Die leer oor die Kerk by Calvyn

Die leer oor die Kerk by Calvyn volgens sy Institusie van die Christelike Godsdiens, boek 4:1-13

https://proregno.files.wordpress.com/2010/11/die-leer-oor-die-kerk-by-calvyn.pdf

Moet die sorg van die kerk nie al my gedagtes opneem nie …, en dat haar verlossing verkry word tot die vernietiging van die wolf?  En steeds begeer ek nie dat ‘n enkel individu in hierdie weg sal vergaan nie; maar my liefde vir die kerk en my besorgdheid oor haar belange voer my in ‘n vorm van ekstase, sodat ek aan niks anders kan dink nie.  Met sulke ywer moet elke ware pastor van die kerk brand. – Calvyn (Kommentaar op Gal.5:12)

‘n Paar aanhalings:

 “Baie belangrik, nadat Calvyn in die vorige hoofstuk self gewaarsku het dat daar nie ligvaardig met die eenheid van die kerk omgegaan moet word nie, waarsku hy wel teen die valse eenheid en valse beskuldiging wat deur Rome aan die Hervorming toegeskryf word, nl. dat laasgenoemde ketters en skeurmakers is. Hy wys daarop dat eenheid deur twee bande saamgebind word:

 – eenstemmigheid in die gesonde leer, en

– broederlike liefde

 Aangesien vandag, in ons kerkverband veral laasgenoemde baie rondgeslinger word, is die volgende woorde van Calvyn baie belangrik, wat hy uitspreek direk daarna:

 “Die broederlike liefde is egter so nou aan die eenstemmigheid in die geloof verbind dat laasgenoemde die begin en end van eersgenoemde is.” 

 Alles word bepaal of dit ‘in Christus’ is, en in sy eie woorde, met verwysing na Paulus in Fil.2:2-5, skryf hy: “Daarmee gee hy te kenne dat iets wat sonder die Woord van die Here gebeur, nie die eensgesindheid van gelowiges is nie maar ’n kliek van goddeloses.” [IV.2.5] 

 Calvyn aan die woord:

 “Dit beteken dat dit nie geoorloof is om meer te leer en iets as ’n Godspraak te onderrig wat die Here nie in sy Woord geopenbaar het nie. Mense met gesonde verstand kan immers sien hoeveel gevaar daarin is as soveel reg eenmaal aan mense verleen is. Hulle kan ook sien hoe ’n groot venster vir die bespotting en gekyf van goddelose mense oopgemaak word as ons sou beweer dat iets wat na die goeddunke van die mens ontstaan het, onder Christene as ’n Goddelike uitspraak beskou moet word.” [IV.8.15]

 “… dat Christus geen belofte maak nie behalwe aan diegene wat in sy Naam vergader is. Laat ons derhalwe beskryf wat dit beteken. Ek ontken dat mense in Christus se Naam vergader is wat God se gebod verwerp waarvolgens Hy gebied dat niks by sy Woord gevoeg of daarvan weggeneem mag word nie, en wat na eie goeddunke enige besluit neem wat hulle wil. Dit is mense wat nie met die Godsprake van die Skrif tevrede is nie, terwyl dit die enigste rigsnoer van die volmaakte wysheid is, en wat uit hulle kop enigiets nuuts uitdink.

 Aangesien Christus in elk geval nie beloof het dat Hy by elke konsilie aanwesig sal wees nie, maar daaraan ’n besondere teken verleen het waarvolgens Hy ware en wettige konsilies van ander onderskei het, betaam dit ons om hierdie onderskeid hoegenaamd nie te versmaai nie. Die verbond wat God eertyds met die Levitiese priesters gemaak het, is dat hulle uit sy mond moes onderwys. Hy het dit ook altyd van die profete vereis en ons sien dat hierdie wet ook die apostels opgelê was.

 Diegene wat hierdie verbond skend, ag God nie die eer van ’n priester of enige gesag waardig nie. Laat ons teenstanders nou vir my hierdie probleem oplos as hulle my geloof sonder die Woord van God aan besluite van mense wil verpand.” [IV.9.2]

 “Ons sal dan maklik bevind dat dit geen kerk is wat die perke van die Woord van God te buite gaan en losbandig en teuelloos te werk gaan om nuwe wette te maak nie. … Wanneer dit om diens aan die Here en om die voorskrifte vir saligheid handel, is daar in die volgende woorde niks ingewikkelds, niks duisters, en niks dubbelsinnigs nie, naamlik dat die kerk in sy geheel verbied word om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te neem.

… Gehoorsaamheid is immers beter as slagoffers en om te luister is beter as om vet van ramme te offer. Wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery en om nie daarby te berus nie ’n sonde van afgodediens”. Dit is voor die hand liggend dat al die menslike uitvindings wat in hierdie sin op gesag van die kerk verdedig word, valslik aan die kerk toegeskryf word hoewel dit nie van ’n klag van goddeloosheid verontskuldig kan word nie.” [IV.10.17]

 “Dit was pragtig dat hulle van al hulle goed afgesien het en dat hulle van alle aardse bekommernis vry was. Maar die sorge om ’n gesin godvrugtig te regeer word deur God van meer waarde geag. Dit is wanneer ’n heilige vader van ’n gesin, losgemaak en vry van alle hebsug, eersug en ander begeertes van die vlees, as doelstelling het om God in ’n bepaalde roeping te dien. Dit is voortreflik om in afsondering ver van die gewoel van mense af te filosofeer, maar dit is nie ’n kenmerk van Christelike vriendelikheid om as ’ ware uit afkeer van die mensdom jou toevlug tot ’n woestyn en eensaamheid te neem en terselfdertyd die pligte te versaak wat die Here besonderlik aan jou opgedra het nie. Selfs al sou ons toegee dat daar geen ander euwel in hierdie roeping (van die monnike was) nie, was dit beslis geen middelmatige euwel dat dit ’n waardelose en gevaarlike voorbeeld in die kerk ingevoer het nie.” [IV.13.16]

 Meer agtergrond oor Calvyn:

https://proregno.files.wordpress.com/2010/10/pr-2009-11-14-nr-9.doc

https://proregno.wordpress.com/2010/06/28/calvyn-en-die-jongmensstudent/

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: