WAT HET DIE GKSA SINODE (2009) BESLUIT OOR
DIE VROU IN DIE BESONDERE AMPTE ?
[Byvoeging: ek los ondergenoemde soos ek dit verduidelik het, ek meen die besluit kon duideliker geformuleer gewees het, maar verduidelik hier ook nou hoe ek dit verstaan deur die saak verder te ondersoek:
Die beswaardes het ‘n klein puntjie, myns insiens beet, en dit gaan oor die bewoording van 2009 se besluit. Die vreemdheid van die bewoording daarvan, het ek destyds in my Vida Kategismus uiteengesit (sien hier onder)
Die sinode het destyds gesê die sinode besluit in die lig vd Skrif diakonesse ‘mag’, maar in die ‘lig van die Rapport’ dat vroue nie as ouderlinge/predikante mag dien nie.
Hierdie woorde verskil is vreemd en nie goed nie (soos ek in VK hier onder aandui), maar reg verstaan bedoel laasgenoemde woorde eintlik dan niks anders as:
“In die lig van die Rapport SE SKRIFGRONDE volgens die standpunt dat vroue nie in die besondere dienste mag dien nie”, mag vroue nie as ds/oudl verkies word nie.
Dit word later by algemene sinode 2016 duideliker gestel, waar daar wel besluit is:
“Die Sinode het op grond van die studie soos vervat in die Rapport, wat rus op die Skrif, besluit.” (Acta 2016: 133, 4.2.5)
So, die probleem sou opgelos gewees het, as beide se besluite geformuleer is met die woorde “in die lig van die Skrif”, nie net by diakonesse nie, maar dit verander nie die wese van die saak dat die sinode wel volgens die Skrif (soos vervat in die Rapport) in beide 2009 en 2016 duidelik teen vroue as ds/oudl besluite geneem het nie.]
VIDA KATEGISMUS
Vraag 1: Waar kan ek lees van die GKSA se besluit oor die vroue in die ampte ?
Antwoord: In die Handelinge van Sinode 2009, bl.664-669
Vraag 2: Waar is dit beskikbaar ?
Antwoord: Hier, let veral op 10.16, 4.2 en bl.668/9: https://proregno.files.wordpress.com/2010/11/gksa-sinode-2009-besluit-oor-vida.pdf
Vraag 3: Wat het die GKSA besluit oor die vrou in die amp van diaken ?
Antwoord: Op bl.668 word die besluit oor diakens soos volg geformuleer (beklemtonings bygevoeg):
“Susters kan in die diakensamp dien. Sinode 2009 het ‘n Beswaarskrif gehandhaaf wat daartoe gelei het dat die besluit van Sinode 2003 herstel is. Hierdie besluit lui soos volg: “Die Sinode keur in die lig van die Skrif goed dat vroue wat die nodige gawes het as diakens in die GKSA verkies en bevestig kan word.”
Vraag 4: Wat het die GKSA besluit oor die vrou in die amp van ouderling en predikant ?
Antwoord: Op bl.668/9 lees ons daarvan as volg:
“Tydens die voortsetting van die Sinode is ‘n diepgaande Rapport hanteer oor die vraag of susters as ouderlinge en predikante kan dien. In hierdie Rapport is aandag gegee aan onder andere besluite wat reeds tydens Sinode 2003 geneem is, tersaaklike kerkregtelike, historiese, Skrifbeskoulike en hermeneutiese vertrekpunte. Uitgaande van hierdie vertrekpunte is verskillende relevante Skrifgedeeltes hanteer. Die Sinode het vir bykans twee dae broederlik met mekaar gepraat en biddend geluister na die Woord van ons Here. Daar het verskillende standpunte na vore gekom wat biddend oorweeg is. Uiteindelik is die volgende besluit geneem: “Die Sinode het in die lig van die behandeling van die Rapport tot die oortuiging gekom dat vroue nie in die besondere dienste van predikant en ouderling mag dien nie.”
Vraag 5: Hoekom word die diakenbesluit beskryf as ‘in die lig van die Skrif’ geneem, maar die ouderling/predikant besluit word beskryf as ‘in die lig van die Rapport’ ?
Antwoord: Om die antwoord op hierdie bewoording te kry, moet die Rapport gelees word.
Vraag 6: Die Sondag Rapport ?
Antwoord: Nee, die Rapport wat gegee word op bl.583-664 van Handelinge 2009.
Vraag 7: Wat is die samevattende gevolgtrekking van die Rapport ?
Antwoord: Dit lees ons op bl.664 onder 10.15 en weer saamgevat en aangepas in 4.2 op bladsy 667. Dit lui as volg (beklemtonings is bygevoeg):
“Die Sinode stem aan die hand van die volgende veranderde bewoording van pt 10.15 en 12.10.2 van die Rapport:
Die Sinode het in die lig van die behandeling van die Rapport tot die oortuiging gekom:
– dat vroue in die besondere dienste van predikante en ouderling mag dien
OF
– dat vroue nie in die besondere dienste van predikante en ouderling mag dien nie.
Besluit: Pte 4.1-4.3 word goedgekeur.
