Posted by: proregno | January 13, 2009

PSALMS VS GESANGE IN DIE GKSA

WAS DIE PSALM VS GESANGE SAAK IN DIE HERSTIGTING VAN DIE GKSA ‘N ‘MIDDELMATIGE SAAK’ SOOS DIT VANDAG VOORGEHOU WORD ?

“Ja, die geskiedenis het meer om te bewys. Haar onwraakbare getuienis is dat geen kerk streng gereformeerd gebly het, wat die gesange gebruik het nie. Daar was steeds ‘n wisselwerking. Die losheid in de leer roep om die gesange, en die gesange roep om die losheid van die leer.” – Totius en Cachet

“Die Sinode (Kaapse NG Kerk, 1847) onderskei twee-ërlei besware t.w. dat die beswaardes ‘geweigerd hebben de Gezangen te zingen’ wat dui op ‘n beswaar teen Gesange as sodanig en tweedens ‘zoo zy omtrent het een of ander gezang eenige bedenking of zwarigheid mogen hebben’ wat dui op die leerstellige besware teen sommige Gesange” – Dr. GCP van den Vyver, Dirk Postma 1818-1890 (Potchefstroom: Pro Rege, 1958, p.206).

Die Psalm vs Gesange kwessie was “tog een van die kernpunte waarom die stigting van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gedraai het.” – GCP van den Vyver (ibid., p.202)

Tydens een van die sinode-aande verlede week (Donderdag, 8 Jan 2009), is die “Dagboek van Dirk Postma” (vertaal in Afrikaans uit die Nederlands, deur o.a. dr. Wim Vergeer), deur die vertaler oorhandig aan die skriba van die moderamen.

In dr. Vergeer se toespraak, het hy groot klem gelê op Postma se gemoedelike en verdraagsame standpunt aangaande die Gesangekwessie.

‘n Mens wil nie baie spekuleer oor waarom hy in sy toespraak op hierdie een aspek van Postma se hele dagboek klem gelê het nie, maar na my mening het hy dit gedoen juis om vir die sinode en ons kerke dit te probeer voorhou, dat as ons nie na hierdie sinode nie meer as oorwegend Psalmsingende kerke bekend gaan staan nie, maar nou ook as Gesangsingende kerke, dan is dit nie ‘vreemd’ aan ons herstigting nie, want Postma was mos verdraagsaam teenoor die Gesange.

Dieselfde trant kry ‘n mens min of meer in die Kerkblad van Januarie 2009. Die redakteur skryf ‘n artikel oor die feesvieringe van 1959 (‘n Terugblik – die eeufees van 50 jaar gelede, p.5), en, siedaar, een van die sake waaraan die meeste aandag gegee word, vanuit die wye klomp lesings en preke wat daardie tyd plaasgevind het, is prof. S Du Toit se lesing (asook PC Snyman se verwysing na dieselfde saak in 1909):

“Die feesrede op Sondag 29 Maart is deur prof. S du Toit gelewer oor die reformatoriese roeping van die kerk in die verlede, die hede en die toekoms. Hy behandel onder andere die oorsake wat aanleiding gegee het tot die kerkskeiding in 1859 en wys die beskouing af (dis ‘n “legende”, sê hy) dat die hele stryd destyds net oor gesange gegaan het, en hy wys daarop dat diepgaande leerstellige sake ter sprake was. Die 15 man van die Afskeiding wou ‘n vrye Gereformeerde kerk hê, vry van die staatsmag van buite, en vry van kerklike hiërargie van binne.

Hy wys verder ook op bepaalde gevare wat die GKSA bedreig, soos byvoorbeeld negativisme, ‘n gevaar waarop dr. PC Snyman reeds in 1909 tydens die halfeeufees gewys het. Slaan ‘n mens hierdie toespraak van PC Snyman na, wat in die Gedenkboek (1949), saamgestel deur prof. Jan Lion Cachet, verskyn het, dan wys Snyman daarop dat indien jy vir iemand sou vra “Waarom is jy Gereformeerd?”, en hy/sy sou antwoord “Omdat ek nie Gesange sing nie”, dit totaal onvoldoende is. ‘n Mens kan duisend en een dinge nié doen nie, maar dan is daarmee nog nie gesê wat jy wél doen nie — en daarop kom dit ten slotte aan (volgens Snyman, bl. 187).”

Dus, as ‘n mens bogenoemd opmerkings lees, en jy ken nie albei kante van die geskiedenis oor die rol wat Gesange gespeel het in die ontstaan van die GKSA nie, dan sal jy begin dink:

1. die Psalms vs Gesange saak het nié sentraal gestaan in die herstigting van die GKSA nie.
2. Dirk Postma se verdraagsame standpunt was ook die standpunt van die reeds bestaande Gereformeerde Doppers wat die vaders was van die herstigting van die GKSA.
3. Dat huidige lidmate van die GKSA wat ‘n Psalmsingende kerk wil bly, en nie ‘Gesange wil sing nie’, skuldig is aan ‘negativisme’
4. Dat wat ons sing in ons kerke, bloot ‘n middelmatige saak is.
5. Dat die ou Doppers wat die GKSA herstig het, slegs teen die inhoud van die Gesange was, en nie teen sing van Gesange opsigself nie.

Om hierdie historiese eensydige herinterpretasies (wat ook met ons land se geskiedenis plaasvind) van die verlede aangaande die herstigting van die GKSA aan te spreek, asook die rol van die Psalms aan te spreek, bied ek die artikel hieronder aan.

Dit is my hoop dat hulle wat nie meer tevrede is met God se Liedboek vir sy Kerk, die VerbondsPsalms nie, en besig is om Gesange in te voer, ten minste eerlik en objektief sal omgaan met die verlede, aangaande hierdie saak.

‘n Mens het nie nodig om die geskiedenis en ‘n saak eensydig aan te bied, om jou eie standpunt te regverdig nie. Wees eerder eerlik en neem afskeid van die ‘ou weë’, en slaan jou nuwe weg in, maar respekteer die geskiedenis vir wat dit was.

Daarteenoor wil ek dit juis stel:
1. Alhoewel nie die enigste saak nie, was die Gesangekwessie dié sentrale kwessie waarin en waardeur die leerstellige, kerkregtelike en liturgiese strydpunte in die herstigting van ons kerke na vore gekom het in die middel van die 19de eeu en daarna.

2. Dirk Postma se standpunt was oor die algemeen nie verteenwoordigend van die ou Doppers se standpunt tydens die herstigting nie. Dit is verder my mening dat sy gemoedelike standpunt misbruik word vir huidige agendas aangaande die lied in die kerk.

3. Om Psalms alleen te sing is nie ‘negativisme’ nie, maar juis tevredenheid en dankbaarheid vir dit wat God aan ons geskenk het.

4. Wat ons sing in die kerk is deel van die wese van ons erediens.

5. Die besware van ons vaders was teen die inhoud en die Gesange opsigself.

_________________________

Die sang is geen middelmatige saak nie
Dr. GCP van der Vyver skryf in sy boek PROFESSOR DIRK POSTMA 1818 – 1890, oor die belangrikheid van die kerklied, en dan haal hy spesifiek ook vir prof. Jan-Lion Cachet aan (wat een van die eerste professore was van die GKSA se teologiese skool).

