Die vrou in God se Koninkryk – drie standpunte

DIE VROU IN GOD SE KONINKRYK – DRIE STANDPUNTE

Inleidend

In vandag se “gender wars” moet ons kennis neem daarvan dat daar nie slegs twee standpunte in die wêreld en in ons kerke bestaan oor die roeping, take en rolle van mans en vroue nie, maar drie.

Al vir dekades is daar die debat tussen die komplimentere vs egalitariese beskouing. Maar, daar is ook ‘n derde beskouing, wat ek terwille van gesprek die leier-hulpskap beskouing gaan noem. Nou gaan ek my verduideliking gee daarvan, in die konteks van ons dekadelange debatte oor hierdie saak:

1. Die egalitariese beskouing

Die egalitariese beskouing, hetsy militante feminisme (buite die kerk) of die evangeliese feminisme (binne die kerk) sien die man en vrou in alles gelyk.  Spesifiek wat die evangeliese feminisme betref:

1.1 die man en vrou is gelyk in waarde en wese voor God,

1.2 hul word gelyk deur en in Christus gered, en

1.3 is dus ook gelyk in rolle en take.

Dit beteken dat die besondere ampte, soos enige beroep in die samelewing, oop is vir mans en vrouens wat aan die nodige vereistes voldoen.

2. Die komplimentere beskouing

Die komplimentêre beskouing glo dat:

2.1 mans en vrouens is gelyk in waarde en wese (Gen.1:26-28),

2.2 gelyk in hul redding in Christus (Gal.3:28; 1 Pe.3:7), maar

2.3 dat man en vrou verskillende rolle en take in die kerk het.

Dit beteken die vrou kan enige beroep in die samelewing beklee, maar in die kerk mag sy nie in die besondere ampte staan nie.  Vir hierdie beskouing is die rol van die vrou as vrou van haar man en die gesinslewe baie belangrik, en, alhoewel die kwessie van ‘huislik wees en moederskap’ belangrik is, is dit nie noodwendig ‘bepalend’ en die sentrale fokuspunt vir die vrou se rol/taak in die koninkryk nie.

Verteenwoordigend hiervan is die Council for Biblical Manhood and Womanhood: http://www.cbmw.org/

3. Die leierhulpskap beskouing

Hierdie standpunt is volkome eens met die komplimentêre beskouing:

a. man en vrou is gelyk in waarde en wese geskape deur God,

b. ontvang redding gelyk in Christus,

c. die huwelik en gesin is baie belangrik, die vrou se rol/taak moet daarop gefokus wees, en

d. die vrou mag nie in die besondere ampte dien nie, maar wel ten volle in die amp van die gelowige.

Standpunte 2 en 3 is dus ten volle verenig in hul skriftuurlike beskouing oor die ampskwessie ‘binne’ die kerk, staan saam teenoor die egalitariese beskouing, maar verskil tog oor die belangrikheid en sentraliteit van aspekte soos ‘moederskap’ en ‘huislik’ wees. Die leier-hulpskap beskouing meen dat die algemene hoofskap van die man oor die vrou, nie net geld in die kerk nie, maar ook in die samelewing. Mans moet orals liefdevolle opofferende leiding gee, nie net in die kerk nie. Die vrou moet haar roeping in en om die huis vervul (wat vanselfsprekend beteken dat sy ook in die samelewing, soos die Spr.31 vrou betrokke gaan wees, maar altyd die gesin/huis as fokus).

Wat is die vrou se roeping ?

Tydens die GKSA se sinode 2009 het ek by die kommissie aangaande vroue in die diakenamp, die problematiek aangaande ons roepingsbeskouing (man en vrou se onderskeie rolle in die koninkryk oor die algemeen) asook ons ampsbeskouing (man en vroue se rol in die kerk) soos volg geformuleer:

“Ons is sedert 1988 nogsteeds (verkeerdelik) besig om by 1 Tim.2:11,12 te bly vassteek en heeltyd terug te keer, terwyl ons, in gehoorsaamheid juis van 1988 se opdrag, al lankal by 1 Tim.2:15 en die volle implikasies daarvan moes gewees het en daarmee geworstel het”.

Nou het daar al nog ‘n geslag verbygegaan wat 1 Tim.2:15 gemis het, en die rampspoedige gevolge het prof. Paul Kruger vir ons duidelik uitgewys in sy artikel in die Kerkblad, oor die vermindering van kindergetalle (Febr. 2009).

In 1 Tim.2:15 gebruik Paulus die een sentrale unieke eienskap van vrou wees (om kinders te baar), om ons te wys wat die hele fokus, beweegrigting, aandagspunt van “die vrou se rol in die kerk” moet en behoort tewees. Maar huidiglik, bly ons fokuspunt, lyk dit vir my, nogsteeds by hoe kan die vrou in die gemeentewerk oor die algemeen nog meer aangewend word.

Daarteenoor, lyk dit vir my asof Paulus, in my eie woorde, wil sê: “godsvresende vrouens, as julle die kerk wil bou en tot diens wil wees – keer terug ‘huistoe’, wees weer ‘huislik’, kry kinders, ‘n nageslag tot eer van die Here, maak die huis weer die sentrale plek van die gesin (en nie die kerkgebou, universiteit, skool, sportveld, ens. nie). Maak die huis en gesin weer die bastion van beide kerk en volk, en leer dit vir julle kinders, veral die dogters.

Dus, ons moet studies doen om nie net te sien hoe die vrou se gawes ten opsigte van ‘gemeentewerk’ beter gebruik kan word nie, maar juis ‘bekeringstudies’ om vas te stel hoe kan ons ons dierbare vrouens en jonge dogters bevry word van die slawerny van om in die beroepswereld/tydsgees op te gaan, waar moederskap en huislik-wees bloot as ‘n stokperdjie beoefen word.

Ons moet verder ook waak om van uitsonderings, die reël te maak, en sodoende die beginsel oorboord te gooi (bv. die jongvrou wat nog nie getroud is nie, die vrou wat nie geroep word tot die huwelik nie, die vrou wat nie kan kinders kry nie, die vrou wie se kinders almal uit die huis is, die weduwee, ens.).  Daarom sal dit goed wees om aandag te gee aan bv. Spr.31:10-31, en dan veral wat Paulus verder se oor die vrou se rol/taak in die Pastorale briewe (1 en 2 Tim; Titus).

Die ‘negatiewe’ weet ons nou goed volgens 1 Tim.2:11-14, is dat die vrou nie in die besondere ampte mag dien nie.

Maar wat is die ‘positiewe’, wat leer Paulus deur die Gees is die vrou se rol en taak ?

Die Pastorale Briewe oor die vrou se roeping

Ek het reeds 1 Tim.2:15 genoem, maar kyk ook na die volgende verdere Openbaring:

Eer die weduwees wat waarlik weduwees is. 4 Maar as ‘n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God. – 1 Tim.5:3,4

Implikasie: Die weduwee vrou se fokus is op die gesin, die ‘eie huis’, hoe die kinders opgevoed word. Die vrou mag wel ‘leer’, nie ander mans nie, maar ander vroue en kinders.

 En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag. Maar sy wat losbandig is, is lewendig dood.  Beveel ook hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees. Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloen en is slegter as ‘n ongelowige. – 1 Tim.5:5-8

Implikasie: Die gesin is die basis vir ‘n gesonde gemeente. Dit help nie daar word mooi dienswerk vir die gemeente gedoen, terwyl my gesin/kinders/huwelik ten gronde gaan nie (sien veral vers 8).

Laat ‘n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het. – 1 Tim.5:9-10

Implikasie: Hoekom word ‘n weduwee gekies bo sestig jaar ? Antwoord: omdat sy nie meer kan kinders kry nie, omdat sy reeds haar kinders grootgemaak ‘het’ (verlede tyd). Sy is nie meer so gebonde aan ‘huislik’ wees nie, omdat haar gesin reeds daardeur is. Sy het dus die papiere, om nou in die kerk ander vroue te leer en kinders te help.

Insiggewend, sy het al die ‘dienswerk’ verrig (o.a. vrou wees/moeder wees/gasvry/voete was/ verdruktes help/ goeie werke/ ens), sonder dat sy in enige besondere amp gestaan het !

Verder, al sou ‘n mens glo dat vroue diakens verkies kan word, dan moet dit vroue wees wat aan hierdie vereistes voldoen, en nie jong ongetroude meisies of susters wat nog gesinne het om voor te sorg nie, want Paulus leer ons in die volgende verse wat God se wil is vir jong weduwees, en by implikasie ook vir jong (ongetroude) vroue:

 Maar jy moet die jong weduwees afwys; want wanneer hulle tot oneer van Christus wellustig word, wil hulle trou en kom onder ‘n oordeel, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het. En tegelykertyd leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie. Ek wil dan he dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise regeer en die teeparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie. – 1 Tim.5:11-14

Implikasies: Paulus leer hier dat God se wil vir die vrouens die huwelik is, kinders kry, hul ‘huise regeer’ (nie oor mans of in die kerk of in die samelewing regeer nie). Dit is die fokus van hul lewe, hul roeping en taak wat hul heeltyd in ag moet neem wanneer hul besluite neem oor hul lewenstoekoms. Paulus leer verder in Titus:

Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is, sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te he, ingetoe te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie. – Titus 2:3-5

Implikasies: Dus, volgens 1 Tim. 5 en Titus kan die vrou leer/regeer, maar binne hul domein. Vrouens mag en moet ander vrouens en kinders leer, hulle is leraresse. Wat leer die ouer vrouens die jonger vrouens ? Om goeie prokureurs en politici te word ? Nee, om ‘huislik’ te wees (Tit. 2:4,5), ter wille van die woord van God, ter wille van die opbou van die ‘huis van God’ (1 Tim. 3:15).

Die pad van bekering en verdere/voortdurende reformasie vorentoe

Daar gaan tye wees dat ‘n jongvrou/weduwee/geskeide vrou ens., nie anders as kan om buite die huis te werk nie, maar dit moet die reël bevestig. Die kerke moet ons vrouens juis help om hul roeping te kan vervul (dus hul geestelike en finansiële hulp te gee), al gaan dit baie opofferings en bekering van sekere lewenswyses en verwagtings vra. Hierdie verandering van lewenswyse sal nie oornag gebeur nie. As gevolg van dekades se feministiese invloede asook die soeke na die ‘lui-lekker lewe’, het ons en ons geslag ons nou in situasies geplaas waarin dit weer baie jare kan vat om weer die praktyk ook so te verander, dat dit weer moontlik word vir vrouens om waarlik ‘huislik’ te wees, om waarlik bevry te word tot die eerbare diens van o.a. 1 Tim. 2:15 tot eer van God en heil van die kerk van Christus.

Maar, ons kan en moet solank ons denke begin vernuwe (dus die Skrif bestudeer en oordink), om uit te vind wat die goeie en welgevallige wil van God is oor ons roeping en take as man en vrou, en nie gelykvormig te word aan die denkwyse en praktyk van ons huidige en toekomstige androgene-feministiese samelewing (en baiemaal ongelukkig) kerke in ons tye nie (Rom.12:1,2).

Die vraag is dus nie: of ‘n vrou mag ‘werk’ nie, dit is ‘n gegewe dat ons vrouens (en mans!) goed en hard moet werk en nie ledig moet wees nie (1 Tim. 5:13; 2 Thess. 3:2), die helper word gegee aan hom wat soveel hulp nodig het, om te ‘bewerk en te bewaak’ (Gen. 1:26-28; 2:15-25), alles deur die genade en krag van die Hulp (Ps. 146:3-5), tot sy eer (vgl. Kol. 3:17 vir wat volg in Kol. 3;18-4:1 … gesin- en ‘bewerk en bewaak’ sake).

Die vraag is daarom eerder: waar, hoe sy moet werk, en wat haar fokuspunt en domein moet wees in diens van God, in diens van die gesin en naaste, in diens van sy kerk en koninkryk.

Slot

My mening is dus dat die komplimentere beskouing goed is vir soverre dit teen die egalitariese-feministiese beskouing wal gooi, maar hul reformasie is nie diepgaande en deurgaande genoeg volgens alles wat die Skrif openbaar vir ons vroue se besondere roeping en take nie. Daar moet dus meer aandag gegee word aan die leier-hulpskap beskouing, wat ek meen die oorspronklike skeppingsordelike, in-Christus herstelde en bevestigende ‘model’ is wat die Skrif leer, juis terwille van die toekoms van ons kerke, waarin ons God wil eer deur die komende geslagte.

Met verwysing na en gebruik van Bavinck se woorde, die genade alleen (Christus) red mans en vrouens (Gal. 3:28), én, heilig (vernietig nie) hul  onderskeie Godgegewe skeppingsordelike take en rolle nie, alles natuurlik reg verstaan volgens die Godsopenbaring, van Gen. 1 tot Op. 22.

 Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei. Anders gaan ons gewis ‘n donker toekoms tegemoet. – Totius  

15 thoughts on “Die vrou in God se Koninkryk – drie standpunte

Add yours

  1. Hoe sien jy my rol in die kerk en samelewing? Ek is oor 30, enkellopend, en ‘n gelowige. As vroue moet tuis bly en vir man en kinders sorg, by wie se huis moet ek bly? Van wie se inkomste moet ek leef en vir wie se kinders moet ek sorg? Of kan jy ‘n ander manier sien hoe God my kan gebruik?
    Hoe sien jy die verse in 1 Kor. 14 wat vertel ‘n vrou is beter af as sy nie trou nie, en kan meer onverdeeld aan die wil van God aandag gee?

  2. Retha, ek dink ek het die scenario wat jy skets reeds beantwoord in my skrywe hierbo, vanaf die opskrif “Die pad van reformasie vorentoe”, veral die volgende deel:

    “Die vraag is dus nie: of ‘n vrou mag ‘werk’ nie, dit is ‘n gegewe dat ons vrouens (en mans !) goed en hard moet werk en nie ledig moet wees nie (1 Tim.5:13). Die vraag is eerder: waar, hoe sy moet werk, en wat haar fokuspunt en domein moet wees in diens van God, in diens van die gesin en naaste, in diens van sy kerk en koninkryk.”

    So, as jy nog nie getroud is met kinders nie, hoef jy nie tuis te bly nie.

    As ‘n jong gelowige meisie my dus vra wat moet/kan sy studeer, dan sal ek haar aanbeveel ‘n rigting wat haar gaan help om eendag ‘n goeie vrou en moeder te wees en wat van so aard is dat as sy dan in die samelewing werk (tot en met trou en kinders kry), sy nie regeer en leer oor ander mans nie.

    Daar is natuurlik baie beroepe om te volg in daardie lyn. Die laaste ding wat ek my dogters sal aanbeveel is om in ‘n rigting te studeer waar sy haar man eendag ‘n pragtige ‘geskenk’ gee van 100 000 rand studieskuld ! Dan werk die bose kringloop so: ek moet werk en kan nie gou trou en kinders kry nie, want wie moet al die skuld afbetaal.

    Tot en met ‘n vrou getroud is, het sy baie meer keuses om uit te oefen waar sy wil werk en diensbaar wees, en soos die Spr.31 vrou ekonomies na buite besig was, so kan ongetroude vroue dit ook wees, sien bv. Num.36:6 ev.

    Die fokus moet egter wees dat ek my nie so vaswerk in ‘n situasie dat dit dit vir my onmoontlik maak om te trou en kinders te kry nie.

    1 Tim.5 en Tit.2 wys ook op dienswerk wat ongetroude vroue kan doen in die gemeente en koninkryk van God. So was daar ook gesiene vroue soos Junia en Febe wat die apostel Paulus bygestaan het.

    Oor die vrou se rol in die gemeente, meer konkreet gesien, raadpleeg gerus die volgende boeke:

    Women’s Ministry in the Local Church, Ligon Duncan & Susan Hunt

    Hier is ‘n paar opsommings en aanbevelings:

    http://www.desiringgod.org/blog/posts/womens-ministry-in-the-local-church

    http://chalcedon.edu/research/articles/a-review-of-womens-ministry-in-the-local-church/

    http://www.cbmw.org/Journal/Vol-11-No-2/Women-s-Ministry-in-the-Local-Church

    http://www.ligonier.org/learn/conferences/the-holiness-of-god/womens-ministry-in-the-local-church/

    http://www.challies.com/book-reviews/book-review-womens-ministry-in-the-local-church

    http://www.monergismbooks.com/Womens-Ministry-in-the-Local-Church-p-16831.html

  3. Oor my kerkrol het jy nie geantwoord nie. Jy noem 1 Timoteus 5 wat iets vertel van vroue bo 60 se kerkrol, en Titus 2 wat noem ouer vroue moet jongeres leer huishou en lief wees vir mans en kinders. (Hier is waarom ek dink die Titus 2 verse word misbruik http://biblicalpersonhood.wordpress.com/2011/07/19/contextoftitus2_evithetitus2keeperandthetoyplane/ Die misbruik is al so normaal dat niemand die vers kan lees vir wat regtig daar staan sonder om by te lees nie.)

    Ek is nie ‘n ouer vrou nie, en kan niemand uit ondervinding leer hoe om ‘n man en kinders te hanteer nie.

    So, vertel my wat, indien enigiets, ek volgens jou in die kerk kan doen. Hoe kan die ongetroude vrou onder 60 aandag gee aan die dinge van die Here, sodat Paulus haar beter af ongetroud noem?

  4. Wat van koeksisters bak ? 😉

    Hier is ‘n paar gedagtes:

    Die Here sê in die tuin dat Adam en Eva van al die bome kan eet, behalwe die boom van kennis van goed en kwaad. So hulle het wonderlike vryheid binne die raamwerk van God se Wet. So, Retha en alle vroue – getroud en ongetroud – kan al die bedieninge in die gemeente deelneem soos die Skrif aandui, solank hul nie 1 Kor.14 en 1 Tim oortree nie, d.w.s. nie God se bevele verbreek nie. Dit sluit vanselfsprekend die besondere ampte uit, maar in die amp van gelowige is daar baie ander gawes en bedieninge om te volg.

    En, ondersoek ook wat volgens die Skrif nodig is in ‘n plaaslike gemeente, en gaan daarmee voort. Daar is baie sustersaksies in verskillende kerke aan die gang, begin ander vroue en kinders te onderrig, barmhartigheidsdiens, besoek die oues, ondersteun die siekes, gesinsaksies, ens ens.

    Verder moet elke ongetroude vrou haarself (en elke ongetroude man homself) ondersoek of sy/hy waarlik deur die Here geroep is tot selibaatskap (Matt.19; 1 Kor.7), en of hul dalk nie ongehoorsaam en/of vol ‘fiemies’ is om nie te trou nie. Paulus skryf in 1 Tim.5 nie net oor die weduwee-susters nie maar ook jong weduwees, wat ek dink die beginsel ook van toepassing is vir ongetroude vroue:

    “11 Maar jy moet die jong weduwees afwys; want wanneer hulle tot oneer van Christus wellustig word, wil hulle trou 12 en kom onder ‘n oordeel, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het. 13 En tegelykertyd leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie. 14 Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise regeer en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie. 15 Want sommige het al afgewyk agter die Satan aan.”

    So moet jongvroue ook ondersoek of 1 Tim.2:15; 5:14 nie juis hul roeping is nie, en dat hul dalk daarvan weghardloop ?

    Lees ook hier om oor te dink:

    “The reason that’s not an assault on God’s glory is that in this world there are truths about Christ and His kingdom which can be more clearly displayed by womanhood in singleness and manhood in singleness than by womanhood in marriage and manhood in marriage. I’ll give you three of them.

    These are three things that your womanly singleness can say better to the world than any married woman can say by virtue of her marriage.

    1) A life of Christ-exalting singleness bears witness that the family of God grows by regeneration through faith not propagation through sexual intercourse. The family of God grows by regeneration not by propagation, by faith, not sexual intercourse. The main thing we’re about is growing that family. So if you never marry, and you embrace a lifetime of chastity and biological childlessness, and you receive this from the Lord’s hand as a mercy and a gift with contentment, and you gather to yourself the poor and the lonely, and you spend yourself for the gospel without self-pity; you will, in your unique single womanhood, magnify Christ in ways no married woman can.

    2) A life of Christ-exalting singleness bears witness that relationships in Christ are more permanent and more precious than relationships in families. If a single woman turns without bitterness and regret from the absence of her own family and gives herself to creating God’s family in the church, she will find a flowering for her womanhood in ways never dreamed of, and Christ will be uniquely honored.

    3) The Christ-exalting singleness of a woman bears witness to the truth that marriage is temporary and finally gives way in the end to the relationship to which it was pointing all along, Christ and the church, the way a picture is no longer needed when you’re face to face.”

    Volledige artikel: http://www.truewoman.com/?id=336

    Sien ook hierdie artikel: http://www.cbmw.org/Journal/Vol-11-No-2/Women-s-Ministry-in-the-Local-Church

    … wat meer in detail ingaan oor spesifieke bedieninge van vroue in die gemeente. Hoop dit help.

    ns. Retha, ek lees jou artikel oor Titus 2 bietjie later en kom terug na jou indien nodig.

  5. Daar is sinvolle punte in die true womanhood artikel.

    Die CBMW artikel vertel basies: Die vrou se rol is om … jonger vroue/ dogters te leer kerkVROUE wees.

    En die rol van die wat geleer word? Haai, natuurlik om die geslag daarna dieselfde ding te leer.

    Die man se rol is natuurlik baie wyer as dit, wat beteken CBMW glo seker nie eers hulself as hulle vertel die vrou se rol is so belangrik soos die man s’n nie. Maar my vernaamste probleem met CBMW is dat hulle nie eers omgee om God onder mense te sit nie, net solank hulle vroue onder mans kan sit.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