Vernietig ‘n kerk in vier eenvoudige stappe

wolf en skape

VERNIETIG ‘N KERK IN VIER EENVOUDIGE STAPPE

deur Tim Challies

[Met dank aan Jaco de Beer wat dit vertaal het. Die oorspronklike skrywe is hier beskikbaar en word hier geplaas met die toestemming van die skrywer.]

Vernietig ‘n kerk in 4 eenvoudige stappe.

‘n Kort tyd gelede het ek gehoor van ‘n kerkgebou in ons buurt wat te koop was. Vir jare was ons kerk, “Grace Fellowship”, op soek na ‘n gebou van ons eie en ons het gedink ons moet dit gaan ondersoek. Dit was op ‘n tyd ‘n florerende gemeente. Getroue Christene het bygedra sodat die gebou opgerig kon word. Hulle het dit toegewy aan die Here en het vir jare daar aanbid. Tog is die gebou nou verlate, vervalle en te koop.

Wat het gebeur?

Hoe het die florerende gemeente geestelik gesterf? Hoe het dit gedaal van ‘n gesonde gemeente, tot siek en uiteindelik ‘n dooie gemeente. Ek dink ek weet. Paulus sê vir ons in sy tweede brief aan Timoteus, die brief wat hy geskryf het dae of weke voor sy dood. In hoofstuk 4 kyk Paulus na die toekoms en hy sien ‘n kerk wat vernietig word en hy waarsku ons hoe dit gebeur.

Dit is so eenvoudig as vier stappe.

Voordat ons na die vier stappe kyk, is daar een kritieke komponent waarna ons moet kyk. Hierdie kerk het hulself vernietig. Die kerk is nie gesluit deur vervolging van die regering, kulturele druk of aanvalle van ‘n ander godsdiens nie. Hierdie kerk is vernietig van die binnekant af deur van sy eie lidmate. Hierdie kerk is vernietig deur mense wat beweer hulle tree op in die naam van Jesus Christus.

Hier is die vier eenvoudige stappe wat lei tot ‘n kerk se self-vernietiging.

Stap 1: VERWERP waarheid.

Paulus waarsku Timoteus dat “hulle sal die oor afkeer van die waarheid en hulle sal [hulle] wend tot fabels.” Die eerste stap in ‘n kerk se vernietig is om weg te draai van wat waar is, ‘n toenemende ongeïnteresseerdheid in dit wat God openbaar, en ‘n groeiende apatie van wat God sê is waar en mooi.

Daar waar eens ‘n liefde vir die waarheid was, is nou ‘n hekel en afgryse na die waarheid; waar eens ‘n haat vir die leuen was, is nou ‘n belangstelling in die leuen. Harte begin nou verhard.

Stap 2: VERWERP leraars van waarheid.

As mense wegdraai van die waarheid, sal hulle ook draai teen die leraars van waarheid. So vertel Paulus vir Timoteus wat in daardie dag te wagte is: “daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie.” Dit is nie dat mense nie sal weet wat die waarheid is nie, maar dat hulle dit nie sal verdra nie. Omdat hulle die waarheid begin haat, sal hulle nou ook diegene haat wat die waarheid verkondig. Die leraars deur wie hulle voorheen aangetrek is, sal hulle nou afstootlik vind.

Stap 3: OMHELS vals leraars.

Hierdie kerk het die waarheid verwerp en diegene wat die waarheid leer. Wat nou? Dit is voor die hand liggend en onvermydelik: Hulle sal valse leraars omhels. “Omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, [sal hulle] vir hulle ‘n menigte leraars versamel volgens hulle eie begeerlikhede.”

Soos hierdie mense verhard in sonde en groei in hul rebellie, sal hulle gelei wil word deur mense wat die dinge vertel wat hulle graag wil hoor. Paulus gebruik ‘n baie interessante beeld om dit te beskryf: “gehoor gestreel.”

Die sulkes se gehoor word geprikkel deur nuwighede, deur iets wat aanvaarbaar vir die samelewing en goddelose wêreld is. Die afvalliges vind gou uit die soort leraars versterk hulle in hul kwaad en regverdig hul rebellie en afvalligheid.

Stap 4: OMHELS valse lering.

Sodra hulle die waarheid verwerp het, en leraars gevind het wat hul gehoor streel, “wend hulle [hul] tot fabels” en mites. Hulle omhels nou die leuen en dwaling voluit. Hulle word so verhard in hul sonde dat hulle nou glo die leuen is goed en waar. Hulle sal so mislei en opstandig word dat hulle dit wat God haat begin vier, en dit alles in die naam van Jesus Christus. Hulle dwaal soos stomme skape, weg van die Goeie Herder af. Die smal pad van verlossing het geen ruimte vir dwaling nie, maar die breë weg na vernietiging het al die ruimte wat hulle nodig het om te dwaal.

En hulle sal geestelik sterf.

Die uiteinde is dat die wat beweer hulle het in die Naam van Jesus Christus opgetree, word ontbloot as mens wat Christus haat. So gemeente sterf uiteindelik.

Wat het gebeur met die kerk wat eens in die gebou aanbid het, wat ons nou wil koop?

Hulle het ore ontwikkel wat gestreel wou word. Hulle wou nie meer in die gesonde leer onderrig word nie. Hulle het leraars bymekaar gemaak wat hulle luste bevredig het. Hulle het gedwaal en hul ore gewend na mites en fabels en weggedraai vanaf die gesonde leer van die waarheid. Hulle gehoor is geprikkel deur die valse leer van die wêreld.

Die getuienis van daardie mites was duidelik sigbaar:

– Hul liedboek het liedjies bevat wat die moeder van Jesus aanbid en besing saam met Jesus Christus.

– Op hul webwerf het ‘n video verskyn aangaande ‘n pastoor wat ‘n geslag verandering ondergaan het met die volle ondersteuning van sy kerk.

– Hul literatuur het uitdruklik ontken dat Christus die enigste weg na God is.

– Hulle het bely dat God deur ‘n misterieuse Gees in ons wêreld werk wat geen onderskeid tref by die ingang van ‘n Christelike kerk, Boeddhis, Hindoe of Sikh tempel, Moslem moskee of Joodse sinagoge nie.

Ons kon toe nie die gebou bekom nie. Die gebou is verkoop, en as ek reg verstaan, sal dit binnekort gesloop word. Die leiers van die kerk wou nie toelaat dat die evangelie in die kerk verkondig word nie, maar wou eerder geld uit die gebou verkry. Hulle het die geld nodig gehad om twee van hul spartelende gemeentes te ondersteun wat onvermydelik ook onder sal gaan.

Twee duisend jaar gelede het Paulus aan die jong Timoteus geskryf presies hoe hierdie kerk, en baie soortgelyke sou sterf.

Hy het ook ‘n opdrag aan Timotheus gegee wat sy eie kerk sou beskerm teen soortgelyke vernietigende dwaling van mense wat gestreel wou word ooreenkomstige hul vleeslike luste.

In die hierop volgende artikel gaan ons kyk na die opdrag wat Paulus aan Timotheus gerig het.

2 thoughts on “Vernietig ‘n kerk in vier eenvoudige stappe

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