JESUS OOR DIE HEL, EN DIE OPROEP OOR DIE GROOT ERNS VAN DIE SAAK, DIT IS VIR ONS ALMAL ‘N SAAK VAN LEWE OF DOOD, HEMEL OF HEL

“En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” – Matteus 10:28
“Hy wat iets gesmaak het van die “angs van die hel”, sal ook iets kan besef van die verskrikkinge van Golgotha. Dit is omdat dikwels sowel prediker as hoorder die hel in sy werklikheid, as buitenste duisternis en onuitblusliks vuur, nie deurvoel nie dat die prediking so dof is en op sulke dowe ore val. … Dan vier ons Nagmaal, maar ons voel nie diep die ‘angs van die hel’ waaruit ons verlos is nie. Dan kry ons met die mond deel aan die liggaam en bloed van Christus, maar ons hart en ons lewe verander nie. Ons bly dan maar net wat ons gewees het na die Nagmaal net dieselfde as daarvoor. Ons vaders het die saak reg gevoel. Daarom is daar in die Nagmaalformulier so nadruklik sprake van “vervloeking”, “ewige dood”, “toorn van God” en “angs van die hel”. Ja, daar is ‘n “singende hemel”, want die liefde van God het tot verlossing in Christus openbaar geword. Maar daar is ook ‘n “wenende hel”, want die liefde van God is met die voete vertrap deur diegene wat verlore gaan. Hy wat die heilgeheim van God só verstaan, sal seker nie meer die vraag opwerp of daar dan werklik ‘n hel is nie. Inteendeel, hy sal stry om oor Golgota, ál met die lydenspad, in te gaan deur die nou poort in die ewige stad.” – Totius
NOTA: Tydens my Totius lesing (GTV konferensie in Potchefstroom, 2022) het ek vermeld al die ou kosbare goud waarop ek al afgekom het deur die jare in Totius se Versamelde Werke (1977 uitgawe). Totius is veral bekend vir sy werk met die Bybelvertaling, Psalmboek, liefde vir kerk en volk en digterswerk vir die Afrikaanse volk en kultuur, om maar net ‘n paar sake te noem. Die grootste rykdom vir my persoonlik, is sy ontsaglike bydrae as prediker, Skrifverklaarder, Skrifgeleerde, as bevindelike prediker wat nuwe en ou skatte na vore gebring het vir sy tye (Matt. 13:52). Sien veral sy preke, Skrifverklarings, oordenkings wat orals versprei is oor sy 11-delige werk. Ek verkoop die afgelope paar dekades Totius stelle, en ek wonder, soos met Calvyn se Institusies (en Bavinck se Gereformeerde Dogmatiek), hoeveel predikante, teoloë en lidmate het al hierdie werke werklik bestudeer en al die ‘kosbare goud’ herontdek?
Dalk is ‘n verwerking van Totius se Werke in ander formaat ook nodig, ook vir die gewone lidmaat, maar ook vir ampsdraers, wat nie kans sien om die hele 11 dele aan te pak nie, hul staan net daar en mooi lyk op die rak? (Aanbeveling: begin gerus met deel 4 en 5, sy OT en NT preke en oordenkings vanuit die Skrif, kyk ook hier op my blog waar u daarvan sal vind: Totius. Nog meer gefokus, begin met sy Saligsprekinge van Jesus oordenkings).
Dalk is iets soos ‘n “Totuis se Geloofsleer”, “Totius vir Vandag” (na die voorbeeld van ‘Calvyn vir Vandag‘), “Totius se Verklarende Aantekeninge op die Heilige Skrif”, ens. nodig, om al daardie kosbare goud verspreid oor 11 dele weer bekend te stel aan ons kerkvolk? Die apologetiese bydrae van Totius teen die dwalinge van sy tyd is ook baie kosbaar, veral die Skrifkritiek en ongeloof van sy tyd.
Onlangs in my verdere Totius leeswerk, daar aan die einde van deel 6 ‘weggesteek’ (1977: 383 – 470), kom ek toe af op die groot en baie ernstige saak, ‘n saak van lewe en dood, wat Totius behandel het in sy tyd:
Die Hiernamaals, veral die Hel… en die Hemel.*
Reeds in sy tyd (ja, daar was, is werklik niks nuuts onder die son nie, daar was nie ‘goeie ou dae’ nie, net dae om uit te koop, vandag nog!, Ef. 5:16) waarsku hy sterk teen die “Storm van ongeloof” oor die wêreld, wat ook in ons tye toeneem, veral in die sigbare kerke ook.
Ja, daar is baie ‘godsdiens’, maar baie min Gods-diens, ook in ons tye.
En daarom is sy artikels, wat handel oor die werklikheid van God, hiernamaals, hemel en hel, en veral dat die OT gelowiges reeds daarvan bewus was (maar nog nie in volledige openbaring soos in die NT nie), wat die Skrifkritiese teoloë ontken. Totius verduidelik en verklaar allerlei verskillende terme en frases, sodat ons deeglik kan verstaan wat die Here vir ons openbaar oor die hiernamaals, uit beide OT en NT. Terwyl mens dit lees, leer jy ook oor die ‘voortgaan van Godsopenbaring’, dit is die openbaringshistoriese, heilshistoriese openbaringmetode om die Skrif reg te verstaan, en reg te sny (2 Tim. 2:15, sien ook: Bybels-gereformeerde beginsels en metodes van Skrifverklaring én toepassing)
Baie aangrypend, en ek plaas dit ook hier onder, sluit Totius sy artikels af waarin hy die woord van die waarheid reg gesny het oor die tema van die hemele en hel, met ‘n vertaalde artikel uit Nederland, waarmee hy volmondig instem en die groot erns van die saak wil tuisbring by sy lesers, dus ook vir ons tye, in die jaar 2026.
Lees gerus die paar aanhalings en dan twee dele uit die hele studie van Totius wat ek hier onder plaas, verootmoedigend voor ons Here, en laat ons die evangelie aanhou verkondig in waarheid en liefde aan onsself en die ganse wêreld, in groot ontferming vir ‘n verlore mensdom, en in die soeke na die eer van God.
__________________________________________________
1 JESUS OOR DIE HEL
Die oorlog tussen hemel en hel
Toe Christus op aarde gekom het, het die hel sy mond wyd oopgemaak, en menigtes van bose geeste het die land van sy omwandeling bestorm, om Hom op sy lydenspad te bestry tot die end toe.
Die Bose het geweet dat Christus sou kom om die “sterke” (Matth. 12:29), dit is Satan self, te bind; daarom het hy hom geweer met sy leërs van slegte engele. Van die begin af het hy Christus beveg, en tot die einde toe het hy Hom nie losgelaat nie. Dán het hy verskyn deur middel van besetenes, en dán weer het hy in eie persoon gekom.
Leersaam is wat Openb. 12 ons hieromtrent in voëlvlug laat sien. Daar is Satan, die groot rooi draak, wat klaar staan om die Kind van “die vrou” (van die Kerk onder die Ou Verbond) te verslind. Maar die Kind word weggeruk na God en na sy troon toe en die Satan word uit die hemel neergewerp. So is Christus se stryd en oorwinningstog die opgaande vuurlyn wat eindig by die troon van God) en Satan se stryd en neerlaag is die dalende vuurlyn wat eindig in die hel.
Waar dus Christus se weg op aarde omring was deur magte uit die hel kon dit nie anders as dat sy woorde nadruklik melding moes maak van die werklikheid wat so kras teenoor Hom gestaan het nie.
Christus se lewe op aarde was een groot oorlog teen die Bose; daarom kon sy leer op hierdie punt nie onduidelik wees nie. Vir Christus was die hel geen droombeeld nie; daarom was sy prediking ten opsigte daarvan so ontsettend ernstig; ntsettender en snydender as wat menigeen dit graag sou wil hê.
In hierdie artikel wil ons dan by dié prediking met ‘n paar woorde stilstaan.
Christus se prediking oor die hel
Dis nie so maklik om in kort bestek die inhoud van Christus se waarde aangaande die ontsaglike onderwerp van die hel weer te gee nie. Miskien doen ons die beste om die leser te wys op die grootste teëstelling wat in Christus se beeldspraak (want sy waarde was beelde!) vervat is. Daar is ‘n reeks uitsprake wat meld van ‘n duisternis.
Buitenste duisternis
(1) In die gelykenis van die bruilof kom ‘n man voor wat geen bruilofskleed aangehad het nie. Van hom sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande’ (Matth. 22:13).
(2) Net so lees ons in die gelykenis van die talente: ‘Werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande’ (Matth. 25 :30).
(3) Regstreeks, nie in die taal van gelykenisse nie, sê Christus op ‘n ander plek: ‘En die kinders van die koninkryk sal uitgewerp word in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande’ (Matth. 8:12).
Dié buitenste duisternis moet wel ‘n verskriklike donkerheid wees, erger as dié van Egipte en dié waar die profesie melding van maak in verband met die laaste Godsoordeel (Joël 2 :2, Sef. 1; 15 e.a. pl.).
Verterende vuur
Teenoor hierdie reeks uitsprake staan ‘n ander reeks, wat ‘n vuur voor ons gees laat oprys.
(1) In Mark. 9:43 sê Christus: As jou hand jou laat struikel, kap dit af: dit is vir jou beter om vermink in die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitblusbare vuur -‘n uitdrukking wat dan dadelik nog twee keer herhaal word (vs. 45 en 47).
(2) In Matth. 13 :42 is ook sprake van dié vuur. Daar word gesê dat diéwat die ongeregtigheid doen, gewerp sal word in die vurige oond; daar sal geween wees en gekners van die tande. In vers 50 kom dieselfde uitdrukking dan weer voor.
Opmerklik dat Christus, wat ons hoogste Profeet en Leraar is, twee woorde gebruik om die hel te beskrywe wat blykbaar met mekaar in teëspraak is: duisternis en vuur. Die twee sluit mekaar tog uit. Waar vuur is, kan geen duisternis wees nie, en omgekeerd!
Hoe hier die diepe, goddelike wysheid verstaan moet word, hoop ons om later aan te wys as ons kom by die meer dogmatiese gedeelte van ons uiteensetting. Ons is nou besig om die gang van die Godsopenbaring na te speur, en ons het gemeen om die inhoud van Christus se woorde saam te vat deur die aandag te vestig op die teëstelling wat daarin opgesluit lê.
Die tekste wat ons aangehaa! het, is baie goed bekend, maar hulle word gewoonlik broksgewyse gelees, sonder om te let op die twee groot begrippe “duisternis” en “vuur” wat ons daarin tegemoet tree.
Die skrik van die Here
Ons moet die leser nou nog daar attent op maak dat dié twee uitdrukkings, “buitenste duisternis” en “onuitblusbare vuur”, die siel moet deurhuiwer met sidderende erns. Hulle gee te kenne wat die “skrik van die Here” is, te meer omdat hulle kom uit die mond van Hom wat die vleesgeworde openbaring is van die ewige liefde van God!
Wat is die oorsaak van Jesus se uitsprake oor die hel?
Waarom het, in die weg van Gods openbaring, die leer aangaande die hel so ‘n ongekende hoogte van erns en skerpte bereik in die mond van Christus? Daarvoor moet daar tog wel ‘n oorsaak bestaan.
Om dié oorsaak op te spoor moet ons bedink dat Christus ons wil leer tot watter prys ons verlos is. Hy wat meen dat Christus net gekom het om hom van ‘n blote swakheid of menslike ondeugde te bevry, het die lyde van Christus nie gepeil nie.
0, as Christus net gesterf het om mense wat effens afgedwaal het, op die regte spoor terug te bring, dan het Christus met sy lyde op Golgota te duur betaal!
Nee, Hy het gekom om ons te red van die ewige dood, van die hel!
Hinnom én Golgota moet gepreek word!
Vroeër het ons reeds die aandag daarop gevestig dat die “dal van Hinnom” (in die Nuwe Testament “Gehenna”) ‘n teëstelling vorm met die pragtige stad Jerusalem wat daar naasaan lê, dié Jerusalem wat ‘n tipe is van geluksaligheid, van ons almal se moeder wat Bo is.
Maar die teëstelling word nog skerper as ons ons nou weer verplaas na die terrein van die heilige stad. Aan die suidekant het gelê die “dal van Hinnom”, die tipe van Gehenna (hel), en aan die noordekant Golgota, die strydtoneel van die Middelaar.
Die twee mag nie van mekaar geskei word nie. Eers as ons pad geloop het langs die “dal van Hinnom” met al sy verskrikkinge, sal ons die rus en verlossing kan verstaan wat Golgota ons bring. Hy wat iets gesmaak het van die “angs van die hel”, sal ook iets kan besef van die verskrikkinge van Golgotha.
Dit is omdat dikwels sowel prediker as hoorder die hel in sy werklikheid, as buitenste duisternis en onuitblusliks vuur, nie deurvoel nie dat die prediking so dof is en op sulke dowe ore val.
Uit die swart dieptes van ‘Gehenna moet opgeworstel word na die hoogte van Golgota se heuwel. Plaaslik dáár by Jerusalem, het dié twee so byrnekaar gelê dat ons hulle in ons gedagte nie sou skei nie, Hy wat op die kruisheuwel eindelik aangekom het, moet daarvandaan nog kan sien die onheilspellende rokie wat bo die dal van Hinnom draai, waar die vuur nie uitgeblus word en waar die wurm nie sterwe nie (Mark. 9:42-50).
Hoe vier ons dan nagmaal?
Gebeur dit nie, dan gly ons te maklik oor die lyde van Christus heen. Dan is Golgota nie vir ons ‘n ware rusplek soos die profeet dit gesien het nie (Jes. 11:10); maar dan word daar ‘n rusbank vir die vlees opgerig. Dan vier ons Nagmaal, maar ons voel nie diep die “angs van die hel” waaruit ons verlos is nie. Dan kry ons met die mond deel aan die liggaam en bloed van Christus, maar ons hart en ons lewe verander nie. Ons bly dan maar net wat ons gewees het na die Nagmaal net dieselfde as daarvoor.
Ons vaders het die saak reg gevoel. Daarom is daar in die Nagmaalformulier so nadruklik sprake van “vervloeking”, “ewige dood”, “toorn van God” en “angs van die hel”.
Ons sing van hemel en hel
Ja, daar is ‘n “singende hemel”, want die liefde van God het tot verlossing in Christus openbaar geword. Maar daar is ook ‘n “wenende hel”, want die liefde van God is met die voete vertrap deur diegene wat verlore gaan.
Hy wat die heilgeheim van God só verstaan, sa! seker nie meer die vraag opwerp of daar dan werklik ‘n hel is nie. Inteendeel, hy sal stry om oor Golgota, ál met die lydenspad, in te gaan deur die nou poort in die ewige stad.
Bron: Die Kerkblad, No. 561; 4 Augustus 1925.
2 DIE GROOT ERNS OOR DIE WERKLIKHEID VAN DIE HEL EN VERLORE MENSE WAT ONS MOET ONTROER
So het ons dan nou gekom aan die einde van ons beskouings oor die hel. Met die vorige artikel kon ons gesluit het. Maar ons wou nog ’n woord van toepassing laat volg het. Hier is dit, afkomstig nie van onsself nie maar van ’n leraar in Nederland. Mag die lesers wat tot sover die artikels gevolg het, noukeurig daarop ag gee! Die stuk het verskyn in Hollandse kerkblad en was onderteken D. v. D.:
Geen meer geestelike lewe nie
“Eendag het my amptelike werk my gebring by die siekbed van ’n seun van sowat 18 jaar. Dit was in die hospitaal.
Ek was vroeér ’n keer of wat by hom. Altyd het ek die indruk van hom gekry dat hy nie juis veel aan die dinge van die ewigheid gehad het nie. Dit het gelyk asof hy heeltemal vreemd en koud daarteenoor staan, hoewel hy uit ’n Gereformeerde gesin gekom het.
Nou was hy baie siek. Hy het reeds, soos hulle dit noem, in ,,afsondering” gelê, d.w.s. hulle het hom uit die groot saal, uit die lang ry siekes weggevat en hom eenkant in ’n kleiner kamertjie gesit, om daar te sterf. Toe ek by hom kom, het hy suf daar gelê. Sy vader was by hom en het op die einde gewag. Ek het vir sy vader gevra hoe dit gaan. “Nie goed nie”,’ was die antwoord.
Nie goed nie — dit het vir my na die toepassing gelyk sowel op sy liggaamlike as op sy geestelike toestand. Dit het al die skyn gehad dat daardie jong lewe binnekort afgesny sou word — soos ’n blom, in volle bloei, van sy stingel afgesny word. Maar ook geestelik was dit nie goed nie.
Nou, net so min as vroeër, het dit gelyk asof hierdie jong sieke gevoel vir, belangstelling in daardie lewe het wat nooit sterf nie.
Ek weet wel dat hy nog kwalik kon praat. Maar tog-: 0, as daar tog in sy hart belangstelling was, hoe anders sou hy opgetree het!
Ek het vir hom gebid, maar hy het nie daarop gereageer nie.
Weer het hy dieselfde indruk gegee asof dit vir hom die beste sou gewees het as ek maar weggaan en nie meer oor hierdie dinge praat nie.
Dit het my ontroer.
Is ons nog ontroer?
Hoe is dit, het ek myself afgevra, hoe is dit moontlik: om so naby die dood te staan, selfs —- want so was dit by hom – selfs te verlang na die dood, om maar net verlos te word van die liggaamslyding en tog nie in die minste bewoé te wees deur die gedagte aan wat na die dood sou kan kom nie — sonder om aangegryp te wees deur die vraag of daar miskien ook, vir wie nie glo nie, ’n ewige verderf berei kan wees.
Maar van hierdie sterwende af het ek tot myself ingekeer — en ek het myself afgevra: ,,Hierdie jong man glo blykbaar niks van ewige lewe en ewige verderf nie — maar glo jy sélf wel daaraan? Want, as jy self daaraan geglo het, moes jy dan nie baie, baie dieper geskok gewees het toe jy so ‘n mens sien wat, volgens jou eie belydenis, tog, as hy hom nie nog op die allerlaaste bekeer nie, vir ewig sal omkom nie?”
Toe het ek gevoel hoe ’n geweldige kloof die meeste van die tyd gaap tussen wat ons bely en glo.
Ons praat so dikwels in ons lewe van sulke ontsaglike dinge.
Ons redeneer oor die ewige uitverkiesing en ewige verwerping van God, oor die geweldige feit wat van ewigheid af vaslê: of ’n mensekind ewig salig sal wees of onherroeplik verlore -; ons praat oor die waarheid dat God, ter wille van sy geregtigheid nie anders kan as om die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God bedryf is, ook met die hoogste, dit is, met die ewige straf aan liggaam en siel te straf nie [Heid. Kat., vr. 11].
O, ons neem dit so dikwels in ons mond dat ons van elke ydele woord rekenskap sal moet gee, dat alle dinge onder die voorsienige bestel van God staan — en so kan u aanhou ~ alles dinge van ontsaglike betekenis.
En ons — ons redeneer daaroor, ons debatteer daaroor, en ons stry daarvoor met pragtige argumente, logies, so logies dat daar nie ’n speld tussenin gekry kan word nie, en as ons meen dat ons ons teenstander vasgepraat het, dan glans die glimlag van triomf oor ons gelaat, en welbehaaglik steek ons ’n sigaar op en ~ gaan weg.
Is dit nie so nie?
Soos die gebore bergbewoner onaangedaan wandel langs die donker afgronde, soos hy nie bewoé word as die sonnegoud saans en smérens die bergtoppe laat gloei terwyl hy self nog in die skemering beweeg nie, —so wandel ons langs die afgronde en tussen die goue bergpieke van die waarheid van God onaangedaan -; en ons sidder nie as dit oor die ewige verderf gaan nie, en ons ween nie as ons by die sterfbed staan van iemand wat sonder Christus oor die drumpel stap nie; en ons jubel nie as dit oor die vergewing van die sondes, oor ewige lewe, oor ewige saligheid gaan nie.
Hoe gebeur dit tog?
Ek durf nie beweer dat dit gebeur omdat ons nie glo nie; dit durf ek altans nie sê van almal wat met hierdie onbewoénheid bevange is nie, al sal daar onder hulle we! sekerlik wees by wie die geloof nooit sy wortels in die diepte van hulle hart geslaan het nie.
Maar dit geld tog nie van almal nie?
Ons kan tog aanneem dat daar onder hulle, wat so onbewoë oor hierdie dinge praat, ook gevind word – selfs baie — wat tog waarlik glo?
Maar waarvandaan dan hulle ongevoeligheid? Kom dit nie hiervandaan dat ons, deur so dikwels van hierdie dinge te hoor, daaraan gewoond geraak het en nou te traag is om die geweldige van dié waarhede weer telkens vir onsself te realiseer nie?
Ons is geestelik te lui om die newel van die ,,gewoonheid”’ wat die werklike aard van die Skrifwaarheid vir ons oog bedek, uit te rafel.
Daar kom by dat ons ook soms bang is om die magtige gestalte van die Goddelike waarhede te sien soos hulle werklik is, omdat ons voel dat hierdie oomblik ons soms so sou kan aangryp dat dit daardeur vir ons onmoontlik sou word om ons gewone, soetsappige lewetjie van klein genoeéns te lewe – en daardie klein, lekker lewetjie het ons tog so lief…
En intussen stap ons aan tussen afgronde en berghoogtes.
En ons sien duisende afstort in die afgrond, en dit maak vir ons nie saak nie; en ons sien ander goue hoogtes beklim, en ons jubel nie.
En ons loop self gevaar om vir altyd weg te sink, en ons kinders loop gevaar om weg te sink, en ons trek ons dit nie aan nie; en vir ons wag miskien die koninklike heerlikheid van die ewige saligheid, en ons verheug ons nie daarin nie.
Is dit nie ’n bittere ding nie?
My lesers — laat ons lewe tog nie so wees nie. Weg met daardie sleur, Laat ons weer werklik glo wat ons bely.
Hoeveel ernstiger, hoeveel blyer, hoeveel teerder sou ons lewe wees. Seker ook swaarder maar ook getrouer, maar ook saliger.
Bron: Die Kerkblad, 15 Junie 1926.
_______________________________________________________________
Versamelde Werke, 1977, deel 6:417-420, 467-470. Opskrifte bygevoeg.*
My onlangse preek wat ook by hierdie gewigtige saak aansluit: Lukas 16:19-31, die gelykenis van die ryk man en Lasarus
Verdere Pro Regno artikels: Totius
Leave a comment