Besluit: Die vergadering besluit volgens die goedgekeurde aanbeveling, pt 4.2, dat vroue nie in die besondere dienste van predikante en ouderlinge mag dien nie.”
Vraag 8: Nou wat beteken die ‘of’ van hierdie twee standpunte in 4.2 ?
Antwoord: Die ‘of’ van 4.2 tussen hierdie twee uiteenlopende standpunte, beteken of ‘n ‘of’ van sintese/gelykstelling, d.w.s. altwee opsies is reg en aanvaarbaar volgens die Skrif, die Sinode moet nou kies/stem vir een van die twee ‘owwe’;
of dit is ‘n ‘of’ van antitese/teenstelling, d.w.s. die een standpunt staan teenoor die ander een, daarom is ‘of’ die een reg, ‘of’ die ander, maar altwee kan nie gelyk waar en reg wees nie.
Vraag 9: Maar hoe weet ons nou watter ‘of’ die Sinode voor gekies het ?
Antwoord: Om daardie antwoord te kry, moet jy 10.16 op bl.664 lees, wat handel oor die ‘aard van die verskil tussen die twee standpunte’.
Vraag 10: Wat staan daar in 10.16 ?
Antwoord: By 10.16 lees ons die volgende:
“10.16.1 Die twee standpunte soos uiteengesit in hierdie rapport rus op die Skrifbeskoulike en hermeneutiese vertrekpunte ooreenkomstig die leer van die kerk soos uiteengesit in punte 6 en 7. Die verskil tussen die twee standpunte lê op die vlak van eksegetiese sintese.
10.16.2 Die saak van vroue in die besondere dienste al dan nie, is nie opsigself n belydenissaak nie.
10.16.3 Om hierdie redes (vgl. 10.16.1 en 10.16.2) behoort besluitneming hieroor nie die eenheid van die kerke in gedrang te bring nie.”
Vraag 11: Is 10.16 goedgekeur deur die Sinode ?
Antwoord: Ja, by 12.10.3 in die Handelinge op bl.666, staan daar “Punt 10.16 (Aard van die verskil die twee standpunte) – ‘Kennis geneem’. Besluit: goedgekeur’.
Vraag 12: Wat is die implikasies van die goedgekeurde besluit van 10.16 ?
Antwoord: Wat 10.16.1 betref, dat die Skrif teenstrydige weersprekende waarhede leer, naamlik dat die Skrif leer dat die vrou wel ‘n predikant en ouderling kan wees, en tegelykertyd dit nie kan wees nie.
Vraag 13: Ek verstaan dit nie ?
Antwoord: Ek ook nie.
Vraag 14: Wat van 10.16.2 ?
Antwoord: Die Sinode leer dat die Kerk van Christus vir 2000 jaar lank verkeerd was deur die vrou in die amp as ‘n wesentlike belydenissaak te beskou, d.w.s. nie ‘n middelmatige saak nie.
Vraag 15: Is die vrou in die amp ‘n belydenissaak ?
Antwoord: Ja, dit raak die wese van ons eenheid in leer, diens en kerkregering. NGB artikel 30 bedoel ‘betroubare mans’ wat as herders, ouderlinge en diakens verkies moet word.
Vraag 16: Waar kan ek meer lees oor die geslagtlikheid van art.30 NGB ?
Antwoord: Hier
Vraag 17: Wat is die implikasie van 10.16.3 ?
Antwoord: Die Sinode sê by implikasie dat enige gemeente of lidmaat wat die kerkverband verlaat oor die vrou in die besondere amp, skuldig gaan wees aan kerkskeuring, want vrou in die besondere amp (volgens die Sinode), is nie ‘belydenissake’ nie, maar middelmatige sake wat nie die eenheid van die kerk in gedrang behoort te bring nie.
Vraag 18: Samevattend in die lig van die vrae en antwoorde hierbo, wat leer die GKSA se Sinode dus oor die vrou in die besondere ampte ?
Antwoord: Aangesien die Sinode se ‘of’ by 4.2. ‘n ‘of’ van gelykstelling is en nie teenstelling nie, en dat die saak ‘n middelmatige saak is (10.16.1), beteken die GKSA het in beginsel ‘volgens die Skrif’ reeds besluit dat vroue wel in al die besondere ampte kan dien, ook dié van predikant en ouderling.
Vraag 19: Ja, maar het die Sinode dan nie besluit vroue ‘mag (nie) dien’ as predikante en ouderlinge nie.
Antwoord: Ja, die besluit is geneem, maar nie omdat (volgens die Sinode) die Skrif duidelik leer dit mag nie, maar omdat deur demokrasie die meerderheid in Julie 2009 besluit het om te kies vir die tweede opsie. Dit beteken, soos die voorsitter ook verduidelik het na die Sinode, dit is vir ‘nou’ waar, maar nie vir altyd nie, dit kan weer verander word deur weer daaroor in die toekoms te stem.
Vraag 20: Is gemeentes wat dus vroue as ouderlinge bevestig in stryd met die Skrif volgens die Sinode ?
