Posted by: proregno | February 22, 2008

Fundamentalisme

FUNDAMENTALISME

Sodra ‘n rigting of party ‘n naam kry, of hy hom die naam self gee en of ander hom die naam gee, het die naam twee betekenisse – een betekenis, waarin die party of rigting dit self gebruik, en een betekenis, waarin sy vyand of teenstander hom besig. – Perold

’n Vergelyking tussen gereformeerde teologie en fundamentalisme

Voordat daar vergelyk word, moet eers gevra word:

Wat is gereformeerde teologie en fundamentalisme ?

Met Gereformeerde teologie kan nie net een stroom of persoon as verteenwoordiger voorgehou word nie. Daarom moet die gereformeerde belydenis, in die besonder, Die Formuliere van Enigheid beskou word as verteenwoordigend van ‘Gereformeerde teologie’.

Fundamentalisme is, soos die engelse uitdrukking dit stel: “In the eyes of the beholder”

Prof GCJ Jordaan stel dit in sy artikel oor fundamentalisme treffend dat hierdie en ander terme (modernisme) “moeilik definieerbare verskynsels” is en die gevaar loop “om bloot etikette te word waarmee diegene wat nie met jou saamstem nie, swartgesmeer word.” (Gereformeerde teologie in die spervuur tussen Fundamentalisme en anti-fundamentalisme. Acta Theologica, 2005, Supplementum 5: 250-269)

Dit kom vandag in eie kringe na vore waar bv hulle wat glo die Bybel leer slegs manne in die ampte; net die beker by die nagmaal; die Messias is behalwe indirek, ook op verskeie plekke in die OT direk teenwoordig; alleen die Psalms, ens. ge-etiketteer word as “fundamentaliste”.

Die doel van hierdie etiket (of brandmerk?) is, myns insiens, om mense met wie jy nie saamstem nie te isoleer en te ignoreer. Party gebruik ook hierdie etiket om ander gelowiges te verkleineer en as sogenaamd “onwetenskaplik” en “onderontwikkeld” te verklaar.

Vir die dopper-gelowige van die 21ste eeu is dit egter niks nuuts nie, aangesien ons voorvaders in die eerste helfte van die 19de eeu alreeds ‘ge-etiketeer’ is as “dompers”, wat die verligtingslig (die rasionalistiese aufklarungslig van die 16-18de eeu) met die Evangelie van Jesus Christus (die ware Lig van die wêreld) uitgedoof het.[1]

Daarom moet ’n vergelyking tussen gereformeerde teologie en fundamentalisme eerder gesoek word in terme van ooreenkomste en verskille, en nie in (modernisties-rasionalistiese) definisies en etiketterings nie.

Volgens prof GJC Jordaan kan die volgende ooreenkomste tussen gereformeerde teologie en fundamentaliste gesien word:
1. God se voorsienigheid en sy beheer oor die geskiedenis;
2. die erkenning van die objektiewe werklikheid wat buite die mens staan;
3. die beskouing van die Bybel as betroubare, gesagvolle, geïnspireerde Woord van God;
4. die taak van die kerk om die suiwere leer te verdedig en te verkondig en om alle dwaalleer te bestry;
5. die grammaties-historiese Skrifverklaring en die eksegetiese praktyk van Skrif-met-Skrif vergelyking.

Wat die verskille betref, wys prof Jordaan op die volgende:
1. Fundamentalisme het ‘n ‘anti-karakter’
2. Fatalistiese geskiedsbeskouing wat veral tot uiting kom in hul premillenialisme en dispensasieleer
3. Scottish Common Sense Realism: die mens wat deur sy rede tot objektiewe waarheid aangaande die werklikheid kan kom
4. In sommige kringe is daar die vyandigheid teen wetenskap
5. Ekskluwisties teenoor ander gelowiges wat anders dink
6. Die handhawing van die foutloosheid van die Bybel

Ons moet heeltemal tereg die arminiaanse wettiese anti-konfessionele dispensasie tipe fundamentalisme verwerp, wat veral in charismatiese en metodistiese kringe vanuit Amerika kom.

Na my mening kan met prof Jordaan se hele uiteensetting hierbo (ooreenkomste en verskille) saamgestem word, behalwe punt 6 by die ‘verskille’ afdeling. Dit het te doen met die kwessie van ‘verbale inspirasie’ waaruit die foutloosheid in alle aspekte van die Bybel bely word.

Die redes vir die afwysing van punt 6 is vir die volgende redes:

1. Prof Jordaan in sy verwerping van ‘verbale’ inspirasieleer is myns insiens eerder besig om die ‘meganistiese inspirasie’ teorie te beveg en te verwerp.

2. Verbale inspirasie en organiese inspirasie staan nie teenoor mekaar nie, maar is twee kante van dieselfde munstuk. Dit kan onderskei word maar nie geskei word of teenoor mekaar gestel word nie. In ’n lesing gelewer voor die GTV, te Pretoria 26 April 1971, het dr. FW Buytendach dit as volg gestel:

“Alhoewel Hy sy organe (nie megane nie) hierin die nodige speelruimte gelaat het ter beoefening van hul onderskeie Godgegewe gawes, het Hy hulle daarin foutloos beheers – want: ‘deur die Heilige Gees gedrewe’ (hupò Pneumatos Hagiou pherómenoi) ‘het die heilige mense van God gespreek’ (2 Petr.1:21). In die Skrif as Verbum Dei klink die vox Dei dus suiwer – in en deur die vox humana – tot ons deur. Daarom is die Skrif die eksklusief-outentieke gefikseerde Godsopenbaring; is dit as geheel en tot in alle onderdele daarvan toe – in organies-verbale Getheópneusteerde sin – die absoluut-outoritatiewe, betroubare, onfeilbare en foutlose Verbum Dei – dit wil sê na vorm én inhoud; formeel én materieel; histories én/óf normatief.”[2]

3. Verbale inspirasie leer dus – in lyn met organiese inspirasie – dat elke woord van God wat deur elke Bybelskrywer in sy ‘eie woorde’ gekies is onder leiding van die Heilige Gees, deur God organies geïnspireer is.[3]

4. Dit beteken dat elke woord van die autographa (oorspronklike) geinspireer is (2 Tim.3:16)[4], en nie net die persone van skrywers nie (2 Petr.1:19-21).[5]

Albei.

Die ‘masjien-dikteer’ probleem, wat natuurlik ook ‘n ‘urban legend’ is oftewel ‘n ‘etiket’ wat links en regs uitgedeel word, hoort tuis by die meganistiese inspirasieteorie en nie by die verbale en/of organiese inspirasieleer nie.

Sonder ’n verbale/organiese inspirasie beskouing is alle kanonieke belydenis en die strewe van tekskritiek van nul en geen waarde, want dit is juis die wete/belydenis van die autographa wat die soeke daarna deur tekskritiek motiveer.[6]

Die onfeilbaarheid van die geloof en godsdienstige skopus van die Skrif sluit die onfeilbaarheid van die periferie (die pakkie waarin die skopus staan: bv geskiedenis, geografiese en natuurlike gegewens reg verstaan in hul konteks) in en nie uit nie.

Die Skrif gee geen aanduidings eksplisiet of implisiet dat sy onfeilbaarheid slegs beperk is tot die ‘skopus’ nie. Hoe gaan ons onderskei ? Waar gaan ons die lyn trek in ’n Bybelse feit soos bv. “dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte, en dat Hy aan Cefas verskyn het, daarna aan die twaalf” (1 Kor.15:4,5) Watter deel is onfeilbaar: slegs die ‘skopus’: dat Hy opgestaan het, of ook die ‘geskiedkundige gegewens’ waarin die skopus geopenbaar is: die ‘derde dag … Cefas … die twaalf” ?

Of : “5 En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: 6 En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ’n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.” – Matt.2 (Miga 5:1).

Is slegs die feit dat Jesus gebore is in ‘n dorp volgens die Skrif belangrik, of ook die historiese feit dat Hy –volgens die profesie van Miga- in Betlehem gebore moes word ? Is historiese en geografiese onfeilbare gegewens nie juis belangrik ter wille van die skopus van die Skrif nie ?

In hierdie standpunt, “die skopus-is-onfeilbaar-maar-die-res-van-die-Skrif-is-feilbaar,” bestaan dan ook juis die indirekte gevaar dat ons maklik, deur Scottish Sense Realism rasionalisme kan verval in ’n dualistiese en/of dialektiese inspirasieteorie: slegs sekere dele of woorde van die Skrif is (onfeilbaar) geïnspireer. Dr. FW Buytendach het alreeds teen hierdie gevaarlike pad gewaarsku. In die woorde van sy resent, prof. SP van der Walt, stel hy dit as volg:

“Volgens Kuitert kom hierdie menslike getuienis aangaande God tot ons in ‘n historiese ‘verpakking’ in ‘n sekere kulturele konteks. Hierdie verpakking is nie onfeilbaar nie, maar dra al die kenmerke van die tyd waarin dit geskryf is. Dit beteken nie dat aan hierdie, tydgebonde menslike formuleringe ewigheidswaarde toegeken moet word nie. Waar B. vir Berkouwer bespreek laat hy sien dat Berkouwer eintlik dieselfde sê t.o.v. die tydgebondenheid van die Skrif, maar by hom gaan dit veral om die “scopus” van die Skrif, wat ons nie allerlei dinge wil meedeel t.o.v. die skepping en geskiedenis nie, maar wat in alles die Christus en sy verlossingswerk aan ons wil voorhou. Daarom relativeer ook Berkouwer die dinge wat meer op die Periferie, die formele sy, van die Skrif lê en maak ook hy dus net soos Kuitert en die ander die vorm en inhoud van die Skrif ten diepste los van mekaar.

Volgens Berkouwer en Kuitert kry die wesenlike inhoud (die kern) van die Skrif, dit waarom dit eintlik gaan in die Bybel, sy openbaringskarakter ten slotte in die prediking van die heilsboodskap. Daarin spreek God deur die menslik-feilbare organe sy ewige onfeilbare Woord. In die verband wys Buytendach daarop dat waar en hoe ook al die Skrif-inhoud en -vorm van mekaar losgemaak word, ons nie alleen die vorm nie maar ook die inhoud verloor. As ons bv. die verhale van skepping en sondeval as bloot menslike en tydgebonde sieninge relativeer, se B. watter rede is daar dan om dit nie deur te trek tot in die NT en bv. ook die opstanding van Christus, saam met Bultmann, te sien as maar die reaksie van die kerk op die dood aan die kruis, sonder enige objektiewe feitelikheid?

Met sy kritiese verwerking van die nuwere Geref. teologie oor die Skrif, sluit B. dan ten slotte af met ‘n kort samevatting van die konklusies waartoe hy gekom het en ‘n kort aanduiding van sy eie beskouing. Hy meen dat die Skrif is iets “sui generis”, dat ons dus die gedagte van die Skrif as die onfeilbaar-geinspireerde Woord van God, ook volgens 2 Tim. 3 : 16, so moet verstaan dat die hele Skrif, sowel na vorm as inhoud, as Goddelik gesagvol moet aanvaar.

B. wil eintlik nie van die geinspireerde Woord praat nie, maar van die geteopneusteerde Woord. Hierdie gedagte werk hy nie breed uit nie, maar hy vrees skynbaar dat die inspirasiegedagte kan lei tot die dinamiese opvatting en hy wil dus liewer die woord behou wat in die aangehaalde teks staan: “Die hele Skrif is deur God geteopneusteer”, wat wys dat dit deur God’s Gees as die eintlike Outeur van die Bybel, deur menslike bemiddeling aan ons ge­gee is.

Dit is ten slotte God se Woord en nie mensewoord oor God nie.

B. praat dus van die “organies-verbale teopneustie” van die Skrif. En hy ontken die sg. soteriologiese skopus van die Skrif en meen dit gaan in die Skrif om veel meer as ons heil en saligheid, dit gaan om die eer van God.” [7]

Terme soos ‘oneffenhede’ is nie-bybelse en nie-konfessionele taal, en daarom moeilik om te bepaal. Word daarmee bedoel dat daar verskille en verskeidenheid oor sekere gebeure en feite in die Skrif is, dan behoort dit nie ’n probleem te wees nie, maar as daarmee bedoel word dat die Bybel vol foute is, dan beweeg ons op ’n wankelrige terrein. Die Skrif praat van dinge wat swaar/moeilik is om verstaan in die Skrifte (2 Petr.3:16), maar nie van foute en oneffenhede nie.

Dit is myns insiens beter om nederig-soekend te bely dat sekere dele vir ons moeilik is om te versoen en dat sekere dele vir ons as sondaars selfs teenstrydig mag lyk, maar dit beteken nog nie dat dit in die Teks ’n fout en teenstrydigheid is nie. Deur die reformatoriese teologiese wetenskap en tekskritiek is die eerbare weg om biddend na verskillende verklarings-moontlikhede vir sulke tekste te kyk (‘Skrif met Skrif te vergelyk’), sonder om daarmee te verval in ‘n rasionalisme (dit is dalk juis die gevolg van rasionalisme wat foute en oneffenhede daarsien wat dalk nie bestaan nie … en te gou iets te wil kategoriseer as ‘n ‘fout’ ?).[8]

Ook is ‘n verkeerde onderskeid of valse teenstelling tussen die ‘foutloosheid’ van die Skrif en die ‘onfeilbaarheid’ van die Skrif arbitrêr en nie haalbaar nie. Onfeilbaarheid sluit ‘foutloosheid’ in en nie uit nie, dit veronderstel dit. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (en die HAT) se verklaring van ‘onfeilbaar’ is as volg:

“onfeilbaar, ..bare.
1. Wat nooit ‘n fout maak nie.
2. Wat altyd suksesvol is. onfeilbaarheid.”[9]

Konklusie
Ongeag die diepgaande verskille wat daar wel is met sekere “evangeliese fundamentaliste”, is hul ons mede-gelowiges in Christus, by wie baie geleer kan word en wie ons moet lei om ook die gereformeerde leer totaal te omhels.

Daarteenoor moet die liberale en (post) modernistiese ‘teoloë’ wat bv Christus se Godheid verloën, die Skrif bloot beskou as ’n menslike dokument; Jesus se wonders, opstanding en wederkoms bevraagteken, ens. en roem op hul sogenaamde ‘anti-fundamentalisme’, verwerp word.

Alhoewel die arminiaanse-dispensasie fundamentalisme sy dwalinge en gevare het wat ons moet verwerp en waarteen ons moet waak, is die groter gevaar in die gereformeerde kerkwêreld: die (post)moderne teologie wat onder die dekmantel van ‘wetenskap’ sy koue rasionalisme en mistiek op ons wil afdruk.”

Mag die kinders van die Reformasie van 1859 daarvan bewaar word !

8 Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. 9 Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë. – Psalm 19

Voetnotas
[1] Dit laat ’n mens onwillekeurig dink aan ds. SJ Du Toit se uitspraak: Liewer ’n ongeletterde Afrikaner met sy Bybel, as ’n geleerde Europeaan sonder God en sy gebod.

[2] “Gedragspraktyke t.o.v. die eenheidstruktuur: Skrif-Belydenisskrifte-Ondertekeningsformuliere/Kerk in die nuwe Gereformeerde Teologie in Nederland,” In die Skriflig, Jg.5, nr.19, Sept. 1971, p.3.

[3] Bavinck (Feenstra, 1972: 17) stel dit as volg in sy Dogmatiek: “Onder die organiese inspirasie verstaan ons dat die Heilige Gees, nadat Hy die mens­like bewussyn van die skrywers op allerhande maniere voorberei het deur geboorte, opvoeding, natuurlike gawes, nadenking, herinnering, ondersoek en lewensvorming, nou in, onder en by die spreke en op skrifstelling die gedagtes, woorde, taal en styl laat opkom het, wat die goddelike gedagtes op die beste wyse vir mense van allerlei stand, rang en volk kon vertolk.” – Kursief is bygevoeg – SLC.

[4] pasa graphe theopneustos = Die klem val hier op a) die woord(e) (graphe) wat deur God uitge-asem is, en, b) elke of die hele woord, en nie op die skrywers van die woorde nie.

[5] all hupo Pneumatos Hagiou pheromenoi elalesan hagioi Theou anthroopoi = Die klem val op die persone van die skrywers, die profete wat deur die Heilige Gees gedrewe was, d.w.s. geïnspireer is.

[6] Nie net die geheel nie, maar ook die dele, die spesifieke woorde is gekies deur die skrywers en deur die Gees geïnspireer (Joh.6:63; Jer.1:7,9; 15:19; 26:2; 1 Kor.2:13,16; Matt.22:45; Joh.10:33-36; Gal.3:16; Hebr.1:5-9; Heb.2:6-8; ens. Hierdie teksgedeeltes wys daarop dat betekenis ook afhanklik is van spesifieke woorde of slefs een woord).

[7] Buytendach, dr. F.W.: Aspekte van die vorm-inhoud proble­matiek m.b.t. die organiese Skrifinspirasie in die Nuwere gereformeerde teologie in Nederland. 1972. T. Bolland, Nederland. Boekbespreking deur prof. SJ van der Walt (Pretoria), In die Skriflig, Jg.7, nr.27, September 1973: 56-62.

[8] Buytendach skryf: “Daar is wel ‘cruxes’ in die Skrif (Bavinck, p.413) d.w.s. onduidelikhede – maar nié teenstrydighede of foute nie -, omdat dit die Theópneuste Graphè is wat ons nooit in alles sal kan begryp nie. M.b.t. die onduidelikhede moet ons biddend en werkend duidelikheid soek vanuit die duidelike Sentrum (Christus) van die Skrifstruktuur.” In die Skriflig, Jg.5, nr.19, Sept. 1971, p.14 (voetnota 12).

[9] Beklemtoning bygevoeg.


Responses

  1. […] https://proregno.wordpress.com/2008/02/22/fundamentalisme/ […]

  2. […] Fundamentalisme […]

  3. Lees ook: http://www.desiringgod.org/blog/posts/20-reasons-i-dont-take-potshots-at-fundamentalists

  4. […] sien ook my artikel oor die onderwerp van Fundamentalisme, waar ek […]

  5. Interessante artikel. Persoonlik dink ek nie dat Fundamentaliste (soos ek hul teologie verstaan) die grammaties-historiese eksegetiese metode met ons deel nie. Hul eksegetiese metode is m.i. beter beskryf as histories-letterlik – wat van G-H onderskei word deur die feit dat dit gegrond is in Common Sense Realism en dit is juis dit wat uiteindelik lei tot die dwalinge van pre-millenialisme en dispensasionalisme.

    (Terloops – ek het baie waardering daarvoor dat jy teregtelik die G-H metode as die Gereformeerde metode weegee, eerder as die Nuwe Calvinisme se Heilshistoriese metode)

    Verder dink ek ook nie die onfeilbaarheid van die outographa is die fondasie vir tekskritiek nie – dit sou immers onfeilbaarheid reduseer tot ‘n nuttelose teoretiese leer as die outagrapha deur die Gees geinspireer is, maar nie deur die Gees bewaar is nie. Die leer van die organiese/verbale inspirasie van die Skrif is eerder die fondasie vir die leer van die verbale preservering van die Skrif.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: