WANNEER MOET ONS MEKAAR SE STANDPUNTE VERDRA? (Romeine 14)
deur ds. Cobus Rossouw (GK Daspoort)
(Nota: Sien die inleidende skrywe oor die lesings van die seminaar hier. Ek het ook oudl. Francois van Deventer se kort oorsig van die dag se verrigtinge hier geplaas.)
MP3 Audio van al die lesings: Sola Scriptura lesings
Cobus se volledige lesing: Wanneer moet ons mekaar se standpunte verdra?
Hier is die inleiding en slot:
Inleiding
Geliefdes die tema waaroor’it nou gaan is: Wanneer moet ons mekaar se standpunte verdra?
En dan gaan dit sekerlik ook oor die vraag of ons verdraagsaam moet wees tov verskillende standpunte rakende die ouderling-amp. En dan moet ek vanuit Rom 14 oor hierdie tema praat.
Nou hoe gaan ek dit doen?
Wel heel eerste wil ek sê, dat ek biddend nederig gaan probeer om Rom 14 oop te maak. So Rom 14 gaan met ons besig wees. En dan gaan ons met die volgende punte deur Romeine 14 werk:
• Ons gaan kyk na die plek van Rom 14 in die Romeine-brief
• Ons gaan vanuit vers 1-2 en vers 5 meer leer oor die situasie in Rom 14.
• Ons gaan kyk na die opdrag in vers 1 dat ons mekaar moet aanneem.
• En dan gaan ons in die res van Rom 14 stilstaan by die grenslyne waarbinne ons mekaar moet aanneem.
• Heel laaste maak ek ‘n paar toepassings op die ouderling-amp-saak.
Slot
Geliefdes kom ons sluit af en dan pas ons ook so bietjie toe.
Ek dink die baie groot saak hier in Rom 14 is dat ons mekaar moet aanneem.
En dit moet ons doen soos Christus ons ook aangeneem het.
Dis die groot en wonderlike opdrag in Rom 14.
En wat is die grense waarbinne ons dit doen?
I Wel ons aanneem-van-mekaar moet gebeur waar Christus keuse-vryheid gee.
En nie waar volhardende veragting van God se duidelike Skrif-uitsprake plaasvind nie. Dis die eerste grenslyn.
II Die tweede een is dat waar Christus keuse-vryheid gee ons geen mens-uitgedinkte kerkorde mag maak wat ons dan as ware Godsdiens op mense af-forseer nie.
III Die derde vierde en vyfde grenslyn sê dat ook daar waar Christus keuse-vryheid gee
• ons Godsdiens nooit gebaseer mag wees op gevoel nie
• Die eer van God altyd voorop moet staan
• En die Koningskap van Christus in alles moet geld.
IV Die sesde grens lyn gaan oor’ie regte gebruik van ons keuse-vryheid.
Ons keuses moet altyd gerig word deur selfopofferende liefde en geregtigheid en vrede en blydskap en onderlinge stigting.
V En nooit mag daar gewetensdwang wees nie.
So nou’sie vraag: Wat sê dit alles vir die issue oor vrouens in die ouderling-amp?
En ek sal graag wil hoor wat sê julle?
Wat myself aangaan, meen ek dat die eerste grenslyn baie belangrik is.
Wanneer die beginsels wat ons in Rom 14 leer wil toepas op die vrou-in-die-ouderlingamp-saak(sage?) moet ons voor die HERE seker wees dat dit ‘n saak is waarin Christus self keuse-vryheid gee.
Ons moet dus seker wees dat dit Christus se wil is dat Hy sy Kerk deur ouderlinge wil regeer, maar dat Hy dan keuse-vryheid gee oor of ‘n ouderling ‘n vrou of in man is. Ja, hieroor moet ons seker wees. As dit so is moet ons dan ook die res van Rom 14 se beginsels of grenslyne toepas.
Dit sal byvoorbeeld inhou dat Kerke besluit dat vrouens wel ouderlinge mag wees, maar dat elke plaaslike Kerk hulle eie situasie in ag moet neem.
