Dirk Postma oor Gen. 3:15 en moeder Maria (en my opmerkings oor die Latynse Vulgaat se vertaling van Gen. 3:15, waarna Postma verwys
Postma skryf:
“Vraag 18: Is Maria, die moeder van die Here, dan ook sonder sonde gebore?
Antwoord: Die Roomse kerk leer dit, maar tot so ‘n standpunt het die Heilige Skrif nie die minste aanleiding gegee nie, Sy word wel genoem: ‘die begenadigde van die Here,’ en sê self: ‘My gees verheug hom in God. my Saligmaker’ (Lukas 1:28, 47). In hierdie voorreg deel al die gelowiges saam met haar. Sy alleen was egter die mees geseënde onder die vroue omdat sy die moeder van die Heiland van die wêreld geword het. Daar bestaan ook geen noodsaak dat sy sonder sonde gebore moes word nie, *want nie sy nie*, maar haar Seun, terselfdertyd God se Seun, sou ons Saligmaker wees. *Nie sy nie, maar Hy, naamlik “die saad”, haar Seun, sou volgens Genesis 3:15 die kop van die slang vermorsel*. (Vergelyk ook met Hebreërs 2:14-15:) (My Handleiding vir die Godsgeleerdheid, 1875 [2026], bl. 108-109.)
Opmerking op hierdie laaste belangrike woorde van Postma, sy verwysing na Gen. 3:15, die ‘moederbelofte’, waar die Protestantse Bybels vertaal ‘Hy… hom’ en die Latynse Vulgaat Bybels (Sy/haar; She/her; nota: ek sien later moderne Katolieke engelse vertalings vertaal wel ook ‘hy/he’):
“15En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar(Hebr. hi) saad. *Hý*(Hebr. hu) sal jou die kop vermorsel, en jý sal *hom* in die hakskeen byt.” (Genesis 3:15)
“inimicitias ponam inter te et mulierem et semen tuum et semen illius *ipsa (‘sy/she’)* conteret caput tuum et tu insidiaberis calcaneo eius” – Latynse Vulgaat
“I will put enmities between thee and the woman, and thy seed and her seed: *she* shall crush thy head, and thou shalt lie in wait for *her* heel.” – Engelse vertaling van die Vulgaat
Die ou “Catholic Encyclopedia” verdedig die Vulgaat se vertaling as volg:
“The reading “she” (ipsa) is neither an intentional corruption of the original text, nor is it an accidental error; it is rather an explanatory version expressing explicitly the fact of Our Lady’s part in the victory over the serpent, which is contained implicitly in the Hebrew original. The strength of the Christian tradition as to Mary’s share in this victory may be inferred from the retention of “she” in St. Jerome’s version in spite of his acquaintance with the original text and with the reading “he” (ipse) in the old Latin version.”
Nou, behalwe natuurlik dat die oorspronklike Hebreeus ‘hy’ (‘hu’) het by Gen. 3:15 (so ook die Septuagint, die Griekse vertaling van die OT), en behalwe dat daar natuurlik groot debatte hieroor was deur die eeue, tussen protestant en roomse apologete, en selfs onder mekaar wat die ‘beste’ vertaling is en al die moontlikhede hoe dit wel vertaal kan/mag word al dan nie; is dit nogal ironies, dat dit lyk vir my dat Rome (ten minste in die verlede?) soms ‘letterlike vertaling’ eis sonder enige enige teëspraak of kompromie, bv. oor Luther se Rom. 3:28 vertaling:
Hoe durf Luther ‘n ‘explanatory version’ gee van Rom. 3:28, nie net ‘geloof’ nie, maar sy ‘geloof alleen’ [Duits: ‘allein’] in sy Lutherse Vertaling. Die OAV het nie Luther gevolg deur ‘alleen by te voeg’ nie, al staan die saak/waarheid (sola fide = deur geloof alleen) daar met die woorde van kontras en uitsluiting: ‘deur die geloof *sonder* die werke’, maar die feit is, die letterlike woord ‘alleen’ is nie daar nie.
Maar, lyk my as dit kom by Gen. 3:15 se vertaling, dan is ‘vryer vertalings’, of ‘explanatory versions’ baie welkom, omdat dit hul Mariologie dien?
Ook, omdat dit hul verderflike sinergisme in verlossingsleer dien, dat die redding van die mens ‘n samewerking is tussen Jesus en Maria, tussen God en mens, en nie ‘n absolute duidelike ‘allein’, ‘n God alleen saak is, ‘n geskenk alleen saak van God aan sy uitverkore kinders is nie, wat dan natuurlik as *vrug/gevolg* wel daadwerklik geloof en bekering tot stand sal bring, maar baie duidelike oorsaak (Here alleen), en die gevolg is die mens se redding deur geloof en bekering, ens (sien Filp. 2:13,14):
“… en *Hy self* sal Israel verlos van al sy ongeregtighede” (Psalm 130:8);
“21en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, *want dit is Hy* wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Matt. 1:21);
“9en *in Hom gevind te word*, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;” (Filp. 3:9), ens.
In al hierdie verse, en daar is soveel meer, is dit Christus alleen (solus Christus), wat die wese en bron van ons verlossing is. Ja, die mens is betrokke ten volle, en as vrug van Jesus se volkome verlossingswerk, volg die mense se betrokkenheid in verlossing.
En daarom, die roem en die eer en die lof …. nogsteeds, ja, van altyd af, maar ook nogsteeds van die tydperk van die Reformasie in die besonder: alleen, alleen, en nogmaals alleen (allein! = sola!) aan die Here vir sy groot genade en liefde. Dus nie lof aan Jesus *plus* Maria, aan Jesus *plus* die Kerk, Jesus *plus* die Pous nie, Jesus *plus* my werke nie (en ook nie Jesus *‘plus’* MY geloof as verbondsvoorwaarde soos sommige ‘verbondsienings’ dit wil stel nie, kontra HK So. 24; NGB art. 22-23), maar aan God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, alleen al die eer, Rom. 11:33-36 as loflied vir Rom. 1-11, ons ganse verlossing:
“30Maar *deur Hom is julle in Christus Jesus*, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. 31Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, *moet in die Here roem*.” (1 Kor. 1:30-31)
En daarin alleen – die suiwer evangelie van redding uit genade alleen, geloof alleen, Christus alleen, volgens die Skrif alleen, aan God die eer alleen – verheug en lewe elke gelowige van alle tye en eeue nou in dankbaarheidswerke as vrug en gevolg (sien HK deel 3; NGB art. 24, ens), “… soos geskrywe is: Maar die regverdige sal *uit* die geloof lewe (Rom. 1:17) – ook ons dierbare kosbare geseënde suster, moeder Maria, as sy uitroep soos Dirk Postma aangewys het in sy Handleiding, *en ons saam haar uitroep*, as ons enigste Troos en Hoop, na liggaam en siel, nou en tot in ewigheid:
‘My gees verheug hom *in* God, *my* Saligmaker’ (Lukas 1:28, 47), niks en niemand anders nie (Hand. 4:12).
Amen.
____________________________________
Meer oor Dirk Postma.
Leave a comment