In die koerant vandag (Beeld), is ‘n artikel oor ouers wat ‘gebelg’ is oor die “growwe, onwelvoeglike seksvrae” wat aan hul kinders gestel was by ‘n hoërskool, en seker tereg ook.
Hier is die volledige storie: http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Wil-jy-inskroef-of-wil-jy-indraai-20100727
As ‘n mens mooi lees, dan sien ons die kinders was “deelnemers aan die Mnr. en Mej. Rainbow-wedstryd” wat die skool aanbied, en ek vermoed sterk dit gaan nie oor wie die kleure van die reënboog die beste ken of kan teken nie.
Hoe dit ookal sy, vandag het die (oorgrote) meerderheid van Christene ook nie probleme met skoonheidskompetisies en die ophef wat gemaak word oor die vroulike liggaam nie. Ja, ons is oor die algemeen teen voorhuwelikse seks, pornografie, verkragting, egbreek, ens., maar “alles wat ‘n mens daartoe kan verlei” (HK, antw.109) in die populêre kultuur is nie ‘n probleem nie.
Verder is hierdie voorval maar net nog ‘n rede (gevoeg by die legio van ander redes), vir Christen ouers om hul kinders tuisonderrig te gee, of saam goeie Christelike privaatskole te begin. Natuurlik waarborg die onderwysmodel nie dat ons kinders godsvrugtig sal wandel nie, maar beter onderwysmodelle bevorder dit wel.
http://vcho.co.za/tuis/tuisblad.php
Ek is soms verstom oor ouers wat verstom staan omdat hul ‘goeie seun of dogter’, ou ‘ouboet of ousus’ wat so ‘goeie Christen’ is, skielik so opstandig, geweldadig en immoreel begin optree, terwyl hy en sy elke dag vir ure lank blootgestel en oorgelewer word aan openbare skole en groepsdruk om die ouers se Christelike waardes te verlaat. Laat jou kinders toe om om te gaan met hulle wat die Woord verbied om mee om te gaan (Spr.1-6), dan is die kanse baie goed dat hy of sy net soos hulle sal word.
Ja, daar is uitsonderings wat die Here gebruik met ‘n doel (Josef en Daniël met ‘n spesifieke goddelike roeping), wat ongeag die staatskool sisteem heel anderkant uitkom (danksy goeie ouers, onderwysers en kerklik betrokkenheid), maar dit bevestig juis die reël:
“Moenie dwaal nie, slegte gesprekke (slegte voorbeelde, groepe, onderrig, invloed) bederf goeie sedes” (1 Kor.15:33).
Kom nou ouers, word wakker: jou sondige tienerseun of sondige dogter sukkel klaar met ‘hormoon wanbalanse’ (Spr.6:27; Hoogl.2:7), onthou, ons was ook mos jonk en behoort te weet. Leer dus uit die verlede, en moenie dit vir hul nog moeiliker maak deur hul bloot te stel aan dinge en plekke en mense wat hul nog nie kan hanteer nie. En, daardie fondamente moet van vroeg af gelê word (Spr.29:15; Pred.11:9-12:1), sodat hul later in die lewe die regte weg as volwassenes kan wandel.
Leer uit die les van Lot (van Gen.13:10 na 19:8 na 19:26 na 19:35!) wanneer u besluit wie u kinders gaan onderrig, waar hul gaan skool gaan, waar en waarmee hul ontspan en met wie hul omgaan (Spr.14:12).
Hier is ‘n artikel oor die immoraliteit van skoonheidskompetisies en die kultuur wat daarmee gepaardgaan, wat ouers kan lees saam met hul kinders (veral tieners) en dit dan saam te bespreek in die lig van God se Woord (Ps.119:9), ook van toepassing op die vraag watter media invloed ek in my huis toelaat. In die voetnotas het ek ‘n paar gedagtes bygevoeg.
Skoonheidswedstryde, prof. PJ de Bruyn:
https://proregno.com/wp-content/uploads/2010/07/skoonheidswedstryde-pdb1.pdf
Sien ook die volgende relevante bronne oor ware vroulikheid en femininiteit:
http://visionarydaughters.com/
http://www.ladiesagainstfeminism.com/






Leave a Reply