‘n Plaaslike Kerk sal dan byvoorbeeld nie vroue ouderlinge hê nie, alhoewel hulle die vryheid het, omdat daar nog broeders en susters is wat nog nie die geloofskennis en geloofsoortuiging het dat Christus ons in hierdie saak keuse-vryheid gee nie.
Aan die anderkant, en hiervan is ek regtig op grond van die Skrif oortuig:
As Christus beveel dat net mans ouderlinge moet wees – vgl bv 1Tim 2:11-14 en 1Tim 3:4-5 ingebed in die groot Openbaringshistoriese lyn van skeppingsorde en orde-herstel in Christus – dan sê die eerste grenslyn wat ons vanuit Rom 14:2 en vers 5 kry dat ons in selfopofferende liefde en met die fokus op geregtigheid en blydskap en vrede en onderlinge stigting duidelik moet sê: Nee.
Ons kan nie.
Christus is Koning God se eer vereis dit, en ons Godsdiens kan nie ingerig wees op hoe ons voel nie.
Daarom: Nee. Vroue kan nie ouderlinge wees nie.
Beste Cobus: Ek waardeer jou kort stukkie oor Bybelse verdraagsaamheid en Bybelse onverdraagsaamheid vanuit Rom 14, wat na my gevoel van grondige raadpleging van die gedeelte spreek. Ek wonder of ons ‘n afwykende Skrif-beskouing moet verdra, gesien Rom 14 (en verder in die Bybel). Na my oordeel is die Bybel (die Bisantynse en Masoretiese grondtekste) die Woord van God omdat die Heilige Gees my oortuig dat hulle van God is (vgl NGB art 5), en noem ek dit die Bybelse Skrifbeskouing. En na my oordeel is ‘n siening dat die Bybel ‘n gebrekkig-menslike weergawe van God se Woord is, ‘n onBybelse en dus afwykende Skrifbeskouing. Nou hoe moet ons laasgenoemde verdra vanuit jou perspektiewe? Die gemelde afwykende Woord-beskouing kom al by Adam en Eva in Gen 3 voor waar die Satan twyfel saai in die harte van die eerste mense oor die waarheid van God se Woord. Ek sou ‘n onBybelse Skrifbeskouing dus die moeder van alle sonde en dwalinge wil noem, ongeag of ander my as fundamentalisties of Biblisisties afmaak. Ek is persoonlik diep bekommerd oor blyke van ‘n verkeerde Skrifbeskouing onder Gereformeerde heiliges in die GKSA verbande. Maar vele van hierdie broers en susters, wat die Westcott en Hort benadering van Skrifkritiek aanhang, dwaal nog nie wat betref hulle onderskrywing vd Twaalf Artikels of dergelike ekumeniese belydenis (Nicea, Athanasius) nie. Dus waarsku ek skerp, en trek dringend die lyne tussen Bultmann en Nida en wat vandag geglo word deur dwalendes in Skrifbeskouing: Maar ek handhaaf nog geloofsbande. Ek verbreek nie gemeenskap, en teken nie as ongelowige, elke mede-Gereformeerde wat meen die vrou kan in die besondere dienste staan nie. Let op die woordjie ‘nog’. Die onheilsproses is aan die gang. Soos Paulus noem ek dwalendes tegelyk heilig (1 Kor 1:2) en onheilig (1 Kor 3:3). Ek wil raas soos die profete (Jesaja, Jeremia, Esegiel) maar hopelik vertroos ek ook soos hulle die berouvolles. Ek het al sommige kosbare broers op gksaforum seergemaak deur die ooreenkoms tussen hulle standpunte en afgodery of rassisme deur te trek. Ek trap, meen ek, op tone, maak selfs vyande, maar hopelik op Skrifgebasseerde manier.
Neels
Hallo Oom Neels. Baie dankie vir Oom se reaksie. Ek wil graag ‘n paar opmerkings maak.
