1. Wat staan hoër: kerkraad of sinode ?
In deel 3 van Totius se Versamelde Werke (1977-uitgawe, bl.45-47), antwoord hy hierdie vraag, gaan lees gerus die volle artikel.
Hier is ‘n gedeelte wat van groot belang is vir hedendaagse kerkreg kwessies:
Leraar (Totius): Voetius haal, om dit verder te bewys, Parker aan. Hy beweer dat die plaaslike kerk hoër staan as die sinode, om 5 redes, nl. essentialitas, finalitas, fontalitas, stabilitas en necessitas van die plaaslike kerk.
Lidmaat: Verklaar vir my hierdie vreemde woorde ?
Leraar: Die plaaslike kerk is essensieël, d.w.s. dit dra die wese van ‘n kerk as vergadering van gelowiges. In die tweede plek is hy die doel: die plaaslike kerk word nie ingestel ter wille van die sinode nie maar wel omgekeerd. Derdens is die plaaslike kerk die bron waaruit die sinodale mag voorkom, want die afgevaardiges kom op die sinode met ‘n bepaalde lasgewing van hul kerkrade. Die kerkraadsmag is die oorspronklike, die sinodale mag wisselvallig, terwyl die mag van die plaaslike kerk bly so lank as wat die kerk self bly. En ten laaste kan die mag van die sinode ontbeer word, terwyl die van die kerk noodsaaklik, onmisbaar is.
Lidmaat: Hieruit moet ek dus aflei dat dit verkeerd is om van hoëre vergaderinge te spreek en daarmee sinodes te bedoel ?
Leraar: Ja, die Gereformeerdes spreek altyd van meerdere vergaderinge wanneer hulle hierdie soort bedoel, en dit is heeltemal iets anders. Alleen in die kerkwette van die Nederduitse Gereformeerde Kerk vind ‘n mens gedurig die benaming ‘hoëre besture’. Meerdere vergaderinge word hulle genoem, omdat meer as een kerk (gemeente of kerkraad) daarop verteenwoordig is, en nie omdat daar vermeerdering van mag is nie.
Lidmaat: Maar dan sou ek tog wil vra of die kerkaad as die eintlike maghebbende liggaam nie die reg het om die sinodale besluite nie op te volg nie.
Leraar: Nee, want die plaaslike kerk gaan vrywillig die kerkverband aan, alleen gebonde deur die ordinansie van God dat die liggaam van Christus hom soveel moontlik in sy eenheid moet vertoon, waarvan ons dan ook in Hand.15 ‘n voorbeeld vind. Hierdie verband nou mag nie verbreek word nie, tensy die sinode, wat die saamvergadering van die kerke (gemeentes) is, iets besluit wat teen die Woord van God ingaan. ‘n Verband wat nie bind nie, is ‘n onding. Die sinodale besluite is dan ook besluite wat deur die kerke self geneem word en alleen oor sake wat die kerke gesamentlik raak. Hierdie kerkverband kan goed met ‘n huwelik vergelyk word. Albei persone tree vrywillig daarin, maar as die band eenmaal gelê is, dan mag hulle nie skei nie.
Lidmaat: Nou het die saak vir my taamlik duidelik geword, en ek sal verder daaroor gaan nadink.
Het Kerkblad, 16 Augustus 1911.
12 stellings vanuit Totius se skrywe:
1. As Totius skryf, “… die plaaslike kerk (is) die bron waaruit die sinodale mag voorkom, want die afgevaardiges kom op die sinode met ‘n bepaalde lasgewing van hul kerkrade”, dan verstaan hy dit as volg, soos hy op ‘n ander plek skryf: “Volgens Gods Woord (Matt.18:17 e.a. plekke) het Calvyn geleer dat die kerklike mag wat in Christus se naam uitgeoefen word, by die kerk self berus, dit is by die gelowiges wat die kerk uitmaak. Maar die mag word nie deur almal saam uitgeoefen nie, want Christus het daarvoor bepaald kerklike dienste of ampte ingestel: dié moet in sy naam en volgens sy opdrag die werk doen. … Die kerklike gesag is van Christus en van Hom alleen afkomstig. Een is julle Meester, het Christus gesê. (Kyk ook Matt.28:18).” (ibid., p.175, 176)
2. Vir Totius behoort die plaaslike kerk tot die wese van kerkwees, en die sinodes tot die welwese: “Die plaaslike kerk is essensieël, d.w.s. dit dra die wese van ‘n kerk as vergadering van gelowiges…. En ten laaste kan die mag van die sinode ontbeer word, terwyl die van die kerk noodsaaklik, onmisbaar is.”
3. Die plaaslike kerk, onder leiding en bediening van die kerkraad, se besluite bepaal die sinode, nie die sinodebesluite bepaal die plaaslike kerk se besluite nie: “Derdens is die plaaslike kerk die bron waaruit die sinodale mag voorkom, want die afgevaardiges kom op die sinode met ‘n bepaalde lasgewing van hul kerkrade.”
4. Laasgenoemde impliseer dat elke plaaslike kerk verteenwoordig behoort te wees by hul meerdere vergaderings, ook die sinode, en nie ‘afgetrapte afvaardiging’ nie.
5. Plaaslike kerke moet bande met ande plaaslike kerke soek op grond van die belydenis van die eenheid van die liggaam van Christus: “Nee, want die plaaslike kerk gaan vrywillig die kerkverband aan, alleen gebonde deur die ordinansie van God dat die liggaam van Christus hom soveel moontlik in sy eenheid moet vertoon, waarvan ons dan ook in Hand.15 ‘n voorbeeld vind.”
6. Hierdie verband ontstaan vrywillig, maar as hy eers aangegaan is, is dit bindend van aard: “ ‘n Verband wat nie bind nie, is ‘n onding. Die sinodale besluite is dan ook besluite wat deur die kerke self geneem word en alleen oor sake wat die kerke gesamentlik raak. Hierdie kerkverband kan goed met ‘n huwelik vergelyk word. Albei persone tree vrywillig daarin, maar as die band eenmaal gelê is, dan mag hulle nie skei nie.”
7. Die binding berus op die Woord van God, en nie menslike ‘groter’ mag nie: “Meerdere vergaderinge word hulle genoem, omdat meer as een kerk (gemeente of kerkraad) daarop verteenwoordig is, en nie omdat daar vermeerdering van mag is nie.”
8. Die plaaslike kerk bly alleen gebonde aan ‘n kerkverband, solank die sinode nie besluite neem in stryd met die Woord nie: “Hierdie verband mag nie verbreek word nie, tensy die sinode, wat die saamvergadering van die kerke (gemeentes) is, iets besluit wat teen die Woord van God ingaan.”
9. Die enigste rede vir egskeiding in ‘n huwelik, is ‘oor hoerery’ (Matt.19:9), en daarom sal plaaslike kerke wat wil skei van kerkverbande, dit moet doen omdat ‘n kerkverband deur sy meerdere vergaderings, en veral sinode ‘gehoereer’ het, weg van die Koning van die Kerk, deur “… iets (te) besluit wat teen die Woord van God ingaan.”
10. Plaaslike kerke sal dus deeglik moet onderskei met wie hul kerklike bande/huwelike aangaan.
11. Ware gereformeerde gelowiges, gemeentes en kerkrade moet opnuut die ware presbiteriale kerkregering van die Heilige Skrif ontdek, soos bely in NGB artikels 27-32, waarvan die sentrale waarheid is: Jesus Christus is die enigste Verlosser en Koning van sy Kerk, wat bepaal hoe Hy gedien moet word (Matt.28:18-20; Ef.1:22,23; Kol.1:18). Totius verwoord dit as volg: “Die gedagte van Christus se koningskap oor sy gemeente beheers as hoofbeginsel die ganse Gereformeerde kerkreg. … Die koninklike mag deel Hy met niemand nie. Aan mense gee Hy geen mag om oor sy kudde te heers nie; inteendeel, Hy het almal aan die Woord van God onderwerp.” (ibid., bl.173)
12. Konkreet beteken dit, in die woorde van Totius: “ ‘n Kerk is ‘n bepaalde vergadering van gelowiges of plaaslike gemeente. As sodanig is dit kompleet, d.w.s. ‘n volledige liggaam van Christus. Die kerk stel daarom sy eie kerkraad in, wat net aan Christus gehoorsaam en onderworpe is en aan geen hoëre besture nie. ‘n Sinode is daarom iets andersoortigs, nl. ‘n vergadering van kerke (gemeentes), terwyl die kerkraad ‘n vergadering van persone is. ‘n Kerkraad kan dus sonder ‘n sinode bestaan maar ‘n sinode nie sonder ‘n kerkraad nie.” (ibid., bl.46)
2. Gemeentevergaderings
Totius skryf ‘n paar treffende artikels oor “Die status van die gemeentevergadering”, deel 3 van sy Versamelde Werke (1977-uitgawe, bl.171-184), wat ek ook wil aanbeveel by elkeen wat die gereformeerd-presbiteriale kerkregering liefhet. Hy wys daarop dat almal in die gemeente nie die mag van Christus saam uitoefen nie, maar dat Christus bepaalde dienste/ampte daarvoor gebruik (sien NGB artikel 30), waaraan lidmate hul onderwerp ‘omdat Christus se woord deur hulle bedien en sy wil deur hulle uitgevoer word. … die gemeentelede (het) geen reg om oor die ampsdraers heerskappy te voer nie.” (bl.175, 180)
Dan gaan Totius voort om daarop te wys dat gemeentelede sekere ‘magte en regte’ het, aan die hand van Voetius se Politica Ecclesiastica, waarin laasgenoemde wys dat die lidmate leerbepalende, wetgewende en regsprekende mag het wat onder leiding van die kerkraad moet geskied: “die gemeente het mag maar geen leidende mag nie. Dit kom die kerkraad toe.” (bl.181). Met verwysing na vele tekse wat hierdie verskillende magte van gemeentelede aanspreek, veral Hand.15:22,23 (“Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit …”), skryf Totius:
“Ons sien dus dat die gewigtige aangeleentheid (leersake) nie buite die gemeente om beslis word nie. … die gemeentelede neem ook meer bepaald deel aan dade van kerkregering (verkiesings, vergaderings, ens. – slc) … die gemeentelede (het) die reg om kerkreformasie ter hand te neem (dink maar aan die 15 broers van 1859? – slc) … alle klerikalisme (word) deur Gods Woord veroordeel …”
Totius, terwyl hy die heerskappy van die gemeente oor die besondere ampte verwerp, wys egter op die belangrikheid om oorleg te pleeg met die gemeente:
“Ewenwel is die kerkraad tog alleen in oorleg met die gemeente bevoeg om te handel. (Laasgenoemde) moet nie besluite neem nie maar ‘n wens uitspreek … (en dan haal Totius vir Rutgers aan): Sulke samekomste (gemeente vergaderings) kan baie nuttig, nodig en selfs onontbeerlik wees. Die kerkraad mag die gemeente nie oorheers nie en moet rekening hou met dié se mening. Die lede lede besit in die amp van gelowige die kerklike bestuursmag … Christus (het) in die ampte die organe gegee vir die uitoefening van die bestuursmag en dat die kerkraad daarom die enigste bestuur in die gemeente is. Laat die kerkraad die lidmate in sulke gemeentelike samekomste raadpleeg, maar hy moet sorg dat hy die leiding en eindbeslissing neem.”
Totius se konklusie:
“Aan die een kant moet die gemeentelede nie as onmondige persone beskou word nie. Met hulle moet deur middel van gemeente-vergaderings rekening gehou word. ‘n Kerkraad wat net heerskappy wil voer oor die gemeente van Christus, is op die Roomse pad. Maar aan die ander kant moet die kerkraad besef dat hulle leiding moet gee volgens die eise van die Woord van God. Wanneer dit gebeur, moet die gemeente volg.” (bl.182,183).
Dit sal dus goed wees om voor ouderlinge vergaderings, ‘n gemeentevergadering te hou om die gemeente in te lig, aan te hoor en te raadpleeg, voordat daar in die ouderlinge vergadering gewigtige besluite geneem word. Die laaste woorde van Totius hierbo aangehaal, moet vir ons ‘n duidelike waarskuwing en vermaning wees om enige sweem van ‘priester vs lekedom’ in ons gereformeerde kerke met hart en siel teen te werk (sien ook HK v/a 98):
“Aan die een kant moet die gemeentelede nie as onmondige persone beskou word nie. Met hulle moet deur middel van gemeente-vergaderings rekening gehou word. ‘n Kerkraad wat net heerskappy wil voer oor die gemeente van Christus, is op die Roomse pad.”
Leave a Reply