
Pro Regno nr.14: Skrifkritiek en die nuwe SA samelewing
https://proregno.files.wordpress.com/2010/04/pr-nr-14-skrifkritiek-2010-04-14.pdf
‘n Paar uittreksels:
“Oor die algemeen is die Bybel, tot en met na die Reformasie, gesien as die “handboek” vir die hele lewe, vir beide verlossing (evangelietaak) en die daaglikse lewenstaak (kultuurtaak). Die doel van die deistiese skrifkritici was om, deur die betroubaarheid van die Ou Testament te bevraagteken, juis die naelstring en eenheid met die Nuwe Testament te knip, sodat die Christendom net as nog ‘n moralistiese opvoedkundige idee beskou kan word om die morele gewete van die mens en samelewing te verlig. Die uiteinde daarvan was egter dat op die langtermyn, die Nuwe Testament ook bevraagteken en betwyfel is (sien o.a. die opkoms van die ‘Jesus Seminar’ beweging [in navolging van Bultmann se ontmitologiserings-teologie] aan die einde van die 20ste eeu).
Die sosiale doel vir die Deiste was om Bybelse reg (God se wette soos veral gevind word in die Pentateug) te vervang met die natuurregidee, waarvan die menseregte kultuur van vandag die natuurlike produk is. Die Skrifkritiese aanval was dus ‘n fundamentele aanval op die Christelike kerk en beskawing en ‘n fundamentele bousteen van die opkomende modeme humanistiese samelewing waarin ons ons nou bevind. Die basiese gevolg van die opkoms van die Verligtings-humanisties geinspireerde Skrifkritiek, was soos volg:
“… the Bible lost its significance for philosophical thought and for the theoretical foundations of political ideals, and ethical rationalism (with new foundation in Kant’s critique) proved to be one of the forces shaping the modern period, which only now can really be said to have began.”
“Ferdinand Deist was egter die man om hierdie nuwe (skrifkritiese) geloof, skrifbeskouing en lewensbeskouing in Suid Afrika te populariseer, soos (Jurie) Le Roux met groot blydskap, in die volgende baie betekenisvolle woorde opmerk:
“It was a fine day for Old Testament scholars at Unisa and Pretoria when Deist joined their ranks in January 1977. Like Caleb, he had a different spirit (Nm 14:24). He was to mould the thoughts of many and to become a major intellectual force exerting a far-reaching influence on students as well as colleagues. By means of his many books, articles and study guides he shaped the minds of his students and equipped them theologically for a new society.”
Inderdaad, Deist was seker saam met Johan Heyns, die twee teoloë wat die grootste invloed uitgeoefen het op die kerke van S.A. in die twintigste eeu, en kan die laaste woorde van Le Roux tereg aanvaar word, naamlik dat Deist, direk en indirek deur sy invloed, die teologiese fondamente gelê het vir die Nuwe S.A.
Deur Deist en kollegas se invloed op soveel teoloë en predikante, en deur die predikante en kerke op Afrikaanse politieke leiers en denkers, is die calvinisme as wortel van ons volksbestaan, is die gereformeerde teologie en lewensbeskouing van die Afrikaners en Afrikaanse kerke, vermeng (sinkretisme) met ‘n verligtings-skrifkritiese denke en lewensbeskouing, wat die weg gebaan het vir ‘n natuurreg-menseregte nuwe SA.
Miskien moet die ongewilde vraag gevra word: lê die blaam vir die kerklike, morele, ekonomiese en staatkundige verval in S.A. nie meer by wat in Januarie 1977 gebeur het (en die gevolge daarvan), as om alles te wil blameer op die sogenaamde ‘euwel van apartheid’ nie ?
Sien die volledige artikel hier: https://proregno.files.wordpress.com/2010/04/pr-nr-14-skrifkritiek-2010-04-14.pdf