homo en woke agendas, ens,
Ek hoop om ‘n volgende keer weer ‘n artikel daaroor op my blog te plaas voor sinode 2026, as laaste pleitdooi aan my pro-VIDA broers en susters, afgevaardiges maar ook alle lidmate, maar veral ook aan daardie broeders broers wat dalk onkundig goed bedoeld, maar verkeerd en liefdeloos pleit om VIDA leringe en kerke te akkommodeer en verdra as ‘n ‘middelmatige Rom. 14 saak’ (soos die redakteur?), al weet hul dit is eintlik verkeerd, maar wil dit ‘ter wille van ‘n (valse) vrede’ nog wil handhaaf:
Julle speel met vuur, as julle nie besef dat die kerkregering in hierdie saak wesentlik gaan oor die gesag van Christus oor sy kerk, die gesag van sy Woord, en die heil van ons kerke nie, daar is onderliggende Skrifbeskouings en hermeneutiek sake wat ons kerke net nog verder gaan vernietig en beskadig as u op hierdie weg voortgaan.
Weereens: wat ‘n ‘betroubare woord’ is om deur alle gelowiges (en kerke) aangeneem behoort te word (dus aan te onderwerp vir ons ten goede tot eer van God en heil van die gemeente, maar tot ons kwade as ons dit verwerp!), is nie net 1 Tim. 1:15 nie (ons saligheid), maar ook 1 Tim. 3:1,2 wat geld vir wat volg (amps- of besondere dienste sake!), én, vir wat vooraf gestel word (1 Tim. 2:11-15). 1 Tim. 6:3-5 geld nie net vir 1 Tim. 1:15 nie, maar ook 1 Tim. 2 en 3. Dus ook ons dankbare gehoorsaamheidslewe, as vrug van ons verlossing, is wesentlik waarheidsaak en ononderhandelbaar, want Christus is ons ‘wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing’ ook vir ons kerke, tot sy roem en eer vir ons verlossing! (1 Kor. 1:30,31)
Die pleitdooi vir eenheid sal, moet en wil alle gelowiges ondersteun, Joh. 17, maar altyd ‘n eenheid in die Waarheid (sien Joh. 17:17), en deel van daardie waarheid is o.a. 1 Tim. 2 en 1 Kor. 14, Ef. 5:21-33; ens.
In my laaste opmerking (3b) gaan ek wys hoe die redakteur se hele “dit is nie ‘n belydenissaak nie” pleidooi heeltemal inmekaar val ook vanuit ‘n historiese punt, omdat hy en baie ander (deels ook weens swak formulering van rapporte en besluite!), dit heeltemal verkeerd verstaan en aanhou gebruik, wat nie tot heil van ons kerke is oppad na sinode 2026 nie…..
OPMERKING 3B: Die VIDA saak is ‘n Skrifsaak, en dus nog meer belangrik as ‘n ‘belydenissaak’
Die redakteur van Die Kerkblad skryf:
“Wat my tot groot rustigheid en dankbaarheid gestem het, was punt 10.16 van die gesamentlike rapport: Die verskil tussen die twee standpunte lê nie in verskil in Skrifbeskouing nie, maar op die vlak van eksegetiese sintese; die saak van VIDA is nie op sigself ’n belydenissaak nie; besluitneming hieroor behoort nie die eenheid van die kerke in gedrang te bring nie…. Maar kom ons wees geduldig en lankmoedig waar ons Belydenis nie op die spel is nie.”
Onderliggend aan die redakteur (en baie wat pro-VIDA is, en/of pro kom-ons-akkommodeer-VIDA- al-stem-ek-nie-daarmee-saam-nie) se hele artikel en pleitdooi, is nogsteeds (ongeag hoeveel keer dit weer en weer verduidelik is om dit reg te verstaan), die standpunt, dat ‘omdat’, volgens hulle, VIDA nie ‘n belydenissaak is nie, en sinode 2009 dit sogenaamd ‘besluit’ dat dit nie ‘n belydenissaak is nie (Sinode 2009, 10.16), daarom beteken dit nou dat VIDA aanhou geakkomodeer moet word en ons moet aanhou praat, dus praat hoe om alles en almal oor die saak te akkommodeer.
‘n Paar opmerkings daaroor:
i) Dit is insiggewend hoe, terwyl die Skrif self volgens sommige oor VIDA nou in ons tye so ‘vaag en onduidelik’ geword het …. hoe ‘duidelik’ vir sommige die sinodebesluite skielik geword het, veral sinode 2009 as dit by die ‘belydenissaak’ kwessie kom? Maar ja, ook net sekere sinode uitsprake en sekere besluite word as duidelik beskou, ander weer nie? (sal nie verbaas wees as sinode 2015/6 se ‘VIDA as ‘n wesentlike saak’ ook weer bevraagteken gaan word by sinode 2026, as ‘onduidelik’ nie?)
ii) Wat was sinode 2009 se presiese besluit oor VIDA as belydenissaak destyds (let wel, dit was voor 2015/6 wat in elk geval die finale uitspraak daaroor gegee het dat VIDA “volgens die Skrif” ‘n wesentlike saak is, wat deur die redakteur net heeltemal ge-ignoreer word in sy artikel oppad na sinode 2026?), en net na die “Manlik en Vroulik in die Kerk” konferensie en boek verskyn het in 2006. Hier is dit:
“10.16.2 Die saak van vroue in die besondere dienste al dan nie, is nie opsigself ‘n belydenissaak nie.
10.16.3 Om hierdie redes (vgl.10.16.1 en 10.16.2) behoort besluitneming hieroor nie die eenheid van die kerke in gedrang te bring nie.” (Acta 2009:664, 666)
Op bl. 666 van die Acta volg dan:
“12.10.3 Punt 10.16 (Aard van die verskil tussen die twee standpunte) – Kennis geneem
Besluit: Goedgekeur”
Let wel: Die uitspraak op bl. 664, dit is 10.16.2 en 10.16.3, word van ‘kennis geneem’ en as daar staan ‘goedgekeur’ is dit die ‘kennis geneem’ wat goedgekeur word, nié ‘n beginsel goedkeuring en aanvaarding van alles wat voorgegaan is in die studie en al die standpunte destyds netso nie, nl. albei is reg en Skriftuurlik en is nou die GKSA se amptelike standpunt nie. Dus ook nie dat 10.16.2 en 10.16.3 nou die amptelike standpunt van die GKSA is nie. Nee, daarvan is slegs ‘kennis geneem’, so ook die werk van albei rapporte, vir en teen VIDA. As 12.10.3 se punt 10.16 beteken het, albei is goed en reg en aanvaarbaar, sou die sinode albei standpunte moes aanvaar het, en nie eers daaroor gestem het nie, wat duidelik nie die geval was of bedoeling nie.
Om dit nog duideliker te stel, wys een van die skrywers van die boek ‘Manlik en Vroulik in die Kerk’, prof GJC Jordaan, wat ook die standpunt verteenwoordig van geen susters as predikante en ouderlinge nie, en wat daartoe gelei het dat sinode 2009 hul besluit teen VIDA geneem het, as volg:
“Kortom: Die boek Manlik en vroulik sê nie dat al die verstaansmoontlikhede wat voorgestel word waar of ewe waar is nie. Die boek sê ook nie dat kerke nou maar as gevolg van verskillende verstaansmoontlikhede in hierdie verband maar kan doen wat hulle wil nie. As kerke nogtans hierdie reaksie op die boek sou hê, sou die water inderdaad dieper wees as wat ons vermoed.
Daarom moet onderstreep word wat in 17.3.1 (p.202) van die Manlik en Vroulik geskryf is: “In hierdie studie word aanvaar dat God se Woord sy openbaring van die vasstaande, onveranderlike waarheid oor Homself, sy wil en ons verlossingsweg bevat. God weerspreek Homself nie in sy Woord nie, en gee daarom ook nie twee teenoorstaande ‘waarhede’ oor ’n saak nie.” Dit geld ook vir die waarheid wat God in sy Woord bekendmaak oor sy wil oor die rol van manlike en vroulike lidmate van sy kerk. Indien hierdie aanvaarde standpunt in Manlik en Vroulik nie duidelik genoeg na die lesers oorkom nie, roep ook hierdie saak om hersiening.”[1] (beklemtoning bygevoeg)
Hoekom luister die redakteur van Die Kerkblad (en ander wat soos hy maar elke sinode met dieselfde linies optrek, wat nie wil hoor nie?) nie na hierdie woorde wat al vir meer as ‘n dekade bekend is nie, ook nie na sinode 2015/6 se uitsprake wat dit late nog duideliker maak nie?
Ja, die bewoording en formulering van sinode 2009 (en baie ander sinodes!) kan verwarring veroorsaak (ek het 2009 ook dit eers nie behoorlik reg verstaan nie)[2], maar dit word alles opgeklaar deur die volgende te vermeld:
iii) Die sinode het destyds gesê die sinode besluit in die lig van die Skrif diakonesse ‘mag’, maar in die ‘lig van die Rapport’ dat vroue nie as ouderlinge/predikante mag dien nie. Ja, die Here weet waarom en hoekom daardie woorde verander is in 2009, dat laasgenoemde verander is van ‘in die lig van die Skrif’ na in die ‘lig van die Rapport’, so ek laat daar.
Hierdie verskillende woorde of frase by die twee ampte in 2009, is vreemd en verwarrend, maar selfs dan, as reg verstaan word soos dit oorspronklik bedoel is, is laasgenoemde woorde eintlik dan ook niks anders as:
“In die lig van die 2009 Rapport waarvoor gekies is SE SKRIFGRONDE mag vroue nie in die besondere dienste van ds/oudl verkies word nie.”
Dit word later by algemene sinode 2016 duideliker gestel (en tog weier sommige om dit nogsteeds te aanvaar, en word dit bloot ge-ignoreer in die redakteur se artikels oor die saak nou al vir jare…. ja, saam die Redakteur vra mens opnuut: hoekom word daar nie geluister nie?), waar daar wel duidelik gestel is hoe dit nog altyd verstaan is en moet word:
“Die Sinode het per implikasie ‘n duidelike besluit geneem. Deur sy besluit het hy vir die Skrifgetuienis (soos vervat in die Rapport) volgens die een standpunt gekies….. Die Sinode het op grond van die studie soos vervat in die Rapport, wat rus op die Skrif, besluit.” (Acta 2016: 132, 133, 4.2.5)
So, die misverstand met die verskillende terme sou beste opgelos gewees het, as beide se besluite reg of konsekwent geformuleer is met die woorde “in die lig van die Skrif” (en dus nie net by diakonesse nie), maar dit verander nie die wese van die saak dat die sinode wel volgens die Skrif (soos vervat in die Rapport in beide 2009 en 2016 dat dit ‘n wesentlike saak is) duidelik teen vroue as ds/oudl besluite geneem het nie.
So vind mens dit ook in ons belydenisskrifte, dieselfde gebruik van woorde en frases. Elke keer as die Sinode van Dordt (1618/9), op grond van die Skrif, die dwalinge van bv. arminianisme en ander dwalinge verwerp het, en gesê het: “Die Sinode verwerp, besluit, leer…”, is daarmee bedoel niks anders nie, as: “Die sinode het besluit ogv die Skrif…” of “Volgens die Skrif het die sinode besluit….”, ens.
iv) Drie gemeentes het in 2015 ‘n beswaarskrif ingedien, wat in elkgeval aangetoon het dat VIDA ‘n belydenissaak is, volgens NGB artikel 30. Ek plaas dit hier onder vir kennisname. Die beswaarskrif is ongelukkig onontvanklik verklaar, wat jammer is, want dit kon dalk baie misverstand sedert 2009 help opklaar het, maar ek vermoed, en praat uit onkunde, dat die rede vir die onontvanklikheid was juis die punt dat sinode 2009 het slegs ‘kennis geneem’ van 10.16.2 en 10.16.3, en dit nie as amptelike standpunt van die GKSA in sinode 2009 aanvaar nie, en dit geld ook nie vir vandag nie, dus ook nie vir 2026 nie, en daarom was die beswaarskrif nie nodig nie?
Konklusie
En daarom, beteken dit ook dat die redakteur van Die Kerkblad se hoofargument in sy Des/Jan artikel nie slaag nie, en moet hy en ander wat VIDA wil akkommodeer baie onrustig wees in hul aanslag teen wat die Skrif duidelik leer oor Christus se kerkregering, sy gesag en ons dankbare gehoorsaamheid daaraan.
So, aan die eenkant, as mense aanhou wil redeneer, VIDA is nie ‘n ‘belydenissaak’ nie, want sinode 2009 het so ‘besluit’ (reg verstaan of nie), dan neem dit nog nie weg dat sinode 2015/6 duidelik gewys en besluit het op die regte verstaan van die hele saak sedert 2009 tot vandag toe:
- dit is ‘n wesentlike saak, eenheidswaarheid, belangrike, ernstige saak, en
- dan die heel belangrikste, waarin elke ‘ernstige’ en ‘wesentlike’ saak asook elke ‘belydenissaak’ tog gegrond is, nl. dit is ‘n Skrifsaak, die finale en hoogste gesag van ons leer en lewe, van die GKSA se ‘leer, diens en tug’, soos dit in hierdie woorde saamgevat word:
“Die Sinode het per implikasie ‘n duidelike besluit geneem. Deur sy besluit het hy vir die Skrifgetuienis (soos vervat in die Rapport) volgens die een standpunt gekies….. Die Sinode het op grond van die studie soos vervat in die Rapport, wat rus op die Skrif, besluit.” (Acta 2016: 132, 133, 4.2.5)
En dit is mos ook wat ons volgens die Skrif, oor die Skrif spreek, wat die finale absolute onfeilbare gesag is oor alle sake, verlossingsake, maar ook eredienssake, ook kerkregering sake, in kort, leer én lewe:
“… Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: ‘…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is’ (1 Joh. 4: 1), en: ‘As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…’ (2 Joh. :10).”
Ja, ons verwerp VIDA omdat dit uit die tydsgees kom, nie uit God se Gees nie, ons verwerp dit met ons hele hart as kerke omdat dit nie met ‘hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie’, en, dit ook nie bloot in (valse) ‘vrede’ bygevoeg word by die ware kerkregering van die Here, as bloot net nog ‘n ‘keuse of alternatief’ nie (NGB art. 7, sien ook art. 30-32)
Om die woorde van die redakteur self te gebruik in sy Kerkblad artikel hierbo, wat hy in sy slotparagraaf vermeld, “Dis immers wat ons met mekaar afgespreek het”, nl. Heilige Gees het ons deur die “geopenbaarde waarheid” van die Skrif gelei om te bly by wat die Koning van die Kerk besluit en geopenbaar het vir sy kerkregering, en ons is daarmee tevrede , in o.a. 1 Kor. 14:33-40; 1 Tim. 2 en 3, Titus 1, ens. Bly by wat jy geleer is.
Mag alle eiewillige en eie-voorkeure en ‘kampe’ onvoorwaardelik in dankbaarheid voor die Koning van die Kerk, van alle ware eenheid in Waarheid (Joh. 17) buig, in ons komende sinode 2026. Ja, mag ons saam na die Woord luister (Matt. 4:4; Hand. 17:11; 2 Tim. 2:15) en dan ja, dan sal en wil ons na mekaar ook luister, as ons ons Herder se stem so ook hoor (Joh. 10:27), en ja, nie net vir ‘verlossingsake’ nie, maar vir ons ganse lewe, dus ook ‘eredienssake’ en ‘kerkregeringsake, alles tot sy eer alleen (Rom. 11:36).
Mag ons Here ons almal daartoe genadig wees, ook by sinode 2026, DV.
_______________________________________
BESWAARSKRIF VAN GEREFORMEERDE KERKE CARLETONVILLE, BET-EL EN PRETORIA-MEINTJESKOP OOR DIE BESLUIT VAN SINODE 2009 – VROUE IN DIE BESONDERE DIENSTE
1 Besluit waarteen beswaar gemaak word
Daar word beswaar gemaak teen die volgende aspekte van die besluit, naamlik:
“10.16.2 Die saak van vroue in die besondere dienste al dan nie, is nie opsigself ‘n belydenissaak nie.
10.16.3 Om hierdie redes (vgl.10.16.1 en 10.16.2) behoort besluitneming hieroor nie die eenheid van die kerke in gedrang te bring nie.” (Acta 2009:664,666)
2 Beswaargrond
Die saak van vroue in die besondere dienste al dan nie, is ‘n belydenissaak, en daarom bring dit die eenheid van die kerke in gedrang.
3 Motivering
3.1 In die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 30 bely ons as volg oor ‘Die Regering van die Kerk’:
Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons in die Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar is naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom hou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus gee (1Tim 3). 1Kor 4:1-2; 2Kor 5:19; Joh 20:23; Hand 26:18; 1Kor 15:10; Mat 5:14; Luk 10:16; Gal 2:8; Tit 1:5; 1Tim 3.[3]
Dit gaan in die besonder oor die frase “betroubare persone”, in die laaste sin, wat bepaal word deur die voorskrifte wat die apostel Paulus in die brief Timoteus gee.[4]
Die voorskrifte in die brief aan Timoteus wat as skriftuurlike begronding van NGB artikel 30 dien, en wat die onderwerp van vroue in die besondere dienste aanraak, is as volg:
3.1.1 11 Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. 12 Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. (1 Tim. 2:11,12)
3.1.2 ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou – 1 Tim. 3:2
3.1.3 een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. – 1 Tim. 3:4
3.1.3 Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer. – 1 Tim. 3:12 (Ef. 5:22-32; sien 1 Tim. 1:3)
3.1.4 Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. – 1 Tim. 5:17
Eerstens, die belydenis se begronding in die Skrif (“… ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus gee”, (1 Tim. 3), dui duidelik daarop dat hierdie ‘betroubare persone’ (Frans: personnages) [5] van NGB artikel 30 ‘mans’ moet wees (Grieks: anér = ‘man’, sien 1 Tim.3:2,12), en,
Tweedens, dui die oorspronklike Latyn (viri fideles = betroubare mans) duidelik daarop dat dit ‘mans’ (viri) moet wees. Die Latynse woord ‘vir’ (man) word eksplisiet gekies (en nie ‘homina’, mens, of ‘femina’, vrou, nie).[6]
Dus, die skriftuurlike, teologiese en historiese konteks van NGB artikel 30 wys daarop dat ampsdraers betroubare ‘mans’ moet wees, en nie ‘vrouens’ nie, en dat geslagtelikheid daarom ‘n duidelike rol speel in die verkiesing van ampsdraers.[7]
Implikasie: sou die Sinode oorweeg om die geslagtelikheid van NGB artikel 30 te verander, dan beteken dit die geslagtelikheid van die Timoteus briewe waarin NGB artikel 30 begrond is, ook verander of verwyder moet word, wat natuurlik in stryd sou wees met die oorspronklike Grieks.
4 Gevolgtrekking
Vroue in die besondere dienste is in stryd met wat ons bely in NGB artikel 30 volgens die Skrif. Volgens NGB artikel 30 kan “alles in die kerk” nie “behoorlik en ordelik geskied” wanneer van “die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus gee”, afgewyk word nie.
Gevolglik sal vroue in die besondere dienste daartoe lei dat die eenheid van die kerke in gedrang gebring word, aangesien kerke wat wil bly by die Heilige Skrif soos verwoord in ons Belydenis, nie meer aan meerdere vergaderings sal kan deelneem waar afgewyk word van die Heilige Skrif se voorskrifte nie.
5 Aanbeveling
Die Gereformeerde Kerke Carletonville, Bet-el en Pretoria-Meintjeskop versoek die Sinode om Sinode 2009 se 10.16.2 en 10.16.3 (Acta 2009:664,666) te herroep en te vervang met die volgende bewoording:
Die saak van vroue in die besondere dienste al dan nie, is ‘n belydenissaak, en daarom sal besluitneming hieroor wel die eenheid van die kerke in gedrang bring.
_________________
[1] https://proregno.com/wp-content/uploads/2012/01/manlik-en-vroulik-in-die-kerk-colloquium-ssb.pdf
[2] https://proregno.com/2010/11/22/vida-kategismus/
[3] Sien die volgende twee bronne oor die oorspronklike uitgawes van die Nederlandse Geloofsbelydenis: Philip Schaff (ed.), The Creeds of Christendom, vol.1 (Grand Rapids, MI: Baker, 1998), p.502-507; J.H. Bakhuizen van den Brink (samesteller), De Nederlandsche Belijdenisgeschriften (Amsterdam: Uitgeversmaatschappij Nederland, 1940), p.11-24.
[4] “In zijn Institusie merkt Calvijn op: Hoedanige opzieners men behoort te verkiezen, zet Paulus op twee plaatsen (Tit.1:7, 1 Tim.3:1ev) uitvoerig uiteen” (ADR Polman, Onze Geloofsbelijdenis: Verklaard uit het verleden geconfronteerd met het heden, vierde deel, Franeker: T. Wever, bl.30).
“De z.g. pastoraal brieven, die aan Timoteus en Titus, bevatten al de voorschriften, waaraan de herder en leraar, in navolging van Paulus en de ander apostelen, zich heeft te houden” (W.H. Gispen, De Geloofsbelijdenis der Nederlandsche Gereformeerde Kerken, Kampen: Kok, p.206).
[5] Volgens die oorspronklike tekste dui ‘betroubare persone ‘ op ‘betroubare manne’. Die oorspronklike Franse woord ‘personnage’ (personnages [manlik]… fideles) fokus nie op die ‘geslagtelikheid’ noodwendig nie, maar op die ‘karakter’ van die ampsdraers (soos artikel 30 ook uitwys met die woord ‘betroubare’). Die geslag van die naamwoord is dus nie alleen deurslaggewend opsigself nie.
[6] Ds. Daniel Hyde van die United Reformed Churches in Northern America (URCNA) se verklaring by artikel 30 is as volg: “Before moving on in our exposition, it should be noted well that the Confession speaks of the offices of pastor, elder, and deacon as being filled by “faithful men.” Not only is the noun in the French text, personnage, masculine, but also the noun in the Latin text is even more explicit, viri, which is the word for a man. This is the confessional position, which the Form for the Ordination of Elders and Deacons clearly states in the exposition of the office of deacon. The Form says because the apostles were overburdened, “certain men were chosen,” as the text of Acts 6 makes clear. The Confession and the Form follow the basic biblical texts. In Acts 6:3 the word that is used for the men who were chosen to serve focuses on the idea of male, rather than the generic man. Paul says in 1 Timothy 3:12 that the deacon “must be the husband of but one wife” and also refers to “their wives” in verse 11. Further, 1 Timothy 2:12 teaches that a woman cannot be an office bearer since she cannot teach or have authority over a man. There were, of course, many women in the New Testament churches that served the Lord in the setting of the church. Phoebe is one of these. She is called “our sister . . . a servant (diakonos) of the church in Cenchrea” (Romans 16:1). Tabitha, also called Dorcas, is called “a disciple . . . who was always doing good and helping the poor” (Acts 9:36). In Ephesus, and perhaps in other churches, there was a “list of widows” of those who were over sixty years old and devoted themselves “to all kind of good deeds” (I Timothy 5:9–10)” (With Heart and Mouth: An Exposition of the Belgic Confession, Grandville MI: Reformed Fellowship, pp.409,410).
[7] Calvyn skryf: “Christus se woorde is trouens duidelik: ‘Gaan, leer al die nasies en doop’. Omdat Hy dieselfde mense as verkondigers van die evangelie en as bedienaars van die doop aangestel het, en niemand in die kerk behalwe een wat daartoe geroep is soos Aäron, volgens die getuienis van die apostel, homself hierdie eer mag toe-eien nie, maak iemand wat sonder ’n wettige roeping die doop bedien, inbreuk op ’n ander se amp. Paulus roep duidelik uit dat alles wat ons met ’n twyfelagtige gewete aanpak, selfs in die geringste dingetjies, soos in kos en drank, sonde is. Gevolglik word daar in die geval van doopbediening deur ’n vrou baie swaarder gesondig terwyl die reël wat deur Christus gegee is, openlik daardeur geskend word. Ons weet immers dat dit sonde is om dit wat God saamgevoeg het, uitmekaar te skeur.” (Oorgeneem uit: Calvyn, J., Simpson, H., vertaal deur, & Brink C.M.M., t. (1998, c1991). Institusie van die Christelike godsdiens. In Volume 1 & 2 het L.F. Schulze ook gehelp met vertaling. (electronic ed.) (IV, xv, 20). Potchefstroom: Calvyn-Jubileum boekefonds: deel 4, hoofstuk 15, nr.20-22 (bl.1628-1631).
BOEKBEKENDSTELLING:
Dopper Kerke – Quo Vadis in 2026?

“EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:13–18)
Inhoud:
1. Die Huidige Krisis in die GKSA
2. Die historiese agtergrond
a. 1652 – 1800: een enkel Gereformeerde Kerk
b. 1800 – 1859: Die ontstaan van die drie ‘susterskerke’
c. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (1843)
d. Die Nederduits Hervormde Kerk (1853)
e. Die Doppers
f. Die Gereformeerde Kerk (1859)
3. Was dit geregverdig?
4. Hoekom het die Doppers die gesange verwerp?
5. Die deformasie in die GKSA: Sinodes van 1939, 1985, 2003
6. Vandag
7. Die Toekoms
8. Sal ‘n daadwerklike skeuring gekeer kan word?
9. Waarin lê ons Hoop?
BYLAAG: ‘n Opebrief aan die redakteur van Die Kerkblad en prof. Amie van Wyk
R50-00 per boekie
BESTEL BY PRO REGNO BOEKE: 082 7702669 of proregno@gmail.com
INLEIDING
Die artikels wat in hierdie publikasie saamgevoeg is, het oorspronklik in die Standard Bearer verskyn (kerklike tydskrif van die Protestant Reformed Churches of America, vol. 80, nrs. 13, 14, 16 (April-Mei 2004).
Dit is in Afrikaans vertaal deur Hannes van Heerden (Diamantvallei Gereformeerde Gemeente). Die skrywer het die terugvoer wat hy ontvang het in hierdie Afrikaanse uitgawe verwerk, waar dit nodig geag is. Heelwat jare het verloop, ek het hier en daar inligting verwerk, aangepas en verder bygewerk (sien veral ook die voetnotas vir nuwe inligting en verloop van sake), maar die wese van die oorspronklike artikels is nog dieselfde. Ek behou ook ouer inligting en sake nogsteeds in die teks vir historiese doeleindes, al het daar al verdere veranderinge en ontwikkelinge plaasgevind tot en met die einde van die jaar 2025 van ons Here Jesus Christus.
Mag hierdie klein bydrae tot ons kerke se geskiedenis van die verlede en hede, vandag se dopper gelowiges help om die volgende woorde in nederigheid van harte na te jaag ook in ons eie tye, tot eer van ons Here en die heil van sy kerke wat saam vergader in die GKSA kerkverband en ander kerkverbande:
“Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie.” (Hebr. 13:7–9)
Slabbert Le Cornu
Carletonville – November 2025
‘n Paar aanhalings uit die publikasie:
“Dit was dan juis presies hierdie twee sake wat Calvyn beklemtoon het, die leer van verlossing én die suiwer erediens, wat bewustelik of onbewustelik op die spel was vir die Dopper gereformeerdes in 1859. In die afvallige kerke van die Kaap, en later in die Vrystaat en die Transvaal, was die leer van die soewereine beskikking van God, sy soewereine genade en uitverkiesing, sy suiwer Evangelie; én, God se soewereine reg om aanbid te word soos wat Hy beveel (en nie volgens die vrysinnigheid van die liberalisme of emosionalisme van die metodisme nie), in gedrang. Beide leringe, redding én die erediens, was die meeste aangeval deur die ingebruikneming van die sogenaamde evangeliese Gesange. En, in elke kerklike stryd, in alle leer, erediens en kerkregeringsake, moet opnuut hierdie twee sake erken en besef word vir bekering en verdere reformasie ook vir ons eie tye, in die goeie stryd wat ons ook vandag moet stry en aanhou stryd tot die einde toe (1 Tim. 6:12; 2 Tim. 4:7).” – S. Le Cornu
“Dit beteken dat ons tans by die grootste meningverskil van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in sy 144-jarige bestaan uitgekom het. Die meningsverskil is onweerlegbaar, maar ons bede is dat die Here ons van ʼn skeuring sal bewaar.” – Emeritus professor Amie (JH) van Wyk, redakteur van Die Kerkblad, die amptelike kerkblad van die GKSA, in die Desember 2003 uitgawe
In die heel eerste uitgawe van Die Kerkblad na die Sinode (29 Januarie, 2003), het die vorige (uitgaande) redakteur, Prof. GJC Jordaan (professor in NT, by die GKSA teologiese skool, TSP) gewaarsku teen die moontlike nuwe rigting van die GKSA. Hy het tereg genoem dat ons van die Skrif moet gaan na die praktyk en nie van die Praktyk na die Skrif nie. Hy het hierdeur in soveel woorde geïmpliseer dat die huidige krisis in die GKSA teruggebring kan word na verskillende Skrifbeskouings. Histories het die GKSA nog altyd sterk gestaan by wat genoem word openbaringshistoriese of heilshistoriese prediking, en dit blyk nou dat dit besig is om deur ʼn nuwe hermeneutiek vervang te word, of dat dit ten minste ʼn staanplek naas dit verkry, ʼn benadering wat genoem word ʼn sosio-historiese soort van prediking en verstaan van die Skrif. Prof. Jordaan het verder gewaarsku teen die moontlike ekumeniese implikasies van die besluite van die Sinode van 2003. Hierdie besluite kan die kerk teruglei na die NG Kerk in Suid Afrika, die Christelik Gereformeerde Kerk in Noord Amerika en selfs heeltemal terug na die Gereformeerde Kerken in Nederland (waarmee die GKSA reeds bande gebreek het in die 1970’s, vanweë hulle ‘nuwere Skrifbeskouing’ wat gelei het tot liberalisme na VIDA, en daarna homoseksualisme). …
En nou, terwyl ek hierdie byvoeging skryf in November 2025, is (prof. Amie van Wyk) se waarskuwende woorde nog meer relevant, maar dan veral vir gemeentes wat weier om te bekeer en hul te onderwerp aan die Here se wil aangaande die kerkregering, en daarom as’t ware ‘n ‘amptelike’ skeuring op die GKSA wil afdwing by sinode 2026. Die GKSA het ‘n amptelike groot skeuring oor die vertaling-, nagmaal-, NGK samewerking-, rusdag-, Cloeteberyming, ens. kwessies alles oorleef, ongeag dat sommige (insluitende myself!) meen dat in baie van hierdie sake reeds goeie bybelse en konfessionele gronde was en is om af te skei, verder te bekeer en reformeer tot eer van God en die heil van ons kerke! Gaan die GKSA oor die VIDA kwessie, ‘n verdere of amptelike skeuring kan vermy, en sommige sal vra: om juis tot eer van God en die heil van ons kerke, mag ons dit probeer vermy?” – ds. S. Le Cornu, Gereformeerde Kerk Carletonville
R50-00 per boekie
BESTEL BY PRO REGNO BOEKE: 082 7702669 of proregno@gmail.com
_____________________
ANDER BOEKE BESKIKBAAR BY:
https://proregno.com/category/pro-regno-boeke-te-koop/

Beste Slabbert
Jou kommentaar oor Die Kerkblad se onlangse redaksionele artikel het betrekking. Baie dankie daarvoor.
Ek stem saam dat die pro-VIDA Gereformeerdes die GKSA voor ‘n kruispad plaas. Ons moet kies of ons ons Skrifbeskouing, soos ons dit bely in NGB art 2 tot 7, gaan handhaaf, of nie.
Die Skrifbeskouing in NGB art 2 tot 7 bely duidelik en onteenseglik dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is.
Art 2:
God maak Homself in die Bybel aan ons bekend.
Art 3:
Die Bybel is in die eerste plek van God die Heilige Gees afkomstig, nie van mense nie.
Art 4:
Die Bybel bestaan Woord vir Woord uit die ses en sestig kanonieke boeke. (‘Waar niks teen gese kan word nie’). ‘Ons glo sonder enige twyfel ALLES wat daarin vervat is’ (Art 5).
Art5:
Die Heilige Gees Self bring ons, deur sy genade alleen, tot die gelowige oortuiging dat al hierdie boeke ‘van God’ is.
Art 6:
Die apokriewe boeke besit geensins die krag of gesag om iets tot die inhoud van ons geloof te voeg nie.
Art 7:
Slegs die Bybel vorm die enigste hoogste gesag in ons lewe: Sola Scriptura.
Hiervolgens IS die Bybel die onfeilbare Woord van God.
Die afvallige siening onder miljoene gelowiges en gewese gelowiges is, daarenteen, dat die Bybel ‘n feilbare, menslike WEERGAWE is van die onfeilbare Woord van God.
As ons tot die smartlike oortuiging kom dat die gemeentes (kerke) in die komende Sinode in Januarie 2026 van NGB art 2 tot 7 afgewyk het, sal ons wat hierdie belydenis handhaaf, geen ander keuse het om ons van die GKSA af te skei nie.
Die pad van die wereldwye afval onder gelowiges en gewese gelowiges is hier aan die einde van 2025 vir ons baie goed bekend.
Die vrou word as ouderling aanvaar.
Die historisiteit van Genesis 1 tot 11 word betwyfel, of daar word ‘ruimte’ verskaf aan lidmate wat dit betwyfel. Was daar ‘n werklike Adam en Eva?, ensovoorts.
Die historisiteit of egtheid van die wonders in die Ou Testament en Nuwe Testament word betwyfel, of daar word ruimte verskaf om dit te betwyfel.
Die historisiteit van Christus se vleeswording (maagdelike geboorte, soos bely in die Twaalf Artikels) word betwyfel of daar word ruimte verskaf aan lidmate om dit te betwyfel.
Dieselfde geld vir die liggaamlike opstanding van Christus uit die dood.
Dieselfde geld vir die liggaamlike wederkoms van Christus, en die opwekking van die dode, soos bely in die Twaalf Artikels.
Ons is nie bereid om hierdie pad saam met afvallige gelowiges of gewese gelowiges te loop nie.
Mag die Here ons help om aan Hom en sy Woord getrou te bly!
En mag die Here, op ons gebede, beskik dat die Sinode van Jan 2026 die Skriftuurlike besluite van die Sinodes van 2016 en 2018 finaal sal bevestig! Want dan hoef hierdie ramp nie plaas te vind nie!