1. Ek is ook oortuig dat die gesagvolle brontekste van die NT die Bisantynse tekste is. Self doen ek my NT-ekesegese vanuit die Textus Receptus. Ek gebruik ook Hodges en Farstad se uitgawe van die Griekse NT, saamgestel uit die Bisantynse tekste. Hierin is ek ‘n navolger van bv Prof Jacob Van Bruggen – vgl bv sy ‘De tekst van het Nieuwe Testament’ 1976, De vuurbaak Groningen.
2. Ek dink egter dat dit baie belangrik is dat wanneer ek sê dat die Gees my oortuig dat die Bisantynse tekste die Woord van God is, ek ook moet sê dat die Gees my vanuit die Woord self daarvan oortuig. Waarom? Wel, omdat die Gees altyd met die Woord, en nie los daarvan nie, werk (vgl Jes 59:21).
3. Ek dink daar is ‘n verskil tussen onverdraagsaam wees teenoor wat verkeerd is en die breek van ‘geloofsbande’. Ek kan en moet verskil met ‘n broeder of suster wat verkeerd doen. Ek moet sê: ‘Nee, hier gaan jy verkeerd, hier kan ek nie mee doen nie’. Ek dink ware selfopofferende liefde moet ons daartoe dryf (vgl Rom 14:17). Dit op sigself beteken egter mos nie dat ‘geloofsbande’ verbreek is nie?
4. Die probleem kom wanneer ‘n Kerk ‘n ‘wet’ of ‘n ‘kerk-orde-reël’ of ‘n besluit maak, wat my dwing om teen God se Woord of my huidige geloofsoortuiging vanuit God se Woord op te tree (vgl Rom 14:3-5, 22-23). Byvoorbeeld: As ‘n plaaslike Kerk ‘n reël maak wat sê: ‘predikante in hierdie Kerk MOET eksegese doen vanuit die UBS/Nestle-Aland/Sinaitikus teks van die NT’. Of nog ‘n voorbeeld: ‘In hierdie kerk is dit ‘n MOET dat vroue ook ouderlinge KAN wees’. Sulke besluite of reëls laat dinge op ‘n breekspul afloop. Want sulke reëls of besluite maak ‘n wet waar Christus self nie ‘n wet gegee het nie, of dit maak ‘n wet teen Christus se wet in.
Dis my reaksie Oom. Ek luister egter graag en met groot aandag – en ek bedoel dit – na Oom as ‘n ouer man (vgl 1Pet 5:5).
groete
cobus
Dankie, Cobus, vir jou opmerkings.
1. Ek gebruik die Robinson Pierpont Byzantine uitgawe van die Nuwe Testament vir my eksegese.
2. Ek dink jou opmerking dat ons ons deur die Heilige Gees moet laat lei in ons oordeel oor wat die Woord van God is en wat nie, SOOS DIE GEES DIT IN DIE WOORD SELF OPENBAAR, is baie waar.
Ek het al vir mense gese^: Lees ‘n slag self die apokriewe boeke, en jy sal dadelik ‘aanvoel’ dat hierdie boeke nie van God is nie. Maar ons moet ons oordeel basseer op God se Woord, en nie bloot op ons ‘aanvoeling’ nie. Ek dink nie die apokriewe slaag hierdie Skriftoets nie. NGB art 5 bely dat die Heilige Gees ons oortuig, maar ek glo dat die Heilige Gees ons DEUR DIE WOORD oortuig, en ook bevestig eerder as finaal oortuig deur ons ervaring (bv die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel word, waar is), of deur ons ‘aanvoeling’. Dit is dus in gemeenskap met die Woord en Gees as onlosmaaklike eenheid dat ons kom tot die geloofsoortuiging waarvan art 5 praat.
3. Ek moet met jou saamstem dat daar ‘n belangrike verskil is tussen die ‘nie verdra van ‘n broer se dwaling’ en die ‘verbreking van geloofsbande’ met ‘n broer.
Neels
Miskien moet ek byvoeg by punt 3 hierbo: Daar bestaan geloofsinhoude wat ons verplig om geloofsbande met ‘n broer te verbreek, en dit is die inhoud van die drie ekumeniese geloofsbelydenisse (Apostolicum, Nicea, Athanasius).