Antwoord: Nee, die gemeentes Kaapstad, Linden en Wapadrant se ‘sonde’ is nie dat hul die Skrif verwerp in hierdie saak nie (Sinode het dan reeds besluit altwee standpunte is Skriftuurlik en in lyn met gereformeerde ‘hermeneutiese vertrekpunte’, sien 10.16.1).
Vraag 21: Nou waarmee is hierdie gemeentes in stryd ?
Antwoord: Hulle is volgens die Sinode nie in stryd met die Skrif nie, maar in stryd met die sinode se demokratiese besluit en ‘onderlinge afspraak’.
Vraag 22: Is daar enige verdere implikasies van die Sinode se besluite ?
Antwoord: Ja, nie hierdie 3 gemeentes wat ‘buite orde’ optree nie, maar daardie kerkrade en lidmate wat hierdie 3 gemeentes sterk aanspreek in die lig van die Skrif, belydenis en kerkorde, is volgens 10.16, skuldig daaraan dat hul die ‘eenheid van die kerke’ versteur, omdat hul onsteld is oor ‘n saak wat nie eintlik ‘n ‘belydenissaak’ saak is nie.
Vraag 23: Wat kan gelowiges nou doen wat nie met hierdie besluite van die Sinode saamstem nie?
Antwoord: Die gereformeerd-presbiteriale kerkregering werk so: 1. Volg die weg van beswaarskrif deur die meerdere vergaderings 2. Terwyl hierdie proses aan die gang is (wat jare/dekades kan duur, en deur sommiges die ‘hopelose weg’ genoem word), mag jy nie teen die Sinode se standpunte in die openbaar te velde trek nie 3. Indien die meerdere vergaderings jou nie gelyk gee nie, bepaal of die saak wesentlik of middelmatig is. 4. As dit laasgenoemde is (en jou gewete word nie gebind om dit uit te voer nie), aanvaar jy die besluit en gaan rustig voort in die kerkverband.
Vraag 24: En as jy glo dit is ‘n wesentlike saak wat die eenheid van die kerk van Christus raak ?
Antwoord: Dan moet jy uit die kerkverband uittree en gemeente(s) en kerkverbande opsoek wat die eenheid van leer, diens en kerkregering wil vashou in hierdie saak.
Vraag 25: Is daar enige kerkordelike lig wat die Skrif ons gee oor hierdie saak ?
Antwoord: Ja, sien 1 Kor.14:26-40.
Vraag 26: En wat is die lig ?
Antwoord: Die bevel dat die vrou nie mag leer nie, v.34 (sien ook 1 Tim.2:10-12), geld nie net vir ‘n plaaslike gemeente nie, maar vir al die gemeentes, v.36, d.w.s. vir die hele kerkverband. Kerklike eenheid en orde, v.40 word gedien deur te bly by God se duidelike bevel oor die vrou in die amp vir al die gemeentes, en so ook oor enige ander leerstuk. As elke gemeente kan besluit en doen wat hy wil, eindig dit in wanorde en kerklike chaos.
Vraag 27: Wat is die teologiese implikasies van Sinode 2009 se besluite ?
Antwoord: Die duidelike ‘bevele van die Here’, v.37 word verwerp deur die Sinode, en daar word by implikasie geleer, met die aanvaarding van twee teenstrydige standpunte (4.2), dat God ‘n God van wanorde is … Hy weerspreek Homself. Vir een gemeente sê Hy dit is sonde om vroue in die besondere ampte te bevestig … en vir ‘n ander dit is sonde om nie vrouens in die amp te bevestig nie !
Vraag 28: Is wanorde dan so sleg ?
Antwoord: Ja, wanorde is om ‘n ander weg in te slaan as die weg van die Here, dit is rebellie, openlike opstand, oortreding en uitdaging van die enigste Koning van die Kerk, Jesus Christus se gesag (die Griekse woorde vir ‘wanorde’, v.33, akatastasia, volgens die woordeboeke, beteken rebellie, om in openlike opstand te wees teen gesag, met die doel om die gesag om ver te werp en af te skud).
Vraag 29: Wat kan ons nog leer uit 1 Kor.14:33-40
Antwoord: Sien hier.
Vraag 30: Wat gaan die gevolg wees van hierdie teenstrydige teologie en kerkregering ?
Antwoord: Ons beleef dit reeds in kerkverband, en dit gaan nog meer word vir ons nageslag: nog meer onvrede, onwelvoeglikheid en onordelikheid.
Vraag 31: Hoe kan die orde herstel word aangaande die vrou in die ampte sake ?
Antwoord: Alleen deur terug te keer in die weg van “die bevele van die Here” deur sy Gees, kan daar weer vrede, welvoeglikheid en orde in ons kerke en kerkverband kom. Dit is die skriftuurlike én kerkordelike weg wat ons moet bewandel. Daar kan geen ware kerkreg, kerkorde, kerkregering wees sonder die Koning van die Kerk se bevele, volgens sy Woord deur sy Gees, nie.
Nota: die VIDA Kategismus kan hier as ‘n PDF afgelaai word:
https://proregno.files.wordpress.com/2010/11/vida-kategismus.pdf