“Die kerksang in ‘n erediens is beslis nie maar ‘n kleinigheid of ‘n middelmatige saak nie. ‘Het is gansch geene bijzaak. Juist het tegenovergestelde. ‘Die gemeenskaplike sang dien by uitnemendheid tot verheerliking van God. Dit is ‘n gemeenskaplike bede en danksegging tot God. Dit is die stem van die gemeente waarin hy uitdrukking gee aan sy diepste gevoel. ‘Zooals men zingt zoo gelooft men. Doordat wij ze van onze jeugd af aan hooren, worden die uitdrukkingen ons eigen, en als dus verkeerde leer in het kerkgezang gevonden wordt, dan kan het niet anders of de leer zal de gemeente als doordringen.‘”[1]

Wat ons dus sing, het alles wesenlik te doen met die eerste kenmerk van ‘n ware kerk, nl. die suiwere verkondiging van die evangelie (NGB artikel 29). Dit is dus geen middelmatige saak nie, maar ‘n leersaak wat in lyn moet wees met die tweede gebod, dat ons God aanbid soos Hy beveel (NGB art.7, 32; HK So.35).

Die inhoud én Gesange opsigself was ‘n probleem
Daar word dikwels beweer dat ons voorvaders dit alleen teen die inhoud, d.w.s. die leer van die Gesange gehad het en dit nie ook oor die beginsel van Gesange opsigself gehandel het nie, naamlik of ons enigsins Gesange mag sing in die erediens, of nie.
‘n Noukeurige bestudering van die sinodehandelinge in die geskiedenis, asook die kerkhistorici se bronne sal egter gou duidelik maak dat baie meer op die spel was as net die leerinhoud van die Gesange (en die saamgaande kerkregtelike stryd wat in alle deformasies/reformasies teenwoordig is[2]).

Dr. van der Vyver skryf o.a.:

Die Sinode (Kaapse NG Kerk, 1847 – red.) onderskei tweeërlei besware t.w. dat die beswaardes ‘geweigerd hebben de Gezangen te zingen’ wat dui op ‘n beswaar teen Gesange as sodanig en tweedens ‘zoo zy omtrent het een of ander gezang eenige bedenking of zwarigheid mogen hebben’ wat dui op die leerstellige besware teen sommige Gesange.[3]

Wat die leer, betref, was die dwalings wat in die Gesange gevind is (wat ook te vinde was in die leerstellige dwalings in die kerke), onder andere: dat dit die gees van die Supernaturalisme, Rasionalisme, Verligting, ens., adem, ‘n algemene genade aan alle mense verkondig, dit “is loutere Pelagiaanse humanisme; die mens moet maar net sy plig doen dan sal die ‘licht’ eenmaal vir hom opgaan”; ‘een Roomse Leer’ bevorder; “den Gezangbundel krachtig heeft medegewerkt tot heerschappij van het Liberalisme en dientengevolge tot het verval van onze Kerk”[4]

In aansluiting met Calvyn,[5] sien ons dus dat hoe ons aanbid (die erediens en dus wat ons sing ook) asook die leer van die verlossing (die verbond) onlosmaaklik gekoppel is aanmekaar en mekaar wedersyds beïnvloed.

Ook die erediens was sentraal op die spel, in die kerkstryd in die 19de eeu, met die kwessie van “ ‘n algemene genade aan alle mense verkondig” wat die hart van die Evangelie aantas.[6] Die leerdwalinge van daardie tyd is dan ook via die Gesange die kerke ingedra, oftewel ingesing. Ook in ons eie tyd sal ons opnuut moet waak, dat ‘n verkeerde leer nie beide ons verlossingsleer en aanbiddingsleer op ‘n dwaalpad plaas nie, ook nie via die kerksang nie.[7]

Maar wat van Dirk Postma se standpunt ?

Dirk Postma se standpunt
Dirk Postma se standpunt is welbekend, nl. dat hy nie ‘n gemeente wat regsinnige Gesange sing veroordeel nie, maar dat hy dit as die beste weg beskou het om gesange te sing waarvan die teks te vinde is in die Bybel (dit is nl. Psalms en Skrifberymings, in onderskeid met Gesange waarvan die teks nie te vinde is in die Bybel nie).

Dus Postma se klem val daarop dat hy nie gemeentes ‘veroordeel’ nie, en nie op sy eie beoordeling van die Gesange nie. Dit is egter duidelik dat sy guns by die liedere lê waarvan die teks in die Bybel gevind word.

Wat belangrik is, is dat Postma ook genoem het, dat waar lidmate beswaard is om regsinnige gesange te sing, moet hul gewetens nie gebind word nie, maar moet daar in lyn met Rom.14, opgetree word. Indien daar nogsteeds nie ooreenstemming is nie, moet dit aan die ‘wijsheid en het geweten van elken leeraar overlaat om hierin te handel naar zijn geweten, met inachtneming van den toestand der Gemeente; ten einde er om deze zaak geene verdeeldheid noch scheuring plaats vinde’[8]

Dit is nie nou die geleentheid om in te gaan op vader Postma se gemoedelike standpunt, en in hoeverre dit skriftuurlik, konfessioneel en kerkregtelik regsinnig is nie, maar om net die volgende feit uit bogenoemde te konstateer, nl. dat daar ten minste 2 verskillende standpunte was oor die redes en begronding vir die verwerping van Gesange, wat tot vandag toe nog in die GKSA leef.

Albei strominge het dit saam teen die valse leer van die Gesange gehad, as ook die ongereformeerde kerkregtelike aspekte van die stryd, maar het verskil oor die kwessie of Gesange opsigself in stryd is met God se Woord, al dan nie.

Gewoonlik, of ten minste in die huidige tyd, word daar min van gemaak dat Gesange opsigself verwerp is, en is dit wel ‘n ope vraag of vader Postma se standpunt, wel altyd die meerderheidstandpunt was, veral in die jare voor en net na die herstigting van die Gereformeerde Kerke ?

Verder moet in ag geneem word dat die Doppers se argumente ‘n moeilike saak is om na te vors, en dat die mense baie daaroor gepraat het in daardie tyd, maar min daaroor geskryf het.[9] Laasgenoemde meen ek geld veral vir die ouderlinge en vaders wat die reformasie in die 19de eeu gelei het, die Venters, Snymans, Krugers, van der Walts en die Du Plessis’s wat vasgehou het aan die Skrif en die belydenis, met ‘n opregte en eenvoudige geloof en lewenswyse. Van hierdie reformators, kan tereg gesê word, in die woorde van ds. SJ Du Toit, Totius se gerespekteerde vader: “Liewers ‘n ongeleerde Afrikaner met sy Bybel, as ‘n geleerde Europeaan sonder God en Sy gebod.”

Die ou Doppers se besware teen die Gesange opsigself
Van der Vyver staan in sy werk ‘n aansienlike gedeelte af aan die kwessie oor die Doppers se ‘besware teen die Gesange’ (p.202-212) en in sy voetnota 73 (p.202) spreek hy sy verbasing uit omdat ‘n ander kerkhistorikus nie dit in sy werk vermeld nie, omdat dit ‘tog een van die kernpunte (is) waarom die stigting van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gedraai het.’

Van der Vyver wys daarop dat die Doppers hul beroep het op skrifgedeeltes soos Deut.4:2; Matt.15:9 en Op.22:19, om te bevestig:

“dat die in­voer van die Gesange gelykstelling was van ‘n menslike geskrif met die geïnspireerde Woord van God. Met ‘n beroep op Artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis het hulle die Woord van God as volmaak en genoegsaam beskou, waaraan niks toegevoeg mog word nie. Die Gesange naas die Psalms in die erediens het hulle beskou as sodanige toevoeging.”[10]

Die Doppers het dit dus nie net teen die dwalende leerinhoud van die Gesange gehad het nie, maar ook en veral oor die feit dat dit vir hul instellings en tradisies van mense was wat in stryd met die Skrif en belydenis was. Ook in die jare na 1859, is daar met twee versoeningspogings die breuk probeer herstel tussen die Nederduits Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk. Die Hervormde Algemene Vergadering het sekere voorwaardes vir hereniging en versoening daargestel.

Wat die Gesange betref, het hul hul voorwaarde vir die handhawing daarvan so verander dat elke leraar na sy eie gewete in die gemeentes kan handel, m.a.w. dat Gesange nie meer bindend was op die lidmate nie, soos voor 1859 nie. Ongeag van hierdie tegemoetkoming, het die Algemene vergadering van die Gereformeerde Kerk dit nogsteeds verwerp, en ge-eis dat die Ned. Herv. Kerk (spesifiek by monde van ds. van der Hoff se gelykstelling tussen die Psalms en Gesange)[11] hul besluit oor die Gesange herroep, en in ‘n brief, gerig aan die President en die Uitvoerende Raad van die ZAR, stel hul dit as volg:

“Dat ons verschil geene menschlike inzettingen, maar op Gods Heilig Woord en het voorbeeld der welbeproefde Gereformeerde Kerk van al oude dagen en den wensch dat ook wij alzoo God naar zijn Woord ongehinderd mogen dienen in dezen lande, al zijn wij dan de minderheid.”[12]

En daar waar God se Woord verlaat word aangaande die sang, word die valse kerkregering ook ingespan:

“die hoogste gesag weereens (is) nie uitgeoefen deur Gods Woord nie, maar deur die meerderheid van die vergadering wat onder die vaandel van Gods Woord ‘n Gesangbundel met sy gereformeerd vreemde Supranaturalisme ingeskuif het. In wese het die valse Kollegialisme in die Gesangestryd gelei tot die uiterste konsekwensie van die Liberalisme: miskenning van die absolute gesag van Christus en sy Woord oor sy kerk.”[13]

Vandag
Opnuut vandag, word die geboorte- en bestaansreg kenmerk van die GKSA aangetas, maar hartseer genoeg, nou ook van binne.

Die vraag word al hoe meer aktueel: moet daar nog ‘n Gereformeerde Kerk van SA wees? Moes daar een gewees het? Moes ons Dopper voorvaders nie maar in die NG Kerk/Herv. Kerk gebly het en net die onregsinnige gesange uitgeweer het nie ? Ds. van der Hoff van die Herv. Kerk het juis gemeen die herstigting van die GKSA was ‘n groot fout:

“Wat die Gereformeerdes aanbetref, meen hy dat die 15 wat op 11 Januarie 1859 uitgestap het, ‘weten niet wat zij gedaan hebben,’ en dat hulle almal maar ‘n heel ‘bekrompen oordeel’ oor sake het.”[14]

Volgens my kennis het ons susterskerke die meeste of al die onregsinnige gesange uit hul sangboeke geweer, is dit nie nou o.g.v. Joh.17 ons dure plig om terug te keer nie … om dalk verskoning te vra vir die verlede?

Noudat ons ook ‘n Gesangsingende kerk geword het, kan ons mos begin terugkeer ?

Ons reformatoriese voorgangers was van ‘n ander oortuiging as die huidige geslag. Ds. LS Kruger skryf as volg:

In Die Kerkbode (NG Kerktydskrif) van 24 November 1954 skryf dr. Jac. J. Muller dat die Gesange weer hersien moet word. Met hierdie verklaring bevestig die hooggeagte doktor van die N.G. Kerk die bogenoemde dwalinge in die Gesangbundel. Daarmee word dan ook ineens verklaar dat die Gereformeerde Kerk nog altyd reg was ! Samevattend kan ons dit dus soos volg stel:

(a) Ons eerste beswaar teen die meeste van die Gesange is dat dit suiwer menslike liedere is, en as Gereformeerdes glo ons dat slegs die Woord van God tuis hoort in die erediens. Dit het nie ‘n Goddelike oorsprong soos die Psalms nie.

(b) Ons tweede beswaar is dat van die Gesange vreemde stempels dra, soos bv. van die Liberalisme, Rooms-Katolisisme en Remonstrantisme, en dus nie suiwer Skriftuurlik is nie. Om dit dan instemmend te sing beteken om jou met ‘n dwaalleer te verenig.

(c) Die derde beswaar is dat dit strydig is met die Skrif en die egte Gereformeerde leer, want ons glo dat in die erediens alleen die geopenbaarde Woord van God gebruik mag word. En volgens Openb.22:18 mag ons nie daarby voeg nie. Wie nou ‘n vrye lied wil inbring, gee daarmee te kenne dat ons die Skrifliedere as onvoldoende beskou en daarby wil aanvul. Nie alleen sondig ons daarmee teen die Woord van God nie maar ook teen God self deurdat ons daarmee te kenne wil gee dat die Psalms wat God in Sy Heilige Skrif daargestel het, onvoldoende is.[15]

Slot
Dus, die sing van die Psalms is nie maar bloot ‘n praktiese of tradisionele eienskap van die Dopperkerke nie. Dit staan sentraal saam met ander prinsipiële leer- en kerkregterlike sake waarom ons kerke herstig is. Daarom moet dit ook vandag nog vir ons en ons nageslag kosbaar wees om aan die Psalms vas te hou en dit te sing tot lof en eer van God se Naam en opbou van sy gemeente, want dit is genoegsaam (NGB artikel 7).

“Maar diegene wat die waarheid liefhet en die geskiedenis ken, sal met my saamstem, dat daar waar die Reformasie die suiwerste deurgebreek het, die gesange volkome afgeskaf is.”
– ds. Hendrik. De Cock (Christelijk Afgeskeie Kerke van Nederland)

[1] Potchefstroom: Pro Rege, 1958, p.203. Beklemtoning en onderstreping bygevoeg – red.
[2] “In hoofsaak kom dit daarop neer dat die gebruik van die Gesange gesanksioneer word sonder om dit aan ‘n deeglike Skriftuurlike-konfessionele regsinnigheidstoets te onderwerp … Met hierdie caesaropie (met saamgaande Kollegialisme – red.) kon die Gereformeerdes hulle nie vereenselwig nie.”, Van der Vyver, ibid., p.216, 220.
[3] Ibid., p.206.
[4] Ibid., p.206-212.
[5] “As dan gevra sou word wat die belangrikste dinge is waardeur die Christelike geloof onder ons vasstaan, en sy waarheid behou, sal gevind word dat die volgende twee dele nie alleen die belangrikste plek beklee nie, maar daaronder ook al die ander dele insluit, en daarom die hele inhoud van die Christelike godsdiens is, naamlik, eerstens, ‘n kennis van die manier waarop God reg aanbid moet word, en, tweedens, die bron waarvandaan verlossing verkry word. As ons hierdie twee dinge nie reg insien nie, hoewel ons mag roem in die naam Christene, is ons aanspraak leeg en waardeloos.” –Tracts relating to the Reformation by John Calvin, translated by Henry Beveridge, vol.I (Edinburgh: T&T Clark), p.116.
[6] “Die besware teen die Gesange en die prediking ‘dat een mensch een eigen wil ter zaligheid heeft’ en bygevolg gemis aan ‘de zuivere predestinasie of uitverkiesingsleer’, is met die jare nie uitgewis nie”. ibid., p.291, 292
[7] Daarom dat baie Doppers geglo het en nogsteeds glo dat om die Psalms te sing die beste en veiligste weg is, om God te eer.
[8] Ibid., p.229.
[9] Van der Vyver, ibid., p.203.
[10] Ibid., p.204, 205.
[11] ‘n Gelykstelling wat ook volgens die Rapport van Deputate Leerstellige sake 16.3 van Sinode 2009 aanbeveel word.
[12] Ibid., p.335.
[13] Ibid., p.288.
[14] Ibid, p.334.
[15] Waarom is u Lid van die Gereformeerde Kerk?, Pretoria: Craft Drukpers, 1956, p.143. Lees gerus hierdie boek om opnuut die historiese en prinsipiële begronding van die onstaan van die Dopperkerk te waardeer.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: