Psalm 82:6, Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste
Was vandag vir ‘n hospitaalbesoek na Randfontein. In die hoofpad kom ek toe op hierdie groot advertensiebord af, en moes dit net afneem:
Ek weet nie wie die “i” is van die boodskap nie, maar ek glo nie die verwysing is na Ps.82:6 nie (sien ook Joh.10:35), en as dit is, is dit ‘n totale verkeerde verstaan en toepassing van hierdie vers. Dit lyk, ruik en klink meer na die new age mens wat God probeer wees deur los van God self te besluit wat is reg en verkeerd, en om homself te probeer verlos.
Ps.82 verwys na spesifieke mense wat God as regters (regeerders) aanstel (‘gode’ dui in die konteks op ‘n titel wat hul amp en taak se waardigheid uitwys [Calvyn], ‘n ‘divine office’ – Keil&Delitzsch) om as sy verteenwoordigers regspraak te beoefen vir die mense. Hulle is dus regters in sy Naam en verantwoordelik aan Hom (sien Ps.82:1), en nie om self God te probeer wees om reg en verkeerd te wil bepaal, of los van Hom of teen Hom (sy Wet) ‘reg’ uit te dink of te probeer spreek nie (die wese van die sondeval Gen.3:1-5, 22; Jes.5:20, 24; Jer.2:8).
Hierdie bord lyk meer na die New-Age panteïstiese gedagte dat die mens deel is van God, en daarom moet elke mens ‘God’ in hom ontdek en uitleef, die nuwe god van die nuwe SA: die EK-God.
Verder herinner die volgende vers van Ps.86, vers 7, die mense/regters/regeerders dat hulle wat nie voor Hom buig ‘in die vergadering van die gode’ nie (dus nie sy Wet toepas nie), dat Hy sal ‘gerig’ uitoefen oor hulle (v.1), en dat die onreg wat hul spreek en beoefen teenoor mense(v.2-5) daartoe sal lei dat hul geoordeel sal word: “nogtans sal julle sterwe soos mense, en soos een van die vorste sal julle val” (v.7)
Ja, die mens is nie God nie, maar ‘n nietige mens, ‘n sondaar mens wat sal sterf, ook ewig sal sterf, tensy hy wedergebore word (Joh.3:3), en in die Seun glo (Joh.3:36).
Daarom die oproep aan alle mense en alle volke, veral regters en regeerders, in hierdie tye van soveel mensgemaakte nietige gode waarop die mens wil vertrou:
Psalm 2:10-12, Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!
Jes.33:22 Want die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hy sal ons verlos.
Die sêkulere humanisme soek die mens se heil in die mens homself. Vandaar ook die opvatting dat die mens “sondeloos” en onskuldig gebore word en inherent goed is en oor inherente menswaardigheid beskik. Die outonome mens, los en onafhanklik van God, wat God nie nodig het nie en homself kan ontwikkel en verbeter, totdat hy self goddelike status bereik. Dit lê ook ten grondslag van die RSA se huidige Konstitusie. Die aanhef begin: “We, the people…” Die vorige grondwet van die vorige bedeling het begin met: “In nederige erkenning en afhanklikheid van God…” Nogal ‘n wesenlike verskil in houding en benadering, sou ek sê. Ek dink dis een van die redes waarom God nie vir Afrika seën nie, soos in die nuwe nasionale lied Nkosi ‘sikelela” gesing word.