Posted by: proregno | March 7, 2008

Die Jeugkrisis en Jeugbediening

Die Jeugkrisis: Siekte of Sonde ?
– Opvoeding en Jeugbediening –

“Elke kind in Amerika, wat op vyfjarige ouderdom na die skool gaan, is geestelik siek, omdat hy sekere verbintenisse het aan ons voorouers, verkose amptenare, ouers, en ‘n bonatuurlike wese … Dit hang van julle onderwysers af om al hierdie siek kinders gesond te maak – deur ‘n internasionale kind van die toekoms van hulle te maak.” – Uit Chester Pierce, ‘n psigiater se toespraak by die Childhood International Education Seminar, soos aangehaal in die Chalcedon Report, Mei 1998, p.36

Inleidend
Die Spreukeskrywer wys daarop dat daar ‘n weg is wat reg lyk, maar die einde daarvan is die weë van die dood (14:12). Nou is dit so dat die weg wat ons kies in die lewe nie altyd so drasties is dat dit in die dood eindig nie, maar tog baiemaal veroorsaak dat ons naby daaraan kom. A.g.v. tradisie, oorlewering, gewoonte en bloot uit groepsdruk, wetend of onwetend word ‘n sekere lewenswyse of lewensweg op ons afgedruk, en weet ons in baie gevalle eenvoudig nie van beter nie.

So is dit baiemaal in die ‘sisteme en strukture’ waarin ons gebore en grootword as kinders van God. Ons bevind ons baiemaal in situasies en omgewings wat ons dink nog altyd so was, so moet en gaan bly, en niks meer verkeerd is nie, en daarom vind ons dit heel vreemd as iemand dit bevraagteken. Daarom is my bede met hierdie artikel-resensie, dat u die boodskap en inhoud biddend en bestuderend om God se Woord (Hand.17:11) sal lees, en sal vra na die wil van die Here vir u, u gesin en gemeente se lewens, ongeag of u met elke uitspraak saamstem of nie, en of u ten gunste is of nie, van die ‘moderne jeugbediening’ beweging.

‘n Getuienis van ‘n eertydse jeugwerker
Onlangs het ek ‘n klein boekie gelees, wat in 23 bladsye meer sê as wat in baie boeke van 500 bladsye gesê word. Met “gesê,” bedoel ek die basiese boodskap van die boekie. Die titel van die boekie is: A Critique of Modern Youth Ministry (Moscow, Idoho: Canon Press, 1995), geskryf deur Chris Schlect van die Logos Schools in die V.S.A.

Die skrywer, ‘n eertydse “jeugwerker,” wys in hierdie boekie dat:
“The Church today does not expect what it ought to from children and their parents, and this can be attributed in large part to a flawed concept of youth ministry’. This need not and should not be so. This essay discuss the reasons behind this problem and proposes some biblical solutions.” (bl.3)

Volgens die skrywer het kinders ‘n groter kapasiteit vir geestelike en sosiale volwassenheid, as wat tans die geval is, en die verkeerde siening van die “jeugbediening,” is juis een van die probleme wat geestelike volwassenbeid en groei teenwerk.

Die doel van hierdie resensie-artikel is om die inhoud en boodskap van hierdie boekie vir u kortliks deur te gee. Daar gaan ook aanvullende opmerkings gemaak word met die oog op die eie situasie hier in S.A., want die “jeugkrisis” in S.A. is op dieselfde weg as in die V. S. A. Dit is nie meer vir ons ‘n vreemde gesig om koerantopskrifte te sien wat wys op die immorele en intellektuele verval wat onder die jeug plaasvind nie, en wat baiemaal lei tot die uiterste gevalle van moord en selfmoord. Is dit die politiek of ekonomie se skuld, of is die skuld nie baiemaal nader aan die huis nie (1 Petr.4: 17) ?

1. Die koms van die ‘generasiegaping’
Die afgelope 150 jaar het die evolusieteorie ons siening van tyd drasties verander. Mense het al hoe meer tydsbehep begin raak, en alhoewel dit sy voordele gehad het, het dit op ander terreine slegte gevolge gehad. In die verlede was dit nie vreemd om op die ouderdom van 17 of 28 te gradueer nie, want studente het elkeen op sy eie pas volwasse geword. Daarom was die een-kamer-vir-al-die-kinders tuisskool die norm en geen vreemde verskynsel (soos nou) nie. Ook in maatskaplike en sosiale kringe het kinders meer met ouer mense gemeng as wat vandag die geval is.

Dit was hoofsaaklik Horace Mann wat dit begin verander het deur kinders te verbind aan ‘n sekere leerpas, in lyn met die evolusionêre siening dat vooruitgang noodwendig gekoppel is aan tyd. Leerlinge is daarom geskei van mekaar en volgens ouderdom ingedeel. Die gevolg is dat kinders nou be-oordeel is of hul “voor” of “agter” is, volgens die “standaarde van hul portuurgroep.” Die skrywer stel dit as volg: “Normal’ was an arbitrary standard superimposed upon the wealth of data that indicated wide disparity between rates of maturation” (bl.4)

Met die draai van die twintigste eeu het Granville Stanley Hall in lyn met die sosiale toepassing van Darwin se werk in die biologie, gekom met die sogenaamde “recapitulation theory” waarin hy beweer het kinders ontwikkel deur dieselfde fases as wat die menslike geskiedenis ontwikkel. Daarvolgens beweeg die kind dan van barbaarse tot beskaafde fases. Hy het veral sy aandag toegespits op die sogenaamde “adolossensie-jare,” wat hy as die mees kritiese fase beskou het. Omdat dit so ‘n belangrike fase is, moet hierdie portuurgroep geskei word van al die ander fases. In lyn met sy evolusiebeskouings het dit verder beteken dat elke volgende fase verhewe is bo die vorige een en daarom moes daar elke keer radikaal gebreek word met die vorige fase(s). In praktiese terme beteken dit dat rebellie en opstand die jeug se voorland is, soos hy moet “wegbreek” van die kindfase en moet rem en keer teen die volwassefase. Ironies genoeg, beskou sosiale sielkundiges (vandag nog), hierdie “rebellie” as ‘n positiewe stap.

John Dewey[1] een van Hall se bekendste volgelinge het hierdie teorie toegepas op die staatskoolsisteem. Hy het ‘n hele geslag onderwysers daarvolgens opgevoed, en word daarom beskou as die vader van die moderne staatskoolmodel in die VSA. Sy idees was regoor Amerika geimplimenteer. Dit was dan juis om die “krisis” periode van adolossensie te isoleer, dat die hoërskole gestig is om die tieners te skei van jonger kinders en volwassenes. ‘n Geslag na Dewey, het vir die eerste keer in die geskiedenis van die Westerse wêreld ‘n “adolossente sub-kultuur” gehad. Teen die 1950’s het hulle hul eie musiek literatuur, kleredrag, taal en etiket gehad. Hall se filosofie van die jeug het sedertien die norm geword van die Westerse wêreld. Karakters soos James Dean en Elvis Presley is gesien as die slagoffers van die ouer generasie wat “nie verstaan hoe die jeug dink nie.” Die musiek en films van die jare vyftig en daarna, is ‘n getuienis van hierdie “invented adolescence” van G. Stanley Hall, soos dit deur Dewey deurgevoer is in die skoolpraktyk.

Vandag is die jeug-subkultuur die dominante kultuur in ons samelewing. Die kultuur in al sy vorms – kuns, musiek, etiket en ontspanning – is alles in terme van die jeug se behoeftes en eise. Advertensies word veral gemik op die jeug en as dit op ouer mense gerig word, dan is dit om hul jonger te laat voel of lyk [dit verklaar ook moontlik die beheptheid om die baard heeltyd af te skeer en die hare swart te kleur … ;-)].

Die lewe sentreer om die jeug, en hul hoërskool loopbaan word gesien as die toppunt van die lewe. As iemand ouer as dertig is, dan word hy/sy beskou as “amper oor die muur,” en dan begin die jaagtog na fiksheidsprogramme, weeklikse ontspanning, nuwe verhoudings, veloorplantings, ens., alles sodat ons jonger kan “voel.”

Die hartseer agter dit alles, is dat die res van die wêreld hiervoor buig via die invloed van die amerikaanse media.[2] Schlect skryf daarom tereg: “Late twentieth century America is not allowing itself to grow up.”

En dit is ook waar van die Suid-Afrikaanse samelewing. Maar nog belangriker, is om te besef watter groot impak hierdie ewolusionistiese filosofieë op die kerk van Christus het. Soos ‘n goeie vriend dit eenmaal treffend gestel het: “As dit reën in die wêreld, dan drup dit in die kerk.”

2. Die generasiegaping in die kerk
Die (post)moderne kerk het, hartseer genoeg, die teorieë van Mann, Hall, Dewey (direk of indirek) nagevolg. In baie kerke kry ‘n mens die geval dat sekere bybelse “leringe” nie aan die kinders verduidelik word nie, juis omdat hulle nog nie ‘n sekere “fase” bereik het nie. Die skeiding van die jeug, ook in die kerk, het veral vanaf die 1930’s begin, met die ontploffing van “parachurch ministries,” soos by. Youth for Christ, Young Life (vandag: Campus Crusade), ens.

Kerke het later elkeen sy eie jeugprogramme begin, sodat ons self vandag “kinderdienste” het, waar die verbondsvolk opgedeel (of is dit eerder ‘verdeel’) word in ‘belangegroepe’. Die klem val op die lewendige gospel musiek, persoonlike getuienisse van atlete, burgerlike leiers, militêre helde, afgerond met ‘n kort ‘preek’ en ‘n “uitnodiging” om Christus as jou persoonlike Verlosser aan te neem. Daar het ‘n passie ontstaan vir “entertainment rallies,” waar op allerlei alternatiewe maniere die “evangelie” verkondig moes word, Die klem op die jeug het nie net in die samelewing nie maar ook in die kerk gelei tot onvolwassenheid en kinderagtigheid.

Schlecht wys op een geval waar hy in ‘n kopie van Campus Life, ‘n tydskrif vir jongmense oor die jeugbediening, die volgende advertensie gelees het: “Have the time of your life! Sure you’ll study … College should be fun ! And while you’re at it, you’ll get an education.” (bl.10).

In SA het ons die volgende bekende advertensie: “waar ons graad kry met lekkerkry klaarkry”, waarop sommige van die ‘jeug’ reeds laatwaai tydens jool, en daad by die woord voeg en met “lekkerkry babas kry” en dan ook sommer klaar is met graadkry …

Schlect wys dat hierdie gesindheid (‘n hedonistiese lewenswyse: meer liefhebbers van genot as God, 2 Tim.3:4b) die sonde van die jeug uitwys, naamlik: fun before duty. Die jeug word geleer om ‘n lewe van luilekker pret te hê, en dan ook die “bysake” by te doen, nl.: werk en leer … want die lekkerkry-lewe moet op een of ander manier gesubsidieër word. Die jeug word ‘geleer’ en “opgevoed” om al hoe meer onvolwasse en onverantwoordelik te wees. Nie eintlik heeltemal wat ons lees in Psalm 119:9, Pred.11:9,10 en Luk.9:23-26 nie …

In my dae as verkoopsman in ‘n boekwinkel, kan ek getuig van jeugwerkers wat boeke kom soek met “speletjies” en boodskappies wat die “jeug goed sal laat voel.” En dit mag ook nie baie bladsye bevat nie en dit moet niks “swaars” of “dogmaties” wees nie! (My voorstelle vir die bestudering van die belydenisskrifte was nie baie populêr nie).

Die hartseer ironie van alles ?

Die lekkerkry-jeug kry gewoonlik waarvoor hul vra: 2 Tim.4:3,4

3. Waar lê die probleem ?
Schlect stel dit soos volg: “Evangelical churches have honored divisions that have existed in our culture for less than a century – division which have no basis in either Scripture or common sense. These divisions breed immaturity because they hinder younger people from associating with and learning from their elders. Rather than admonishing our young people with Paul’s mandate, flee youthful lusts’ (2 Tim. 2:22), we provide a forum for youthful lusts to be pursued.” (bl.11)

Onvolwassenheid is dan die gevolg van ‘n gemeente wat nie meer volgens die Skrif toelaat dat ou en jongmense soveel as moontlik in kontak bly nie: “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou.” (Gen.17:7)

Die kinders leer nie meer van die wysheid van die oueres nie (Lev. 19:32; Tit. 2:3 -6). Die sogenaamde “generasiegaping’, wat ‘n 19de en 20ste eeuse skepping is, word vandag gebruik as ‘n verskoning vir ouderdom-segregasie. Wanneer die jeug toegelaat word om hul eie standaarde te stel, dan ontwikkel daar ‘n “groepsmentaliteit,” en is hul geneig om die voorbeelde en voetspore van mekaar (of een of ander immorele popster of sportster) te volg en nie van hul ouers nie (een persoon het dit as volg gestel: leaving my young fool alone with your young fool, breeds a lot of foolishness – Spr.5:20-23).

Schlect kom dan tot wat hy as die fundamentele probleem sien: dit is nie dat daar wel jeug interaksie is en kan wees nie, maar die probleem is die onverantwoordelike volwasse leierskap en toesig, veral die afwesigheid van ouerlike leierskap.

Dit is nalatige en onbelangstellende ouers wat veroorsaak dat die jeug ‘n groepsmentaliteit ontwikkel, ‘n kudde met hul “eie” manier van doen (wat gewoonlik geopenbaar word in die ‘ouer wat die kind vir kerk en sondagskool kom aflaai en dan huistoe gaan om hom net weer later te kom optel). En dan vind ouers dit vreemd as hul die volgende van hul kinders hoor: “… maar ma of pa verstaan my nie … ek gaan nou my eie ding doen !“

Die jeug moet egter opgelei word tot volwassenheid, as mense wat eendag in ‘n volwasse wêreld moet diens doen. Wie kan die beste opleiding daartoe gee, as die reeds volwassenes? Die jeug moenie geleer word dat om jong te wees die finale doel van die lewe is nie. Waaroor gaan ‘op’voeding dan anders as om volwasse te word ?

Die skreiende én hartseer ironie is dat ons kinders en jongmense in meeste gevalle ‘onvolwasse’ is in die leringe van die Skrif en ons belydenis … maar ‘volwasse’ is in ‘n sondige lewenswyse, kontra wat die Skrif leer.

As dit kom by die ware leer van die Skrif, die kennis van belydenisskrifte en kergeskiedenis, as dit kom by bybelstudies, seminare, verdere toerusting, etiese sake, ens … dan is ons in die kerkpraktyk baiemaal: geen 2 tot 18. Dit is vir die ‘ou mense’ en nie genoeg ‘pret’ nie.
As dit egter kom by ‘volwasse vermaak’ op die TV en die hedendaagse films, dan is almal welkom, veral die 2 tot 18 groep !

Daarteenoor leer die Skrif: “Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand.” ( 1 Kor.14:20).

Ons moet ons en ons kinders leer dat ons ‘kinderagtig’ moet wees wat die sonde betref, maar ‘volwasse’ in die verstand, in die ware leer na die godsaligheid. Ja, ons moet kinderlik gelowig omgaan met die Bybel, nie kinderagtig nie, m.a.w. ons moet oorgaan van melkkos na vaste spys (Hebr.5:13,14). As ‘n gesonde jongman van 20 jaar nog uit ‘n bababottel drink, dan sal ons dink dit is snaaks en daar is moontlik iets fout met hom. Maar wat van ‘n jongmens wat al twintig jaar in die Gereformeerde Kerk is en nie eers weet (of omgee) wie is Abraham se vrou nie … ja, dit is om van te huil.

Vandag word baie jeug weggeneem van volwasse of ouerlike geselskap, in die naam van “kerklike jeug aktiwiteite,” of omdat hul ander “behoeftes” het. Dit lei daartoe dat sekere kinders ‘n hele paar dae in die week nie by die huis is nie. Dit werk ook negatief in op huisgodsdiens en die onderlinge gemeenskap van die huisgesin.

‘n Verdere kommerwekkende aspek van die moderne jeugbediening, is baie van die “volwassenes” wat hierdie bewegings lei. Hul probeer “people pleasers” wees. Hulle wil die kinders se “tjommies” wees en “in” wees by die jeug (i.p.v. om ‘n volwasse vriend en vertroueling vir die kinders te wees: Joh. 15:12-15). Jeugleiers se maniere, kleredrag, taal, ens., moet dan ook aangepas word by die jeug se modegiere, ongeag of dit “behoorlike kleredrag” is, al dan nie (Deut.22:5; 1 Tim.5:9,10. sien ook prof. Paul de Bruyn se vergete werk: “Die Christen en Kleredrag”[3]). Hierdie jeugleiers probeer deur allerhande stories, grappies,opvoerings, “tricks”, ervarings, ens., die kinders tot ‘n “keuse vir ‘n moderne ‘cool’ jesus” te lei.

Daar is geen (of baie min) plek vir die “leringe” van die Skrif, en die “leringe” wat daar is, is meestal die verderflike pelagiaans-arminiaanse dwalinge, wat die fondament van “enigste troos in lewe en sterwe,” naamlik Jesus Christus, verander of verskuif na jou “eie geloofskeuse/datum”![4]

Ten einde, hoe minder kennis en insig die kinders in die leringe van die Skrif het, hoe makliker is dit vir enige dwaalleraar om hulle, die toekomstige leiers van die kerk, met onbybelse leringe te verlei en te mislei.

Hier wil ek ook graag verwys na ’n artikel van Steve Schlissel, waar hy skryf dat ons probleem is, dat ons opvoeding baiemaal slegs prakties benader (gaan dit help om vir Jannie ‘n “werk” te kry ?), in plaas van ook verbondsmatig (gaan dit bydra tot Johnny se vermoë om sy plek vol te staan as ‘n godsvresende man in die verbondsgemeenskap van God ?). Aangesien gereformeerde onderwys as ‘n blote opsie gesien word en nie as ‘n verbondsplig nie, verseker dit dat die teologiese suiwerheid van ons kinders (in sy geheel gesien), baie laag sal wees. Die resultaat is ‘n onkundige gemeente, oppervlakkige predikante en onbekwame ouderlinge. ‘n Onkundige en onvolwasse gemeente produseer dan ook onkundige onverantwoordelike toekomstige predikante wat met hul “church growth skills” probeer om die gemeente te bedien.

Die probleem begin egter nie by die teologiese opleiding nie, maar soos Schlissel dit tereg stel, by die gesinne self: “The bottom line: the solution to the seminary problem for the clergy begins at the door of the first grade for all the covenant members. So long as we wink at people sending their covenant offspring to pagan schools, our seminaries cannot be expected to do anything except turn out pragmatists, career boys instead of ministers, for that is what the people will demand, and deserve. … If you want qualified ministers, the best thing you can do is to have zero-tolerance for public school education.” [5]

4. Hoe om die verlore grond te herwin
Die kerk moet let op die gevaar van onbybelse kompromie, met die doel om sogenaamd ‘relevant’ en op “standaard’ te bly. Daarom is dit nodig dat die kerk haar sal bekeer van alle vorme van onbybelse denke oor die jeug en hoe hul opgevoed moet word.
Maar wat kan ons doen ? Schlect gee die volgende riglyne:

1) Die heel eerste vraag wat ons moet vra as ouers, is: Watter doelwit het ons in oog vir ons kinders. Die hoop moet daar wees dat ons kinders nog meer van die Skrif sal weet as ons, hul Christelike lewensbeskouing nog meer gevorm sal wees, en hul vrees vir God grootliks sal vermeerder. Die doel is niks minder nie, as ‘n godsvresende bekwame “geslag van God” (Mal.2: 15), skerp pyle wat sal opstaan in die stryd teen ons vyande (Ps.127:5).

2) Tweedens, moet die hele idee van ‘n jeugbediening opnuut gekwalifiseer of herbesin word, ook oor die bestaansreg daarvan. Volgens die Skrif moet die ouers/ouderlinge/oudstes die kinders opvoed en moet die ouer vroue die die jonger vroue leer (Tit.2:3). Die idee van die jeugleier as rolmodel moet verwerp word. Die kinders moet opkyk en volg in die goeie en godsvresende voorbeeld en voetspore van die volwasse gelowig mense.

3) Derdens, en die belangrikste, is dit fundamenteel dat ouers opnuut moet besef dat hulle volle verantwoordelikheid dra vir hul kinders. Wanneer onvolwassenheid heers, is die hoofskuldige nie die kerk of die staat nie (of die huidige ‘jeugbedienaar’ nie), maar ons as ouers! Die Skrif is baie duidelik: die opvoeding van die kinders vir alle terreine van die lewe, is die ouers se verantwoordelikheid en taak (Deut.6:7; Ef.6:4). Verantwoordelike jeugbedienings behels: dat ouers opgeroep en opgelei word om hul kinders Christelik op te voed. Kinders uit gebroke gesinne moet opgevang word in gehegte gesinne en die kerklike lewe oor die algemeen, maar moet nooit ‘n lewe opsigself kry nie.

Schlect gebruik die geval van Eli en sy seuns om die verhouding tussen die jeugbediening en ouerlike verantwoordelikheid te verduidelik (1 Sam.2:22-25): “Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap het met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms (vandag: voorhuwelikse seks asook saamblygevalle in die kerk ? – SLC), dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor ? Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree. … Maar hulle het nie na hul vader geluister nie.”

Alhoewel dit wil voorkom asof Eli sy seuns in “kerklike omstandighede” groot gemaak het, dui vers 22 aan dat Eli, eers toe hy ‘n ou man was, bewus geword het van sy seuns se oortredinge, en dit van iemand anders. Eli, het daarin gefaal om ‘opsig en tug’ oor sy seuns te handhaaf. Dalk was hy en mev. Eli te besig met allerlei ‘aktiwiteite’ en daarom kon hul dit nie doen nie, ons weet nie ? Maar, Eli moes die gevolge dra: God se oordeel (1 Sam.2:27 e.v.), en dit was boonop ‘n slegte voorbeeld vir Samuel, wie se seuns ook opstandig (moderne term: ‘addolosensie fase’) uitgedraai het (1 Sam.8:1-3).

Vandag volg baie ouers in die voetspore van Eli, deur hul verbonds-verantwoordelikhede (weg) te delegeer. Onder die dikwels misbruikte en verkeerdelik geinterpreteerde dekmantel van: “… laat onderrig,” (waar ‘laat onderrig’, die ‘eie onderrig’ oorgeneem het), is baie ouers vandag besig om te volhard in Eli se weg, soos die moderne kleuterskool, naskoolsentrums en publieke skole se getalle van getuig.

Hierdie woorde, “na vermoë te onderrig en laat onderrig,” wat in teorie baie mooi bely en bevestig word met die dag van die doop, is dan baiemaal, wat die praktyk betref, die rede waarom ons dit regverdig dat ons kinders ten einde deur omtrent almal opgevoed word … behalwe die ouers self ! Die grootouers, dominees, onderwysers, jeugleiers, sielkundiges, bediendes, parooloffisiere(!?), ens., spring almal in om vir junior op te voed, terwyl ‘Ma’ net daar is om kos te voorsien by die “huishotel” waar die kind basies net kom slaap, eet en lekker ontspan voor die TV … die nuwe ‘baas’ in ons huise.

‘Pa’ is dan niks anders as die raas- en slaanmasjien nie. Pa en Ma sal die kind hier en daar ‘n mooi maniertjie en ‘n oulike gewoontetjie aanleer, maar verder is dit die “experts” se taak om die kinders waarlik op te voed.

Ons is baiemaal te besig met al die “belangrike” dinge in die lewe … elke christenvader en moeder sal opnuut moet kyk waarmee ons besig is, en of dit werklik so is dat daar nie genoeg tyd is vir gesin en kerk nie ?

DIE VERVAL VAN DIE WAARDES VAN ONS LAND, IS DAAROM NIE PRIMER AS GEVOLG VAN POLITIEKE, EKONOMIESE OF KERKLIKE OMSTANDIGHED NIE, MAAR DIT IS AS GEVOLG VAN ONS OUERS -EN VERAL ONS AS VADERS- SE ONVERANTWOORDELIKEID EN ONVOLWASSENHEID IN DIE HANDHAWING EN TOEPASSING VAN CHRISTELIK-GEREFORMEERDE WAARDES IN ONS EIE LEWENS EN IN ONS GESINSLEWENS.

Die Skrif leer duidelik dat die vader (in samewerking met die moeder) die primére verantwoordelikheid dra vir die opvoeding van sy kinders (Ef.6:1-4). Baie ouers dink hulle het hul “job” gedoen deur hul kinders Sondagskool toe te vat, by die kerk af te laai, of hulle net gou by die jeugvereniging te “drop,” voordat Pa lekker gaan rugby of krieket kyk en Ma haar “soapies” kan gaan opvang.

Ten einde is die werklike ‘effektiewe’ jeugbediening die vader se taak.

Hy moet ‘n godsvresende atmosfeer skep, deur o.a. die moderne Egiptenaar (TV) af te sit, of selfs beter: te verwyder as dit in die pad kom van die gesin se aanbidding van God en die diens aan mekaar. As die TV (of internet) nie verantwoordelik en oordeelkundig gebruik kan word nie, moet dit uit (Matt.5:27-30; Rom.13:13,14). Die vader -en nie die jeugleier nie- moet die leier wees in aanbidding, gebed, huisgodsdiens en in die gemeenskap met ander heiliges.

Die vaders moet sorg dat God se heerlikheid en eer in alles gesoek en gevind sal word, soos Moses in Deut.4:6-9, beveel, Schlecht skryf: “If children do not come face to face with the Almighty God in every aspect of their lives, their fathers, through abdication, are bringing them up in practical atheism.” (bl. 17).

Is dit nie wat vandag gebeur nie ? ‘n Geslag van kinders wat nog opgevoed word in die tradisies en gewoontes van kerk en volk, maar die godsaligheid en krag daarvan verloên het, niks anders as gedoopte praktiese ateïste nie ?

En as die vaders nie opstaan tot die diens en stryd nie, dan moet daar nie net gefokus word op die arme verwaarloosde kinders in sulke gebrokke gesinne nie, maar dan moet daar ook -eerstens- op die afvallige vaders gefokus word wat hul verbondspligte versaak, soos deur Schlect as volg uiteengesit:

1) Eerstens, moet die ouderlinge vir die ander vaders ‘n voorbeeld stel in die opvoeding van godsvresende kinders in hul huishoudings (sien: 1 Tim.3:4,5; Tit.1:6). Soos wat die ouderlinge groei in bybelse vaderskap, so sal huL groei om beter toegerus te wees om ander vaders daarin te begelei (Heb.5:14). Die voorbeeld van godsvresende gesinne, is ‘n inspirasie vir ander vaders en gesinne om na te volg.

2) Tweedens, moet bybelse standaarde vir vaderskap gestel en gehandhaaf word. Die kerk is geneig om te kompromeer met die standaarde van die wêreld om ons, en is dus tevrede om net-net “beter te vaar” as die wêreld daarbuite. Maar God se standaarde is nie die wêreldse standaarde nie. Ons moet na God se Woord kyk en nie na die wêreld nie. God eis verbondsgehoorsaamheid van die vaders, en enigiets minder is sonde. Die heiliges, veral die ouderlinge, sal met durf en daad, en in liefde die gesinne moet bemoedig, vermaan en aanspreek wanneer bybelse standaarde van vaderskap nie gehandhaaf word nie.

5. Praktiese voorstelle
Die groot vraag wat nou volg, is wat as daar reeds ‘n gevestigde “energieke” jeugbediening aan die gang is? Schlect wys op die volgende:

1) Ontmoedig onnodige jeuggroeperinge, veral wanneer die gesinsverband beklemtoon moet word. In die kerk sal dit goed wees as gesinne bymekaar sit, in plaas van wat vandag gebeur, dat elke lid van die gesin in sy eie rigting spat as hul by die kerk opdaag. Belangrike familietye, soos bv. verjaarsdae, huisgodsdiens, saam eet, ens., moet voorgang geniet bo jeugaktiwiteite, hetsy kerk-of skoolaktiwiteite.

2) Die jeug kan “volwasse” Bybelstudies bywoon, veral daardie wat die ouers bywoon. Kinders kan baie meer volg in ‘n gesprek as wat vandag van hul verwag word. Daar is een Bybel en een boodskap vir beide ouer en kind, albei is deel van die verbond ! Natuurlik sal dit in die begin ‘n vreemde aanpassing wees maar die kind sal geleidelik groei, wat betref sy betrokkenheid by die Bybelstudie. Dit sal volwassenes ook help om soos Jesus, met kinders te kan kommunikeer, duidelik en eenvoudig uit die Bybel. Ons moet onthou dat die HK primêr juis opgestel is vir kinders.

Vandag is daar so baie Bybelstudies dat daar nie meer genoeg plek en tyd is om almal te akkomodeer nie. Daar is manne-, vroue-, jeug-, getroudes-, ongetroudes-, amper getroudes. moontlike-getroudes, geskeides-. amper geskeides, wil-nog-geskeides, middeljarige-, meerderjarige-, slagoffer-, oupas en oumas-, kleuter-, ens. ens, tipe bybelstudies, en wie weet wat volgende gaan wees? Goed, goed, ek oordryf so “bietjie,” maar ten einde staan dit vas: die baie soorte bybelstudies word geregverdig, want “elkeen het sy eie behoeftes en interpretasies,” Dit is egter vals, wat ons het een God, een doop en een Woord wat vir almal geld (die verskeidenheid lê in verkillende toepassings, nie die boodskap nie). As moontlike voorstel kan dit goed wees dat gemeentes terugkeer na drie soorte-bybelstudies: een manne bybelstudie (jongmans en seuns ingesluit) en een vrouebybelstudie (jongdames en meisies ingesluit), en dan gesins- en of wyksbybelstudies. Verder kan die ouers (en veral die vader), deur verdere seminare en vergaderings opgelei en toegerus word om sy kinders op te voed in die vrees van die HERE.

3) Organiseer sekere gebeure om gesinne en moet nie net kinders of net ouers nooi vir sekere geleenthede nie. Die program moet ook nie verander word om net die kinders se behoeftes te dien nie, maar moet ook in lyn wees met die volwassenes se program en leiding.

4) Vermy die alledaagse foefies van die moderne jeugbediening, soos die afgewaterde anabaptistiese boodskappies, oordrewe speletjies, jesus-prentjies en flieks, ligsinnige musiek, ens. Goeie kinderlektuur is gewoonlik lektuur vat volwassenes ook kan geniet en waardêer.
Al die verskillende vertalings en soorte Bybels (Manne-. Vroue-, Jeug-, Kleuter-, ens., tipe Bybels) dui ook op die totale “segregering” van die verbondsgemeenskap van die heiliges. Elkeen met sy ‘eie behoefte’ vertaling …

Die skrywer stel dit ook tereg, dat: “nobody is too young for Psalms and good hymns.” Ons vergewe hom vir die ‘hymn’gedeelte, want die Psalms is genoegsaam vir ons aanbidding van God as verbondsgemeenskap (NGB artikel 7). Behalwe vir die kennis van die Skrif, is kennis van die belydenisskrifte verder ook baie belangrik (2 Tim.3:14-17).[6]

5) Dit is baie belangrik dat die kinders se afhanklikheid van die jeugbedienaar, terug sal skuif na die ouers, ‘n Goeie oorgangsfase sal wees om ‘n ouer-kind Bybelstudie te begin, wat die jeugleier self kan begin en later heeltemal kan oorhandig aan die ouers. Kinders moet dus opvoeding assosieër met ouerlike gesag. Die jeugleier moet ook die ouers betrokke kry deur die onderwerpe met hul te deel wat bespreek word, hul te betrek by die Bybelstudies self, en kinders terug te verwys na die ouers vir verdere raadgewing (Spr. 1:7,8). Die langtermyn doelwit is dat ouers opnuut die opvoeding van hul kinders sal terugneem, en dan die hulp en ondersteuning van die kerk en gemeenskap om hul sal inspan om hul daarmee te help.

Wat nou van die kinders van ongelowiges wat betrokke is in jeugbedienings?
‘n Mens is baie dankbaar vir die goeie werk wat op hierdie vlak deur baie jeugwerkers (eintlik evangeliste volgens die Skrif: Ef.4:11?) gedoen word, maar die uitsonderings (oftewel evangelisasie- en diakonale werk) moet nooit ‘n verskoning word om nie die reël van verbondsgesinne na te kom nie. Die verbond word bevestig aan die ouers, nie jeugbedienaars nie (Spr.22:6; Hand.2:39). Daar moet verder gestrewe word om hierdie kinders by Christelike gesinne te betrek in plaas van afsonderlike jeugbedienings. Hul moet uitgenooi word na etes saam met die gesin, vir huisgodsdiens asook na eredienste toe, terwyl daar altyd gestrewe moet word om ook die Evangelie te bedien aan die ouers van hierdie kinders. Die kinders moet geleer word om nogsteeds respek te hê vir sy ongelowige ouers en ook by hul aan te klop oor enige vrae, selfs oor die geloof. Die kind moet dus nie in vyandskap teenoor sy ouers opgevoed word nie, maar moet hul nog altyd respekteer en eer (Ef.6: 1-3; sien Sondag 39 van die HK).

6. Slot
Ten slotte som die skrywer sy boodskap op deur te bevestig dat die ‘jeugbediening’ nie afgeskaf moet word nie, maar na sy regmatige plek moet terugkeer: die huisgesin, met die vader die primêre verbondsleier wat in woord en daad moet voorloop. Ten einde moet ons altyd onthou dat godsvresende gesinne ‘n geskenk van God is, en dat sonder die werk van die Heilige Gees, geen jeugprogram of strategie vir vaderskap kan slaag nie.

Die basiese boodskap van hierdie boekie, is dat ons as ouers opnuut sal moet gaan en besin oor ons prirnêre rol in die opvoeding van ons nageslag, veral wat die praktykmaking daarvan betref. Ons weet om waarlik Christen te wees vereis opoffering en stryd (1 Tim. 3:12) en dat ons hedendaagse omstandighede nie maklik is nie. Ons word egter geroep om te doen wat reg en goed is vir die Here en nie wat maklik en goedkoop is nie. Hoeveel is God se verbondskinders (wat Hy vir jou tydelik leen en belowe om jou alles te gee wat nodig is om hom op te voed) vir u as verbondsouers werd ? Onthou, ons moet almal eendag verantwoording gaan doen voor die Groot Raad.

Ek hoop dat dit vir u duidelik is, dat die probleem nie is dat daar verskillende ouderdomsgroepe is nie, want die Bybel praat wel van ouers, kinders, oues van dae, jong kindertjies, ens (sien veral Titus 2:1-11).

Die probleem begin as ons, hoe onwetend en goed bedoel ookal, mure begin bou tussen die verkillende groepe en sonde tussen ouer en kind sielkundig en opvoedkundig probeer weg definieer, bv. “hy gaan nou net deur daardie fase” of “sy is nou maar net eenmaal jonk,” of ”sy ouderdomsgroep trek maar so aan of doen dit almal,” ens., ens.

Groepe moet onderskei word maar nie geskei word nie, veral nie wat die gesin betref nie. Ten einde moet kerk en gesin hulself bewaar van die demokratiese individualisme en terugkeer na die Bybelse verbondsmodelle wat vir ons in die Skrif gegee word.

Mag ons Here Jesus ons opnuut versterk om Sy kinders in Sy hele verbondswoord op te voed, in leer en lewe, want:

As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter …. Kyk, seuns is ‘n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning. … Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het ! (Ps. 127).

7. Voetnotas
[1] Sien ook Gordon H. Clark, William James and John Dewey (Hobbs, New Mexico: Trinity Foundation [ 1995).

[2] Sien Niel Postman se kritiese ontleding van die moderne media, Amusing Ourselves to Death: Public Discourse in the Age of Show Business (Penguin, 2005). Vir ‘n goeie ebalanseerde behandeling van die rol van TV in die gelowige gesin se lewe, sien Steve Schlissel se boekie: Television or Dominion? Vir die beste ontleding van die verhouding geloof, kultuur en die media, vanuit ‘n gereformeerde perspektief sien dr. CP Polderman se Kerk en Wereld: Een studie over gereformeerden en hun uiteenlopende relaties met televisie in het licht van politiek, cultuur en theologie (Leiden, 1996), waarin hy konfessioneel en histories kyk hoe gereformeerdes standpunt ingeneem het t.ov., hul kultuur in Nederland, met spesifieke verwysing na die modeme media, veral die te!evisie.

[3] Potchefstroom: Pro Rege, 1975.

[4] As die woorde pelagiaans-arminaanse dwalinge so vreemd klink op ons ‘jeugdige’ ore, dan is dit maar net nog ‘n getuienis van die jammerlike deformerende toestand waarin ons kerke, en veral ons leiers van die toekoms verkeer. Sien die Dordtse Leerreëls vir meer inligting oor hierdie dwalinge. Dit kan gevind word agter in die Psalmboek onder die afdeling “Die Drie Formuliere van Eenheid”. Sien ook prof. Paul de Bruyn se boekie: Die Gesonde Leer (deur broeder Willem Swanepoel verwerk vir e-Sword en kan afgelaai word by die volgende adres:onder Afrikaans 2 http://www.enigstetroos.org/esword.htm.)

[5] “Covenant Education: Grade School through Seminary”, in The Chalcedon Report, no.390, January 1998, p.39.

[6] Sien Rediscovering Catechism: The Art of Equipping Covenant Children, Donald van Dyken (Philipsburg, New Jersey: P&R Publishing Company, 2000).


Responses

  1. […] Die Jeugkrisis en Jeugbediening […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: