Posted by: proregno | October 14, 2008

Vir wie het Christus gesterwe ?

EC Skea, Waverley skryf in die Kerkblad van Oktober 2008:
Het Christus net die skuld vir die uitverkorenes betaal? – Ek verwys na my vorige brief (DK Junie 2007) in dié verband, wat weens sy lengte nie geplaas is nie, en u antwoord (DK Maart 2008). Ek het gehoop dat ander sou reageer op die inhoud.
Die antwoord van die redaksie is in ’n sekere opsig teleurstellend. Aangesien ons as Gereformeerdes ons beroem op die Skrif alleen, het ek weerlegging van my standpunt uit die Skrif verwag. Of andersins dat ek die aangehaalde tekste verkeerd interpreteer of dat hulle verkeerd vertaal is. Die finale opmerking is egter ’n dogmatiese, naamlik dat ons glo dat ons glo dat die mens nie ’n keuse het nie, maar dat dit God is wat kies. Kan ons met soveel sekerheid beweer dat die mens nie kies nie, terwyl ons in die Dordtse Leerreëls lees dat God nie met die mens soos met stokke en blokke werk nie, die wil en sy eienskappe nie vernietig nie, en dat God die wil nie met geweld teen sy sin dwing nie? God kan deur sy Woord en Gees ons wil buig om die regte keuse te maak. Niemand kom ook tot geloof as hy nie eers die Woord (evangelie) hoor nie (Rom 10:14, 17).
Verder meld u dat Calvyn nie die siening dat Christus vir almal gesterf het (alversoening) gesteun het nie. Tog het ek aangehaal wat Calvyn geskryf het, naamlik: “The Lord suffered for the sins of the whole world” en “is offered impartially to all in the kindness of God”. HCE Moule het dit uit Frans vertaal; ek kon die Franse weergawe gegee het, maar aangesien ek meen dat min van ons Frans verstaan, laat ek dit daar. Die eerste gedeelte van Calvyn se stelling is in ooreenstemming met ons belydenis in die Heidelbergse Kategismus (v/a 37). Die tweede deel sê in Afrikaans “en word aan almal, sonder aansiens des persoons, deur die goedheid (vriendelikheid) van God, aangebied”. Dit impliseer juis ook ’n keuse.
Daar bestaan vir my nie ’n verskil tussen ly vir die sonde van die hele menslike geslag, die dra van die sonde of die sterf vir die sonde van die hele menslike geslag nie. Totius skryf in 1912 in Die Kerkblad: “Dit is ook wat ons kategismus in Sondag 15 leer, naamlik dat Christus gesterf het vir die sonde van die ganse menslike geslag” (Totius, Versamelde Werke 4, Tafelberg 1977).
My vraag was uiteindelik ook nie aan wie verkondig ons die evangelie nie, maar hoe verkondig ons dit. Ons kan dus verkondig dat Christus almal se sonde gedra het (daarvoor gesterf het). Die mense kan dus opgeroep word om dit aan te neem en die ewige lewe te verkry, of dit te verwerp en vir ewig verlore te gaan.
Christus se sterwe was dus vir die sonde van die hele wêreld of die ganse menslike geslag, en nie net vir die uitverkorenes nie. So gesien, is dit ’n belangrike motivering vir die uitdra van die evangelie deur gelowiges aan alle mense, soos ons beveel is (Matt 28:19).
Vir wie het Christus gesterwe ?
deur ds. S. Le CornuIn die Kerkblad van Oktober 2008 beweer EC Skea (Waverley) dat: “Christus se sterwe was dus vir die sonde van die hele wêreld of die ganse menslike geslag, en nie net vir die uitverkorenes nie”, met ‘n beroep op die Skrif, belydenis, Calvyn en Totius.

Aangesien br Skea vra dat ander ook daarop sal reageer, maak ek gebruik van die geleentheid, met die hoop dat my uiteensetting die broeder sal help om verder te besin oor hierdie onderwerp.

Eerstens, openbaar die Skrifgedeeltes wat spesifiek gaan oor Christus wat sy lewe vir ons gee (sy bloed vir ons stort, sy lewe as losprys gee), nie dat dit vir alle mense kop-vir-kop is nie, maar vir ‘baie’, bv.:

“… net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” – Matt.20:28

“Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” – Matt.26:28

Sien die koppeling: ‘losprys’ – ‘vir baie’, en, ‘bloed’ – ‘vir baie’. Dit gaan in hierdie Skrifgedeeltes en met die woord ‘baie’, nie om ‘n spesifieke getal mense nie, maar dit gaan ook nie oor ‘almal’ nie.

Ander Skrifgedeeltes maak dit duideliker: Christus het gesterwe vir ‘sy volk’ (Matt.1:21), vir ‘sy vriende’ (Joh.15:13), vir sy ‘kinders, broers’ (Hebr.2:10-14). Hy is die goeie Herder wat sy lewe aflê vir ‘sy skape’ (Joh.10:11,15). Daarom bid Christus: “Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort” (Joh.17:9). Dus nie elke mens ooit nie, maar ‘n spesifieke groep.

Wat dan nou van frases soos bv. “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” of “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.” (Joh.1:29; 1 Joh.2:2) ?

Wanneer die Skrif woorde gebruik soos ‘(hele) wêreld’ (bv. Joh.3:16; 1 Joh.2:2) en ‘alle/alles/almal’ (bv.Rom.5:12-19; 1 Tim.2:1), dan moet dit elke keer verstaan word volgens die konteks waarbinne dit gebruik word (soos met enige woord wat in die Skrif gebruik word, wat die Skrif-met-Skrif vergelyking verklaringsbeginsel bevestig – en, wat ons Here Jesus (Matt.22:43) en Paulus (Gal.3;16) ons geleer het).

Partykeer word die woorde gebruik om letterlik alles/almal, die hele wêreld aan te dui (bv. Gen.1;1; Matt.28:20), maar in ander gevalle dui dit bv. op ‘n bepaalde groep, klas of soort mense, ens. (Sien bv. die bekende gereformeerde NT verklaarder, William Hendriksen, se verduideliking van die – ten minste ses – verskillende gebruike van die woord ‘wêreld’ (kosmos) deur Johannes in sy NT geskrifte (New Testament Commentary: The Gospel of John, Baker, 1979, p.79 [voetnota 26 by Joh.1:10,11]).

Aangesien Totius deur br. Skea aangehaal word om sy standpunt te verdedig, laat ek vir Totius vir ons verduidelik hoe om hierdie woorde te verstaan in die Nuwe Testament:

Br. J. C. Kotzé (Bultfontein, Lady Grey) skryf: ,,Het Jesus vir alle mense gesterwe? Ek stel hierdie vraag met betrekking tot 2 Kor.5 : 15.”
In die aangehaalde vers staan: ,,En Hy het vir almal gesterwe.” Dieselfde lees ons in Rom. 5 18: ,,deur een daad van geregtigheid (is dit) vir alle mense tot regverdigmaking.” Hebr.2:9: ,,sodat Hy denr die genade van God vir elkeen die dood son smaak”. So ook Rom. 13:32; I Kor. 15:22; Jes. 53:6.
Aan hierdie tekste gee die Remonstrante die volgende verklaring:
Wanneer daar gesê word dat Christus vir almal gesterf het, dan moet dit verstaan word van die verwerwing van die saligheid; terwyl as daar staan dat Christus vir baie sy bloed vergiet het, dit moet sien op die daadwerklike toepassing, wat nie almal se deel is nie.”
Hierteen het ons Gereformeerde vaders tereg beweer dat Christus dan net die een helfte van ons saligheid verwerf het en dat die ander helfte van die mens afhanklik is.
Die woord ,,volbring !“ moes Jesus dan eintlik, volgens die Remonstrante, nie uitgespreek het nie.
Daar word egter vergeet dat almal ‘n woord van onbestemde betekenis is. As ek byvoorbeeld sé: ,,Toe ek deur die kerk loop, het al die mense na my gekyk” — dan bedoel ek met al nie al die mense wat op die aarde woon nie maar alleen al die mense wat in die kerk was.
So spreek die Skrif ook wanneer hy die oog op die gelowiges het, soos volg: ,,Christus het vir almal gesterwe”, d.w.s. almal wat aan Jesus behoort. Met die oog op die hele mensheid sê die Skrif net so beslis dat Christus nie vir almal gesterf het nie. ,,Die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” ,,Baie is geroep, maar min uitverkies.” ,,Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het.”
Waar die Skrif nou leer dat Christus nie vir alle mense gesterwe het nie, daar kan hy beide sê: én dat Jesus nie vir almal gesterwe het nie (d.i. alle mense een vir een) en dat Jesus wel vir alle mense gesterwe het, nl. vir al die gelowiges.
Maar as die Skrif nou leer wat die Remonstrante aan hom toe skrywe, nl. dat Jesus wel vir alle mense sonder uitsondering gesterwe het, dan mag die Skrif nooit van ,,nie almal” of ,,min” spreek nie. En tog doen hy dit! ‘n Duidelike bewys dus hoe onskriftuurlik die Remonstrantse leer is.
In 2 Kor.5: 15 blyk dan ook duidelik uit die verband dat die apostel met gelowiges te doen het en niks anders as dit wil sê nie: Christus het vir alle gelowiges gesterwe, en nou moet hulle ook in hulle self sterwe, d.i. vir Christus lewe. (Het Kerkblad, 1 Junie 1913. (Vertaal.), geneem uit: Versamelde Werke, deel 1, p.288, 289)

Wanneer die Skrif dus, veral in die NT, leer dat Christus vir die sonde van die (hele) ‘wêreld’ gesterwe het (bv.Joh.3:16; 1 Joh.2:2), dan dui dit daarop dat God sy gelowiges wat Hy uitverkies het, onder alle volke het (Matt.28:19), en nie net meer onder Israel soos in die OT bedeling nie (sien die woorde in Handelinge 10:36, waar dit juis daaroor gaan dat die Here nie net kinders onder die Joodse volk het nie, maar ook onder die nie-Joodse volke: “… deur Jesus Christus – Hy is die Here van almal”, d.w.s. almal wat Hy uitverkies het onder al die volke, Matt.28:19).

Dus ‘alle’ beteken bv. alle soorte mense, of mense van alle volke, maar nie elkeen kop vir kop nie. Die Here red wel die hele wêreld, maar die hele wêreld in sy uitverkorenes/gelowiges. Ons moet die Skrif dus organies-verbondsmatig lees, en nie individualisties-arminiaans nie, anders gaan ons daarin eindig dat, soos br.Skea dit stel, skrifgedeeltes verkeerd ‘ge-interpreteer’ en verstaan word, en dit alles mekaar weerspreek.

Om net enkele voorbeelde te noem, aangaande die verskillende gebruik van die woorde ‘wêreld, alle, oral, hele, almal’:

“Nou is daar nie alleen gevaar dat hierdie vak van ons in veragting kom nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Diana as niks gereken word, en dat haar majesteit wat die hele Asië, ja, die wêreld, vereer, ook tot niet sal gaan.” – Hand.19:27

“In die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.” Rom.1:8

“… en geskreeu: Israeliete, help! Dit is die man wat oral aan almal dinge leer teen die volk en die wet en hierdie plek. Hy het ook nog Grieke in die tempel gebring en hierdie heilige plek ontheilig.” Hand.21:28

Dit is duidelik dat in hierdie verse die woorde ‘hele’, ‘wêreld’, ‘oral’ en ‘almal’ nie letterlik alles en almal kop vir kop op elke plek regoor die wêreld beteken nie.

Die bybelse verhouding tussen uitverkiesing en verbond, God se soewereiniteit en menslike plig, predestinasie en prediking, ens., gaan glad nie meer sin maak nie, as ons nie die Skrif organies-verbondsmatig lees soos dit ditself aanbied nie, soos oud-prof. Willie Snyman dit soos volg stel,:

“In Christus is die patria verlos, families, geslagte, volke, en die hele mensheid in sy organiese ontwikkeling. Wat ver­lore gaan, is die afgekapte takke van die menslike geslag.”

Ja, in die uitverkorene gelowiges onder elke volk, stam, taal en nasie, word die menslike geslag organies-verbondsmatig gered deur die bloed van Christus wat vir hulle gestort is. So verstaan is dit heeltemal reg om te glo en te bely: Christus red die ‘hele menslike geslag’, die ‘mensheid’, die ‘mensdom’, die ‘hele wêreld’ (Op.5:9):

“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie

Tweedens, verduidelik dit dus ook hoe ons hierdie woorde, o.a. ‘hele menslike geslag’ van ons belydenis (Sondag 15) moet verstaan. Ursinus wys in sy verklaring daarop dat dit die uitverkorenes is, d.w.s. hulle wat glo in Christus, wat hierdie ‘hele menslike geslag’ uitmaak. Calvyn in sy kommentaar op Mark.14:24 wys daarop dat die Here se bloed gestort is nie net vir ‘n gedeelte van die wêreld nie (dus net vir die Joodse volk nie), maar vir die hele menslike ras (vir Jood en Griek, man en vrou, slaaf en vryman, Gal.3:28) , d.w.s vir almal wat sal glo (Joh.3:16) onder elke volk, stam en nasie, “almal wat verordineer (is) tot die ewige lewe” (Hand.13:48).

Die oomblik as ons die soewereine uitverkiesing en genadeverbond wil skei en losmaak van mekaar of teenoormekaar stel, in plaas van om dit net te onderskei soos die Skrif en die belydenis dit handhaaf, verval ons in ‘n doodloopstraat waarin ons of die almag en soewereine welbehae van God bevraagteken of die menslike verantwoordelikheid en plig ophef.

Die Gereformeerde geloof bely dat die versoening van Christus insigself kragtig, waardig, oorvloedig en genoegsaam is om die sonde van elke mens weg te neem (DL 2.3). Ons bely dit teenoor die arminianisme wat beweer dat indien Christus nie vir almal gesterwe het nie, sy bloed nie kragtig genoeg was om verlossing te bewerkstellig nie.

In DL 2.8 bely ons egter eksplisiet vir wie Christus se bloed gestort is, d.w.s. vir wie het Hy gesterwe aan die kruis (beklemtoning bygevoeg):

Dit was immers die volkome vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader dat die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis—waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het—uit elke stam, volk, geslag en taal hulle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder dat Hy hulle van al hulle sondes—sowel die erfsonde as die werklike sonde wat na en voor die geloof begaan is—deur sy bloed sal reinig. Ten slotte dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem.

En daarom, derdens, uit ‘n bybels-teologiese oogpunt kan die arminiaanse standpunt, dat Christus vir alle mense (kop-vir-kop) gesterwe het, nie gehandhaaf word o.g.v. bogenoemde belydenis nie.

Die rede: sou Christus vir alle sondes van alle mense gesterwe het, is die vraag aan die arminianisme: hoekom gaan mense dan nog verlore ?
Waarop die antwoord seker is: omdat hul nie glo nie;
waarop die opvolgvraag is: maar is om ‘nie te glo nie’, dan nie ook een van die sondes waarvan ons dan hierbo bely “Verder dat Hy hulle van al hulle sondes—sowel die erfsonde as die werklike sonde wat na en voor die geloof begaan is—deur sy bloed sal reinig.” ?

Ek hoop u sien hierdie wesentlike probleem raak: as Christus vir alle sondes gesterf het, dan het Hy ook vir die sonde van ‘ongeloof’ gesterwe, en kan selfs mense wat nie glo nie, ook nie verlore gaan nie … behalwe, as daar inderwaarheid iets fout is met die bloed van Christus, of die verlossing wat Hy bewerkstellig of ‘moontlik’ gemaak het ?

Dus, as iemand vir wie Jesus se bloed gevloei het, nogsteeds verlore gaan, in die arminiaanse sisteem gesien, dan beteken dit inderwaarheid dat Christus se bloed nie genoegsaam, waardevol, en kragtig genoeg is om ‘n mens se sonde (van o.a. “nie glo nie”) te kan reinig nie. Dan is Jesus se bloed “gebrekkig of onvoldoende“, dan lê die skuld by God, nie die mens nie (wat ons natuurlik verwerp in DL 2.7). Ja, die mens bly skuldig, maar Christus se bloed is onvoldoende, in die arminiaanse sisteem.

Daarteenoor glo ons “… en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” – Matt.1:21

Christus maak nie verlossing net moontlik nie (ons verwerp ‘moontlike verlossing’ in DL verwerping 2.3, want Jesus is nie ‘n ‘halwe’ nie, maar ‘volkome’ Verlosser, HK v/a 30), Hy verlos werklik en sekerlik !
Hy volbring dit in ons plek, sodat ons deur Gees en Woord sal glo en ons sal bekeer, as vrug van die wortel: God se liefdevolle genadige uitverkiesing in Christus voor die grondlegging van die wêreld (Ef.1:4; sien HK v/a 64).

Kom ons dank God vir sy soewereine genade, want as Hy ons nie uitverkies het nie, sou ons nooit kon glo nie, en sou geen ware sending of evangelisasie kon plaasvind nie (sien DL 2.5). Die dankbare belydenis van die gereformeerde gelowige, is ons dierbare Jesus Christus se woorde:

Dit is volbring ! (Joh.19:30)

Wat br. EC Skea se probleme betref aangaande of mense ‘n ‘keuse het’ aangaande wat God Hom ‘aanbied’ (met verwysing na DL ¾.16), wil ek aan die hand van Joh.6:44 net die volgende opmerk:

“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie”

Ons ‘kom’ (d.w.s. handel, tree op) om na die Vader te kom, as vrug van sy nadertrek na Hom (uitverkies, roeping, wedergeboorte, ens., sien Rom.8:30).

Ons ‘keuse’ is die vrug/gevolg van God wat ons eers geplant het (uitverkiesing). Ons ‘keuse’ bepaal nie ons redding nie, maar is die gevolg van ons redding. God se uitverkiesing is die bron of wortel van ons geloof, bekering en heiligmaking (sien DL 1.9). God se uitverkiesende werk is die bepalende oorsaak, ons antwoord is die gevolglike oorsaak (Fil.2:12,13).Volgens die arminiaanse dwaling, is die wil of ‘keuse’ van die mens egter nie net ‘n gevolg nie, maar ook bepalend of ten minste mede-bepalend, of hy verlos gaan word en daarin gaan bly. In die arminiaanse sisteem word die mens se ‘keuse’ losgemaak van, gelyk gestel aan, of in stryd gestel met God se almag. Dit weerspreek vanselfsprekend die woord van die Here, om maar net op een plek te wys:

So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. – Rom.9:16

En dit is in wese die verskil tussen die gereformeerde geloof en die arminianisme: nie dat die mens ‘n ‘keuse’ uitoefen (d.w.s. handel en optree in die verbond) nie, maar dat in die arminianisme die finale hoop uiteindelik op die mens is om reg te kies, sy verlossing hang ten einde van homself af. Christus het verlossing slegs ‘moontlik’ gemaak, God ‘wil’ alle mense red (kop-vir-kop), maar nou moet die mens nog net sy deel doen (sien DL verwerping 5.2), anders gaan hy verlore.

Daarteenoor skryf Calvyn:

“Christus sal egter nie toelaat dat iemand uit diegene wat Hy eenmaal in sy liggaam ingelyf het, verlore gaan nie. … As Hy wou hê dat almal gered moes word, sou Hy sy Seun as hul Beskermer aangestel en hulle almal deur die heilige band van die geloof in sy liggaam ingelyf het. Maar nou staan dit vas dat die geloof ‘n besondere waarborg van sy Vaderlike liefde is, wat weggelê is vir die kinders wat Hy aangeneem het.” – Calvyn, Institusie III.22.7,10.

In die Skrif, soos bely in ons gereformeerde belydenis, hoor ons die werlike goeie nuus, nl. dat alles, ja alles afhang van “God wat barmhartig is … deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” (Ef.1:5,6)

Christus is nie net die Begin nie, maar ook die Voleinder van ons geloof (Hebr.12:1,2). Hy sal die werk wat Hy in ons begin het ook voleindig:

“… omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” – Fil.1:6

Ons moet daarom die verderflike valse leringe van Pelagius, Pighius en Arminius aanhou verwerp (DL, verwerping 2.6) omdat dit ons enigste troos in lewe en sterwe ondermyn (HK Sondag 1). Ons moet vashou aan die ware evangelie van Jesus Christus:
verlossing uit genade alleen,
deur die geloof alleen,
sonder enige werke,
tot Sy eer (Rom.11:36).

ns. Dit is ook belangrik om enige skrywer se standpunt oor ‘n saak te gaan lees, waar hy die meeste of die duidelikste daaroor skryf. Sien daarom Calvyn se werke oor uitverkiesing, wie die Here wil red, vir wie het Christus gesterwe, ens., in sy Institusie boek 3, hoofstuk 24 asook sy minder bekende werke:

“The Eternal Predestination of God” en “The Secret Providence of God”


Responses

  1. […] Vir wie het Christus gesterwe ? […]

  2. […] Sien hierdie artikel oor vir wie Christus gesterwe het: Vir wie het Christus gesterwe ? […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: