KOSBARE OU GOUD: Valse en Ware Profesie – preek van ds. JA (prof. Koos) van Rooy

KOSBARE OU GOUD

Valse en Ware Profesie preek van ds. JA (prof. Koos) van Rooy*

(Uitsaaipreek[1] van Ds. J. A. van Rooy oor Jeremia 26 vanuit die Gereformeerde Kerk, Johannesburg-Noord, op 12 Januarie 1964.)

Teks: Jeremia 26:11-13:

“En die priesters en die profete het met die vorste en met die hele volk gespreek cn gesê: Hierdie man verdien die dood, want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met jul ore gehoor het. Maar Jeremia het al die vorste en die hele volk toegespreek en gesê: Die HERE het my gestuur om teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer al die woorde wat julle gehoor het. Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van die HERE julle God; dan sal dit die HERE berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het.”

VALSE PROFESIE — DIE BEGIN VAN DIE ONDERGANG

Ds. Koos van Rooy (links agter), by sy vader, ds. Jacs van Rooy (regs agter), en grootvader, ds. Koos van Rooy (voor).

Die valse profesie is ‘n kenmerkende plaag wat ‘n volk teister in die tyd wat direk aan sy ondergang voorafgaan. Dit is een van die tekens dat God se geduld met ‘n volk op is; dat die oordeel nou op hande is. Dit is ‘n straf van God om die ondergang van ‘n volk te verhaas. Die valse profesie is selfs een van die eerste stadiums van die oordeel self. Die valse profete moet die gewete van ‘n volk toesmeer en hulle onrus probeer sus, sodat hulle nie dalk na die roepstem van die ware profete sal luister en hulle bekeer nie.

Dit sê Jeremia in die hoofstuk wat op Hfs. 26 volg (27:9, 10), aan Juda en aan al die volke rondom Juda: “Julle moet dan nie luister na julle profete en na julle waarsêers en na julle dromers en na julle goëlaars en na julle towenaars nie, wat met julle spreek en sê: Julle sal die koning van Babel nie dien nie. Want hulle profeteer leuens vir julle om julle ver te laat wees uit julle land, sodat Ek julle verdrywe en julle omkom.”

“Vrede! Vrede!”

Hierdie valse profete paai die volk en vertel vir hulle dat alles goed sal gaan, en hulle probeer die oordeel van God wegpraat, sodat Jeremia moet kla (14:13): “Ag Here HERE, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hé nie, maar Ek sal julle ‘n duursame vrede gee in hierdie plek.”

En die valse profete bewys dit ook — soos hulle dink! Hulle sê (7:4): “Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!” Hulle maak van die tempel ‘n “gelukbringertjie” (Veldkamp): “Die HERE se tempel staan tog tussen ons, en Hy kan ons tog nie in die steek laat nie! Hy durf ons tog nie aan ons vyande uitlewer nie — -Hy kan tog nie sy tempel in die steek laat nie. Daar is tog darem nog godsdiens onder ons! Ons is tog darem ʼn godsdienstige volk!”

Of hulle beroep hulle op die verbond van die HERE met Abraham en hulle sê: “Die HERE sal nooi sy verbond verbreek nie . . .” en dit is heeltemaal waar, maar wat hulle nie sê nie, is dat die verbond tog verbreek is en tot niet is — hulle het self die verbond van hulle kant verbreek.

Baie soorte valse profete

Daar is natuurlik maar altyd valse profete onder ‘n volk. Daar is ook baie soorte van hulle.

Daar is die valse leraars wat die fondamente van die evangelie aantas.

Daar is ook die liberaliste en vrysinniges wat die behoudende karakter van ‘n volksiel aantas, en wat ‘n volk se geloof en sedes ondermyn deur vrydenkery en vryheid van sedes te verkondig onder ‘n dekmantel van ruimheid.

Hulle het hulle duisende verslaan.

Daar is ook die soort valse profete wat niks anders as oordeel preek nie, en wat die genade in Christus verswyg. Hulle is gelukkig teenswoordig skaars.

Die gevaarlikste soort

Maar die gevaarlikste soort valse profeet is hierdie wolwe in skaapsklere, wat ʼn volk paai en sy gewete sus en vir hom sê:

“Vrede! God sal jou nie in die steek laat nie! Jy is ‘n christelike volk !”

Hulle kom in skaapklere, want hulle paradeer as kampvegters vir die tradisies, as patriotte, as mense wat lojaal is teenoor hulle eie volk.

‘n Oer-oue verskynsel

Dit het al begin in die tyd van Sedekia Ben-Kenaäna wat vir hom ysterhorings gemaak het om vir Agab uit te beeld hoe hy die Arameërs sou stoot totdat hulle vernietig is teen die raad van Miga Ben-Jimla in wat Agab voor die tyd gewaarsku het dat hy in die geveg sal omkom, wat ook gebeur het. (i Konings 22.)

Dit het weer gebeur in die tyd van die profeet Amos, toe Amasia, die priester van Beth-el, aan Jerobeam die tweede laat weet het (Amos 7:10): “Amos het ‘n sameswering gesmee teen u … die land sal dit onder al sy woorde nie kan uithou nie!”

Dieselfde was maar weer die geval in die tyd van die profeet Miga. Die profeet wat die komende oordeel voorspel het, was toe ʼn uitsondering.

Dit het ‘n klimaks bereik ook in Juda, op die vooraand van die ondergang, toe ‘n karakter soos Hananja (Jer. 28:10) die juk wat Jeremia op God se bevel op sy skouers moes dra, afgehaal en verbreek het met die woorde: “So spreek die HERE: So sal Ek verbreek die juk van Nebukadnésar, die koning van Babel, in nog twee jaar, van die nek van al die nasies . . .”

Populêre “profete”

Hulle kom in skaapsklere, en hulle is gewoonlik vreeslik populêr, omdat hulle vir die volk sê presies wat die volk graag wil hoor. Soos Jeremia sê in Hfs. 5:31: “. . . Die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê . . .”

Of soos Miga voor hom dit sal gesê het (Miga 2:11) : “As iemand wind nawandel en bedrieglik lieg en sê : Ek sal vir jou profeteer by wyn en sterk drank -— dan sou hy vir hierdie volk ‘n profeet wees!”

Hulle kom in skaapsklere, maar hulle is wolwe, omdat hulle die volk na die mond praat; omdat hulle die volk in sy sonde aanhits i.p.v. om hom tot bekering op te roep.

Hulle gaan selfs sover om die volk teen die ware profete op te maak, soos ons lees in Jer. 26:11: “En die priesters en die profete (juis hulle!) het met die hele volk gespreek en gesê: Hierdie man verdien die dood, want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met julle ore gehoor het.”

Pasop vir hulle! Wees op u hoede vir hulle! Bedienaars van die woord, ondersoek uself of u nie al onder hulle verval het nie. Ons sal onsself nie aanmatig om hulle vir u aan te wys nie, maar dit sal baie vreemd wees as hulle nog nie in die boesem van die kerk probeer insluip het nie. In die geskiedenis van sowel die ou as die nuwe verbond was hulle meesal (hoewel nie altyd nie) in die meerderheid. Pasop vir die meerderheid!

Die dier uit die aarde

Die woord van die HERE teken hulle duidelik genoeg, en as u na die woord wil luister, sal u hulle uitken. Hulle aartsbiskop is die dier waarvan ons lees in Openbaring 12, wat uit die aarde opkom — die handlanger van die antichris, wat twee horings het netsoos ʼn lam en praat soos ‘n draak, en wat genoem word “die valse profeet”.

Hulle kom nie net onder die verkondigers van die woord voor nie, maar hulle mag hulle verskyning maak as volksleiers op alle terreine — die godsdiens, die ekonomie, die politiek, die opvoeding, die kultuur, of waar ookal.

Luister krities!

Pas vir hulle op! Hulle is verleiers! Hulle is blinde leiers van blindes. Moenie self ook blind wees nie. Die Skrif waarsku ons teen hulle praatjies.

Luister tog krities na wat genoem word die verkondiging van die Woord — in besonder by volksfeeste. Moenie alles vir soetkoek opeet wat vir u as die Woord van die HERE opgedis word nie. Dit is nie altyd die Woord van die HERE nie; dit mag dalk die woord van ‘n mens wees wat aan u verkondig word, Toets dit en weeg dit. U het die Woord van die HERE as toetssteen. Selfs Paulus het in een van sy briewe aan die gemeente geskryf (1 Kor. 10:15): “Ek spreek soos met verstandige mense. Oordeel self wat ek sê.”

Hulle “Evangelie”

Die valse profete is hulle wat u byvoorbeeld sal wysmaak dat die HERE u sal beskerm ten alle koste, maar van bekering en berou en boete swyg hulle.

Dit is hulle wat u sal aanmoedig om maar in u eie waan en hoogmoed en gevoel van rassemeerderwaardigheid te volhard; om uself maar op ‘n voetstuk te plaas teenoor ander mense. Dit is hulle wat u wraaksug en selfsug maar sal streel, en in die naam van die HERE vir u as u enigste roeping sal voorhou om uself te handhaaf, al moet dit ten koste van liefde en geregtigheid gaan.

Hulle sal enigiets doen om te verhoed dat u uself ondersoek en u verootmoedig en u bekeer. Hulle doen dit sodat u uself mag vernietig, want hulle vaar na die verderf en hulle wil u saamsleur.

Diewe van God se Woord

Pasop vir hulle! Hulle kom onder die dekmantel van verkondigers van die Woord, hierdie soort valse profeet. Jeremia sê iewers (23:29-31): “Is my Woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer-wat die rots vermorsel nie? Daarom, kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat my woorde steel, die een van die ander . . . wat hulle eie tong gebruik en sê: Die HERE spreek!”

Die krag van die dwaling

As hulle kom, en die volk begin agter hulle aanloop, dan is dit die begin van die einde, die begin van die oordeelsvoltrekking. Dan gee God die volk as straf ook heeltemaal in hulle mag oor. Ons lees in 2 Thess. 2:11, 22: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” Hulle word gebruik as ‘n sif om die koring en die kaf te skei, sodat die getroues nog getrouer mag word en die afvalliges nog afvalliger (Openbaring 22:11).

Pasop vir hulle! In ‘n krisistyd soos die waarin ons leef, is daardie soort profeet baie in aanvraag om vir die volk vrede te verkondig waar geen vrede is nie; om die volk ‘n valse gerustheid en vertroue te gee. Maar hulle is die vyande van die volk, die gevaarlikste vyande van die volk. Hulle is erger as moordenaars, omdat hulle die volk nie net na ‘n tydelike ondergang lei nie, maar ‘n menigte in die ewige ondergang saamsleep.

Hulle oordeel

Daarom is hulle oordeel ook so vreeslik. Die Here Jesus het gesê (Lukas 6:26): “Wee julle wanneer die mense goed van julle praat, want hulle vaders het netso aan die valse profete gedoen.”

En aan Jeremia het die HERE hierdie woorde gesê {14:15): “. . . Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie -—- dïé profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom.” Hulle is die eerstes wat getref sal word.

En ook die ewige straf wag op hulle, soos ons lees in Openb. 20:10: “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”

* * *

Ons sal nie méér oor die valse profesie sê nie. Die waarskuwing van die Woord van God is duidelik genoeg. Maar gelukkig het die HERE ook aan elke volk die ware profete geskenk om sy regte Woord te spreek.

WARE PROFETE — NIE SO POPULÊR NIE!

Hierdie ware profete is gewoonlik nie so populêr by ‘n volk nie, veral wanneer daardie volk op die afdraende pad is. Die Here Jesus, ons hoogste Profeet en Leraar, is vermoor deur sy volk omdat hy ʼn ware Profeet was; omdat Hy, netsoos Jeremia, teen die Kerk, geprofeteer het.

En voor sy dood het Hy aan sy dissipels hierdie woorde gesê (Joh. 15:20): “Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ʼn Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg . . .” Onthou die woord, broeders en susters!

Ook Stefanus het voor sy steniging aan die Jode gesê (Hand. 7:51, 52): “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van eie profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het . . .”

“Salig is julle wanneer die mense julle haat!”

Die Here Jesus het in die Bergrede aan sy dissipels gesê (Luk. 6:22vv) : “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg” is, terwille van die Seun van die Mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.”

Dit is wat hulle aan Jeremia gedoen het. Hulle het sy naam weggegooi soos iets wat sleg is. Hy kla sy nood teenoor God: “Ek was ‘n belagging die hele dag, almal saam spot niet my!”

Vroeg in sy optrede al het die manne van sy geboorteplek Anatot, saamgesweer om hom dood te maak (11:21), en in Hfs. 26 hoor ons dat die priesters en die profete (die valse profete) en die volk sê: “Hierdie man verdien die dood, want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met julle ore gehoor het.” (26:11)

“ Verraaiers”!

Later, 38:12, tydens Sedekia, is hy as verraaier aangekla en in ‘n put gegooi, waaruit Ebed-Meleg, ‘n Kusiet, ‘n swart man uit Afrika, hom gered het.

Barug vertel ons in Hfs. 26 ook wat met ‘n ander profeet gebeur het: met Uria, wat dieselfde woorde as Jeremia verkondig het. Vir Jeremia was Jojakim nog skrikkerig. Hy was invloedryk. Hy net onder die beskerming van die magtige Ahikam gestaan.

Maar van hierdie onbekende Uria uit die platteland van Kirjat-Jearim het Jojakim kans gesien om maklik ontslae te raak. Selfs toe Uria na Egipte gevlug het, het hy hom daar laat opspoor en om die lewe laat bring en sy lyk in ʼn gat gegooi waar dié dooies gegooi is  wat nie ‘n graf kon bekostig nie. As Jojakim net vir Jeremia en Ahikam kans gesien het, sou hy sekerlik nie ‘n oomblik geaarsel het om met hom dieselfde te doen nie.

Lastige mense

Dis te verstane dat die wêreld ‘n ware profeet sal haat, want die Woord van God is ‘n tweesnydende swaard. Dis alles behalwe ʼn wiegelied vir die goddelose. By sy roeping het Jeremia die opdrag gekry eers “om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes” en daarna: “om te bou en te plant” (1:10).

Dit is lastig, te meer waar hierdie profeet sy werk nie net as ‘n private aangeleentheid beskou nie, maar tot die hele volk en die hele kerk spreek. Hoe kan hy die Woord van die HERE vir homself hou? Hoe kan hy toesien dat sy volk te gronde gaan? Iewers (20:9) sê hy: “En as ek sê: Ek sal aan hom nie meer dink nie en in Sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos, ʼn brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.”

Nee, hy kan nie swyg nie. Hy gaan staan in die tempelpoort; in die poort van die gebou waarop die volk hulle valse hoop vestig, op ‘n feesdag wanneer die stede van Juda kom om te aanbid, waar elkeen dit kan hoor en hom kan bekeer, en daar gaan verkondig hy die verwoesting van die tempel.

Dit is vir die volk te erg. Hulle word so woedend dat hulle hom van kant wil maak, omdat hy die Woord van God verkondig en hulle nie van daardie Woord hou nie.

So gaan dit vandag in ons land ook. Mense sal die liederlikste en ligsinnigste dinge hoor en lees en dink dis ‘n groot grap. Hulle sal bystaan waar die Naam van die HERE gelaster word en daar niks van dink nie, Maar pasop as jy vir hulle die oordeel van God verkondig en hulle sondes vir hulle vertel. Sekere predikers in ons land word al verfoei omdat hulle aan die gewete van ons volk krap; omdat hulle nie maar in algemeenhede bly sweef nie, maar die sonde by sy naam noem. Hoe jammer dat daar nie meer van hulle was wat die moed het om dit te doen nie!

Ons kan voorbeelde noem van mense wat graag na preke oor die radio luister, maar,. sê hulle, as dié en die dominee oor sekere onderwerpe preek, skakel ons die radio af — nie omdat hy nie die Woord verkondig nie, maar omdat ons nie van die woord hou wat hy verkondig nie. En dieselfde mense luister met genot na storietjies en politieke toesprake wat onder die naam van woordverkondiging uitbasuin word. Maar die profete wat God se Woord verkondig, is lastig vir die onbekeerlike mens.

Christus, ons hoogste Profeet

Niemand mag beweer dat Jeremia en sy ampsgenote volmaak en sonder sonde is nie. Onder die druk van vervolging en die smart om die ondergang van sy geliefde volk oor bykans ʼn halwe eeu te moet aanskou (1:2, 3), verwens hy soms sy teenstanders (17:18), verwyt hy die HERE en noem Hom “ʼn bedrieglike stroom” (15:18) omdat die volk nie na sy prediking wil luister nie; vervloek hy selfs die dag van sy geboorte (20:14-18). In sy onvolmaaktheid is ook hy ‘n roepstem na Jesus Christus, die enigste volmaakte Profeet.

Hy is die Christus. Hy is die Gesalfde, gesalf as ons hoogste Profeet en Leraar, wat deur die ywer vir die huis van die HERE verteer is; wat in volkome liefde gekasty is; wat sy boodskap met ‘n voorbeeld van smettelose heiligheid versier het; die Amen, die waaragtige–en getroue Getuie, getrou tot die dood toe, wat  met sy versoeningsbloed die ontrou en tekortkominge van al sy profete bedek; met sy vrymoedigheid hulle vreesagtigheid bedek; met sy wysheid hulle kortsigtigheid en onvolwassenheid in die  waarheid; met sy liefde, waar Hy aan die kruis selfs vir sy beule gebid het, hulle tekort aan liefde bedek en versoen het — met sy liefde wat sterker as die dood was.

Wees aan Hom getrou!

En, omdat elke profeet deur Hom gedra word, en deur sy Heilige Gees gesalf is wat Hy as verhoogde Heiland uitgestort het, mag geen profeet meer vir vervolging of gevare, vir smaad of dreigbriewe, selfs vir die dood stuit nie.

Medebedienaars van Gods woord! As u bevrees is om die waarheid te spreek en te vermaan; as u sekere sondes, spesifiek die sondes van ons Afrïkanervolk, verswyg uit “versigtigheid”, omdat u bang is om “ons mense te ontstel”, dan mag” u geen bedienaar van die Woord wees nie. As u nie ‘n valse profeet is nie, is u deelgenootskap dan nogtans by die ontroues,

Toe Jeremia se lewe bedreig is, het hy nie die oordeelsaankondiging probeer verdoesel of teruggetrek nie, maar voortgegaan met die woorde (26:12-14): “Die HERE het my gestuur om teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer al die woorde wat julle gehoor het. Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van die HERE julle God; dan sal dit die HERE berou oor al die onheil wat Hy teen julle gespreek het. Maar ek, kyk, ek is in julle hand; maak met my soos dit goed en reg is in julle oë.”

En Jeremia het ook nie omgekom nie soos Uria wat gevlug het nie. Hy moes nog nie omkom nie. Daar moes nog ‘n stem van God onder die volk bly tot op die laaste, tot op die ondergang. Daar is ‘n betroubare oorlewering in die Joodse geskiedenis dat hy later deur die Jode in Egipte gestenig is. Maar hier het die volk nog omgeswaai en hom gelyk gegee teen die valse profete, al was dit dan uit valse motiewe en al het hulle hul nie bekeer nie (26 :19b).

Wie is lojaal teenoor ons volk?

Hulle het tenminste ingesien dat hy nie ‘n verraaier is nie. En dit is waar. Die valse profete en die bang profete is volksverraaiers, maar nie Jeremia nie. As daar iemand is wat ‘n ware patriot is, dan is dit hy. Hy sou met vreugde vir sy volk wou sterwe. As dit op die punt afkom, dan staan hy by sy volk. Toe Nebukadnésar na die verwoesting van. Jerusalem hom ‘n eervolle vrygeleide na Babel aangebied het, het hy dit van die hand gewys en verkies om in die verwoeste stad by die verarmde oorblyfsel van sy volk te bly. Daarom moet iemand nie dink dat hy ‘n ware profeet is net omdat hy teen die volk draai nie. ʼn Ware profeet draai nie teen sy volk nie —- hy draai teen die sonde van sy volk.

As daar iemand is wat daardie volk waarlik lief gehad het, was dit hy, en hy treur oor hulle (Klaagliedere!), soos die Here Jesus oor daardie selfde volk geween het (Luk. 19:42; Matth. 23:37):

“As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! . . . Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!”

Jeremia het ook redding verkondig, maar, anders as die valse profete, redding deur die vuur van die oordeel heen. Redding van ‘n oorblyfsel, anderkant die oordeel. Die grootste deel van die volk moes in die slag bly. Alleen ʼn res het oorgebly, gelouter, gesuiwer, geheilig tot diens.* * *

Ons is nie ʼn “Christelike volk” nie!

Geliefde Afrikaners! Ons het in Suid-Afrika geen rede om gerus te wees en vrede te verwag nie. Ons het geen grond om ons na die onlangse skandale in Engeland bo die Britse volk te verhef asof ons beter as hulle is nie. Dit is bv. statisties vasgestel dat 80% van die Afrikaners leesstof verkies wat juis daardie skandale opdis. Ordentlike leesstof kry by ons eenvoudig nie aftrek nie.

Al was ons ook ‘n christelike volk, dan was God nog nie verplig om ons te bewaar nie. Ons het voor Hom geen eise om te stel en geen aansprake om te maak nie. Dit sou alleen God se genade wees as Hy ons nie verwerp nie.

Sestig jaar gelede was ons saak voor God seker suiwerder as nou, en tog is ons daar gebreek en verneder tot in die stof. Dat die HERE ons nog laat voortbestaan, is maar net omdat sy doel met ons nog nie uitgedien is nie. En as ons nie meer aan sy doel met ons wil beantwoord nie, dan bly daar vir ons as volk niks meer oor as om vir die varke gegooi te word nie.

Die HERE kan ons red as Hy wil — natuurlik kan Hy. Maar dit beteken nie dat Hy dit moet doen nie.

Maar u weet self dat ons nie meer ‘n christelike volk is nie — as ons dit ooit was, gesien in die lig van God se doel met ons. Beantwoord ons waarlik nog aan die doel waarvoor God ons in hierdie land geplaas het. Eintlik moet ons ook maar soos Jeremia bely (14:20) : “HERE, ons ken ons goddeloosheid, die ongeregtigheid van ons vaders, want ons het teen U gesondig” — ons én ons vaders staan skuldig voor die HERE.

Die oordeel

Petrus het gesê (1 Petr. 4:17, 18) : “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?”

In dieselfde gees het die Here Jesus later op pad na Golgotha vir die wenende vroue gesê (Lukas 23:28-32): “Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en julle kinders; want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie. Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons! Want as hulle dit doen aan die groen hout (dws. aan My, aan Jesus), wat sal met die droë gebeur?”

“Dit kan nie met my gebeur nie!”

Daar is ‘n soort psigose, ‘n soort geestesafwyking wat ‘n volk besiel wanneer hy sy ondergang in die aangesig staar — wanneer hy ‘n “droë hout geword het. Hy dink naamlik: “Dit kan nooit met my gebeur nie!”

Veral ons in Suid-Afrika, wat nou al twee wêreldoorloë grotendeels as toeskouers meegemaak het en veilig in ons land gesit het, terwyl die verskrikkings ander mense, ander families, ander moeders en kinders getref het — veral ons moet oppas om nie te gerus te word nie.

Alleen die gelowige hoef nooit bevrees te wees nie. Hy weet: al kom hy om, God sal hom deur die dood heen red. Maar die onbekeerde moet maar gerus bevrees wees. Hy het geen rede om gerus te wees nie.

Laat ons dit aan u sê: Nooit was die afval van ons volk so ooglopend as nou nie; en wat meer is: nooit in die verlede was daar sulke gedugte magte sowel van binne as van buite ons land teen ons opgestel as nou nie.

Dit sal nie vreemd wees as die oordeel spoedig oor ons losbars nie -— Dit sal vreemd wees, dit sal ‘n wonder wees, as dit nie spoedig gebeur nie. Dit mag net ‘n kwessie van tyd wees, en dalk van baie minder tyd as wat ons dink . . .

Nou is die tyd waarin ons profete soos Jeremia nodig het om ons volk tot bekering op te roep. En met profete bedoel “ons nie net predikante nie. Elke gelowige wat met die Heilige Gees gesalf is, is ‘n profeet. U almal wat nog bewe voor God se woord — u is profete!

U roeping

Die enigste hoop op redding vir ons volk is dat u,” gelowige broeder en suster, wat nog die ware woord van God gehoorsaam wil wees, u volksgenote oproep om hulleself te ondersoek en hulle te bekeer. Die enigste redding sal wees dat ‘n gees van selfverootmoediging en berou ons volk aangryp. Verder: dat u, gelowige res, ook priesters sal wees wat dag en nag nie ophou om die HERE te smeek dat sy Gees weer oor ons volk vaardig mag word nie —- dat Hy die harte van klip en vet mag verwyder en aan ons harte van vlees mag gee (Eseg. 36). Hef, soos Paulus u beveel (1 Tim. 2:8), heilige hande op en smeek die HERE dat Hy ons volk weer ‘n ligtende lig en ‘n soutende sout mag maak in donker Afrika, dat sy Naam wat oor ons uitgeroep is, nie meer om ons ontwil voor die heidene van Afrika en van ons eie land tot skande gemaak mag word nie.

‘n Dwase reaksie

Moet tog nie toegee aan die versoeking om die ware profete te verketter en te smaad en te veroordeel nie. Wat is dwaser as dit: om jou soos ‘n verwoede dier grommend te werp op die man wat jou uit die strik waarin jy vassit, wil bevry. Moet u tog nie deur ‘n instink laat lei nie, maar onderwerp u aan die Woord van God. Moenie kwaad word nie — bekeer u liewer en lewe. Die HERE het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe (Eseg. 33:11).

God kan berou hê!

In Jeremia 26 word tot driemaal toe gesê dat dit God sal berou oor die oordeel wat Hy bestem het, en dat Hy dit sal afwend as ‘n volk hom bekeer. En talle kere in die loop van die geskiedenis het Hy ook sy oordeel afgewend, van die tyd van Israel in die woestyn af tot by die bekering van Ninevé.

Dit is onbegryplike dieptes van God se gedagtes -— dat sy dreigende oordeelsvoorneme God kan berou. Dit is onbegryplik, maar dit is waar. As ons ons bekeer, dan sal God die oordeel afwend. Hy het sy Seun ook vir ons volk in die dood oorgegee, sodat ook ons volk vir Hom mag lewe.

Hy is almagtig — Hy kan alles doen. Hy kan selfs ons tot Hom bekeer, en ons staan hier met die hoop van Jeremia in ons gemoed — die hoop wat God hom gegee het (26:3), naamlik:

“Miskien sal hulle luister en hulle bekeer elkeen van sy verkeerde weg . . .”

Voorwaarde vir ons voortbestaan

Laat ons dan naspeur wat ons roeping in hierdie land is, sodat ons kan beantwoord aan die roeping waarvoor God ons hier geplaas het: Om sy koninkryk te dien en nie om onsself te dien nie.

“Julle is die lig van die wêreld!” Julle lewe, en julle getuienis, moet Jesus Christus vertoon aan Afrika, om Gods Naam ontwil!

Alleen dan is daar nog vir ons hoop!

AMEN.

Gebed:

“O Verwagting van Israel, sy Verlosser in tyd van benoudheid! Waarom sou U wees soos ‘n vreemdeling in die land en soos ʼn reisiger wat uitdraai om te vernag? Waarom sou U wees soos ʼn man wat verslae is, soos ʼn held wat nie kan verlos nie ? U is tog in ons midde, o HERE, en u Naam is oor ons uitgeroep. Verlaat ons nie!” (Jer. 14:8, 9.)

U is groot van genade en ontferming. Ontferm U ook oor ons dierbare volk en land. Bekeer ons tot U, dan sal ons ons tot U bekeer!

Wil die getroues aan u woord toerus met die krag van u Heilige Gees, om met vrymoedigheid en vuur ons volk tot bekering op te roep, sodat ons u wil vir ons kan ken en volbring, om u heilige Naam ontwil, in die Naam van onse Here, Jesus Christus.

Amen. 

[1] Met die oog op publikasie is hier enkele byvoegings gemaak, veral waar  medebedienaars van die woord direk toegespreek word.

__________________________________

* Prof Koos van Rooy se webblad: 

“Koos van Rooy has been a minister, missionary, Bible translator, lecturer and a man of God for many many years. The content of his teachings, articles, books etc over the years have been of such a nature that there can be no alternative than to publish them online for everyone to read, use and enjoy. On this site, you will find the lifetime collection of his works in both English and Afrikaans. You are welcome to contact the author with any questions or comments. Koos van Rooy has served in Venda, Soweto and Johannesburg as a missionary of the Reformed Churches in South Africa and the Reformed Churches in the Netherlands. He has been involved in a number of Bible translation projects, serving as the project coordinator on two occasions, namely: Venda Bible translation (1973 – 1998) and isiZulu Bible translation which completed its first draft in 2014. From 1975 – 1998 he served as a professor of Old Testament and later also Missiology at the Hammanskraal Theological Seminary of the Reformed Churches.  If you would like to read more about Koos van Rooy please visit the about page.”

Ander preke hier op Pro Regno: Preke

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